Posts Tagged ‘Bob Dylan’
Wednesday, June 8th, 2011
Hierdie een lees nie so lekker nie, jy moet hom eerder sing. Gebruik sommer die deuntjie wat tydens die skryf deur my kop galop het, Bob Dylan se “Dirt Road Blues”, van die album Time out of Mind. Dit is in elk geval ‘n amper generiese blues ‘riff’, waarskynlik ‘n variasie op iets wat Dylan iewers gehoor het. Terloops, ek het die liriek op ‘n keer vir Loftus Marais gewys. Hy het sy kop meewarig geskud en gesê die verwysing na die blomme in die voorlaaste strofe is gewoon ontoelaatbaar in ‘n hedendaagse Afrikaanse gedig. Hy is natuurlik heeltemal reg.
***
stofpad
.
ek draf met die stofpad langs totdat ek jou sien
ja ek draf met die stofpad langs totdat ek jou sien
o ek draf met die stofpad langs
my hart raas soos ‘n blik kantien
.
jy het my hart gebreek in sewe stukke niks
ja jy het my hart gebreek in sewe stukke niks
o my hart het jy gebreek
my asem jaag in my keel ek is onfiks
.
ek staan op die bult en kyk uit oor die vallei
ja ek staan op die bult en kyk uit oor die vallei
die wolke bo dreig om te val
ek hoop om vanaand nog ‘n lift te kry
.
iewers hoor ek honde blaf die boer sê staan of sterf
ja iewers hoor ek honde blaf die boer sê staan of sterf
ek moet ‘n lang en wye draai draf
maar vat jou spoor weer anderkant die werf
.
ek dra ‘n bossie blomme saam maar die son het dit verwelk
ja ek dra ‘n bossie blomme saam maar die son het dit verwelk
die vergeet-my-nie is vir jou my lief
al weet ek jy verkies die aronskelk
.
eendag sal ek ophou soek ek is seker dat ek sal
ja eendag sal ek ophou soek ek is seker dat ek sal
maar totdat ek eendag ophou soek
draf ek hierdie stofpad tot ek val
Monday, May 30th, 2011
Vanoggend, drie dinge oor oud word — en oor ouer wordende mans spesifiek: ‘n Artikel van my oor Bob Dylan se 70ste verjaardag het gister in Rapport verskyn. Danie Marais verjaar vandag — ek sal nie sy ouderdom verklap nie, maar hy is gewis nie meer 39 nie… En Pieter Odendaal raps “die ouer garde” oor die vingers in sy jongste (!) bloginskrywing. Dus dra ek graag William Butler Yeats se “Why Should Not Old Men Be Mad?” op aan al die ou en ouerwordende mans wat hier lees! Soos Bob Dylan sing: “Time and love has branded me with its claw…”
 Yeats
Why Should Not Old Men Be Mad? - deur William Butler Yeats
Why should not old men be mad?
Some have known a likely lad
That had a sound fly-fisher’s wrist
Turn to a drunken journalist;
A girl that knew all Dante once
Live to bear children to a dunce;
A Helen of social welfare dream,
Climb on a wagonette to scream.
Some think it a matter of course that chance
Should starve good men and bad advance,
That if their neighbours figured plain,
As though upon a lighted screen,
No single story would they find
Of an unbroken happy mind,
A finish worthy of the start.
Young men know nothing of this sort,
Observant old men know it well;
And when they know what old books tell
And that no better can be had,
Know why an old man should be mad.
Wednesday, April 6th, 2011
 Abraham H. de Vries
As ‘n mens politieke oorwegings rondom die geskiedenis van Afrikaans en apartheid vir ‘n oomblik tersy lê, is die Akademie se grootste versuim wat betref die toekenning van die Hertzogprys aan ‘n Afrikaanse skrywer dalk nie Adam Small nie, maar Abraham H. de Vries. Anders as Small publiseer De Vries nog aktief; die verskoning van ‘die reglemente maak ‘n toekenning onmoontlik’ is dus nie op hom van toepassing nie.
‘n Hele aantal van De Vries se bundels (beslis Die Uur van die Idiote en Nag van die Clown) was as individuele werke sterk genoeg om die Hertzog te verdien; en as ‘n mens na sy oeuvre as geheel kyk (na die kwaliteit daarvan maar ook na die belangrikheid van sy werk in die vestiging van die kortverhaal as ‘n toonaangewende genre in die Afrikaanse letterkunde) is dit werklik absurd dat De Vries nog nooit die ontvanger van daardie prys was nie. Wat moet die man nog doen om te kwalifiseer? ‘n Roman skryf?!
‘n Keur uit De Vries se “ernstiger” verhale, Die Behoue Huis, het onlangs by H&R verskyn. Ek het vir Die Burger ‘n resensie daaroor geskryf; dit het gister verskyn. In die resensie vergelyk ek De Vries (slegs deels tong in die kies) met Bob Dylan. By beide Dylan en De Vries kry jy daardie “modernistiese” impuls tot eksperimentering, grensverskuiwing en self-vernuwing; maar beide bly “folk” kunstenaars: gewortel in ouer retoriese tradisies en ten diepste verbonde aan die landskappe, karakters en mitologieë van spesifieke plekke.
Ek het nie geweet hulle gaan die Dylan-vergelyking as kop gebruik nie, en ek het vergeet om die koerant te koop voor ek Maandag vroegoggend ‘n vliegtuig na Johannesburg moes haal. Ek was dus erg verras en sommer heel ingenome toe die man in die ry voor my sy koerant by die boekeblad oopslaan, en daar staan dit in dik, swart letters: “Die Bob Dylan van die Afrikaanse lettere”!
Terloops, ek sien Crito skryf op sy blog (ja, ek is egosentries genoeg om te gaan kyk wat Crito oor my skryf…): “Desmond Painter … ken nie sy Dylan nie”. Het jy nou al in jou lewe iets so belaglik soos dit gelees?! Gmf!
Thursday, November 18th, 2010

Robert Burns (1759-1796) se “My Heart’s in the Highlands” bly ‘n gewilde gedig – omdat dit mense se verbondenheid aan en liefde vir ‘n landskap of ‘n plek verwoord, ja, maar ook om meer as dit. Burns se gedig is nie maar net nog ‘n patriotiese lied nie; nie bloot nog ‘n liriese ode aan ‘n vaderland of die geboortegrond nie, hoe verstrengel dit ook al oor die jare met Skotse nasionalisme geword het. Ek dink een van die redes waarom dit so gewild bly, is omdat die gedig menslike verlange in die algemeen, daardie rustelose hunkering na iets en iewers anders, so raak verwoord. Lees weer ‘n slag die koor om te sien waarvan ek praat:
My heart’s in the Highlands, my heart is not here;
My heart’s in the Highlands a-chasing the deer;
A-chasing the wild-deer, and following the roe,
My heart’s in the Highlands wherever I go.
Nee, die Hooglande waaroor Burns hier skryf is myns insiens nie sommer bloot nog ‘n identifiseerbare plek nie; nie net nog ‘n stel koordinate op ‘n kaart nie. Dit is daardie “elders” waarvan Totius skryf in sy bekende gedig; dit is daardie onbepaalde maar gebiedende plek waar ons dink die lewe eintlik vir ons sal begin, soos Milan Kundera verwoord in sy romantitel Life is Elsewhere. Dit is Leonard Berstein en Stephen Sondstein se “Somewhere”… Jy weet waarvan ek praat: die letterkunde is vol van hierdie soort Hooglande. Tot ‘n groot mate is dit maar eintlik waaroor die letterkunde handel: “…my heart is not here / [...] My heart’s in the Highlands wherever I go.”
Ek luister tans redelik obsessief na Arvo Pärt se toonsetting van hierdie gedig vir orrel en kontratenoor in my kar. Pärt, en veral David James, die sanger op die opname waarna ek luister, vang die stil, melancholiese, hunkerende hart van Burns se gedig vas soos seker geen ander toonsetting van hierdie lied nie. Dit is werklik aangrypend; die oorgebruikte Engelse woord “haunting” is wel hier gepas. Jy kan hier daarna luister.
Dit herinner my aan nog ‘n uitstekende musikale kopknip in die rigting van Burns se gedig. Bob Dylan se “Highlands” is beslis deur Burns ingegee, al is dit nie ‘n toonsetting van die gedig nie. Lees die eerste paar strofes hieronder. Die lied verskyn op Dylan se album uit 1997, Time out of Mind; die ouer Dylan, dus. En wat ‘n wonderlike kontras vorm dit nie met die honende, snedige jong man wat indertyd gesing het: “How does it feel, to be on your own, like a complete unknown, with no direction home, like a rolling stone?”
[...] Well, my heart’s in the highlands, gentle and fair
Honey suckle bloomin’ in the wildwood air
Bluebells blazin’ where the Aberdeen waters flow
Well, my heart’s in the highlands, I’m gonna go there when I feel good enough to go.
Windows were shakin’ all night in my dreams
Everything was exactly the way that it seems
Woke up this mornin’ and I looked at the same old page
Same old rat race, life in the same old cage.
I don’t want nothin’ from anyone, ain’t that much to take
Wouldn’t know the difference between a real blonde and a fake
Feel like a prisoner in a world of mystery
I wish someone would come and push back the clock for me.
Well, my heart’s in the highlands, wherever I roam
That’s where I’ll be when I get called home
The wind it whispers to the buck-eyed trees of rhyme
Well, my heart’s in the highlands, I can only get there one step at a time. [...]
Wednesday, November 3rd, 2010
 Bob Dylan se Street Legal
Ek het vanoggend vroeg opgestaan en met ‘n koppie koffie (of twee…) op die rusbank gaan sit om doktorale navorsingsvoorstelle te lees. En twee CD’s geluister: ‘n opname van Stravinsky se religieuse werke deur James O’Donnel (”Symphony of Psalms”, “Three Sacred Choruses”, “Mass” en “Canticum Sacrum”; ek het dit laas Saterdag gekoop maar nog nie behoorlik geluister nie) en (op aanbeveling van Danie Marais), The Duke & The King se Long Live The Duke & The King. Vol fantastiese musiek, beide hierdie albums! The Duke & The King gaan beslis kar toe; dis die soort musiek waarmee mens werk toe en terug wil ry.
Maar vreemd genoeg is dit heel ander musiek (van ‘n album wat ek, omdat ek dit net op viniel besit, jare laas na geluister het) wat vanoggend pal deur my kop galop: Bob Dylan se lieflike “Is your love in vain?”, van die hopeloos onderskatte Street Legal uit 1978. “Do you love me, or are you just extending goodwill?/ Do you love me half as much as you say, or are you just feeling guilt?” begin dit mos — en Dylan vra daardie vrae met ‘n vernietigende gelatenheid… Ai, die man kan darem sing!
Daar is min mense in rock wat ‘n stem, ‘n blote stem, so verreikend musikaal kan aanwend soos Dylan; en onthou, ‘n stem hoef nie “mooi” te wees om musikaal te wees nie. Celine Dion en Josh Groban se stemme is dalk (dalk…) “mooi”, maar hulle aanwending daarvan as instrumente is nou nie juis iets om oor opgewonde te raak nie. Bob Dylan, daarenteen, het ‘n stem met (musikale) implikasies. Dit laat dinge gebeur: dit gee emosionele lading aan sy lirieke, ja, maar meer belangrik nog, Dylan dra deur middel van prosodie en frasering by tot die musikale struktuur (en soms, op briljante wyse, ook tot die musikale dekonstruksie) van sy liedjies. Gaan luister maar na sy verskillende weergawes van “Tangled Up in Blue”; van “Simple Twist of Fate”, of van “Maggie’s Farm”… Op sy beste is Bob Dylan selfs ‘n beter sanger as wat hy ‘n digter is.
Street Legal is ‘n fantastiese album. Dit maak sin om dit te sien as deel van ‘n trilogie wat ook Blood on the Tracks (1975) en Desire (1976) insluit. Wat ek veral van hou is die “smudginess” van die klank op Street Legal; die effense olierige, sweterige aard van die opname. Daar’s iets onmiddelliks, iets geïmproviseerd selfs, aan die projek, wat teenstrydige kwaliteite van aarseling en absolute dringendheid aan die musiek verleen.
Teenoor die fetisj wat rockgroepe toenemend van die ateljee en tegniese effekte gemaak het (veral na The Beatles se Revolver in 1966) spreek Street Legal verder ook van ‘n veel meer argelose houding: ‘n opname is maar net ‘n voorlopige weergawe van musiek wat op die langpad, op daardie nimmereindigende toer, weer en weer herskep word…
En watter sterk liedjies is daar nie op hierdie album nie! Dit skop sommer af met ‘n klassiek, “Changing of the Guards”, ‘n hermetiese liriek soos min ander: “The palace of mirrors/ Where dog soldiers are reflected/ The endless road and the wailing of chimes/ The empty rooms where her memory is protected/ Where the angel’s voices whisper/ to the souls of previous times.”
En wat van die rooiwarm, donker erotiek van “New Pony”?: “I had a pony her name was Lucifer (how much longer?) / I had a pony, her name was Lucifer (how much, how much longer?)/ She broke her leg and needed shooting/ I swear to God it hurted me more than it ever could have hurted her…”
Dis ‘n album vol liefde (”Baby please stop crying” en ”Is your love in vain?”) en politiek (”Senor”), maar die meesterstuk, en ‘n hoogtepunt in Dylan se oeuvre, is sekerlik “Where are you tonight? (Journey through dark heat)”. Dit is die perfekte, desperate afsluiting van ‘n intense, gefolterde trilogie; ’n eensame kreet wat, interessant genoeg, deur Dylan se gospel-trilogie opgevolg sou word… Ja, dark heat: die perfekte beskrywing van hierdie musiek.
Where are you tonight (Journay through dark heat) - Bob Dylan
There’s a long-distance train rolling through the rain
Tears on the letter I write
There’s a woman I long to touch and I miss her so much
But she’s drifting like a satellite
There’s a neon light ablaze in this green smoky haze
Laughter down on Elizabeth Street
And a lonesome bell tone in that valley of stone
Where she bathed in a stream of pure heat
Her father would emphasize you got to be more than streetwise
But he practiced what he preached from the heart
A full-blooded Cherokee, he predicted to me
The time and the place that the trouble would start
There’s a babe in the arms of a woman in a rage
And a longtime golden-haired stripper onstage
And she winds back the clock and she turns back the page
Of a book that no one can write
Oh, where are you tonight?
The truth was obscure, too profound and too pure
To live it you have to explode
In that last hour of need, we entirely agreed
Sacrifice was the code of the road
I left town at dawn, with Marcel and St. John
Strong men belittled by doubt
I couldn’t tell her what my private thoughts were
But she had some way of finding them out
He took dead-center aim but he missed just the same
She was waiting, putting flowers on the shelf
She could feel my despair as I climbed up her hair
And discovered her invisible self
There’s a lion in the road, there’s a demon escaped
There’s a million dreams gone, there’s a landscape being raped
As her beauty fades and I watch her undrape
I won’t but then again, maybe I might
Oh, if I could just find you tonight
I fought with my twin, that enemy within
’Til both of us fell by the way
Horseplay and disease is killing me by degrees
While the law looks the other way
Your partners in crime hit me up for nickels and dimes
The guy you were lovin’ couldn’t stay clean
It felt outa place, my foot in his face
But he should-a stayed where his money was green
I bit into the root of forbidden fruit
With the juice running down my leg
Then I dealt with your boss, who’d never known about loss
And who always was too proud to beg
There’s a white diamond gloom on the dark side of this room
And a pathway that leads up to the stars
If you don’t believe there’s a price for this sweet paradise
Remind me to show you the scars
There’s a new day at dawn and I’ve finally arrived
If I’m there in the morning, baby, you’ll know I’ve survived
I can’t believe it, I can’t believe I’m alive
But without you it just doesn’t seem right
Oh, where are you tonight?
Wednesday, March 10th, 2010
Voordat ek nou in alle erns begin nadink oor hierdie maand se blogfokus, is die gebruiklike bietjie Bob Dylan seker in orde. Dylan, self ‘n amateurskilder, het klaarblyklik gemengde gevoelens oor kunsmuseums. In Visions of Johanna (een van sy beste songs) sing hy:
Inside the museums infinity goes up on trial
Voices echo, this is what salvation must be like after a while
But Mona Lisa musta had the highway blues
You can tell by the way she smiles
In Don’t fall apart on me tonight sing hy:
But it’s like I’m stuck inside a painting
That’s hanging in the Louvre,
My throat start to tickle and my nose itches
But I know that I can’t move.
Is daar iets waaroor hierdie man hom nog nie uitgelaat het nie?!
Tuesday, February 9th, 2010
 Omslag
Die uitgewer Sterling Children’s Books het bekend gemaak dat hulle in September vanjaar ‘n kinderboek deur Bob Dylan gaan uitgee. Die boek, Man Gave Names to All the Animals, sal uitgegee word met ‘n meegaande CD waarop die oorspronklike liedjie (van die album Slow Train Coming) sal wees. Die illustrasies vir dié boek word deur die kunstenaar Jim Arnosky gedoen.
“From the first time I heard it, the lyrics created pictures in my mind of a land of primeval beauty,” het Arnosky gesê. “I thought this vision would make a dream of a book, and I asked for Bob Dylan’s permission to make this dream come true. Happily, he said yes.”
Uiteraard is die uitgewers net so ingenome met dié projek: “Jim has outdone himself with the lush, detailed illustrations, and we couldn’t be more delighted to have this opportunity to work with Bob Dylan.” Aldus senior-redakteur Meredith Mundy. Frances Gilbert, hoofuitgewer by Sterling Books, het bygevoeg: “When we published the picture book of Puff, the Magic Dragon, which has sold a million copies, we realized how strongly folk songs resonate across generations. We’re equally confident Bob Dylan’s fans will enjoy sharing Man Gave Names to All the Animals with the children in their lives.”
Vir jou leesplesier plaas ek nié Bob Dylan se liriek onderaan nie, maar Antjie Krog se “Abecedarium vir Afrika“.
***
Met ‘n vorige Nuuswekker is dit al berig dat Antjie Krog vanjaar die Winternachen-lesing tydens die fees verlede maand by Den Haag moes lewer. Haar opdrag was om oor die Universele Verklaring van Menseregte te praat. Die lesing kan in Engels gelees word, óf in Robert Dorsman se Nederlandse vertaling.
Ten slotte wil ek ook jou aandag vestig op ‘n rubriek oor Adriaan van Dis en NP Van Wyk Louw se invloed op hom, wat Daniel Hugo as kommentaar onder aan FIJ van Rensburg se artikel oor Van Wyk Louw en Nederland geplaas het.
Mooi bly.
LE
Abecedarium vir Afrika
Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis
Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis
Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot
Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop
Eekhoring Engelvis Elsie Eland
Feniks Fiskaal Flamink Fisant
Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok
Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod
Ietermago Impala iMpevu Ibis
Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis
Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan
Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan
Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe
Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe
Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou
Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou
Quagga Quil snuif op Engels aan die lot
Ratel Roerdomp Rinkhals Rot
Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael
Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal
Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)
Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis
Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond
Xhama laat in Xhosa spore op die grond
Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark
Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard
Ja alles van hier van huis en van haard
Alles wat kruip volgens suidelike kaart
Alles wat fladder, doodle of dool
Wag reikhalsend op die koms
van die Amazi-voël
(c) Antjie Krog (Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)
Monday, February 1st, 2010
 Ernst van Heerden
Ek het nie besef, toe dit begin gebeur het, dat ek tot die digkuns verlei word nie… As ek het, het ek dalk beter weerstand gebied!
Maar nee, ek was jonk, ek was weerloos, en ek het nie van beter geweet nie.
Dit het alles met musiek begin – eers (in chronologies orde) Anton Goosen, David Kramer, en Bruce Springsteen; en toe, deur hulle toedoen, Bob Dylan, Jim Morrison, Leonard Cohen en ‘n rits ander troebadoere – en al te gou het dit gelei tot gesteelde uurtjies in die dorpsbiblioteek, ‘n stadig groeiende persoonlike versameling digbundels, en, natuurlik, die skryf van selfbewuste gediggies op bladsye wat ek versigtig uit my skool-skryfboeke geskeur het…
Oor hierdie klas vergrype het ek natuurlik aanvanklik maar by die skool en op rugbytoere geswyg – ‘n mens kon spog dat jy U2 se nogals poëtiese The Joshua Tree besit het, maar nie juis dat jy Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur op uitverkoping by die CNA aangeskaf het nie… ongeag hoe bitter gelukkig daardie aanwins jou ook al gemaak het!
Toe ek David Kramer, Anton Goosen en daarna Bruce Springsteen ontdek het (tydens my laaste jaar of twee op laerskool), was dit van meet af aan die lirieke, wat hierdie kunstenaars met blote Afrikaanse en Engelse woorde kon vermag, wat hulle vir my onderskei het van die popgroepe wat ek aanvanklik saam met die kudde na geluister het: Wham!, Duran Duran, Modern Talking, A-ha – ja-ja, wat kan ek sê, ek is ‘n kind van die 1980s!
Maar dat dit poësie was wat hierdie kunstenaars gepleeg het – dít het ek glad nie besef nie. Ek was ‘n niksvermoedende slagoffer! Popmusiek was toe wél gevaarlik, soos hulle op skool soms gewaarsku het, maar vir geheel en al ander redes: dit was ‘n soort Trojaanse Perd wat die poësie losgelaat het in my binnekamer; wat my verbeelding aangetas het en woorde vreemd gaan staan en maak het!
Dus, al ek het dit nie geweet nie, dit was ‘n klomp folksangers en rock ‘n rollers wat my verlei het tot die digkuns, nog lank voordat ek besef het gedigte, soos hokkie, klavierlesse en die debatsvereniging, is nie net vir bleeksiele nie. (Wel, ek moet bieg, ek is nou nog nie seker oor die debatsvereniging nie.)
Die saadjie was dus geplant, en al wat dit gekos het om dit te laat ontkiem, was daardie onafwendbare, onthutsende eerste ontmoeting met Breyten Breytenbach in Opperman se geel (as ek reg onthou) Verseboek in Standerd 6.
Ja, my storie begin ook, soos so baie Afrikaanse lesers van ‘n sekere ouderdom s’n, by BB en ‘n bietjie Krog; trouens, die eerste digbundels wat ek ooit vir myself gekoop het, was Breytenbach se Katastrofes (ja, dit is ‘n digbundel!) en Die huis van die dowe.
En tog was dit nie Breytenbach wat my die spreekwoordelike doodskoot gegee het nie. Dit was ‘n ander, miskien minder vanselfsprekende Afrikaanse digter wat seker gemaak het dat my aanvanklike belangstelling in die digkuns nie beperk sou bly tot ‘n tydelike kultus van persoonlikheid nie, maar sou lei tot ‘n langdurige belangstelling en liefde: die reeds genoemde Ernst van Heerden.
Ek weet nie meer presies hoe dit gebeur het nie, maar ek het ‘n versameling van sy eerste ses bundels in een band, Die kleur van donkerte, in die hande gekry en obsessief begin gelees. Ek weet nie presies wat die aantrekkingskrag was nie, maar Die kleur van donkerte het my as 14-jarige heeltemal onkant betrap. Skielik was ek nie net gefassineerd deur ‘n digter nie, maar deur gedigte en die skryfproses self. Skielik het ek besef woorde kan sing; en dat ek hulle dalk ook kan laat sing.
‘n Jaar of twee later het ek Amulet teen die vuur (ja, op uitverkoping) in die hande gekry… Ek het daardie bundel seker meer as enige ander bundel gelees, en probeer om daardie uitgesponne, filosofiese vrye vers-gedigte na te doen. Met min sukses, ongelukkig!
Ek lees nie juis meer die gedigte in Kleur van donkerte nie. Baie van hulle neig na die sentimentele, is dalk ietwat selfbewus verestetiseerd, of vertoon gewoon swak teen die beste verse wat Opperman, Van Wyk Louw, Eybers en ander op daardie stadium geproduseer het. Van Heerden het sy blywende bydrae (en dit is nie ‘n geringe bydrae nie) tot die Afrikaanse poësie, myns insiens, met sy latere bundels gelewer – rofweg, die bundels vanaf Tyd van verhuising.
Hoe ook al, Ernst van Heerden is steeds disproporsioneel verteenwoordig op my boekrak; sy digbundels en ook sy outobiografiese werke en reisverhale, was ‘n konstante teenwoordigheid gedurende my skooljare. En of ek dit nou lees of nie, Die kleur van donkerte, met sy nou reeds gebleikte blou omslag, staan trots tussen al die ander bundels wat ek sedertdien gekoop en gelees het.
Dit herinner my aan ‘n vroeë verleiding.
Friday, January 22nd, 2010
 Bob Dylan
Ek moet erken, hoe opgewonde ek ook al was oor die verskyning van Bob Dylan se outobiografiese Chronicles Vol. 1, het ek nie veel hoop gehad dat dit as ‘n boek sou slaag nie. Ek kon (en wou) myself nie indink dat hierdie inkennige, dikwels geheimsinnige, verkleurmannetjie van ‘n kunstenaar hom skuldig sou maak aan wat deesdae ‘n soort epidemie geword het nie: triviale en voortydige outobiografiese bieg- en spogboeke deur elke tweede popmusikant en sportster. En indien dan nie daardie soort boek nie, watter soort boek sou dit dan kon wees?
Wat ook al my verwagtinge was, Dylan het hulle almal hier oortref. Hierdie boek is baie dinge, maar triviale, selfdienstige portret is dit beslis nie. Dit is inderwaarheid geen lewensverhaal in die konvensionele sin van die woord nie, maar eerder ‘n reeks meditasies oor folkmusiek, die blues, kunstenaarskap, persoonlike en openbare identiteit, tradisie en moderniteit. Hierdie kronieke, soos hy hulle noem (dis die eerste volume – ons sal maar moet wag en sien hoeveel meer sal verskyn en wat hulle sal behels), fokus op enkele, maar deurslaggewende momente in ‘n lang loopbaan. Interessant genoeg is die momente, liedjies en albums waarby Dylan hier stilstaan redelik periferaal in sy groter oeuvre – ten minste, hulle blyk dit te wees, omdat mens die gewoonte het om die betekenis van ‘n kunstenaar se lewe en werk vanuit die perspektief van sy suksesse te verstaan; daardie kere wanneer hy in pas is met homself en die pas aangee vir ander.
Bob Dylan het natuurlik nie ‘n tekort aan sulke momente nie. Dit sou vir hom meer as maklik gewees het om etlike volumes te skryf oor sy musikale en literêre mylpale, sy verskillende hergeboortes, en sy onontkenbare kulturele impak op die tweede helfte van die twintigste eeu. Hy sou sekerlik sonder veel probleme die baie persoonlike mislukkings, swak albums, en oninspirerende konsertreekse kon ignoreer of as onbenullige episodes afmaak in ‘n integrerende en selfkanoniserende terugblik. En tog is sy preokkupasie hier juis met artistieke stryd, musikale mislukkings en identiteitskrisisse. Die toonaard van die boek – en dit is wat dit so ‘n fassinerende leeservaring maak – is enduit selfrelativerend, eerder as selfbevestigend.
 Chronicles.Bob Dylan
Die grootste gedeelte van die boek – die eerste twee en die laaste hoofstukke – fokus op sy verblyf in New York in die laat 1950s en vroeë 1960s. Hierdie is die tyd voor sy eerste opnames, voor hy begin liedjies skryf het (anders as wat mense dikwels dink, wou Dylan aanvanklik net ‘n sanger wees, en het hy geen behoefte gehad om te komponeer nie…), en voor hy op die naam Bob Dylan besluit het, ‘n besluit wat beide arbitrêr en finaal was:
“Bob Dylan looked and sounded better than Bob Allyn. The first time I was asked my name in the Twin Cities, I instinctively and automatically without thinking simply said: ‘Bob Dylan.’ (…) As far as Bobby Zimmerman goes, I’m going to give this to you straight and you can check it out. One of the earliest presidents of the San Bernardino Angels was Bobby Zimmerman, and he was killed in 1964 on the Bass Lake run. The muffler fell off his bike, he made a U-turn to retrieve it in front of the pack and was instantly killed. That person is gone. That was the end of him.” (p. 79)
Hierdie hoofstukke oor sy vroeë verblyf in New York, op ander se rusbanke en later in sy eie woonstel, is sonder twyfel ‘n kunswerk. Die ritme en toon van sy vertelling is enduit trefseker; hy beweeg seepglad tussen fyn waarnemings, ligte humor en elegiese beskrywings. Herinnering of verbeelding – maak dit regtig saak? Die intimiteit waarmee hy verlore landskappe en mense oproep en huldig kan nie ontken word nie:
“Across the way a guy in a leather jacket scooped frost off the windshield of a snow-packed black Mercury Montclair. Behind him, a priest in a purple cloak was slipping through an opened gate on his way to perform some sacred duty. Nearby, a bareheaded woman in boots tried to manage a laundry bag up the street. There were a million stories, just everyday New York things if you wanted to focus in on them.” (p. 32)
En die aweregse Dylan-humor bly ook nie agterweë nie:
“Once I put on Beethoven’s Pathetique Sonata – it was melodic, but then again, it sounded like a lot of burping and belching and other bodily functions. It was funny – sounded almost like a cartoon. Reading the record jacket, I learned that Beethoven had been a child prodigy and he’d been exploited by his father and that Beethoven distrusted all people for the rest of his life. Even so, it didn’t stop him from writing symphonies.” (p. 94)
Die middelgedeeltes van die boek bestaan uit twee hoofstukke, wat elkeen fokus op ‘n latere era in sy loopbaan en op die maak van ‘n album. Daar is interessante paralelle en verskille tussen die twee periodes wat hy kies om oor te skryf: die laat 1960s en die laat 1980s. In beide bevind hy homself in ‘n musikale, kreatiewe en emosionele doodloopstraat; en in beide probeer hy om in samewerking met ‘n ander kunstenaar iets te produseer. Maar waar hy in die laat 1960s probeer ontsnap van die verstikkende mediabeeld wat van hom geskep is, probeer hy twintig jaar later desperaat iets red van ‘n loopbaan wat stadig agteruit begin gaan en ‘n reputasie wat jaarliks verder vervaag.
Amper volledig vervreem van die populêre kultuur van die dag, getroud en met drie kinders, probeer Dylan in die laat 1960s vir homself artistieke en emosionele ruimte skep deur sy rug doelbewus te draai op die dikwels absurde voorstellings en verwagtinge wat deur die media van en vir hom geskep is:
“Whatever the counterculture was, I’d seen enough of it. I was sick of the way my lyrics had been extrapolated, their meanings subverted into polemics and that I had been anointed as the Big Bubba of Rebellion, High Priest of Protest, the Czar of Dissent, the Duke of Disobedience, Leader of the Freeloaders, Kaiser of Apostasy, Archbishop of Anarchy, the Big Cheese. What the hell are we talking about?” (p. 120)
Hy tree nie op by Woodstock en Altamont nie; om die waarheid te sê, vir etlike jare tree hy glad nie op nie. Hy maak ‘n ouderwetse album, Nashville Skyline – pure Country & Western, lirieke ver verwyderd van die poëtiese dringendheid van sy vroeëre werk, en sy stem byna onherkenbaar – en Self Portrait, sekerlik een van die mees doelbewuste pogings tot selfontluistering in die geskiedenis van populêre musiek. Op uitnodiging van die Amerikaanse digter Archibald MacLeish begin hy liedjies skryf vir een van MacLeish se toneelstukke, maar die projek eindig in mislukking. Die liedjies word uiteindelik gebruik vir die album New Morning (1970). Alhoewel dit goeie resensies kry, en inderdaad ‘n mooi album is, oordeel Dylan so daaroor: “To be sure, the album itself had no specific resonance to the shackles and bolts that were strapping the country down, nothing to threaten the status quo” (p. 141).
Maar hierdie huiwerende periode in sy loopbaan, wat sou duur tot die middel 1970s (Blood on the Tracks, die dikwels onderwaardeerde Desire en die later uitgereikte Live 1975 verteenwoordig die einde daarvan), is niks in vergelyking met die woestyn waarin hy homself in die laat 1980s bevind nie. Hy skryf so oor die windstilte in sy loopbaan op daardie stadium: “There were many reasons for this, reasons for the whiskey to have gone out of the bottle. Always prolific but never exact, too many distractions had turned my musical path into a jungle of vines” (p. 146). En selfs meer sinies: “Wherever I am, I’m a ’60s troubadour, a folk-rock relic, a wordsmith from bygone days, a fictitious head of state from a place nobody knows. I’m in the bottomless pit of cultural oblivion. You name it. I can’t shake it” (p. 147).
In ‘n poging om aan hierdie soort selfoordele te ontsnap, begin Dylan met Daniel Lanois werk aan die album Oh Mercy (1989). Die boek gee ‘n redelik volledige ontstaansgeskiedenis van die liedjies op hierdie album, asook ‘n oorsig van die opnames vir die album in New Orleans. Alhoewel Dylan deur die maande se werk aan Oh Mercy volgens sy eie getuienis weinig begrip het van waar die proses heen lei, en dikwels moed verloor in die samewerking met Lanois, verteenwoordig Oh Mercy uiteindelik ‘n meer suksesvolle samewerking as die een met MacLeish, asook ‘n eerliker, dieper betrokkenheid by homself en by die wêreld as wat die geval was met New Morning. “We did it as we damn well pleased and there was nothing more to say. When the record was all added up, I hoped it would meet head on with the realities of life” (p. 217). Dit is duidelik dat hierdie album, leemtes (waaroor hy baie eerlik is) ten spyt, vir hom ‘n besondere betekenis het.
Bob Dylan se Chronicles: Volume 1 is ‘n intieme, dikwels weerlose boek. Dit is gevul met roerende eerbetone aan die mense wat die jong Robert Zimmerman se aanvanklike, huiwerende treë in die musiekwêreld moontlik gemaak het. Dit is ook vol skerp, dikwels humoristiese, soms lakonieke pensketse van plekke, mense, boeke en musiek. Veral musiek – die ryke tradisies van Amerikaanse folk.
Maar ten spyte van hierdie intimiteit verval Dylan nie een keer in oordrewe ontboeseminge nie. Om die waarheid te sê: hy bly grootliks ‘n enigma. Soms dink jy jy kom nader aan die man as ooit tevore, maar hy verdwyn telkens soos rook. Jy sal, na die lees van hierdie boek, byvoorbeeld nie weet hoeveel keer hy getroud was nie, en wat sy vroue se name was nie. Uiteindelik is alles wat hy skryf ‘n rigtingwyser na die musiek; na sy eie musiek, en ook na die musiek, die tradisies, die “invisible republic” (in die woorde van Greil Marcus) wat agter sy eie musiek lê. En dit is om hierdie rede dat jy hierdie boek moet lees.
(Ek het hierdie stukkie etlike jare gelede in Johann Rossouw se Die Vrye Afrikaan gepubliseer. Intussen bestaan daardie blad nie meer nie, en wag ons steeds vir Vol. 2 van Dylan se Chronicles…)
Tuesday, November 17th, 2009
 Berlynse muur (9 November 1989)
. . . the night they first scaled the wall,
the people at the top reached down to pull
the others up, and shouted Come on,
Come on! When the guards turned the water cannons on them,
they sprayed back from open bottles of champagne.
Then the broken chunks appeared, in the hands of those
who had loosened them, fragments of concrete
glazed with spray paint inscriptions, scarred
with sledgehammer and chisel: instruments of union.
© Mark Doty (Uit: The lesson)
Aanvanklik het ek nie gedink om ‘n Nuuswekker oor die twintigjaar-herdenking van die val van die Berlynse muur te skryf nie, aangesien daar meer as voldoende dekking daarvan in die media was. Maar toe kom ek af op Edward Byrne se stuk op my gunsteling Amerikaanse webtuiste: One Poet’s Notes. En ja, toe kon ek nie die versoeking weerstaan nie; in hoofsaak vanweë die foto hierbo. Terloops, die aanhaling is geneem uit Mark Doty se gedig “The lesson” wat in die New York Times verskyn het. Ander digters wie se verse deel gevorm het van dié spesiale uitgawe, is: Marie Howe, Yusef Komunyakaa, Ewa Lipska, Vera Pavlova, Tomaz Salamun, Zafer Senocak, Bruce Weigl, en C.K. Williams.
Nietemin, terug na die muur en die val wat groot was. In sy stuk het Edward Byrne die volgende hieroor te sê: “The images of young folks opening the barrier between East and West piece by piece remain among the most exciting ever witnessed on television, as their courageous acts indicated a close to the Cold War was at hand. Today, my son possesses a piece of the Berlin Wall, which continues to exist as a concrete reminder of the value of freedom.”
Lees gerus die berig hier en luisterkyk ook na die video van Bruce Springsteen se vertolking van Bob Dylan se beroemde “Chimes of freedom”. Dit is verfilm tydens ‘n konsert wat hy in Berlyn ‘n jaar voor die Groot Val gelewer het.
As lusmaker, die volgende:
In the city’s melted furnace, unexpectedly we watched
With faces hidden while the walls were tightening . . .
And we gazed upon the chimes of freedom flashing.
- Bob Dylan (Uit: “Chimes of freedom”)
***
Vanoggend is daar sommer heelwat opwindende stukke op die webblad: ‘n onderhoud met Andries Visagie oor hermetiese en toeganklike poësie, Andries Bezuidenhout se volgende aflewering oor historiese Johannesburg en Desmond Painter wat skryf oor ‘n gedig van Theodore Roethke. En dan het ons webmeester begin met die toevoeg van ‘n nuwe dimensie tot die webblad, naamlik ‘n ruimte vir vertalings. Indien jy bydraes wil stuur vir plasing, is jy welkom. Dit kan Afrikaanse tekste wees wat na ander tale vertaal is, of verse uit ander tale wat na Afrikaans vertaal is. As redaksie is ons sommer baie opgewonde oor dié toevoeging en glo dat dit nogal ‘n sinvolle manier is om mure op ‘n poëtiese manier af te breek.
Gaan kyk gerus na alles, raak opgewonde en neem deel.
Mooi bly.
LE
Friday, October 2nd, 2009
 Amos Oz
Na aanleiding van gister se Nuuswekker oor moontlike kandidate vir vanjaar se Nobelprys vir Letterkunde, het ek so ‘n bietjie verder rondgesnuffel op die internet. Ek land toe op Earth Times se webblad waar hulle die Top 10 volgens die beroepswedders, Ladbrokes, aandui.
Hiervolgens is Amos Oz die gunsteling om vanjaar bekroon te word. Weddenskappe ten gunste van dié Israelse skrywer is tans 5 teen 1. Volgens Earth News se kommentator was Oz al meermale ‘n sterk teenwoordigheid op die Sweedse Akademie se kortlys.
Voorts is Oz se uitgesproke steun vir ‘n twee-staat oplossing vir die probleme in die Midde-Ooste; ‘n standpunt wat die Sweede Akademie dalk sou wou bekragtig deur ‘n goue medalje om die nek van die hoof-agitator te hang …
Op Ladbrokes se voorkeurlys word Oz gevolg deur die Algerynsgebore Franse skryfster, Assia Djebar, met ‘n loting van 6 teen 1, asook die Spanjaard Luis Goytisola met 7 teen 1. Volgens Earth Times is dié twee kandidate in ooreenstemming met Ladbrokes se verwagting dat die wenner vanjaar uit Latyns-Amerikaanse geledere gaan kom …
Die res van die Top 10 bestaan uit die Amerikaanse hoop in die persone van Joyce Carol Oates en Philip Roth (albei met 8 teen 1), die Siriese digter Adonis (Ali Ahmad Said Asbar) op 9 teen 1, gevolg deur die Italiaanse paar Antoni Tabucchi en Claudio Magris, die Japannese reus Haruki Murakami, en nog ‘n gereelde gunsteling: Thomas Pynchon. Al die laasgenoemde kandidate met ‘n loting van 10 teen 1.
Bob Dylan, oor wie ek gister berig het, se kanse is ‘n skamele 26 teen 1, so ook die Kanadese duo, Alice Munro en Margaret Atwood.
Al bogenoemde in ag genome, is ek tog van mening dat dit vanjaar ‘n Amerikaner gaan wees … Wat dink jy? Laat weet ons; hetsy as kommentaar hieronder of in ‘n brief aan die Brieweboks gerig. Ek onderneem om ‘n gratis kopie van die Versindaba 2007 DVD as beloning te gee aan almal wat reg voorspel.
Lekker spekuleer en laat kom daai briewe!
Hieronder is ‘n aanhaling deur Amos Oz wat ek op hierdie webblad gevind het.
***
Vanoggend kan jy jou verlustig in Bernard Odendaal se resensie van Carina Stander se bundel “woud van nege en negentig vlerke”. Nog ‘n toevoeging is Charl-Pierre Naudé se nuutste blog waarin hy sy kritici antwoord met ‘n gedig, onder andere.
Lekker lees en hê pret vandag. Die naweek is net ‘n oogknip ver …
Mooi bly.
LE
“Two children of same cruel parent look at one another and see in each other the image of the cruel parent or the image of their past oppressor. This is very much the case between Jew and Arab: It’s a conflict between two victims.” -
— Amos Oz
Tags: Alice Munro, Aos Oz, Assia Djebar, Bob Dylan, Claudio Magris, Haruki Murakami, Joyce Carol Oates, Luis Goytisola, Margaret Atwood, Philip Roth, Thomas Pynchon Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, October 1st, 2009
 Bob Dylan
Op sy onlangse blog het Desmond Painter my ietwat voorgespring met ‘n bespiegeling rondom kandidate vir vanjaar se Nobelprys vr Letterkunde wat oor ongeveer twee weke van nou af aangekondig word. Oudergewoonte is die internet boepensdik van al die heerlike bespiegelinge oor wie se naam vanjaar uit die hoed getrek gaan word. Onwillekeurig dink ‘n mens aan digters soos Ernesto Cardenal (Nicaragua), Roberto Juarroz (Argentinië), Adonis (Sirië) en Hans Magnus Enzensberger (Duitsland). Om nie eens te praat van ons eie twee kandidate wat vanjaar (so glo ek graag) ‘n besonder sterk kans het nie … En wat van prosateurs soos Amos Oz, Carlos Fuentes, Philip Roth, Haruki Murakami en ‘n magdom ander? Selfs Bei Dao (China/VSA) is elke jaar ‘n sterk gunsteling, maar net soos dit die geval is met Salman Rushdie sal só ‘n toekenning waarskynlik met té veel politieke bagasie gepaardgaan. (En wat van Tomas Tranströmer?!)
Nietemin, groot was my verbasing toe ek op De Contrabas lees dat niemand minder as Bob Dylan op dié stadium as gunstige kandidaat bejeën word nie. Volgens die Deense literator, Anne-Marie Mai, gaan die toekenning na alle waarskynlikheid vanjaar na ‘n Amerikaanse skrywer gaan; veral na aanleiding van die Akademie se voormalige hoofsekretaris, Horace Engdahl, se gewraakte uitspraak jeens die Amerikaanse letterkunde verlede jaar. Volgens The Guardian se berig van 1 Oktober 2008 het hy gesê dat die Amerikaanse skrywers te selfgesentreerd is. ”The US is too isolated, too insular. They don’t translate enough and don’t really participate in the big dialogue of literature,” het hy glo gesê. Later het sekretaris Engdahl dié bewerings probeer ontken en beweer dat dit ‘n misverstand is. Maar nou ja, die skade was gedoen.
Verdermeer word die argument dat Bob Dylan voordeel mag trek uit ‘n regstellende stem ten gunste van ‘n Amerikaanse bekroning, word ook op Knack se webblad gevoer. Ook hulle haal Anne-Marie Mai aan wat beweer dat Dylan se nominasie al vir etlike jare voor die komitee dien, maar telkens oor die hoof gesien word; skaamteloos lewer sy egter nou ‘n betoog ten gunste van bekroning vir hom, aangesien hy “de experimentele romantische en modernistische tradities van de wereldliteratuur verder gevoerd en met populaire uitdrukkingsvormen versmolten (heeft).” Na haar mening kan Dylan op dieselfde vlak geplaas word as skrywers soos Alexander Poesjkin, Charles Baudelaire, Walt Whitman, Johann Wolfgang Goethe en John Keats.
Nou ja, toe. Indien ‘n liriekskrywer bekroon moet word, is ek dit heeltemal eens dat onse Bobbie ‘n besonder sterk kandidaat is … En selfs wanneer sy lirieke met die Amerikaanse digkuns vergelyk word, staan hy waarskynlik ‘n neuspunt voor die meeste ander … Maar ‘n bekroning vir hom ten koste van soveel ander onvergeetlike skrywers?! Sjoe, darem seker nie, of hoe?
Hoe dit ook al sy, solank ons net kan aanhou met asemhaal, sal ons mettertyd wel weet.
As toegif vanoggend plaas ek die laaste strofe uit “A Hard Rain’s A-gonna Fall” wat waarskynlik as Bob Dylan se mees beroemde liriek beskou kan word. Die res van die liriek - asook al die ander - is hier te lees.
***
Maak ook net seker dat jy Yves T’Sjoen se nuwe blog te lese kry; dis absoluut fassinerend. Cas Vos ‘n huldeblyk vir IL de Villiers gestuur en Hennie Aucamp gesels alte heerlik met Bernard Odendaal in die Brieweboks oor die Liedteks as deel van die poësieskat in Afrikaans. Intussen het Jakkie van der Colff sy (of haar) beswaar teen Bernard Odendaal se resensie van Jelleke Wierenga se bundel, Bloot mens, na LitNet geneem en hom (of haar) tromop geloop teen twéé geïnspireerde reaksies, naamlik die van Koos Sas en Marna Duvenhage. Gaan lees gerus. Ai, ai, dis altyd só jammer wanneer mense hoor maar nie luister nie.
Nietemin, ‘n lekker (musikale) dag word jou toegewens.
Mooi bly.
LE
Oh, what’ll you do now, my blue-eyed son?
Oh, what’ll you do now, my darling young one?
I’m a-goin’ back out ‘fore the rain starts a-fallin’,
I’ll walk to the depths of the deepest black forest,
Where the people are many and their hands are all empty,
Where the pellets of poison are flooding their waters,
Where the home in the valley meets the damp dirty prison,
Where the executioner’s face is always well hidden,
Where hunger is ugly, where souls are forgotten,
Where black is the color, where none is the number,
And I’ll tell it and think it and speak it and breathe it,
And reflect it from the mountain so all souls can see it,
Then I’ll stand on the ocean until I start sinkin’,
But I’ll know my song well before I start singin’,
And it’s a hard, it’s a hard, it’s a hard, it’s a hard,
It’s a hard rain’s a-gonna fall.
© Bob Dylan (uit: A Hard Rain’s A-gonna Fall)
Sunday, September 13th, 2009
Ek is nie ‘n digter nie.
Dit spyt my om dit te moet sê, want natuurlik wou ek ‘n digter gewees het! En nie sommer enige digter nie. Ek wou ‘n groot, ruimgeestige, uitgesponne, ontembare digter gewees het: die politieke opstoker en mitiese gerugbaarmaker van ‘n vasteland, soos Pablo Neruda; die kragprop van ‘n ge-elektrifiseerde kultuur, soos Bob Dylan; of die kortstondige, bloedstollende kreet van ‘n verdoemde generasie, soos Wilfred Owen.
Ja, ek het groot gedroom. Ek wou die Bertold Brecht van Brackenfell wees, die Allen Ginsberg van Goodwood, windverwaai en high… Maar nou ja. Ander mans speel air guitar en droom van groupies en dromme slaan vir Aerosmith. Ek, daarenteen, meng woordslaai in gedagte, en my verbeelde Leaves of Grass sit jaar-na-jaar dikker uit om die lyf… Ou Walter Witman van Suid-Afrika, my barbaarse tjank skaars ‘n tjilp, ‘n weifelende “ugge-um, Mevrou Mafarsikos”, ‘n hondefluitjie, onhoorbaar hoog bo die ruising van voorstedelike verkeer!
Of dit ‘n gebrek aan talent, luiheid, of ‘n kombinasie van die twee is, weet ek nie. Maar die terloopse gediggie ten spyt, daardie Sondagmiddag-respyt van skaam, sielvolle seuns, ‘n regte digter gaan ek nooit word nie. Geen bundels, toekennings of luilekker kuiers op Gorée vir my nie. En dis ook goed so. Dis OK. Ian Craib, in ‘n boek oor die psigoanalise, verwys na the importance of disappointment, en ek stem saam. ‘n Mens word immers ook gedefinieer deur dit wat jy nie is nie, deur dit wat jy ten spyte van jouself, teen jou bitterwete in, bereid is om af te lê. “Are you giving him up?” “Yes, I am giving him up”: daardie ysingwekkende laaste woorde van J.M. Coetzee se Disgrace… Ons het almal ‘n handvol of drie drome al verloor. En drome is ook honde.
In elk geval, ek is tot my groot teleurstelling nie ‘n digter nie, maar ek lees gedigte. Verkieslik hardop; verkieslik onsistematies en ongedissiplineerd; verkieslik nie alleen nie. Dit is dus as ‘n leser, ‘n belangstellende, ‘n fan, nie as ‘n digter of literator nie, dat ek hierdie blog sal skryf. Idees en temas uit die sielkunde, sosiale wetenskappe en filosofie – my daaglikse brood – sal seker elke nou en dan ook kop uitsteek – ‘n mens is ook immers wat jy (w)is.
Tog wil ek beslis nie ‘n akademiese blog skryf nie. Trouens, ek hoop om die digkuns so dan en wan ook as ‘n loopgraaf te gebruik om guerrilla-aanvalle te loods teen die dikwels steriele en taalverydelende diskoerse van die akademie – en veral teen my eie groep, die sielskunniges, die sielkudde. Om te wys hoe die ‘waarheidseffekte’ (as ek die filosoof Foucault ietwat buite konteks kan aanhaal) van die dissiplines omgedolwe kan word, en hoe ‘n mens weer digterlik bewus gemaak kan word van dit wat plofbaar, grotesk, diabolies, dansend, breekbaar of oordadig in enige taal – en mens – is.
So bly te kenne, en wees my maar genadig! (Ugge-um…)
|
|