Posts Tagged ‘Boekhandelaar’

Louis Esterhuizen. Die boekhandelaar se vreugde

Tuesday, August 26th, 2014

Die afgelope maande was dit nogeens een van daardie sardientjietye in ons bedryf, in hoofsaak vanweë die akademiese verkope wat met die aanvang van die plaaslike universiteit (en skole) se tweede semester verband hou. Daarom dat een van die insiggewendste stukke wat ek in onlangse tye op die internet te lese gekry het, die digter, essayis en boekverkoper, Joors Baars, se stuk op hard/hoofd is wat ek via ‘n skakel op De Contrabas raakgesien het. En toegegee, synde boekhandelaar het Baars se uiteensetting van die verhouding tussen boekhandelaar en kliënt my buitengewoon geïnteresseer: “Boeken verkopen heeft meer met mensen dan met boeken te maken. Natuurlijk moet een boekverkoper van boeken houden, maar een boekverkoper die niet van mensen houdt, is reddeloos verloren. Wie van boeken houdt, weet wat een thriller is. Maar wie van mensen houdt, weet dat ieder mens met het woord “thriller” weer iets anders kan bedoelen, dat er in het woord “thriller” allerlei betekenissen over elkaar heen buitelen. Het is je taak een klant met voor hem de beste keuze naar buiten te laten gaan. Dan moet je dus niet alleen horen wat hij vraagt, maar onderzoeken wat hij écht met zijn vraag bedoelt.”

En dit is juis hierdie soeke van die “regte boek” om in die hand van ‘n “bepaalde kliënt” te plaas, wat die beroep van die boekhandelaar van soveel ander onderskei, want of dit nou ‘n argelose student is wat bereid is om etlike honderde rand te spandeer op ‘n item wat hy gewoon as “daardie geel boek met die vis op” kan beskryf, of iemand wat op soek is na ‘n geskenk vir ‘n sterwende vriend: jy kry met die persoonlikheid te make in soveel meer fasette as wat ‘n mens normaalweg sou verwag. Daardie óú lewenswaarheid: Wys my jou boeke en sê jou wie (of watter tipe mens) jy is: “Alleen door zich op de persoon tegenover hem te richten kan een boekverkoper omgaan met de eerdergenoemde paradox tussen het adviseren en het verkopen, skryf Joors Baars. “Wat de boekverkoper in werkelijkheid verkoopt is niet een boek, maar het juiste boek. Daar past geen bindend advies, geen leesautoriteit en met algoritmes kom je er al helemaal niet. Wat ervoor nodig is, is een gesprek. En in dat gesprek moet je als boekverkoper bereid zijn om je darlings te killen, of liever: je darlings door de klant te laten killen.”

‘n Gemaklike proses? Hoegenaamd nie, want watter boek die kliënt ook op die toonbank neersit om voor te betaal: dit is jóú taak as boekhandelaar om die kliënt te laat voel dat dit die heel belangrikste boek in die winkel is wat nou deur hom of haar aangekoop word; jou persoonlike voor – of afkeur ten spyt. Dog, vals kan jy ook nie wees nie, want jou geloofwaardigheid as handelaar en akkurate aanbeveling is al wat ‘n kliënt weer en weer sal laat terugkom vir verdere aanbevelings.

En dít is myns insiens die essensie van diens: Nié om ‘n produk aan ‘n kliënt (of klant) te verkoop nie, maar om daardie kliënt (of klant) weer terug te laat kom vir nog. Dit klink brutaal, maar dit is soos dit is. (Terloops, ek weet dat ek eintlik moet verwys na ‘klante’ aangesien ‘n handelstransaksie ter sprake is. ‘Kliënte’ het te make met dienslewering. En dit is júís omrede ek van mening is dat die boekhandelaar nie boeke verkoop nie, maar inligting wat gewoon in boekvorm verhandel word, dat ek volhard met die gebruik van die woord ‘kliënt’.)

Nietemin, ek dwaal af. Eintlik wou ek geskryf het oor die minder aangename kant van die simbiotiese verhouding tussen die boekhandelaar en sy kliënt: die egogedrewe, arrogante en onbedagsames; die onredelikes. Maar plotseling het al dié negatiewe gevoelentes verdamp, want my werk is inderdaad ‘n voorreg. En bowenal is dit ‘n werk waarvoor jy nie eens ‘n akademiese kwalifikasie nodig het nie; al wat nodig is, is ‘n bepaalde verdraagsaamheid jeens die mens en alles wat die mens interesseer.

En indien jy as bestuurder ‘n personeel aan jou sy het wat daartoe in staat is om dié uitdaging met kundigheid, entoesiasme en toewyding saam met jou aan te pak, bevind jy jou inderdaad in ‘n gunstige plek: tussen vriende. Waarvan sommiges selfs uit gebinde papier (mag) bestaan.

Daarom – watter beter gedig is daar om dié relaas mee af te sluit as onderstaande?!

*

Gedig vir my Seamus Heaney New Selected Poems 1966-1987

potloodnotas van ‘n vreemdeling wat blyk

katoliek te wees, ‘n koffievlek

‘n verdagte merk op “Digging” wat na ‘n snotkol lyk

‘n spinnekoppie platgedruk op bl. 203 –

o, dis poësie dié

die ganse wêreld is tweedehands te koop

die rug van die boek (isbn 0-571-14372-5)

is geplooi en daar val sand

uit die blaaie as ek skud

(god, van watter tuin of park of strand?)

kon ons maar woorde tussen vingertoppe vryf

soos swart stukkies turf

die boek in my hand sê woorde is restant –

die swart skeletjies van dooie idees

geperste memento’s van die eerstehandse dinge

meneer Heaney, u weet tog een van u moerasse

selfs vol subtiliteit en melodie

kan nie soos modder onder toonnaels vassit nie

ons kan jou plekname darem hoor

die wind in “Aarhus” en “Anahorish”

en in “Carrickfergus” die klank van oor nat turf stap

maar luister: die wêreld bars

uit alle metrum uit

‘n gedig bly slegs ‘n flou epitoom

meneer Heaney, voel:

selfs dié papier was eens ‘n boom

© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters, 2008: Tafelberg Uitgewers)