Posts Tagged ‘Breyten Breyenbach gedigte’

Breyten Breytenbach. Stilskryf fragmente

Thursday, September 5th, 2019

STILSKRYF FRAGMENTE

 

« And yet we go on living closed lives, pretending we are not each personally responsible for

   the deaths we buy and sell. We go on living our sheltered lives among the potted plants

   and automobiles and advertising slogans. We don’t want to know what the world is like,

   we can’t bear very much reality. » Sam Hamill, A Poet’s Work

 

*

poësie, my lankmoedige leser,

is ‘n gebaar van rillende gewaar

wording in die rigting vanwaar

stilte vir oulaas gewaar is

 

*

(maar begrip is slegs vibrasie

van die klepklier

die lier van klip

wat verstand genoem word

wanneer die plons van verplasing tussen ons

rimpelend uitkring

om in die poel

van nieweetnie te sink :

 

die lippe se sê is sêsand

 

daardie oorgangsbeweging

tussen bestaan en niebestaan

waar verstand soos sand nie kan tel nie

is ‘n galming van lig se anderwoordlied

in andersworddonkerte se gebied)

 

*

poësie helaas is ‘n daad van geloof

per definisie slegs oordraagbaar

van my hart tot joune

om daar soos die woordsprekende padda

wat maak of sy ‘n haas is

in die oond uit te doof

 

*

*

(die voëlverskrikker)

 

jy vra of daar ‘n lyn is

soos ‘n kwyldraad deur die digterslewe ?

dalk tog. of soveel so

dat ek nie weet of dit ‘n geheue aan self

                                                                sou wees

of die tou wat so bewe                             (en sing)

waaraan wat ek is

my opgehys het om in die hemel te kom

vir die gaan-verstaan van die maan se dinge

                                                             en nou bly hang

om mummiedroog te word

en te draai

te draai in die donker wind

se binnensmondse woordverslinding

of is daar ‘n verskil in die murmeling ?

 

*

 

maannaamnalaatsels

 

*

ons deel hierdie aardbol

rol in die ruimtestof

blaf geluidloos hondsdol

 

vir die niet. soek bedoeling

byt mekaar dood

soek liefde soek kos

 

word groot en siek

en onderdanig baklei

vir vryheid. droom

 

verloor ons drome verloor

die belewenis van die wêreld

versaak die lig. verloor ons sin

 

blaf geluidloos hondsdol

tol in die ruimtehol. stol

tot woordstof oor hierdie aardbol

 

*

poësie, ek sê

         is om met geslote mond

al die variasies op ‘n niebestaande tema

te sing                           as enigste uiting

wat ons met die onkenbare

in gemeen mag beding

 

*

want poësie, leser, word gebaar

in rillende gewaarwording

van die rigting vanwaar

jou stilte vir oulaas

gewaar is

 

voordat woorde

dit soek-soek doekvoet agterhaal

en ingeloop

beroof van alle geloofwaardigheid

 

*

en om dood te gaan

bietjie-bietjie maar kort-kort

die verrottende wond te lek

en met die laaste besittings

papier, dans-partituur, klip toegedraai

in lap in ‘n kissie ingespit verword

 

hier en daar en elders orals waar

of wanneer die tyd op hande is

jy lankal gewoond geraak

vergete al vergeet het

hoe om sterwend te moes lewe

sodat geen dood jou

ooit soos ‘n haan

weer op hol sal kan jaag

 

*

en gedig dan ?

is die woordweerskyning

van die verdwynende gesig

hier in die papier ?

 

.

[© breyten breytenbach. 2019]