Posts Tagged ‘Breyten Breytenbach gedigte’

Breyten Breytenbach. Omswerwing

Tuesday, July 18th, 2017

omswerwing

 

ons is die rondreisende troebadoers

my jong vriende, in hierdie winderige wêreld

om ons tekste voor te lees

vir ‘n onsigbare publiek wat nie die taal verstaan nie

 

moenie julle van stryk laat bring

deur die gestotter van masjiengewere nie

kom ons verbeel ons dis die kaalwang katlagters

van ons jeug

 

laat ons in ‘n sirkel staan

my jong vriende : wys my weer

die omslag van my laaste boek

bedenkinge, die foto wat ek nog nooit

vantevore gesien het nie, a,

van die kaalkop kind voor die outydse huis

in ‘n tuin van winde

 

ek onthou nou iets van die liefde

en dat ek ‘n onsigbare hond

aan ‘n tou om die hals gehad het

met die naam Zen – julle moenie

lag nie mense

miskien is hy nog steeds hier iewers brak

om vir die maanverstand en die wind te blaf

 

sal ons die tekste repeteer ?

moenie julle laat afsit deur die gestotter

van ‘n vreemde taal nie

my jong vriende : ek sal elke gedig

eien as synde myne opgedra aan Zen

want die dood is maar net ‘n tuin

 

as ons mekaar in die oë bly kyk

my jong vriende, sal ons

ons nie steur

aan die publiek wat die hond wegjaag

of nie weet wanneer die klippe ons weer

en weer doef nie

 

en luister, dit wil ek nog sê :

laat my die koda resiteer :

l’amour est un merdier de mouches

dit wil sê

die liefde is ‘n laken van vergeet

oor die kakemmer vlieë

 

 

© breyten breytenbach/ 2017

 

Breyten Breytenbach. « die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)

Tuesday, November 22nd, 2016

« die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)

in hierdie onthoubrief aan Oupa Lewe

 

Bra Leonard,

 

Daar’s ‘n lover in die storie

Maar dis dieselle ou storie

Daar’s ‘n slaapliedjie vir lyding

En ‘n padda vir die boks

Maar dis ook in geskrifte

En nie net op die wind

Jy wil die nag verblind

Ons blus die vlammetjietong

 bb-foto1

 

*

Bring doodgaan ooit verlossing ? Die dood is wel ‘n oplossing, ‘n oplos-sing, maar ook ‘n toestand – wanneer jy toegegooi word onder die sand, ingespit, of wanneer die weefsels (die gort en die aorta, die woord en wat die oog gesien het) verknetter tot as en vlekkies been. Dood-gaan egter, die verwording wat ‘n proses is, die reis, bly dit ons by ? En wanneer die syn in die skyn verdwyn ? Bewuswees is immers in die saamneem. Daarna slegs nog daardie gesigte wat ons probeer vaspen in gedigte…

 

*

 

jy sal my moet vergewe

ek sal nie lank genoeg kan lewe

(niemand leef ooit lank genoeg)

met hierdie losglippende vashou aan helderheid

om reg te laat geskied

al sou dit ook net in die opnoem wees

aan al die dooies

 

die geraamtes blootgelê

die lyke wat uit die aarde peul

die ledemaatloses

die gefluit in die bome

die geraamde gesigte

dié wat tussen blaaie gebêre

nie begrawe gaan word nie

dié wie se woorde wurms is

dié wat onthou moes wees

 

om die lewendes nie eens te noem nie

 

dié wat aan deure klop

dié wat hul hande afvee

dié wat agter vensters gebare maak

dié wat langs paaie loop

dié wat in lense staar

dié wat in bome sit en fluit

die gebreklikes

dié wat hande klap

sien ?

ek kon nie aanhou vashou nie

 

*

bb-foto2

 

 

*

 

waar sal jek die woorde gaan haal

om uit te tel en stippelspel op die skaal

wat die oorhelbalans van nag na dag bepaal ?

 

die gedig die donkervrug, en met lig

die gesig te koud en te kaal

om die duisternis reise te onthou ?

 

maar ook dit wat opweeg

teen die vergeet : ‘n vel papier

se geykte ewewig : jy wat ek

 

*

 

bewussynsvloei

lappieswerk

met woorde gare

op naai na patroon

se skadu-wees

in die water

 

*

 

intens bewus van hierdie lyf,

log, soos dit deur ruimte

beweeg, met slak se ongemak

bedags, wanneer lig die donkerte skêr

buite, snags soos ‘n blinde se stok

tok-tok deur duister

bewusteloosheid                       gedeeltes nou buite

bereik en nie meer bekend nie

 

die bylê van drome

die wegsê van bome

die dryf in soomloosheid

se suising wat slaap mag wees

 

en nooit weer teen lewe te stamp nie

 

*

 

Die viering van wat mooi is – ‘n verlustiging in die skone : « Die mooie (skoonheid) is wat ons te staan laat kom voor die transendensiële. Vandaar die lig. Vir my vind dit uiting in sintaksis. Ek probeer ‘n sintaksis van werklike fermheid en helderheid nastreef. » So sê Amilie Northomb, die Walloniese skryfster met die vreemde hooftooisels wat vinniger romans produseer as ‘n bakker sy mooi broodjies.

Ook, om die oppervlak te ontdek – nie slegs in die sin van blootlegging nie maar asof dit vir die eerste keer gesien word. Beweging is immers om in wisselwerking te kom met wat reeds bestaan.

Ons is stukkende mense, elk op eie manier en dalk vir uiteenlopende redes. Miskien is dit lankal so. Dalk is die gebrokenheid deel van wat dit is om mens te wees, of besef jy dit wanneer jy bewustelik mens word, bewus van die onvoltooidheid én die heelheid en eenmaligheid van mens te wees. Ons leer om daarmee saam te lewe – ook sodat dit nie ‘n las vir ander is nie. Af en toe herken ons die stukkendheid van die ander en dikwels is ons nie bedagsaam genoeg om verdraagsaam teenoor die ander se krake te wees nie.

Ek praat nie net van wat spesifiek met elkeen van ons gebeur het, die wonde wat toegedien is, die kwesplekke met minder of meer effek weggesteek (ook vir self), maar eweneens die bewuswees van die gaping (die niet) tussen die strewe na éénwording, heling, transendensie en dit wat nooit bereik word nie. Behalwe soms – en dan is dit wonderlik. Miskien is dit juis omdat ons daardie wonderlike onthou, dalk heilig, dat die strewe daarna so seer maak

 

*

bb-foto3

 

*

 

dit is ingebed in die taal

dat ‘n god

(noem daardie aanwesigheid God

want alles verdien om naam te kry)

wat afwesigheid vergestalt

staangemaak sou word

in ‘n bestaan van die ondenkbare

 

om langs jou in die bed te kom lê

 

(God is moeg

en die versvoete is seer

van rondloop

deur die mens se syn

op soek na spieël

wel wetende dat skyn

soos taal ‘n skerfenis is)

 

skuif op, o vreemde leemte

die nag word koud

die tong is oud

en te klakkeloos styf

om nou nog liefde te maak

 

laat my aan jou raak

om te voel hoe voel

voel die dood

in my lyf

 

*

 

wakkerword is ‘n gebed

 

dankie vir die geleentheid

nou dit nog vroeg in die dag is

om asem te mag haal,

dankie om te belewe :

die aarde wat somber en bruin is,

‘n duif se gelate koer in die kloof,

die blare in stille afwagting

op die hitte.

dankie om die geleidelike dynserigheid

van vergaan mee te kan maak.

dankie vir die lewe wat ‘n skulp is

in die see oor alle onthoue

en voue van verandering heen,

dankie vir hierdie lyf as ervaring

se organe en ledemate die sintuie

nou swaar en byna verby

maar so min of meer nog bymekaar

om die illusie van deurlopendheid

aan die gang te hou, dankie

vir wat deurgaan as verstand,

meer versand maar met die wete

van maan om verdonkering te laat taan,

dankie vir die saambeweeg nog

met die betreurenswaardige van die mens

se kondisie.

dankie vir die silwer lig

so vroeg-vroeg gelaken oor die rante.

dankie vir stilte se mik

mik tussen sê en snik.

dankie, dankie

 

*

 

aanhou beweeg al

agter die woorde aan

en sonder om ‘n wêreld

se geraas te maak?

 

terapie vir doodgaan

 

(let wel: nie dood nie)

 

—————————————————

voetnoot : {die altydtyd van aanbeweeg}

 

*

bb-foto4

      

*

 

in die nag hoef jy nie oë toe te maak

vir die wete van ‘n stroom sterre

wat alle ewigheid oorvloei

om die geheime verklarings van bestaan

en niebestaan uit te spel

in die oënskynlike oorgange tussen lig

en altydstil se donkerte

geplof soos klippies in bodemloosheid

 

om te weet van ruimtewinde

wat sterre klingel soos klippies

opgehang bo deurposte van huise

waarvan die sleutels so swaar is

dat dit jou in die aarde laat sink

 

sing bome ook hierdie refrein ?

wanneer velddiertjies die ore spits

is dit om te luister na geruisloosheid ?

 

Celan skryf : die gedig is eensaam.

dis eensaam en op reis.

wie dit afskryf word ‘n ewige roetemaat.

maar is die gedig dan nie juis daarom

en dus ook hier

in die ontmoeting

in die geheimenis van ontmoeting nie ?

 

wié spoel uit ?

 

————–

Voetnoot : {In sy inleiding tot die versamelde gedigte van Paul Celan, ‘n keuse wat die digter saamgestel het uit slegs die handvol vroeëre bundels, skryf die vertaler Jean-Pierre Lefebvre o.a. as volg – en onthou Celan was eweneens ‘n gedugte vertaler wat grotendeels van sy vertaalwerk gelewe het : « Indien Celan se werk sig veroorloof om in afsonderlike verse ‘n mate van weerstand te bied teen maklike ontsyfering, dan is dit binne die raamwerk van ‘n meer oorkoepelende afspraak met die leser wat genooi word om die totaliteit van die siklusse te lees en herlees (om te ‘werk’ en deur die werke ‘bewerk’ te word), om die werwelinge raak te sien en daarop te let hoe sommige woorde se semantiese buiterandskap altyd weer terugkom, om ingelyf te word by die prosodie en sintaksis en vertroud te raak met al die Celaniaanse ‘ontkennings’. ‘Verstaan’, hier en vir altyd, moet aan die hand van ‘n dialoog gesien word as die ‘sin’ in woorde wat die dader wou afstaan, maar jy moenie vergeet om ook die skadu toe te staan nie ; d.w.s. die pad saam met hom te loop, hom te begelei in wat Kafka « ‘‘n ekspedisie na die reële » noem, met voldoende vertroue dat die paradokse wat jy raakloop nie oomblikke van ‘n verstarde onsekerheid van betekenis sal wees nie, maar verdere avonture in die soeke na presiesheid. Om te begryp behels dus dat jy wegstaan van die gewoontelike en aanvaar dat intuïsie en voorstelling – kortom beelde – se asem uitgeslaan word deur die naakte woord, sonder arabeske maar nietemin oop vir iedere windrigting, dat poësie nie uitdrukking is nie, maar naspeuring : om daardie arbeidsveld waar die verbale kosmos op die natuurlike kosmos ingestem word te betree, om eie aan jou self te wees, en soos die gedig « die draad gespan tussen die ster en die wind woorde op reis… » / En dan word Jean Bollack se besinning oor die besonderse etiese objek in Celan se poëtika onthou : « Die verhouding tussen die lewende (of historiese) onderwerp en die entiteit wat dit in die taal van poësie (be)skryf is die kern van die debat rondom die outonomie (selfsêheid) of die duisterheid van ‘n digkuns wat haar eie konvensies skep uit die deurlopende differensiasie en bevraagtekening van bestaande tale, hetsy poëties of kommin, deur hulle byna deurgaans te veronderstel sonder om hulle ooit te reproduseer. In hierdie beginsel dui dit dus ‘n stap aan in die volledige ontheiliging van die poëtiese tradisie en impliseer die uitskakeling van (haar ?) vermoëns om te integreer… » / « In die skadu van die dialoog geskryf in die jaar dat ‘Sprachgitter’ verskyn, die amperse kaalkop meningsverskil met Adorno, moet ons insien dat dit juis die hermetisme is – Celan se radikale individualiteit en aldus die opsetlike gevaar van alleenheid (of afsondering) – wat hom in staat stel om sy persoonlike betrokkenheid by en solidariteit met universele mense-belange te betuig, in teenstelling met die oorverdowende dialektiese evolusie van die abstrakte politieke ‘woord’ (Adorno se filosofiese ‘woord’ bv.) soos uitgedruk in ‘n pseudo-helder teoriek. » / « Onder die uitspansel van hierdie kennis was vertaalwerk, herhaaldelik elke week, vir Celan ‘n wyse om die etiek van so ‘n beskeidenheid (‘n etiese kuisheid) uit te lewe. Hy het vertaal sodat ander kon leer hoe om te vertaal, deur jaar na jaar op en in die taal te werk. Vir Celan is vertaling nie slegs ‘n kwessie van eenvoudige oorplasing, die afgehandelde saak van die gids aangeland op die ander oewer nie, maar « ‘n dialoog op weg », en dis as sodanig dat dit aansluiting vind by sy poësie – en tog is juis sy gedigte meer koppig onvatbaar vir vertaling as enige ander Duitse poësie. Al het hy ook die mees verskriklike vorms van eensaamheid belewe was Celan nooit ‘n eenlingdigter nie. Elke voltooide gedig wat « van hom weggeval het » is bemaak aan Leser. Hy het die konsep van onaanraakbare genialiteit verafsku – want hy het gewéét van sy verwantskap met die afgryslike. Hy nooi ons om hom sonder aansitterige familiariteit te leer ken. »

  

*  

bb-foto5 

 

*

 

‘ewigheid’ net-net anderkant begrip :

die tyd van sterre

reeds ondenkbaar genoeg

 

aanhou doen

om nie te verslib

in skreeuende stilte nie

 

*

 

fuga

 

Geagte owerheid :

hierdie sou die samevatting

van my lewenstaak as studieveld

kon wees : die onderlinge

wedersydse verhouding

tussen woord as sonderlinge

knal of swart gat

waarin alle materie as smart reeds verdwyn het

en sin wat dit opneem

soos die sterreruim beweging

en omgewing

en daarom betekenis

verleen

 

Ekskuus ?

nee – dis tog hoe die beeld ontstaan

ongeag sosiale agtergrond

of stamgeskiedenis

 

Of juis daarom

ja, ek weet ek praat nou

(en dan) van ‘n gemeenskapsfenomeen :

(dat dit) die ontwikkeling van interaksie

tussen één en méér aan sou stip –

daardie kyk na die klip in die nag –

waaruit oer-bewuswording

van verantwoordelikheid groei

soos nog altyd sedert sterfvrees

moes kyk na (weggekyk het van)

die lyk wat nie tot kos kon vertaal

(en dat ons) uit besef se immer-onthouwete

(omdat dit een van ons was)

toe klipkappers geword het

 

Rym bloei ?

o ek sien u wil my rig

na wat verheldering impliseer en toe moet lig :

één se weer en weer

bot aan daardie tak

wat slegs as waan

van bestemming bestaan

 

En daarom synvernietiging is ?

maar dan gee u toe

dat die dood ‘n herrangskikking

van veranderende en so verskuiwende

(verganende) danspatrone

gaan uitstippel tot in die verskiet

 

So soos pyn die seer

skering en skeur van om te lewe

om laat kom in aanhouweggaan se troos

 

————-

voetnoot : {Leser laat weet : « (L. fuga vlug) Abnormale geestetoestand gekenmerk deur oënskynlik rasionele gedrag gedurende ‘n periode van impulsiewe aktiwiteite (soos deur rond te wandel) ten opsigte waarvan die individu later volledige amnesie het ; onbewustheidsdaad »}

 

*

 

Leonard : Wanneer jy by jou bestemming kom en klaar gesels het met almal wat jou wil omhels en jou hand wil skud, kyk tog uit vir my ou vriend Amadou ‘Vieux’ Mbodji. Hy was op sy dag ‘n korporaal in die Senegalese leër. Het toe by ons by die Gorée Instituut kom werk as gardien. Regop, fier. Mettertyd moes ek agterkom hy is ook die waardige verteenwoordiger van die Pulaar minderheid op die eiland – nomade (van die groter Fulani groepering) wat suidwaarts migreer het uit die Fouta, hulle tuisland. Hy was ‘n vurige beskermer van Al-Pulaar, hulle taal. En altyd was hy een van dié wat my kom verwelkom wanneer die chaloupe soos ‘n logge seekoei uit die nag my terug besorg het na nog ‘n verre reis. My jonger boet… En wanneer ek my kamerluike oopmaak in die oggend was hy reeds op sy bidmatjie in die binneplaas met die pers verbleikblomme en die frangipanis. Toe, seker ‘n dag of twee voordat jy geval het, is hy laataand aangetref op die vloer van sy kamer. Reeds gedeeltelik verlam. Beroerte, sê hulle. In die nag oorgeneem Dakar toe in die hospitaalbootjie. (Ons het ook ons donker see wat oorgesteek moet word.) Twee dae in ‘n koma. En weg. Sy lyk gewas en afgespons, gevou in ‘n waad. Kollega’s het hom vergesel die 700 kilometers Fouta toe, geboortegrond, waar die imam hom in die aarde sou weglê. Die woue is swart linte in die hemel. Druk hom aan jou hart en hou hom styf vas vir my. Jy sal hom herken aan sy trotse houding. Hy het ‘n sterk en mooi stem, en ‘n conahim soos jy sal dalk ‘n by-psalmis nodig kry.

bb-foto6

 

*

 

« it is called grieving for the present »

(« Longing for ancient times and grieving for the present,

    my heart is exhausted » – Ryokan, Reading the ‘Record of Eihei Dogen’)

 

nou weet jy wat dit is

om dood te gaan :

dat alles en almal en dit en dié

vir wie jy lief was

sonder om daarvan bewus te wees

moes sterwe terwyl jy nog leef

 

en nou terugkom in musiek

die effense blaarbeweging

tussen kyk en sien

die randjie van ‘n gliplag

oor die malligheid van lewe

 

nou weet jy hoe dit is

om te lewe :

dat alles en almal en dit en dié

vir wie jy lief is

nie daarvan weet nie maar weet

hulle sal lewe terwyl jy nog sterf

 

*

 

dit is so

 

dit is so

dat jy vir die dooies opskryf

die geraamtedans van die hand

tot die oog

want slegs hulle kan lees

 

elke leser is dood in die stilte

van die oog

wat hier staan beweeg nie

behalwe in die koud-geklipkerkde hart

 

dit is so

dat hierdie makabere gebarespel

munte neerlê

op die leser se kykholtes

gekloosterde maantjies

vir enklaves van die duister

 

dit is waar

dat dit ‘n diens is

om die maan se vrugbaarheid te vier

dat die dansende digter

geruisloos sy Kaïnskennis sing

op wysies van die dooies se geheue

 

en die woord vleg-vlieg

soos ‘n voël se skelet

teen ‘n verhemelte van gister

in die gebrandskilderde oog

van ‘n dooie son

 

*

 

die gedig op reis

 

nou se dae

en nou se nagte

neem ek die voël in my kop op reis

en weet nie of sy lewendig anderkant

aan sal kom nie

 

wees rustig, sê ek –

ek weet die fuik is beknop

en jou vlerke kaal geskuur

teen die wande

 

maar moenie so trippel nie :

jy maak my deurmekaar

met die woorde –

ek weet daar is min te eet

in die bakkie van herinneringe

en dat jou wonde besmet sal word

 

kyk, jy is die gedig

wat ek nog gaan skryf

kyk, ek bespaar jou die vermoeiende vlug

 

vroeër sou jy vry oor hierdie seë

kon sweef

met die wind om jou te lig

totdat die son van die land

in die ewigheid verdwyn

 

maar toe was jy nie blind nie

en toe het jy nog nie my hand

op kom soek

 

want jy is my ongeskrewe vluglyn

voël

en as dood in die beweging

moet wees

sal ek jou versigtig bevry

uit die hokkie van my kop

om oor die gebroke lyk te streel

en koer :

 

kyk, ek hou jou hoog om die wind

te ruik

kyk, ek het jou tot hier geskryf

by ons bestemming

kyk, ons is tuis

by nou se dae

en nou se nagte

 

*

bb-foto-7

 

*

 

ek droom ek besoek die ondergrond

waar digters se skedels in groot sale

bewaar word

 

een netjies neffens die ander

almal ontstellend afgerond

in dieselfde glimmende afwesigheid

 

chronologies uitgestal op rakke

wat tot ‘n halfdonker oneindelikheid

van stille nadenke verskiet

 

finaal teen elke klein beenkoepel

is ‘n lewe se opsommingsgedig

in swart sierskrif geletter

 

hier en daar die rooi stempel geskiedenis

asof ‘n kwaadaardige leefblaar

nog aan vlees se verrotting

 

wou kleef maar geen spoor

van wurms of rimpels

of liefde kon laat

 

die gids kyk stip na my voorkop :

hou dit kort en helder asseblief

vir niemand om te lees nie

 

want ook daardie oë wat nou ‘n bestaan

in moet pas in tyd se donker wonde

sal slegs holtes wees

 

*

 

wanneer die somer verby is

en die land nou leeggeloop

van mensebewegings

stil en diep naklink met nadenke

in grys en in roes

 

dan het wolke die vryheid van die land

om skip te speel, of kasteel of skaap

of sommer net ‘n hand aanwesigheid

statig en vol           dragtig is die woord

soos wanneer die grootmoeders

mark toe gaan  en slegs die kantwerk

van ‘n onderrok se sleepsel lig

daaraan herinner dat hulle eens

hoere was

 

______________

voetnoot :

 {in die oord van word

  dra ‘woord’ beide

  die demensie van ‘droom’

  en die skadu van ‘moord’

 

   is betekenis ( ook net ‘teken’)

   opgesluit in woord

   of is woord (slegs) die rigtingduier –

   die ‘predikant’ as ware ?

 

   en dan : maak geskiedenis betekenis

   of word dit daarmee besoedel ?

   en sou betekenis sonder vervuiling

   kon oorlewe in verwording se boord ?}

  

*

 

Met herfs is silwerigheid in die suide die lig se glans op pouplierbome. Kyk hoe mooi, hoe gaaf is die dalende sonlig oor die heuwels, hoe die glooiings bestryk word. Dis vingertoppe wat die dames se dye aai. Ek het die indruk dat ons deur die skemerte ry maar mens kan myle ver sien. Lig kom nie van ‘n herkenbare bron nie – dis van oral, gedemp en ingeneem deur wingerde, boorde, bosse, landerye – gespieël in waterlope, kanale, riviere. Die lug is ‘n gaasdoek van einder tot einder, in ‘n boog gespan, met hier en daar ‘n skeur en dan is dit ‘n verblinding wat deurskyn. In die water van die étangs waar langbeenvoëls rustig in rye sit en wag vir die nag na ‘n dag se gevry met hulle weerkaatsings, en met wat dalk nog gesê kon word nou opgekrop – in die étangs baai die ondergaande son haar gesig. Die lig sal gelaaf word. Geleidelik weet jy : hierdie is ‘n land van skemering.

 

*

 

{« Since this is so, there is no remedy for satisfying hunger other than a painted rice-cake. Without painted hunger you never become a true person. There is no understanding other than painted satisfaction. In fact, satisfying hunger, satisfying no-hunger, not satisfying hunger, and not satisfying no-hunger cannot be attained or spoken of without painted hunger. For some time study all of these as a painted rice-cake.

When you understand this meaning with your body and mind, you will thoroughly master the ability to turn things and be turned by things. If this is not done, the power of the study of the way is not yet realized. To enact this ability is to actualize the painting of enlightenment. »}

– Dogen. On the fifth day, eleventh month, third year of Ninji (1242), this was taught to the assembly at Kannondori Kosho Horin Monastery.

Translated by Dan Welch and Kazuaki Tanahashi

 

*

 

die dag daal skerp

die aarde gaan nog somberder wees

die luglyn reg rondom

waar wolke reeds gaan lê

in roos en ligte pers kooigoed

asof hulle verlief is

sal hierdie voorspel snoer

in donkerword

 

in ‘n donker wingerd

het ek ‘n brandstapel sien vlam

die dans van vonke en ‘n vokaal rooksinjaal

en ‘n swerm dartelende voëls

gedompel in die donkernis

bevry in die lig

vervleg in die wilde dodevuur

van singende spieëlskerwe

 

*

 bb-foto-8

           

 

« you would rather throw stones at a mirror ?

I am your mirror, and here are the stones. »

Rumi, Selected Poems

 

 

© Breyten Breytenbach/2016

 

 

Breyten Breytenbach. weer en verweer : maanpoen vir die 16de September 2016

Friday, September 16th, 2016

weer en verweer : maanpoen vir die 16de September 2016

                                       as monoloog vir twee monde

 

« In the evening I finished reading a book, and because I was feeling so alone,

   I buried the book on the edge of the forest with a borrowed spade »

Werner Herzog, Conquest of the Useless

 

« We live in order to remember that we know »

Imre Kertész, Kaddish for an unborn child

 

« kyk maan

   eet pampoen

   breek wind »

Basjô

 

ou Woordnar het vir hom ‘n maan probeer pluk

vir sy verjaardag die sestiende septimmer

by ontstentenis aan die immer ontwykende pampoen

wat tog alleen die versoening is

tussen metafoor en ondergaan

want al swel die vrug hoe boepensboer

bly blink die skedel in die moer

 

het hy gedog, gedagtig aan Dogen –

ook maar ‘n goddog – wat beaam

dat maan alle verstand is en alle verstand maan

terwyl hy met ‘n kwas donker ink

die glans van denke in die water laat sink

 

nie weer-gee nie, maan hy hom toe,

beklink eerder saam-wees

en bedink dat daar sand in die ink is

en musiek in die sand

en musiek is beweging

van stilte tot stilte

 

al verg die soeke na die tekens van betekenisse

in die nag ook die kromme note

van ‘n volgehoue kontsentrasie

 

gaan plant liewers jou woorde soos klippe

dat die maan op mag kom

brom sy Vrou –

kyk, die pampoen het haar lankal versoen

met die vrotword van alle vesel

verby die ontvlesing, vergeet en verdwyning

van gedagtes,

waar net die wéérsaam en gééwees van die hand

soos krapspore oor die land van papier

om die maan se opkom en ondergaan

in lig te verduister

nog bestaan van stilte tot stank

 

wat gaan in godesnaam met jou aan ? vra sy –

mens sou sweer jy is met die maan gepla

 

so ‘n selfhandige vertoning terwyl die land brand ?

sit neer, sit neer jou seersaam woorde !

dis waar dat jy so lank gesoek het

maar dit beteken nie dat jy sal kry nie :

kyk, daar is musiek in die sand en ritme in die hand

en woorde bring wel die verskuiwing van ‘n diereriem

maar die swye van ligword hol ons uit

tot die vergaanskil van ‘n gedig

 

en om die patroon van maanpoen in die hemel

van aanhou skryf te soek

waar sy verslete soos ‘n skoen van seisoen

tot seisoen se verdwyning verslof –

om daardie versinde besinning,

die uit- en inkring van ‘n duisternis woorde

te wil binnesingsoen met lippe en tong –

daarvan kry jy tog net ‘n mond vol grond ?

 

wat se binnensmondiggeitheid is dit nog met jou ?

 

sit neer ! smyt weg ! gooi toe !

of gaan hang die woorde ten minste

aan die wasgoeddraad sodat son

die muwwe saadvlekke uit mag bleik !

 

as aas vir die sterre ?

pleit ou Woordnar –

ek kan die vingers nie laat ophou bewe

al is ek ook ‘n demokraat

en my mense skuldig

skuldig

skuldig…

 

o die maklike rymelary

sê sy

 

om die hand mak te maak

sê hy

 

maar dit gaan al so lankal aan

van maan tot maan

hierdie onderploeg van drome –

is dit dan verbeelding

of ‘n onthoude lewe ?

 

die tweetandvurk

van alleswetenheid

en weet van niks :

sou dit presies die skepding wees

om die ewige lewe

mee te eet ?

 

dit bly my immers by

tussen die twee uiterstes

van niks te weet nie

en alles te verstaan :

die middeweg

voetjie vir voetjie

in vryval

 

weer op reis deur die dag

waar afstande dans dat die stof so staan :

verlede en toekoms één dynserige

lugspieëling van lig en lafenis

as bymekaarkombestemming

net-net nooit bereik

 

o reisigervoëls

julle wat ‘n streep trek deur die hemel

met julle hoë vreugdeklief suide toe :

vlieg stadiger

sodat ek ‘n kiekie kan neem

om te onthou

niemand vergeet vir altyd

die geboortegrond nie

 

en daardie trosse ligte in die vallei –

lamppale, stoep, leë kantoor, liefdeskamer –

sjjjtt…

maak donker

sodat ons kan luister

na die helder vlerkgeklap van sterre

 

ek wéét ek moet begrawe :

skerwe spieëls, slagtersmesse, blinde oë, verstarde

voëls, windrose se haanrigting-dui

na liefdesfluistering se utopie, roubriewe,

die gewig van Boeddha se kesa, dooie

koeie in die sloot en bestaanskrete uit die skoot…

tot selfs die onthou aan jou, Vrou

 

maar herken ook die gesig van glas –

hoe kan dit anders ?

ons is dan gedeelde goed –

proe self die uitspreek op die tong –

ons is dan familiebloed ?

 

ek kan tog nie meer as om te wil lewe nie

al is ek ook ’n demokraat

en my mense skuldig

skuldig

skuldig

 

om uit die rommel en drek en reste van vergaan

weer met die woorde op te staan

 

pietsnot, t’neitjie, sporrie, varkiesknol,

vygiebos, gousblom, bokbaaivygies, sandsonate,

sterretjie, botterblom, bittergousblom, perdebos,

dassiegousgesig, Namakwalandse madeliefie…

 

en niks ween so soos

‘n olyfboom

wanneer die wind waai nie

 

jy sê my binnensmondsemompels

is om van pampoen ‘n maan te maak

en dat die mond te geheim is

om pyn nie te voel nie ?

 

dat woorde

beeldbeweging bring

 

maar

 

stilte

hol

ons

in

?

 

luister dan :

om terug te keer na middernag

die hele wêreld wyd verskuil

die ganse hemel ene maan

sodat wolke die einders soom

met ‘n versilwering van as

oor die ruimtekleed

en die sterreveld ‘n kouevuur

se knetterende kole

 

die leë huis vol soet musiek

van ‘n beurtsang oor die radio

wat jy vergeet het om af te sit

 

en besluit om aan te los

wanneer jy nou verder slaap

sodat jy, Vrou, wat hierdie trajek

êrens op reis in koue papier

so lank hierna sal lees en deel

jou die klanke mag verbeel

as na-geur van die nag vol maan

 

luister : skemeroggend effense klammigheid

as boom en struik die nag

uit asem

maan bo die heuwel die wakende

oog

alles verstaan

 

moenie vingerwys nie

sit kruisbeen op die balkon

om die werf se geure in te adem

‘n trilling frases met ritme te vang

lyf ‘n stapeltjie bene gegleuf

in vleis

met vel omspin

 

herinnering is ‘n vreemde ding

daar was nagte se jakkalsroep

in die verte

en watter stiltes maak nou ‘n lushof

van nagtegale se sang

en vroeër het sonbesies selfs in die donker

hul ligdeurleefde sutras geneurie

dit was die geritsel

van kreukels in biddendes se klede

 

luister :

onder in die vallei ‘n hond se blaf

ook die oomblik van rillende

sterwe is goed

om in die moment van lewe

weer te mag vergaan

 

is dit verbeelding of onthoude lewe ?

 

buig diep                                  prewel

uit die onsigbare sal die lig daag

stadig soos asemhaling

 

die maan is pampoen en pens en parool

in die blou bodemloosheid

op

gegaan

 

 

Breyten Breytenbach

Katalonie

 

 

 

Breyten Breytenbach. Mossie maar maan

Thursday, August 25th, 2016

v1

 

mossie maar maan

 

toe die maan half was

soos ‘n stukkende klip

of ‘n binnensmondse skreeu

agter versteende lippe

 

het ‘n voëltjie op die balkon

kom sterf – stil

sonder om aandag te trek

met die pootjies netjies gevou

 

van ‘n leerlingkoster se Sondagshande

maar die nekkie slap

en die oog afgryslik leeg

miskien het miere die kyk weggedra

 

wat sou die rymritme wees

tussen ‘n verweerde ruimteliggaam

wat nie kan sterf

en slegs ‘n wit skaduwee is op die werf

 

en hierdie gestolde moment

van wat vlug en vryheid was ?

alleen die herinnering aan vere ?

het ek die maan probeer begrawe ?

 

is dit van op afkyk in die niet

waar blou vure onsigbaar brand

dat ‘n vlietende vlieënde lewe

verdood moes raak in ‘n oop kwatryn ?

 

vogeltjie

v2

 

Can Ocells, 24 Augustus 2016

 

 

Francis Galloway. Aardedag [Breyten Breytenbach]

Friday, April 22nd, 2016

images 

Aardedag

Francis Galloway

 

Vanoggend het ek wakker geword met reën op die dak en ʼn vae herinnering aan ʼn Aardedag-gedig van Breyten Breytenbach. Na ʼn kort soektog in die boekrak vind ek die gedig, “paradys, ʼn pruimboom”, in een van my gunsteling Breytenbach-bundels. Die gedig is in 1993 gepubliseer in die bundel nege landskappe van ons tye; dit staan in die sesde afdeling, “al lê die berge nog so blou. HERINNERING IS VERBEELDING”. Tom Gouws skryf in sy resensie oor hierdie bundel: “ Selde in enige taal verskyn ‘n bundel soos hierdie. Al die clichémuntings van literêre kwaliteit wat ons ken: grootsheid van omvang en opset, deurgekomponeerdheid, hegtheid, reikwydte, noem maar op, laat nie reg geskied aan hierdie meesterlike teks nie.” Die bundel is in 1996 met die Helgaard Steyn-prys bekroon.

In 1997 was ek as uitgewer werksaam by J.L. van Schaik Akademies en gemoeid met die baanbrekende publikasie van Johann Lodewyk Marais en Ad Zuiderent: Ons klein en silwerige planeet. Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Breyten het toestemming gegee dat hierdie gedig in die omgewingsbundel opgeneem kon word. En ook dat dit nou op Versindaba geplaas kan word:


paradys, ʼn pruimboom

 

ek sê ek is die Verbeelder van Urd

nou ontvleesde krygers sit kopknik in die aarde

met klerevodde die geskiedskrif  ʼn vryheidstryd

om lángs die vreeslikheid van die werklike te mag lewe

 

ons planeet so manjifiek met glansende pieke

en skeure wat etter die maan ʼn magneet

vir ou stukke dwars taal die engele se wieke

deurweek in ʼn swartreën woorde

meet ons die weet aan verlange en innering

 

in hierdie dae skryf ek vir jou ʼn liefde

soos ʼn landskap van ink oorspoel

en ʼn raaf wat ark! ark! kraak

in die takke van die kurkeik

omdat hy in die spieël moes droom

van ontblote geheime gebiede

 

sê nou maar, sê nou maar

die vrou se sekspel is ʼn snouende teef

en die man het ʼn slang glad soos ʼn gedagte

skreef-gaande tussen dye, en die dood

 

is daardie Grootbeer wat jy voer

met visse uit die kuil vir die opsy

se hou solank musiek nog huil

 

totdat hy met hónd se harige gedagte

jou omhels vir die vrymaakdans

en sy stink asem kwyl oor jou gesig

 

ek sê die pruimboom is ʼn bruilofslied van sneeu

 

hier benede bors paddas statig uit die nate

en houtsterre word gloeiend gekool

oor die swart vloer van ewigheid

waar visgrate die maat in en uit moet spel

 

ounag vertel ʼn nagtegaal nog verhale van wegsteek

maar aans word dit somer wanneer ander voëls

diktong om genade gaan sing

terwyl ou Grootbeer met ʼn rooi oog

die viool kom ontderm

 

en in hierdie tye skryf ek vir jou ʼn liefde

my donker dame, van die pruimboom

se brommende vrugte geswel soos harte van huweliksgaste

 

as ek bloeisel-lig dans by wyse en wysie

van die temmer

sodat jy lieflik verder mag lewe

onderweg na die bruidegom

 

22 April, Aarddag

 

© breyten breytenbach. 1993. Nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde. Groenkloof/Somerset-Wes: hond/intaka

 

 

 

Breyten Breytenbach. Kleinreis deur ‘n vergete notaboekie

Sunday, November 22nd, 2015

KLEINREIS DEUR ‘N VERGETE NOTABOEKIE

 

*

Dis bleekpers van kleur. Campus POCKET NOTEBOOK – small-sized notebook which can fit snugly into your pocket or bag. Agter-op staan : MADE IN JAPAN… Jy kan selde ‘n notaboekie weerstaan. Dikwels is dit die enigste ‘aandenking’ wat jy koop na ‘n besoek aan ‘n kunsmuseum of ‘n winkel wat kunsmateriaal aanbied. Gewoonlik ‘n Moleskin. Die bedoeling

is altyd goed : hierdie aantekeningboekie gaan die verlenging van jou waarnemings en jou gedagtegang word. Jy sal daarmee ‘n gesels aan die gang kan hou. Partykeer is dit bestem om die wedervarings van ‘n spesifieke reis te omvou. Sonder ‘n notaboekie binne bereik voel jy so weerloos soos ‘n watersloot tot barstens toe vol met die refleksies van wolke wat daarin dryf waarvan die sluis verslib het. Gedagtes, woordspeletjies, uitdrukkings opgetel of raakgelees, drome, draadjies, die spookgedaante van ‘n gedig – word hierin opgeteken. (Agterna kan jy soms nie agterhaal wat jy nou eintlik bedoel het of mee besig was nie en dan word die ‘vers’ of die aantekening ‘n objet trouvé : iets wat jy self nie begryp nie maar dalk nog die misterie van onbedoelde waarde bevat.) Miskien is die neerskryf ook ‘n manier om ontslae van iets te raak, asof jy nie verder sou kon ervaar as jy nie eers die indruk of die ingewing aan die draad van skrywe opgehang het nie. Die notaboekieskrywer is ‘n katlagter. Belangrike informasie – telefoonnommers of kodes wat jy moet onthou, take wat verrig moet word, ‘n lysie met die name van mense aan wie jy moet skryf – word van die agterste blad na voor geskryf. En dan skielik eendag is die boekie ‘vol’ al is daar nog leë blaaie, is dit dood soos iets wat omgeblaai kan word…

Probleem is dat daar geen orde of selfs net ordentlikheid is in die liassering van hierdie ru-materiaal nie. Jy vermors ure, raas gefrustreerd met jouself wanneer jy gaan soek na iets wat jy onthou dat jy vergeet het – maar wéét

(en dikwels is die ‘onthou’ ‘n visuele herinnering) dat dit iewers ingebed is.

Jy het bewondering vir die deeglikheid van ‘n John Coetzee wat volgens David Attwell se boek oor sy skryfmetodes (A Life of Writing) so sorgvuldig en afsydig aantekening gehou het van die Skrywer se sielsbewegings en bedoelings (hy verwys altyd na homself in die derde persoon), so soos mens noukeurig sou opskryf hoe die mot hom loswikkel uit die papie.

Om nou nie eens te praat van hoe André Brink nooit daaraan getwyfel het dat alles wat uit sy pen vloei van vergaarbare waarde moes wees nie. Asof mens uit woorde ‘n wegkruipplek sou kon bou waar die hordes jou sal kom soek en jou juis nié sal kry nie. Hy het immers deurslae gehou van selfs sy intieme liefdesbriewe.

*

Ter illustrasie uit die notaboekie wat tans so lewendig soos ‘n klip saam met jou reis, ‘n rooie, ‘n Zequenz :

« How absurd immortality is ! » – Ko Un.

« Poësie het die wêreld uitgevind, maar die wêreld het dit vergeet » – Ritsos.

« Die dood is altyd ‘n land waarnatoe jy gaan met ‘n verlore geheue. » – Alain Resnais. (Jy sou kon beweer : waarnatoe jy gaan wanneer jy jou geheue verloor.) (Of : waar jy gaan soek na ‘n verlore geheue aan lewe.)

« The sorry business » is die term gebruik deur die Aboriginals, die oorspronklike inboorlinge van Australië, vir die rouperiode na die afsterwe van ‘n naaste.

« want almal weet eintlik maar alles van my, hulle weet dit net nie altyd nie » – Jack Parow.

« life is available only in the present » – Thich Nhat Hanh.

*

mondparaat soos ‘n vraat

wat te laat was

vir middagete

en nou sy lippe lek

vir die afdekwoorde

*

Terug na Campus, die lilakleurige sakboekie wat byna per ongeluk ‘herontdek’ word in ‘n boks weggooigoed. Op die eerste blaadjie pryk ‘n datum : 9th January 1997. En daarnaas, nogal hoog ingesit, wat seker die bedoeling van die nota’s sou moes wees : SKIN OF LIFE (Notes from the moving world).

Dis duidelik dat die eerste gedeelte van die boekie in Hong Kong geskryf is :

fallen from the sky through cloud cover / a greyish green surface with many boats / the bare mountains / getting down to rooftop level – wingtips touching blocks of buildings on either side / names of airlines on tarmac / names of arrival cities / drive into town (Kowloon ?) – astonishing mixture of Lagos and Athens (one is looking for reference) / the ubiquitous boxes outside of air-conditioners, the black fishbones of TV antennae / then into ‘tunnels’ (daylight occluded) of advertisements : the electricity output for all these neons must be mind blowing / go for walk : everybody looks familiar / all professional people – hotel staff, shopgirls – between 18 and 25 / where are the old people ? the kids ? / scurrying retail trade based on high turnover, quality quite good, lots of foreign imports, prices not cheap / someone tries to sell you a « genuine imitation Rolex » / nice-looking girls nearly all wearing pants, dressed in black / vegetation greyish – dust ? pollution ? cold ? – but you sense something tropical / not 3rd world city except for density of its population / nearly no sidewalk activity, people don’t sollicit (your) attention / later the evening through tunnel to Hong Kong proper – now New York glass cliff-faces on either side of road but, unlike Manhattan, no animals, no smokers /

in the aeroplane a tall man with sandy headpiece, shiny skin, paunch, moustache – looking like a cop in mufti or a mercenary – a nearly life-size Mickey Mouse dummy on seat next to him, spent the whole night standing up before video screen, looking back with bulging blue eyes at passengers /

where are the old customs ? in an alley a man with t-shirt and shorts grey with dirt, sandals (slip-ons), cigarette stub, selling « Chinese arts and crafts » : boxes of trinkets, Party insignia, military knick-knacks, Mao badges / I hear a canary trilling but cannot trace the cage / nobody smokes ? no cigarette ends / bamboo scaffolding still used / (but in early morning couple scrounging in black refuse bags, old woman crouched head buried in arms next to stack of newspapers, her feet & toenails equally black) / Long Full Restaurant – the urinals lower than what would be comfortable for European heights (also compare Vietnam – or Göteborg where they’re narrow and oblong, rather like pissing into a coffin) – the old ones at HK airport have painted red numbers above every urinal, the new ones in Waichan Hotel (Luk Kwok Hotel) have little windows of brown glass, electronic red eyes light up and start water flushing /

a discussion with Yasei (P.K. Leung) – about Bei Dao, Hong Kong culture, transition, future / ideas on hegemony, difference, mutation, metamorphosis, history, minority rights / Yasei more political than Bei Dao / specificity of mainland exiles (Yasei observes) : less adaptable, quarrelsome, uneasy, unhappy / HK has always been marginal, thus adaptable, needing to survive / HK a ‘concubine’ of China /

the opening of the shows and the event / photographer bending to get me into his lens / speeches / HME (Hans-Magnus Enzensberger) and I teasing the Englishman / HME on French intellectuals / dinner afterwards : eel, sticky rice, water chestnut dessert, almond syrup, Chinese beer, tea (waiter named Samson, but short hair and frail build) / Yasei on old leftists resurfacing in journalism (New China News Agency ?) – « diversity yes, but no such thing as Hong Kong culture, just Cantonese » / TV always going in background, Xmas carols karaoke style / gwei-lo ( ?) : « long-nosed white ghost «  (or white devil) / the mainland poet and his lovely ‘American’ wife bantering at table / treating foreigners as if they’re babies / back in hotel the drinking bout with Remco (Campert) holding out against death (« always the youngest, still the youngest »), reflections on generation of Fifties, talking nostalgically and with admiration of Chinese girls – « not for love or fuckwant » /

Poetry & Tradition / the poet as agent of disorder / can the ‘tradition’ of one culture introduce ‘change’ in another ? and on and on and on… / we get burdened with mediocre lecture from some 3rd-rate academic. no wonder there’s not more cross-fertilisation between East and West : these university dolts (one forgets that people work at university because they’re too stupid to survive in the outside world, or that university makes stupid – also thick-skinned and selfish) making boring scrabble games of Chinese verse thereby perpetuating this myth of Chinese ‘difficulty’, ‘inscutability’, exotic ‘untranlatability’. in fact, the Chinese are not inscrutable at all – they’re very open and readable in their emotions and opinions although there may be much mutual misreading and misunderstanding / a lesson to be learnt for poetry organisors : you don’t take a bunch of experienced drivers into a class on toy motorcars /

Bei Dao (you call him Mr Mao, but he’s too thin) on transit visa, pessimistic, doesn’t want to go to Europe anymore – « must get away from the Centre » / allowed into HK for seven days only and must then go to Macau before being permitted another spin – « this will be my last time in China » /

« He who stands up will not be lying down. »

it is now the in-thing for rich Hong Kongese to have white servants – they are punctual and work well / HME tells of how he went to Jesuit university to be structured ideologically since Marxism was verboten / Remco has had enough – wants European food, wants small Dutch café, wants to be left alone, doesn’t want to be looked at, is getting tired and frustrated by the English people try to speak / China is the largest racist country on earth

(as foreigner you cannot be Chinese even if born there) / is it OK for the rest of us to be racist too ? / « please don’t picnic on the graves » /

tai-chi shadow exercises in Kowloon Park / the Indian Muslim, large destroyed eyes, big rough face / « the loneliness of the last opium smoking opera singer » /

palm seed, grass jelly, jackfruit, red beans, banana syrup, coconut juice, chicken feet (as entrée), frozen tako, squid balls, garoupa meunière, sauteed turkey with chestnut, braised ox-tongue, five-snake soup, snapper fished on the east side of the bay, never the west /

*

dag en nag soomloos aaneen terwyl ‘n raserny mense skarrel

in verbruikerswaansin en in tonnels sing voëltjies terwyl ou mense

met die gode gok vir die wenperd se nommer /

iewers bo die stad in die dynserigheid van besoedeling

of ‘n toekoms van onsekerheid

troon bergkruine

moet daar sterre wees

dwaal onrustige geeste

met gedigte op die lippe /

.

hei Bert – groete van Homero en Joachim

en Hans-Magnus en Miroslav –

ook vir Lucebert

.

waar jy jou ook bevind

mag dit in die goeie stof van rym en ritme

dit wil sê van siel en liggaam

en nikswees wees

*

Miroslav (Holub) remarks on the « artificial breasts » / Homero (Aridjis) – America and its 50 years of criminal wars, « economic democracy » / the old Taiwanese poet and his war years, prison guard, prisoner, all jade comes from Vietnam and Cambodia / Homero – you go pissing together (also remember last night’s peeing in Regent Hotel) – tells you the story of how he went to unwet his whistle together with Borges in New York, Homero asking him about the images that he carries around with him of sex and pissing (from Joyce’s Ulysses for example) and how it is rumoured that he (Borges) has no organ a’tall and now is the time to prove the contrary (and Borges stands bolt upright before the urinal but doesn’t undo his zip) and Homero asks him a second time, « this historic occasion », and Borges doesn’t move – « it will remain an enigma » /

Remco : « One is so totally lonely » / in bird market (all kinds of songbirds) he puts empty cage to his ear « to listen to the bird of poetry » / Betty (Aridjis) convinced the minah must speak English : « But I said ‘hello’ and it answered just now ! » / live locusts and grasshoppers for sale / multitude in streets – now we’re truly lost, now you get the feeling that all Chinese look alike / cellphones : man is an addict, obsessional repeater, pattern imitator, maker of nothingness… like the television it is an illustration of how nothingnessmaking immediately starts developing a need for its existence / Remco : « We are too old to take shortcuts, to use things that will save time » / Bei Dao : « Tradition is the remnants of death » / the relentless pace of materialism / it is a form of politeness for the gods to pretend to be asleep / what cutting edge between China and rest of world ? they don’t need us ; they couldn’t care whether we need them or not. do we need them ? / « I’ve had enough fascists in my life barking at me » / ‘ping-pong’ politeness. then the vehemence. no acceptance of criticism. never « no » – just elision. paranoia /

bai- gwa means both ‘nosy Parker’ and the object with inserted mirror put above the door to scare away spirits, the idea being that the spirit will be horrified by his terrible countenance / roof ridges yellow ceramic tiles with upturned ends so that spirits landing won’t fall into courtyards / Taoist temple used to be on open land, now surrounded by 40-storey residential plinths / visited by young and old to burn incense sticks stuck into oranges or apples, lacquered pork also among offerings, cloud of pungent smoke burns eyes / paper money (needed to ease the travels of the departed) no longer burnt, neighbours objected to the smoke, now deposited in drum to be burnt by priests / people often kneeling on horse-racing newspapers shake bamboo buckets with numbered chopsticks, one will fall out and the number corresponding to a poem in red characters on pink paper will be taken to one of the ‘fortune tellers’ (interpreters ? translators ?) for exegesis on what the future holds / ‘Buddha’s lips’ sold as souvenirs are wooden castanets, two brown halfmoons on a string /

*

die woord sterf nooit

dit vlieg net soms baie ver weg

om vergeet te raak in ‘n ander boek

soos in die boom van ‘n verre land –

selfs stof en roet het nog wiekende klanke

om te reis van taal tot taal –

iewers bly leef dit in die mond van dooies

om die dans van betekenis te bewaar

.

en al hierdie voëls in vreemde stede

deur wie uitgespreek om wat te sê ?

hulle sing en fladder asof ons onsigbaar lewe –

kan jy aan die kleur sien hoe oud ‘n voël is ?

na watter binneste wyk vlug hulle om te sterf ?

.

tong is die vlug tussen woord en vergeet –

tong is die onsigbare voël van die dood

want die liefdeswoord het vlerke : ek trek

die vere van verbygaan af sodat dit ligter

mag pyl na die hart se skuilplek

.

miskien is die verhemelte ‘n verstopte ruimte

en moes ek jou nooit in die mond laat ontlas het nie –

tog voel ek nog hoe popel die tong

met die smaak en geluide van ons liefde

soos in die boomboek van ‘n verre land

*

visit the cemeteries, but to enter funeral parlour you need to buy new shoes since red ones are not allowed / Bei Dao on Martin (Mooij) growing older : « He did not keep his form to the end » / P.K. Leung : « As you grow older you become your own ancestor »/

what’s the point of poetry ? to increase joy in life / to increase or reshuffle the number of words on earth / translationese / Miroslav wants to recite The Universe of the Mouse but it comes out as The Universe of the Mouth / the best translation is made by him who gets drunk last / translation :  crossing the bridge and then removing the planks – no-one else can walk that translation-road again  / translation is losing the time of the original / the « putting of words » generates its own reality and inevitably its own reference field, the strongly marked territory within which it lives / poem is both ‘translation’ and ‘original’ /

imposibility from Chinese to English and vice-versa / an ideogram can be packed with detail that would need two lines in English / they can write precisely without identifying the singularity or the plurality of the person(s) addressed / ‘interpretation’ becomes paramount /

the original is a picture with all its components (framed by the eye/lens of that time and place) forming a coherent whole. translation is another picture – rather, a picture of the same place including the same elements, also the original picture, but taken at another moment /

grey misty light / hundreds of boats / Hoi Fat harbour tug / islands, smoke curling from wooded slopes / maybe temples on top ? / pink dolphins keep sharks away / conversation on Morandi, Cézanna, Giacometti, Van Gogh – obsession, purification ascetism, ongoing dialogue between object (the seen ?) and eye/hand / what if, all of a sudden : « there it is ! / is that why

  1. G. after last three paintings shot himself in belly ? /

the power of repetition /

Po Lin Monastery (‘Precious Lotus’) / 30 meters high / first monastery built 1905 / white jade Buddha from Burma 600 years old / knocking noise (on metal) from interior garden – prayer sounds ? – no, close-up, Chinese worker cigarette-end in mouth, repairing a structure / in dining hall Buddha perched on top of TV set / communicating with the beyond / a murdered woman was chopped up and left near the temple / an aircraft brought its full load of maimed Bengali girls back from Saudi Arabia /

« Do not litter into the Hong Kong waters. Penalty HK $10,000 and six months in prison »

The Relic (in Po Lin) – one of 18 crystals (holy secretions) of Buddha found in the ashes after the corpse had been cremated, other 16 in Sri Lanka / must be tiny behind glass in precious lotus-shapped vessel / some say it must be a gall-bladder stone / conversation with Bei on reincarnation / the vegetarian meal most delicious (« notice how they do everything possible to imitate meat ? ») : bean curd, mango, vegs, bamboo cartillage (whitish gristle) / some say monks don’t partake of garlic – considered an aphrodisiac – or onion or spices – nothing to excite the senses / contrast with Tibetan tantra / coca-cola machine at base of Buddha – « The jewel in the lotus turns out to be a coke », Elliot Weinberger /

better a bottle before you than a frontal lobotomy

*

wanneer die aandson gaan lê op die water tussen Kowloon en Victoria / van blou na groen na grys na ou-dag kleur / en ‘n jonk met lantern aan die mas en seile soos ‘n monnikkekleed dobber / die berge bo die stad versomber / die glastorings kry hulle naggewade van neon tekens / te veel, te veel het gebeur /

*

supper with Peter (film-maker) and his wife (a nurse from Thailand) / Western Canton Province people are those controlling all the money in South East Asia / opium, warlords / she : « There’s nothing we can do, we must just stay calm » / the ‘culture of Hong Kong – disciplined, clean, caring, civil – but now ever more rude, dirty, selfish, money-grabbing /

on ferry back from Lantau, conversation with wife of Beijing poet – her teeth, her skin, her mother with red hair and green fingernails / « What is your favourite city ? » / differences between Asian and European cities (you bring up Africa) / she likes Paris (but they don’t like foreigners), New York : fast, good movies, friends / living in Beijing : vast, becoming like HK or Taipei, bars, MacDonalds (« The scourge of mankind, » you say) – advantages : fresh produce, fresh-fried grains on street corners, etc. – disadvantage : being watched, political control, censorship, the cold (2 pairs of pants and socks even when indoors) / « but China must avoid collapse into capitalism » / why she doesn’t like HK ? – karaoke culture, neither Chinese nor British, everybody with cellphones, shopping, shopping, shopping / Shop City, as opposed to Paris which is Dogshit City /

17th, breakfast with Bei Dao – he’s lost his English in translation, nervous, depressed, moving foot ever more violently under table / pessimistic about future China / HK poets thought this festival would or could bring them together, not to be, infighting / it will be even worse in Beijing, civil war, half a million poets fighting for recognition and position / this is difficult year for China, leaders anxious « not to lose power », transition (or retrocession) coincides with power passing from Deng to the new / says he was told (through wife in Beijing) by fortune teller that he won’t be allowed to return before 8 years / told interviewer HK is not his ‘home’ but neither is Beijing, ‘home’ is just a mental construct (points at head) / tired of food here (too much), prefers home cooking, tired of travelling (no more festivals), tired of teaching, tired of continueing political fight (and that everything has to do with money, as here)/ then, after a while with a nervous titter – tired of being Chinese / you offer Senegalese status /

we laugh /

Verandah Restaurant, Repulse Bay Hotel on south side of island – fans against ceiling, open bay windows, palm trees, road snaking along mountain flank (you’re reminded of Clifton), day falling over the bay in blue and old silken rose like a lady undressing voluptuously for a night of love /

deep-fried eel with cinnamon / blossom sauce / deep-fried milk /

*

Hier hou die aantekeninge oor Hong Kong op. (Die inskrywings is nooit verwerk tot ‘n koherente teks nie.) Wanneer dit hervat, later dieselfde jaar, is jy in Parys. Tussen die flardes van wat wel opduik in gepubliseerde manuskripte is daar enkele onvoltooide of versaakte gedigte. Nou, laat November 2015, is jy nog ‘n keer in hierdie stad waar jy so lankal ‘n inwoner is. Die eerste herfreëns het die strate omskep in donker spieëls en die dae is korter. Miskien was die reën die laaste bloedstrepe van die sypaadjies waar mense voor die voet afgemaai is tydens laas naweek se terreur-aanvalle. Jy hoor oor die nuus dat Hemingway se Movable Feast, vyftig jaar gelede gepubliseer, skielik weer ‘n blitsverkoper geword het. Almal wil hê die beeld van Parys as sorgelose stad van lig en skoonheid moet herstel word. Om te oorlewe, hoor jy die mense sê, is ‘n daad van verset.

*

onder die kors is Parys

‘n doolhof van triestigheid :

moltreine weeklaag deur tonnels.

langs gange waar boemelaars bewe

soos brandsiek honde skuins voor die dood

dryf die naklanke van ‘n eensame saksofoon.

skarrelende rotte se tandjies glinster

in die soedelswart wind

.

bogronds is die strate versadig aan stadsgeluide.

die bome verstok tot ou onkleure.

in vuil wolke bo hoë huise dobber

deurweekte engelelyke soos gedagtedrome

waaraan niemand meer dink nie. in fassadespieëls

skuifel ‘n skare voetgangers sonder oë

elk met ‘n eie jas somber afsondering

.

snags is daar ‘n maan iewers

patroon of beleid

het iemand ‘n oor vol gefluisterde liefde

.

maar hoe gaan jy ontsnap aan die ondergrondse

hart se donker kanale ?

*

« hulle weet so baie van vergeet / dat hulle vergeet het van die weet »

ONVOORBEREIDE VERSE

dankgedig aan leser wat hierdie verse laat herlewe in die oë / gee my jou hand / laat joune die sillabes volg, vorm na die bewegings van jou hand / myne is ver weg in die geheue (grond of as) / verskoon die outydse taal /

Hong Kong may have been the monstrous city of shopping – but Paris is dogshit city where having a dog and walking it late at night or early mornings to leave its smear of turds all over town (particularly in your quiet street, most particularly just in front of the porch of the building you live in) is a last line of defence against the state, against society and neighbour, to demonstrate your cussedness, to flaunt your existential freedom, pour emmerder les autres /

« There is no life, of course ; there’s only living », Don Espejuelo

goos=morsvleis / swartlied vir ‘n engel / liederlike lied / planke vir die doodkis / miksyn / verduistering van alle waardes /

*

waar slaap ek vanaand ?

in lapa, palas, of op die plaas

van my vaad ?

*

Parys : honger na mens / om grootmens te wees is maar ‘n eensame besigheid /

« we eat conscience and shit ideology »

*

my leser, laat ek jou voorstel aan Dood

eintlik hoef jy hom nie te ken nie

want hy ken jou

van dag tot dag

jou hele lewe lank

.

maar kyk hom goed :

die geel oë die linkerhand

die wange wit van baard

en ander been onder donker vlees

en die buik gebol asof swanger

aan ‘n miernes blinde woorde

so oud soos die mensdom

sodat jy hom mag vergeet

tot daardie onverwagse weersiens

*

« that future western poets will go to school with the masters of the Tang Dynasty as well as with the masters of the golden age of Greece or with the Hebrew prophets, or with the English dramatists or romanticists – to learn how best may be expressed, for themselves and for others, that passionate patience which is the core of life. » – Witter Bynner, Jade Mountain

 

« Le perroquet ne fait jamais que parler sa langue maternelle » – Lichtenberg / (die papegaai praat altyd maar net sy moedertaal) /

die perd se graf (net die ore bo die grond) /

die land is ‘n metafoor / die metafoor is ‘n ontploffing, ‘n brandsteek / geen metamorfose sonder breuke nie, sonder brand nie / geen openbaring (binnebring) sonder metamorvoorsê nie /

vertrekgedig van die suurgat snoeshaandigter / morrende mompeldigter / klonte herinnering, gevoude landskap, gewonde verlede, leë bome, leë afstande / dodevers vir ‘n land / elke keer as jy oor die nek kom en die berg sien… word die hart stil soos ‘n valk / beskrywing moet oer-kennis verbeeld /

Kaggen the Trickster God is in fact memory. It is memory which brings about metamorphosis, which transforms everything and creates incongruous presences. The word is the skin of memory. The word doesn’t open up the future ; it reveals a past that we never knew. It reverberates in us. Kaggen retrieves forgotten memories and transforms our perceptions so that we think we imagine things. All the words together constitute Kaggen. He fashioned the moon from a cast-off shoe. Death is a game. He is the brown praying mantis whose imagination will always become our memory./

hiér is jy !

(al is jy weer ek)

 

‘lieweheersbesies’ – vroeër ‘liewevrouehaantjies’

*

ons het die somer op die heuwel deurgebring

smiddaens was te warm om dit buite te waag

later sou die aandson hom soos ‘n bloedige vuis

                  agter ‘n verre bergketting onttrek

die nagte was kort maar heftig

met verskroeiende drome

maar vroeë oggende was blou van voëlsang

.

ons het gesien hoe die heilige beskermvrou

                 van vissers en barke

op bonkige skouers uit die branders gedra word

ons het geluister na teruggekeerde ballinge

                se liedere van verdrietige lande

snags het ons gehoor die maan is jakkals se vrou

.

saam met eksters en kraaie het ons van die aarde

               se vrugte geëet

eers die perskes toe die pruime en druiwe

en die vye was vroeg pers geskilder vanjaar

.

en wildevarke het gekom om die natrossies

               te verorber

bliksemskigte het geswets swaar weer

               het gerammel en geknal

en die ganse kontrei was skielik gegiet in ‘n spieël

              van sagte blou genade

.

vergesigte het ontplooi en is weer bewimpel

die rook van drome was nou ‘n onderrok van mis

om die heuwel se heupe

.

toe swaeltjies al hoër en dringender

               begin fladder na koers

toe ons die kneukels onder die son se vuis

              se vel kon begin lees

toe granate geleidelik rooi sou gaan wang

en lemoene swel van ‘n verlede

               se blou voëlsang

en die nagte weer soos donker water was

.

het ons die hortjies dig getrek

die bundel loopgedigte aan die brand gesteek

vir laas na ons gesigte in die pikswart put gekyk

en met dagtogte begin beweeg na die verre bergketting

               se gange en klowe

*

dit is so

dat jy vir die dooies opskryf

die geraamtedans van die hand

tot die oog

want slegs hulle kan lees

.

elke leser is dood in die stilte

van die oog

wat hier staan beweeg nie

behalwe in die koud geklipkerkerde hart

.

dit is so

dat hierdie makabere gebarespel

munte neerlê

op die leser se kykholtes

gekloosterde maantjies vir enklawes

van die duisternis

.

dit is waar

dat dit ‘n diens is

om die maan se vrugbaarheid te vier

dat die dansende digter

geruisloos sy Kaïnskennis sing

op wysies van die dooies se geheue

.

en die woord vleg-vlug

soos ‘n voël se skelet

teen ‘n verhemelte van gister

in die gebrandskilderde oog

van ‘n dooie son

*

« poetry is the place of absence » – Egito Gonçalves

Hong Kong, Parys, Can Ocells 1997

Parys, November 2015

[© Breyten Breytenbach]

Breyten Breytenbach. (“ek het haar uit die oog verloor”)

Tuesday, April 8th, 2014

(“ek het haar uit die oog verloor”)

 

my dood is ‘n witborskraai

met wat lyk na ‘n beseerde poot

en ‘n verneukte vlerk uit die een

of ander blou beweging geskud

 

vanoggend toe ek langs die Lethe loop

vlieg my dood op uit ‘n oewerboom

en sukkel om teen die wind te bly hang

terwyl dit dringend bo my kop fladder

 

vaark! vaark! probeer die kraai met ‘n rou bors

die benoude boodskap aan my oordra

dat takke bo die donker poel se rimpeling

bewe en maanmoer se grynsende glinstering roer

dis tyd o dis tyd om te bekeer   

 

om kraak die nagpad te vat

‘n ander oopkoms in o kyk binnekort

gaan lig na kouword draai

die somerseisoen haar bitter gat sien

 

jy sal die berg tog nie meer beteken

het jy dan nie genoeg ver-ek en bevlek

is daar godweet nog woorde oor

om te wurm in jou lyf?

 

my dood is ‘n witborskraai

my dood wil my van droom afraai

my dood moet my nog teen die lewe waarsku

maar ek wil mos nie hoor nie

 

 © Breyten Breytenbach / 2014



Breyten Breytenbach. (die nagtoornaar se reis)

Monday, March 31st, 2014

(die nagtoornaar se reis)

 

“when I was learning Shona in Bukera I unexpectedly saw some ladies

bathing in the Merahari River. Fortunately I have poor eyesight.”

–       Ngomakurtra

 

jy sê die poësie is ‘n skaduspel?

dat betekenis altyd op vertrek staan

en die gedig agterlaat soos versaakte vel?

 

luister: jy is die maankwaad boodskapper

moeg van sommetjies maak in die stukkende huis

vol voëls wat met snawels soos skêre

die bloederige lakens om die dooie mense

los probeer skeur

 

jy is hier om aan daardie gedaante

tussen vreemdelinge in die gang

wat so lankal weet die hart is op pad

na ‘n verre aankoms

met die etterende gesig

weerspieël in die glas

sy keil te oorhandig

 

mag ek bogaande reëls wéér vir jou vertaal?

jy is hier om die keil te oorhandig

aan daardie gedaante

met die etterende gesig in die kykglas

die een wat so lankal reeds weet

die hart is op pad na ‘n vreemde begeerte    

tussen vreemdelinge en voëlmiskraaltjies in die gang

 

jy is nie hier om die maan te moer nie

 

ek wil saam met jou reis

jou boodskapsakkie vol versreëls soos afgetelde krale

wanneer jy spieëlbang deur die labirint beweeg

al die marmer gedenkplate bevlek met trane

vir gesneuweldes

die kromsnawelkraaie in donker bome

ek wil jou wys hoe spiraal die maan

 

om by jou uit te kom soos ‘n droom

in die nag ‘n rakelingse voël

bo somber boomtoppe

sodat jy nie bang hoef te wees

nooit weer seer sal kry

by die neerstort my hart

as die vreemdeling met die etterende gelaat

jou skiet nie

 

het die dood jou neergevel?

jy sê dan die poësie is ‘n skaduspel?

 

kom ek pluk die volgorde uit die hemel

terwyl maantraankrale deur jou vingers glip

kom ek haal die keil van glinsterende klip

af en buig laag

om die afwesigheid te streel

  

kyk: ek is die boodskapper om jou te wys

die vlug is ‘n spiraal

al die marmer gedenkplate met rouwoorde bevlek

tot hier op die eiland waar vreemdelinge

met etterende gesigte daardie krale verkwansel

wat as wolkpatrone op vlae geborduur sal word

 

om wanneer jy terug is uit die dood

vir jou mense in die gang te wys

die gedig vertel altyd die verhaal

van vervelde betekenis

 

© Breyten Breytenbach / 2014