Posts Tagged ‘Breyten Breytenbach’
Wednesday, April 27th, 2011
 Martin Bosma
Vroeër vandeesweek het Martin Bosma, swaargewig van die Partij Voor de Vrijheid (PVV) en ondervoorsitter van die sogenaamde Tweede Kamer in die Nederlandse Parlement, ‘n rubriek geskryf vir die NRC Handelsblad waarin hy Suid-Afrika, en meer spesifiek Afrikaans, op ‘n erg opportunistiese manier betrek het vir politieke gewin.
Ter wille van agtergrond - die PVV is in ons terme ‘n verregse organisasie (Nasionaal-Sosialisties) wat tans heelwat stormwater in Nederland kolk weens uitsprake soos die volgende oor uitlanders in Nederland; ‘n uitspraak wat ook in hul beleidstuk op hul amptelike webblad vervat is: “De massa-immigratie is een geldverslindende linkse hobby. De miljarden die opgaan aan extra gevangenissen, extra politie, extra huizen, extra zorg, extra onderwijs, extra uitkeringen moeten toch ergens vandaan komen. Wie betaalt de prijs voor de multiculturele samenleving? Wie moet steeds de portemonnee trekken? Dat bent u, dat zijn de gewone hardwerkende Nederlanders die nooit gevraagd hebben om de massa-immigratie.”
Nietemin, in sy rubriek - wat terloops begin met Eugène Marais se welbekende “Winternag” en as titel het Nogtans sal jij aan mij gebonden bly - betrek Bosma Afrikaans soos volg: “Wie eenmaal N.P. van Wyk Louw, Dirk Opperman of Eugène Marais heeft gelezen, zal nooit meer lichtvaardig denken over die wonderschone taal. Afrikaans is vereenvoudigd, zeventiende-eeuws Nederlands, bewees linguïst Edith Raidt. In de woorden van Gerard Reve is het Afrikaans „een volwaardige West-Europese cultuurtaal die zich meten kan met het Duits, het Nederlands in Europa, het Engels. Als erkende taal bestaat het nog niet zo lang. Heel lang debatteerden de Afrikaners over de vraag of niet gewoon Nederlands hun taal moest zijn. Dat was bijvoorbeeld de officiële taal van de boerenrepublieken Transvaal en Oranje Vrijstaat, de landen van de ossenwagens en de voortrekkers, van Paul Kruger, Louis Botha en generaal Koos de la Rey. Anno 2011 is het Afrikaans een van de twaalf officiële talen van Zuid-Afrika. Dat betekent in de praktijk dat het Engels overheerst. De traditionele Afrikaanstalige universiteiten zijn verengelst. De taal verliest terrein in het openbare leven. Afrikaners verlaten het land met vliegtuigen vol, om zonder een spoor te verdwijnen, in Nieuw-Zeeland of Australië. Velen werden slachtoffer van ‘plaasmoorden’ - de bloedige aanvallen op boerderijen - of worden gediscrimineerd op de arbeidsmarkt. Zuid-Afrika scoort hoog op alle internationale lijstjes van verkrachting plus moord en doodslag - zoals ze daar zeggen: ons is in die kak. De taal van Breyten Breytenbach en Dan Roodt lijkt niet langer verzekerd van een toekomst. Nederland zou zich daarover baie zorgen moeten maken. Afrikaans is Nederlands. Het voortbestaan van het Afrikaans is het sterkste bewijs dat onze taal een internationale taal is. Er is een tegenbeweging. Jonge Afrikaners - en kleurlingen, want de meest Afrikaanssprekenden hebben een kleurtje - proberen hun taal te redden. Steeds harder klinkt de roep om een eigen stukje onder de zon voor Afrikaners, een volksstaat. Ook de Taalunie, waarin Nederland, Vlaanderen en Suriname samenwerken, ontfermt zich over het Afrikaans. Zaterdag wordt het nieuwe woordenboek Afrikaans-Nederlands gepresenteerd. In juni is er een driedaags cultureel festival over het Afrikaans. Lichtpuntjes, niet meer. Onze talen zijn diep verbonden - in de woorden van Elisabeth Eybers, de Zuid-Afrikaanse dichter die de helft van haar leven in Amsterdam woonde: Nogtans sal jij aan mij gebonden bly / Met die onsigb’re naelstreng wat nie breek. Ook bij deze temperatuur ligt daarom vandaag weer Winternag naast mijn hamer.”
Nou ja, toe. Soos Breyten Breytenbach in ‘n persoonlike e-pos opmerk: Met sulke vriende, wie het vyande nodig?! ‘n Mens het immers die reg om te besluit met wie jy jou wil assosieer en met wie nie. So het hy dan ook in ‘n sterk bewoorde repliek aan die NRC Handelsblad op Bosma se stuk reageer wat ons met sy vergunning in die Brieweboks plaas.
As leestoegif, in antwoord op dhr. Bosma se politieke opportunisme, die liriek van Johannes Kerkorrel se bekende “Halala Afrika” onder aan die Nuuswekker. “Het voortbestaan van het Afrikaans is het sterkste bewijs dat onze taal een internationale taal is.” Lagwekkend. Vandag is Vryheidsdag. Daarom, by gebrek aan brood, laat hom koek (vr)eet. Selfs die Afrikaanses het hul trots. En mag ons ‘wonderskone taal’ nooit ooit weer as politieke speelbal gebruik word nie.
Ten slotte, hierdie hele gedoente herinner op ‘n manier aan die kwessie van kosmopool en provinsie waaroor Charl-Pierre Naudé dit in sy laaste aflewerings as blogger gehad het. Hier is die bydrae wat einste Breyten gelewer het oor dié onderwerp.
***
Gisteraand het Edwin Fagel ‘n nuwe bydrae tot Wisselkaarten geplaas wat jy vanoggend saam met Breyten se repliek kan geniet.
Mooi bly.
LE
Halala Afrika
Toe die wêreld hier nog jong was en die horison wyd en oop
Was dit groen hier in die halfrond, suid van die ewenaar
En in die skemer as die son sak en die beeste huis toe loop
Klink die roepstem van die vroue oor die heuwels van die land:
Halala, ewig is ons Afrika.
Tula tula mtanami, tula tula sanaboni, tula tula mtanami,
Ubab uzobuya sihlale naye, ubab uzobuya sihlale sonke, Hmmm-Hmmm
Toe kom die skepe uit die weste, wit seile oor die see
Om te vra vir kos en water en te bly vir so veel meer.
En die land wat een tyd oop was, die land het ons verruil
Vir die ghetto’s van die stede is ons koperdraad gegee.
Halala, ewig is ons Afrika
Halala, sasiphila, kamnandi, halala, mayibuye Afrika
Tula tula mtanami, tula tula sanaboni, tula tula mtanami,
Ubab uzobuya sihlale naye, ubab uzobuya sihlale sonke, Hmmm-Hmmm
Daar was rykdom in die maag van ons moeder Afrika
Diamante en ook steenkool, goud, edel metaal
En die mense word die slawe hier want die mense word betaal
Om te tonnel in die aarde elke greintjie uit te haal
En die groot en oop grasvlaktes span dit toe met doringdraad
En van die olifant tot die gemsbok al die diere moes kom buig
Voor die mag van die grootwildjagter voor die mag van sy groot geweer
Totdat net die stilte oorbly, totdat net die stilte heers.
Halala, ewig is ons Afrika.
Halala, sasiphila, kamnandi, halala, mayibuye Afrika
Sasidjapolutjoloythina
Halala, sasiphila, kamnandi, halala, mayibuye Afrika
© Johannes Kerkorrel (1961-2002)
Wednesday, April 27th, 2011
Geagte Mnr. Bosma,
Ek neem die vryheid om in Afrikaans te reageer op u rubriek van enkele dae gelede in NRC: van u skrywe lei ek af dat u Afrikaans ken.
Enige uitdrukking van belangstelling in die huidige status van Afrikaans en in groter verband die politieke verwikkelinge in Suid-Afrika moet verwelkom word - al is dit ook so dat wedersydse begrip tussen ons twee lande te dikwels berus op misverstande, moralistiese of kulturele stiksienigheid en growwe vergelykings. Die gevaar bestaan dat gewaande ooreenkomste dan gekaap kan word vir interne misbruik.
U beskrywing van die druk waaronder Afrikaans verkeer is korrek. U sou verder kon gaan en daarop kon wys dat die skeppende en omvormende bydrae van kulturele diversiteit tot ontwikkeling al hoe meer misken en selfs onderdruk word in terme van die mislukte Nasionale Demokratiese Revolusie van ‘n totaliserende partystaat. Suid-Afrika, of dan Mzansi, gaan ten gronde as gevolg van die vraatsug, vergeldingsdrang en vervreemding van ‘n ontheemde elite wat swart nasionalisme met Stalinisme as enigste holle verwysing op die land wil afdruk - met rampspoedige gevolge nie net vir die minderhede nie maar ook, en veral, vir die swart meerderheid wat elke dag dieper in armoede en ellende sink.
Een van die redes waarom ons vandag die wrange vrugte van moedertaalmiskenning pluk is omdat die ‘blanke’ minderheid aan bewind tydens die apartheidsjare Afrikaans misbruik het as merker van Europese afkoms en daarom as regverdiging van die sogenaamde beskawingsnorme wat die ander moes uitsluit en onderdruk. Die aard en die bestek van Afrikaans is gesteel deur wit rassiste.
Daarom wil ek beswaar maak teen u identifisering van Afrikaans as “vereenvoudigde zeventiende-eeuws Nederlands.” Afrikaans is nie Nederlands nie. Dis ‘n Kreoolse taal wat in die monde van slawe en bediendes en werkers en boere ontstaan het as ‘n vermenging van sewentiende-eeuse Nederlandse dialekte en ander nie-Europese tale, en ‘n omgangstaal soos Maleis-Portugees gebruik deur seevaarders. Afrikaans is dus ‘n bruin taal gegroei uit die stam van Nederlandse dialekte toe daar nog nie ‘n Algemeen Beschaafd Nederlands was nie. Dis ‘n inheemse baster.
En om daardie taal op u Nederlandse brood te wil smeer deur te beweer “het voortbestaan van het Afrikaans is het sterkste bewijs dat onze taal een internationale taal is,” is darem bietjie dik vir ‘n daalder. Eina! Eish!
Afrikaans is in wese ‘n rebelse taal - die skepping van wegbreek. Ons het begrip en steun nodig, maar nié ‘n paternalistiese of annekserende of imperialistiese juk nie. Ek wil glo dat dit juis daardie diep vryheidsstrewe is wat ons aan mekaar verbind.
Die uwe, en baie kiri slam by die hys se kant.
Breyten Breytenbach
***
Nota: Die volledige teks waarop Breyten Breytenbach in hierdie ope brief reageer, kan hier gelees word. - Redaksie
Tuesday, March 22nd, 2011
die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). Breyten Breytenbach. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5221-1. Prys: R170. 181 bladsye. Sagteband.
Resensent: Zandra Bezuidenhout
 Die beginsel van stof
Breyten Breytenbach se “laat-verse” val soos skuinslig deur halfoop blindings: intiem en innig syfer woorde in- en oormekaar, sydelings word poësie gemaak. Beelde swerm soos “sprinkaanskaduwees” in gedempte lig; “aandtekeninge” wemel van betekenis.
[D]ie beginsel van stof is so ryk aan inhoud, gevarieerd in vorm en gelaai met betekenis dat elk van die sewe afdelings eintlik `n afsonderlike bespreking verdien. Die bundel eis `n langsame verkenning; dit vra van die leser om saam met elke gedig asem te haal en nie oorhaastig te probeer interpreteer of “verstaan” nie. Deur `n opeenvolging van klanke, aksente en pouseringe kom die gedagte-inhoud in beweging, en algaande manipuleer en fassineer die opper-sjamaan van die Afrikaanse digkuns sy leser.
In die geheel is die beginsel van stof `n ode aan die synstoestand, aan die mens se hierwees in stof, sy skeppende verbeelding en sy uiteindelike aflegging van stoflikheid as maaksel en maker. Tyd, so blyk dit uit hierdie gedigte, is immer in beweging; alles vloei - panta rei, soos Heraklitus dit al eeue gelede gestel het. In hierdie opsig kan Breytenbach se jongste bundel beskou word as `n vervolg op die windvanger (2007), waarin die nosie van tyd ook `n belangrike plek inneem. Bestaan vervloei tot `n “newel” (57) waar as en asem in mekaar opgaan om die groot mandala te vorm waarin lewe en verganklikheid een word.
Die raaiselagtigheid of “wonderlikheid van lewe” (101) word konkreet voorgestel. Die mens (en digter) word uitgebeeld as `n reisende figuur, waardeur `n veelvoud van plekke, situasies, mense en dinge gestalte kry. Selfs op hierdie eerste vlak sal lesers genot put uit die skoonheid en gevoeligheid waarmee `n wêreld van uiteenlopende ervarings wakker geroep word. Maar wie fyner lees, ontdek dat dit nie gaan om `n kleurvolle verslag nie, maar om die skeppende mens en sy pogings om stoflikheid deur middel van `n reis “van woord na woord” (162) in nuwe stof te be-teken en te laat beteken. Die spreker is afgestem op indrukke en afdrukke: “dis die oë wat gulsig is/ wat nie wil ophou drink…nie” (100); en “dis die oë wat soos `n vrek/ alle gesigte en landskappe/ en die fluisterversugtinge van beweging/ vas wil hou” (101). Hierdie vashou-aksie skakel met die “[w]oordfoël” (56, 57) se oorgroot pote, kloue of hande in die selfportret (autoportrait) op die voorplat. Die stip sydelingse kyk, aandagtige kop en skerp bek van die kraai-agtige voël kan met die waaksame en goedgebekte digterspersona (”die bekkige ek”, bl. 58) vereenselwig word. Tog is die voëlfiguur swaar, die lyflikheid toegeknoop; in die buiteteks is hy nog ingeperk deur kleding. Ook sy bek is nog toe; hy is staties en gooi `n skaduwee. Die voël-mens word omgeef deur `n uitgestrekte oker landskap, of `n Niet, tot hy die binneteks, dit wil sê in die vlug van die gedig (”die wegvlieglied”, bl. 66), bevry word.
In die digter se verkenning van uiterlike en innerlike landskappe delf en duik die “diepleefduiker” (146) diep in die onderbewuste. In “ondergrondse sale” (139) en “ondergrondse riviere” word die “beelderyk `n sintuig” (47) om “woorde soos moldrome” (73) en “verse as skerwe” (139) te skryf. Tussen die warboel van los drade, soos dit ook in die gedigte reflekteer, vind die spreker in sy taal `n deurgang. Hy verken die droom, kyk in spieëls, “sny kykglasskerwe” (105) - en word deel van die water, die wind, die wiegende boomtop, en daardeur van die Al. In die proses ontgin hy die moontlikhede van taal; buig hy dit om en genereer hy nuwe betekenisse. Dit is hoe die “beginsel van stof” in taal en denke ontstaan, en in kreatiewe skryfwerk vorm kry. Op hierdie wyse maak Breytenbach nogmaals die dinge vreemd en nuut. Soos sy voorganger Peter Blum, en die digters van die Nederlandse Vijftiger-beweging, skep Breytenbach sy eie verbale universum, `n persoonlike kode van neologismes, “mompelwoorde” (82) en metafore wat aan sy poësie `n gedurfdheid en vrye vlug verleen. Hierin gaan Breytenbach selfs verder as sy tydgenote Wilma Stockenström en TT Cloete. Die frekwensie en aard van hierdie drie digters se taalspel, en die virtuositeit waarmee hulle woorde verbind, “verskryf”, verwring en skep, sou as materiaal vir `n boeiende vergelykende studie kon dien.
Ingegee deur sy waarneming en wete, en gerugsteun deur sy tegniese bedrewenheid (”dis my job”, bl. 74), bring die digter met behulp van die skeppende verbeelding `n estetiese produk tot stand. Die gedig as artefak, deur die spreker gerelativeer tot “klein maaksel woorde” (87), of “woordstopseltjies” (50), groei uit tot kunswerk. Die estetiese aspek was oor die afgelope jare `n kontensieuse saak in die literêre kritiek, want moet (en mag) die gedig nog mooi wees? En wat is “mooi”? Dit is `n twispunt wat toenemend opduik by die samestelling van bloemlesings en die waardebepaling van poësie. Maar Breytenbach kan nie anders nie: hy skep skoonheid by die digvrag vol - teen wil en dank. Sy aanvoeling, vertolking en verwoording is so delikaat, oorspronklik en roerend dat dit lyk asof sy gedagtes hul voortalig in die skoonheid inbed, asof die digter se praat louter lied word. In “die sonnet as verstekenling” sê hy van die werk van “woordenaars” (31):
hier is die hooglied van besinning se versinsels
hier blye oopgaandae van sing en sing en sing[.]
Breytenbach se jongste werk is die neerslag van `n leeftyd se vakmanskap en `n liefdesverhouding met die kunste. Waar hy die skryfhandeling aan die begin van sy digtersloopbaan verbeeld het as `n gehamer teen sy “langwerpige kop om [...] `n gedig te fabriseer” (”Bedreiging van die siekes”, die ysterkoei moet sweet 1964), verwys hy in die beginsel van stof telkens na die rol van die verbeelding en die geheue. Vir hom is “verbeelding [...] die beweging van plek” (106); en “die nag se verdronke afwesigheid probeer onthou/ onthou die vreemde reisigerlyf/ in woorde wat een vir een vervaag uit die vingers” (106); “soos die skulp op die rak/ nog alles onthou van die see” (108). Die gedig is vir Breytenbach iets “wat jy hartklop vir hartklop/ van stamel tot aanhoustilte verskryf” (105); “woorde wat een vir een vervaag uit die vingers” (106) en “die metafoor wat uit die paragraaf vul/ om hier gevérs te kom ster-sterf” (107). Die digter “…hou sy bek, laat syfer/ betekenis en woorde se waaragtighede/ deur die uitmekaarhaal en inmekaarsit/ van beweging tot strukture:/ vorm is die verbeelding van plek”. Besonder tekenend in dié verband is: `n “gedig is om met herhaalde/ vlegbewegings van stokkieswoorde/ tereg te kom in die voëlnes/ van die ander bewussynsboom” (104) - met die vervorming van “bewussynstroom” tot “bewussynsboom” as tipiese voorbeeld van die digter se kreatiewe omgang met die bestaande leksikon.
`n Hoogtepunt van die digter se poëtikale refleksie is sy uitspraak in een van die fragmente (105):
hoe om die woorde te ry
asof hulle betekenisvlees is
en in die beweegweging `n ek te verwek
wat jy lief mag kry
klanke verlyf in ritme
en die koppeling verhaal
tot taal en vertaling
totdat papiervlies soos ooglede bewe
om sin en sinne singend te bevry
en aan die pen te laat ry
in die spreekspelspeeksel van ekstase[.]
Lesers kan self nagaan hoeveel betekenis in “begweegweging” en “spreekspelspeeksel” opgesluit lê, hoe dit met die digtersambag verbind is en watter poëtiese middele hier benut word. Of vir beginnende Breyten-lesers: waarom sê die digter dit juis só? En vir Breyten-skeptici: kon hy dit anders gestel het?
Die aandag vir die skryfambag word uitgebrei na die digter se gereedskap: “sit jy met die vel papier/ op die buitetafelblad/ en klad woorde”(100); en “potlode wat skerp gemaak moet word/ om die dag te skryf// om die dag te skryf:” (96). `n Voorbeeld van die bemoeienis met taal in die algemeen is: “maar hoe kan ek ooit/ hierdie berg en branders en wind/ en die vlug van voëls/ anders ervaar as geskep uit die taal/ van die voorouers se sagte klik/ en nie-nie?” (102). Daar word ook geïllustreer hoe die mens in en deur taal (en poësie) sy lewensverbintenisse koester, soos deur briewe of gesprekke - onder andere deur `n gedig opgedra aan sy vriend, die literator Ampie Coetzee. Ander brief-gedigte word aan familielede, die gedig self (14), die taal (18), mede-digters (127) en aan die Here gerig (30). Die bundel sit vol verwysings na die die digkuns en die woord: “landskappe gesyfer/ deur `n kors van woorde” (107). By tye voel die digter dat hy sy taak volvoer het: “ek het te veel geskrywe/ ek het te veel gesterwe”- en “dieselfde lywe [is] begrawe/ onder klank” (107). Hy wonder of hy bloot `n “vermenigvuldiger” is wat “wurmtaal” pleeg (108), soos dit in die speelse grafskrif uitgedruk word. Oor die huidige fase van sy lewe en digterspraktyk beweer hy: “dis waar dat ek swaar/ in die mond geword het/ en baie begrippe het nou/ die muwwe smaak van mompeling” (102).
`n Uitsonderlik wye doek word bestryk, en tussendeur vertoef die digter op die “wit/ wieggang van wolke” (156). Hy gee hom oor aan die veelheid en sinnelikheid van bestaan, en konkretiseer sy ervarings en waarnemings in ontelbare dinge, van die “nagkoninginne se bates” (31) tot die “nat silwer vel” van water (90), en hy roep die mens in al sy gedaantes, rolle en landskappe op. Hierdie digter is in vlees en gees `n nomade - en die derde bundelafdeling wat uit losstaande fragmente bestaan, dra die innoverende titel: “nomadismes (`n fragmentarium)”. Hierin herverbeel die digter sy reise deur die wêreld en die lewe. Fragmente volg mekaar sonder punktuasie op, en word deur `n asterisk geskei om die idee van eenheid in afsonderlikheid visueel voor te stel. Die “rondloperklong” (59) som sy ervarings só op: “wat `n wonderlike reis was dit/ oor vastelande en seisoene/ verby stede met name/ wat sing op die tong” (108), gevolg deur die enumerasie van uiteenlopende dinge: “die kind het met stokkies in die stof gespeel/ in boekwinkels het papierstemme gemurmel/ in galgkamers het mense aan toue geswaai/ soos pendulums oor `n landkaart van lewe” - met die subtiele herhaling van die l-klank as bindingsmiddel.
Ook die humoristiese gebruik van bekende name en volkse uitdrukkings, en die ontyking daarvan, bly deel van die Breyten-binnepret. Berekend moedswillig, maar hoogs funksioneel, herdoop hy “Worcestersous” na “woestersous” (94):
koester daai oester
met `n druppel woestersous:
hoe skaam swel haar lippies!
Van die skerp beelde wat `n mens bybly (ook hiervoor is `n uitgebreide artikel nodig), is die “operahoer met roekoerkoerborste” (73) en “nonne met hul skuwe enkels” (96) wat in `n volgende fragment gevolg word deur “sonneblomme staan soos vrome Moslems/ met geboë hoofde en lapppe oor gelate ooswaarts gerig/ en wag vir die ligvlam om te roer… dat hulle lippe mag bewe” (95); en kort daarna die maan as `n “glimmende kopbeen” (96). Opvallend ook is die vindingryke gebruik (en skep) van werkwoorde om beelde te versterk, soos “dan sou jy van kerk tot kerk wou Sondag” (42) en “om hier gevérs te kom ster-sterf” (107).
Sommige lesers mag die vermoedens van afskeid en dood as die spilpunt van die bundel beskou: “lyke, lyke, lyke” lui `n reël in “die onvoltooide vers (23); “[s]o flikker en flikflooi die verganklike/ naderhand op die tong” (28), en “jy sien dit alles dalk `n laaste keer”, sê die spreker (95). Die oorgawe aan die aarde en alles wat bokant en onder die aarde is, word inderdaad gekomplementeer deur `n groeiende bewustheid van dood en verval. Reeds die openingsvers van die bundel staan in die teken van eindigheid, beide wat die mens en die taal betref. `n Drafsessie word verbind met “koggelpassie” waar die asem die dood sing-sing inhaal, “tot aan die oewer van die Styx” (14). Die “aarde as verrottende onvergeetlikheid” (96) resoneer in voorstellings van die sprekende instansie se aftakeling: “dis jy en jy alleen/ wat oud en ylhoofdig geword het [...] het jy gedink jy sou vir ewig lewe [...]?” (97). Voorbeelde kan na willekeur aangehaal word, soos “tot siens sê vir dit/ wat nooit weer gesien of besoek/ sal word nie”; en “die hart en die kop het lankal laat staan/ verstaan dat die kort lewe versaak gaan word/ om gou-nou te verdonker/ gebraak in die gat van sterwe” (100, 101). Veral die twee laaste afdelings van die bundel bestaan uit `n genuanseerde tematisering van die dood, waar die onderwerp afwisselend met erns, luim en teerheid ingeklee word. Die een “wat aanbly skryfel teen die dood/ kry `n oumanslyf gevrug in die woord - / maar die voëltjies van verganklikheid/ sit kwetter reeds in die gedigteboord” (167). Dit sou interessant wees om in hierdie verband Elisabeth Eybers se ryper werk met dié van Breytenbach te vergelyk, veral ten opsigte van stylverskille in die uitbeelding van die later lewensfase.
Die fokus op die ek-spreker en die biografiese word gebalanseer `n ironiese distansie; enersyds bewerkstellig deur humor en selfspot, en andersyds deurdat die spreker se ervarings dikwels algemeengeldend is, of minstens raakpunte het met die leser. Die aflê van die lewe en die lewenstaak, met die gepaardgaande winste en verliese, is immers die lot van die mensdom. Die digter spreek homself aan as “verdrommelde Bitterblaf” (97), of teken homself as `n starende “kromskouer-voël” (102), en werk sodoende die skyn van selfverheerliking teë. Hy verwys ook na sy vroeëre werk, en soos literatore dit graag stel (en oor die gewillige boeg van die postmodernisme gooi), skep hy intertekste deur by homself en andere te leen, en homself daardeur te ironiseer. Wanneer hy noem dat “die sterre wurms is” (96), voeg hy in parentese by: “(soos die voortvarende digter gesê het)”. Sterre, soos ook die maan, donker, nag, swart, dood, engele, spieëls, visse, wind, water en asem is van die deurlopende motiewe in die bundel en die oeuvre, maar dan altyd nuut, altyd weer anders aangewend.
Tegnies gesproke is die bundel `n kragtoer. Die vryeversvorm, wat hier meestal `n praattoon aanneem, besit `n inherente spankrag en natuurlike voortstuwende ritmiek wat soms ontbreek by ander digters wat hierdie tipe vers bedryf. Danksy Breytenbach se gedissiplineerde hand is daar geen insinkings vanweë te veel losheid, wydlopigheid of slordigheid in die versbou nie. Hiervoor is die digter eenvoudig te bedrewe, te `n groot kunstenaar. Elke vers is sorgvuldig gestruktureer, onder ander deur slim reëlsamestellings en -breuke, sinvolle beeld-, woord-, klank- en betekenisverbande, en die vindingryke keuses, kombinasies en ordening van woorde en woordgroepe. Ook die aanwending van klassieke poëtiese middele dra by tot die spankrag van die vers, bv. die funksionele gebruik van toevallige of versteekte rym in “jou skoene het jou tog al die seisoene gehou” binne een reël (97); “barkas” en “dakterras” in opeenvolgende reëls (105), met “karkas” kort daarna (106). Op `n speelse wyse maak die digter van binne- sowel as eindrym gebruik: “tussen verskyn en verdwyn/ [...] darem `n glasie wyn/ vir die pyn”. (97) of “in waarheid was die lippe natuurlik klippe/ wat hulle voordoen as wippe” (105).
Opvallend ook is die voortsetting van die skatologiese: “laat die sluwe bitter eende op my graf kak”, `n reël uit die openingsgedig van “Bedreiging van die siekes” in die ysterkoei moet sweet, resoneer onder andere in “die stroom onverdunde stront/ uit jou mond” (76) en “die onderskeid/ tussen skyt en modder” (103). Hierteenoor staan die verhewene deur die invoer van Bybelse gegewens, as parodie al dan nie, soos in “nog `n bietjie sluimer/ nog `n bietjie slaap” (82) (vgl. Spreuke 6:10), later omvorm tot “nog `n bietjie soek/ nog `n bietjie vloek in die donker” (107); asook in “en dit was goed” (98, 99) (vgl. Genesis 1:31).
Afdeling 4, getiteld “buig en prewel buig en prewel/ baie woorde o baie woorde”, mag vir lesers omrede die vorm en inhoud vreemd aandoen, veral vir diegene wat nie met Breytenbach se surrealistiese aanslag en die moderne prosagedig bekend is nie. Deur die fantasie en die naasmekaarstelling van oënskynlik onverwante sake probeer die digter die maalkolk van die onderbewussyn blootlê deur `n alternatiewe werklikheid op te roep. Die titels van die gedigte in hierdie afdeling staan tussen hakies; moontlik as `n aanduiding van voorlopigheid of die gebrek aan finale naam- en betekenisgewing, wat weer aansluit by die toestand van onsekerheid wat in hierdie afdeling beklemtoon word. Die grens tussen prosa en poësie word opgehef en die prosagedigte kan gelees word as gedagtes wat in die bewussynstroomstyl weergegee word. Dié tekste is woordryk en vloeiend, en besonder poëties. Beskrywings van dinge en situasies mag egter duister en selfs grillerig voorkom, soos in “(koop `n hond)” (115), wat op `n verrassend ligte noot afsluit met die aandrang om daaroor `n gedig te skryf, maar te “waak teen vlieë”.
In hierdie afdeling neem die digter afstand van die reële wêreld en, nog meer as gewoonlik, van die konvensionele bewoording daarvan. Hy probeer nie `n “verstaanbare” afbeelding van die sogenaamde werklikheid gee nie; hy wil juis die leser saamneem op `n verbeeldingsvlug wat hier en daar raakpunte met die bekende het, maar waar die oorvloed van indrukke nie klop volgens die leser se verwagtingshorison nie. `n Mens kan jou egter afvra of die gegewe, en die gedig self, nie eksemplaries is van die lewe self nie, en of die verwarring, die “trillings” en “klankpiramides” in “(Wat het van tyd geword)” (117) nie ooreenstem met ons daaglikse ervaring nie. Ook daarvan moet ons immers self sin maak deur “`n oseaan onsin [...] leeg te skep” met “[t]eelepels” gemaklike “waarheid” wat as troostende “[s]uigware” dien. “Die lewe is `n lieg” sê die digter, en die gedig is `n afbraakproses en revolusie waar “donker klowe” oopgeskryf word, desnoods met behulp van die lag, soos die gedig aan die einde te kenne gee. Die gedig “(Wanneer die wêreld onder ons vlerke wit is)” (119) beeld die mens se vervreemding uit, en impliseer dat die poësie soms die skokinstrument wil wees, die stok waarmee die “steiltes (die stellings/ en die stellasies) van die woord” uitgeklim word, want:
Die gedig is immers die hand wat soos `n skaduhond al
langs die woorde loop. Om af en toe `n been te lig.
Die onderliggende vraag is of ons nog te midde van die stilte, onbegrip en die impasse die vermoë het om “boor-geboorte/ woorde uit die stilte te toor”, want ons is “besmet met Woord” - met clichés en meesterverhale wat geen begrip bring vir mekaar en ons situasie nie, en inspeel op die huidige situasie in Afrika.
Die gedig “(eg(g)olalie” (121) is `n filosofiese beskouing oor moraliteit, die handeling van gee en neem, en die rol van kuns om bruikbaar te wees - as iets “om die oë mee te vang”. In die titel word die letter “g” in hakies geplaas sodat beide “ego” en “eggo” raakgelees word. Die ruimte wat herinner aan Parys op “`n skoon blou Europese somermiddag” kan by implikasie herlei word na die plaaslike omstandighede, soos dit later duideliker word in “(Ek was een van die bevoorregtes)” (129), “(In die ruim vertrek)” (131) en “(Ons is hier”)” (133), waar alles verby is en die land leegvloei. Die genoemde “(eg(g)olalie)” ontgin ten slotte die woordeboekbetekenis van die term, naamlik die dwangmatige herhaling van woorde, en dien as metafoor vir ons huidige gesprekke. Terselfdertyd verwys “ego” na die oordrewe klem op die eiewaan van `n fiktiewe gespreksgenoot, met die implikasie dat ons woorde en diskoers selfgerig, hol en nutteloos geword het. Breytenbach se versreël “[o]m aan te hou beweeg en geraas te maak” eggo in dié verband die woorde van die robot-figuur in Jan Rabie se verhaal “Ek het jou gemaak” (Een-en-twintig, 1956).
Die bundeltitel die beginsel van stof word geïntegreer in die vers “(toe ek hom sien)” (124). Vir die spreker is die mens maar “`n sak verrottende vel van vlees en vet met binne-in/ die glibberige organe en beendere soos grafstingels”. Hy sien die swermende woorde wat die digter in `n doos versamel as die redding (die “Vervanger” of teenpool van God). Die teenspreker antwoord: “dis teen die beginsel van stof wat skepping is”. Hiermee word die opposisie tussen skepsel (uit stof geskape, en tradisioneel gesien as die “beginsel” of beginpunt van stoflikheid) en die mens se woorde, denke of gedigte (as alternatiewe stof) aan die orde gestel. My interpretasie is dat die digter die woord as die superieure beginsel sien, as `n skeppings- of ordende funksie, verhewe bo die stof waaruit die skepsel fisies gemaak is. Die woord, as uitvloeisel van die menslike bewussyn, kan die reddende beginsel wees; daarna moet ons boor, en dit moet ons baar. Die mens as die een wat vergaan en verrot, maak “woordstof” - waardeur hy sin maak en (tydelik) oorleef.
Die afdeling “veertien sonnette vir `n engel in Hengelo” het betrekking op `n uitstalling van Breytenbach se visuele kunswerke en poësie (”die gelakende onverwoorde verse as skerwe” in sonnet 1) wat in 2009 in dié Nederlandse stad gehou is. Teenoor die ekstreme (reël- en strofe-lose) vorm van die vryevers in die vorige afdeling, perk die digter hier sy woordkuns in binne die veertien reëls van `n sonnet, sommige kompleet met rymvorm en tradisionele strofebou - maar dan besonder beeldryk en selfs surreël. Dit word `n verruklike besinning oor die skryf van gedigte. Sonnet 5 eindig met: “So, presies/ so, las `n mens `n gedig van in- en uitdrukke niks”. Deur die verbeeldingsvryheid binne die relatief vormvaste raamwerk te verpak, demonstreer die digter sy veelsydigheid en vernuf. Deur die verbeelding systap hy “die daggang wat deurgaan vir werklikheid” (sonnet 10). Sonnet 14 bevat een van die blinkste momente van taalspel: “wanneer [...] die voël se skaduwee soos `n hond se gedagte// haas oor die pad - dan mondmaak mens woorde/ as `n net om die son mee te vang en mondmak te maak:”.
In Afdeling 6, “uitvaart”, kom die tema van die dood as “enkelreis” (157) en afskeid op `n treffende wyse aan bod; stil soos `n meditasie, met die wete dat die dood deel is van die lewe, maar nie sonder pyn nie. Die veronderstelde doodskleed van Christus in Turyn, “agter glas uitgestal soos die vlerke van `n vlermuis” dien as impuls vir die makabere dog gevoelige gedig “Piedmont” (159). Saam met die ander vier gedigte word dit in verband gebring met die dood van die digter se broer, en die dood in die algemeen.
Die slotafdeling dra die titel “laat-verse” en kan sinspeel op verse wat “laat” geskryf is; of “gelaat”, “nagelaat” of selfs “toegelaat” word. Een van die kwatryne (167), redelik atipies van Breytenbach se styl, lui soos volg:
anderdag was ek jonk en fier
die hand vol woorde en `n mooi gesig -
nou brand my vel soos dooie papier
en elke dag is `n gedig[.]
In die mens se “vertrekuur” (169) word sy bemoeienis met die dood dringender. Die drang om te onthou val saam met die afskeid, en word in “die voëltjieroepers” (170) se paradoksale slot opgesom: “alle vergeet is boordensvol onthousels”. Met “vir oopmaak wanneer dood my oë toegemaak het” (171) relativeer die spreker sy posisie as gelouerde skrywer wanneer hy sê “in my hele lang lewe het ek/ geen enkele gedagte of insig gehad/ wat die moeite werd is om te onthou nie”. Die kwatryn “oopskryf” waarmee die bundel afsluit, staan in kontras met die digter se woordryke verse. Uiteindelik is selfs die groot woordsmid naak en weerloos, en die patetiek van die situasie spreek uit sy versugting om deur woorde bedek te word:
hoe om jouself toe te maak
met woorde
as beskerming teen die woordlose
koue gekerm van die ewigheid[.]
Asem in, asem uit - dit is vir my die sleutel tot Breyten Breytenbach se poësie, en tot sy jongste bundel. In die polsslag en asemteue waarmee daar aan die inhoud beslag gegee word, lê die appèl van sy gedigte. [D]ie beginsel van stof is `n bundel van groot gevoeligheid en deernis met die self, die medemens, en die skeppende kunstenaar. Dit is ook `n bundel van terugskouing en besinning, en van versoening tussen opposisies. Met hierdie toevoeging tot Breytenbach se veelbekroonde oeuvre het die Afrikaanse poësie haar ysterkoei van die 21ste eeu ryker geword, nie soseer in terme van opspraakwekkende vernuwing nie, maar wel in terme van verryking en beleënheid, danksy `n nomade-digter wat in sy ryper jare voortgaan van die gedagte woord te maak, en van die woord, gedagte - in sy moedertaal.
Tuesday, March 15th, 2011
 Marthinus Versfeld
‘n Resensie van my oor die heruitgawes van Marthinus Versfeld se Our Selves en Oor Gode en Afgode het gister in Die Burger verskyn. Nee, eintlik nie ‘n resensie nie: Versfeld se boeke hoef nie meer ‘geresenseer’ te word nie. Hulle is keiharde klassieke in die Suid-Afrikaanse lettere. Hulle is boeke in die volle, self-genoegsame sin van daardie woord, werke wat nie ag slaan op die onderskeid tussen literêre en ‘akademiese’ literatuur nie.
Versveld was ‘n denker, ‘n skrywer, ‘n wysgeer; hy was ’n aardse intellektueel, ‘n metafisiese kok, ‘n kraaikwaaie weerhaan vir die tye waarin hy geleef het. Akademiese werk in die geesteswetenskappe word toenemend geprofessionaliseer, gestandaardiseer en gesteriliseer. Die funksies van die ‘openbare intellektueel’ word verskraal tot die verskaffing van mediavriendelike klankgrepies oor die verbygaande dit-en-daai. Sou Versfeld in die hedendaagse omgewing van die korporatiewe universiteit hoegenaamd aanstelbaar en bevorderbaar gewees het? ’n Mens twyfel amper…
Om Versfeld vandag te herlees is om herinner te word aan wat die denke kan vermag, wat universiteite eintlik behoort te wees, en hoe ‘n onpretensieuse, kompromislose en menslike intellektueel lyk. Protea Boekhuis verdien beslis groot lof vir hierdie heruitgawes van Versfeld se boeke. Benewens Oor Gode en Afgode en Our Selves het heruitgawes van Pots and Poetry, Klip en Klei en Die Geneukery met die Appelboom ook al verskyn.
Terloops, onthou julle daardie pragtige gedig, ‘Boland, ‘n reisrefrein (by die roudiens vir Marthinus Versfeld)’, wat Breyten Breytenbach (oftewel, Jan Afrika, in die bundel Papierblom) oor Versfeld geskryf het? Dis ’n langerige gedig; ek plaas net twee van die strofes hier:
***
ou wysgeer, ons het jou gedenk met die geheue aan knoffel
en klei en pampoene onder die tentdoek van jou kis
wanneer die asem weggeneem word
want daar was geen genooide of gasheer meer
en ons was bly om by jou te wees
in die uur van die aangesig van die langwag
dit was nog nie nag nie
kyk verbygaan is maar ‘n verduistering van gedagte
wanneer jy stip op die dood konsentreer
***
ou sterwer, mag die paddas jou onthou
mag jou oë aljaar soeter word en voller van die kennis van stilte
mag jou vriende wyn saambring vir die kuier
want wyn maak die mens se hart bly
mag die tentdoek wat jy gespan het deurtrek bly
met die geur van sederhout en malvablare en knoffel
en pampoen
mag die sterre en die berge en die verbygaan oor jou en jou gesin bly waak
nou en môre en elke môre en aand
en elkeen van daardie tye se langwag
Tuesday, February 22nd, 2011
weglêbrief vir gedig
Liewe gedig, bly by my.
Moet my nie nou so na aan die einde
In die steek laat nie. Ons kom al baie stories saam
Oor jare en getye, deur lande en landskappe en liefdes
En geheime kamers waar galge getroon het,
Van die een masker na die ander
Apestreek of apostroof of begrafnis.
[...]
Jy is die enigste een wat ek ooit toegelaat het
in die intieme verloorplekke, om sáám met my
en die geliefde onder die laken te lê
met jou voete soos skurwe metafore.
© Breyten Breytenbach
Uit: die beginsel van stof, 2011.
 Breytenbach tydens die bekendstelling van sy nuwe bundel by die Breytenbach Sentrum.
Breytenbach het skielik oud geword: Toe ek hom drie jaar gelede in Protea Boekwinkel gesien het, was sy hande nog nuuskierige konyne op die stoelleunings gewees. Maar Donderdagaand, by die bekendstelling van sy nuwe bundel in Wellington, was sy oë moeg. Moet egter nie dink dat hy klaargefight is nie: Alhoewel sy nuwe bundel, die beginsel van stof, getuig van ‘n deurleefde doodsbewussyn, bly hy steeds stoutgat vir die leser tussen die versreëls deur knipoog. Hy speel steeds onverpoos met woorde - miskien nou meer as ooit tevore, omdat hy die tyd het om hulle soos kleintydfoto’s langs mekaar te sit en te sien hoe dié een darem baie vet geword het, te onthou hoe dáái een per ongeluk met die verkeerde boetie getrou het, hoe lelik dié een se kinders toe uitgedraai het.
Breytenbach het Donderdagaand dikwels die skemerende lug ingekyk, so asof hy die wind kon sien. Hy’t stil en werfhanerig op ‘n turkoois bank in die agterjaart van die Breytenbach-sentrum gesit met Lousie Viljoen aan sy sy. Sy’t die gesprek gelei en Antoinette Kellerman (haar los pers toppie het golwe in die wind gemaak) het van die nuut-gebundelde verse voorgelees. Haar voorlesings was deurwinter gewees soos goeie whiskey en Schalk Joubert se imrpomptu begeleidings op die elektriese en baskitaar was aandoenlik.
 Antoinette Kellerman en Schalk Joubert
“Metafore behels die herkenning van die moontlikhede van die onvoltooide,” het Breytenbach tydens sy gesprek met Louise Viljoen bespiegel terwyl die sonlig agter die berge endgekry het, “en hulle is die plofstof van die poësie, die vesels van taal”. Ek wonder of Ricoeur ooit enige van Breyten se Franse vertalings gelees het? Hulle sou lekker om dieselfde vuurtjie kon sit. Hieronder volg enkele van my gunsteling metafore uit die nuwe bundel:
- “die hond se blaf ‘n donker vlieër / weggewaai in die donkerte” - “‘n voetnoot onder die geskiedenis”, bl. 11.
- “al wat oorbly van laatsomer se rooi knewels / in die granaatboom is leë dope / soos skulpe sonder see” - “jaarbrief”, bl. 53.
- “is ons die vel van die aarde / wat met die jare sal plooi / tot verborge patrone van liefde?” - “die hart-stér”, bl. 65.
- “trek die laken oor die onbetaamlike wit wond / van die droom wat teen jou oë kom klop het / soos ‘n bloederige duif” - “brief (oorgang)”, bl. 77.
- “ek wou nog vir jou sê / dat ons jou as toe uitgestrooi het / [...maar dat] miere nie hoedjies daarvan sal kan maak / vir hulle nagmaaldienste nie” - “die uitstrooiing van die as”, bl. 179.
En oor die dood raak Breyten sedert die ysterkoei moet sweet steeds nie uitgeskryf nie. Hy’t Donderdagaand Waiting for Godot aangehaal om sy bemoeienis met ons onverdringbare sterflikheid te illustreer: “I cannot go on. I must go on.” So tussendeur die verrigtinge het die wind skielik erg opgekom en ‘n stofwarrel het deur die gehoor getrek. Breyten het in die donkerte verdwyn soos die wind die kollig omgewaai het.
die guns
O Here, wanneer jy weer hierlangs verbykom -
dink aan oom Martin, aan Daantjie, aan my ma . . .
Maak hulle wakker sodat hulle nog net één keer
mag sien hoe wonderbaarlik is hierdie wêreld,
nog één keer opgewonde soos perde op stal
die vars oggendlug van oneindigheid mag ruik
Oukei, ek weet, ek weet ons het alles opgefok -
maar o Here, skud die stof uit hulle beendere
sodat hulle nog net één keer mag hoor hoe jubel
die nagtegaal in die kloof, mag sien - nee voel
hoe bloos ons aarde soos ‘n ryperwordende appelkoos
wat wangdraai ooste toe as die nag haar onttrek
Moenie snoep wees nie, o Here - gee, géé
vir oom Martin, vir Daantjie, vir my ma en al die geslagte
dooies één oogknip se onthou in hierdie benoude
ewigheid van verdwyning, opdat ons almal
onder die kors vergetelheid vir ‘n stonde in die tombe
weer die bons van lewe vir jou onthalwe mag deel.
© Breyten Breytenbach
Uit: die beginsel van stof, 2011.
Friday, February 4th, 2011
 Manuel Bandeira
Wat is ‘n prosagedig? Wat is die verskil tussen ‘n prosagedig en ‘n kort-kortverhaal? Is Breyten Breytenbach se Katastrofes prosagedigte of kort-kortverhale? En Zirk van den Berg se tekste in Ekstra Dun vir Meer Gevoel? Wat is die verskil tussen ‘n prosagedig en die ‘poëtiese’ prosa van ‘n Michael Ondaatje of ‘n Anne Michaels? Ek was nog nooit regtig seker oor enige van hierdie vrae nie — en ek moet bysê, ek het myself ook nog nooit regtig hieroor verknies nie!
Robert Pinsky maak myns insiens ‘n sinvolle opmerking oor prosagedigte in ‘n kommentaar op ‘n teks van die Brasiaanse digter Manuel Bandeira. Pinsky skryf: ‘People like to debate the nature of prose poetry; most efforts to define a “prose poem” involve contrasting it to the poetic convention of writing in lines. A better approach might be contrasting the prose poem with conventional prose narratives. Here is Elizabeth Bishop’s translation of “Brazilian Tragedy” by Manuel Bandeira. Its rapid, concentrated movement makes the ordinary novel seem unbearably slow by comparison. The place-names drive the story ahead at the speed of sound, where film might take an hour, or fiction a hundred pages.’
Interessant. Stem julle saam met Robert Pinsky? Ek kan my voorstel dat daar heelwat verskillende menings oor hierdie onderwerp sal wees. Hier is die prosagedig van Manuel Bandeira (die Brasiliaan waaroor ek gister ook geblog het) waarna Pinsky verwys:
BRAZILIAN TRAGEDY – by Manuel Bandeira
Misael, civil servant in the Ministry of Labor, 63 years old,
Knew Maria Elvira of the Grotto: prostitute, syphilitic, with ulcerated fingers, a pawned wedding ring and teeth in the last stages of decay.
Misael took Maria out of “the life,” installed her in a two-storey house in Junction City, paid for the doctor, dentist, manicurist …. He gave her everything she wanted.
When Maria Elvira discovered she had a pretty mouth, she immediately took a boy-friend.
Misael didn’t want a scandal. He could have beaten her, shot her, or stabbed her. He did none of these: they moved.
They lived like that for three years.
Each time Maria Elvira took a new boy-friend, they moved.
The lovers lived in Junction City. Boulder. On General Pedra Street, The Sties. The Brickyards. Glendale. Pay Dirt. On Marques de Sapucai Street in Villa Isabel. Niteri.
Euphoria. In Junction City again, on Clapp Street. All Saints. Carousel. Edgewood. The Mines. Soldiers Home…
Finally, in Constitution Street, where Misael, bereft of sense and reason, killed her with six shots, and the police found her stretched out, supine, dressed in blue organdy.
Wednesday, February 2nd, 2011
 Carlos Drummond de Andrade
Ek het ‘n week of wat gelede geblog oor Carlos Drummond de Andrade, daardie reus van die twintigste-eeuse Brasiliaanse digkuns. Ek wens regtig ek kon hom in die oorspronklike Portugees lees, maar omdat dit waarskynlik nooit gaan gebeur nie, is ek aangewese, benewens heelwat vertalings in Engels, op die handjievol van sy verse wat Uys Krige in Afrikaans vertaal het.
Baie van die Engelse vertalings van Andrade se gedigte wat ek kon opspoor val egter nie vir my heeltemal soepel op die oor nie; ‘n mens bly te bewus van die feit dat jy ‘n vertaling lees. Ek voel dikwels dieselfde by die lees van Engelse vertalings van Breyten Breytenbach se gedigte. Ek het altyd aangeneem dit is omdat ek die Afrikaanse oorspronklikes te goed ken, maar in Andrade se geval ken ek geen Portugees nie en tog bevredig die vertalings my nie op dieselfde wyse waarop regtig goeie vertalings van Milosz, Szymborska en Neruda, onder andere, my wel bevredig nie.
Daar is natuurliki uitsonderings. Die vertaling hier onder deur Len Sousa, ‘n jong digter en vertaler, kom beslis vir my nader aan ‘n bevredigende leeservaring as baie ander:
Seven-sided Poem – Carlos Drummond de Andrade
When I was born, a crooked angel,
the kind who live in shadows,
said: Go, Carlos! Be gauche in life.
The houses spy the men
chasing after women.
Perhaps if the afternoon were blue
there wouldn’t be so many desires.
The tram passes by full of legs:
white black yellow legs.
Why so many legs, God, my heart asks.
But my eyes
never ask a thing.
The man behind the moustache
is serious, simple, and strong.
Almost never talks.
Has a few, close friends,
that man behind the glasses and the moustache.
Lord, why did you abandon me
if you knew I wasn’t God?
if you knew I was weak.
World world vast globe
if my name were Job
it would be a rhyme, not a solution.
World world vast globe
vaster still is my heart.
I ought not tell you,
but this moon
but this cognac
gives us heartache like the devil.
Sunday, December 12th, 2010
Klein reis, 25-30 November
*
Die lughawe is nog stadig en leeg in die vroeë ure van die 25ste. Dis Thanksgiving, Kalkoendag. Later sal daar ʼn drukte van Amerikaners wees wat alle paaie en stasies en lughawens oorstroom om by hulle families uit te kom. Om internasionaal te reis is al hoe meer ʼn pyniging.
Die vlug wat jou na Bogotá moet neem is om duistere redes met meer as twaalf uur vertraag. Jy word dus geboek op ʼn vliegtuig na Medellín om daar oor te stap. Die veiligheidsbeamptes, man en vrou, is groot en vet en lui en vaak. Is dit klassewraak of ʼn nuwerwetse vorm van slaafse intimiteit dat dit die armes moet wees (byna almal swart) wat talmend jou lyf bestryk en in jou bagasie vroetel om beslag te lê op ʼn buisie tandepasta wat te groot is? Eerste lig is ʼn geel smeersel buite die glasmure. Hierdie land kom aan die lig as ʼn eindelose grys industriële voorstad.
“May we all be fondled by wanton security guards one day!”
*
om die wêreld te kan sê
om die pad te onthou
wanneer die gedagte aan
die groot vergeet voor
nog ʼn aanloklike avontuur is
om te luister hoe groei die boom
en die wind se rondinge met die hand
te verken
om te weet hoe vreet
die vernedering van armoede
en die verdriet van mag
om met ʼn vinger die bloed
te proe en te skryf
om die wordwoord se gesig
te kan teken
om bestaan te sing en besing
dat die sin van syn om te lewe is
*
Die reisgenoot langs jou is vriendelik, praat Engels, maar wanneer julle hoog bo die wolkekrulle ʼn onsigbare lyn oorsteek slaan hy oor na Spaans. Later op die lughawe in Medellín wanneer julle veilig anderkant die versperrings en kontrole met verligting langs mekaar elk in ʼn eie stalletjie van die gemakskamer staan en pis sal hy mompelend wegskram van enige verwysing na familie of die doel van sy besoek. Jy sal wonder of dit te doen het met ‘handel’. Bergagtige landskap oral omheen, klouterende pieke, alles oordek met smaraggroen struike- en boomgroei, die laer hange bewimpel in bewegende newel en hier en daar strepies rook uit die oerwoud wat soos halms boontoe beur. Vuurtjies? Bosbouers wat steenkool maak? Hierdie afgelope weke was die reënval reeds 100% meer as gebruiklik vir die seisoen en dele van die land is oorstroom. In Bogotá maak almal gebruik van taxi’s, dis spotgoedkoop, en die roekelose jaagduiwels in geel motorkarretjies waterskaats deur vleie wat soms tot twee voet diep oor die strate kabbel. Sproeipluime water spat metershoog in boë. Die mense is vriendelik en saggeaard, die vroue en die meisies byna onstigtelik aantreklik, almal vra vir jou waar jy vandaan kom, wat jy van Kolombia ervaar en dink, dis asof hulle dankbaar is vir enige besoeker, niemand probeer iets aan jou verkwansel nie, Amerika is nie vir hulle ʼn verwysing of ʼn fantasma nie, Spanje is ʼn ou koloniale kwelling, al die huise en die tuine is afgesper met tralies en omring deur hoë mure met gebreekte bottelstukke bo-op, dis soos in Kakland, oral sien jy soldate en polisie en private sekuriteitsbeamptes, jong knegteknape met wapens wat te swaar is vir hulle, in die hotel en in restaurante is daar ʼn verdringing van kelners en kelnerinne, onberispelik flink stryk hulle tafeldoeke plat of vryf borde blink, by die lesings kom vreemdelinge met arms wyd op jou af en spreek jou aan as “Poeta!” (wat nie op Kaaps geartikuleer of bedoel word nie, al is daar dalk ʼn verwantskap), dis ʼn normale aanspreekvorm soos ‘dokter’ of ‘meneer’ of ‘mevrou’.
*

My drie Kolombiaanse seuns. Darem nie by dieselfde ma nie. Mauricio Diaz, Javier Osuna, Sergio Gama. Saam behartig hulle ʼn stigting met die naam van Fundación Fahrenheit 451. Jy is trots op hulle. Hulle is gesoute joernaliste. Javier is besig om ʼn boek te skryf oor die oorweldigende gewelddadige invloed van para-militêre groeperings op die Kolombiaanse samelewing. Hy het doodsdreigemente ontvang. Hy het hom onttrek aan openbare gesprekke en lewe diskreet. Die stigting werk met minder bevoorregte mense, tieners en vroue. Byna almal is minder bevoorreg hier. Deur vlae reën skuins teen die groen berg (die stad is groen, jakarandabome langs die strate), neem hulle jou na ʼn kulturele standplaas aan die voet van een van die favellas (hier comunas genoem). Die stuk of twaalf jong mense met wie jy gaan gesels is almal bendelede of oud-bendelede. Dis ‘gebied’, dis status, dis beskerming, dis familie, dis oorlewing. Die heersende bende in hulle lokasie se naam is die Palomas (duiwe). Dwelms. Prostitusie. Diefstal. Hulle peper jou met intense vrae oor die skryfproses, die geboortedaad. Een jongeling, hy skeer sekerlik nog nie, staan op en dra spontaan ʼn kort prosavers van ʼn Meksikaanse digter voor. (Later vannag, op ʼn nat sypaadjie buite die stadsbiblioteek waar jy deelgeneem het aan ʼn voorlesing, sal hy weer na jou toe kom en met vurige oë nog ʼn vers vir jou opsê. Sy bene onder die kortbroek is maer.) Die groep maak hulle eie literêre tydskrif. Een uitgawe is gewy aan die werk van José Saramago.
*
Ek het vir ʼn lang tyd verdwyn. Vriende het my opgespoor in hierdie reënerige stad. In die verlede tyd het ek die koning en die prinses van die land leer ken, of hulle aan wie die rolle soms toegeskryf word, ook die howelinge en die kamerlinge en die bywywe en die vuurspuwers en die spioene en die narre. Ek begelei my vriende langs die sagte glooiing van ʼn groen heuwel na ʼn uitkykpunt bo die smal straatjie tussen moddermure wat hier die stad penetreer. Skemer het toegesak, ʼn ewige grys doek reën. Die koning en sy volgelinge was op pad terug stad toe na ʼn inspeksie van nabyliggende distrikte. Hy gaan die nag vooruit. Die perde se pronkstappies, die klingelende hoewe, die donker-getinte fladderende reënkappe, die geboende borsplate wat dof in die halflig gloei. Die prinses kom verby, geheel in silwer, rooigeverfde wange en skitterende oë, ses hofdames dra die sleep van haar rok. Sy moet stewels aanhê vir die modder. Ek wuif. Sy ignoreer my. Niemand gee my meer enige erkenning nie. Ridders en jagters galop verby, trek hulle perde skerp in die bek en tuimel dan oor die nekke van die rydiere om op die grond bollemakiesie te slaan. Hulle klap op hulle dye met gehandskoende hande. Alkant van die straat is daar mense met sputterende fakkels. Môre begin die feestelikhede. Van môre af is die koning amptelik binne die stadsmure. Daar sal springmielies en lawaaiklappers wees en blomblare om op die see te strooi. My vriende vergesel my na die herberg waar ek al so lank vertoef. Ons moet gaan. Ek moet my kleed gaan haal. By die herberg doen ek navraag na Moestafa, my reisgesel. Ons moet nou vertrek na daardie verre oord. Die herbergier kyk langs sy bruin neus op my neer. Hy beduie na ʼn klein kissie van aangeslaande silwer op die kaggelrak. Die kissie is tot bo vol rooi grond. Weet ons dan nie dat die treine nie meer ry nie? En dat die laaste rooi boot ook vertrek het? Kyk na daardie verrottende karkas, waterswaar, tussen die dobberende haweligte.
*
Aan die einde van die voorlesing word Liu Xiaobo se werk aan die gehoor voorgestel, sy gedig, vertaal deur Olga Rojas, gelees deur Gonzalo Márquez. Dis reeds in Engels vertaal. Binne enkele dae sou hy in Oslo die Nobel Vredesprys in ontvangs moes neem, maar hy dien ʼn 11-jaar vonnis uit - waarskynlik vir “ondermyning van die staat” (hy is een van die Chinese menseregaktiviste wat Handves 8 gekonseptualiseer het, ʼn oproep vir menswaardigheid en die erkenning van demokratiese regte) - en sy vrou is onder huisarres en familie en vriende word geboelie om nie die oorhandiging by te woon nie. Die proletêre diktatuursbewind in China kry al sissend en skellend katjies. Daar kom ʼn internasionale protespetisie onderteken deur skrywers en komende Maartmaand gaan van Xiaobo se gedigte wêreldwyd voorgedra word. Jy het ʼn voorstel gemaak: dat digters oral in die wêreld ʼn wit masker opsit met daarop geskryf, kalligrafies, EK IS LIU XIAOBO.

Christine Haberstock, ʼn ontwerper van Suid-Afrikaanse afkoms wat al jare lank in Berlyn woon, het gespeel met verskeie moontlikhede.
*
Jy wag vir my met stof
Daar bly niks vir jou oor, niks
behalwe om vir my te wag in die stof van ons huis
daardie vergaderde lae wat elke hoek bedelf
jy weier om nog die gordyne oop te trek
sodat lig nie die stilte mag steur nie
Oor die boekrak is die handgeskrewe etiket
bedek met stof
die tapyt se patrone adem die stof in
wanneer jy ʼn brief vir my skryf
en jou daarin verheug dat die penpunt
in stof gedoop is
word my oë deur pyn deurboor
Die heeldag lank sit jy
en waag dit nie om te beweeg nie
uit vrees dat jou voetstappe die stof sal vertrap
jy probeer jou asem inhou
gebruik stilte om ʼn storie te bou.
Dis by tye soos dié
dat versmorende stof
al is wat getrou bly
Jou visie, asem en tyd
hou die stof in stand
in die dieptes van jou siel
word die graf duim vir duim
onder stof begrawe
van jou voete tot die borste
tot aan die keel
Jy weet die graf
is jou beste rusplek
waar jy vir my wag
sonder vrees of verskrikking
dis hoekom jy die stof
se donkerte verkies, in kalm verstikking
wag, vir my wag
jy wag vir my met stof
En wys sonlig en lugberoering van die hand
sodat stof jou geheel en al toe mag maak
sodat jy in stof mag slaap
totdat ek terugkom
en jy ontwaak
om die stof van jou vel en jou siel te vee
Wat ʼn wonderwerk - terug uit die dood.
(Liu Xiaobo, 9 April 1999)
*
En dan word daar geëet in ʼn Persiese restaurant en die eienaar vra of julle al gehoor het van Hafiz en Rumi. En dan word daar verdaag na Javier se huis en groot hoeveelhede aguardiente word uit ʼn kartondoos gedrink. Buite is die nag glimmend en nat soos ʼn vlies van swart sy oor die strate met die enorme slaggate wat so rats deur die taxidrywers vermy word. En dan beland julle in ʼn nagklub waar die salsa onophoudelik deur die lywe klop. ʼn Oorgewig jong digter met ʼn bos krulhare sit en ruk soos ʼn ritmiese jellievis. Die Japanse digter wat slegs in Spaans skryf se oë word moeg en hy hou jou vas en skuifel lomp oor die vibrerende vloer. Die glase is vol rhum; die goue vog loop soos byeverdriet in jou keel af. Javier dans nie, vertel dat hy gewoonlik die nagte om dans, jy het gesien hy loop kruppel, nou hoor jy hy het ʼn koeël in die een been, minder as ʼn maand gelede is hy op straat oorval en toe hy hom teësit het die rower, byna nog kind, hom geskiet. ʼn Digter, eintlik ʼn mediese dokter, dans so knap en so vinnig dat jy nie sy voete se bewegings kan volg nie, sy heupe klap soos vingers. Selfs Gonzalo Márquez staan op en lig sy glas en begin beweeg dan, en dans en dans. Vroeër vanaand het jy vir hom een van sy gedigte in Afrikaans laat klink. (Ver in die wêreld, Kitty…)
*
Testamento del agua
A veces una página es la piel de las ausentes
A veces en hojas de carne anoto mis silencios
A veces escribo en los idiomas de la muerte
Nalatenis van water
Soms is die bladsy die vel van afwesiges
Soms pen ek my stiltes neer in blare van vlees
Soms skryf ek in al die tale van die dood
*
En Olga vertel vir my hoe moeilik dit is om ʼn Kolombianer te wees. Die skaamte. Mense met ʼn bietjie Afrikabloed in die are is skaam daaroor. Baie het Afrikabloed in die are. Mense van gedeeltelike indigeno afkoms skaam hulle daarvoor. Haar moeder het nooit plathakskoene gedra nie want dis wat die Indiane doen. Baie mense het Indianebloed in die are. (Jy het hulle gesien op straat, hoe hulle versiersuikerde soetighede en gebraaide mielies verkoop; jy het hulle fluisteringe gehoor, dit was soos baie ou reën.) Mense weet Kolombia word vereenselwig met kokaïenehandel. Die skaamte. Die regering en die smokkelbendes en die paramilitarios en die ‘bevrydingsbewegings’ lewe almal van die kokaïene. Mense weet dis ʼn land van staatsgrepe en opstande en marteling en korrupsie. Hulle is skaam daaroor.
*
Olga vertel jou die skrywer se “kin” volgens die vervloë Maja-kalender is “Wit Kristal Wêrelde-oorbrûer”. Sy sê daar is ʼn gedig wat dit uiteensit en sy wil dit met jou deel.
Groen Sentrale Kasteel van Betowering
Aardfamilie Kardinaal Stambloed
Ek dra op om gelyk te kan maak
Geleentheid vir almal toeganklik
Ek verseël dood se stoorkamer
Met die kristalklank van samewerking
Word ek gelei deur die mag van oneindigheid
Dan wys sy vir jou die illustrasie van die voertuig wat die skrywer deur tyd en ruimte dra. In die middel is die Wit Kristal Wêrelde-oorbrûer en wat jou rig is die Wit Spieël sodat jy eindeloosheid mag reflekteer en benadruk. Aan jou linkersy is daar die Geel Kryger, jou teenpool, wat jou bevraagteken en jou intellek verskerp. Regs van jou is die Rooi Hemelloper, hy wat soos jy is en wat eweneens ruimte verken en beken. En onder is jou geheim, die Blou Arend wat ʼn visie vir jou skep en oopmaak.

En ons
planeet
wentel deur
die nag
© Breyten Breytenbach. Desember 2010
Sunday, November 7th, 2010
Klein reis: 27 Okt. - 1 Nov.
“Memory, says Borges, is very much like forgetfulness.
It comes into and fades from focus.” - Ben Tery
die dood moet soos ‘n voëltjie wees
wanneer aandlig daal om die breë vloei
van die rivier in donkerwordende goud te doop,
en die voëltjie val
en dryf in ‘n nag van sterre
*
Op die platteland in België
Het ek deur die treinvenster
Gesien hoe mooi en fleurig
Getooi ‘n begraafplaas is.
Asof dit liefdevol soos
‘n Groentetuin bewerk word.
En waarom sou vleesakkers
Nie groentetuine en blomtuine
Wees nie? Die behoefte
Aan voedsel en aan skoonheid
Word al hoe groter
En die messtof en toegewyde
Aandag is dáár.
*
plant bome, struike, dié wat vinnig groei
om die grond waar ons asse en ander weggooi
begrawe lê die skyn van vastigheid te gee
ons gly so maklik weg in die vergetelheid
maak die paaie wyer as dit moet
dis goed dat mense op en neer kan loop
maar bou ‘n heining of span ‘n draad
óm daardie walle waar ons beendere
soms glinsterend uit die aardkors breek
sodat verbygangers na die toekoms
nie hulle voete sal sny met sterfskerwe nie
trek vir hulle spoggerige klere aan
geel baadjies, onderrokke met kant
om die naaktheid te bedek
terwyl hulle hier op en neer loop
asof niks ooit gebeur het nie
en alles vir altyd aan sal hou
*
Europese stede
vogtige keie
lug ‘n somber poep
en die dwarrelende blare
is die goud van vertederde gisters
*
Nederland, 2010
ou moffies met kaal hoofde
suwwe daggaverslaafdes
se oë is wyd van vervolgers sien
keurige jong fasciste
met gekapselde haardosse
serieus
en onmiddellik dekadent
*
I slept in the shadow of White Mountain
but around the high temples of the mountaintop
above the silvery bonnet of eternal snow
I could see wreaths of light shivering
this big this untouchable this white
this high my knowing will never reach
and through my fingers I tried to count
the prayer beads of scintillating stars
to liptaste your name once again
to capture as light raindrops your name
on my bitter tongue to plant your name
like an idol in the ground of my dreams
a god to bless my further journeys
for in calling your name blind on the way
with the blood of your name in the mouth
I crawl up ever steeper whitenesses of you
*
Die ou digter en die jong digter sit aan tafel, flets lig val oor die donker blad. Pura, die Meksikaanse vrou wat nou byna opgevreet is deur kanker, sy’s so petiet soos ‘n verhongerde mossie, net haar oë gloei nog groot van tussen die versreëls kyk in die dood, haar laaste opdrag is om vir haar seun wat ‘n baritonsanger is ‘n reeks lieder te skryf, het vir die ou digter vertel hierdie jongeling se totale doofheid kom van pampoentjies wat hy op sewejarige ouderdom gehad het. Die ou digter sukkel om die jong digter se uitspraak uit te maak. Hulle speel ‘n spel van name, van tye en getye en tradisies en klank gedra deur eeue se gedigte. Hóór die jong digter enigiets? Die name word geskommel en met skreefogies beloer, word triomfantlik soos wenkaarte op die bladspieël uitgepak.
“Wie is jou geliefde skrywers?”
“Vallejo. Lorca. Szymborska. Mandelstam. Du Fu…”
Elke naam bring ‘n snoer van verdere name.
“Ek gee vir jou twee Russe in ruil vir jou Chinees…”
“Wie is die digters wat jou aan die skryf sit?”
”Ha-ha-ha. Kavafi. Tsvetajewa. Celan…”
“Vertaal jy self jou verse vanuit Russies na Engels?” vra die ou digter.
“Emily Dickens het deurmekaar geraak met die grammatika, sy kon nie alles in die reëls insper nie,” antwoord die jong digter.
“Hou jy van Ritsos en Montale se werk?” vra die ou digter.
“Dis dalk waar,” antwoord die jong digter. “Maar Borges se verse werk goed in Russies, juis omdat dit so donker is.”
“Ken jy die werk van Lucebert?”
Sy donker oë is op die ou digter se lippe gevestig asof hy nog nooit ‘n mond van naderby gesien het nie.
“Ek kom van Odessa. Dis Babel se wêreld. Ek moet alles vóél.”
Is daar enigiets wat die jong digter kan hoor behalwe gedigte?
*
Toe die strate glimmend nat is buite in die donker nag lees Ilja Kaminski sy versreeks, “Dowe Republiek”, voor in die barok teatertjie La Bonbonnière waar blou en pienk verf afdop van die lyste se krulle. Eers het Elfi Sverdrup haar vreemde klankkonstruksies soos klonte voorgedra, die brullende opbreek van winde met asem soos ‘n duiwel se vloeke uit haar derms en buik totdat dit vasslaan teen die verhemelte. Een so ‘n knorknaag in die keelvel kom as dialoog van Inuït vroue wat met diep asemontploffings wedywer teen mekaar en die wat eerste lag verloor. Daarna lees Michael Krüger die brief wat God in die hemel vir Marx geskryf het, om te vra hoe dit gaan en waarmee hy hom deesdae besig hou. Marx hou nie van Bach nie.
En nou is dit die groot, lomp, dowe jong Ilja se beurt. Hy buig sy aansienlike bo-lyf in die losse trui oor die mikrofoon, haal sy bril af en bring die bladsye tot dig aan sy oë. En begin skandeer. “Hy praat nie soos ‘n dowe nie,” sê Pura. “Hy verwoord doofheid.” Aan die begin kan mens nie uitmaak of hy in Russies of Engels lees nie. Sy stem klim soos dié van ‘n wenende wolf. En tjank. So het Brodski ook gelees. Dit moet ‘n bepaalde Russiese ekstase wees. Vroeër die dag het hy gesê Brodski se raad was dat indien jy in die Empire lewe dit ver van die hoofstad moet wees, by die see.
*
Terwyl haar man slaap, vertel Sonja ‘n storie
… reg in die pad van die aankomende trein
naai ‘n vrou en ‘n man in die sneeu.
Oorweeg dit, my siel, hierdie tekstuur van koppigheid en wees stil:
terwyl sy sak en styg bo hom in die lug,
begeer hy haar en hy begeer haar nie, hy wil haar hê
met die belofte van daardie volheid.
Oorweeg hierdie aankomende trein
waarin die kondukteur fluit, die klok lui en skree
asof hy weier om te glo hulle is doof
Oorweeg, my siel, die doofheid
en die man, sy aardse voertuig.
Die trein hou stil, die kondukteur fluister
Mag julle die lotery wen en dit alles uitgee op dokters!
Die vrou trek haar jas reg, en lag -
“Een van ons moes eerste stop, meneer. Ek kon nie.”
*
Met die skielike koue vlamme van herfs begin gesels die bome teen die beboste heuwels met mekaar. Daar is so te sê ‘n knettering vurige herinneringe. Spatsels woede ook. En baie berou aan liefde.
Voor die stomtyd.
*
gister was ek ‘n Joegoslaaf
vandag is ek ‘n Belg
môre is ek ‘n engel in die hemel
één van onder tot bo
*
bo die slaapslangrivier
tussen geel en rooi bome
uitgeputte mynhope
soos piramidegrafte vir die armes
geen swart vlees
meer gepeul ondergronds, net
skagte hol aanwesigheid
ook in dorpies is skoorstene dood
*
die digtersfees
kyk na die digters
hulle kom uit verskeurde lande
met kole in die oë
en neergestuifde skilfers op kraag
en mou, sommige het vlae
van betrokkenheid geviervou
tot die inperking en samevatting
van ‘n teks in ‘n skraal bundel
wat hulle onder kalklig vanaf ‘n kateder sal mompel
vir ‘n yl gehoor wat niks verstaan nie
kyk hoe hulle in lomp danspassies
al sirkelende mekaar probeer bekoor
hoe hulle in romantiese verblinding
soek na die verleiding van die ander se lyf
hoe morsig en kortstondig eensaam
is die liefde
luister hoe hulle luister na mekaar
se voorlesing uit verse
asof dit die belangrikste nagnuus is
wat môre vroeg fladderend
sal wegvlermuis tot niks
slaap piekanienie die vee’s in die kraal
kyk hoe vergas hulle mekaar
met gefatsoeneerde klankdrolle,
‘n familietwis, ontroue bemindes,
vergete vaders, ‘n grepie onderdrukking,
die versugting na stilte in die grond
kyk hoe drink die digters
die drank wat ander betaal
observeer die skeefgetrapte skoene
die liprooisel wat bysiende aangeverf is
hoe hulle op die toilet die blokkiesraaisel
probeer invul van die koerant
wat gratis voor die hotelkamerdeur gelos is
kyk hoe onthou die digters die name
van dese en gene wat laasjaar
nog hier was gekruk op ‘n kierie
of laatnag besope en natgepis in ‘n gang
kyk hoe belangrik is die digters
elk voor eie spieël
wanneer die gloeilampie swak is
kyk hoe dun is hulle beursies
kyk hoe vernaam neem hulle afskeid
om te verdwyn in ‘n reële wêreld
onsigbaar soos bedelaars
met geheime opdragte
wie se stemme nie gehoor word nie
*
paraprosdokian - a phrase or a sentence that leads us down a garden path to an unexpected ending
© Breyten Breytenbach. November 2010
_____________________________________________________________
Tuesday, July 20th, 2010
 Maputo se katedraal
Ek dink die hele naweek lank aan Breyten Breytenbach se gedig “Die swart stad” uit sy bundel Kouevuur:
weer jou veral teen die bitterheid, swart kind,
dit, en dat jy nie mag droom nie…
Ek probeer onthou hoe die res van die gedig gaan. Ek dink ook oor Johann Lodewyk Marais se boek Lae wolke oor Mosambiek, wat ek ʼn paar jaar gelede gelees het. En aan Ruth First se boek Black Gold, oor trekarbeiders van Mosambiek wat in Suid-Afrikaanse myne werk. Naby die plek waar Ruth First se kantoor was, by Eduardo Mondlane Universiteit, is nou ʼn gedenksteen.
My jongste broer Jan en sy vrou Lirette gaan Maputo toe vir die naweek. Hulle wil weet of ek wil saam. Natuurlik! Ons vriendin Erika spring ook in my broer se Jeep en ons slaan die snelweg oos. Die seil oor die kajuit wapper in die ysige Hoëveldwind. Maar dis okei, ons gaan somer toe.
“Kouevuur” is in 1969 gepubliseer. Dis die jaar toe ek gebore is. Maputo was toe nog Lorenco Marques. Dis waar die gedig geskryf is. LM Radio. Suid-Afrikaners sit op die Costa do Sol se stoep en eet kreef, kyk deur die palmbome vir die oseaan. Blou teëls op die vloer, die gebou se art deco lyne.
In 1975 het Mosambiek onafhanklik geword. Lorenco Marques se naam is na Maputo toe verander. Portugese is die keuse gegee om Mosambiekse burgers te word. Anders is hulle toegelaat om die land binne 24 uur te verlaat, met 20kg bagasie. Die huidige president, Armando Guebusa, het destyds daardie opdrag gegee. Vir lank het hulle hom “Mister 20/24″ genoem. Van die 200 000 Portugese in Mosambiek het 180 000 die land binne ʼn bestek van ʼn paar dae verlaat. Alle eiendom is genasionaliseer.
knip en kam liewer gereeld jou papajaboom
en onthou die wolke tree op ook vir jou
en rotte eet vullis
Na onafhanklikheid het ʼn burgeroorlog uitgebreek. Frelimo teen Renamo. Frelimo met ʼn magsbasis in die suide, gesteun deur o.a. Rusland en Oos-Duitsland. Renamo in die noorde, gesteun deur o.a. Suid-Afrika.
Jan, my broer, het in die laat-negentigs vir twee jaar lank in Mosambiek gewoon. Hy praat gevolglik Portugees, wat dinge makliker maak - onderhandelinge by die grenspos, met verkeerspolisie - sulke dinge. Destyds met die vloed was Jan betrokke by hulpverlening aan die land. Doeanebeamptes wou omkoopgeld hê voor hulle noodvoorraad en voedsel deur die hawe sou toelaat. Ek weet nie of Jan die omkoopgeld betaal het nie.
Ons het destyds, in 1998, vir hom gaan kuier met die trein. By Ressano Garcia, op die grens, was daar nog koeëlgate in die mure. Maar nou was die oorlog was verby. Stilgehou in die Herbert Baker-stasiegebou. Dis turkoois geverf. Maputo is ʼn pragtige stad. Destyds, in 1998, het dinge reeds beter begin lyk. ʼn Burgeroorlog kan nogal onaangenaam wees.
Die Jeep kom in Maputo aan. Tot onlangs was dit nogal moeilik om van die buitewyke van die stad tot in die middestad te kom; geen straatligte nie, slaggate in die paaie, orals was verkeersknope. Nou is daar splinternuwe paaie, straatligte, dubbelbane in en uit die stad, verkeersligte wat die vloei reguleer. Dit voel soos ʼn nuwe stad. Ons boek ons by die backpackers in. Dis reeds laat en ons is honger. Soos soveel Suid-Afrikaners voor ons gaan sit ons op die Costa do Sol se stoep. MacMahon draught, kreef, garnale, barrakuda - op die kole gaargemaak.
Dis Saterdag. Skaars vyf ure van Johannesburg af is dit somer. Ek dra ʼn T-hemp. Stap in die strate rond, bewonder die argitektuur. Ek sal Sao Paolo en Lissabon moet besoek. Cobra-styl van argitektuur, Brasiliaans, as ek dit nie mis het nie. Ons neem die veerboot oor die rivier, wat ook die hawe se ingang is. ʼn Massiewe vragskip vaar verby. Gesels op die veerboot met twee mans van Swaziland wat vir die naweek see toe gekom het. Aan die oorkant, by Catembe, stap ons op die strand tot by ʼn restaurant onder casuarinabome. Eet garnale, drink witwyn.
Na 1975 is daar bitter min nuwe geboue in Maputo opgerig. Die stad het dus daardie aaklige postmoderne fase gemis wat lelike plekke soos Sandton in Suid-Afrika veroorsaak het. Dis elegante, modernistiese lyne. Parketvloere, houttrappe. Lieflik. Selfs die backpackers waar ons tuisgaan het houtvloere. Nou staan die stad vol hyskrane. Nuwe geboue word opgerig, oues weer geverf.
Ons besoek die katedraal in die middestad, langs die stadsaal. Toevallig is daar ʼn troue wat klaarmaak en ons kry ʼn kans om die gebou van binne te sien. Dis massief, ʼn katedraal wat vir ʼn wêreldstad bedoel is. Maputo is weer besig om ʼn wêreldstad te word.
waak veral teen die slymerige swart papaja
van bitterheid, swart kind -
hy wat daarvan eet sterf op bajonette
en in biblioteke,
sterf alleen in die mond
Op die laaste dag eet ons ontbyt langs die see. Dis ʼn bootklub. Idillies. Mense roei met kajakke op die stil oseaan. Op die strand voor die restaurant se stoep speel ʼn kleuter, haar ma en pa naby, asook ʼn oppasster in daardie kenmerkende bediende-uniform wat jy ook in Johannesburg sien.
Thursday, July 15th, 2010
 Buffelsbaai, 1990
Ek sit in Pretoria, dink aan see. Spesifiek Breyten Breytenbach se “Septembersee” - die “see sonder tornyne”, die “see sonder skop”. Mark Behr haal die gedig aan in sy boek Kings of the water. Ek het dit onlangs op Irma se aandrang gelees, ook gaan luister wat Mark Behr daaroor sê by die Boekehuis in Aucklandpark. Hy’t ʼn mus opgehad, gepraat oor sy sessies by die psigoterapeut.
Hy sê hy moes hom indink in die skoene van die mense wat hy veraai het. Hy sê hy’s gelukkig, want daardie mense kon terugpraat, hom konfronteer met wat hy gedoen het. En hulle is sterk mense. Dit help met die helingsproses.
Irma wil weet wat gebeur as die mense wat ons veraai het nie sterk is nie, nie herstel nie.
ʼn Briefie beland in my posbus, van die gawe mense wat ons rekenaarnetwerke administreer. “Soos u bewus is,” skryf hulle, “is daar tans beperkte internasionale bandwydte beskikbaar as gevolg van ‘n fout met die SEACOM ondersee optiese vesel… SEACOM se beraamde tydsduur vir die herstel van die ondersee optiese vesel, is op die stadium 22 Julie 2010…”
O, goeiste!
Die brief verduidelik verder: “Die verlengde tydsduur is weens die feit dat die fout blyk te wees met ‘n segment van die vesel wat meer as 4700 meter onderseevlak lê, en dat uiters gevorderde robotiese tuie gebruik word om dele van die herstelwerk uit te voer, voor die vesel vanaf die seebed gelig word vir finale herstelwerk.”
Dit klink soos iets uit ʼn toekomsfliek uit die sestigs. Flash Gordon, of iets. Of was dit die tagtigs?
Ek verbeel my die uiters gevorderde robotiese tuie, amper vyf kilometer onder die see se oppervlak. Die uiters gevorderde robotiese tuie se knypers vroetel in die seebed se sand.
“Waar’s die f****n optiese kabel nou weer, Mathilda?”
“Moenie my vra nie, Arnoldus, dis jy wat dit jare gelede hier begrawe het!”
“Moet jou nie swaksinnig hou nie, jy weet dit was my vorige model”
“Sug…”
Dis lekker om weer amptelike briewe in Afrikaans te ontvang, met sinsnedes soos “uiters gevorderde robotiese tuie.” Lees dit hardop. Herhaal. Nou kort dit net ʼn stel tromme en ʼn baskitaar, dalk ʼn DJ wat scratch:
uiters gevorderde robotiese tuie
vir die see se koue dra hulle truie
uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel
uiters gevorderde robotiese tuie
vir stip konsentrasie rook hulle kruie
uiters gevorderde robotiese tuie
werk aan optiese vesel ondersee
uiters gevorderde robotiese tuie
vir onderwaterasem kou hulle uie
uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel
Ek lees weer Gert Vlok Nel se enigste digbundel. Ek dink aan “desember & see” op bladsy 13. Dit eindig só:
5-uur het ons verwater & wild op die strand uitgehol,
jeans & truie, saam met windsurfers in wetsuits. dit
was haunting. hemel & fokken aarde toegewrap in wolk. ons
was gou warm, t.s.v. die kak drizzle. ek
wou iets (die oggend) vergestalt in rots of rym
maar het alreeds alles weggegee
aan herinnering & pyn
Ek dink oor Mark Behr. Ek is die laaste persoon wat klippe in sy rigting kan gooi. Ek moes ook dinge uitskryf.
Wat sou Gert en sy broer Attie sê as uiters gevorderde robotiese tuie skielik uit die see te voorskyn sou tree, met die optiese vesel in hul kloue wat hierdie gemompel van my rekenaar na joune toe moet dra?
Dis dalk oor die vesels dat my Skype nie werk nie, hoekom ek so afgesny voel. Die teenoorgestelde van die exile waaroor Breyten Breytenbach destyds in “Septembersee” geskryf het. En hier in Pretoria is nie eers ʼn see nie.
Wednesday, July 14th, 2010
Ek het maande laas geblog en dit laat my sleg voel. Naar-op-die-maag van skuldgevoelens. Angstig omdat ek sien hoe “blog” laer en laer afskuif op my ellelange to-do list. Kortasem oor die skuld en angs oor my ongeblogde blogs. Gestress oor my moeilike asemhaling. Siek oor die stress my immuunstelsel opdonner. Ensovoorts.
Dis nie dat ek niks gehad het om oor te skryf nie. Ek het onlangs vir byna ‘n minuut langs Breyten Breytenbach gestaan. Ons het beide gewag vir dieselfde toilet om onbeset te raak, in tyd en ruimte bymekaargebring deur ‘n mees menslike nood - daar’s ‘n blog of drie daar: staan ek voor die man met ‘n bek vol tande en gee geboorte aan niks anders as asem nie. Ek het daardie selfde aand ‘n geselsie met Charl-Pierre Naudé gemaak - en ek kan ‘n hele blog daaroor ook volgemaak het, maar nee, eers nog stilte.
Ek het nie een woord geblog oor die sokker, die goeie boeke wat ek onlangs gelees het, die nuwe Almadovar-film of enige van die fantastiese gedigte wat sedert my laaste tikkie oor my pad gekom het nie. Ek dink aan klomp goed om te skryf wat oulik en relevant sal wees maar ek kom nie daarby uit nie, want ek het reuse probleme.
Olifante.
Olifante is die rede waarom ek wanneer-laas geblog het. Dis ook hulle skuld dat ek gladnie skryf tans nie. Niks nie. Nie eers to-do lists meer nie, wat nog te praat van gedigte. Ek kan nie, oor die olifante.
Elke keer as ek met my notaboek reg sit en wag op ‘n gedig, verskyn ‘n olifant. ‘n Inkerige olifant, soos die twee.

Ek teken olifant op olifant op olifant. Ek skryf niks. Hierdie maand het nie eers die dreigende skryfkunde-klas my aan die skryf gekry nie. Ek het ‘n paar power pogings ingehandig wat ek lank terug geskryf het, en daar gaan sit met my notaboek vol olifante. My dosent het nie veel tyd gemors op die gagga gedigte nie - sy kon darem sien iets is nie lekker nie. Ek verduidelik dat ek tans geïntimideer voel deur die grootsheid van my taak. Stilgemaak deur die stemme van groot digters, die insigte van groot denkers, die waardigheid van groot geeste. (Ek bly maar stil oor die teenwoordigheid van groot soogdiere.) My dosent draai een van my swak gedigte om en begin vir my iets teken in ‘n poging om haar les te illustreer. Sy teken, jou wragtag, ‘n olifant. Haar raad: “Eet die olifant happie vir happie.” Baby steps (the baby elephant walk?), klein bietjies op ‘n slag, stukkie-vir-stukkie tot jy iets uitrig.
Sug. Dieselfde woorde wat my klavier-juffrou op hoërskool gesê het toe ek nie die graad sewe Barok stukke kon baasraak nie. Ek het ure voor die klavier gesit en tjank, maar happie vir happie is daai olifant in.
Vegan-of-nie-vegan-nie, ek begin nou weer aan my dig-olifant eet. Met lang tande, ja. Lang wit ivoortande. En ek sien hier kom nog trane. Maar dis reg. Ek is reg vir hom. My maag grom.
Sunday, May 23rd, 2010
The DAAD Artists-in-Berlin Program in South Africa presents:
Of literary buccaneers and global (master)minds: an evening with Breyten Breytenbach and Charl-Pierre Naudé, chaired by Ingrid de Kok
Breyten Breytenbach and Charl-Pierre Naudé in conversation on a postmodern and postcolonial world and its many realities. They speak of global literature, middle worlds and a life in transit, of expectations and reality of the New South Africa, about awakening and remembrance, visions
and sore spots - and the hope of the fruition of the rainbow-nation.
Breyten Breytenbach is internationally known as one of South Africa’s most important poets and was a 1989 DAAD Artists-in-Berlin Program guest. Charl-Pierre Naudé’s literary works are considered to be milestones in Afrikaans poetry.
Date: Wednesday 26 May
Time: 5:00 for 5:30pm
Venue: Idasa’s Cape Town Democracy Center, 6 Spin Street
RSVP: Andreas Spath at aspath@idasa.org.za or 021 467 7606
www.democracycentre.wordpress.com
The DAAD Artists-in-Berlin Program (Berliner Künstlerprogramm, www.berliner-kuenstlerprogramm.de) is one of the most renowned international programs, offering grants to artists in the fields of visual arts, literature, music and film. As part of the German cultural weeks entitled “Football meets Culture”, the DAAD Artists-in-Berlin Program is organising a series of art events in Johannesburg and Cape Town. They are meant to highlight the global and cosmopolitan dimension of soccer and to bring together artists who are cross-border forward thinkers in a postmodern world.
Friday, March 19th, 2010
 Omslag
‘n Lieflike publikasie van Breyten Breytenbach wat deur sy internasionale uitgewer, Archipelago Books, heruitgegee is en nou weer in die handel beskikbaar is, is All One Horse - ‘n versameling met sewe-en-twintig essays en afdrukke van sewe-en-twintig waterverfskilderye. En soms weet ‘n mens gewoon nie wat die mees aangrypende is nie; die woordskilderye of die verfgedigte, want soos ‘n mens by Breytenbach leer verwag het, bestaan daar geen grense (of onderskeid) nie: ”Heaven and earth are one finger, all things are one horse,” haal hy ‘n gesegde van Chang Tzu ter verduideliking aan in sy “voorwoord” wat ironies genoeg onderteken is as A. Uthor.
Pure Breyten, pure briljantheid. En as somtotaal van onbegrensde dinge, ‘n totaal uitbundige kartografie van ballingskap, primordiale mitologie, surrealistiese denke en filosofie - veral van tyd en geskiedenis - asook die kuns, hetsy visueel of talig.
Bookslut se resensent som dié boek soos volg op: “Each surreal, interconnected piece in All One Horse has the effect of quicksand or a tornado - you travel entirely into its vortex and, afterwards, retain only some remnants of the experience. You remember an image, maybe, or a moment, or some dreamy scenes that mutate and grow in your mind later. Yet there is weight to every passage, political weight, human weight, natural weight.”
Maar kom ons sluit vanoggend se Nuuswekker af met Breyten in sy eie woorde. Ek neem dit uit die essay “Like a Whiplash” waarin hy oor die kwessie van poësie as kunsvorm besin: “I repair to the toilet to perch over nothingness. Like an angel sickening for take-off. And there I die inside out. The discretion of poetry, all the more polite for never being talked about, is the hiding of the bitterness of evacuation.”
***
Op die webblad is ‘n hoogtepunt sekerlik Yves T’Sjoen se sewende aflewering in sy reeks oor peritekste; dié keer oor die digkuns van Saskia de Jong. Maar wat is “peritekste”, mag jy vra. Wel, Yves verklaar dit besonder goed in die openingsparagraaf van genoemde stuk: “Een gedichtenbundel is meer dan een bundeling van gedichten. Het boek is een artefact waarin de dichter meerdere tools in stelling brengt die de teksten met betekenissen kunnen opladen.” Fassinerende leesstof, inderdaad.
Nog plasings is nuwe blogs deur Andries Bezuidenhout en Lize Viljoen.
En dan is dit boonop naweek! Lekker lees aan alles en hê pret met wat ook al op hande is.
Mooi bly.
LE
|
|