Posts Tagged ‘Brixton Barnard’

Andries Bezuidenhout. Kanker

Tuesday, April 24th, 2012

1

Ek ry deesdae gereeld tussen Pretoria (of Tshwane) en Potchefstroom (of Tlokwe). Twee p’s vir twee t’s. ʼn Mens kan met die N1 suid ry en dan op die Kimberleypad klim, maar ek verkies ʼn roete wat effe langer neem – verby Carletonville en ʼn klein dorpie genaamd Welverdiend. By Welverdiend het pragtige rooibaksteen spoorweghuise en ʼn petrolstasie genaamd “Hi Way Motors” my eerste opgeval. Nou kan ek myself nie help om elke keer as ek daar verbyry met my kamera die plek in te boender nie.

Ek werk nou aan ʼn hele paar landskapskilderye van die omgewing. Ek het veral ʼn voorliefde vir bloekombome ontwikkel. Myne se skagtorings, mynhope, mielielande, bloekoms. Dis alles dinge wat ʼn landskap vir my mooi maak, my tuis laat voel.

2

Ek luister weer na Cowboy Junkies se “Trinity Sessions”. Dis ʼn opname in ʼn kerk. Margot Timmins sing met haar lieflike stem:

We are miners, hard rock miners
To the shaft house we must go
Oil bottles on our shoulders
We are marching to the slow

On the line boys, on the line boys
Drill your holes and stand in line
‘til the shift boss comes to tell you
You must drill her out on time

Can’t you feel the rock dust in your lungs?
It’ll cut down a miner when he is still young
Two years and the silicosis takes hold
and I feel like I’m dying from mining for gold

Yes, I feel like I’m dying from mining for gold.

Ek’s nie seker of hierdie liriek korrek is nie. Dis ʼn tradisionele lied. Dit laat my aan my oupagrootjie dink – Andries Jacobus Burger Rossouw. Hy’s op die ouderdom van dertig aan myntering dood.

3

Ek is deel van ʼn nuwe projek. Ons noem onsself die Vrye Radikales. Daar’s Drikus (of Brixton) Barnard op kitaar en stem en Marguerite Visser op klawerbord, kitaar en stem. Ek slaan ook kitaar en sing. Ons neem landskapskilderye deur ek en Marguerite saam, stal dit uit by plekke waar ons optree. Ons probeer om die musiek en skilderye met mekaar in gesprek laat tree, maar ek weet nie of dit altyd so suksesvol is nie. Dis veral lekker om by Nieu-Bethesda in die tennisklub se saal op te tree. Die mense daar kyk stip na die skilderye. Marguerite se pa wil weet hoekom ons die Vrye Radikales is. Dra ons dan nie klere nie?

 

4

Twee werke van Marguerite is deel van ʼn uitstalling by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn. Die uitstalling se titel is “Hangende tuine”. Marguerite se werke is van mynhope, met gruis en gras in klein botteltjies daarop gemonteer.

5

Op die Vrye Radikales se toer kom Hanné Koster saam om ʼn dokumentêre program te skiet. By plekke waar daar min mense opdaag is klubeienaars waarskynlik vriendeliker met ons as andersins, weens die kamera se teenwoordigheid. In Oudtshoorn gaan kyk ek saam met Hanné na ʼn uitstalling van Walter Meyer se landskapskilderye. Daar’s een van ʼn straattoneel in Prins Albert waarvan ek baie hou.

Soms wonder ek hoekom ek aanhou om musiek te maak en voor skraal gehore op te tree. Die Afrikaanse taalgemeenskap is te klein om die tipe musiek wat ek maak te regverdig. Hoekom sleep ek nog swaar luidsprekers en kitaarkiste rond?

maak die kis oop
haal jou snare uit
steek peule met jou stemvurk stukkend
skep, kou, sluk

g’n pêrels hier nie
g’n pêrels hier nie

6

“Hier’s net leë borde in die ondergrond,” sing Trike. Steak & Ale brand af. Ek gaan die gebou mis. Dis langs ʼn treinspoor, in Bothalaan. Koos du Plessis het destyds daar gesit, in die plek se voorganger. Naas Voëlvry se backdrop, deur Catharina Scheepers gemaak, was die skildery van James Philips agter Steak & Ale se verhoog seker een van mees klassieke backdrops in Suid-Afrikaanse musiek. Niemand weet wat van die Voëlvry-backdrop geword het nie. Steak & Ale s’n het afgebrand. 

7

Ek wonder of my oupagrootjie ook soos ek oor myne se skagtorings gevoel het. Seker nie. Die tipe nostalgie waaraan ek ly is waarskynlik generasiegebonde.

Johannesburg in houtskool

Thursday, August 5th, 2010

Ek werk op die oomblik aan ʼn projek saam met die beeldende kunstenaar Jaco van den Heever. Hy doen houtskoolsketse, op die oomblik meestal tonele uit Johannesburg - city scapes, soos hulle op Engels sou sê (”stadskappe” werk net nie lekker nie). Sy mees onlangse uitstalling se titel is “Civilized Violence” - lees ʼn resensie daarvan hier.

ʼn Mens doen kunstenaars altyd ʼn onguns aan deur hulle met ander te vergelyk. Laat ek egter waag om te noem dat sy tonele aan William Kentridge herinner, maar dat sy tegniek baie fyner is; dalk iets van Diane Victor. Baie van die tonele uit die uitstalling ken ek goed. Soos Gerhard Moerdyk se kerk by Cottesloe:

Cottesloe is natuurlik bekend oor die verklaring wat daar geskryf is oor die Bybelse grondslag van apartheid (”Niemand wat in Jesus Christus glo, mag uitgesluit word uit enige Kerk op grond van sy kleur of ras nie.”; “Daar is geen Skriftuurlike gronde vir ‘n verbod op gemengde huwelike nie.”). Vir ʼn rare oomblik had die dominees ʼn punt, maar die politici het met mag en mening op hulle toegesak. Anders as Beyers Naudé, kon min van hulle die druk weerstaan; kies toe Verwoerd bo geloof.

Ek dink altyd aan hierdie gebeurtenis in 1960 as ek by die kerk verbyry, alhoewel die verklaring self nie daar geskryf is nie. Net oorkant die pad is die ou “Gas Works”, wat in die volgende skets is:

Johannesburg bly vir my ʼn besonderse stad. Ek pak die bokse by die woonstel met ʼn swaar hart in, luister na Valiant Swart se “Jacaranda”, oor en oor. Ek dink ook die heeltyd aan “Paul van der Zandt”, ʼn lied deur Brixton Barnard, wat saam met my in die Brixton Moord & Roof Orkes speel. Dit vat iets vas van die stad in daardie jare wat ons so in limbo was - 1990 tot 1994:

Paul van der Zandt, suiker het deur jou gebrand -
jy kon net nie stil sit, die boy wat se gat juk
was orals in Johannesburg en omliggende areas berug,
jy het mense ontstig.
Hulle het geweet dat jou kop raas, kon nie wag dat jy uitpass,
of iewers anders op daai motorbike wou gaan roam -
Doors, Alcatraz, Thunderdome.
Jy was bourcers se slaansak, hulle’t gekom met ʼn snotklap
tot jy een aand met ʼn baksteen opstaan - hy retireer,
so het die dinge gebeur.
Op daai eindelose Vrydae, op daai eindelose Vrydae
toe ons almal gemaak het of die son nooit weer sou skyn
oor die ou grys geboue, in jonkwees se kloue
met niks om te doen but onsself te versoen
met die feit dat ons net hier rondkruip;
punks en headbangers, gothic sonskerm,
Luther Lugosi was eintlik Albertus Jan Theron;
ons was almal alright.
Le Club, happy hour, Donderdae duiselig,
Vrydae het white trash vir hul sondes by die werk loop betaal,
al die stories herhaal.
Die boere maak skoonskip, het net in tyd my trip,
my bong in my long my dot op die tong ingesluk;
dagbreek toe druk.
Rudi se wit Ford, somer se lang quarts
Tony Wyomi nie Juffrou Ciccone, my vriend
ons het almal gedroom;
geslaan aan kitare, grunge en lang hare -
die pyn van Cobain, die Cramps se drug train,
pay your dues, nog ʼn amp wat uitfuse,
nog ʼn band met ʼn drommer wat verlief raak op ʼn nommer
en sommer sy stokkies ophang vir die babakakblues,
die babbakakblues…

Paul van der Zandt, ek hoor maar net nie eers koerant,
van jou tragiese einde, in Marketstraat, eintlik
het ek jou ʼn week voor die tyd in Wings Beat Bar gesien;
jy’t gesê jy is all right, jy’t gesê jy is all right,
jy’t gesê dit gaan goed
en Kurt Cobain het gesweer hy’t nie ʼn geweer.

Nou wonder ek: Is dit toelaatbaar om in ʼn band genaamd Brixton Moord & Roof Orkes te wees as jy in Pretoria woon? Aan die ander kant, ek woon lank nie meer in Brixton nie. Toe die Abelarde Sanction sy deure toemaak was die plek nooit weer dieselfde nie.

Om te roof, of om nie te roof nie

Friday, February 5th, 2010
Mariska Ison

Foto: Mariska Ison

Ek sit met ʼn bietjie van ʼn identiteitskrisis. Is my naam Andries of Roof? Die gerugte blyk toe waar te wees, dat die Brixton Moord & Roof Orkes weer bestaan. Is dit nou die Hervormde Brixton Moord & Roof Orkes? Ek is nie seker nie. Ek weet ook nie mooi hoe die ding gebeur het nie. Ek was by ʼn gig van Bacchus Nel in die Bohemian in Johannesburg se Richmond en toe ek weer sien is ek op die verhoog vir ʼn impromptu optrede deur voormalige lede van die band. Twee weke later is ek in die studio vir band practice. Ons werk nou al ʼn paar maande aan nuwe songs en nuwe interpretasies van ou gunstelinge. Ek weet steeds nie of dit ʼn goeie idee is nie. Die reaksie is egter oorweldigend. Die band se Facebook-groep staan reeds sterk en ons kry van oral versoeke vir optredes.

Vir eers is dit egter net die Aasvoëlklub in Bloemfontein en Steak & Ale in Centurion waar ons gaan optree, maar dan eers aan die einde van Februarie en in Maart.

Die musiekding op my eie het ook ʼn eie momentum gekry. Dis nou as jou platemaatskappy daarop aandring dat jy ʼn bekendstelling (ook bekend as die “launch”) doen. Bleek Berus word dus amptelik bekendgestel in Johannesburg by Prosound se winkel (dis blykbaar eerder store, of dalk selfs ʼn waenhuis, as enige iets anders) by die Hillfox-winkelsentrum in Hendrik Potgieterlaan, Roodepoort op Donderdag, 11 Februarie. Die deure maak 18:00 oop, maar die storie sal seker eers so teen 20:00 begin. Dan is daar die volgende aand, m.a.w. Vrydag, 12 Februarie, ook ʼn bekendstelling by die einste Steak & Ale in Bothalaan, Centurion. Bel maar betyds om ʼn tafel te bespreek by (012) 664-5155.

Hier’s ʼn ou liriek van die Brixton Moord & Roof Orkes. Dis deur Brixton Barnard, die ou wat links op die foto staan, geskryf. Dan is daar, agter hom, Kapelaan Pat Plank, ek (Roof Bezuidenhout) voor in die middel, en langs my is Moord Evans. Hier’s die liriek. Ek kry nie nou die CD nie, so ek tik dit uit my kop uit, soos ek dit onthou, van duisende kere se speel terwyl Brixton Barnard sing:

Paul van der Zandt,
suiker het deur jou gebrand,
jy kon net nie stilsit,
die boy wat se gat jeuk
was orals in Johannesburg
en omliggende areas berug,
jy het mense onstig.
Hul ‘t geweet dat jou kop raas,
kon nie wag dat jy uitpass,
of iewers anders
op jou motorbike wou gaan roam;
Doors, Alcatraz, Thunderdome.
Jy was bouncers se slaansak,
hul ‘t gekom met ʼn snotklap
tot jy een aand met ʼn baksteen opstaan.
Hy retireer.
So het die dinge gebeur…
Op daai eindelose Vrydae,
op daai eindelose Vrydae
toe ons almal gemaak het
of die son nooit weer sou skyn,
of hy nooit weer sou skyn.
Oor jou grys geboue,
in jonk wees se kloue
met niks om te doen
but onsself te versoen met die feit
dat ons net hier rondkruip.
Punks en head bangers,
Gothic sonskerm
Luther Lugosi was eintlik Albertus Jan Theron,
ons was almal oraait.
Somer se lang quarts,
Rudi se wit Ford,
Tony Wyoming, mejuffrou Ciccone,
my vriend, ons het almal gedroom.
Geslaan aan kitare,
grunge en lang hare,
die pyn van Cobain
die Cramps se drug train,
pay your dues.
Nog ʼn amp wat uitfuze.
Nog ʼn band nog ʼn drommer
wat verlief raak op ʼn nommer
en sommer sy stokkies ophang
vir die babakak blues,
die babakak blues…

Paul van der Zand,
ek hoor maar net, nie eers koerant,
van jou tragiese einde,
in Marketstraat, eintlik
het ek jou ʼn week voor die tyd
by Wings Beat Bar gesien.
Jy’t gesê jy’s oraait.
jy’t gesê jy is oraait,
jy’t gesê jy is okei
en Kurt Cobain het gesweer
hy’t nie ʼn geweer,
Kurt Cobain het gesweer,
Kurt Cobain het gesweer
hy’t nie ʼn geweer.

Só iets. Iewers is daar ʼn lyn van white trash wat vir hul sondes by die werk loop betaal en al die stories herhaal wat ek nie heeltemal kan onthou waar dit inpas nie. Kom luister maar self by die volgende gig. Ek hou veral daarvan om te speel as ons Drikus (ook bekend as Brixton Barnard) se songs doen. Dan staan ek terug en luister terwyl ek net op die kitaar hoef te konsentreer. Soms hoef ek nie eers te konsentreer nie.

Daar’s tog iets te sê vir die bespeel van instrumente saam met ander mense.

Woensdag, 10 Junie 2009

Wednesday, June 10th, 2009
Steak & Ale, Lyttelton

Steak & Ale, Lyttelton

Op sy blog-inskrywing verlede Vrydag vertel Andries Bezuidenhout van ‘n wonderlike geleentheid môre-aand, 11 Junie, by die Steak & Ale in Lyttelton. ‘n Hele span digters en musikante gaan naamlik die koue aanvat en daarvan iets plesierigs maak. Die digters wat gaan optree, is: HJ Pieterse, Johannes Prins, Ronel Nel, René Bohnen, Braam Smit, Niel van Deventer en Kabous Verwoed (wat gedigte lees op die maat van musiek deur Dawie de Jager) en (dalk) Martjie Bosman. Die musikante is Andries Bezuidenhout, Brixton Barnard, Riku Lätti en Jon-Henry Opperman van Klopjag. Wat ‘n program! En dit alles net vir R60, met kaas en wyn ingesluit. (Kyk hier vir al die inligting.)

Terloops, ons sien uit na jou verslag hieroor, Andries, want hierdie ene gaan ‘n gróóte wees; inderdaad, ‘n bloubulgeleentheid soos min. Sterkte vir julle almal, en ja - ons beny julle dié vreugde; veral om Die Hertog weer in aksie te kan sien! Ai, ai, ai. (As lusmaker kan julle solank Carina Stander se skitterende artikel, Die Heelalburg van Hertog Bloubaard, hier lees.)

Mooi bly.

LE

Woorde teen die winter…

Friday, June 5th, 2009

Gautengers, kom tog Donderdagaand, 11 Junie Steak & Ale toe! Ek hou van hierdie kroeg en restaurant in Lyttelton deels omdat dit so ‘n onpretensieuse venue is. Dis in Bothalaan langs ‘n treinspoor. Toe Koos du Plessis nog gelewe het, het hy daar uitgehang, alhoewel die plek toe ‘n ander naam gehad het. Dis in ‘n tipiese voorstedelike winkelsentrum met ‘n swop shop en ‘n apteek. Agter die verhoog is ‘n groot skildery van James Phillips en teen die een muur is ‘n opgestopte koedoekop. Die plek binne het egter ongelooflike akoestiek, deels weens die grasdak bo die kroeg, en ‘n killer ingeboude klankstelsel.

Die foto hier bo is daar geneem tydens ‘n tribute show aan Johnny Cash. Van links na regs is Piet Botha, Kapelaan Pat Plank, Paul Riekert en Jim Neversink. Maar dit was ‘n vorige geleentheid. Kom geniet hierdie Donderdagaand ‘n aand met Afrikaanse gedigte en musiek om die koue uit die winter te haal. Die eerste 50 mense wat bespreek kry gratis ‘n CD - “in die begin was die woord”, met gedigte en musiek van mense soos Gert Vlok Nel, Charl-Pierre Naude, Ronel Nel, Danie Marais, Paul Riekert, Henning Pieterse en Riku Lätti.

Digters wat van hul gedigte gaan voorlees is HJ Pieterse, Johannes Prins, Ronel Nel, René Bohnen, Braam Smit, Niel van Deventer en Kabous Verwoed (wat gedigte lees op die maat van musiek deur Dawie de Jager). Ek probeer nog om vir Martjie Bosman te oortuig om ook te kom. Die musikante vir die aand is ek, Brixton Barnard, Riku Lätti en Jon-Henry Opperman van Klopjag.

Almal hier ken vir Hennig Pieterse, so dis nie nodig om hom voor te stel nie. Ek is veral opgewonde omdat beide hy en Riku daar gaan wees. Riku het baie mooi toonsettings van Henning se gedigte gedoen.

Jo Prins was verantwoordelik vir “Leketaal”, ‘n gewilde rubriek oor digkuns in By, en is in die Nuwe Stemme-reeks gepubliseer. Ons kan uitsien na sy debuutbundel wat later hierdie jaar gepubliseer word.

Kabous Verwoed is onder andere bekend vir sy CD “Beenkamers en Gange”, waarop hy gedigte saam met musiek voorlees. Hy en Dawie de Jager het al meer as 50 keer reg oor die land saam opgetree en in die proses hulle verhoog gedeel met mense soos Bacchus Nel, Gert Vlok Nel, Riku Latti en Albert de Vos.

Ronel Nel se gedigte is in verskeie versamelbundels gepubliseer en haar debuutbundel “[en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]” het in 2002 by Protea Boekhuis verskyn. Sy is ook verantwoordelik vir die saamstel van die CD “In die begin was die woord”, wat digkuns en musiek kombineer.

René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel “Spoorsny” (finalis vir Ingrid Jonker-prys in 2001). Haar gedigte word ook in verskeie bundels en opgeneem asook in Ian Raper se CD-verse “Klikspinger”. Haar werk figureer ook op die Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn (Haikoes - gebede vir die landskap, die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe se installasie) wat later in ‘n feesbundel verskyn.

Braam Smit is ‘n digter van Pretoria wat self betrokke is by die organisering van geleenthede waartydens gedigte voorgelees word, gereeld ook in kombinasie met musiek. Van sy gedigte is gepubliseer in versamelbundels in Suid-Afrika en Nederland.

Niel van Deventer het in 2006 as musikant begin naam maak as die frontman van die Afrikaanse folk-rock groep Radio Suid Afrika. Hulle musiek het veral vanweë sy sterk lirieke hard geslaan en weldra het hy ook as skrywer en digter die oog gevang.

Oor die musikante net die volgende: Brixton Barnard is ook bekend as Drikus van die voormalige Brixton Moord & Roof Orkes. Saam met Esmé Evakwaad, sy partner in crime in die duo Trike, het hy al ‘n hele paar CD’s vrygestel. Hy is op die oomblik besig om aan ‘n solo-CD te werk. Riku is al ‘n gevestigde naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Hy is ook besig om gehore in Nederland en België met sy musiek te bekoor. Sy eerste trippel-CD, “Tussen Kontinente”, is pas uitgereik. Dis ook Riku se verjaarsdag! Jon-Henry Opperman is natuurlik die front man van die immer gewilde Klopjag kom doen ‘n paar solo-tunes.

Datum: 11 Junie 2009; Tyd: 19h00 vir 19h30; Toegang: R60 per persoon, sluit kaas en wyn in. Wyne geborg deur Vrede en Lust wyne. Tafelbesprekings: (012) 664 5155

Aanwysings hier.