Posts Tagged ‘Brixton Moord & Roof Orkes’
Wednesday, March 30th, 2011
ʼn Liriek wat nou ʼn tuiste soek. Vreemd hoe die Karoo en windpompe iets kan inspireer wat oor voorstede en ekonomiese resessies gaan. Die Brixton Moord & Roof Orkes se nuwe plaat (voorlopige titel: “Slaaptyd in die suburbs”) vorder goed en daar is soveel nuwe materiaal dat ʼn paar lirieke wat ek daarvoor geskryf het, nou ander huise gaan moet vind – die band se volgende CD, of dalk weer ʼn solo-projek. Dalk bly hierdie een maar net hier hang. Fiskaal se prooi.
Aasvoëls bo Langenhovenpark
Driebeenjakkals het ʼn lam gevang
by die laaste plaas voor Loxton se dam.
Aasvoël wag vol begeerte op die windpomp,
aan stomende wolke hang nog ʼn klomp
en op wat nou nog oor is van telefoondrade
sit die gulsige oë van witborsrawe.
Refrein:
Kom pik aan die karkas, kom pik pik pik,
julle vreters van aas, kom pik pik pik.
Druk julle snawels tussen sening en been,
jy moet pik pik pik as dit karkasse reën.
Splinternuwe Prado het ʼn steenbok getrap
op Williston en Carnarvon se pad.
GPS gee koördinate van die feesmaal
vir vos se kind om die buit te kom haal.
Aan die lug wat oorkook, die verwagte aasvoël
en kraaie op die koop toe voltooi die skool.
Refrein
ʼn Middelklasfamilie het bankrot gespeel
in Langenhovenpark se beste deel.
Prokureurs, ouditeurs en al die ander teurs
vergader in dasse vir elkeen se deel.
Die fiskaal fladder in met ʼn hofbevel
wat die terme van die aasmaal stip uitspel.
Jou adres jou skakel in die voedselketting –
roofdier, aasdier, of prooi se nering,
oogtande, snawel of herkouer se bek.
Pik jy aan oorskiet, of breek jy ʼn nek?
Refrein

Thursday, January 20th, 2011
Soms sukkel ek om te besluit of ʼn idee ʼn gedig of ʼn liriek moet word. Soms is dit eers die een en word later die ander. ʼn Baie goeie liriek sou ʼn gedig ook kon wees, maar met my is dit selde die geval, hoofsaaklik dalk omdat kwatryne met paarrym nogal oordadig kan wees. Die volgende is die eerste weergawe van die gedig van hierdie spesifieke idee, wat uit Tom Waits se “Soldier’s Things” gebore is, maar dit heeltemal wysig met ʼn ander konteks en ʼn besliste storielyn:
TESTAMENT
(Lees saam met Soldier’s Things van Tom Waits)
Bokse, koeverte, albums, leggers –
op jou instruksies hier laat aflaai.
Maak oop, pak uit, sorteer.
Ons wat met ʼn lewe se skrapnel
honger waters bootsmanloos navigeer
(ekskuseer die rym en melodrama, vriend).
Jy’s twee of drie op die strand,
Violet of Anna hou dop,
jou in die een oog, in die ander die see.
Skoolrapporte. Beste vordering, selde afwesig.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.
Nou afwesig, vir altyd, vir goed.
Jikwit tennisspan, jy voor in die middel,
septer ʼn raket.
Tweede rugbyspan, melkbaarde hou aan balle vas.
Pro Patria-medalje, ongebeitsde stewels, baret,
pelotonfoto in Langa of Khayelitsha,
skote uit Ondangwa, pips, boshoed.
Ou identiteitsboek, nommer wat uitmond in 00 0,
staatsdiensgroen, pienk stempel, dié oorblufte portret
het in die 92-referendum gestem.
Varsitydas. Koshuispet.
T-hemp met the doors of culture and learning
wat somewhere over the rainbow sou oopgrendel.
Gradeplegtigheid in Bat Man-mondering.
Sjampanjeprop, spyskaart van een of ander dinee,
draft vir ʼn liefdesbrief,
dalk ʼn poging tot liriek of gedig.
Verseëlde maar verstreke government issue kondoom.
Vriende, óns, Marius, dis óns en jy
wat vir Vic Falls se sproei so lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.
Dít alles, Marius, het jy vir ons nagelaat
en instruksies om dit ter aarde te bestel
by hierdie genommerde erf langs ander Van Wyks,
brandwagsipresse buite Wellington, Wes-Kaap, Afrika.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van Wyk niet”?
Anyway, jou testament beweer
jy’t vooruit vir die gat betaal.
Iemand laat uit Brisbane weet
die ooswind het jou as kom haal.
Ek het toe besluit om dit om te skakel in ʼn liriek vir die Brixton Moord & Roof Orkes, want my kop draai op die oomblik om nuwe lirieke vir ons volgende album. Na ʼn ernstige paneelklopsessie het dit in die volgende verander (Die stomme, wyle Marius se van moes ook sommer verander, ter wille van die ritme):
WAAR MARIUS VAN DER MERWE RUS
Koeverte, albums, leggers, ʼn boks –
op jou instruksies hier gelos.
Maak oop, pak uit, sif, sorteer,
ons wat deur jou skrapnel navigeer.
Hier’s jy twee of drie op die strand,
nog vas aan Violet of Anna se hand.
Skoolrapporte sê: Altyd daar gewees.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.
Refrein:
Skerwe en flarde, wat bly oor
as jou borskas besluit om jou longe te versmoor,
foto’s, papiere, ʼn muntstuk vir die reis,
vir die gemantelde bootsman om rigting te wys?
Tweede rugbyspan hou balle vas,
melkbaarde, truie skoon gewas.
Jikwit tennisspan, jy heel voor –
die jaar toe jy jou bybel verloor.
Gradeplegtigheid, koshuispet,
Pro Patria-medalje, stewels, baret,
pelotonfoto in Khayelitsha of Langa,
boshoed, dear Johnny, skote uit Ondangwa.
Refrein
Ou ID boek wat eindig in 00 0,
staatsdiensgroen, die stempel onthul
jy’t in die laaste wit referendum gestem.
ʼn R5 noot en ʼn Parker pen.
T-hemp met the doors of culture and learning
wat over the rainbow lig sou bring.
Sjampanjeprop, spyskaart van ʼn pompous dinee,
draft vir ʼn liefdesbrief, ʼn gedig of twee.
Refrein
Verseëlde, verstreke government kondoom,
ʼn blaartjie gepars van jou daggaboom.
Vriende, óns, wat by Vic Falls lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.
Jou testament wat in swart op wit bepaal
jy’t anyway vooruit vir die gat betaal.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van der Merwe niet”?
Op refrein se melodie:
Dít alles toe ons jou kratte oopmaak
en instruksies om dit hier ter aarde te laat
onder brandwagsipresse buite Pretoria
in ʼn genommerde erf langs jou ma en pa.
Maatskaplike werker stuur uit Brisbane nuus
vir jou as het die wind die rivier gekies.
Die melodie wat ek daarvoor geskryf het, is ʼn buierige drietyd, wat meestal tussen B mineur en G wissel, soms E mineur, my gunstelingakkoord. ʼn Lekker tranetrekker. As ons van Phoenix of Nashville was, sou dit ʼn uitstekende country tune kon maak. Ek sal dit hierdie week aan die band voorlê om te sien wat hulle daarmee wil aanvang. Baie keer maak ons veranderinge nadat ons dit ʼn paar keer tussen trom en baskitaar rondegemoker het. Die borskas wat die longe versmoor is dalk bietjie too much vir ʼn refrein.
ʼn Volgende stap sou natuurlik kon wees om van die ergste rymdwang ontslae te raak en dit weer in ʼn gedig te verander. Die liriek se einde werk vir my beter as die gedig s’n.
 Die band se volgende gig, saam met Die See
Thursday, November 18th, 2010
My naam is Roof en ek speel in ʼn rock band. Sowat ʼn jaar gelede het ek uit die band bedank en my naam terug verander na Andries toe. Ek kon die band egter nie los nie. Nou kan ek my vingers nie vir lank van kitaarsnare af hou nie.
Die plek waar die Brixton Moord & Roof Orkes weekliks rehearse en musiek opneem, is in Johannesburg. In Lynnekom, om die waarheid te sê, nie Brixton nie. We’ve kind of moved on in life. Verlede week het een van ons vir Saartjie Baumann raakgery en volgens berigte sy is steeds in die intensiewe eenheid in Park Lane Kliniek, die swart haarkrul teen haar voorkop vasgeplak met sweet en bloed. Dalk het hulle dit al gewas.
Die bloed is vinnig van die kar afgewas en die duik sommer met die hoek van ʼn baskitaar se amp uitgeslaan. Jy moet net weet hoe om te mik. Langsaan, nie op die duik nie; dit maak dit erger.
Gisteraand het ons voorberei vir Vrydagaand se gig by Steak & Ale in Lyttelton. Ons speel saam met ʼn nuwe band genaamd Die See. Hulle maak op die oomblik nogal golwe in die industrie.
Ek was nie lus vir band practice gisteraand nie. Ek is moeg, moeg, moeg. Ry van Pretoria af Johannesburg toe. Ek is vroeg, vroeg, vroeg. Stop by ʼn winkel en koop wegneemsushi, eet dit met ʼn vurk in die kar. Wat het van my lewe geword? Ek eet wegneemsushi voor band practice met ʼn vurk in die kar. Langs my staan ʼn Coca Cola-trok en luier. Môre kry ek nog drie miljoen vraestelle om te merk.
ʼn Entjie in band practice in onthou ek hoekom ek dit doen. Ek onthou hoekom ek dit doen toe ek van die drie miljoen vraestelle vergeet, van die werkers wat besig is om my kantoor kleiner te maak om meer personeel op die negentiende vloer in te pas, die navorsingsartikel wat ek oor ʼn week moet inhandig, die navorsingsartikel wat ek self nog moet evalueer, die vorms wat ek moet invul sodat die NRF (daar’s seker ʼn Afrikaanse akroniem vir die organisasie, maar wat de hel?) my kan evalueer, my bloeddruk, die kar wat twee duisend kilometer gelede gediens moes wees, my hemde by die lôndrie (ek kry nie tyd om hulle op te laai nie en dra T-hemde werk toe), my graad in kreatiewe skryfkunde wat nou al vir ʼn jaar lank op bakstene staan op ʼn pad iewers tussen Trompsburg en Colesberg, ensofreakingvoorts.
Hiervan alles vergeet ek toe ons Brixton Barnard se nuwe komposisie speel:
Selle loop in serie,
flitslig sukkel met die stroom.
Die battery lek lelik,
daar is ʼn skeur reg oor die soom.
Kabels dans soos kobras,
hul spoeg ʼn vuur, ʼn vonk.
Die skoonheid van dit alles
los my halfpad dronk.
Sal jou liefhê tot die einde van dae.
Die radio vang net suis op,
die TV sien net sneeu.
Tog kyk ek nog aandagtig,
onredelik vasgeboei.
Daar’s ʼn disko op die hoofweg,
net ligte geen musiek.
Hulle dra oranje baadjies,
dis seker retrosjiek.
Sal jou liefhê tot die einde van dae.
© Liriek: Brixton Barnard
Kyk hier vir ʼn effe siniese weergawe van wat by een van ons vorige gigs in Bloemfontein gebeur het. Dis deur Ruan Scott geskryf.
 Foto: Dot Vermeulen
Wednesday, October 13th, 2010

Ek kom maak hierdie naweek ʼn draai in Bloemfontein en Kroonstad saam met die Brixton Moord & Roof Orkes, sou iemand in die omgewing lus voel vir ʼn bietjie rock ‘n roll. Vrydagaand (15 Okt.) kuier ons weer by die Aasvoëlklub buite Bloemfontein en Saterdagaand (16 Okt.) speel ons by Skokiaan in Kroonstad. Daar’s ʼn hele paar nuwe songs op die spyskaart, van die album wat ons besig is om op te neem. (Voorlopige titel: “Slaaptyd in die suburbs”.)
Vir Faceboekers is daar meer besonderhede hier en hier.
Hier’s ʼn nuwe liriek, as voorsmakie:
WORD WAKKER MARIANNE
Duif teen die venster, klap van ʼn deur,
maar Marianne het reeds vertrek na ʼn ander kleur,
lig in haar hande, haar hande in die lug –
waarheen droom sy, wanneer kom sy terug?
Word wakker Marianne, word wakker Marianne,
daar’s niemand wat verstaan wat jy doen
om deur ʼn nagmerrie te slaap nie.
Marianne jou naam op ʼn spieël gegraveer,
uile loer van nokke op jou kamer neer,
ligte uit jou laaie, water op die trap,
wonde wat soos honde in jou rigting hap.
Word wakker Marianne, word wakker Marianne,
daar’s niemand wat verstaan wat jy doen
om deur ʼn nagmerrie te slaap nie.
Ek kan die blitse agter jou ooglede nie sien nie,
beelde wat daar flits, movies wat daar screen nie,
Marianne verdwaal in die holtes van haar kop,
Marianne word plastiek in die lyf van pop.
Word wakker Marianne, word wakker Marianne,
daar’s niemand wat verstaan wat jy doen
om deur ʼn nagmerrie te slaap nie.
(c) Brixton Moord & Roof Orkes
Tuesday, August 17th, 2010
Die jaar 2002. Dis vreemd, as ʼn mens nou gaan krap in die onlangse geskiedenis, hoe ver terug dit voel. In Januarie daardie jaar neem Doctors Without Borders standpunt teen die Suid-Afrikaanse regering in en voer generiese medisyne vir HIV-lyers in; in weerwil van Suid-Afrikaanse patentewetgewing.
In Februarie teken ek ʼn skets van ʼn art deco porseleinbak met ʼn sonbril en motorsleutels:

Uit watter gedig kom dit? Die sonbril en die motorsleutels? “Soek na sonbril en motorsleutels…” Mense is by ʼn vakansieoord. Daar is ʼn tragedie. Hare, bloed. Die digter soek sy sonbril en motorsleutels.
Aan die einde van Maart vra die minister van gesondeheid, Manto Tshabalala-Msimang, die grondwetlike hof om die verskaffing van nevirapine aan HIV-pasiënte te staak. In Julie spreek Nelson Mandela homself, heel subtiel, teen die regering se gebrek aan konkrete optrede teen HIV uit.
Op 1 Junie sterf die omstrede krieketspeler Hansie Cronjé in ʼn vliegongeluk. In Oktober ontplof ʼn aantal bomme in Soweto en een in Bronkhorstspruit. Die Boeremag aanvaar verantwoordelikheid. Ek moet in Harare wees, want ek het ʼn skets uit Oktober 2002, wat dit aandui:

Ek hou van Harare, veral die inheemse bome. Ek ruil geld by ʼn man met ʼn kattebak vol banknote. By ʼn winkelsentrum laai ʼn vrou met kakieklere en bruingebrande bene saailinge by ʼn kwekery van haar bakkie af. Sy noem aan die werkers wat die plastiekhouers met die boompies in ontvang dat die “veterans” gister by haar plaas opgedaag het. Ek ry suide toe, gaan besoek die Great Zimbabwe.
Mbongani Ngema maak neem ʼn lied op wat Indiërs kritiseer. Dit word verban. Een of ander tyd in 2002 stel die Brixton Moord & Roof Orkes ons eerste CD Spergebied vry. Resensente is mal daaroor, maar ons verkoop nie duisende eenhede daarvan nie.
In 2002 vind die eerste Coca Cola Pop Stars kompetisie ook plaas. Die wenners, so sê die web se orakel, was ʼn groep genaamd 101. Ek wonder waar hulle vandag is. Ek sou ook verbaas wees as enige van die voormalige lede (of lede?) van 101 al ooit gehoor het van die Brixton Moord & Roof Orkes.
Ek leer ʼn lewensles: As resensente van iets hou, is die kanse goed dat dit nie goed gaan verkoop nie.
Friday, August 13th, 2010
Die jaar 2000 is ʼn skrikkeljaar. Ek en Irma woon in Brixton, Johannesburg. Ons huis, uit die 1920s, is kruipafstand van ʼn kroeg genaamd die Abelarde Sanction. Ons het eers gedink dis ʼn karateklub, maar by nadere ondersoek vind ons bottels bier en ʼn pooltafel. Ook ʼn kroegeienaar met ʼn geweer. Sy naam is Taz en later sou ons uitvind dat sy van Viljoen is.
In die Abelarde Sanction hang trade unionists en voormalige huursoldate uit. Sommige het gewere (nie die trade unionists nie). Een aand kom Kader Asmal met ʼn gevolg ook ʼn besoek aflê, die hemele alleen weet hoekom. Teen die mure hang koerante se lokplakkate, wat nuus aankondig soos: “Pastor drowns during baptism.”
Taz het ʼn klankstelsel en ʼn verhoog. Ek en ʼn vriendin, Liela Groenewald (wat ook in Brixton woon), begin om gigs daar te doen. Ons sing ons eie komposisies, meestal in Afrikaans. Net stem en kitaar.

Ek voel geïntimideerd op die verhoog, al is daar nooit honderde mense wat na die gigs toe kom nie. Ek dink ʼn naam vir ʼn denkbeeldige band uit - die Brixton Moord en Roof Orkes - en vra om verskoning dat hulle nie saam met my op die verhoog kan wees nie, aangesien hulle: sokker kyk/ dronk op die solder by die huis rondlê/ te moeg is om op te daag.
Min het ek geweet dat hulle een vir een sou aanmeld vir diens - in die Abelarde Sanction in Brixton.
In Februarie veroorsaak ʼn sikloon vloede in Mosambiek, waar my jonger broer Jan woon. Zimbabwe maak die Kariba-dam se sluise oop. In Maart tref nóg ʼn sikloon Mosambiek. Jan help met die pogings om hulp te verleen aan mense in nood. Ek en Liela neem ʼn show Oudtshoorn toe, vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Eeue in een teug. Om te beweer dat ons vir vol sale gespeel het, sou sake effe oordryf. Koos Kombuis kom luister darem wat ons aanvang. Ockert Greeff, ook van Brixton, speel djembe vir ons. Hy word die eerste lid wat by die Brixton Moord & Roof Orkes aansluit. Sy naam word Moord Greef en ek word Roof Bezuidenhout.
In April word Hansie Cronjé en ander daarvan beskuldig dat hulle krieketwedstryde gooi. In Junie sterf Mary Benson, wat onder andere ʼn biografie van Nelson Mandela geskryf het.
Ek werk aan ‘n digbundel oor Pretoria en Johannesburg.
Friday, February 5th, 2010
 Foto: Mariska Ison
Ek sit met ʼn bietjie van ʼn identiteitskrisis. Is my naam Andries of Roof? Die gerugte blyk toe waar te wees, dat die Brixton Moord & Roof Orkes weer bestaan. Is dit nou die Hervormde Brixton Moord & Roof Orkes? Ek is nie seker nie. Ek weet ook nie mooi hoe die ding gebeur het nie. Ek was by ʼn gig van Bacchus Nel in die Bohemian in Johannesburg se Richmond en toe ek weer sien is ek op die verhoog vir ʼn impromptu optrede deur voormalige lede van die band. Twee weke later is ek in die studio vir band practice. Ons werk nou al ʼn paar maande aan nuwe songs en nuwe interpretasies van ou gunstelinge. Ek weet steeds nie of dit ʼn goeie idee is nie. Die reaksie is egter oorweldigend. Die band se Facebook-groep staan reeds sterk en ons kry van oral versoeke vir optredes.
Vir eers is dit egter net die Aasvoëlklub in Bloemfontein en Steak & Ale in Centurion waar ons gaan optree, maar dan eers aan die einde van Februarie en in Maart.
Die musiekding op my eie het ook ʼn eie momentum gekry. Dis nou as jou platemaatskappy daarop aandring dat jy ʼn bekendstelling (ook bekend as die “launch”) doen. Bleek Berus word dus amptelik bekendgestel in Johannesburg by Prosound se winkel (dis blykbaar eerder store, of dalk selfs ʼn waenhuis, as enige iets anders) by die Hillfox-winkelsentrum in Hendrik Potgieterlaan, Roodepoort op Donderdag, 11 Februarie. Die deure maak 18:00 oop, maar die storie sal seker eers so teen 20:00 begin. Dan is daar die volgende aand, m.a.w. Vrydag, 12 Februarie, ook ʼn bekendstelling by die einste Steak & Ale in Bothalaan, Centurion. Bel maar betyds om ʼn tafel te bespreek by (012) 664-5155.
Hier’s ʼn ou liriek van die Brixton Moord & Roof Orkes. Dis deur Brixton Barnard, die ou wat links op die foto staan, geskryf. Dan is daar, agter hom, Kapelaan Pat Plank, ek (Roof Bezuidenhout) voor in die middel, en langs my is Moord Evans. Hier’s die liriek. Ek kry nie nou die CD nie, so ek tik dit uit my kop uit, soos ek dit onthou, van duisende kere se speel terwyl Brixton Barnard sing:
Paul van der Zandt,
suiker het deur jou gebrand,
jy kon net nie stilsit,
die boy wat se gat jeuk
was orals in Johannesburg
en omliggende areas berug,
jy het mense onstig.
Hul ‘t geweet dat jou kop raas,
kon nie wag dat jy uitpass,
of iewers anders
op jou motorbike wou gaan roam;
Doors, Alcatraz, Thunderdome.
Jy was bouncers se slaansak,
hul ‘t gekom met ʼn snotklap
tot jy een aand met ʼn baksteen opstaan.
Hy retireer.
So het die dinge gebeur…
Op daai eindelose Vrydae,
op daai eindelose Vrydae
toe ons almal gemaak het
of die son nooit weer sou skyn,
of hy nooit weer sou skyn.
Oor jou grys geboue,
in jonk wees se kloue
met niks om te doen
but onsself te versoen met die feit
dat ons net hier rondkruip.
Punks en head bangers,
Gothic sonskerm
Luther Lugosi was eintlik Albertus Jan Theron,
ons was almal oraait.
Somer se lang quarts,
Rudi se wit Ford,
Tony Wyoming, mejuffrou Ciccone,
my vriend, ons het almal gedroom.
Geslaan aan kitare,
grunge en lang hare,
die pyn van Cobain
die Cramps se drug train,
pay your dues.
Nog ʼn amp wat uitfuze.
Nog ʼn band nog ʼn drommer
wat verlief raak op ʼn nommer
en sommer sy stokkies ophang
vir die babakak blues,
die babakak blues…
Paul van der Zand,
ek hoor maar net, nie eers koerant,
van jou tragiese einde,
in Marketstraat, eintlik
het ek jou ʼn week voor die tyd
by Wings Beat Bar gesien.
Jy’t gesê jy’s oraait.
jy’t gesê jy is oraait,
jy’t gesê jy is okei
en Kurt Cobain het gesweer
hy’t nie ʼn geweer,
Kurt Cobain het gesweer,
Kurt Cobain het gesweer
hy’t nie ʼn geweer.
Só iets. Iewers is daar ʼn lyn van white trash wat vir hul sondes by die werk loop betaal en al die stories herhaal wat ek nie heeltemal kan onthou waar dit inpas nie. Kom luister maar self by die volgende gig. Ek hou veral daarvan om te speel as ons Drikus (ook bekend as Brixton Barnard) se songs doen. Dan staan ek terug en luister terwyl ek net op die kitaar hoef te konsentreer. Soms hoef ek nie eers te konsentreer nie.
Daar’s tog iets te sê vir die bespeel van instrumente saam met ander mense.
Monday, October 26th, 2009

Album: BLEEK BERUS
Kunstenaar: ANDRIES BEZUIDENHOUT
Label: ONE F MUSIC
Release: Oktober 2009
One F Music kondig met genoegdoening die vrystelling van Andries Bezuidenhout se tweede solo-CD, Bleek Berus, aan. Andries is reeds bekend as een van die land se mees toonaangewende singer-songwriters.
Bleek Berus bevat tien splinternuwe songs, waarvan die meeste deur Drikus Barnard tussen 2007 en 2009 opgeneem is. Dit bevat ook “Die laaste brandwag,” wat deur Paul Riekert in 2004 opgeneem is vir KykNet se program “Die liedjies wat ons ken.”
Tematies sny die meeste van die lirieke by die tema “woestyn” aan, hetsy die Namib, of die Hoëveld as menslike woestyn. “Vernichtungsbefehl,” die laaste track, is ook beskikbaar as gedig in Andries se digbundel Retoer. Temas soos identiteit en emigrasie word weer ontgin, maar op nuwe maniere.
Musikaal is Bleek Berus in die styl van baie van hedendaagse Americana en alt-country opgeneem, maar met ʼn plaaslike inslag - sterk akoestiese buitelyne wat subtiel met elektronika ingekleur word.
Die nuwe album volg na Insomniak se Droomalmanak (2003), asook Spergebied (2002) en Terug in Skubbe (2005), wat hy saam met die nou ontbinde Brixton Moord en Roof Orkes vrygestel het. Aan die einde van 2007 het sy debuutdigbundel Retoer by Protea Boekhuis verskyn.
CLAIR CANTRELL VAN ONE F MUSIC VRA MOEILIKE VRAE AAN ANDRIES OOR BLEEK BERUS:
1. Why did it take you so long to release another solo album?
Most of the songs and the concept for the album were ready a few years back. I had initially planned to record and release it shortly after the last Brixton Moord & Roof Orkes album “Terug in Skubbe”. Since the band’s first CD “Spergebied” was followed by a solo one, “Insomniak se Droomalmanak”, I thought it would be a productive rhythm. Kind of like band, solo, band, solo, and so on. But things didn’t work out that way. The band was in a bit of a crisis because of a shortage of new material, so I decided to suspend the solo project and to use the songs for the band. And then that also didn’t work out. I guess the songs were too introspective for the band, which was a rock band after all. When the band finally disbanded, I focused on poetry for a while, but the songs nagged to be recorded. Now, finally, after many years, I can release them.
2. The album is imbued with a sense of loss. Do you think it is time to, “Vat jou goed en trek Ferreira”?
For many it is, but not for me. My answer to that question is in the song “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry.” I’ve given far too much to this country and I’ve taken far too much from it to pack up and leave. But many of the songs deal with those decisions, and friends and family who decide otherwise.
3. You chose Drikus Barnard, who is a relatively unknown producer. What sparked that decision and what was the experience like?
Drikus, also known as Brixton Barnard, started recoding the songs for the Brixton Moord & Roof Orkes album, as bass player and co-vocalist. It made sense to continue working with him on the songs when the band project didn’t work out. He knows my songs well and is the right cynical antidote to the little bits of sentimentality that sometimes creep into my songs. In the end the recoding process took two years and I think he did a wonderful job. I hope people sit up and take notice of his work as a left field music producer.
4. Tell me more about your book in relation to this album and also the book launch you are attending on the 21st?
The book is called “As almal ver is”. It is a collection of essays about Diasporas and South Africans abroad, edited by Afrikaans poet Danie Marais. I contributed a piece on my visits to my sister in Australia and to Ockert (the former drummer of the Brixton Moord & Roof Orkes) in Canada. The book also contains comic strips and a beautiful lyric by David Kramer about a man, who emigrated to Canada, who visits the South African town where he grew up. Danie asked my to sing some of my songs that deal with the issue at the launch. But I must say, my album is more about staying than it is about leaving.
5. “Bring die buie, bring die reën, laat die wolke hulle trane oor droë grond ween” - has it happened yet? It has a response almost Nick Caves “Weeping Song” with a beacon of hope and also the “Ship Song”, with a bit of “1000 kisses deep”, this is your Bittervrug, “Ek sien jou in my drome”. You tell me…
The inspiration for the song comes from Lüderitz in Namibia. The town gets its water from deep under the surface of the desert; age old fossil water. The water tastes pure and feels soft on your skin. The Afrikaans poet Wilma Stockenström wrote a beautiful, but cynical poem about this called “Koichab se water.” My song about water under the desert’s surface is an attempt at a love song. I’m not very good at writing love songs, or declaring my love, so it is filled with trepidation. I can only hope that it works.
6. Explain the themes intrinsic to your album, and the relationship with Joburg - do you hope she misses you?
I initially wanted to call the album “Dorsland,” but that title had been used by someone else. Most of the songs are about the desert. I love the Karoo, the Kalahari, and the Namib. That is where I feel at home. Those are also the parts of southern Africa where Afrikaans is mostly spoken. In the Karoo Afrikaans cannot pretend to be a European language, it is unashamedly indigenised. Like the landscape, it is a tough, barren language, filled with sand and dust. I don’t feel I belong in Johannesburg, as if I’m just one of many immigrants from across the world who scrape a living here. But the Highveld also has its own beauty, especially in winter. That is what the song “Hoëveld-utopia” is about, where the album’s title comes from - bleek berus - bleak resignation. Even though the Highveld is a cold human desert, people seem to find beauty and warmth here. When I think of the place as a desert, I do too.
7. Do you make the same statements with your visual art as you do with music and your written word projects, do you speak the same ‘language’ in each medium? Not necessarily a written but emotional language?
I’m currently working on landscapes, or rather cityscapes of Johannesburg as seen from the balcony of my apartment. So I guess so. But painting allows me to escape words. When I paint I stop thinking in language and go numb. Without it, I think I’d go completely mad.
8. Making an album is making something and letting it walk its own road, Nick Cave likened his songs to being sad eyed children, your poetry, music and visual art - what is your relationship to these?
The problem with recorded albums and printed poems is that, unlike people, they can’t grow further. It’s final. So they’re not children. But some psychoanalysts argue people make art because of a fear of death. Apparently they also have children for this reason. So art and children are both attempts at immortality. Since I’ve never been in therapy, apart from the occasional session with Jack Daniels, I’m not sure about this. I’m happy to live a life that is only examined in lyrics. Who cares about immortality? That is the joy of working in a dying language. You know there won’t be people who speak or read Afrikaans two centuries from now, so Afrikaans songwriters and poets can never have pretentions of immortality. I hope this doesn’t sound too melodramatic, but at least we’re allowed to give our language a decent funeral.
9. This is certainly your most eloquently written album - tell me how your studies have broadened your ability to communicate what it is you wish the listener to “see”.
Thanks for the compliment. I guess you’re referring to the course in creative writing I’m doing with Marlene van Niekerk and Willem Anker? That is more for poetry, but I hope in future it will improve my lyrics as well.
10. Why are your comments on life so ‘bleak’ - why the dry, dark, ironic side of life - comment?
I don’t know. I don’t think I’m a particularly depressed or depressing individual. I hope people hear the humour in the lyrics and appreciate some of the tongue-in-cheek arrangements as well. After all, a little light makes you see the dark even better.
KOMMENTAAR OOR VORIGE ALBUMS

Spergebied, Brixton Moord & Roof Orkes (2002)
“Firmly in the middle of the new wave of Afrikaans rock bands, BMRO plays driving folk rock - kind of like Koos du Plessis had he ever heard Nirvana… Their debut album is uncomplicated in sound and filled with great songs (good lyrics is one of their hallmarks) about women, drinking, Jo’burg, yuppies, road rage and life in general… On the whole, music that will make you feel better the morning after you did something reprehensible.”
- Toast Coetzer, SL Magazine, December 2002/January 2003
“Afrikaanse rock het liriekskrywers soos hierdie nodig.”
- Pieter Redelinghuys, Insig, Junie 2002
“This is not a very cheerful album on the lyrical side, but the music really rocks. So, to mis-quote Syd (Kitchen, not Barrett), this CD is not for sissies, but the brave listener who ventures into this Restricted Area will be rewarded with some very unrestricted Afrikaans Rock.”
- Brian Currin, South African Rock Digest
“Afrikaans music in the folk or folk/rock style has been around for ages, producing excellent song writers like the superb Koos du Plessis and Koos Kombuis, reflecting many aspects of life in South Africa. This album carries on in that fine tradition… No-go areas of the human psyche, despair, hope, deterioration, love and violence are confronted with humour, anger, irony and sensitivity using brilliant imagery… Don’t let me give you the impression that this album is all doom and gloom. There is a great balance and serious fun, some great lines and good music that will leave you wondering when the next Brixton Moord en Roof Orkes CD will be coming out.”
- Etienne Creux, Pretoria News, 21 August 2002
“Hierdie is woordemusiek, maar nie daai kak soort wat traai diep wees nie. Lyrics gaan oor gewone stuff soos die lewe in Joburg, hoe kak yuppies is, armgeid, en road rage. En wie sal ooit weer kan stry dat daar meriete is in dronkword op mens se eie?… Doen nou julself ‘n moerse guns en gaan kry die CD of check die ouens live. Die CD het 12 befokte tracks op, dis bedonnerd gerecord met ‘n lekker cover en dis meer as die moeite werd. En moenie by ons kom huil as jy jou broek natpis na “Geraamtes in jou kas” nie. Sterk wees vir daai song.”
- CHopper CHarlie, watkykjy? Augustus 2002

Insomniak se Droomalmanak, Andries Bezuidenhout (2003)
“It has taken more than ten years, but at last there is a proper follow-up to Koos Kombuis’ seminal ‘Niemandsland’. On ‘Insomniak se Droomalmanak’ singer/songwriter Andries Bezuidenhout has taken Koos’ knack for melody and bittersweet Afrikaans lyrics and catapulted them into the new millennium. The fourteen songs tackle life in Gauteng, with its suburbia, yuppies and old lefties now living behind huge walls. There’s irony, protest and literary references. And not a single trace of Afrikaner nationalism.”
- Fred de Vries
“While some idiots give Afrikaans music a terrible name with their badly produced songs about rugby or Rooi Rok Bokkies, at least there are some artists like Koos Kombuis, Kobus! and Piet Botha to save the genre from becoming a line-dancing joke. Andries Bezuidenhout subscribes to the introspective, thought-provoking school of minimalist philosophical expression, commenting on life and the world, from the little things to the bigger picture. The poetic themes of the dream world, the waking dream, sleepwalking existence and the reflection of South African city and suburban life, changes, angst and being white these days may be a heady mix, but it works. There are reflections on idealistic student-type causes and ideals, on hope, longing and the current dispensation - not merely politically but socially, economically and everything else. While it is quite obvious, the only really accurate comparison to be drawn would be with Andre LeToit (better known as Koos Kombuis), both in style and some subject matter. Bezuidenhout loves the language and uses it expressively…”
- Paul Blom, Cape Argus, 27 October 2003
“Daar word baie gepraat oor ons land, sy probleme en die mense wat in hierdie omstandighede vasgevang is. Wanneer hierdie kwessies deur rym en sang getakel word, kyk jy weer op ‘n ander manier na die vreemde en wonderlike land waarin ons woon. As kunstenaars nog oor die moeilikhede kan sing en humor in situasies raaksien, kan dit jou help vrede maak met elektriese heinings en sekerheidsmaatskappye wat moet sorg dat vriende veilig kan kuier. Andries Bezuidenhout (van Brixton Moord & Roof Orkes) se kommentaar op die hedendaagse Suid-Afrika is skerp, op die man af en hartverskeurend mooi. Die lirieke vir sy CD Insomniak se droomalmanak maak vir elkeen sin, of hy uit die generasie linkses van ouds kom, of ‘n produk van die reënboog-situasie is… Soos die titelsnit aandui, is die saambindende tema wakkelê(wees) en droom van rus. Die ironie van iemand wat die wêreld juis in die donker nag duidelik sien, blyk uit feitlik al die lirieke. Op die meeste albums is ‘n snit of twee wat minder indruk maak as die ander. Selde gebeur dit dat elke snit op sy eie manier onder die luisteraar se vel kruip. Sonder om opdringerig te wees, maak Bezuidenhout ‘n sinvolle stelling in elke lied…”
- Mariana Malan, Die Burger, 6 Oktober 2003

Terug in Skubbe, Brixton Moord & Roof Orkes (2005)
” ‘Wie wil nou ‘n mens wees?’ vra Moord Greeff in ‘Vis’, die eerste lied op die Brixton Moord & Roof Orkes se jongste album, Terug in Skubbe. Daar sal sekerlik stemme opgaan van skepsels wat mens wíl wees juis omdat dit vir óns ore is dat die musiek van hierdie album bedoel is. Dis net ménse wat sal verstaan waaroor die seer en die soet in die lirieke gaan. Visse, honde en voëls het voorregte, maar musiekwaardering is nie een daarvan nie. Hierdie album laat ‘n mens opnuut wonder oor rockers se intense kennis van die lewe… In die geheel het hierdie (die groep se tweede) album se musiek meer verskeidenheid as die eerste, wat hoofsaaklik folk-rock bevat… Hul aanslag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het.”
- Mariana Malan, Die Burger, 11 Maart 2005
“Terug in skubbe is ‘n tema wat gaan oor omgekeerde evolusie. Soos die meeste songs op die album gaan dit ook oor persoonlike verval en agteruitgang, terwyl die tunes terselfdertyd die mooi daarin probeer raaksien. Gekompliseerde songs wat smag na die ongekompliseerde. Dis min of meer die uitgangspunt. Wanneer jy na dié band se goed luister, gaan dit nie anders kan as om te dink aan ‘n besonderse eiesoortigheid nie. Dit is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê. Sover soos true school gaan, is jy hierso op die regte pad.”
- Angola Badprop, Beeld, 18 April 2005
“To bring out a great first album is wonderful but to sustain that growth and creativity and come up with an even better second album (albeit more than two years later) is impressive… With all the social commentary and insights of their excellent first album Spergebied, the new album is much tighter, with a harder edge, in music as well as the lyrics. The brilliant imagery, which is at times cutting, humorous or cynical but never bland, explores the human psyche, especially the darker side… While the powerful poetry of Brixton Moord & Roof Orkes’ lyrics is probably their best feature, it is the beautiful tunes and arrangements with great vocals that complete the whole package to make this very fine album.”
- Etienne Creux, Pretoria News, 20 April 2005
“Die verskillende stemme is wat die CD laat werk. Nie noodwendig sangstemme nie (maar dié is daar ook). Eerder stemme wat iets te sê of te vertel het, iets wat nog nie tevore gesê of vertel is nie. Terug in skubbe is ‘n lieflike CD. Die grootste gros in hardekoejawel-rock. “Vis”, “Spoed”, “Sussie se sweep” en “Terapie” staan uit. Maar daar is ook dié wat die vrug van folk en country pluk. Bowenal soek ek die Afrikaanse tunes wat vanjaar by songs soos “Lisa Forward” en “Trane van ‘n terroris” kan kers vashou. Terug in skubbe is ‘n juweel.”
- Pieter Redelinghuys, Insig, Mei 2005
“Die manne van die Jo’burg Afrikaanse underground het weer gedilver en ‘n CD uitgebring waarvoor heelwat ander moet terugstaan. Terug in skubbe is ‘n tema van omgekeerde evolusie, maar dui eintlik op ‘n hunkering na eenvoudigheid in ‘n goor samelewing… Ander Afrikaanse bands gaan beslis ‘n paar tips in songwriting kan vang.”
- Angola Badprop, Beeld, 2 Mei 2005
“Brixton Moord en Roof se musiek dra ou, afgeleefde Cats; groet jou met ‘n ghrieserige hand en ruik effens na sweet en ou whiskey. Dis liedjies oor middelklas- en minder-as-middelklasmense in middelklas- of minder-as middelklasbuurte en die middelklas- of minder as middelklasdinge wat hulle doen. Die liedjie waaruit die CD-titel kom, Vis, verwys na ‘n gedig van D.J. Opperman waarin dit gaan oor die vrees om die evolusieleer mis te trap en ‘n paar trappe te gly… Kry dit as jy nie bang is vir musiek wat ‘n effense ghriessmaak in jou mond laat nie…”
- Jaco Jacobs, Volksblad, 9 Mei 2005
“Brixton Moord & Roof Orkes haat dit as mens hulle die Afrikaanse rockgroep met ‘n gewete noem… Maar dis waar. Terug in skubbe is hul beste album tot dusver, hoofsaaklik vanweë die baie afwisseling wat produksie en musiek betref… BMRO rock hier harder as ooit tevore. Maar onthou ook om te luister wat hulle sê.”
- Dirk Jordaan, Beeld, 11 Mei 2005
“BMRO extend their survey of South Africa’s psycho-geography with Terug In Skubbe. With their driving garage blues rock blow-outs (”Vis”), pastoral luisterliedjie pit stops and gothic rock overhauls of Koos Doep ballads (”Dagboek van ‘n Swerwer”), the cult Afrikaans rock outsiders percolate a potent post-Voëlvry brew.”
- Miles Keylock, CD Wherehouse, Mei 2005

One F Music
Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.
Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.
Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.
Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”
Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.
Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.
Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.
Tags: Angola Badprop, Anton Goosen, Bacchus Nel, Battery 9, Beeskraal, Brasse vannie Kaap, Brixton Moord & Roof Orkes, Diff-olie, fokofpolisiekar, Foto Na Dans, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Johannes Kerkorrel, Kallitz, Karen Zoid, Kobus!, Koos Kombuis, Mr Mac and the Genuines, Nul, Piet Botha, Prophets of da City, Riku Latti, Straatligkinders, Trike, Twintig jaar later: Van Voëlvry tot Fokof, Willim Welsyn Posted in Andries Bezuidenhout | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|