Posts Tagged ‘Bush Radio’

Andries Bezuidenhout. Toast en Erns op Bush Radio

Thursday, June 9th, 2011

Ek het al ʼn slag of wat vantevore hier oor die Unhappy Hour geskryf (”The Unhappy Hour, where you can cry if you want to…”) – ʼn left field program wat Sondagaande op Bush Radio uitgesaai word, van 18:00 tot 20:00. Vriende en kollegas in die Kolonie kan dit op die lug luister – op 89.5. Mense wat nie anderkant die Hexriviervallei bly nie, kan dit wel op die web hoor – dit stream hier. Sondagaand is Toast Coetzer en Erns Grundling se beurt.

Dankie tog hiervoor, in tye van generiese musiek, generiese nuus, generiese opinies en generiese siektes.

Liedjies vir Elvis - luister Sondagaand!

Friday, November 19th, 2010

Elvis Presley is een van die groot popkultuur-ikone van die twintigste eeu. Is daar enigiemand anders (behalwe nou Jesus, natuurlik) oor wie daar al soveel liedjies gekomponeer is? Ek glo nie so nie. Daar is letterlik honderde songs vir Elvis, oor Elvis, of songs waarin daar op een of ander wyse na Elvis verwys word. Van country tot death metal, van pop tot avant garde klassiek, van Graceland tot Disgraceland, Elvis word oor musikale grense heen vereer en verag, opgehemel en (soms goedig, soms genadeloos) mee gespot. Ek en Danie Marais het oor die laaste paar weke ‘n hele streepsak vol songs oor Elvis versamel, en Sondagaand van 18h00 tot 20h00 speel ons die beste, mees interessante van hierdie songs op Bush Radio (89.5fm) se The Unhappy Hour — waar Danie natuurlik gereeld as DJ en musikale gids optree. Die van julle wat nie in Kaapstad woon nie kan ook aanlyn by ons aansluit, by www.bushradio.co.za. Komaan, julle is nie te grand vir ‘n bietjie Elvis nie, is julle?!

Kom ween Sondagaand in jou hande saam met ons…

Wednesday, May 27th, 2009

Op die foto hier bo is die aanbieders van The Unhappy Hour, ʼn radioprogram wat elke Sondagaand van 18:00 tot 20:00 op Bush Radio 89.5 fm uitgesaai word. Ek dink mense in die omgewing van Kaapstad kan dit oor die draadloos hoor. Ons ander wat nie die merk van Zille op ons voorkop dra nie, kan dit gelukkig op die internet luister.

Om in te luister kliek net hier en as dit nie werk nie hier.

Die DJ’s op die foto is natuurlik niemand anders nie as Toast Coetzer (daar staan iets van Timboektoe op sy T-hemp, want hy was al daar), Clive E. Smith, Danie Marais (op hulle T-hemde staan “Your favorite band sucks”) en Ernst Grundling (op sy T-hemp staan iets geskryf van Huisgenoot, maar niemand weet hoekom nie).

Toast en Erns is ook die redakteurs van Ons Klijntji. Wanneer kom die volgende uitgawe uit, ouens?

Eerskomende Sondagaand gaan ek bietjie in die ateljee kom kuier en dan gesels ek, Danie en Clive oor life, the universe, and everything. Ek bring ook tracks van my volgende CD saam om te speel as ʼn voorsmakie. Ek het gister die meesteropname by Paul Riekert gekry. Ek dink die CD se titel gaan dalk “Bleek Berus” wees. (Dit sal nog so ʼn paar maande wees voor dit in die winkels is.)

Lees meer oor die Unhappy Hour hier.