Posts Tagged ‘Carina Stander’

Teen digterlike tangverlossings

Wednesday, July 15th, 2009

(… of dalk eerder narsissistiese notas oor waar my liefde vir poësie miskien vandaan kom, al stel niemand waarskynlik daarin belang nie – and good on them!)

 

‘n Vraag wat Louis Esterhuizen nou die dag vra sit my aan die dink oor waar my liefde vir gedigte vandaan kom. Hoekom koop mense digbundels? Of erger, hoekom lees hulle selfs daardie bundels? Of die alleverskriklikste moontlikheid: Hoekom slaan mense hul eie hande aan gediggies? Hoekom sal énigiemand hom of haar aan iets só pretensieus skuldig maak?

Ek onthou hoe Christo van Staden (Die Perdeby se kunsredakteur in die vroeë 1990s) uitgevaar het teen die Boheme wat in die Universiteit van Pretoria se koffiekroeg sit en “insipid poetgy uitguil” terwyl hulle vir mekaar vra “skgyf jy ook gedigte as jy depgressed is?” Ek hoop nie hy’t na my verwys nie. Ek dink hy het niemand minder as Breyten Breytenbach as ʼn ware digter gereken nie. Helaas, dit laat nie veel mense oor nie. As student het ek meestal geskryf as ek dronk of hoog is, maar danksy Christo sukkel ek nou nog om die term “digter” op myself van toepassing te maak.

Terug by Louis se vraag. Waar kom ʼn mens se liefde vir poësie vandaan? Dis iets wat mense wat hier rond boer as vanselfsprekend aanvaar, maar ek wonder nou al ʼn hele ruk daaroor.

Aanvanklik het ek oor my oupa Andries Rossouw se invloed nagedink. Hy was een van daardie outydse skoolhoofde. Hy was baie lief vir Afrikaans, dalk juis omdat hy amper Engels geword het in die strate van Belgravia en Bedfordview in Johannesburg, waar hy grootgeword het. Hy was in ʼn Engelse laerskool en al sy vriende was Engelssprekend, of van ander Europese lande. Hy is egter Helpmekaar toe vir hoërskool, waar hy vir die taal “gered” is. Soos hy eens geskryf het: “Ons was op pad om Rooinekkies te word, maar my leerlingskap by Helpmekaar was die reddende invloed met die gevolg: O moedertaal, o, soetste taal, jou het ek lief bo alles.” In die laat-20s en vroeë-30s hy aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer, met Afrikaans en Duits as hoofvakke.

Gits, as ek nou só na my familiegeskiedenis kyk, lyk dit nogal donker. Duits in die 1930s. Ek het ook Duits as vak op skool gekies. My ma het altyd gesê ʼn mens leer jou eie taal deur ander tale ken. Maar hoekom juis Duits?

Ek onthou hoe my oupa “Der Erlkönig” kon voordra. As hy aan die einde by “In seinen Armen das Kind war tot” kom, was daar trane in sy oë. Ek het ook trane in my oë gehad as hy my hand styf vasdruk, my reguit in die oë kyk en “ek hou van ʼn man wat sy man kan staan” voordra. Tranerigheid is ʼn eienskap wat ek seker van hom geërf het. (Aan die ander kant, hulle sê mense wat met ʼn tangverlossing die lewe ingesleep is, is van nature hartseer.) Nietemin, alhoewel ek nog nooit goed was met die bars kyke en die handdrukke van ware mans nie, moes my oupa se liefde vir digkuns tog iewers spore gelaat het.

Toe, nou die dag in ʼn gesprek met Carina Stander op haar blog, noem sy my “Driesie van die binneland”. En net daar gaan ʼn ou laai van my brein se leggerkas oop en onthou ek ʼn hele aantal “rympies” (“Driesie van die binneland, het gaan kuier by die strand, so sonder broek of sonder baadjie…”). Ek dink dit kom uit die Kleuterverseboek. Ek besef toe dat my ma reeds by ons as kleuters ʼn liefde vir rym en metriese taal gekweek het. Miskien is die Kleuterverseboek die belangrikste boek in enige huishouding met kinders. My ma het ons ook geleer hoe om na musiek te luister, om die verskillende instrumente in ʼn simfonieorkes te identifiseer. Ek het talle kere met klavierlesse met haar as instrukteur begin, maar weer opgehou daarmee. Ek wou komponeer voor ek toonlere kon speel. Ek het note neergeskryf en my ma dan beveel om die komposisies te speel. Helaas, die resultaat was afgryslik.

My ma se wysheid het verder as digkuns en musiek gestrek. Sy het ook gesê ʼn mens moet realisties kan skilder voor jy abstrakte werke aanpak; advies wat ek weereens tot my eie nadeel ignoreer het. (Hier moet ek darem byvoeg dat ek weens my pa se homofobie nie toegelaat is om kuns as vak op hoërskool te neem nie. ʼn Seun met ʼn verfkwas in die hand sukkel blykbaar nog meer om sy man te staan.)

My ma het ons as kinders ook aan die teater voorgestel. Ek onthou hoe ontsteld sy was omdat die gehoor op al die plekke in “Pa, maak vir my ʼn vlieër, Pa” gelag het waar sy gehuil het. Ek het besef my ma kyk anders na toneelstukke as ander mense. Maar dalk het sy nie oor die toneelstuk as sulks gehuil nie. Ek dink ek was te jonk om te besef wat die boodskap van die toneelstuk vir my moes wees.

Ek is nou nog spyt dat ek nooit met klavierlesse volhard het nie. Die kitaar moet instaan as tweede beste. As André Letoit kon komponeer met net vyf akkoorde, kon ek ook mos! Maar dis eers later. Die punt wat ek probeer maak is dat daar belangrike kragte tussen poësie en musiek lê. Teater ook.

Op hoërskool het ek Pink Floyd en Leonard Cohen ontdek. Vir adolessente speel musiek ʼn belangrike rol om ʼn liefde vir digkuns (of ten minste die versvorm) verder te ontwikkel, dink ek. Ek sukkel deesdae om veral na die latere Pink Floyd te luister. Dis net té. Van Wish you were here en Dark side of the moon hou ek egter nou nog. Van Leonard Cohen kan ek steeds nie genoeg kry nie. Goeie wyn. Ek het sy gedigte deur sy musiek leer ken. Vir my was hy was die eerste voorbeeld van iemand wat die grense tussen liriek en poësie kon oorsteek. O ja, dan was daar Koos du Plessis se plate. My pa het hom “vrolike Koos” genoem. Hy bly ʼn meester van die liriek. Hoe kan iemand wat graag na hom luister nie ook van gedigte hou nie?

Ek dink nie die digkuns wat ons op skool gedoen het, het veel gedoen om ʼn liefde vir poësie te kweek nie. Ek weet nie of die skuld voor die deur van die keuse van gedigte gelê moet word nie. Dalk was die probleem die dodelik didaktiese wyse waarvolgens onderwysers gedigte behandel het. Ek hoop dit het verander, maar om een of ander rede twyfel ek.

Na skool en die weermag jou uitspoeg (laasgenoemde gelukkig nou iets van die verlede), ontwikkel jy in elk geval ʼn smaak van jou eie en lees jy self verder. Mense wat teen hierdie tyd nie ʼn oor vir poësie ontwikkel het nie, sal waarskynlik lewenslank doof bly.

Ons alternatiewe tipes is deur André Letoit betower en wou almal met ernstige uitdrukkings op ons gesigte en pette op ons vuil hare deur Pretoria se strate strompel. By Grapevine in Sunnyside is vele pogings aangewend om iets soos “die son loop agter die wolke deur” neer te pen. Ek onthou ook hoe iemand vir my uit Die huis van die dowe uit voorgelees het in ʼn koshuiskamer by die kunsfees in Grahamstad.

ʼn Mens moet André Letoit en Breyten Breytenbach seker nie in dieselfde asem noem nie, maar ek hoop die geskiedenis sal wys hoe belangrik Letoit, of Kombuis, was om ʼn hele generasie gedigte te laat lees. Daarvoor sal ek hom immer dankbaar bly, vir hom en vir Gert Vlok Nel. Hulle het die poësie uit biblioteke gehaal en op die straathoeke gesit.

Vat my opinie hier maar van waar dit kom. Op universiteit het ek nooit ʼn taal as vak geneem nie. Ek bly ʼn poëtiese outodidak, ʼn tref-en-trap skrywer – steeds dalk iemand wat wil komponeer voor hy sy toonlere ken. Maar ek voel nie spyt oor my getas in die donker nie. Ek stamp goeters om en kry lelike houe op my knieë. Maar ek vind my eie pad. Ons tangverlossings is dalk maar so.

Aan die ander kant is daar soveel wat ek as vanselfsprekend aanvaar. Ek het ʼn kollega wat nou nog met haar ma Afrikaans praat, maar Engels met my. Soms sien ek haar met ʼn Afrikaanse boek. Haar ma het haar ook teater toe geneem en hulle was lede van ʼn biblioteek. Tot daardie teater vir hulle toegemaak is en hulle uit die biblioteek geskop is. My oupa het hierdie onvergeeflike dade waarskynlik goedgekeur. Dis hierdie verlede – die vervreemding van meer as die helfte van Afrikaanssprekendes van die taal – wat die grootste enkele struikelblok is vir ʼn lewendige Afrikaanse digkuns. Hoe maak ʼn mens reg wat só verkeerd was? Dis seker onmoontlik. As die Afrikaanse digkuns ʼn stadige dood sterf, verdien dit waarskynlik daardie einde.

Ek het nou vreeslik afgedwaal. Wat sou die antwoord op Louis se vraag wees? Vang hulle vroeg, dink ek. Nie met tange nie. Lees eerder uit die Kleuterverseboek voor. Trek voortdurend verbande tussen musiek en taal. Iewers sal ʼn vermoede dat poësie veel meer as net pretensie is dalk posvat. Hoe kan enigiemand onaangeraak bly as hulle oor Katrina van die Bo-Kaap lees, van Martin, Diana en de lô, van Koichab se water, of van Rick Turner wat vir sy dogter sê om aan die planete te dink voor die veiligheidspolisieman hom doodskiet:

Waar stelsels eens geblink het was skroot en gruis
– ʼn donker sterrewag. Alle denkbeelde
het dié onverdeelbare bestanddele,
uiteindelik: gebreekte lens en koeël; boog, kruis.

Ek kom nou die dag op ʼn opname van Josh Ritter, een van my gunsteling singer-songwriters, af. Dis sy weergawe van Der Erlkönig, wat hy, vreemd genoeg, as “Oak Tree King” vertaal het. Ek hou daarvan, maar voel ongemaklik daaroor. Hoe kan hierdie upstart sangertjie met sy kitaar aanpak, op Amerikaanse Engels nogal, wat Schubert reeds vervolmaak het? Aan die ander kant begin ons almal iewers met ʼn reis deur taal. Ek dink die Kleuterverseboek is waar ek begin het, met iets soos: “Allenig moes ek bed toe gaan dis donker in die gang” tot by “die skelm was my eie jas wat aan die kapstok hang.”

Die bekendstelling van die nuwe uitgawe van die Kleuterverseboek hierdie week in Bloemfontein is iets waarop ons almal maar ʼn glasie absynthe (“die groen feetjie”) kan klink.

Bernard Odendaal. Allooi van woord en beeld

Thursday, July 9th, 2009

ALLOOI

van woord en beeld

Uitstalling: Volksblad-kunstefees, 14-19 Julie 2009

Produksies waarin woord- en toonkuns saamspan, is redelik bekend op Afrikaanse kunstefeeste. Minder algemeen tot dusver was egter produksies waarin tweegesprekke gevoer word tussen beeldende en woordkunswerke.

In opvolging van die visuele en woordkunsuitstalling “Uit die palm van die land” wat tydens die Volksblad-kunstefees van 2008 groot getalle toeskouers gelok het, word ’n soortgelyke uitstalling vir 2009 se fees beplan. Dis geïnisieer deur my en Ben Botma (hoof: Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en die titel daarvan is ALLOOI.

Vanjaar se deelnemende kunstenaars is gevra om indiwidueel en/of in pare (van 1 beeldende kunstenaar en 1 woordkunstenaar elk) telkens 2 nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreerd funksioneer. Laasgenoemde is wat die uitstallingtitel wil aandui. Dit gaan om ’n “samesmelting” van woord en beeld.

Ek hoop om mettertyd visuele materiaal oor die uitstalling op my blog te wys.

Geen riglyne t.o.v. tema, media, styl, en derglike is voorgeskryf nie. Die enigste voorwaarde wat gestel is, is dat elemente van sowel visuele as woordkuns in elke kunswerk moet voorkom. 

Waar net Vrystaatse kunstenaars aan verlede jaar se uitstalling meegewerk het, word die net hierdie keer wyer gespan. Bekende Afrikaanse kunstenaars uit ander dele van die land, asook twee digters uit België en Nederland, het ingestem om mee te werk.

Een van hulle is Ingrid Winterbach. Sy is al herhaaldelik vir haar Afrikaanse romans bekroon, maar is ook as beeldende kunstenaar werksaam. Dieselfde geld vir Carina Stander, ’n opgeleide beeldhouer wat in 2006 met die geprese bundel die vloedbos sal weer vlieg as digter gedebuteer het. Hulle lewer op indiwiduele basis werke waarin woord en beeld “saampraat”. (Een voorbeeld is te sien in ’n onlangse blogbyrae deur Carina op die Versindaba-webwerf hiernaas.)

Die Kaapse digter Danie Marais het drie pryse vir sy debuutdigbundel in die buitenste ruimte gekry, en span met die animasiekunstenaar Diek Grobler saam om twee van die verse daarin visueel voor te stel.

Luuk Gruwez en Willem van Toorn, die een uit België en die ander uit Nederland, het reeds baie louere ingeoes vir hul digwerk. Gruwez munt onder meer as portretdigter uit. Hy is gevra om Nederlandse woordkunsekwivalente daar te stel van twee Suid-Afrikaanse portreskilderye uit die kosbare versameling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dieselfde uitdaging is aan Van Toorn gestel, maar na aanleiding van twee Suid-Afrikaanse landskapskilderye.

Uit die groep Vrystaters wat verlede jaar met “Uit die palm van die land” vorendag gekom het, het die volgende dié keer as pare saamgewerk: Ben Botma en ek; Markus Steinmann en Hennie van Coller; Pauline Gutter en Jaco Jacobs; Janine Allen en Gilbert Gibson.

My en Ben se werk dra die titel Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog. Dit bestaan uit pare selfoonbeelde en –tekste wat oor net 12 onlangse voorvalle van ernstige geweld in die sentrale Vrystaat-streek ‘berig’. Die essensie van koerantberigte is telkens as haikoes in sms-taal vasgelê. So wou ons, d.m.v. die ‘geweld’ van die gedronge vers- en taalvorme, iets vergestalt van die fisiese en psigiese geweldpleging wat mense moes ervaar.

In my gedigtekamer elders op die Versindabawerf is die 14 sms-haikoes te sien wat ek met die oog op die projek geskryf het.

Die uitstalling was reeds te sien tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeessimposium op 24-27 Junie 2009 in Bloemfontein (soos Carina reeds op haar blog vertel het). Die moontlikheid bestaan dat die uitstalling na afloop van die Volksblad-kunstefees na Stellenbosch vervoer sal word vir ’n uitstaltydperk by die Universiteit van Stellenbosch.

 

Simon Vinkenoog onttrek aan fees

Monday, June 22nd, 2009

 

Simon Vinkenoog
Simon Vinkenoog

Hierdie naweek het die jaarlikse Felix Poetry Festival in Antwerp ten einde geloop. Simon Vinkenoog (81), wat veronderstel was om die hoofrede te lewer, kon egter nie deelneem nie, aangesien hy hom tans in die hospitaal bevind na ’n onderbeen-amputasie enkele dae vantevore. Volgens sy vrou se inskrywing op sy webblad gaan dit onder omstandighede goed met hom. Ons korrespondent in Antwerp berig dat Peter Holvoet-Hanssen toe die hoofrede moes lewer en dat hy hom uitstekend van sy taak gekwyt het. Hy het die aanwesiges blykbaar in vervoering gehad met sy Pleidooi voor de poezie waarin hy ’n ernstige beroep gedoen het op groter betrokkenheid by die digkuns en die uitdagings wat dit in die gesig staar. Nuuswekker is bly om te kan berig dat onderhandelings reeds met Peter begin is om dié toespraak ook op die Versindaba-webblad geplaas te kry. (Lees gerus weer die Nuuswekker van 8 Mei 2009 waarin daar oor Holvoet-Hanssen berig is.) Dan wil dit voorkom asof Gert Vlok Nel besig is om soos ’n siedende veldbrand deur die noorde te trek: nie net was hy verlede week by Poetry International se fees in Rotterdam betrokke nie, maar ook Raakruimtes se huldiging van Breyten Breytenbach in Hengelo, sowel as hierdie fees in Antwerp. (Lees gerus De Papieren Man se oorskouende berig oor die Felix Poetry Festival en meegaande program hier.)

 
Nog opwindende nuus is dat Luuk Gruwez pas in Suid-Afrika aangeland het. Hy gaan naamlik deel vorm van die program ter viering van die Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesviering in Bloemfontein. Welkom in die ander halfrond, Luuk! En onthou, jou gasheer se wyne is óú wyne. Geniet jou kuier. Terselfdertyd is ons bly om Carina Stander terug te verwelkom na háár oorsese reis; en geoordeel aan haar nuwe blog-inskrywing, is sy vars en vrolik en lús om die dinge weer raak te vat.

 

As ’n kopknik na Simon Vinkenoog, ongetwyfeld een van die gróót geeste in wêreldliteratuur, plaas ons vanoggend ’n toepaslike vers van hom hieronder. En onthou: wees onverbiddelik hierdie week. Die poësie is immers ’n ding wat verdien om gelééf te word! 

 

Mooi bly.

LE

 

Ware poëzie is een energie-overdracht uit de hoorn des overvloeds,
een daad van bevestiging, een teken van overlevingskunst.
Geen hobby, maar een passie. Geen luxe, maar noodzaak.
Levende adem, waaiende. geest, bewogen ziel.
Poëzie dient onverbiddeiljk te zijn, of niet.

 

(c) Simon Vinkenoog 

 

 

 

 

 

Die burg van Hertog Bloubaard

Saturday, June 6th, 2009

DIE HEELALBURG VAN HERTOG BLOUBAARD

CARINA STANDER

 

Die burg van Hertog Bloubaard, deur H. J. Pieterse

Uitgegee deur Tafelberg, Kaapstad, 2000 Slapband, 105 bladsye/ 60 gedigte ISBN: 0-624-03905-6

 

HJ Pieterse

HJ Pieterse

Dit het H. J. Pieterse tien jaar geneem om Die burg van hertog Bloubaard (2000) te voltooi. Tien jaar sedert sy digdebuut, Alruin (1989) bekroon is met die Eugéne Marais Prys en Ingrid Jonkerprys. As redakteur van John Bojé se ‘n Keur uit die Pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer (1990), is Pieterse ook bekroon met die Akademieprys vir Vertaalde werk en in 2007 verskyn sy vertaling van Rainer Maria Rilke se beroemde Duino-Elegieë in Afrikaans. Hy was jarelange redakteur van Tydskrif vir Letterkunde. Sedert 1997 was hy ook die brein agter die gewilde Bekgevegte wat onder andere by Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop vol sale getrek het. In 1998 verskyn ‘n kontroversiële bundel kortverhale, Omdat ons alles is en in Junie 2001 woon hy Poetry Internasional in

 

 

Rotterdam by. ‘n Jaar later ontvang hy die Hertzogprys van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy tweede bundel, Die burg van hertog Bloubaard. Tans is hy hoof van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.

 

Die burg van Hertog Bloubaard is ‘n lywige bundel bestaande uit sestig lang gedigte. Erotiese verse, die reismotief en doodstematiek domineer deurgaans, asook gesprekke met ander kunstenaars, historiese en mitologiese figure en persone uit godsdienstige en politieke strominge. Die voorblad, ‘n foto van die ruïne van Gilles de Rais - die “oorspronklike” Bloubaard se kasteel - dien as voorskou van Pieterse se gesprek met dié sprokieskarakter. Die teks begin met ‘n afdruk van die proloog van die komponis, Béla Bartók se opera, A kékszakállú herceg vára (1917) en sluit af met ‘n afdruk van ‘n stuk partituur. Die opera dien as grondmotief en as inspirasiebron van die indeling van die bundel. ‘n Herhaalde afbeelding van die Middeleeuse abdis, Hildegard van Bingen se voorstelling van “Die eier van die heelal”, skei telkens die sewe afdelings van die bundel. Op die laaste bladsy oorhandig die digter ‘n paar sleutels aan die leser en word die leser, soos Bloubaard se vrou, bemagtig as draer van geheimenisse.

 

DIE BLOUBAARD-FIGUUR: MITOLOGIESE GEGEWE

 

Die verhaal van hertog Bloubaard vind sy oorsprong in die sprokie, Bare-bleue van Charles Perrault wat later deur die Grimm broers oorgeneem is. In die sprokie is ridder Bloubaard die woestaard en eienaar van ‘n onheilspellende burg of kasteel. Hy oorhandig die sleutels aan sy vrou, maar belet haar om een versteekte vertrek oop te sluit. Wanneer sy dit wel doen, vermoor hy haar. As wreedaard stel hy juis die verbod op toegang in, omdat die oortreding daarvan hom ‘n rede gee om haar te vermoor.

 

Die geheime vertrek staan bekend as die “chamber of horrors” of die gruwelgrot. Al die verbode lewensgruwels word daarin gehuisves -  wat haar nuuskierigheid des te meer prikkel. Die Bloubaardsprokie staan ook in verwantskap met die mitologiese Pandora se boks en die volksverhale van Duisend-en-Een-Nagte.

 

In ‘n resensie in Beeld op 23 Oktober 2001, wys T.T. Cloete op ander verwantskappe: “Dit brei uit tot ondergrondse wêrelde wat herinner aan die Griekse hades, die Joodse sjeool, die Christene se hel of vaevuur en ten slotte Bloubaard se ‘chamber of horrors’… [Dit] herinner sterk aan die Griekse Orfeus en Euridike-mite, wat soos die Bloubaardsprokie te make het met die verbode plek van die gestorwenes en met die breek van ‘n belofte… Pieterse se gedigte herinner ‘n mens ook aan verwante motiewe in ander kunswerke, byvoorbeeld iets van Holbein se dodedans, of die Taj Mahal, wat deur die dood van ‘n geliefde ontstaan het.”

 

In ‘n bespreking in die tydskrif, Zuid Afrika, wys Hans Ester op ‘n verdere ooreenkoms tussen die Bloubaardverhaal en die Nederlandse sprokie oor Timpetes waarin sekere grense nie oorskry mag word nie: “Hier bil Blauwbaard is het de man die zijn geheim verbergt en tot taboe verklaart waardoor hil de vrouw die hom tot in de laatste bilzonderheden wil leren kennen, in wezen in de val lokt. Het verbod en de liefde zijn onverenigbaar.”

 

TOEPASSING VAN DIE BLOUBAARDVERHAAL IN DIE BUNDEL

 

Anders as in die tradisionele Bloubaardverhaal, is daar in Die burg van hertog Bloubaard geen eksplisiete verbod op toegang nie. In die ongetitelde openingsgedig (bl.11) word die leser (as vrou) in die kasteel  verwelkom en genooi om alles van nader te bekyk. Dié openlikheid is vreemd, aangesien Bloubaard bekend staan as ‘n bewaarder van donker geheime. In hierdie kasteel, die bundel, die “burg van papier” (”Kwartet van die einde van die tyd III”, bl.18) is die leser egter welkom. In “Bloubaard verwelkom sy vrou” (bl.14) lees ons:

Ek wag al soveel dae op jou;

kyk hoe maer het ek geword van verlange.

 

Jung merk in vrouemoordenaar Bloubaard ‘n voorbeeld van die gevaarlike animusfiguur. As manlike personifikasie van die onbewuste in die vrou, huisves die animus beide konstruktiewe en destruktiewe eienskappe, soos die anima in die man. Jung benadruk dat die animus nie slegs oor negatiewe kwaliteite soos brutaliteit en geslotenheid beskik nie, maar ook ‘n waardevolle kant huisves wat ‘n brug kan bou na die Self deur middel van kreatiewe aktiwiteit (1964:202). In die bundelkonteks manifesteer kreatiwiteit in die vorm van die “burg van papier”. Die leser word as vrou aangespreek omdat sy  Jungiaans beskou ‘n lewegewende kwaliteit aan die verse verleen.

 

In ‘n onderhoud met Francois Smith, erken Pieterse dat Bloubaard hom eerstens vanuit die musiek geïnteresseer het: “Die burg was vir my interessanter en belangriker as die figuur van Bloubaard self. Hy is vir my hoogstens interessant in die sin dat hy ‘n paar vrouens geken het en telkens alleen agterbly.”

 

Béla Bartók se opera, A kékszakállú herceg vára (Hertog Bloubaard se kasteel) dien as bloudruk of grondteks vir die bundel. Die opera word egter as raam gebruik, nie in detail nie. Bartók se librettis, Béla Balász, stel die Bloubaardstorie voor as twee stemme: hertog Bloubaard en die nuwe hertogin, Judith. Die kasteel word deel van die handeling wanneer ‘n sug in die openingsgedig gehoor word: Slegs die eggo van die eggo van ‘n sug.

 

Die sewe deure op die verhoog is die sewe deure van Bloubaard se psige. Die sewe afdelings van die bundel is losweg gebaseer op Balász en Bartók se indeling. Die subtemas (martelkamer, wapenkamer, skatkamer, geheime tuin, landgoed, traankamer en vrouekamer) is nie direk getransponeer na die bundel nie, maar elemente daarvan word oorsigtelik aangebied in “Droom van Bloubaard se vrou” (bl.15):

Die eerste kamer is een van pyn.

In die tweede sal sy wapens wees.

Die derde is ‘n grot van bloedrobyn.

In die vierde rank ‘n kruietuin.

ek droom wat agter die vyfde deur skuil.

In die sesde saal wieg ‘n meer sonder bron.

Die sewende is agter sy oë; ek is bang…

 

In die opera ignoreer Judith die waarskuwings van haar broers en ouers en trou met hertog Bloubaard. Die hertog is ‘n tragiese, melancholiese, gevaarlike figuur. Judith se onvoorwaardelike liefde oortuig hom om die sewe deure van sy psige vir haar oop te maak.

 

Agter die eerste deur is ‘n rooi blok teen die muur “soos ‘n wond”: die martelkamer met messe en spykers. Die tweede deur lei na die wapenkamer met oorlogsharnasse. “Kwartet vir die einde van die tyd I” (bl. 16) sluit tematies hierby aan. Dit praat van “oorloë en gerugte van oorloë”, hoe “aristokratiese koppe rol” en dat dit alles metafories heenwys op “die afsterf van herinnerings/ aan my, aan jou, aan ons”.

.

Die derde deur is dié van ‘n skatkamer - die simbool van kreatiewe rykdom, soos geartikuleer in “Kwartet vir die einde van die tyd II” (bl. 17):

Breek oop die kasteel na lewe ondergronds…

Terug na opgegaarde skatte in my kamers:

skilderye, boeke, vrouens, musiek.

 

Die vierde deur lei na ‘n geheime tuin - die hertog se teer kant. Die gedig,”Artisjok” (bl.45), getuig van ‘n sensitiewe benadering tot die sensuele; ‘n lewegewende energie in die man. Die artisjok staan ook bekend as die Venusplant wat seksuele krag opwek.

Ek vou die stingels versigtig weg,

pluk ‘n paar blare en proe,

huiwerig om my tong,

donkergroen, suursoet parfuum van die nag.

 

Laag vir laag het ek jou afgeskil

met ‘n versigtige, moedelose tong,

tot by die diep, geheime, bitter vrug

wat weer terugtrek tussen jou dye.

 

Agter die vyfde deur strek die hertog se koninkryk: ‘n landgoed met woude, strome en berge. In die opera vra Judith: “Waar is die grense?” Geen grense bestaan nie, slegs silwergrense, want hierdie is ‘n landskap van die gees. So word ook die vyfde afdeling - die langste afdeling in die bundel en die enigste een met ‘n titel, “Die boek van Ure van hertog Bloubaard” - met mistiese inhoud gevul. “Die boek van Ure” is ‘n Middeleeuse tekstipe wat sy ontstaan vind in die Rooms Katolieke kerk waar rykes se gesangeboekies ryklik geïllustreer is. Die vyfde afdeling in die bundel is dus ‘n boek binne ‘n boek. Pieterse praat by monde van mistici wat telkens neig na die visioenêre: Therese Neumann wat die stigmata ontvang het, Sint Antonius van Padua wat vir die visse preek, ‘n herdigting van die liedere van die Tibetaanse heilige, Milarepa en ‘n vers oor die negende-eeuse Boeddhistiese meesters, Atisja en Dharmakirti. Die geestelike landskap bereik ‘n hoogtepunt in die  “Sinfonia”-reeks (bl.71) oor die siener, digter, plantkundige en musikus Hildegard van Bingen wat van 1098-1179 geleef het.

 

Die sesde deur op die verhoog lei na die traankamer. Dit is hier waar Bloubaard sy smart verberg. Hy hou die deur dig, maar die hertogin oortuig hom om ook dié deel van sy psige bloot te lê. Dan vermoed sy wat agter die sewende deur skuil: sy herinnerings aan vorige vroue. In die opera sing Bloubaard: “All my former wives await thee. Hearts that I have loved and cherished!” Die vroue haal steeds asem, hulle is onsterflik.

 

Alhoewel Bloubaard soms voorgestel word as die vergestalting van die donker manlike begeerte om ontslae te raak van ‘n vrou en telkens ‘n nuwe vrou te soek, is J. E. Cirlot van mening dat Bloubaard nie deur haat gedryf word nie, maar deur verlore liefde: “The secret room of Bluebeard, which he forbids his wife to enter, is his mind. The dead wives which she encounters in defying his orders are the wives whom he has once loved, that is, who are dead to his love” (1962:xlvi).

 

In “Droom van Bloubaard se vrou” (bl. 15) eggo Pieterse vir Balazs en Cirlot in sy verwysing na vorige vroue: “My naam het ek jare lank reeds vergeet./ Is dit Judith, Ariane, Marlene, Mariane?” “Vanitas” vir Susanne (bl. 43) handel ook oor ‘n verlore liefde en aan die ontslape Marlene word ‘n elegie, “Liturgie van kristal” (bl.19) opgedra. In “Die ring” (bl. 30) strewe die digter om iets van die gestorwe geliefde te bewaar deur middel van poësie:

Jou eenvoudige trouring bewaar ek steeds

saam met ander juwele onder my tong:

laaste, geheime grond

wat wag vir opvul met marmer en klip.

Soms proe ek sagte goud deur my lyf

en herinnerings aan jou papierdun vel…

 

Met die oopmaak van die laaste deur gee Balázs se Bloubaard - tot groot ontsteltenis van Judith - gedetailleerde beskrywings van vorige vrouens:

The first I found at daybreak,

Crimson, fragrant early morning.

Hers is now the swelling sunrise.

Hers its cool and coloured mantle,

hers its gleaming crown of silver,

hers the dawn of ev’ry new day.

 

The second one I found at noon,

silent, flaming, golden-haired noon.

Hers is ev’ry noon hereafter.

Hers their heavy burning mantle.

Hers their golden crown of glory.

Hers the blaze of ev’ry midday.

 

The third I found at evening.

Quiet, languid, sombre twilight.

Hers is each returning sunset.

Hers the grave and umbered mantle.

Hers is ev’ry solemn sundown.

 

The forth I found at midnight.

Starry ebony-mantled midnight.

Thy pale face was all aglimmer.

Splendid was thy silky brown hair.

Ev’ry night is thine hereafter.

Thine is now the starry mantle.

 

Pieterse wend hierdie sluitstuk van die opera op ‘n intelligente wyse aan in “Rei van my vrouens” (bl. 89):

Ek sien jou altyd eerste, vrou

van die oggend, wat vrolik dink

jy ken die sterrekodes van my fort

reeds vanaf die eerste dag. Jy vergeet

hoe stadig herinnerings hier wegsink.

 

My vrou van die middag, jou gloeiende hare

waai koper, staal en brons in die wind

deur my gange; ek onthou jou sweet

en swaelgeur in my bed. Ook jy

verdwyn met uitgeputte gebare.

 

Wanneer jy aan die slaap raak

soos die see, my vrou van die aand,

laat jy jou hare swart oor my val, trek dan terug

asof iets jou laat skrik in die stiltes van my ryk.

Jy stap verder, sonder om in jou slaap terug te kyk.

 

My allesoorheersende vrou van die nag,

jy gly heel laaste deur my klam vertrekke.

In my woordkasteel soek jy sleutels van bloed

deur donkertes van oggend, middag en aand.

Skaduwees stoot op tot oor jou tong

maar jy sing: manda liet.

Jy rimpel my slaap, vertrek dan onseker en bang.

 

Agter die vyfde deur strek die hertog se koninkryk:  ‘n landgoed met woude, strome en berge.  In die opera vra Judith:  “Waar is die grense?”  Geen grense bestaan nie, slegs silwergrense, want hierdie is ‘n landskap van die gees.  So word ook die vyfde afdeling - die langste afdeling in die bundel en die enigste een met ‘n titel, “Die boek van Ure van hertog Bloubaard” - met mistiese inhoud gevul.  “Die boek van Ure” is ‘n Middeleeuse tekstipe wat sy ontstaan vind in die Rooms Katolieke kerk waar rykes se gesangeboekies ryklik geïllustreer is.  Die vyfde afdeling in die bundel is dus ‘n boek binne ‘n boek.  Pieterse praat by monde van mistici wat telkens neig na die okkultistiese of visionêre:  Therese Neumann wat die stigmata ontvang het, Sint Antonius van Padua wat vir die visse preek, ‘n herdigting van die liedere van die Tibitaanse heilige, Milarepa en ‘n vers oor die negende-eeuse Boeddhistiese meesters, Atisja en Dharmakirti.  Die geestelike landskap bereik ‘n hoogtepunt in die negedelige “Sinfonia”-reeks (bl.71) oor die siener, digter, plantkundige en musikus Hildegard van Bingen wat van 1098-1179 geleef het.  

 

Die sesde deur op die verhoog lei na die traankamer.  Dit is hier waar Bloubaard sy smart verberg.  Hy hou die deur dig, maar die hertogin oortuig hom om ook dié deel van sy psige bloot te lê.  Dan vermoed sy wat agter die sewende deur skuil:  sy herinnerings aan vorige vroue.  In die opera sing Bloubaard:  “All my former wives await thee.  Hearts that I have loved and cherished!”  Die vroue haal steeds asem, hulle is onsterflik.

 

Alhoewel Bloubaard soms voorgestel word as die vergestalting van die donker manlike begeerte om ontslae te raak van ‘n vrou en telkens ‘n nuwe vrou te soek, is J. E. Cirlot van mening dat Bloubaard nie gedryf word deur haat nie, maar verlore liefde:

“The secret room of Bluebeard, which he forbids his wife to enter, is his mind. The dead wives which she encounters in defying his orders are the wives whom he has once loved, that is, who are dead to his love” (1962:xlvi).

 

In “Droom van Bloubaard se vrou” (bl. 15) eggo Pieterse vir Balazs en Cirlot in sy verwysing na vorige vroue:  “My naam het ek jare lank reeds vergeet./  Is dit Judith, Ariane, Marlene, Mariane?”  “Vanitas” vir Susanne (bl. 43) handel ook oor ‘n verlore liefde en aan die ontslape Marlene word ‘n elegie, “Liturgie van kristal” (bl.19) opgedra.  In “Die ring” (bl. 30) strewe die digter om iets van die gestorwe geliefde te bewaar deur middel van poësie:

Jou eenvoudige trouring bewaar ek steeds

saam met ander juwele onder my tong:

laaste, geheime grond

wat wag vir opvul met marmer en klip.

Soms proe ek sagte goud deur my lyf

en herinnerings aan jou papierdun vel…

 

Met die oopmaak van die laaste deur gee Balázs se Bloubaard - tot groot ontsteltenis van Judith - gedetaileerde beskrywings van vorige vrouens:

The first I found at daybreak,

Crimson, fragrant early morning.

Hers is now the swelling sunrise.

Hers its cool and coloured mantle,

hers its gleaming crown of silver,

hers the dawn of ev’ry new day.

 

The second one I found at noon,

silent, flaming, golden-haired noon.

Hers is ev’ry noon hereafter.

Hers their heavy burning mantle.

Hers their golden crown of glory.

Hers the blaze of ev’ry midday.

 

The third I found at evening.

Quiet, languid, sombre twilight.

Hers is each returning sunset.

Hers the grave and umbered mantle.

Hers is ev’ry solemn sundown.

 

The forth I found at midnight.

Starry ebon-mantled midnight.

Thy pale face was all aglimmer.

Splendid was thy silky brown hair.

Ev’ry night is thine hereafter.

Thine is now the starry mantle.

 

Pieterse wend hierdie sluitstuk van die opera op ‘n intelligente wyse as interteks aan in “Rei van my vrouens” (bl. 89):

Ek sien jou altyd eerste, vrou

van die oggend, wat vrolik dink

jy ken die sterrekodes van my fort

reeds vanaf die eerste dag.  Jy vergeet

hoe stadig herinnerings hier wegsink.

 

My vrou van die middag, jou gloeiende hare

waai koper, staal en brons in die wind

deur my gange;  ek onthou jou sweet

en swaelgeur in my bed.  Ook jy

verdwyn met uitgeputte gebare.

 

Wanneer jy aan die slaap raak

soos die see, my vrou van die aand,

laat jy jou hare swart oor my val, trek dan terug

asof iets jou laat skrik in die stiltes van my ryk.

Jy stap verder, sonder om in jou slaap terug te kyk.

 

My allesoorheersende vrou van die nag,

jy gly heel laaste deur my klam vertrekke.

In my woordkasteel soek jy sleutels van bloed

deur donkertes van oggend, middag en aand.

Skaduwees stoot op tot oor jou tong

maar jy sing:  manda liet.

Jy rimpel my slaap, vertrek dan onseker en bang.

 

Die Bloubaard-figuur word getransformeer tot metafoor van die psigiese ruimte van die digter: “in my woordkasteel soek jy sleutels van bloed” (”Rei van my vrouens”, bl. 89) en “Ek trek my terug in my burg van papier” (”Kwartet van die einde van die tyd III”, bl.18). Anders as met die tradisionele legende, val die klem nie op die vrou wat probeer ontvlug van die wrede Bloubaard nie, maar eerder op die spreker se ontvlugting in woorde. Die  bloeddorstige kasteel word dus ‘n geestelike skuiling, ‘n “toevlugsoord” - een van die verklarings wat die HAT aan “burg” toedig. In gedig na gedig, beeld na beeld, word die leser deur die kamers van die spreker se innerlike paleis gelei wat geleidelik ontsluit in verse van intense hartstog en verlange.

 

Voorts word die Bloubaardmotief aangewend om uiteenlopende aspekte van die man-vrou-verhouding uit te beeld: liefde, vrees, afskeid, kwesbaarheid, gevangenisskap en erotiek. Die bundel bevat myns insiens van die mooiste liefdespoësie in Afrikaans. Dit handel hoofsaaklik oor die sprekende ek se drang na gemeensaamheid met die vrou. Verlange word mooi verwoord in die Indiese “Raga”, bl. 32:

Voor die woord, voor die gedig begin,

voordat die omtrek van jou liggaam begin,

is daar reeds die grondtoon van ‘n uitnodiging

tot ‘n dans vanuit die agtergrond…

 

Daar is geen eenvoudige man-en-vrou, goed-en-kwaad-teenstelling in sowel Bartók se opera as in Pieterse se bundel nie. Oorvleuelings en dualisme word netjies verbeeld in die persona van die geestelike geneser, Hildegard van Bingen en in Bloubaard: albei beskik in Jungiaanse terme oor selfdestruktiewe én lewegewende eienskappe. In “Bestiarium” (bl. 69) skuil ‘n lang lys diere, gevaarlik én onskadelik, manlik én vroulik in die “halfmens” Bloubaard.

 

In die Die burg van hertog Bloubaard word die kasteel ook voorgestel as heelalburg met kamers wat die kollektiewe bewussyn verteenwoordig. So is daar byvoorbeeld meer as een kasteel of “woordkasteel” (bl. 89). Die digter vind ‘n kasteel in Stonehenge (bl. 97), soos gesuggereer in die slotreël: “Wat hét geword van my kasteel?” In Afrika is daar die koninkryk van Mapungubwe (bl. 100) en in “Kwartet vir die einde van die tyd” (bl.17) staan die noordelike kastele van “marmer, graniet en klip” teenoor die “termietkastele” van hierdie kontinent.

 

Pieterse rig hom tot ‘n breë verwysingsnetwerk met talle intertekstuele verwysings na figure van historiese, legendariese, mitologiese en artistieke aard. Dialoog word gevoer met digters oor eeue en kulture heen. Rainer Maria Rilke, Ted Hughes, Seamus Heaney, Sint Franciscus van Assisi en Hildegard van Bingen – almal besoek die heelalburg. Die roete waarop die leser deur die bundelburg geneem word, is ‘n reis deur die gees en deur die mikrokosmos.

 

DOODSTEMATIEK EN DIE SIKLIESE “EIER VAN DIE HEELAL”

 

By die oopmaak van Die burg van hertog Bloubaard dien ‘n aanhaling van Rainer Maria Rilke as voorspel vir die sikliese gang van die verse: “Nirgends, Geliebte, wird Welt sein, als innen. Unser Leben geht hin mit Verwandlung. Und immer geringer schwindet das Aussen”. Dit word vertaal as: “Nêrens, geliefde, sal daar ‘n wêreld wees as binne nie. Ons lewe gaan voort met verandering/ metamorfose en altyd kleiner verdwyn/ vervaag die buitekant.”

 

Dat hierdie bundel draai om die raaisel van lewe, dood en vervreemding, is ook kenbaar aan die motto van Ted Hughes: “You were never more than a step from Paradise“. By implikasie erken Huges hiermee dat die mens altyd naby is aan die dood en gevolglik ook aan ‘n nuwe lewe ná die dood.

 

Die tussenbladsye van die bundel is ‘n afdruk van die bekende weergawe van Hildegard van Bingen se visioen van die kosmos, “Die eier van die heelal”. Die Eier-aarde is ‘n antieke simbool wat volgens Cirlot dui op die oerbegin, die matriks, die spasie in die middelruim. Verder word dit verbind met vroulike vrugbaarheid en primordiale kragte.

“In all these images we can descry the attempt to express the sexual principles of the cosmos:… the egg of the World is connected with the feminine principle” (1962:244).

 

Die Heelaleier word veral in die “Sinfonia”-reeks ontgin: Hildegard van Bingen se mistieke Viriditas oftewel, groen krag, staan konstant in verhouding met intense lyding, selfs dood. In “Sel” (bl. 73) word die lewe-en-dood-siklus beeldend verwoord:

Die hele nag lank slaap ek in my maag,

toegevou in my swart beervel,

toegespin soos die wurm

in sy drywende kokon…

 

Alle kreatiewe lewe is afhanklik van dood en ontbinding. Lewe is afhanklik van dood en andersom. Dié sikliese konsep van viriliteit ná die dood, lê aan die hart van hierdie bundel. Dit vind onder meer inslag in “Die bye en die hart” (bl. 31):

Driehonderd jaar later word sy graf oopgemaak;

in die korf van sy bors vind werkers ‘n nes

van soetheid, oor Laura, déúr Petrarca se hart…

 

In “Gideon Scheepers” (bl. 58) kry die dooie liggaam van die verkenner ikonografiese status. Sy liggaam word ‘n offer aan die aarde en sodoende word die proses van metamorfose verder verkonkretiseer.

Hulle het my sonder kis of lykkleed begrawe,

en in Maartmaand het die koring uit die graf uit gegroei.

 

Die talle verwysings na slaap of droom, kan gelees word as ‘n metafoor van die onbewuste of primordiale en herroep ook assosiasies met die dood. “Kwartet vir die einde van die tyd I” (bl.16) maak melding van drome as die “afsterf van herinnering aan my, aan jou, aan ons”. In “Artisjok” (bl. 45) staan slaap (ook die seksuele) en dood in verhouding met mekaar. Die openingsreëls lui: “Laatnag vleg ‘n skielike ritseling/ my stadig los/ uit swaar arms van my geliefde, donker suster van my dood”. Terwyl die slotstrofe (bl.46) praat van “die strelende hande van jou geliefde,/ jou lokkende suster van die slaap…” Die dood dui hier op petite mort - die Franse kleindood of orgasme.

 

Die dromerige, mistige, newelagtige of skaduryke in die bundel, dien as suggestie vir die oorgangsfase tussen lewe en dood. Wanneer teenoorgesteldes mekaar ontmoet - die oorgang van een seisoen in ‘n ander, van dag na nag, die samekoms van man en vrou, land en see - vervaag die grens tussen droom en werklikheid op ‘n surrealistiese wyse. Rilke se motto kom dan ter sprake: “Nêrens, geliefde, sal daar ‘n wêreld wees as binne nie. Ons lewe gaan voort met verandering/ metamorfose en altyd kleiner verdwyn/ vervaag die buitekant.” Die binnekamer of binnewêreld waarvan Rilke skryf, word ontsluit deur die metamorfose wat plaasvind tydens die skryfproses. Gevolglik verdwyn/ vervaag die grens tussen die binnekant van die “woordkasteel” waar kreatiewe lewe ontstaan en die buitekant van die kasteel wat lei tot kreatiewe dood .

 

Cloete merk op dat dood en kreasie sluimerend teenwoordig is in die deurlopende beeld van die voël: “Die voël is ‘n simbool van die psige of siel, van vroulikheid, dit simboliseer onsterflikheid, kreasie, heiligheid. Dikwels, soos in die fenikssimboliek, word die voël verbind met die boom… Die boom is in die algemeen ook simbool van die godin van dood en lewe”.

 

In mitologiese ikonografie is die feniks die verbindende simbool tussen vuur en lug. Soos Christus herrys die feniks uit die “as” en herleef. Die talle verwysings na trekvoëls - swane, bleshoenders, wildeganse en kraanvoëls - onderstreep die sikliese gang en tydelikheid van elke seisoen. Die vlierboom as metafoor van dood of verlies, groei soos ‘n refrein deur die bundel en word onder meer gevind in “Vliergrond” (bl. 31), “Watervrees” (bl. 40) en die openingsreëls van “Vanitas” (bl. 43) wat handel oor afskeid: “Die son brand korter, buig vliere lank/ en swart na mekaar”. Verder is die kelder, graftombe, skaapwagtersgrot en skag ook plekke van dood. Die grot dien as metafoor van die psigologiese onbewuste en as die donker, geslote baarmoedersimbool, wat weer aansluit by die sikliese karakter van die Heelaleier.

 

Ten laaste manifesteer die dood in ‘n aantal duiwelrieë wat handel oor vampiere, sneeudemone, die leviatan, drake en gevalle engele.

 

In sy revolusionêre tesis, Beyond the pleasure Principle (1920) formuleer die psigoanalis, Sigmund Freud sy teorie van der Todestrieb, vertaal as “die doodsinstink” of “die doodsdrang.” Die Amerikaanse filosoof Richard Boothby, noem der Todestrieb die donkerste raaisel van die psigoanalise. In Death and desire - a psychoanalytic theory in Lacan’s return to Freud (1991) spekuleer Boothby: “Perhaps [it is] the only primordial force - in the heart of the psyche, of living beings, and of matter itself. [Death becomes] the soul of conflict, an elemental force of strife…” (1991:1).

 

Freud noem hierdie fassinasie met die dood tereg “a sensation of sorrow and horror.” Hy stel die vraag: as plesier die einddoel van die psige is, waarom word spesifieke pynlike, traumatiese gebeurtenisse doelbewus herleef en herskep deur die individu? Hy verklaar hierdie fenomeen van kompulsiewe herhaling van pyn, oftewel der Wiederholungszwang, as ‘n misterieuse, masochistiese neiging van die ego (Boothby, 1999:3). In masochisme word pyn en plesier vervleg. Hy benadruk die feit dat daar met elke geval van kompulsiewe herhaling van pyn, ‘n onderdrukte herinnering teenwoordig is; ‘n onbewuste drang “to restore an earlier state of things” (Boothby 74:1991) (Freud se kursief).

 

Freudiaanse teorie beaam dat alle geweld in die menselike psige, ‘n oorsprong vind in die begeerte na selfvernietiging. Der Todestrieb is daarom nie primêr na buite gerig nie, maar eerder ‘n interne konflik van die individu teen die Self (Boothby, 1991:5). Jean Laplanche onderskraag hierdie teorie as hy skryf: “The death drive is… radically not a drive to murder, but a drive to suicide or to kill oneself (Boothby, 1991:11) (Boothby se kursief.)

 

Vanuit hierdie perspektief kan geredeneer word dat Bloubaard nie ‘n drang koester om sy vrou te vermoor nie, maar eerder om homself te martel deur die herhaling van pynlike herinneringe in ‘n poging “to restore an earlier state of things” (Freud se kursief). Inderwaarheid word Bloubaard se vrou nie vermoor nie, maar pleeg sy selfmoord deur doelbewuste oorskryding van sekere grense.

 

In ‘n huldiging aan ‘n oorlede “filosoof en vriend” (”Vir Zach”, bl. 57) tree Pieterse in gesprek met homself: “En jy het geweet, déúr gestroopte been:/ omdat ons alles is, is ons alleen”. Omdat ons alles is is waarskynlik die mees omstrede bundel uit die oeuvre van Pieterse. Dit gaan hier oor die afsterwe van ‘n geliefde vrou vir wie die lewe te veel geword het. Op die terrein van morele filosofie het die doodserotiek waarvan die flapteks praat, groot polemiek veroorsaak. Dit is ‘n bundel wat die erosinstink in sy mees blatante vorm met der Todestrieb vervleg. In Die burg van Hertog Bloubaard is dié kruisbestuiwing ook opmerklik. Dit gaan egter nie alleenlik oor die seksuele nie, maar veral oor die weerloosheid van lyf, die verganklikheid van liefde en die pynlikheid van verlies.

 

Erotiek en die dood word ook vervleg in “Vampier” (bl. 22), “Vliergrond” (bl.25), “Die ring” (bl. 31) en “Vlerk” (bl.35). In “Die rog” (bl.23) staan die seksuele en pynlike nie as teenpole nie, maar as komponente van die dieselfde fenomeen:

Boosaardige oester, geen pêrel.

Kwaadaardige, half-geslag-

te visse en rog. Geen masker

vir seks, geen geheim

om sagtheid te kan onthou.

 

Oop, rooi oester, mandjie vis

tussen strooi en klip.

Langsaan lê die rog skewelip

met vinne wat uittartend klou,

triomfantelik boos in haar dood.

 

In hierdie gedig verskyn die rog, soos die negatiewe animus in die vrou, as demoon van die dood. Ook in “Vlerk” (bl. 35) is daar konflik tussen die negatiewe animus en die lewegewende kwaliteite van die anima in die man. Die man stel ‘n slagyster vir ‘n bleshoender en probeer dan die beseerde voël tot lewe wek, maar dit is futiel. Die voël dien dan as metafoor vir ‘n beseerde man-en-vrou-verhouding waar sowel die man as die vrou die rol van skuldige én slagoffer vertolk.

 

Verse wat heenwys na die persoonlike geskiedenis van die sprekende ek, vorm deel van Pieterse se poëtiese benadering tot die dood. In die verse oor afgestorwenes erken die spreker by implikasie sy vrees om die dood in die oë te staar én sy vrees om nie te staar nie. In ‘n poging om traumatiese insidente te verwerk, word dit gefiksionaliseer. Die lykdigte neig hierom dikwels na die fantasmagoriese, selfs makabere, wat lei tot die ontstaan van spanning tussen die werklikheid en illusie. Die elegiese “Liturgie van kristal” (bl.19) opgedra aan die ontslape Marlene, neem fabelagtige kwaliteite aan: “Jy vaar op die rug van ‘n walvis,/ na ‘n ander geheime, suidelike land”. Die sprokiesagtige sfeer is ‘n versagting van ‘n tragiese selfmoord (”sagte glip van ‘n lem”). Hartstog en verlies bereik ‘n klimaks in die slotreëls:

Voorlopig dan, dié laaste reëls vir jou,

sagte een, met ons stigmata van liefhê, my vrou.

 

Al gebruik die digter dikwels sprokiesagtige gegewe, word die dood nie verromantiseer of geïdealiseer nie. “Sonder wortels” (bl.34) beskryf die dood as ‘n ondergrondse plek van eensaamheid, al is die oorledene tog op ‘n ironiese wyse altyd aanwesig:

Ek klem my kake ná jare nog

om pyn met pyn te besweer oor jou;

herinnerings lê toegegroei maar skiet

deur onsigbare wortels na bo,

na verskuilde teenwoordigheid van ‘n niet.

 

Die burg van hertog Bloubaard kan beskou word as ‘n afrekening met talle herinnerings, soos verwoord in die slot van “Padlangs”, bl. 99: “ek skryf jou af”. Die sprekende ek se hunkering na die geliefde word afgesluit met ‘n reeks reisgedigte waarin hy oor plekke skryf wat hy met vrouefigure assosieer. Die leser kry egter nie die beeld van ‘n rustelose ontdekker nie - die reisverse is eerder ‘n besinnende staar na binne.

 

Op ‘n paradoksale wyse word die geliefde in die burg ingeperk, maar ook bevry deur middel van die geskrewe woord: sy sterf en word tot lewe geroep deur poësie. In ‘n resensie in die Burger op 12 Februarie 2001, sluit Louise Viljoen hierby aan:

“[Dit] herinner sterk aan elemente in die poësie van die Nederlandse digter Achterberg, wat eweneens… ‘n gestorwe vrou tot lewe wek. Die gedig ‘Raga’ waarin die omtrek van ‘n afwesige vrou se liggaam getrek word deur ‘n gedig en die klank van fluitmusiek, is byvoorbeeld die ene Achterberg in die skreiende verlange om die vrou se teenwoordigheid deur middel van hierdie kunsvorme op te roep.”

 

Die proses van transendering vind ook plaas in die kunsteoretiese gedig, “Voorlaaste dag” (bl. 88). Dood lei tot nuwe skepping en teks skep teks. Konsepte wat herleef in een werk na die ander, getuig reeds van ‘n sikliese gang. Uit kortverhale ontstaan gedigte en sekere verhale was eers gedigte. In ‘n e-pos onderhoud noem Pieterse dat hy die laaste drie gedigte in die bundel eerste geskryf het (1989-1990) en “probeer om ‘n sirkelgang te bewerkstellig van kastele/ burge/ forte in Europa tot terug in Afrika, Mapungubwe.” In “Liturgie van kristal” (bl.19) vaar die oorledene op ‘n “langboot, wit boot” of “ligte boot”, terwyl die “langboot” ook aanland vir die koning wat uit die dood opstaan in “Mapungubwe III” (bl.102). So word die metamorfose waarvan Rilke skryf, voortgesit en die siklus van die Heelaleier word voltooi.

 

BESPREKING VAN TEGNIEK

 

Pieterse is in Wageningen, Nederland, gebore en die Europese kultuurgeskiedenis as bron van digterlike inspirasie raak hom ten diepste. In Die burg van hertog Bloubaard wend hy hom tot die terrein van intertekstualiteit wat funksioneer op beginsels wat ooreenstem met spinnekopwebbe, labirinte en palimpses. Interteks word gebruik vir aansluiting, nie as teëspraak nie. Die gedigte steun op verskeie kollektiewe kodes uit ‘n breë verwysingsveld: die skilderkuns, musiek, kultuurgeskiedenis, religie, letterkunde, die natuur, astrologie, argeologie en argitektuur. Verse wat inspeel op die hedendaagse Suider Afrikaanse landskap, skep ‘n illusie van toeganklikheid by die leser.

 

Pieterse was ‘n briljante student wat al sy grade met lof geslaag het – en dit is ook kenbaar aan sy goeie navorsing vir die bundel. Intellektuele digters staan dikwels die gevaar om lesers te “verloor” deur die “tentoonstelling” van geleerdheid. Op geen stadium skep Die burg van hertog Bloubaard die indruk van ‘n vakboek nie. Deurleefde kulturele kennis word op ‘n subtiele wyse vermeng met die folkloristiese, emosionele, primitiewe en mistieke. Wanneer die feitlike betrek word (soos in die geval van die Middeleeuse abdis Hildegard van Bingen en die koning van Mapungubwe) dien dit as allegorie van die mens se verhouding met die goddelike.

 

Soos reeds benadruk, speel musiek - in besonder die opera van Béla Bartók - ‘n kardinale rol in die ontsluiting van die bundel. Pieterse self speel die klavier, klarinet, tablas en didjeridoe en was jarelank musiekresensent vir die Beeld. Baie van die gedigte spruit uit musiek of maak gebruik van musikale strukture, onder meer “Kwartet vir die einde van die tyd” (bl.16), “Liturgie van kristal” (bl.19), “Raga” (bl.32), “Aubade” (bl.38), “Swanesang” (bl.41), “Canto” (bl. 47), “Die honderdduisend liedere van Milarepa” (bl. 60) en “Sinfonia” (bl. 71). Dit verleen aan die bundel ‘n liriese toonaard.

 

Ook die herhalingstegniek is effektief aangewend. Metafore wat later terugkerende simbole word, is die watersimbool en verwante: wolk, reën, mis, wasem, hael, sneeu, ysberg, gletser, rivier, meer, moeras, oseaan, koraal, vis, grag, skip en boot. In “Watervrees” (bl. 40) is water die simbool van onheil: “Soos Phlebas, vrees Bloubaard ‘n waterdood…” In teenstelling met water wat van “onder die aarde” kom, is die ster as simbool van die bo-aardse prominent in beskrywings van die kosmosblom, kosmosmens, komeet en planeet. Hiervan is “Stertrap” (bl. 27) ‘n helder voorbeeld.

 

Fundamentele stylverskille word in die afsonderlike gedigte aangetref. Dit wissel van die epies liriese tot die metafisiese en elegiese. ‘n Wye verstegniese verskeidenheid word aangebied, onder meer die tersine (”Jaargang”, bl. 81), sonnet (”Voorlaaste dag”, bl. 88) en koeplet. Rym word onopvallend aangewend, selfs al word rymskema gedissiplineerd volgehou in “Liturgie van kristal” (bl.19), “Bestiarium” (bl. 69) en “Voorlaaste dag” (bl. 88). Skerpsinnige woordspelings verras deurgaans, onder meer in “Rei van my vrouens” (bl. 89) wat assosiatief gelees word as “Ry van my vrouens” en die titel “Mis” (bl. 93) wat deur die gang van die gedig as gemis, vermis of mistigheid geïnterpreteerde kan word. In die slotgedig, “Mapungwuwe III” (bl. 102) lees ons dié dubbelbeeld: “As ek wakker word,sal ek wes kyk,/ met my vers teen die loop van die water”.

 

Digters wat debuteer en aandag trek, staan onder die swaard van ‘n opvolgwerk. Wat in besonder opval is die wyse waarop Pieterse daarin slaag om die tema van verlies oor sestig gedigte heen vol te hou deur middel van meevoerende beelding. Die burg van hertog Bloubaard is ‘n fyn gestileerde bundel wat tydlose idees oor menswees verwoord. Pieterse slaag die moeilike toets van ‘n tweede bundel met lof.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Bartók, Béla. 1981. A kékszakállú herceg vára- Bluebeard’s Castle. Woorde deur Béla Balazs. Hongarye: Hungoraton delta music coproduction.

Boothby, Richard. 1991. Death and desire - a psychoanalytic theory in Lacan’s return to Freud. New York: Routledge.

Cirlot, J. E. 1962. The dictionary of symbols. New York: Philosophical library.

Cloete, T.T. “Dié gedigte ryk in alle opsigte”. Beeld. 23 Oktober 2001.

Ester, Hans. “Het poëtisch universum van H.J. Pieterse”. Zuid-Afrika. Junie 2001

Jung, Carl. G. 1964. Man and his symbols. London: Pambooks Ltd.

Odendaal, F.F. 1994. Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Midrand: Perskor.

Pieterse, H.J. 2000. Die burg van hertog Bloubaard. Kaapstad: Tafelberg uitgewers.

Smith, Francois. “Poësie kan vertroos”. Die Burger. 26 Maart 2001.

Stander, Carina. “Re: sprook”. E-pos onderhoud met H. J. Pieterse. 4 Maart 2004.

Viljoen, Louise. “Verse wek weer tot lewe”. Die Burger. 12 Februarie 2001.