Posts Tagged ‘Cas Vos vertalings’

Resensie: Die Goddelike komedie (Cas Vos)

Friday, November 24th, 2017

Die Goddelike komedie: liefde laat die son en sterre sing

Cas Vos

(ISBN: 978 0 928316 858, Naledi, 2017)

Resensent: Marius Crous

Cas Vos se vertaling van gedeeltes uit Dante se Goddelike Komedie is die eerste Afrikaanse vertaling van Dante in digvorm. En gewis is dit ‘n uitdaging om hom in digvorm te vertaal, want Dante skryf deurgaans in tersinevorm en maak van die terza rima-rymskema gebruik, aba bcb cdc. Vergelyk die openingsreëls:

In die middel van ons lewensreis

het ek my in ‘n donker woud bevind –

ek het die regte pad van die hand gewys.

Oor die belang van Dante vir die wêreldletterkunde bestaan daar geen twyfel nie, soos Vos ook in sy inleiding aandui. Die Westerse letterkunde het sy ontstaan te danke aan Homeros se twee groot eposse, die Ilias en Odusseia, maar hiernaas is ook die werk van Vergilius en Dante – en laasgenoemde het sy stempel duidelik afgedruk selfs in Afrikaans in die werk van onder meer T.T.Cloete in sy bundel Driepas. So ook het Mrs Curran in Age of Iron van J M Coetzee haar eie Vergilius wat haar op haar ter helle neerdaling vergesel.

Vos kontekstualiseer nie net die teks in die wêreldletterkunde nie, maar gee ook vir ons ‘n oorsig van die onderskeie vertalings wat oor die teks bestaan; meestal prosavertalings. Hy verwys byvoorbeeld na Ciardi se opmerking dat daar eerder sprake is van “transposition” as “translation” as dit kom by die vertaling van Dante.  Vos maak ook die volgende stelling in sy inleiding:

Streng gesproke is die La Divinia Commedia onvertaalbaar. Dit kan ‘n rede wees waarom die Dante vertalings en omdigtings soos ‘n stroom sonder ophou is. Die polarisasie tussen vreeslose (soms roekelose) poëtiese vertalings en die meer versigtige “akademiese” vertalings beleef ‘n hoogbloei. (bl.41)

Een van die besluite wat die vertaler geneem het, word soos volg verwoord:

Die digter het keuses gemaak en sommige historiese figure weggelaat. Hiervoor aanvaar hy verantwoordelikheid … Die afstand tussen Dante se destyds en ons eietyds kom in die Purgatorio duidelik na vore. Dié deel is die skepping van die digter. Daar is ook ‘n reël wat na die titel van Breyten Breytenbach se bundel, vyf-en-veertig skemersange verwys. In die Purgatorio word reëls uit gedigte van Peter Blum, Ernst van Heerden, N P van Wyk Louw en Sheila Cussons aangewend. Dit word egter steeds in eietydse rymende tersines ingewerk.

Venuti (2013) is van mening dat intertekstuele verwysings in die bronteks dikwels vervang word met “analogous but ultimately different intertextual relations” in die doeltaal. Sodoende kan die vertaalde teks se lesers die teks begryp.  Is die intertekstuele spel, saam met die weglating van historiese figure geregverdig? Voel die leser na dese nie ‘n bietjie gekierang nie? Hierdie weglating kom myns insiens neer op ‘n tipe selfsensuur – en moet ons dit dan nie maar in ons era van dumbing down met al die klassieke tekste doen nie? Intertekstuele frases as vertaalfrases kan ek nog tot ‘n mate steun.

Fahrazad (2009) meen dat ons nie aan die vertaalde teks in terme van ekwivalensie moet dink nie, maar eerder tekste intertekstueel benader sonder om te veel te fokus op die oorsprong en die ooreenstemming tussen die teks in die doelteks en die teks in die bronteks.

Hierdie vertaling van Dante in Afrikaans is ‘n goeie illustrasie van Vermeer en Reiss se skoposteorie,  wat impliseer dat die funksie van die vertaalde produk die oorheersende faktor is wanneer die teks vertaal word, met die Afrikaanse poësieleser in ag genome.

Die rede vir Cas Vos se vertaling verwoord hy soos volg in die inleidende gedeelte oor die boek:

Alles in ag geneem, is Dante se La Divinia Commedia stellig die grootste Summa (esteties, teologies, filosofies,, wetenskaplik, algemeen-kultureel) van die Christelike Middeleeue. (bl. 21)

Die vertaling is aan verskeie klassici voorgelê vir hulle terugvoering en grepe uit hul verslae word agterop die teks aangehaal. Een van dié lesers, Kobus Kruger, het trouens ‘n prosavertaling van Dante se werk gedoen, terwyl Niek Schuman Dante in die oorspronklike Italiaans gelees het en Bill Henderson is ‘n kenner van Dante se werk. Oor die geslaagdheid al dan nie van ‘n vertaling, merk Vos soos volg op:

Elke vertaling/gedig moet op eie meriete beoordeel word. Solank die dolcezza en armonia van ‘n gedig, vrye vers of vertaling behoue bly, is dit haalbaar. In elke vertaling of gedig moet daar ‘n metaforiese uitstraling wees. Die ritme, beweging en metrum waarmee Dante ons voorafgegaan het, moet insoverre dit enigsins moontlik is, behoue bly. Soms, net soms, kan daar dalk ‘n vars briesie trek.(bl.41).

Aangesien ek nie Toskaans magtig is nie, sal dit sinneloos wees om te oordeel oor die geslaagdheid van Cas Vos se vertaling. Hy slaag wel daarin om die metrum, ritme en die terzima-rym vol te hou. Hy het ook deeglik kennis geneem van ander vertaalpogings, deur, onder meer, die Amerikaanse digter Robert Pinsky. Nes Vos (in sy inleidende gedeelte) verduidelik Pinsky hoekom dié teks hom so aangegryp het. Benewens die uitdaging om dié klassieke teks in Engels te verwerk, was dit ook die obsessie wat hom aangevuur het: “”It just gripped me, like a child with a new video game,” (New York Times, 31 Januarie 1995).

Vos blyk nie dieselfde probleme as Pinsky te ervaar in sy vertaling nie:

To write triple rhyme in English is not easy,” the poet said. “English has an immense vocabulary, larger than Italian. And one of the classic mistakes you can make is to draw on that huge wealth of synonyms to supply rhymes. If you do that, you have an extremely unnatural, unidiomatic language; you end up with phrases that no one would ever say.

In De groene Amsterdammer (2 Desember 2000) vra Rob Hartmans:

Want wie leest nog Dante? Honderd jaar geleden was hij erg in de mode.

Hierdie vraag sal ons miskien self kan antwoord – soos wat Hartmans ook tereg doen:

Het mooiste is het als het gedicht hardop wordt gelezen, als de lezer zich laat meeslepen op de cadans van die rustig vloeiende, ogenschijnlijk met zoveel gemak vertaalde verzen.

Toets dit aan hand van die volgende tersines uit die pen van Cas Vos:

My oë het hul aan Beatrice oorgegee,

Sy het so lieflik voor ander geskitter

Dat hul in haar lig se gloeisel ligsku meegee.

Of:

Beatrice sê: “Die liefde wat die hemel lei,

Verras die siele steeds met ‘n groet van lig

Om die waspit vir die vlamme voor te berei.”

***

 

(Dawid Minnaar se voorlesing uit Paradisio & Aleppo – Red.):

https://www.youtube.com/watch?v=OOACiJb0avQ&t=15s

https://www.youtube.com/watch?v=2Qh1qD8K8PE

Karl Jenkins. Stabat Mater (Vertaling in Afrikaans)

Monday, April 3rd, 2017

Vertaling uit Latyn van Karl Jenkins se Stabat Mater deur Cas Vos.

 

Stabat Mater

 

1 Cantus Iacrimosus

Tranesang

 

By die kruis het sy vasgestaan,

moeder van smarte, aangedaan

oor haar Seun wat moedig sterf.

 

Die swaard het haar sugtende hart,

treurend en gevul met diep smart

deurboor, haar gekwes, gekerf.

 

O hoe treurig en neergeslaan

geseënde Moeder, aangedaan

oor haar Seun, vlees uit haar skoot.

 

Sy was bedroef, sy het gely,

heilige as Moeder gewy,

haar lofryke Seun gaan dood.

 

2 Incantatio

Inkantasie

 

Bid vir ons,

o heilige Maria,

o kind van God,

o maagd van maagde,

bid vir ons.

 

3 Vidit Jesum in tormentis

Sy het Jesus in sy foltering aanskou

 

Wie sou nie aanhoudend ween

wanneer hy die Moeder alleen

in diep ellende sou sien?

 

Wie weerhou die mens se hart

om te deel in haar groot smart

as sy na haar Seun omsien?

 

Vir al sy volk se sonde

sien sy Jesus se rou wonde,

oorgegee aan kastyding.

 

Haar geliefde het pyn verduur,

verlate in sy sterwensuur

tot Hy sy gees laat uitkring.

 

Moeder, fontein wat liefde skenk,

laat u stroom van pyn my deurdrenk

dat ek saam met u kan treur.

 

Gee dat my hart ’n gloed uitsprei

om só self meer troos te verkry

deur die liefde van my Heer.

 

4 Lament (Carol Barratt)

Weeklaag

 

As ons al die pyn en verdriet voel,

is ons harte en gedagtes vol verdriet

trane wag om te vloei as verdriet oral oor

veel meer is as wat ons kan dra.

 

Ons hoor hoe die kinders huil,

dood val skadu’s oor hul harte en gedagtes

as moeders in hulle rou staan, huilend, treurend,

treurend, huilend,

huilend, treurend oor hierdie wêreld.

 

Op ons doringbed moet sulke verdriet eindig,

ons trane kan só al die sonde afwas,

geen trane en verdriet, verdriet, trane,

trane, verdriet, verdriet in hierdie wêreld.

 

5 Sancta Mater

Heilige moeder

 

Heilige Maagd, deurboor my hart

met wonde dat my Heer se smart

ook letsels op my nalaat.

 

Deel met my die pyn en lyding

van u Seun se stil verwonding,

in my plek is Hy verlaat.

 

Gee dat ek vroom saam met u ween

oor die Gekruisigde alleen

al die dae wat ek ontvang.

 

Ek smeek, pleit van harte om saam

met u by die kruis te bly staan,

saam te treur met klaagsang.

 

6 Nou treur selfs my lewe

 

Nou treur selfs my lewe

soos ’n kers wat smelt en bewe,

soos ’n fluit is my klagte ’n lied.

 

7 En die Moeder het gehuil

 

Die Moeder het gehuil.

 

8 Virgo virginum

Maagd van maagde

 

O Maagd, verheerlikte vrou!

Ek versoek u liefdevol nou:

Gee tog dat ek ook mag treur.

 

9 Is jy buite in duisternis verlore?

 

Is jy buite in duisternis verlore?

Is slaap en stilte jou beskore?

Is my stem te ver om te hoor?

 

10 Ave verum

Wees gegroet o ware

 

Wees gegroet, o ware wese,

uit die maagd Maria verlos,

waarlik aan die kruis verwese,

ons het u lewe gekos.

Toe ’n skerp spies aan u sy raak,

het water en bloed gevloei.

Wees tog vir ons ’n voorspraak

as die dood ons laat leegbloei.

 

Soete Jesus! Vrome

Jesus, seun van Maria.

Amen.

 

11 Fac, ut portem Christi mortem

Gee dat ek Christus se dood dra

 

Gee dat ek Christus se dood dra

en mag ek my deel van sy slae,

sy wonde opnuut onthou.

 

Gee sy wonde vir my as vrug,

gee dat die kruis my versadig,

my begeester met sy bloed.

 

12 Paradisi Gloria

Die heerllikheid van die paradys

 

Mag die vlamme my nie brand nie,

O maagd, hou my vas in u hand.

Bewaar my op die oordeelsdag.

 

Christus, wanneer my reis begin,

laat u Moeder my tog bemin

en ek die lourierkrans kry.

 

Wanneer my liggaam die dood vrees,

hou my vas en gee aan my gees

die paradys se glorie. Amen.

Halleluja.

 

 

Uitgesaai deur RSG.

 

Resensie: Fragmente uit die Odusseia. Homeros (vert. deur Cas Vos)

Wednesday, June 29th, 2016

Fragmente uit die Odusseia deur Cas Vos 

Homeros. Fragmente uit die Odusseia

Vert. deur Cas Vos. Cordis Trust, 2016

Resensent: Gisela Ullyatt.

 

Die naam Homeros is onlosmaaklik verweef met die Westerse literatuur en -kanon; hy word immers as die vader daarvan beskou. Steeds ontlok beide sy eposse, die Ilias en die Odusseia, talle kontroversiële debatte. Die eerste hiervan is gesentreerd rondom Homeros as geskiedkundige figuur; dus of hy werklik bestaan het. ’n Tweede kwessie hou verband met gender: was Homeros eintlik ’n vrou? Die derde strydpunt tussen akademici en skrywers (mét of sonder klassieke credentials) betrek die vraag of Homeros beide eposse geskryf het. Miskien som Aldous Huxley se sarkastiese opmerking die ewige kringloop van debattering die beste op: “The author of the Iliad is either Homer or, if not Homer, somebody with the same name”. Touché, Aldous Huxley.

Tog word bogenoemde (pseudo-) akademiese gekorswel deur die volgende punt verenig: dat Homeros steeds op die moderne leser betrekking het. ’n Voorbeeld hiervan is Adam Nicolson se teks, The Mighty Dead (2015), wat die klassieke digter se hedendaagse pertinensie beklemtoon. Tog skyn hierdie beredenering paradoksaal te wees, want die eposse is allesbehalwe toeganklik vir die deursneeleser. Een van die redes is sekerlik die lengte van die eposse: die Ilias is 15 693 reëls lank teenoor die 12 110 versreëls van die Odusseia. Helaas is die aandagafleibare era van die e-pos teenstrydig met dié van die uitgerekte epos.

Uiteraard is daar geen gebrek aan Engelse vertalings van beide eposse nie. T.E. Lawrence – die einste Lawrence of Arabia – publiseer sy vertaling van die Odusseia in 1932 en noem dit die “twenty-eighth English rendering of The Odyssey“. Sedert 2000 was daar ten minste sewe Engelse vertalings van die Ilias en agt van die Odusseia.

Wanneer Afrikaanse vertalings van die Homeriese eposse onder die loep kom, is dit slegs J.P.J. van Rensburg (1911-1980) wat albei in hulle geheel uit die oorspronklike Grieks vertaal het. Van Rensburg was professor in Klassieke Tale (1947-1951) en Grieks (1951-1970). Die Ilias se Afrikaanse vertaling word in 1952 gepubliseer en 1963, dié van die Odusseia.

Gelukkig kan Afrikaanse lesers ook Homeros in ’n moderner Afrikaans te lese kry, danksy Cas Vos se Fragmente uit die Ilias (Protea, 2013). Alhoewel Vos slegs gedeeltes daarvan vertaal het, het hy dit ook uit die brontaal, Homeriese Grieks, vertaal. Dieselfde geld vir Fragmente uit die Odusseia.

Vos se teks is gemik op die intelligente deursneeleser en soos Fragmente uit die Ilias, is die inleiding substantief (52 bladsye waarvan 5½ onder “Verwysings” gegroepeer word) en weldeurdag. Die taalgebruik is van so ’n aard dat selfs lesers wat redelik onbekend is met Homeriese Grieks, daktiliese heksameter of in dier voege, nie té afgeskrik behoort te voel nie. Die “Verhaallyn” van die epos se 24 boeke beslaan bladsye 56 tot 62. Die omdigting neem ’n honderd bladsye in beslag. Die leser kan ook blaai na bladsye 172 tot 179 vir ’n lys van naamverklarings.

Meer oor die inleiding: Vos groepeer dié in agt afdelings wat elk nuttige agtergrondinligting oor die teks verskaf. So bied Afdeling 2 byvoorbeeld ’n oorsig van die tipe Grieks waarin Homeros geskryf het terwyl die daaropvolgende afdeling op ’n meer gedetailleerde bespreking van die komposisie en outeurskap van die Odusseia fokus. Daarbenewens bied Afdeling 4 ’n interessante oorsig van skrywers en digters wat met dié epos as interteks in hulle eie werk omgegaan het. Veral lesers wat in wêreldletterkunde belangstel, sal hierdie afdeling verruimend vind. Onder andere sluit die oorsig James Joyce se A Portrait of the Artist as a Young Man asook sy Ulysses in. Verder word die volgende digters onder die loep gebring: Odysseus Elytis, Ted Hughes, Yannis Ritsos, Rainer Maria Rilke, Federico García Lorca, Konstantinos Kavafis en Anne Carson asook ’n paar ander wat lesers sal opval. ’n Naam wat egter hier ontbreek is die Amerikaanse digter, Ezra Pound, wat die Odusseia se beginreëls van Boek 11 (Odysseus’s journey to the underworld) as interteks in sy Canto 1 gebruik om sy eie verwikkelde reis in The Cantos uit te beeld. ’n Interessante feit is dat Pound se vader se naam Homer was. Op bladsy 29 word ’n Afrikaanse vertaling van Alfred, Lord Tennyson se “Odysseus” aangebied. Iewers het die proefleesproses ontspoor, want na Tennyson kom die naam Tennysee voor.

Afrikaanse digters sluit onder andere Breyten Breytenbach, Marius Crous asook Dolf van Niekerk in. Verder word A.G. Visser se “Lotus-land” en N.P. van Wyk Louw se “Groot ode” genoem asook Sheila Cussons se “Die brons Poseidon”. D.J. Opperman se Komas uit ’n bamboesstok word ook uitgelig as een van die waterskeidende Afrikaanse bundels wat Odysseus se reismotief ontgin. Verdere name van digters word verskaf en bespreek, waarvan Adam Small (1936-2016) veral pertinent is omdat die Afrikaanse literatuurgemeenskap tans in rou is oor hierdie digter se baie onlangse afsterwe. Vos haal “Leonardo – Michaelangelo” en “Skottelgoed (sikloop)” aan (Klawerjas, 2013: 16, 109).

Laasgenoemde is ’n treffende vers veral omdat dit ’n daaglikse sleurtaak soos skottelgoedwas met die sikloop en Odusseus en dan laastens, die terugkeer na die geliefde, verbind:

Terwyl ek vaneffe skottelgoed

staan en was, kom daar

die ou Griekse storie van die eenoog,

die sikloop, by my op. Dis ’n aangrypende,

wrede vertelling: Odysseus het in sy

lang omswerwinge nog tyd gevind

om ’n sikloop by te kom en te verblind.

Die koppige eenoog was in sy grot

toe Odysseus hom daar teëkom

en sy oog met die vlammende skerp

punt van ’n paal takel. Daar kom

toe ’n geskreeu van buite: Polyphemus,

wie maak jou seer?

Die sikloop het, ylend, teruggeskreeu:

Niemand! Want Odysseus het vir hom

gesê, toe die sikloop sy naam wou hê:

My naam is Niemand. Slim nè.

.

Dít afgehandel het Odysseus eindelik op sy

terugtog sóveel ompaaie en -weë,

halt geroep, huis gehaal en tuisgekom by

sy geliefde

Penelope.

Literêre vertalers sal veral Afdeling vyf vernuftig vind waarin Vos die problematiek van omdigting aanraak. Hier neem hy die ou motto, “traduttore, traditore” (vertaler, verraaier) as uitgangspunt. Vos maak ook ’n belangrike opmerking ten opsigte van die J.P.J. van Rensburg-vertaling (40): “Sy [Van Rensburg] se letterlike vertaling is egter soms hinderlik, veral die herhaaldelike gebruik van “mos”, “tog”, “dan”, “toe”, ensovoorts wat soos trosse meulstene om lesers se nekke hang. Dis egter ’n poging om die Griekse partikels getrou te vertaal”. Vervolgens besin Vos oor die kwessie van prosa wat in plaas van daktiliese heksameter gebruik word (44): “J.P.J. van Rensburg waarsku sy lesers in die voorwoord dat pogings om die versmaat van die oorspronklike Griekse teks ‘in moderne tale na te boots, meestal volslae mislukkings is’ en vervolg dan byna verskonend-beskeie: ‘Daarom het ek maar in prosa probeer vertaal'”.

Ten einde die leser ’n voorsmaak van Vos se omdigting-styl te bied, word Van Rensburg (44) se letterlike vertaling van die eerste tien versreëls van Boek I geplaas, waarna dieselfde versreëls wat deur Vos vertaal is, aangehaal word(63).

Vertel my, o Muse, van die veelervare man wat ver en wyd moes

omdwaal nadat hy die heilige vesting van Troje verwoes het. En

baie mense se stede het hy gesien, en hulle denke leer ken, maar

baie was ook die smarte wat hy in sy eie hart ter see gely het in

sy pogings om sy eie lewe te behou en sy makkers tuis te bring.

Maar selfs daarmee het hy sy eie makkers nie gered nie, al was

dit sy strewe: deur hulle eie hovaardigheid het hulle omgekom,

die stommerike, wat die Songod, Huperion, se  koeie wou opeet.

Ja, Hy het hulle die dag van terugkeer ontneem. Begin tog êrens

in hierdie verhaal, o Godin, o Dogter van Zeus en vertel dit vir

ons ook.

.

Cas Vos se omdigting lui soos volg:

.

Vertel my Muse, van die gevierde Odusseus voor roosvinger

Daeraad die see rooiwyn kleur. Hy het die heilige stad Troje

tot ruïne uitgewis, daarna het hy kruis en dwarsoor die woeste

see gevaar. Odusseus het talle stede gesien en hy is met wysheid

beloon. Hy het ontberings gely om sy kamerade en sy hart veilig

aan wal te kry en dáár in Ithaka vir die gode lofsange te sing.

Maar dood het op sy manskappe gewag toe hulle Huperion,

die songod, se koeie wou afslag. Mag die son vir hom ’n tapyt

van suiwer goud oopsprei. O heilige, dogter van Zeus, begin tog

êrens met hierdie verhaal en vertel dit meesleurend aan ons.

Dit is inderdaad moeilik om ’n oordeel te fel of die prosa-aanslag die beste vertaalroete was, omdat Homeriese Grieks min lesers, insluitend hierdie leser, beskore is. Die enigste manier om in ’n mate hiervoor te vergoed is om Vos se omdigting met Van Rensburg s’n te vergelyk asook met sommige van die Engelse vertalings. Hoewel Vos se vertaalde fragmente meestal vlot lees, sou ’n paar aanpassings met betrekking tot ’n varser taalgebruik oorweeg kon word ten einde die lees te vergemaklik. Voorbeelde hiervan is “Vadertjie!” (138) of “Hy leun teen die lang pilaar en wag op haar liefdevolle stem” (165).

Bogenoemde besware is egter dungesaai. Al het Vos, soos Van Rensburg, die roete van omdigting in prosa gevolg ten einde die  “mislukking” van ’n letterlike vertaling in daktiliese heksameter te voorkom, is Vos se omdigtings, op die keper beskou, beslis meer geslaagd. Een van die redes is dat hy meer kreatief omgaan met die omdigtings en talle slaggate vermy waarin talle vertalers hulleself begewe het. John H. Timmerman (2002:58) waarsku immers dat digters “the chugging engine of strict metrics and rhyme patterns” moet vermy. Dieselfde geld vir literêre vertalers.

Die publikasie self is aantreklik uitgegee deur Cordis Trust en die illustrasies op die voor- en agterplat asook in die teks is uiters gepas. Dis beslis ’n publikasie wat ’n pluspunt vir die Afrikaanse literatuur is in ’n era waarin die verwatering van dié taal afgedwing word, veral op akademiese gebied. Dit is van enorme belang dat omdigtings uit veral antieke tale in die Afrikaans geskied. Die volgende aanhaling van J.P. Sullivan uit Ezra Pound & Sextus Propertius (1965:22) is hier van toepassing: “If a dead poet is to become a living poet, if a dead tradition is to become part of a living poetic tradition, it must first have something vital to offer to re-create it in living terms by whatever method is appropriate. As living poetry the classics can only exist in translation”.

Bronnelys

Nicolson, A. (2015). The Mighty Dead: Why Homer Matters. Londen: Collins.

Pound, E. (1972). The Cantos. Londen:  New York: New Directions.

Sullivan, J.P. (1965). Ezra Pound & Sextus Propertius: A Study in Creative Translation. Londen: Faber.

Timmerman, J.H. (2002). Jane Kenyon: A Literary Life. Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company.

Vos, C. (2014). Fragmente uit die Ilias. Pretoria: Protea Boekhuis.

Vos, C. (2016). Fragmente uit die Odusseia. Lynnwoodrif, Pretoria: Cordis Trust.

.