Posts Tagged ‘Cas Vos.’
Wednesday, November 23rd, 2011

Leon, ten eerste: Veels geluk met die SALA-toekenning wat jy pas ontvang het vir Intimately Absent (2010: Protea Book House); gedigte van Cas Vos wat jy na Engels vertaal het. Hierdie prys is welverdiend en gee inderdaad ook erkenning aan die enorme bydrae wat jy as vertaler lewer om die Afrikaanse letterkunde aan ‘n groter publiek bekend te stel. Ook is dit nie die eerste prys wat jy met jou vertaalwerk inpalm nie. In welke mate verskil dié een vir jou van die vorige bekronings wat jy vir jou vertaalwerk ontvang het?
Hierdie prys is baie PC! Dit kom van die regering se kant af, en is polities baie inklusief, met ‘transparent’ prosesse van beoordeling ens. ens. Die geld kom ten minste deels van die departement Arts & Culture, and my, do they dish it out! R30,000! Goeie genugtig! Ek wou ‘n nuwe motorfiets koop, maar weereens - soos altyd - sal die geld gebruik word vir die opvoeding van my twee wonderbaarlik-slim en kreatiewe kinders, wat daarop aandring dat hulle op UK studeer!
Volgens die onderhoud wat vroeër met Cas Vos gevoer was, bestaan daar ‘n besonder affiniteit tussen jou as vertaler en sy gedigte. Wat in hierdie spesifieke digkuns is dit wat tot jou as vertaler spreek?
 Omslag
Cas en ek is baie anders: hy is ‘n mooi, sagte ou, en ek is ‘n harde bliksem. Maar hy verstaan. En hy gee nie om nie wanneer ek sy gedigte ‘n rowwe tekstuur gee nie. Ek maak sy beelde meer wrang. As ek sy liefdesverse vertaal, gooi ek so klein bietjies asyn by … en hy hou daarvan! Die man is vriendelik en oop. Hy is ‘n uitstekende medewerker. Ons twee se aanslag is fundamenteel anders. Dis hoekom ons so goed saamwerk. Hy laat my onthou hoe dit voel om ‘n goeie mens te wees! Hy is religieus. Ek is ‘n volstrekte ateïs. Hy glo in die liefde … Ons trek mekaar se werk skeef, en ons doen dit aspris. Ek en Cas het nou begin met ‘n boek-projek getiteld ONTROU / FAITHLESS, waarin ons mekaar se gedigte doelbewus ‘ontrou’ omdig/vertaal. Dit gaan interessant wees! Ons het reeds begin, maar my huidige vertaalwerk aan Ingrid Winterbach se Benederyk het dit op die waglys laat beland, waar dit borrel en kook, in afwagting …
Vir ‘n vertaler is daar sekerlik altyd bepaalde woorde (of frases) wat aan hom of haar ‘n besonderse gevoel van dankbare tevredenheid bied. Is daar spesifieke “vondse” van hierdie aard wat jy bereid is om met ons te deel?
Die grootste uitdaging vir my was Cas se rymende gedigte. Ek het besluit die Engelse omdigtings móét ook rym. Ek is dankbaar vir die ‘vondse’ wat uit hierdie proses gekom het. Ek wil twee voorbeelde gee. Die eerste gedig kom uit Intimately Absent, en die rymende Engelse omdigting bly vir my ‘n besondere mooi gedig:
Visit to the grave of Abelard and Heloise
at Père Lachaise, 12 June 2009
Sombre clouds mass as I sink to my knees,
tongue-tied, in this holy place.
Here, the dead are held in darkest sleep,
folded in shadows like lace.
In a remote corner
a tree holds up its shaky throne.
There lie Abelard and Heloise
cast for centuries in stone.
Their hands clasp intimate prayers -
candle-smoke in shades of grey.
On a bed of rock,
cradled in song, the lovers sway.
***
Besoek aan Abélard en Héloïse se graf
Père La Chaise, 12 Junie 2009
Onder vlae grys wolke kniel
ek tongstom op ‘n heilige plek
waar skadu’s se voue dooies
in hulle diep slaap bedek.
In ‘n verlate uithoek
waar ‘n boom wortelskiet
lê Abélard en Héloïse
eeuelank in klip gegiet.
Hul hande vou intiem -
‘n melodie van kerslig.
Op ‘n bed van klip
wieg geliefdes innig.
Die tweede voorbeeld kom uit Duskant die Donker / Before it Darkens. Om ryme te vertaal, moet ‘n mens vryelik interpreter, om sodoende groter ruimte vir verskillende woordklanke te maak; maar dan moet jy seker voel dat jou ‘interpretasies’ in die kol is. Kyk hieronder, eers na die Afrikaanse gedig, en dan na die rymwoorde in die Engelse weergawe. Kyk hoe die Engelse omdigting soms verder gaan as die Afrikaans, en ‘n soort poëtiese ‘interpretasie’ skep van die oorspronklike gedig:
See
In Cannes se inham lê rykmansbote, ‘n vloot gedwee
soos ligkastele, snoete raak weg in oksels van die see.
Jong lywe het hier verbygegaan, mekaar gesoen
dobberende borste, voete soos perlemoen.
Sy verkyk haar in Portofino aan die son se seine
en die akrobatiese vernuf van waaghalsige dolfyne.
Saans sink die son sonder takelwerk
maak wind op haar lyf onsigbaar ‘n merk.
Sy moet my in die oog hou
en my styf teen haar vashou
voor ek - van alles gestroop -
op die rotse loop.
***
Sea
Rich men’s yachts bob in the cove of Cannes, a fleet set free,
castles of light, their snouts in the armpits of the sea.
Young bodies pass by here, kisses unfurl,
breasts like buoys, feet like mother of pearl.
In Portofino, the dolphins’ reckless, acrobatic pluck,
the play of light, fill her with a sense of luck.
In the evening, as the sun sinks free of yachts’ tackle,
the wind marks her body, an invisible shackle.
She must keep me reined in,
hold me tight against her skin
before I - stripped to the bone -
wash up on the rocks, alone.
Jy is natuurlik self ‘n uiters bedrewe digter van drie digbundels: Bloodsong (1997: SnailPress), Gone to the edges (2006: Protea Book House) en Bodyhood (2010: Umuzi). Vind jy dat jou vertaalprojekte die skryf van eie verse inhibeer of dalk juis stimuleer?
Dit is baie maklik om te vergeet dat jy ‘n ‘digter’ is. Selfs om te sê, ‘ek is ‘n digter’, voel vir my nog steeds uiters verwaand. Ek sukkel om daardie woorde te uiter. Maar as jy gedigte vertaal, dan onthou jy dat gedigte skryf eerder ‘n werkwoord as ‘n naamwoord is. Dis ‘n lekker, speelse proses. That’s the whole point! So ja, dit stimuleer eerder as inhibeer. As ek ‘n paar van Cas se verse lees, dan wil ek sommer onmiddellik ‘n swartgallige, bitter gedig skryf! Maar ten spyte daarvan, bewonder ek die gees waarin hy sy verse skryf. Hy inspireer my! Ek is besig om nagraadse studente by vertaalprojekte te betrek, en veral studente in die kreatiewe skryfkuns. Mense besef nie hoeveel ‘n mens oor kreatiwiteit leer as jy vertaal nie. Dit is vir my, op die keper beskou, die grootste leermeester. Ek het by Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden (en nou, by Ingrid Winterbach) geleer hoe om fiksie te skryf, deur hulle werk te vertaal. Ek wil nagraadse studente op US (of waar ook al) oorreed om Van Wyk Louw en Eugene N. Marais en Mqhayi en Kunene en Delius en Butler en Breytenbach en Ruth Miller en Wopko Jensma en Adam Small en … en … en … oor en weer, oor verskeie tale heen, te vertaal, om hulle dan so te laat leer hoe om te skryf. Om hulle so hulle talent te laat slyp in die tradisies van skryf in hierdie land - tradisies wat al hoe meer vergeet word ten gunste van post-dissiplinêre ‘diskoers’-tipe navorsing, wat besig is om die studie van letterkunde, die goed wat skrywers skryf, stelselmatig te ondermyn in ons akademiese ‘letterkunde’ departemente.
Robert Frost het by geleentheid gesê: “Poetry is what gets lost in translation.” Wat is jou mening omtrent hierdie ietwat uitdagende stelling? Hoe benader jy die vertaalproses?
As dit waar is, dan is die dubbele verlies van vertaling ‘n groot fonds! Tradure, tradire! Lees Pieter Odendaal se knap artikel op LitNet Akademies oor ‘betekenaar vertaling’ (die klassieke tipe vertaling waarin jy die ‘signifiers’ self trou probeer vertaal), teenoor ‘betekende vertaling’ (die tipe wat Odendaal in Breyten se self-vertalings bespeur, waarin die losse ketting betekendes - signifieds - losgemaak word van die betekenaars, en die vertaling soos ‘n warrelwind nuwe, verrykte, wydlopend en ander ‘betekenis’ skep).
Maar lees ook my kommentaar op Odendaal se artikel (ook op LitNet Akademies) - hierdie losse vertaling kan maar net gebeur in spesifieke gevalle van groot vertroue (of ‘n spesifieke ooreenkoms) tussen vertaler en skrywer, of wanneer skrywers hulle eie werk vertaal, soos in BB se geval.
***
Nota: Meer inligting oor Leon de Kock se werksaamhede as akademikus, skrywer en vertaler kan op sy persoonlike webblad gevind word.
Thursday, June 2nd, 2011
In die vorige drie gesprekke het ek probeer aantoon hoe die eeue-oue tegniek van ekfrasme in die praktyk funksioneer. Ekfrasme is sodanig deel van alle kunste dat ‘n mens dikwels skaars daarvan bewus is dat dit inderdaad gebeur – as ‘n digter nie (soos in moderne gedigte die neiging is) sy bronne eksplisiet bekendmaak nie, sal dit, dink ek, dikwels ongemerk verbygaan. Een van die redes waarom digters hulle skatpligtigheid teenoor ‘n kunswerk erken, is natuurlik omdat aktivering van dié kunswerk se kode die leser daartoe lei om ‘n addisionele betekenislaag tot die gedig toe te voeg. Resonansie met ‘n ander kunswerk kan eweneens ‘n onderliggende spanning en ambivalensie aan gedigte verleen. In sommige gevalle is kennis van die oorspronklike werk natuurlik ook noodsaaklik om die gedig te interpreteer, maar dan begin die saak problematies raak, want Genette gee uitdruklik te kenne dat hoewel intertekste ‘n kunswerk kan verruim, enige goeie kunswerk uiteraard ook afsonderlik van sy intertekste moet kan bestaan en kan betekenis genereer.

- Marlene Dumas
Uit die aard van die saak leen sommige kunswerk hulle beter tot transformasie na ‘n talige medium as ander. Hier dink ek nou spesifiek aan Marlene Dumas se kuns. Dumas was op ‘n stadium die vrou wat tydens haar eie leeftyd die hoogste prys ($3.34miljoen) vir ‘n kunswerk behaal het. Veral in Europa is dié Suid-Afrikaans gebore skilder wat haar in Nederland gevestig het, baie bekend. Haar doeke is dikwels groter as lewensgroot en beeld omstrede temas en figure uit. Daarby het baie van die werke poëtiese titels wat spesifiek daarop gemik is om die onderliggende meerduidigheid van die werk te suggereer. Benewens die feit dat sy in baie van haar vroeë werk tekste as deel van die skilderye inkorporeer, skryf sy ook relatief veel oor haar eie werk.
Sweet Nothings is ‘n losse versameling van uitsprake oor Dumas se werk, sowel deur haarself as deur ander. Een van die heel interessantste en betekenisvolste uitsprake wat sy in dié boek maak, is: “ART doesn’t speak unless / it’s spoken to. / ART is only metaphorically a language, not literary. / ART does not follow the rules of language. / The arbitrary and the particular / resist generalisations / necessary / for logical communication … ART has never been innocent.”
In aansluiting by dié uitspraak, kan ‘n verdere uitspraak van haar gevoeg word: “Art is not a mirror. Art is a translation / of that which you do not know ..” (Uit: “Unsatisfied desire and the untrustworthy Language of Art”).
Ten spyte van die bewustheid dat woorde essensiële belewenisse nie kan representeer nie, heg Dumas besondere waarde aan die geskrewe woord, soos blyk uit haar verklaring onder die hofie “Why do I write (about Art)”: “I write about art because I am a believer. / I believe / in the power / of words / especially the / WRITTEN WORD. // I have seen the glory and the power of the word. / I have experienced the power of repetition, / the intoxication of rhythmic rethorical arousal. // I write because I love words. / Or rather, what is more erotic than a body with sexappeal? / A sentence with sexappeal.”
En dan die uitspraak: “Words and images drink the / same wine.”
En: “Why do I want my texts to be read? … never mind if it’s art, or smart / But is it true? / True to what? / True to you / of course.”
Geen wonder dus dat veral digters graag in gesprek tree met Dumas se tekste nie – soos haar skilderye uittartend is, tart sy die digter uit om nie onbetrokke toe te kyk nie …
Marlene Dumas se werk reageer by uitnemendheid op die oproep wat Thierry de Duve in 1986 op skilders gedoen het “to address the idea of (painting’s) rebirth as language”. Dumas lê in haar werk onmiskenbare verbande tussen vrouwees en skilder ten einde (aldus Mary-Rose Hendrikse) Westerse aannames aangaande die verhouding tussen die vrou en die skilderkuns te ondermyn en alledaagse aannames aangaande sien en betekenisgewing bloot te lê. Een van haar bekendste uitsprake is: “I paint because I am a woman. (It’s a logical necessity)”. Deur nuwe verbande tussen die vrou en die skilderkuns te lê, stel Dumas nuwe maniere van sien en betekenisgewing aan die orde wat onder andere die herstel van subjektiwiteit aan die subjek behels. Hendrikse skryf:
My central contention is that, for Dumas, painting becomes an emblem for the inaccessibility of meaning to notions of posession and, concomittantly, the deliberate frustration of the desire to master and objectify women as much as meaning.
Die wyse waarop hierdie effek in haar skilderkuns beslag kry, word deur Patricia Ellis op haar webwerf “About Marlene Dumas and her art” soos volg verduidelik:
By simplifying and distorting her subjects, Marlene Dumas creates intimacy through alienation. Her subjects’ assertive stares suggest that her paintings aren’t actually about them, but the viewer’s own reaction to their perverse circumstance. With deceptive casualness, Marlene Dumas exposes the monstrous capacity belied by ‘civilised’ human nature.
Dumas se skilderye problematiseer die “gaze”, wat ‘n belangrike postmoderne en feministiese begrip is wanneer dit begeer en besit, besitter en ondergeskikte impliseer. Dumas se skilderye wek die indruk dat die geskilderde subjek die kyker beskou en dus die “gaze” van die subjek verskuif na die objek. Die kyker se “gaze” is derhalwe sekondêr terwyl die geskilderde objek so blatant uit die skildery kyk dat die gevoel ontstaan dat dít die primêre “gaze” is.
Antjie Krog is een van die digters wat juis inspeel op die voorafgaande kwessie van die problematiese verhouding tussen man en vrou wat in tradisionele liefdesnarratiewe dikwels uitgebeeld word as onderdanigheid van die vrou ten opsigte van die man. In die gedigsiklus “skilderysonnette e.a.” uit “sgraffito”, die derde afdeling van Kleur kom nooit alleen nie, dra sewe van die nege gedigte die titel van ‘n Dumas-skildery, asook die naam van die skilder en meestal ook ‘n datum. Een verdere gedig “The loneliness of Skin” verwys na ‘n skildery van Marlene Dumas, naamlik “The Loneliness of One’s Own hand”.
Sgraffito, die naam van die derde afdeling van die Krog-bundel, verwys na ‘n pleister-, keramiek- of kunstegniek wat behels dat verskillende lae kontrasterende kleure bo-oor mekaar aangewend word waardeur gekrap word om ‘n kunswerk of versiering te skep. Dit hou voor die hand liggende verband met die woord “graffiti”, wat meestal openbare protesnotas is, en dit is presies wat Krog in haar sonnette oor Dumas-gedigte doen. Sy skryf as’t ware haar kommentaar bo-oor die skildery deur op die onderliggende ideologie van die skildery te reageer of ‘n duidelike ideologiese interpretasielaag daaraan toe te voeg. In die gedig “The image as burden” toon sy aan hoe die uitleef van die stereotiepe geslagsrol vir die vrou tot las word. Hierin sou ook ‘n inskryf teen die konvensies van die romantiese liefdesnarratief gelees kan word waarin die vrou uitgebeeld word as ‘n objek wat behoefte het aan ‘n held of ‘n beskermer en waarin vervulling van die man se begeerte na die vrou die einddoel is. Beatrix Schmaußer wys in haar bekende werk “Blaustrumpf und Kurtisane” daarop dat dié verwronge beeld van die sosiale rol van die vrou (en die man) oorspronklik ontstaan het in karikature uit die negentiende eeu waarin satiriese sosiale kommentaar op destydse sosiale toestande gelewer is. Dié karikatuuragtige rolverdeling het nog tot diep in die twintigste eeu in baie Westerse samelewings normatiewe status geniet.
Die gedig “Hierarchy” verwys reeds deur sy titel na ‘n rangorde, ‘n orde waarin sekere mense ondergeskik is aan dié wat bo hulle gestel is, dus ‘n stelsel van oorheersing en mag. Die skildery “Hierarchy” beeld ‘n eksplisiete liefdestoneel uit met die vrou in aggressiewe houding bo-op die man. In die sonnet word die aggressie van die vrou verbaal verwoord deur frases soos “ek breek jou beendere teen die vloer / jou hart kap-kap teen die hout” en “handgemeen”. Dit is duidelik dat die vrou in hierdie gedig die handelende subjek is, terwyl die man passief bly. Die gedig eindig immers ook met die frase “ek’s nie ‘n oorgawe-vrou nie”.
In haar opstel “Power, Sexuality, and Intimicy” maak Muriel Dimen die bewering dat die patriargie primêr ‘n sisteem van dominansie is wat menslike begeerte aanval deur dit te reduseer tot seks. Seks word dan gedefinieer in die verpolitiseerde terme van geslag wat berus op die biologiese verskille tussen man en vrou. Begeerte word op hierdie wyse aan geslag gekoppel. Susan Bordo wys daarop dat die begeerte van die man (hetsy seksuele begeerte of begeerte na kos) deur die gemeenskap as normaal aanvaar word. Die vrou se begeerte word deur die gemeenskap egter gesien as iets wat onderdruk moet word. Krog se gedig dekonstrueer die beeld van die vrou wat haar begeerte sublimeer deurdat sy ‘n stem gee aan die vrou en vroulike begeerte, byvoorbeeld deur die handeling aan die vrou toe te sê en dit vanuit die vroulike perspektief te beskryf.
Die gedigsiklus “skilderysonnette e.a.” is duidelik ‘n poging om die vroulike belewenis van erotiek te belig, onafhanklik van die stereotiepe beeld wat deur manlike fantasie gedrewe is. Ek het vantevore al heelwat oor Krog se Dumas-gedigte geskryf en gaan nie hier alles herhaal nie – my geskryfdes moet seker nog iewers op die Internet ronddobber …
Cas Vos se vier gedigte oor Marlene Dumas-skilderye in Intieme Afwesige fokus, hoewel op ‘n heel ander wyse, eweneens op die onderliggende ideologie van die betrokke skilderye. Ook Vos verwys eksplisiet na die skilderye “Misinterpreted”, “Male beauty”, “Martha” en “Measuring your own grave” van Dumas.
Sy gedig “Misinterpreted” verwys na ‘n skildery van Dumas met dieselfde titel, uit 1988. Die ambivalente titel “Miss Interpreted” het Dumas al ‘n slag gebruik as tema van ‘n uitstalling, waaroor sy self skryf oor interpretasie en waninterpretasie: “ … note – not Miss Misinterpreted, but most people missed the point, just causing more misinterpretation. Dit is ook die titel van ‘n video oor Dumas en ’n gedig wat in Sweet Nothings verskyn: “What is the matter, little Miss Muffet? / Why so upset; because a spider / sat down beside her? // This is a question I can ask myself. / Did I not invite this misadventure / into my parlour? Sleeping with my door / open at night, smiling at perfect strangers? / This is reminiscent of the controversy surrounding / Rape, where the line between / seduction and whatever-it-was-you-got is a crucial point.” – Die klassieke voorbeeld van waninterpretasie dus en gewoonlik die man se verweer in ‘n verkragtingsaak!
In ‘n ander gedig uit dié versameling vergelyk sy kunstenaars en prostitute: “They want everyone to want them / while they don’t want anybody.” Bogenoemde aanhalings verduidelik dalk iéts van die ingewikkelde ambivalensie wat uit baie van Dumas se skilderye spreek waarin die figure gekenmerk word deur onbeskaamde liggaamlikheid, verleidelikheid en banale ekshibisionisme tesame met ‘n uitdagende, byna uittartende “gaze” wat interpretasie problematiseer.
Die skildery “Misinterpreted” beeld ‘n model uit wat haat valletjiesrok hoog bokant haar bene oplig sodat haar broekie net-net sigbaar is. Die skildery trek die blik van die leser heel eerste na die ontblote liggaam, maar van daar, oor die valle van die rok, na die model se oë wat sowel gewilligheid as onwilligheid wys – ‘n bose kringloop waarin die kyker homself maklik in die ongemaklike posisie kan bevind dat hy as’t ware “uitgevang” word terwyl hy “afloer”.
Dit is dié interpretasie waarmee Vos werk. Sy gedig fokaliseer vanuit die perspektief van die skildery-subjek en onderskryf die aanname dat Dumas se skilderye ‘n problematiese verhouding met die kyker aanknoop. Die gedig open met die reëls “Moenie my so miskyk nie. / Kyk na die lyne van my gesig.” Dié reëls suggereer skaamte aan die kant van die kyker – die feit dat hy die model nie in die oë kyk nie, maar dat sy blik, sy “dwalende oë”, vasgevang bly op die “wit skulp” waar sy “been wys”. Die opdrag om na die model se gesig te kyk, is die poëtiese weergawe van die wyse waarop die skildery die blik van die kyker lei van die banale beenwys na die uittartende en alwetende oë. Die tweede strofe van die gedig ondermyn dan weer die idee van interaksie tussen model en kyker wanneer die model sê: “Dit is tot jou heil / dat ek ingeraam word” – die raam vorm ’n duidelike grens tussen kunswerk en kyker. Hierdie reëls suggereer egter tegelykertyd dat die kyker al reeds deur die model geïnterpreteer is (dalk nog voordat hy die geleentheid gehad het om die skildery te interpreteer). Sy stereotipeer hom as ’n verkrampte man wat heel waarskynlik sy “afloerdery” as sonde beskou – die term “Dit is tot jou heil” klink verdag reformatories! Die opdrag “Kyk voor jy met blindheid geslaan word” in die derde strofe ondersteun dié vermoede. (Ek praat hier gewoon van die kyker in die manlike vorm, omdat die digter ’n man is en die aard van die kommentaar wat die vroulike model lewer, tipies op ’n man gerig is). Die laaste strofe lui” “Sien my wit skulp as ek been wys. / Ek vóél jou oë oor my spoel. / My ore suis.” Hierdie strofe illustreer en onderskryf die ambivalensie wat deur die skildery uitgebeeld word: die waarskuwing wat aan die begin van die gedig aan die kyker gerig word, word nou in ’n uitnodiging verander. Die laaste reël ondermyn egter laasgenoemde aanname, naamlik dat die model as vrou die man wil plesier, wanneer dit eksplisiet die begeerte van die vrou verwoord.
In die gedig “Verblind (of ’n oog vir liefde)” neem Vos die manlike naakstudie “Male beauty” (2002) as poëtiese stof – ook hier word die voyeuristiese handeling deur die titel as sonde geïmpliseer (soos in die vorige gedig). Die skildery “Male beauty” (waterverf op papier) is ’n naakstudie van ’n man in ’n erotiese posisie van agter gesien. Dumas het dié skildery gemaak nadat sy van ’n vriend ’n boek met eksplisiete naakstudies wat op die homo-erotiese mark gerig is, geskenk gekry het. Vos tree in sy gedig met dié aspek van die skildery in gesprek wanneer hy in die slotstrofe implisiet verwys na die “sonde” van gay-wees deur die grafskrif van Leonard Matlovich aan te haal: “They gave me medals for killing men, / but a discharge for loving men.”
Hierdie redelik oppervlakkige bespreking is daarop gemik om iéts te probeer aantoon van die gekompliseerde gesprek tussen die skilderkuns en die poësie; dat dit om baie meer gaan as die blote representasie van oppervlakkige skilderygegewens; dat die moderne neiging is om baie dieper te “krap” in die ideologiese onderbou van skilderye en dan met dié teoretiese, kunsbeskoulike aspek van die visuele kunswerk in interaksie te tree.
Thursday, April 28th, 2011
OMDIGTING: ‘n PROSES. (Oorspronklike E-poswisseling.)
Gedig
| Cas Vos [cas.vos@vodamail.co.za] |
| Sent: |
Friday, April 22, 2011 9:13 AM |
| To: |
De Kock, L, Prof <leondk@sun.ac.za> |
| Categories: |
|
| Attachments: |
|
Hi Leon, ek hoop die Kaap is mooi en goed vir jou. En veral dat dit met jou en jou werk baie goed gaan.
Ek is uitgenooi om ‘n referaat by ‘n internasionale kongres te gee.
Ek wil die Hebreeuse teks van Ps 23 ontleed, dan kyk na die resepsie geskiedenis daarvan en ten slotte na die neerslag daarvan in gedigte. Ek wil ons gedig in Before it Darkens, gebruik. Maar ek het ook ‘n ander een wat ek wil gebruik. Leon, ek sal so bly wees as jy dit kan doen.
Nogmaals dankie en geniet die dag.
Groete,
Cas
my anima is my herder en beskermer,
sy lê my neer in vlaktes droë weivelde,
lei my na waters van onrus en haat.
sy versondig my siel, verlei my
op die glyspore van onreg en kwaad.
haar naam proe bitter op my lippe,
in die skadu van my onderbewuste
is vrees my donker geesgenoot.
in my hart met sy trosse kamers
woon my broers en my susters:
hoogmoed, hebsug, wellus, woede,
vreetsug, afguns, luiheid -
die sewe wonders van my lewe,
al my kortstondige dae.
——————
From: De Kock, L, Prof <leondk@sun.ac.za> [mailto:leondk@sun.ac.za]
Sent: 25 April 2011 05:20 PM
To: Cas Vos
Subject: RE: gedig
Cas, hiermee die vertaling, Groete, Leon.
my anima is my shepherd and guardian,
she makes me lie down on the dead plains,
leads me beside waters still with unrest and hatred.
She blackens my soul, seduces me on
the wet slopes of harm and wrongfulness.
her name tastes bitter upon my lips,
in the shade of my underworld
terror is my dark soulmate.
in my heart with its many, wild chambers
my brothers and sisters fume:
pride, greed, lust, wrath,
gluttony, envy, sloth -
the seven wonders of my life,
all my fugitive days.
—————–
RE: gedig
| Cas Vos [cas.vos@vodamail.co.za] |
| Sent: |
Monday, April 25, 2011 6:18 PM |
| To: |
Leon de Kock |
My vriend, Leon, uitstekend en baie dankie.
Mooi loop en groete,
Cas
—————–
gebruik HIERDIE een
| |
| De Kock, L, Prof <leondk@sun.ac.za> |
| Sent: |
Monday, April 25, 2011 7:23 PM |
| To: |
Cas Vos |
| |
|
my anima is my shepherd, my guardian,
she maketh me lie down on dead plains,
leads me beside waters of hatred and unrest.
She blackens my soul, seduces me
on wet slopes of wrongful harm.
her name is bitter upon my lips,
in the shade of my underworld
terror is my dark soulmate.
in my heart with its many, wild chambers
my brothers and sisters fume:
pride, greed, lust, wrath,
gluttony, envy, sloth -
the seven wonders of my life,
of all my fugitive days.
——————-
ons gedig
| Cas Vos [cas.vos@vodamail.co.za] |
| Sent: |
Tuesday, April 26, 2011 6:33 AM |
| To: |
MDe Kock, L, Prof <leondk@sun.ac.za> |
| Categories: |
|
| Attachments: |
|
Hallo Leon, ek is bekoor deur jou omdigting. Dis wonderlik om saam met jou te werk aan gedigte. Daar is altyd ‘n kreatiewe vonk wat jy na my toe laat spat. Ek het my gedig effens gewysig om by jou omdig aan te pas.
Nogmaals baie dankie en ‘n mooi dag,
Cas
my anima is my herder, my beskermer,
sy lê my neer in dooie weivelde,
lei my na waters van onrus en onvrede.
sy versondig my siel, verlei my
op nat steiltes van onreg en kwaad.
haar naam is bitter op my lippe,
in die skadu van my onderbewuste
is vrees my donker geesgenoot.
in my hart met sy trosse kamers
woon my broers en my susters:
hoogmoed, hebsug, wellus, woede,
vreetsug, afguns, luiheid -
die sewe wonders van my lewe,
van al my kortstondige dae.
Tuesday, March 29th, 2011
Duskant die donker / Before it darkens. Deur Cas Vos (met vertalings deur Leon de Kock). Protea Boekhuis. Prys: R150. Aantal bladsye: 128. ISBN 978-1-86919-412-3
Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
 Duskant die donker/Before it darkens
In net meer as ‘n dekade sedert sy debuut met Vuurtong in 1999 het Cas Vos met 5 bundels ‘n eie plek in die Afrikaans digkuns vir hom oopgeskryf.
In sy mees onlangse bundel Afrikaanse verse, Intieme afwesige (2009), het daar al ‘n Engelse vertaling van een van die gedigte langs die oorspronklike verskyn (”Afskeid” / “Farewell”). Dis verlede jaar opgevolg met die publikasie van Intimately absent, Engelse omdigtings deur bekroonde vertaler Leon de Kock van die vierde afdeling (die “Abélard en Héloïse”- en “Astralabe”-reekse) uit daardie bundel.
Met Duskant die donker / Before it darkens staan die talentvolle De Kock vir Vos verder by om laasgenoemde se digkuns wyer as die toeganklikheidsgrense van Afrikaans bekend te stel. Anders as in Intimately absent verskyn die Engelse vertalings dié keer telkens langs die Afrikaanse ‘oorspronklikes’. Dit behels ‘n keur uit die ander gebundelde gedigte van Vos, veral uit Intieme afwesige en Die afdruk van ons hande (2007), maar ook enkele nuwe gedigte.
Ek plaas ‘oorspronklik’ tussen aanhalingstekens, want ‘n hele klompie van die herpubliseerde Afrikaanse verse is in ‘n mindere of meerdere mate deur Vos herskryf.
Voorts word die keur-met-vertalings ingelei met ‘n digterskap-taksering deur Johann de Lange, wat nou al sy sout verdien het as bekwame bloemleser, bloemlesinginleier en poësievertaler.
Alles in ag geneem, tree daar nogal ‘n promoverende strewe uit die verf aangaande Vos se digterskap. ‘n Fisiese uiting van laasgenoemde is die feit dat al Vos se bundels sedert Die afdruk van ons hande, ook die bundels vertalings, aantreklik uitgegee is in hardeband - ‘n voorreg wat al lank nie meer selfs internasionaal bekende Afrikaanse digters, soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog, beskore is nie.
De Lange maak in sy inleiding, getiteld “Die spoor van papirus”, gewag van “‘n afgeronde, klassieke soort vers met tradisionele bindingsmiddele soos rym en ritme” wat Vos skryf, iets wat hy onder meer koppel aan die digter se belesenheid in byvoorbeeld klassieke en antieke literature en mitologieë.
Myns insiens is daar eerder sprake van ‘n spanning tussen vaster en vryer vormgewing in Vos se oeuvre. Dit word algaande met meer trefkrag deur hom benut om iets van die paradoksaliteit en ironie op te vang wat sy verwoorde lewenservarings kenmerk - “die spanning tussen wat oud is en nuut, verlede en hede, goddelik en Goddelik, die aardse en die boaardse, die epiese en die alledaagse”, soos De Lange ‘n aantal dergelike teenstrydighede opsom. Ek sou onder meer die spanning tussen sinneroes en sentiment aan die een kant, en intellektualiteit aan die ander kant, wou byvoeg.
Trouens, die vyf afdelings waarin die gedigte in Duskant die donker / Before it darkens gerubriseer is, kan as verteenwoordigend gesien word van die belangrikste tematiese velde wat Vos in sy oeuvre bestryk:
- religie (met aanbidding en opstand, bestaansvreugde en -pyn, vertroue en twyfel in gespanne verhouding);
- liefde (waaronder erotiese verlange en vervulling, maar ook liefdeskipbreuk, -verlatenheid en -gemis, én die impulse tot poësieskepping wat dit alles bied);
- kunsskepping en kunstenaarskap (die triomfe en verrukkings daarvan, maar ook die pyn en onvoldaanhede wat daarmee gepaardgaan);
- lyding, skeefgeloopte verhoudings, die somber kante van hierdie lewe; en, laastens,
- aftakeling (deur ouderdom en die dood, maar ook van mense ondermekaar), versuim en gefnuiktheid - dit waarop in die bundeltitel gesinspeel word.
Op boeiende en soms aantreklike wyses word geykte uitdrukkings, asook aanhalings uit en toespelings op bekende intertekste, met eie taalwendings vervleg en verlewendig om ook op stylvlak sulke spanninge op te vang. (Meersinnige) woord- en klankspel versterk in die beste gedigte die effekte wat sodoende bereik word.
Vergelyk hoe die (geïmpliseerde) uiteenplasing van die bekende samestelling “droomverlore” bykomende betekenisse moontlik maak in die volgende kwatryn - iets wat nie behoorlik spreek uit De Kock se omsetting nie:
|
volmaan
die volmaan hang
verlate oor ‘n boom
terwyl ek droom
verlore na jou verlang
|
full moon
desolate, the full moon
floats across a tree
as i dream of being free
free to take you in full swoon |
Dit alles word, in Vos se beste gedigte, onderskraag deur ‘n beeldingsvermoë wat algaande in helderheid en suggestiekrag toeneem, en wat steeds sterker uiting vind in meer objektiewe gestalteverse.
Één voorbeeld, met De Kock se (plek-plek selfs oortreffende) vertaling daarby:
|
Il Gigante
Die beeldhouer blaas asem
in ‘n massiewe stollingsklip;
sy beitel hap log marmervlees,
tap bloed in die klip tot
uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,
oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.
Hy staan onverskrokke met sy slingervel
om met Goliat, die Godterger, af te reken.
Wat weet hy van Batséba, andersmansvrou?
Of van kwellings oor kinders, twyfel
oor nasate waaruit die asem
van God iets onverwelkliks kan laat bot?
Hy staan gesnaar.
|
Il Gigante
The sculptor blows breath
into the giant, stilled rock;
his chisel bites into the hulk of marbled flesh,
taps lifeblood into the stone until
a young shepherd arises out of its frigid face,
eyes large and innocent, body soft as a lamb.
He stands there, fearless, with a sling
ready to put paid to Goliath, the godless
brute.
What would he know about Bathsheba, and
forbidden fruit?
Or about torments for the sake of children,
doubt
about descendants from whom the breath of
God
can bud into something imperishable and
strange?
Strung, he stands ready. |
Helaas blyk uit hierdie keur, hoewel uiteraard minder opvallend as uit sy oorspronklike bundels, ook dat Vos hom skuldig kan maak aan minder sekure woordkeuses en stelwyses, onder meer vanweë sy pogings om derglike spanninge te verwoord. Ietwat troebele beelding - selfs in gedigte wat hy redelik sterk herskryf het vir opname in Duskant die donker / Before it darkens - is soms ‘n bykomende gevolg hiervan.
As voorbeeld plaas ek hieronder grepe uit die oorspronklik (in Die afdruk van ons hande) gepubliseerde en uit die herskrewe weergawes van die langerige gedig “Huwelik” langs mekaar, om die vergelyking makliker te maak. Hulle word gevolg deur ‘n naasmekaarplasing van (weer eens) die herskrewe en dan die vertaalde weergawes van daardie selfde dele. Ek dui woorde en frases in Vos se herskrewe weergawe wat na my mening (steeds) ietwat mank gaan aan troebelheid, met skuinsdruk aan. Ook met betrekking tot De Kock se vertaling lig ek frases met skuinsdruk uit, maar dié keer om te fokus op hoe die vertaler (hoofsaaklik) ophelderend te werk gegaan het, of óm dowwe kolle gestuur het.
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde na die man se ore.
Sy vrou talm êrens op die drumpel van
verdriet,
met swye ontken hy alles.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bad hom in die heilige modder,
proe aan donkermaan.
Hy begin die waarheid lieg,
soos digters soms
agter ironie se masker.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Man en vrou sleep mekaar
donker slote toe.
[...]
|
’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
| ’n Jaar of vyf ná die troue
draai ‘n vrou laatnag
met woorde bewustelik vaag
na haar man se dowe oor.
‘n Verlate vrou talm
op die drumpel van verdriet.
Met ‘n mond vol swye ontken hy alles.
Satire vervaag tussen hulle soos ink,
maar stilte is gebeitel in graniet.
Die man se tong
slaan dik aan van leuens oor
vergaderings, beleggings,
skemerpartye, gesellinne;
hy analiseer verlore simbole,
bemors hom met heilige modder,
proe aan donkermaan,
sien ‘n lyf sag vir blinde liefde.
Hy begin die waarheid lieg,
vlugtig en woordryk.
Die muskus van die nag verwond hom,
die jasmyngeur in sy woorde is vir haar
pynlik.
[...]
Vir God en sy gebod is
daar skaars plek in ‘n koue oorlog.
Die man sleep die vrou
na ‘n donker sloot toe
seën haar met vloeke
en skelmstreke;
sy stapel verwyte teen hom op.
[...] |
A year or five after the marriage
a woman turns, late at night,
utters words deliberately vague
into her husband’s deaf ear.
A woman left behind,
she lingers on the threshold of regret.
The man’s mouth is full of reticence.
He denies everything.
The coil of their satire snaps,
their silence chiseled like granite.
Thick-tongued, the man
ladles out alibis:
meetings, investments,
cocktail parties, companions;
tests for taste the moon-bereft night,
sees a body soft for the want of blind love.
He starts lying the truth,
fast and eloquent.
The night’s musk hurts him.
The jasmine in his words stabs her.
[...]
There is little place in a cold war
for god and godliness.
The man drags the wife
into a dark trench,
blesses her with curses,
sleight of hand;
she piles op reproaches against him.
[...]
|
Ek het trouens alte dikwels by die lees van die bundel die verontrustende indruk gekry dat De Kock se vertalings die brontekste ‘n bietjie in die skadu stel - en gedink hoe gelukkig Vos hom kan ag dat dié beeld van sy digterskap na die Engelstalige wêreld uitgestraal word.
Ter verdere illustrasie - en daarmee ten slotte - die verskillende weergawes van “Villanelle vir die oudag” (oorspronklik uit Enkeldiep, 2003), op dieselfde wyse as die dele uit “Huwelik” hierbo só geplaas en gekursiveer dat vergelyking vergemaklik word. (Let byvoorbeeld op hoe die gebrekkige beeldsamehang in strofe 3 deur De Kock gehanteer word.)
|
(Enkeldiep-weergawe)
Nou wil ek herinneringe vir jou koop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se koue wind jou begin sloop.
Ek skink vir jou ons volryp dae soos stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker stadig leegloop.
Mymeringe se wit gloed vonk vol hoop,
dit help om die waggeltyd te verduur,
ook as jy in die diep donkerte moet loop.
Noudat die jare jou oë in ‘n poel doop
en heimwee spoel as jy na muwwe dae tuur,
voel jy hoe die koue wind jou begin sloop.
Onthou die dae toe ons ‘n slaapmat knoop
en snags ons liefde aan mekaar afskuur;
proe in die oudag die soettyd se stroop.
As jy tyd se beker stadig sien leegloop,
laaf jou mond met herinnering se kuur;
as die jare se koue wind jou begin sloop,
proe in die grysdag die soettyd se stroop.
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
|
(Duskant die einders-weergawe)
Ek wil nou herinneringe vir jou ophoop
dat jy die grysdag kan verdra by die vuur
as die jare se nukkerige wind jou begin sloop.
Ek skink vir ons in die koelte geure vol stroop
dat jy my liefde kan proe in die donker uur
as jy sien hoe tyd se beker vinnig leegloop.
Liefde vonk ‘n wit gloed van hoop
in die voue van vergeelde papier,
ook as jy alleen in lang gange moet loop.
Noudat die jare jou oë in wasigheid doop
en jy siende blind verby knypkoue dae tuur,
voel jy hoe die rukkerige wind jou begin
sloop.
Onthou, ons het ‘n slaapmat geknoop
en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;
smak in die oudag oor ryp pere se stroop.
As jy tyd se beker vinnig sien leegloop,
Drink die herinnering wat ‘n leeftyd duur;
as die jare se blinde wind jou begin sloop,
smaak in die grystyd ryp pere se stroop. |
(Before it darkens-weergawe)
For you, now, I want to make memories,
thread them together
so you can endure the ravelled days when
things seem sour
when the storms of age take you to the end
of your tether.
Allow me, then, to make an elixir for us, full
of nectar
so you can taste my love in the darkest hour
when you feel time like a fearful and dreaded
spectre.
Look, our love sparks a white glow of perfect
weather
in the folds of a yellowing flower
even when you find yourself adrift in the
nether.
True, now that the years cloak your eyes in
heather,
half-blind, and you endure the cold days with
a glower,
the raging winds will take you to the end of
your tether.
Remember, then, how we braided a sleeping
mat together
and, at night, brought our love into full
flower;
revel now, in this syrup of ripe pears, this
nectar.
When time begins to drift like a windblown
feather
drink on the memories that endure, taste
their power;
when the blind winds of age take you to the
end of your tether,
taste the syrup of ripe pears, revel in their
nectar.
|
[Vanweë die voorstelling in kolomme is sekere reëlbreuke gemanipuleer om in te pas. - Red.]
Thursday, March 17th, 2011
 Cas Vos
Cas Vos is tans een van die produktiefste Afrikaanse digters. Een van die mees kenmerkende eienskappe van sy poësie is die fyn vormbeheer wat dikwels invloede van antieke poëtiese tegnieke toon. Hy maak ook veelvuldig gebruik van temas en motiewe uit antieke mites. In sy nuutste bundel, Duskant die Donker / Before it Darkens skryf Johann de Lange: “Cas Vos se gedigte word gevoed uit die antieke wêreld, die religieuse sowel as mitologiese, maar reik terselfdertyd ook uit na die moderne.”
Ek het met Cas gesels oor sy voorliefde vir mitologiese stof, maar ook oor die meer subtiele integrering van dié invloede op sy werk en sy menswees.
Marlies:
Cas, waar kom jou belangstelling in antieke tekste vandaan?
Cas:
Om predikant te word, is dit noodsaaklik om tekste uit die antieke wêreld te leer lees. Dit was nogal `n vreemde ervaring. Ek moes die Hebreeuse en Griekse alfabet onder die knie kry. `n Heel nuwe grammatika was my voorland. Maar ek het dit met soveel plesier gedoen. Een van die groot redes was dat ek uitmuntende dosente gehad het. Prof A van Selms was seker die mees erudiete mens wat ek ooit ontmoet het. Hy het my geleer om `n teks noukeurig te lees, my aan die Semitiese wêreld voorgestel – stel jou voor, ek as jong 17-jarige leer ken met verwondering `n droomwêreld waarvan ek nooit geweet het nie. Prof van Selms kon byna alle Semities verwante tale praat, en dan ook nog Grieks en Latyn en alle ander tale wat by Babel ontstaan het. Hy kon spontaan passasies van Homeros uit sy kop opsê. By die merkwaardige en eksentrieke prof PV Pistorius het ek Grieks geleer. Ek het hierdie eerste liefde nooit verwaarloos nie, maar steeds bly lees.
Marlies:
Dink jy ou Sumeriese mites kan vir moderne mense nog iets sê?
Cas:
Die Hebreeuse taal behoort tot die taalstam of –familie van die Semitiese tale, een van die grootste taalgroepe van die wêreld, naas byvoorbeeld die Indo-Germaanse (waaronder Grieks, Latyn, Frans, Engels, Duits, Nederlands en Afrikaans gereken word), die Hamitiese en die tale van Swartmense. Die Semitiese tale bestaan uit `n groot familie. Daar is die Oos-Semitiese of Akkadies wat die tale van Babilonië en Assirië bevat, waarvan die verskille meer van dialektiese aard is. Dan is daar die Noordwes-Semitiese groep wat uit die Kanaänities-Hebreeuse groep bestaan, waarvan die oudste en bekendste taalvorm Oegarities is. Oud-Egipties vertoon ook talle kenmerke van die Semitiese tale. Kopties, die kerktaal van die Egiptiese Christene, is die jongste loot van Egipties.
Hierdie kort oorsig oor die taalfamilie waarbinne die antieke wêreld gewortel is, maak dit duidelik dat sekere familietrekke in die taalfamilie voorkom. Een hiervan is mites. Met reg het Etienne le Roux geskryf: Die mens kan eerder sterf van honger, maar sonder sy mites kan hy nie klaarkom nie … sonder `n mite kan `n volk (en die individu) alle belange in die lewe verloor.
Die antieke wêreld wemel van mites: oor die gode, die kosmos, die hemelliggame. `n Mite is `n manier om na die wêreld te kyk, daaroor na te dink en dit te probeer verstaan. Dit is `n manier om die onsêbare te verwoord, om sin te maak van die onbegryplike dinge van die lewe. En hoe min begryp ons tog nie van die groot wêreld om en bo ons nie! Hoe praat `n mens oor God, die gode, die hemel, die oerbegin, die hiernamaals, of oor lyding, dood en onreg anders as deur taal?
Die woord mite het ook maar onder die skerp tong deurgeloop. Sedert die tyd van die digter Pindaros (5de eeu vC) word die woord as fiksie verstaan. Die Sofiste (`n groep denkers uit die 5de eeu vC) het `n onderskeid gemaak tussen logos (woord) en mythos (gesproke word). Hulle het beweer dat logos die “feitelike” weergawe van `n saak is, terwyl mythos na iets “onhistories” verwys. In die Nuwe Testament (1 Tim 1:4; 4:7; 2 Tim 4:4; Tit 1:14) word mites vereenselwig met stories of leerstellings wat onwaar is, met sinlose verdigsels, of met boodskappe wat mense mislei.
Maar daar is ook `n ander perspektief op mites. Die moderne mens is nie so modern as wat daar soms gedink word nie. Daar is niks nuuts onder die son nie. Die tyd waarin ons leef wortel in die antieke wêreld.
Oor die hele wêreld heen vertel volke en individue mites. Dit sluit die skriflose kulture, byvoorbeeld in Afrika, Suid-Amerika, Indië, China en Australië in. Daar het mense hulle stories deur middel van mondelinge oorlewering vertel. Talle mites van die hoogkulture in Egipte, Mesopotamië, Persië, Griekeland en die Romeinse Ryk is oorbekend, asook die mites van oor-Asië, Japan en Mongolië, en die van die Kelte en volke uit Middel- en Noord Europa. Daar is ook mitiese elemente in die Jodedom en Christendom.
Verskillende soorte mites kan onderskei word: skeppingsmites – die skepping van die kosmos, mense en gode. Dan is daar die oertyd-mites. Dit is mites wat die huidige wêreldorde probeer verklaar. Gewoonlik vind daar `n transformasie plaas van `n vernietigde na `n nuutgemaakte wêreld; natuur- en kosmologiese mites (die son, maan en sterre word gepersonifieer as hoogste wesens of gode). In dié verband is die bekende voorstelling van die Egiptiese Songod. Die oggendson se naam is Kephre/Chepre, die middagson dra die naam Re en Atum is die son in die aandskemering. Wat hier opval, soos by talle godsdienste, is die volmaakte getal, drie. Met dié gegewe in gedagte, verkry Ps 19 vir die moderne mens ‘n heel nuwe betekenis. Verder is daar ook nog rituele mites, kultiese mites en prestige-mites waar die geboorte en dade van helde figure besing word (hiervan is die Gilgamesj-epos `n voorbeeld).
Sophokles, die Atheense digter, het oor die 120 dramas geskryf. Daarvan het net 7 volledig oorgebly. Maar dit is van die invloedrykste dramas waaronder Antigone, Elektra en Koning Oedipus. Die drama was die invloedrykste medium om van mites gebruik te maak (Buxton).
Is mites nog vir ons vandag van betekenis? Natuurlik! Sonder om die funksies en aard van mites te verstaan, bly talle dele van die Ou en Nuwe Testament duister. En ook insig in die geheimenisse van die menslike psige.
In die Ou Testament is daar die verhaal van die huwelik tussen godeseuns en mensedogters (Gen 6:1-4); voorstellings van die hemel of hemelvergadering (Job 1-2; Ps 89:6-8). Skeppings-motiewe, klaagliedere, himnes, wêreldbeeldvoorstellings, die godepanteon of hemelse hofstaat, die funksie van die son, sterre en maan in tekste van die Ou Testament weerklink in die mitiese verhale van Egipte, Oegarit, Ebla en Mesopotamië. Ek gee `n voorbeeld van die vis in die Jona verhaal (vgl DJ Human). Hoewel die see en die vis albei `n bedreiging vir Jona ingehou het, is al twee speelse voorwerpe in God se hande. Binne die antieke mitologieë is die see en die vis as sinspeling op die draakagtige seemonster, of Jam, in die godestryd van die Kanaänitiese skeppingsmitologie, uitruilbare voorstellings. Soos die vis die helde in antieke mitologieë ingesluk en uitgespoeg het, so het die antieke mense deur hulle sonmites uitdrukking gegee aan hoe die see saans die son insluk om dit die volgende dag weer uit te spoeg. Dan verskyn hy weer soos `n held om lig te gee. Daarom kan die vis (seemonster) ook `n verteenwoordiger van die see as `n vernietigende chaosmag wees.
In Matt 14:22-23 bely die dissipels dat Jesus die Seun van God is omdat Hy mag oor die wind en die see het (vgl E van Eck). In die Ou Nabye Ooste (wat Israel ingesluit het) is die see as simbool van die chaos gesien. In die Babiloniese skeppingsverhaal (bekend as die Enuma Elisj) word vertel dat Mardoek die aarde geskep het deur vir Tiamat, die godin van die see, te oorwin. In die Oegaritiese Baälgodsdiens word die skepping op dieselfde wyse beskryf: Baäl skep deurdat hy vir Jam, die god van die see, verslaan. `n Verdere ooreenkoms tussen die Bybelse skeppingsverhale met die Babiloniese en Oegaritiese verhale is dat Tiamat middeldeur geskeur word, en Jam uitmekaar geskeur word wanneer hulle oorwin word. Só word die waters (seegod) van mekaar geskei, met bewoonbare droë grond tussenin.
Die antieke mites is anders as ons moderne mites – dit is meer óóp, maar laat ons anders na hierdie werklikheid kyk: Die Gilgamesj epos vertel in wese die eietydse verhaal van `n soeke na liefde, hebsug, seks, erotiek, geweld en die gode met maskers. Wie gister vergeet, kan vandag nie luister nie.
Marlies:
Hoe beïnvloed jou kennis van dié tekste jou wêreldbeskouing?
Cas:
Die lees van antieke tekste leer my om ruimer te dink. Die wêreld is groter as hier en nou. Die wêreld is vol groot (groter) geeste as ons. Die psalmdigters, Jesaja, Gilgamesj, Aristoteles, Plato, Sokrates, Homeros. Aristoteles se telos-begrip het `n stempel op die Christendom afgedruk. Alles het `n doel, `n telos. Daar is die Romeinse wêreld met sy literêre skatte. Wie Virgilius se werke nie gelees het nie, is nog arm.
Antieke tekste leer my ook veral om ander mense se sienings te respekteer en krities oor jou eie na te dink. Juis hierom het ek die ander nodig (Levinas). Die werklikheid is veel groter as wat ek my kan indink of verbeel(d).
Ek besef ook dat ek in `n lang ry van tradisies staan, die tradisies van die mensdom. Ek is maar soos die gode – die gode het voete van klei.
Marlies:
Dink jy dat kennis van antieke tekste jou in staat stel om die menslike kondisie beter te verstaan, m.a.w. gee dit jou insig in die psige en handelingspatroon van die mens as sodanig?
Cas:
Ongetwyfeld, ja. Tye verander, maar mense in baie opsigte nie. Nog steeds is daar gode in nuwe gedaantes. Gode het mense nodig en mense laat gode nie met rus nie. Die Gilgamesj epos gaan juis om die menslike kondisie: hebsug, erotiek, wellus, mag, stryd, liefde, lyding, droefheid. Al het die tye verander, bly die mens se hart nog dieselfde. Ek het die antieke gegewe probeer interpreteer en vir die mense van nou toeganklik en toepaslik probeer maak.
Marlies:
Hoe beïnvloed antieke mites en verhale jou poësie?
Cas:
Ek het een vakansie in `n myn gewerk. As skagwagter. Daar het ek gesien hoe dinamiet rotse oopskiet. Gedigte maak is om met dinamiet rotse oop te skiet en na die fyngoud te soek. Die antieke tekste is ryk aan satire, paradokse, metafore, vergelykings. In die Psalms kom talle poëtiese strategieë voor. Ek noem net enkeles: metafore, vergelykings, parallelismes membrorum( antitetiese en sintetiese parallelismes), klank- en woordspel, alliterasie, anafore, rym en assonansie. Inclusio kom voor waar `n gedig deur dieselfde gedagte ingelei en afgesluit word. Dit is juis die chiastiese opbou wat dikwels in die psalms voorkom, wat tot `n klimaktiese opbou lei. Anadiplose is `n tegniek waar `n woord in die laaste deel van die versreël weer opgeneem word in die eerste deel van die daaropvolgende versreël (vgl Ps 121: 1b en 2).
`n Digter bly lewenslank `n leerling. Ek het in die poëtiese leerskool van die antieke wêreld bly skoolgaan en die tegnieke vir my gedigte benut. Onthou, `n mens is nooit te oud om te leer nie! Die mites en verhale, hoop ek, het my digwerk verryk.
In die Afrikaanse tradisie is dit nie vreemd nie dat die antieke wêreld inspeel op gedigte. Ek dink aan Van Wyk Louw wat die Griekse wêreld meesterlik ontgin het (Tristia), só ook DJ Opperman. Ek verwys verder na Opperman se pragtige gedig Jona. Daar is die invloei van die Zen-Boeddhisme en spore van die Christelike tradisie in Breyten Breytenbach se werke, die sterk Ou-Testamentiese onderstoom in TT Cloete se Job gedigte en die verwondering oor die kosmos, die invloed van die Christelike mistiek op Sheila Cussons se gedigte. IL de Villiers staan m.i. ook naby die mistieke tradisie van Sheila Cussons.
Dis ook waarom ek so aanklank vind by Anne Carson. Sy is `n klassikus wat van oerstof gebruik maak en dit digtend omtaal (vgl haar Nox). Al is Loftus Marais se gedig, Wederkoms, `n satire, maak hy ook gebruik van `n voorstelling van die hel as plek van vuur. By die vuurpoort sal hy verduidelik dat sy catsuit “fire-resistant` is. Jan Willem Schulte Nordholt het talle gedigte met `n Christelike inslag geskryf (vgl sy Verzamelde Gedichten).
Marlies:
Dink jy moderne lesers verstaan die verwysings in jou gedigte – is dit regverdig teenoor die moderne leser om dié verwysings in jou gedigte te sit?
Cas:
Om gedigte te lees, beteken om tot verstaan te kom. `n Mens is nooit klaar met `n teks nie of anders gesê: `n teks is nooit klaar met jou nie. Daarom vra poësie nogal iets van die leser. Hy/sy mag/moet in die wêreld van die digter inkom. Die leser moet na sleutels soek om die deure oop te sluit, maar die digter moet ook sleutels gee. Dit word dan opwindend om die vele woonkamers van die poësie te betree. Natuurlik moet poësie nie so duister wees dat net die nag dit kan sien nie.
Hooglied (lied van liedere) is die mooiste lied oor die lyf en die liefde. Dit laat die liefdesvuur vandag nog vonk. Ongelukkig het die Afrikaanse vertaling fyn erotiese aanrakings verlore laat gaan. Maar dit staan nog in die Hebreeus. Gaan lees asseblief van die ou Egiptiese gedigte. Uit die liedere van Papirus Harris 500 kan jy `n Duitse vertaling lees:
Bin ich nicht hier bei dir,
und dein Sinn steht danach, (schon zu geben)?
(Willst du mich) nicht umarmen?
… das Vergnügen,
Wenn du danach strebst, meine Schenkel zu liebkosen …
Die Gilgamesj epos van 5000 jaar gelede is geskryf om Gilgamesj se pogings om onsterflikheid te bekom en sy avonture op die reis. Ek het die epos omdig (nie vertaal nie!), want ek staan voor `n spieël. Dis ek! Dis my hebsug, magslus, erotiek, liefde, verlange, verdriet, stryd en hoop wat hier afspeel. Die verlede blaai my hede en toekoms soos `n boek oop, al is dit in ander tye geskryf.
Die meesterlike gedig van CP Cavafy, Ithaca, is gegrond op Homeros se Odusseia. Dit is `n gedig wat in elke hart behoort te leef.
Ek besef ek is `n mens. En soos in die antieke tye troetel ek ook my gode. En tog leef ek vandag met verwondering en verwonding.
Om gedigte uit die antieke wêreld te voed, beteken om die woorde van die Griekse digter George Seferis wat `n ander oogmerk met sy gedig het, hier toe te pas:
Just a little more
And we shall see the
Almond blossom
The marbles shining in the sun
The sea, the curling waves.
Just a little more
Let us rise just a little higher.
Dit is die avontuur en opwinding wat die invloei van die antieke wêreld in eietydse gedigte moontlik maak.
Sunday, February 27th, 2011
Sonder die liefde is alles niks
Cas Vos in gesprek met Louis Esterhuizen
 Cas Vos
Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007 en Intieme afwesige in 2009 by Protea Boekhuis; so ook Intimitaly absent, die Engelse weergawe daarvan.
Pas het Duskant die donker / Before it darkens by Protea Boekhuis verskyn. |
Cas, Duskant die donker is reeds jou vyfde digbundel sedert jou debuut in 1990 met Vuurtong. Verdermeer is dit die tweede wat volledig in die Engelse vertaling (deur Leon de Kock) verskyn. Ervaar jy die afgelope aantal jare as ‘n besonder produktiewe tyd vir jou skrywerskap?
Louis, Intimately Absent, wat ook deur Leon de Kock vertaal/omdig is, is slegs ‘n snit uit Intieme Afwesige. Die gesprek tussen Abélard en Héloïse word daarin verdig. Duskant die donker is van a tot z deur Leon in Engels omdig. Ek was vir 10 jaar in die dekaanstuig by die Universiteit van Pretoria. Elkeen wat in die akademie beland, val soms vas in die sleur van vergaderings, strategiese beplannings, Hoofbestuurvergaderings en die bestuur van die Fakulteit op alle vlakke. Dit tap nogal energie. Ná my aftrede in Junie 2010 kan ek met tyd speel. En dit gee aan my ruimte om te dink en te dig. ‘n Digter moet ook eers dink.
Wat hierdie bundel van voriges onderskei, is die feit dat die Afrikaanse teks saam met die Engelse “omdigtings” verskyn. Vertel ‘n bietjie oor hoe dié simbiose tussen jou as digter en Leon de Kock as “vertaler” gewerk het?
‘n Vertaling/vertaler het altyd die ou dictum “traduttore, traditore” (”vertaler, verraaier”) oor sy kop. Maar in hierdie geval was dit geen bedreiging vir my gedigte nie. In hierdie nuwe bundel lê die Afrikaanse en Engelse gedigte soos bedmaats langs mekaar. Hulle raak selfs aan mekaar, beïnvloed mekaar en verryk mekaar. Ek sou niemand anders as Leon de Kock as my omdigter verkies het nie. Hy is self ‘n uitmuntende digter (vgl. sy Bodyhood), vertaler van faam (Triomf, In stede van die liefde) en uitnemende akademikus. Hoewel Afrikaans nie sy moedertaal is nie, is hy vlot in Afrikaans. Een uit ‘n honderd keer struikel hy oor ‘n woord. Byvoorbeeld die woord “windklok” het hom laat duisel. ”Wat de donner is ‘n windklok?” Sy omdigtings het my weer na my gedigte laat kyk en ek het op grond van sy kreatiewe omdigtings van my gedigte gewysig.
Waarom het jy besluit om nou die twee weergawes in een band uit te gee? Intieme afwesige en Intemately absent het immers as twee afsonderlike publikasies verskyn?
Soos reeds gesê, is Intimately Absent net die Abélard-Héloïse omdigting. Die rede hiervoor is omdat dit ‘n unieke liefdesverhaal is wat ook in ons tyd kan afspeel. Die intensiteit, die tragiek en die afstand van die liefde voed en versteur die verhouding. En dan is daar ‘n seun sonder pa en ma. Dis tog so eietyds.
Volgens die uitgewer se reklamestuk het ons hier te make met ‘n “keur” uit jou gedigte wat aangevul is met heelwat nuwe verse. Wie was vir dié keur verantwoordelik en watter kriteria het gegeld?
Hierdie bundel verteenwoordig ‘n “keur” uit my werk. Dit is ook aangevul met nuwe verse. Marthinus Beukes, letterkundige van UJ, was behulpsaam met die “keuring”. Die keuring het onder andere op die resepsie van gedigte gerus. Gedigte is na my mening nooit voltooid of afgehandel nie. Daarom kan dit later gewysig word. Dit was veral in die Antieke tekste die geval. Voorbeelde hiervan is die wingerdliedere in Jes 5 en 27. Ek het somminge gedigte drasties verander, hopelik in belang van die gedig.
Vertel ook sommer ietsie meer oor die nuwe gedigte wat in die bundel opgeneem is?
In die Hebreeuse poësie is inclusio ‘n opvallende en veel voorkomende poëtiese strategie. Ek het ‘n
omvangryke gedig oor die Skepping geskryf en eindig met die einde van alle dinge - die dood. ‘n
Gedig oor Juanita van Arequipa kan genoem word. Die slotstrofe lui:
In haar tydlose mantel van ys
buig sy bibberend
‘n fetus wat wag
Vir die opstanding van die vlees.
In her timeless mantle of ice,
bent, she shivers,
a foetus that waits,
awaits for the resurrection of the flesh.
Tussendeur is daar ook nuwe gedigte. Die opvallende is dat die vorige gedigte nou ‘n ander en nuwe lêplek en stem kry.
‘n Enorme waardetoevoeging tot dié bundel is Johann de Lange se indrukwekkende inleiding. Hiervolgens, in die openingsparagraaf, word jou digkuns soos volg getipeer: “Daar is niks nuuts onder die son nie, en tóg soek die digter nuwe verbande, knoop gesprekke aan met ander tye, ander tekste, ander kunsvorme. Die gedig is palimpses waar ander wêrelde immer deurskemer, waar niks afgeslote en finaal is nie.” Wat is jou persoonlike siening aangaande dié knap formulering van Johann de Lange?
Ek oordeel self dat Johann de Lange se inleiding onoortreflik is. Hy het daarin geslaag om die hartklop van my poësie te hoor en te laat hoor. Dit is inderdaad wat ek probeer doen: om die Antieke wêreld te ontgin en dit eietyds vir die leser te maak. Dit doen ek ook met musiek, skilderkuns, beedlhoukuns, ens. Dit alles vind ‘n neerslag in ons tyd. Dit is soos water wat uit die bergstroom vloei tot in die vlakte waar ons dit kan drink.
Ook lees ons in De Lange se inleiding: “(Van Cas Vos) se debuut met Vuurtong deur na sy mees onlangse Intieme afwesige val sy elegiese aanslag op en skryf hy ook verse waarin die vleeslike van die liefde gevier word, die hooglied van die lyf.” Waarom is die liefde vir jou so ‘n oorheersende tema?
Die liefde is eintlik alles. Sonder die liefde is alles niks. Waar die liefde ontbreek, is daar fragmente, brokke, skerwe, verdriet, pyn en skande. Ek wil Paulus nasê: daar is drie dinge: geloof, hoop en liefde, maar die grootste hiervan is die liefde. Groot dele van veral die Ou Testament is louter en sprankelende poësie. Ek noem net: groot dele van Job, Jeremia, al die Psalms en natuurlik Hooglied. Hooglied besing die liefde van die lyf. In die Afrikaanse vertaling gaan baie van die erotiese bedoeling van die gedigte egter verlore.
Nog ‘n uiters belangrike opmerking van De Lange is waar hy na die religieuse aspekte van jou digkuns verwys: “Hoewel hy met sy verse aansluit by ‘n ryk en geskakeerde tradisie van religieuse poësie in Afrikaans, is die religieuse net ‘n faset van sy poësie sodat hy nie sonder meer ‘n religieuse digter genoem kan word nie.” Vertel ons wat jou persoonlike siening hieromtrent is?
Hieroor het ek en Izak de Villiers baie gepraat. Natuurlik put ek uit die religieuse tradisies, maar munt dit anders, eietyds en ironies, soos byvoorbeeld die gedig Die Here is nie my herder nie.
Die Here is nie my herder nie
Die Here is nie my herder nie,
ek kom alles kort.
Hy lei my na leegtes,
laat my bloedsweet,
bring my na ‘n woestyn
sonder manna se genade
op die deinende duine.
Hy lei my op omweë
om sy verlore eer te soek.
Ek kruip deur donker dieptes,
my hart skommel bang;
u het u hand teruggetrek,
ek kyk vas teen u rug.
U laat my aan ‘n kruis hang
terwyl my vyande koggel.
U ontvang my soos ‘n rower,
ek is oorlaai met skuld.
Al slaan u stilte my stom,
sal ek na U bly roep,
ek, u weggooilam
Cas, jou digkuns is inderdaad ‘n unieke teenwoordigheid binne ons digkuns. Maar - is daar dalk ‘n bepaalde digter wat jy sou uitsonder as iemand wat jou in die besonder inspireer ten opsigte van jou eie verse?
Ek sou ‘n lang lys kan opstel. Van Van Wyk Louw af tot eietydse Afrikaanse digters. Ek lees baie. Verlede jaar is die 25ste sterfjaar van Philip Larkin herdenk. Ek het sy Collected Poems met waardering van voor tot agter gelees, en herlees. Dan is daar Robert Pinsky, John Heath-Stubbs, Seamus Heaney, Steven Wallace, George Seferis, Mahmoud Darwish en natuurlik Anne Carson. Carson bekoor my omdat sy in die klassieke gewortel is en uit die Griekse aarde put.
Soos dit hierbo blyk, is jy inderdaad ‘n belese digter wat op hoogte is met ‘n verskeidenheid digkunste wêreldwyd. Hoe vergelyk ons digkuns tans vir jou met die situasie van tien jaar gelede, byvoorbeeld?
Ons kan saam met die wêreld dig. Daar is die uitmuntende vertalings van Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Wilma Stockenström se werke. In tien jaar het baie gebeur. Die samelewing het oopgeskuif. Ons sien en ervaar nog steeds gruwels, maar ons sien dit ten minste. Daar het soveel nuwe woordtonge en -harte bygekom. Dit is amper asof die hemelsluise oopgegaan het. Daar word skaamteloos en uitdagend en eietyds gedig. Want die wêreld is ons woning. Daar is nog steeds die beiteltjie, maar ook die hamer en die fokken lugdrukboor. En om te dig is “like a rich man entering heaven Through the ear of a raindrop” (Heaney). En onthou tog: “Better one poem than ten thousand sermons … because there are times when silence is a poem” (John Fowles).
Ek het waardering vir al die jongkoppe, maar die oues het ook nog skop!
Dankie vir die geleentheid tot ‘n gesprek, Cas. Wil jy nie asseblief by wyse van groet ‘n gunstelingvers van jou uit Duskant die donker / Before it darkens hieronder plaas nie?
Dankie Louis, vir die geleentheid en die ruimte wat jy vir my skep.
My hand ritsel
As die skemer deur ruite val,
ritsel my hand op leë papier,
fluit ‘n trein in die nag se oor.
Sterre dryf soos bote op water
en skadu’s skuif in voor die maan.
As my hand ritsel op papier,
kom daar in die skemeruur
‘n gedig uit swartland se drome.
Ek soek tussen die fragmente
na die omtrek van jou gesig,
my oë dwaal oor die are
wat op jou sagte hande vertak.
Ek merk hierdie gedig op papier,
lig soos asem in die nag se mond.
‘n Gedig met horte en stote,
my hand is stomp en dom
van groen poësie se vlekke
en woordlyne bly ontspoor.
My hand skryf op papier
in die vervalle skemeruur
voor my woorde droog ritsel.
(c) Cas Vos (Uit: Duskant die donker / Before it darkens, 2011: Protea Boekhuis)
Thursday, February 10th, 2011
Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.
 Digstring
Inhoud
A-B
Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010
Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010
Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011
C, D, E
TT Cloete. Swerwende verse
Toast Coetzer. geluk
Marius Crous. Die ander man
Anne-Ghrett Erasmus. Skilder
Sydda Essop. Ek lewe in stilswye
Louis Esterhuizen. Melopee
F, G
Gilbert Gibson. Another roadside attraction
Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.
H, I, J
Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010
Joan Hambidge. Parys
Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010
Pieter Hugo. Honde
Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010
K, L
Ronelda Kamfer. Stof. Junie 2010
Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht
Martine Klopper. Kwatryn
Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010
Kobus Lombard. Kameeldoring
M, N
Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey
Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie
Melt Myburgh. Toeval
Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010
O, P, Q
Pieter Odendaal. die eerste steen.
Johannes Prins. Man diesel
R, S
Andries Samuel. All god’s children took their toll
Carina Stander. Lima
Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010
T, U
V, W
Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite
Ilse van Staden. Fluistering
Cas Vos. Kersrook
Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com
Tags: Andries Bezuidenhout, Andries Samuel, Anne-Ghrett Erasmus, Annie Klopper, Antjie Krog, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Digstring, Fourie Botha, Gilbert Gibson, Ilse van Staden, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Johannes Prins, Kobus Lombard, Louis Esterhuizen, Lucie Möller, Marius Crous, Marius Swart, Marlene van Niekerk, marlise joubert, Martina Klopper, Melanie Grobler, Melt Myburgh, Pieter Hugo, Ronelda Kamfer, Sydda Essop, Toast Coetzer, TT Cloete, Zandra Bezuidenhout Posted in Indekse | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Monday, January 10th, 2011
Rainer Maria Rilke se vyfde Orpheus Sonnet, Deel 11, en Johann de Lange se omdigting.
Cas Vos
 Rainer Maria Rilke
Rainer Maria Rilke verbind ʼn reeks sonnette met Orpheus wat sleutels bied om die sonnette te ontsluit. Rilke se sonnette is rondom die Orpheus legende gebou. Die legende is reeds deur hom benut in sy voortreflike Orpheus. Eurydike. Hermes in sy Neue Gedichte (Gedichte 1895 bis 1910) (Rilke, 1996:500-503). Johann de Lange het in sy bundel Wordende naak (1990:25) ʼn Sonnet aan Orpheus met erkenning aan Rilke geskryf.
Hiermee word ʼn deur oopgemaak om op die Orpheus mite te let, en veral op die sonnette van Rilke en de Lange.
Die mite van Orpheus is moontlik (wie weet?) gebaseer op ʼn werklike historiese figuur, naamlik ʼn Trasiese volgeling van die kultus van Dionisius. Die Orpheus mitologie speel ʼn belangrike rol in die verstaan en ervaring van die leefwêreld van die Grieke; veral ook in die beeldhou en skilderkuns (byvoorbeeld Jacopo del Sellaio). Bepaalde kunsvorme strek so ver terug as 470 vC (Bertram, 2005:171). In die musiek is Orpheus verewig deur Jacques Offenbach se komposisie Orphée aux enfers waarvan die première op 21 Oktober 1858 plaasgevind het (Schonberg, 1997:320).
Orpheus is in die Griekse mitologie ʼn beroemde sanger en siterspeler uit Trasië. Hy was die seun van die Muse Kalliope en Apollo (of van die stormgod Oriagros). Met die sjarme van sy musiek het hy wilde diere, bome en selfs klippe aangetrek. Volgens die legende was hy getroud met Euridike, wat later deur ʼn slang gebyt is en gesterf het. Orpheus het dikwels na die onderwêreld gegaan om vir haar terugkeer na die aarde te bemiddel. Hy het Pluto en Persefone, die beskermers van Hades, só met sy musiek bekoor dat hy hulle oorreed het om haar vry te laat. Daar was egter een voorwaarde: hy moes nie (soos Lot se vrou) langs die pad na die bo-wêreld kyk nie. Orpheus het vir ʼn oomblik die voorwaarde vergeet, en na Eurydike gekyk. Hierna is sy vir altyd na die onderwêreld verban.
Orpheus is later deur Bacchante aangeval en verskeur. Een verklaring bied ʼn motief vir die moord deur te beweer dat hy met die vroue se godsdiens ingemeng het; ʼn ander verklaar dit was die wraak van die vroue vir die verbitterde vrouehaat van die sanger omdat hy vir altyd van sy geliefde geskei was. In variasies van die legende blyk dit dat Orpheus se lier onvernietigbaar was, en dat sy kop al pratende op die Hebrus rivier gedryf het totdat dit ten laaste in Lesbos begrawe is. Sy lier is as sterrebeeld aan die hemel geplaas. Op ouer monumente is Orpheus afgebeeld in ʼn Oosterse gewaad met ʼn Frigiese mus, en later in ʼn Griekse gewaad met ʼn lier (Van Reedt, 1994:192; Bertram, 2005:171-173. Vgl. ook Marskschies, 2005:227-253 en Geerlings, 2005:254-267).
Die sonnette van Rilke is ten diepste gedigte van invokasie, hoewel daar duidelike spore van ʼn “diskoers” is (Cohn, 2000:8). Die lees van die gedigte maak dit duidelik dat Rilke hom ten dele met Orpheus identifiseer, terwyl Vera in die skaduwee van Euridike staan (Cohn, 200:8). Dit sou ʼn afsonderlike artikel vra om na te gaan in watter mate de Lange homself met Orpheus identifiseer in sy ander Orpheus gedigte (vgl Nagsweet). Ek het my vermoedens, maar vir eers dit eenkant gelaat.
Ek gee in die gesprek aandag aan Rainer Maria Rilke se Sonnet V, en Johann de Lange se sonnet uit Wordende naak (1990). De Lange gee erkenning aan Rilke deur sy onderskrif.
Rilke se sonnet, asook die een van de Lange, bestaan uit ʼn oktaaf (twee kwatryne) en ʼn sestet ( twee tersines). Ten opsigte van die struktuur van die twee sonnette val dit dadelik op dat de Lange dieselfde rymskema as Rilke volg, behalwe in die eerste strofe. De Lange se eerste strofe volg die rymskema a-a-a-a, terwyl Rilke s’n ʼn a-b-a-b rympatroon het. Die tweede, derde en vierde strofes het die volgende rympatroon: a-b-a-b, a-b-a en a-b-a. Die aantal lettergrepe in die verskillende strofes verskil ook by de Lange in vergelyking met Rilke s’n. Moontlik benut de Lange die eerste kwatryn die a-a-a-a rymskema om deur middel van klank (oo) aan te dui hoe die lig die “die moer instroom”. Die woord “luid” in die vierde reël van die eerste kwatryn versterk die klankmatigheid daarvan. Hiermee word die krag waardeur dit gebeur ook verbeeld.
Die aantal lettergrepe wat Rilke gebruik, wissel tussen nege en tien. Dit is nie by de Lange die geval nie, dit hoef ook nie te wees nie. Wat wel opval, is dat de Lange se laaste tersine uit drie reëls van nege lettergrepe bestaan. Die oogmerk is nie hier om die sonnette tel-tel te ontleed en te vergelyk nie, maar om te wys op die noukeurigheid van die komposisie en die funksionaliteit van albei sonnette. By Rilke sowel as de Lange se omdigting is die ryme dodelik akkuraat en dit laat die leser die wonder van poësie beleef.
Hierdie Rilke sonnette is die begin van sy drie blom gedigte. Op die anemoon sonnet volg een oor die roos en dan word die reeks afgesluit deur ʼn sonnet oor blomme. Ek vind dit jammer dat de Lange nie ook die volgende twee blom sonnette omdig het nie. Miskien moet hy dit tog oorweeg.
Die sonnet van Rilke wat hier ter sprake is, is op 15 Februarie 1922 geskryf (Engel et al, 1996:748). Die sonnette aan Orpheus is deur Rilke opgedra aan Vera Ouckama Knoop, die dogter van een van sy vriende, wat op negentien jarige ouderdom in 1919 aan leukemie dood is. Ironies is Rilke ook op 29 Desember 1926 onder die aanslag van leukemie dood (Cohn, 2000:7). Die sonnette het ʼn besondere openheid en ligtheid, ʼn wind waai deur hulle en die lug is vars vir die asem (Cohn, 2000:5). Rilke slaag daarin om uit homself te beweeg deur middel van die sonnet buite homself te kyk en die ander in sy skoonheid en broosheid raak te sien.
Wat in die sonnette opval, is die verganklikheid en kortstondigheid van ʼn mens se lewe. Op 26 Junie 1914 het Rilke aan Lou Andreas-Salomé geskryf: “Ek is soos die klein anemoon, wat ek eenmaal in Rome in ʼn tuin gesien het. Hulle het bedags so groot oopgevou dat hulle saans nie meer kon toemaak nie. Dit was ʼn verwondering om hulle in die donker grasvlakte te sien, wydoop, steeds nog ontvangend in die oopgesperde kelk, met die drywende nag oor hulle. Ek het so heilloos na buite gegaan” (Engel et al, 1996:748-749).
Inhoudelik is de Lange se sonnet van dieselfde stramien as dié van Rilke gebou. Hy volg die patroon en metaforiek van die Rilke sonnet noukeurig. Die slotstrofe is verrassend: van die anemoon word daar na die mens oorbeweeg. Die eie aard van die anemoon is sy oopheid na bo en buite. Dit kan in gedeeltelike koelte, maar ook in die helder son wees. Moeiteloos ontvang hy. En dan die teenstelling met die mens.
Die beweging is nie gunstig vir die mens nie. Die bestaan van die mens is eerder in teenstelling met dié van die anemoon. “… hou langer”. En dan volg de Lange se siniese en snydende vraag:
“Maar wannéér, in watter soort bestaan,
is elk oplaas oop, & ontvanger?”
Dit is byna ʼn noodkreet na ʼn ander tyd én bestaan. ʼn Versugting dat elk uiteindelik oop, en ontvanger soos die anemoon sal wees. Die anemoon is ook volgens Rilke die besluit en krag van soveel wêrelde (laaste reël van derde strofe). Maar nou is dit nie só nie. De Lange se slotreël verskil van Rilke s’n. De Lange se vraag gaan oor die “elk” om oplaas oop en ontvanger te wees. Volgens de Lange was dit die erotiese aspek van die anemoon/anus, verál versterk deur die slotstrofe wat hom in die eerste plek na dié spesifieke sonnet aangetrek het. Hierdie insig van de Lange versterk net die siening dat omdigting tot ʼn eietydse skepping kan lei.
Rilke se vraag is wanneer is ons uiteindelik oop en ontvanger. De Lange plaas net ʼn ander aksent as Rilke deur die onpersoonlike vorm te kies, terwyl Rilke die eerste persoon meervoudsvorm kies. Ek sou in die lig van die komposisie van die laaste strofe vir Rilke se “ons” kies. “Ons” kom drie keer in dié strofe by Rilke voor.
Dit is boeiend hoe ʼn omdigting die aard en geaardheid van die oerbron kan bewaar, en tog iets eietyds byvoeg. Op dié wyse word die gesprek tussen die traditio (dit wat oorgelewer is) en die eietydse omdigting voortgesit en verryk.
Bronnelys
Bertram, T. 2005. Das grosse Buch der Griechischen Mythologie. Thames & Hudson: London.
De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. HAUM-literêr: Pretoria.
Geerlings, W. 2005. Orpheus in der vorkonstantnischen griechisshen Theologie, in Von Haehling, R. (red.), Griechische Mythologie und fruhes Christentum. Wissenschaftliche Buchgesellscahft: Darmstadt.
Markschies, C. 2005. Odysseus und Orpheus - christlich gelesen, in Von Haehling, R. (red,), Griechische Mythologie und fruhes Christentum. Wissenschaftliche Buchgesellschaft: Darmstadt.
Rilke, Rainer, Maria. 1996. Gedichte 1895 bis 1910. Engel, M. et al. Insel Verlag Frankfurt am Main und Leipzig: Regensburg.
Rilke, Rainer, Maria. 1996. Gedichte 1910 bis 1926. Engel et al. Insel Verlag Frankfurt am Main und Leipzig: Regensburg.
Rilke, Rainer, Maria. 2000. Sonnets to Orpheus with Letters to a Young Poet. Translated by Stephen Cohn. Carcanet: Manchester.
Schonberg, H.C. 1997. The lives of the great composers. Norton & Company: New York, London.
Van Reedt, A. 1994. Orfeus, in Ensiklopedie van die Mitologie. Vlaeberg Uitgewers: Vlaeberg.
Tuesday, July 27th, 2010
Judasoog: ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange
deur Cas Vos
In die Keur van gedigte het die digter self die keuring gedoen. Dis ook goed so. Dit is immers die digter se eie werk en daarom het hy die reg om te kies en te keur.
Die samestelling van ‘n Keur van gedigte kan diachronies of tematies geskied. Gewoonlik val die keuse op ‘n diachroniese of historiese verloop. Dit het ook met Johann de Lange se samestelling gebeur.
Die bundeltitel is die hegting van die geheel. Judasoog en sy sinonieme kom in ‘n verskeidenheid gedigte voor (vgl. p. 65, 67, 74, 78). Die begrip kry in verskillende gedigte ‘n rykdom betekenismoontlikhede. Judas is die verraaier, maar ook die een wat veraai is; die verworpene. In die kombinasie Judasoog val die klem op waarneem. Dit vind deur ʼn “loergat” plaas. As seksuele kode dui dit op genot of die smagting na genot (p. 65). Maar dit kan ook op verwerping wys.
De Lange maak van verskillende kodes gebruik om die liefde te verwoord. In Flaminke is dit die tradisionele rose. Al is dit ‘n geliefde metafoor, slaag die digter daarin om dit vars te pluk en in die gedig te rangskik. Reeds in die openingsgedig kom die digter se noukeurige aandag aan en gebruik van woorde aan die lig. Daar is by de Lange vars en verrassende beelde. Oor die emmer praat hy van sy “roesbruin ribbekas” en sluit af met “hy slaap sy roes af”. ‘n Idioom word deur die emmer geskep en deur die digter omskep in ‘n nuwe betekenismoontlikheid.
Die digter se tegniese vaardigheid is van meet af eie aan sy poësie. Sy beweging van strofes deur onklaarreëls in volgende strofes voort te sit, kom dikwels by de Lange voor (vgl. Oujongnooi, Inlywing). Woordbreuke is ‘n tegniek wat die digter effektief aanwend (byvoorbeeld drup-pel in die gedig Betwixt, vgl. veral die gedig Ernst van Heerden). Witruimtes (Spitsroede) kom ook seldsaam by de Lange voor. By T.T. Cloete is dit byna té opvallend. Die verbindingsteken & is eie aan de Lange se verse. Nuwe woordskeppings en -wendinge kom dikwels by die digter voor. Hy skryf ook in vaste patrone. In hierdie verband verwys ek na sy pragtige Sonnet aan Orpheus (vgl. ook Sondagmiddagsonnet).
Die seksuele kode is reeds in de Lange se eerste bundel teenwoordig. Hierdie kode word op verskillende vlakke ontsluit. In Brief doen hy dit op ‘n liriese manier wat meesleurend werk. Hy is subtiel en speels in die gedig. Die refrein versterk die skryfdaad in die donker. Die teenstellings is opvallend: lig (kerse) en donker, spoghotel en toilet, hemel en hel. Leipoldt 1 en 2 is ‘n meesterstuk. Leipoldt se menslikheid, sensitiwiteit, lyflikheid, digterskap, drome en pyn kom op verskillende vlakke na vore. Aardlief is ‘n kwatryn wat die eerste reeks treffend afsluit. Die kosmiese dimensie in de Lange se poësie word hier helder aan die bod gebring. Die mens beland uiteindelik in die skoot van die aarde.
Die bundelreekse van Wordende naak af worstel met die homo-erotiese bestaan. Die bestaan is nie net ‘n enkelbestaan nie, maar ‘n saam-leef en ‘n lewe binne ‘n sosiale omgewing. Die sosiale omgewing verklaar dikwels menswees, ook die seksuele kant daarvan, té maklik en té goedkoop, tot “ongewens”. Die reg om ook seksueel te leef, word ten onregte van sommige mense wat nie in ‘n bepaalde sosiale patroon inpas nie, ontneem. Dit is teen dié verontregting dat de Lange se homo-erotiese verse skerp en poëties kragtig protesteer. Die erotiese verlange word uitgebeeld in byvoorbeeld Male muse en Stoombad. Die seksuele verhouding bring ook die pyn van afskeid (vgl. Jy’s skaars weg). Homo-erotiek in al sy geledinge kom in de Lange se verse aan die lig (vgl. Orpheus in die middestad). Daar is ook die onbekendheid met mekaar (Kissing the rod). Die seksuele daad en woordeskat word nou-keurig in Tongnaai 2 beskryf. Daar is ook sprake van ontbering en pyn (”wondbare lyf”) in verhoudinge. Dan is daar die een wat die laaste sê het: die dood (Aan ‘n onbekende seun). De Lange dig ook oor ou Sluipdood, vigs in Coke & sodomie. Dit is die poëtiese vernuf wat hier opval.
Ontvlugting is ‘n gedig wat Ingrid Jonker se uitvaart na die see herroep. Dit is veral die hegte komposisie van die gedig wat opval. Die “krulkopsee”, meeue, skeepsreg, water en wind het alles met die groot see te doen. Dit is ‘n ontroerende gedig.
In sy gedigte kom beeldgedigte as vorm van vroeg af al aan die orde (vgl. Die aartappeleters). Dit is veral die kleure wat in die gedig die aandag trek. In Passie kom die seksuele motief weer voor. Hier is dit veral die teenstellings wat opval.
Die afdruk van N.P. van Wyk Louw kom ook in de Lange se verse voor (vgl. Piromaan). In gedigte haal ‘n digter ook deur ander asem. Maar, soos in die geval van de Lange, word dit nou sy eie asem. Dageinde is ‘n voortreflike gedig en tog pla die sinne wat met “die” begin. Dis net maar my struikeling oor die “die”. Daar is pragtige beelde in die gedig. Laatherfs eggo van Wyk Louw, maar dan in de Lange se eie unieke stem.
Pa is ‘n ontroerende gedig. Dis ‘n deurleefde gedig. Die boubeeld loop dwarsdeur die gedig. Die refrein (”Maar ek vergewe jou”) as herhaling roep die herinnering en die deernis pynlik op. Die ander Pa gedigte is in ‘n ander toonaard, en tog is dit dieselfde Pa. Die derde gedig oor die Pa is meer ‘n beeldgedig, maar ook ‘n onthulling van die psigiese aard van die Pa (”rusteloos”, “glimlag half sku”).
De Lange het talle beeldgedigte geskryf. Hy laat die gebeelde deur sy (ver)beelding poëties opstaan en weer leef - ‘n redivivus. Van al die voortreflike beeldgedigte wil ek Ernst van Heerden (p 131-132) uitsonder. Dié gedig is ‘n kragtoer. Die proses van sloping word effektief deur sinsafkapping verbeeld. Die slot is aangrypend.
‘n Hele versameling elegieë kom in die werk van Johann de Lange voor. ‘n Kultus figuur soos James Dean word ‘n gedig. Dan is daar ook gedigte oor oa Emily Dickinson, Ernst van Heerden (2), Kurt Cobain, Eugène Marais en Jeffrey Danhmer. Drie gedigte word aan Koos Prinsloo opgedra. Seksualiteit kan die lewe vier, maar dit kan die lewe ook sloop. Soos in die geval van Prinsloo. Die verband tussen seksualiteit en dood word deur de Lange in ‘n enkele reël opgeroep: die rektum as graf.
Die broosheid en nietigheid van Prinsloo word ontroerend in die gedig vasgelê: die bang kind in maer pajamas en verwarring. Die dood van Eugène Marais deur verslawing word hartroerend beskryf. Dit mond uit in ‘n wanhoopskreet:
“Morfien! Morfien!”
Die seisoene speel in de Lange se gedigte ‘n belangrike rol (vgl. Herfs). Die algebra van nood se invalshoek is die Inval van lente. De Lange se gedigte het ‘n skeppingsbewussyn. Met militêre beelde word die koms van die lente begroet: opmars, uniform, swaarde in gelid, hordes voetsoldate en salvo’s. Daar is geen keer aan die inval van die lente nie. Ander kosmies gerigte gedigte kom ook aan die begin van Die algebra van nood voor. In die Afrikaanse tradisie word die verwantskap met Van Wyk Louw, Opperman en Cloete herken. Maar de Lange kyk na die skepping op sy eie manier.
Die invloed van verslawing op die psige en die liggaam kom by de Lange op ‘n sensitiewe en simpatieke manier aan die lig. Die uitwerking van ecstacy op ‘n jong danser is ‘n lyf wat glim van sweet. Die spuitnaald laat glip die “ek” van die gedig heen en weer tussen verbeelde werklik-hede. Nie die liggaam nie, maar die gees word hier ‘n gedig. Die Pa word weer, in ‘n derde gedig, raakgeloop waar hy aan die seun ‘n smal ampule gee. Deur deelname aan verslawing word hegting en verbinding bewerk. Maar die verbinding is verblinding, want oral ruik alles na oorskot. Die daad van verslawing word deur de Lange fyn beskryf en verrassend met Van Gogh verbind. Die een wat hom met ‘n doodskoot aan die ewige slaap oorgegee het. Op ‘n vindingryke wyse verbind de Lange selfmoord (Eugène) met die maak van ‘n gedig. Die pen word in die hand van die digter ‘n naald wat huiwer bo ‘n aar. Die naald laat lewe bloei - die eerste polsing van ‘n vers bring lewe. Ars poetica kom ook in de Lange se verse voor. Daar is die besinning oor die skeppingsdaad (vgl. My woorde is klippe, Taal, Die digter as inkvis, Die digter as slangbesweerder).
Die keur uit de Lange se gedigte sluit met Nuwe verse. Die vraag is: wat is die verwandskap tussen die oue en die nuwe? Indien enige. Hierop is my antwoord: dit is steeds Johann de Lange se stem. Maar dan tog ‘n toevoeging tot sy oeuvre en ‘n afsluiting (voorlopig) van sy digwerk.
Eie aan de Lange se digkuns begin hy sy nuwe verse met ‘n aantal homo-erotiese gedigte. Dit is egter nie ‘n ydel herhaling van vorige verse oor dié tema nie. Al is die tema dieselfde, is die seggingskrag van die gedigte nuut en vars. Hy plaas idiome in ‘n homo-erotiese sfeer. Op dié manier kry dit ‘n nuwe betekenis. As voorbeeld verwys ek na “hals oor kop” wat by de Lange “heup-oor-hals” word. En ook “aardjie na sy vaartjie” (p. 137).
Die gedig oor Paganini (ook bekend as die Duiwel) is gesnaar met erotiese strykhale en ironie. Die gedig word tot “perfeksie gespan”.
Johann de Lange staan ook binne die tradisie van gedigte oor Marilyn Monroe. In hierdie verband word gedink aan T.T. Cloete, Joan Hambidge en Tom Gouws. De Lange het twee gedigte oor Monroe geskryf. Die eerste een is Gebed vir Marilyn Monroe en die laaste een kom in sy nuwe verse voor. Marilyn Monroe: foto buite beeld. Die eerste Marilyn Monroe gedig is ‘n vertaling van Ernesto Cardenal se gedig. Hierdie vertaling kry egter by de Lange ‘n eie klank en kleur.
In sy eerste Monroe gedig staan die digter as’t ware op sy knieë en pleit vir haar. Hy pleit dat die Here haar in sy teenwoordigheid sal ontmoet. Sonder haar persona en maskara. Net soos sy is. Haar lewensgang met al die drome word digterlik verwoord. De Lange betrek ook haar “aanbidders”. Sy speel haar rol namens ons - “die storie van ons eie lewens”. Deur die gedig wat ‘n lewensverhaal vertel, word die leser met haar geïdentifiseer. Die slot is roerend. Met ‘n telefoon in die hand en woorde in haar mond, gee sy haar lewe prys. Die digter pleit dat die Here tog haar foonoproep moet beantwoord. Die transendente oorstyg die immanente. In sy nuwe verse val ‘n ander lig op Marilyn. Die “ongestorwe silwer-doek legende”. Foto’s van gelukkiger tye word opgehang en verkoop soos soetkoek. Daarvoor is daar “oorgenoeg papier”. De Lange toon treffend aan hoe foto’s ‘n ander beeld van Marilyn skep. Dit is ook wat poësie doen: dit skep ander beelde.
Religieuse flitse kom in die gedig Google Golgota voor. Ek huiwer oor die betekenis van die versreëls:
Was vandag u sterfdag
sou ons u volg
Is dit as konjunktief bedoel?
Maar in die verdere verloop van die gedig word die Gekruisigde in die tegnologie geraam. Hy word sigbaar op elke skerm. Kameras en mikrofone soek na ‘n sound bite. Dalk het Hy advies oor global warming. In sy Naam sal websites opgaan, boek- en filmregte en terugskote. Die digter het ‘n laaste versoek aan Joan: hy wil ook iets van die Golgota gebeure hê: ‘n 8 megapixel foto, ‘n poskaart of ‘n brief in sy handskrif of ‘n stukkie van sy kleed. Daarmee wil hy iets doen: dit op die webwerf eBay adverteer. Die digter het dan immers ook iets om te vertel en te laat sien. In hierdie gedig word na die Golgota gebeure vanuit die eietydse tegnologiese oog gekyk. Vars en oorspronklik.
Johann de Lange se Keur eindig met ‘n Aandlied. Dit is ‘n soort afskeidslied. Eendag gaan alles ophou bestaan. Die digter maak van die woordskat van die genetika gebruik: sinaps, samehang van selle, DNS. Eendag gaan dit alles ophou. Vir die digter is die groot verlies dat sy hand met pen sy greep op taal gaan verloor. Alle woorde en sin raak dan verlore. Daar is ‘n skrynende paradoks in die proses van afskeid. Die hart ontheg hom aan ‘n heelal wat aanhou sê: “Begin, begin, begin!”. En tog is die begin die voorspel tot die einde. De Lange se sluitgedig is ‘n treffende einde van die Keur van sy verse.
Die Keur gee ‘n beeld van die veelvlakkigheid en rykdom van Johann de Lange se digterskap. As digter omspan hy die heelal. Sy digterskap verryk en verruim die Afrikaanse poësie op ‘n sonderlinge manier. De Lange slaag op ‘n voortreflike wyse daarin om die heel-al op die punt van ‘n naald te laat dans.
Thursday, July 8th, 2010
Digstring
| kersrook
smoke drawing - diane victor
kerse vlam op
en laat visioene lig
dans
soos die eerste goddelike
asem se uitblaas lê
ek jou in rook
op papier uit
ek sien jou skaduvlek
weerloos teen vergaan stry
as ek bewend aan jou raak
verdwyn jy in ‘n wit
leegte
op my papier
is jou rookspore
nagelaat
(c) Cas Vos (Uit: Intieme afwesige, 2009: Protea Boekhuis)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Cas? Hoe het dit ontstaan?
Die gedig is een oggend in Maart 2009 geskryf. Dis een van daardie gedigte wat in die nag skielik en onverwags in my skoot geval het. Daardie aand was ek nog op soek na ‘n geskikte voorblad. Toe hoor ek van Diane Victor se “smoke drawings” en weet onmiddellik dat dit die voorblad is en hieruit moet ‘n gedig kom. Ek het die konsep ook die aand gekry toe ek hoor dat, indien die “smoke drawing” aan lig blootgestel word, verdwyn die tekening.
Die volgende dag het ek ‘n afspraak met Diane gemaak. Ek het by haar gehoor hoe sy die “smoke drawings” maak. Sy het die geheim aan my verklap. Met ‘n vlammende pen het ek gedagtes vir die gedig neergeskryf. Dit was ‘n oomblik van kerslig en kreatiwiteit tussen ons.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig het net na die gesprek met Diane gebeur. Dit is aan my “gegee”. En wie sê “nee dankie” vir ‘n present? Nie ek nie.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Daar was min sweet, eintlik net gloed en verwondering.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?
Dit was die konsep wat my geboei het. As jy aan die “smoke drawing” raak, raak die seuntjie weg. Soms is dit presies dieselfde met ‘n verhouding: dit is so broos en breekbaar dat selfs ‘n aanraking ‘n persoon kan laat verdwyn. En al wat oorbly, is die rookspore (vingerspore) van herinnering. Die “smoke drawing” wat ek as voorblad gebruik, dui ook op die aard van die bundel. Dit gaan oor die intieme afwesige, die breekbaarheid, die kwesbaarheid van verhoudings, die verlange en die pyn. Die gedagte loop deur die bundel en word veral in die persone van Abélard, Hélïose en hulle liefdeskind, Astralabe vergestalt.
Diane se kuns is in ‘n groot mate sosiale kommentaar. Kommentaar op die breekbaarheid, pyn en vlietenheid van die mens in verskillende omstandighede. Die intensiteit van sosiale verval, val telkens in haar werk op.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek het ‘n letterkundige wat noukeurig na my verse kyk. Daarna is ek in die hande van die keurders van die bundel.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Dit was van my laaste verse vir die bundel Intieme afwesige wat in September 2009 verskyn het.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Die “feit” is dat dit op ‘n werklike kunswerk berus. Ek sien die “smoke drawing” elke dag, want ek het dit as verjaardagpresent gekry. Die weerloosheid, broosheid en verlange van die kunswerk praat elke dag met my. Die “feit” is dat dit verwys na Astralabe, die seun van Abélard en Héloïse. Die “fiksie” is dat dit nou nog na pyn, verlange, verlies, verdriet en vervlietenheid verwys. Enigeen kan hom/haar in die vers in verbeel.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan oor Astralabe wat deur verdriet en verlange oordek is. Die spreker is die digter (of dan die leser) wat met Astralabe in gesprek tree. In die eerste strofe word die proses van “smoke drawing” verbeeld. Die voltooiing kom in strofe twee as Diane die kunswerk in rook uitlê. Maar dis ook die digter wat die seuntjie deur die gedig tot lewe bring. Deur die “smoke drawing” kry Astralabe na eeue van vergetelheid weer lewe.
Die “ek” in die derde strofe is die digter (leser) wat na die seuntjie kyk en sien hoe hy teen weerloosheid stry. Dit lei tot ontroering en ‘n bewende aanraking, maar dan verdwyn die kind. Al wat oorbly, is wit stilte. En natuurlik die herinnering: rookspore op papier. Hiermee kan elke leser maak wat hy/sy wil. Elkeen het tog die wit leegte en rookspore op papier.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Die gedig is deur Diane Victor geïnspireer. Sy is een van die voorste kunstenaars wat ek bewonder. Telkens is daat nuwe grensverskuiwings in haar werk. Dit blyk nou weer uit haar uitstalling, Trancend, by die Goodman-galery in Johannesburg. Daar het ek weer ‘n gedig gekry! As grafiese kunstenaar is Diane onverpoosd op soek na nuwe maniere van segging. Dis die mens in al sy gestaltes wat haar inspireer. Ek dink dis wat die digter ook behoort te doen: soek na en ondersoek voortdurend nuwe maniere van segging. Dit moet mense anders laat dink, kyk en leef.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
O hemel, dit wemel van persone. Werklikes, verbeeldes, dooies. Vir my is ‘n konsep belangrik. Dit vorm die draende grond van die gedig en stel my in staat om die gedig volgens ‘n patroon/patrone te rangskik. Maar ‘n gedig laat hom/haar nie maklik rangskik nie. Daarvoor is hy/sy te woelig en te vlugtig.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Dit verskil, hoop ek, heelwat. Maar gedigte verskil weer van mekaar. Dit hang van elke gedig af. In hierdie geval het die “smoke drawing” die gang en ritme van die gedig bepaal en ‘n eie stempel daarop afgedruk.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ja, die uniekheid van die kunsvorm wat Diane gebruik. Dat sy van kersrook tekeninge kan maak, is verbysterend. En dan die menslikheid van die gedig in ons gebroke konteks.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Die gedig het my nie gelos nie. Daarom was daar die verlossing deur woorde. Ek het ‘n vlam aangesteek en toe die kers doodgeblaas. Woorde het op papier verdig.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Ek is baie dankbaar oor die reaksie. Veral die visuele kunstenaars ervaar dit intens en opwindend.
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Louis, nou vra jy my ‘n ding. Ek moet deur die donker jare sluip. Dis ver ver terug. Lank lank gelde. Ek was so 10 jaar oud. Maar ‘n gedig? Miskien ‘n eerste vlagie rook.
 Cas Vos
Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Saturday, May 15th, 2010
 Cas Vos
Vandag is dit die verjaarsdag van een van die gentleman’s in ons letterkunde, naamlik Cas Vos. Veels geluk, Cas … Mag jy vandag uitsonderlik bederf word deur jou geliefdes en mag die nuwe lewensjaar besaai wees met vreugde en inspirasie.
Vir die plesier van jou lesers plaas ons ‘n gedig uit jou verskamer hieronder.
Met waarderende groete,
Louis & Marlise
laaste woorde
tussen sterre skryf die maan
met jambes lig en donker
oor eeue wat vergaan
‘n engel kyk na die graf
waar dowwe sterspore lê
en skud die vaal stof af
hy buk oor ‘n grafsteen en lees
‘n laaste versreël:
die opstanding van die vlees
(c) Cas Vos
Wednesday, November 4th, 2009
Intieme afwesige. Deur Cas Vos. 2009. Protea Boekhuis. 106 pp. ISBN 978-1-86919-294-5.
 Intieme afwesige
Sedert sy digterlike debuut in 1999 het die Pretoriaanse teoloog Cas Vos ‘n oeuvre met ‘n stygende kwaliteitskurwe opgebou. In Die afdruk van ons hande van twee jaar gelede - sy vierde bundel - is ‘n hoogtepunt van afgewerktheid deur hom bereik.
Die titel van sy jongste werk, Intieme afwesige, stel een van die konstantes in Vos se digwerk op die voorgrond, naamlik die verwoording van die teenstrydighede in die mens (derhalwe ook die Christen-gelowige) se bestaan en belewing.
Daar is byvoorbeeld reeds sowel iets magies en genadigs as iets gewelddadigs en gevaarvols in die menslike ontvangenis en geboorte te bespeur (afdeling I, “Geboortes”) - selfs, of júís, wanneer die goddelike betrokkenheid daarby verreken word. Die ganse bestaan staan in die teken van die paradoksale. Soos dit in gedig 3 uit hierdie afdeling lui:
Alles is kenbaar en onseker;
alles is digby maar buite bereik.
Die lewe is derhalwe ‘n onvoorspelbare avontuur vir die mens. In gedig 5 uit hierdie selfde afdeling word die maagdelike bevrugting van die “meisie” Maria, latere moeder van Jesus, geteken. Tot twee maal toe - via ‘n half-erotiese beeld wat ook aan Michelangelo se beroemde Sikstynse kapel-voorstelling van God se verwekking van Adam herinner - word haar verhewigde belewenisstaat, haar lewensbegeerte ná die goddelike ingryping gesuggereer:
God se vinger raak haar aan,
haar wange gloei.
Die paradoks as stylfiguur duik herhaaldelik (en dikwels ironies getint) op in hierdie bundel. Blykens die bundelmotto (’n aanhaling uit Breyten Breytenbach se werk) word dit trouens as ‘n digterlike probleemstelling aangedui: “hoe skryf ‘n mens ‘n afwesigheid vas in die vers?”
Brief-, gebeds-, gespreks- en ander belydenisvorme, ook kunsbeskoulike verse, word meermale in diens van hierdie vraagstuk aangewend in Intieme afwesige. Gevolglik is dat die apostroof ‘n volgende stylfiguur opval, synde ‘n aanspreking of oproeping van die afwesige.
Begeerte bevat in wese sowel iets van die intimiteit as iets van die afwesigheid waarvan in die bundeltitel gewag maak word. Dit lê ten grondslag aan sowel die liefde(-sverlange) as die kunsskepping, soos uit die gedigte van afdeling II blyk - dit wil sê indien die begeerte nie net altyd in terme van die erotiese gesien word nie, maar ook as ‘n drang na selfekspressie (”Die wingerde van Arles”) of begrip (”Martha”), selfs na die dood (”lewe en dood”). Sowel in die liefde as in die maak en waardeer van kuns “hink” die mens “bedwelmd tussen paradokse” (”Twee digters”).
In enkele gevalle word vaster digvorme funksioneel benut in hierdie afdeling. Die tersinevorm met omarmende rym werk in “Die vyfde evangelis” treffend mee om Johann Sebatian Bach se fugale komposisies - “heen op togte melodie, en weer” - te help evokeer. Daarenteen gaan die herhalings in die villanelle “lewe en dood” mank aan noodwendigheid, terwyl ‘n rymdwang soos “jy graaf daagliks jou diep graf bloot” en die teenstrydigheid in “die skadu’s kom versigtig nader en lê bloot” ook hinder.
Afdeling III bevat enersyds gedigte oor ontheemdes, vervolgdes, gevallenes, benoudes en verdoemdes wat die onbegryplike, selfs wrede of kille goddelike bestiering moet ervaar - hoewel soms ook die glansende teenwóórdigheid van God. Dié tematiek vind neerslag in boeiende ironieë, soos die volgende (met ‘n toespeling op Van Wyk Louw) uit ”Ontheemde”:
Al hou ek my hart van gode rein,
vertroebel U s’n, dra ek die pyn.
“Il Gigante”, nóg ‘n gedig na aanleiding van ‘n werk deur Michelangelo Buonarotti, is een van die treffendstes uit hierdie reeks. Let op hoe Bybelse verwysings en geykte uitdrukkings nuwe lewe ingeblaas word in die openingsreëls daarvan.
Die beeldhouer blaas asem
in ‘n massiewe stollingsklip;
sy beitel hap log marmervlees,
tap bloed in die klip tot
uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,
oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.
Vanaf bladsy 38 volg dan ‘n klomp liefdesgedigte waarin sowel die intieme teenwoordigheid van as die gemis aan die geliefde onder woorde gebring word, soms op bykans hoogliedagtige trant (onder meer in “In die tuin van die nag”). In die twee kunstige Engelse sonnette wat die sluitstuk van hierdie afdeling vorm, word die aanwesigstelling van die afwesige geliefde deur middel van (vergeefse) artistieke skepping die onderwerp. “Vere in die wind”, die geslaagdste van die twee sonnette, eindig treffend:
Ek verlang ‘n brief - verlang jou brief, jou asem.
My woorde slaan teen jou omtrek aan soos wasem.
Op hierdie wyse word die bewerkings in afdeling IV van grepe uit die beroemde twaalfde-eeuse briefwisseling tussen Pierre Abélard en Héloïse voorberei.
Laasgenoemde afdeling skop af met ‘n alleenstaande gedig, “Troebadoer”. Daarin word die spanning tussen religieuse wyding en sensuele begeerte wat so sentraal is aan die Abélard-Héloïse-tweegesprek wat hierna volg, aan die bod gestel. Van Wyk Louw het tereg gewaarsku dat daar uit die “gevormde literatuur” moeilik nuwe heuning te maak is. Sommige bewerkings in “Abélard en Héloïse” ontkom myns insiens nie aan die gefragmenteerde grepe wat daaruit geneem is nie. En ten spyte van sekere beeldvondste (”terwyl marmerbeelde sonder ooglede / soos wit skemertes op my afkyk”; “riviere [...] waarop wildeganse / haastig voor die skemer se spane dryf”), doen die meerderheid van die gedigte hier ietwat geyk aan, ietwat prosaïes konstaterend - waarskynlik as gevolg van die aard van die brontekste.
Tot slot van hierdie afdeling dien ‘n sewetal gedigte wat, luidens die ondertitel, verbeelde “[g]esprekke oor verlatenheid” tussen die digter en “Astralabe” bevat. Uit die “Aantekeninge” agterin die bundel blyk dat Astralabe die haas onbekende liefdeskind van Abélard en Héloïse was. Dié verse verteenwoordig ‘n strewe om hom dan “in die skaduwees / van vergeet te onthou”. “[K]ersrook” is die beste onder hierdie gedigte. Dis ‘n gedig oor die onvaslêbaarheid op papier van die apostrofies aangesprokene. Korter, onreëlmatige en dikwels sterk enjamberende versreëls word ironies funksioneel ingespan om die onvergestaltbaarheidsgedagte vormlike beslag te help gee.
Ander gedigte hier veryl in abstraksies (”eeue tyd”) of gaan mank aan beeldtroebelhede. Veral die rookbeelde in “voor ek vergeet” verwar ‘n mens. Blykens die gedigopdrag is die beelde ingegee deur Diane Victor se “smoke drawing” (wat op die bundelomslag afgedruk is), maar dit wil nie oortuigend tuiskom in die werklikheid van die “jy” in die gedig nie (wat, gegewe die gedigreekskonteks, as Astralabe gesien moet word).
In afdeling V, die slotafdeling, word hartstog en dood, die sensueel genietlike en beelde van ondergang, in gespanne paradoks geplaas. Die dood is as ‘t ware die “intieme afwesige” in lewens (soos dié van Edith Piaf) wat so passievol geleef word. Vergelyk ook die treffende “Nag”, geskryf na aanleiding van ‘n gedig deur Jim Morrison:
Die nag is nog jonk
& vol gloed en vonk.
Sy dra ‘n gesplete rok
om índink uit te lok.
Sy wag vir ‘n soete inval
& braak intussen gal.
Sy’s daar vir jou pure plesier
om doodsnikke te vier.
Die nag is afgeleef en oud
& jy kry bibberboud.
Dit is duidelik dat die bundeltitel as motief (dikwels so te sê woordeliks) oral in die gedigte geëggo word om die bundelsamehang te beklemtoon. Trouens, ‘n mens kry naderhand ‘n indruk van effense oordaad en derhalwe van kunsmatigheid in hierdie verband.
Nóg beeldtroebelhede is aan te stip in Intieme afwesige, plek-plek ook seggingsgesogthede (”val my meetsnoere in ‘n klooster”), oortollighede (byvoorbeeld “die weemoed van verdriet”) en enkele ander styllomphede. Soos gesien, is daar egter ook heelparty beeldvondste, treffende verlewendigings van geykte segswyses en behendige hantering van klank en verstegniek aan te toon.
Word die optel- en aftreksomme gemaak, bly ‘n verstewigende bydrae tot Vos se oeuvre oor - en ‘n veelsins boeiende bundel. Tegnies en stilisties ewenaar Intieme afwesige egter nie heeltemal die hoë peil van Die afdruk van jou hande van twee jaar gelede nie.
Prof Bernard Odendaal.
|
|