Posts Tagged ‘Cas Vos.’

Intieme afwesige

Wednesday, November 4th, 2009

Intieme afwesige. Deur Cas Vos. 2009. Protea Boekhuis. 106 pp. ISBN 978-1-86919-294-5.

Intieme afwesige

Intieme afwesige

Sedert sy digterlike debuut in 1999 het die Pretoriaanse teoloog Cas Vos ‘n oeuvre met ‘n stygende kwaliteitskurwe opgebou. In Die afdruk van ons hande van twee jaar gelede - sy vierde bundel - is ‘n hoogtepunt van afgewerktheid deur hom bereik.

          Die titel van sy jongste werk, Intieme afwesige, stel een van die konstantes in Vos se digwerk op die voorgrond, naamlik die verwoording van die teenstrydighede in die mens (derhalwe ook die Christen-gelowige) se bestaan en belewing.

Daar is byvoorbeeld reeds sowel iets magies en genadigs as iets gewelddadigs en gevaarvols in die menslike ontvangenis en geboorte te bespeur (afdeling I, “Geboortes”) - selfs, of júís, wanneer die goddelike betrokkenheid daarby verreken word. Die ganse bestaan staan in die teken van die paradoksale. Soos dit in gedig 3 uit hierdie afdeling lui:

                      Alles is kenbaar en onseker;

                      alles is digby maar buite bereik.

          Die lewe is derhalwe ‘n onvoorspelbare avontuur vir die mens. In gedig 5 uit hierdie selfde afdeling word die maagdelike bevrugting van die “meisie” Maria, latere moeder van Jesus, geteken. Tot twee maal toe - via ‘n half-erotiese beeld wat ook aan Michelangelo se beroemde Sikstynse kapel-voorstelling van God se verwekking van Adam herinner - word haar verhewigde belewenisstaat, haar lewensbegeerte ná die goddelike ingryping gesuggereer:

                      God se vinger raak haar aan,

                      haar wange gloei.

Die paradoks as stylfiguur duik herhaaldelik (en dikwels ironies getint) op in hierdie bundel. Blykens die bundelmotto (’n aanhaling uit Breyten Breytenbach se werk) word dit trouens as ‘n digterlike probleemstelling aangedui: “hoe skryf ‘n mens ‘n afwesigheid vas in die vers?”

Brief-, gebeds-, gespreks- en ander belydenisvorme, ook kunsbeskoulike verse, word meermale in diens van hierdie vraagstuk aangewend in Intieme afwesige. Gevolglik is dat die apostroof ‘n volgende stylfiguur opval, synde ‘n aanspreking of oproeping van die afwesige. 

Begeerte bevat in wese sowel iets van die intimiteit as iets van die afwesigheid waarvan in die bundeltitel gewag maak word. Dit lê ten grondslag aan sowel die liefde(-sverlange) as die kunsskepping, soos uit die gedigte van afdeling II blyk - dit wil sê indien die begeerte nie net altyd in terme van die erotiese gesien word nie, maar ook as ‘n drang na selfekspressie (”Die wingerde van Arles”) of begrip (”Martha”), selfs na die dood (”lewe en dood”). Sowel in die liefde as in die maak en waardeer van kuns “hink” die mens “bedwelmd tussen paradokse” (”Twee digters”).

In enkele gevalle word vaster digvorme funksioneel benut in hierdie afdeling. Die tersinevorm met omarmende rym werk in “Die vyfde evangelis” treffend mee om Johann Sebatian Bach se fugale komposisies - “heen op togte melodie, en weer” - te help evokeer. Daarenteen gaan die herhalings in die villanelle “lewe en dood” mank aan noodwendigheid, terwyl ‘n rymdwang soos “jy graaf daagliks jou diep graf bloot” en die teenstrydigheid in “die skadu’s kom versigtig nader en lê bloot” ook hinder.

Afdeling III bevat enersyds gedigte oor ontheemdes, vervolgdes, gevallenes, benoudes en verdoemdes wat die onbegryplike, selfs wrede of kille goddelike bestiering moet ervaar - hoewel soms ook die glansende teenwóórdigheid van God. Dié tematiek vind neerslag in boeiende ironieë, soos die volgende (met ‘n toespeling op Van Wyk Louw) uit  ”Ontheemde”:

          Al hou ek my hart van gode rein,

          vertroebel U s’n, dra ek die pyn.

“Il Gigante”, nóg ‘n gedig na aanleiding van ‘n werk deur Michelangelo Buonarotti, is een van die treffendstes uit hierdie reeks. Let op hoe Bybelse verwysings en geykte uitdrukkings nuwe lewe ingeblaas word in die openingsreëls daarvan.

          Die beeldhouer blaas asem

          in ‘n massiewe stollingsklip;

          sy beitel hap log marmervlees,

          tap bloed in die klip tot

          uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,

          oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.

Vanaf bladsy 38 volg dan ‘n klomp liefdesgedigte waarin sowel die intieme teenwoordigheid van as die gemis aan die geliefde onder woorde gebring word, soms op bykans hoogliedagtige trant (onder meer in “In die tuin van die nag”). In die twee kunstige Engelse sonnette wat die sluitstuk van hierdie afdeling vorm, word die aanwesigstelling van die afwesige geliefde deur middel van (vergeefse) artistieke skepping die onderwerp. “Vere in die wind”, die geslaagdste van die twee sonnette, eindig treffend:

Ek verlang ‘n brief - verlang jou brief, jou asem.

My woorde slaan teen jou omtrek aan soos wasem.

Op hierdie wyse word die bewerkings in afdeling IV van grepe uit die beroemde twaalfde-eeuse briefwisseling tussen Pierre Abélard en Héloïse voorberei.

Laasgenoemde afdeling skop af met ‘n alleenstaande gedig, “Troebadoer”. Daarin word die spanning tussen religieuse wyding en sensuele begeerte wat so sentraal is aan die Abélard-Héloïse-tweegesprek wat hierna volg, aan die bod gestel. Van Wyk Louw het tereg gewaarsku dat daar uit die “gevormde literatuur” moeilik nuwe heuning te maak is. Sommige bewerkings in “Abélard en Héloïse” ontkom myns insiens nie aan die gefragmenteerde grepe wat daaruit geneem is nie. En ten spyte van sekere beeldvondste (”terwyl marmerbeelde sonder ooglede / soos wit skemertes op my afkyk”; “riviere [...] waarop wildeganse / haastig voor die skemer se spane dryf”), doen die meerderheid van die gedigte hier ietwat geyk aan, ietwat prosaïes konstaterend - waarskynlik as gevolg van die aard van die brontekste.

Tot slot van hierdie afdeling dien ‘n sewetal gedigte wat, luidens die ondertitel, verbeelde “[g]esprekke oor verlatenheid” tussen die digter en “Astralabe” bevat. Uit die “Aantekeninge” agterin die bundel blyk dat Astralabe die haas onbekende liefdeskind van Abélard en Héloïse was. Dié verse verteenwoordig ‘n strewe  om hom dan “in die skaduwees / van vergeet te onthou”. “[K]ersrook” is die beste onder hierdie gedigte. Dis ‘n gedig oor die onvaslêbaarheid op papier van die apostrofies aangesprokene. Korter, onreëlmatige en dikwels sterk enjamberende versreëls word ironies funksioneel ingespan om die onvergestaltbaarheidsgedagte vormlike beslag te help gee.

Ander gedigte hier veryl in abstraksies (”eeue tyd”) of gaan mank aan beeldtroebelhede. Veral die rookbeelde in “voor ek vergeet” verwar ‘n mens. Blykens die gedigopdrag is die beelde ingegee deur Diane Victor se “smoke drawing” (wat op die bundelomslag afgedruk is), maar dit wil nie oortuigend tuiskom in die werklikheid van die “jy” in die gedig nie (wat, gegewe die gedigreekskonteks, as Astralabe gesien moet word).

In afdeling V, die slotafdeling, word hartstog en dood, die sensueel genietlike en beelde van ondergang, in gespanne paradoks geplaas. Die dood is as ‘t ware die “intieme afwesige” in lewens (soos dié van Edith Piaf) wat so passievol geleef word. Vergelyk ook die treffende “Nag”, geskryf na aanleiding van ‘n gedig deur Jim Morrison:

          Die nag is nog jonk

                      & vol gloed en vonk.

          Sy dra ‘n gesplete rok

                      om índink uit te lok.

          Sy wag vir ‘n soete inval

                      & braak intussen gal.

          Sy’s daar vir jou pure plesier

                      om doodsnikke te vier.

          Die nag is afgeleef en oud

                      & jy kry bibberboud.

Dit is duidelik dat die bundeltitel as motief (dikwels so te sê woordeliks) oral in die gedigte geëggo word om die bundelsamehang te beklemtoon. Trouens, ‘n mens kry naderhand ‘n indruk van effense oordaad en derhalwe van kunsmatigheid in hierdie verband.

Nóg beeldtroebelhede is aan te stip in Intieme afwesige, plek-plek ook seggingsgesogthede (”val my meetsnoere in ‘n klooster”), oortollighede (byvoorbeeld “die weemoed van verdriet”) en enkele ander styllomphede. Soos gesien, is daar egter ook heelparty beeldvondste, treffende verlewendigings van geykte segswyses en behendige hantering van klank en verstegniek aan te toon.

Word die optel- en aftreksomme gemaak, bly ‘n verstewigende bydrae tot Vos se oeuvre oor - en ‘n veelsins boeiende bundel. Tegnies en stilisties ewenaar Intieme afwesige egter nie heeltemal die hoë peil van Die afdruk van jou hande van twee jaar gelede nie. 

 

Prof Bernard Odendaal.

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE

Alliansie met De Contrabas

Monday, August 31st, 2009
Chrétien Breukers

Chrétien Breukers

Vandat ons webblad enkele maande gelede op die internet gevestig is, het daar ‘n besondere alliansie met De Contrabas, wat die toekenning vir die beste literêre weblog verlede jaar in Nederland ontvang het, tot stand gekom. Etlike van ons artikels is deur hulle oorgehewel; in dié mate dat bykans 30% van ons besoekers tans vanuit Nederland/Vlaandere afkomstig is. Daarom is dit ‘n voor die hand liggende inistiatief om nog nouer bande met ons vennoot in die ander halfrond te smee.

Vanoggend is dit dan met borrelende opwinding dat ons kan bekend maak dat daar voortaan ‘n tweeweeklikse nuusbrief deur die redaksie van De Contrabas in die Brieweboks geplaas sal word. Hierdie Nuusbriewe sal nuus bevat van gebeure rondom die poësie in Nederland en ook Vlaandere. As teenprestasie sal ons ‘n soortgelyke maandelikse nuusbrief aan hulle verskaf. Soos Versdindaba is De Contrabas ‘n onafhanklike webblad wat deur drie persone bedryf word, by name Chrétien Breukers (Utrecht), Ton Van’t Hof (Leeuwaarden) en Jan Pollet (Gent).

Die eerste bydrae, by wyse van bekendstelling, is vanoggend in die Brieweboks te lese en is deur Chrétien Breukers geskryf. ‘n Meer omvattende nuusbrief sal binne enkele dae geplaas word.

Uiteraard is ons sommer baie opgewonde oor dié ontwikkeling; enersyds omrede dit ons plaaslike liefhebbers van die digkuns selfs nog meer op hoogte van die verwikkelinge in die ander halfrond sal bring, maar ook omrede dIt die prominensie van ons digkuns aldaar net nog verder sal kan verhoog. Onthou dus om hierdie skakel te kliek ten einde op hoogte te kom van nuusgebeure in die Ware Noord. (Lees gerus ook Yves T’Sjoen se kommentaar op die Miriam Van hee-onderhoud wat gisteraand op De Contrabas geplaas is waarin hy reageer op haar van die hand wys van Gent se stadsdigterskap. Die volledige berig kan hier gelees word.)

Dan het ons omtrent rede om hierdie week met ‘n handeklap-sessie te begin, aangesien nog ‘n nuwe bundel verlede week by die boekwinkels gearriveer het, naamlik Cas Vos se vyfde digbundel Intieme afwesige (Protea Boekhuis). Gaan loer dus by Publiksies in vir meer inligting oor dié besonderse bundel en lees veral Johann de Lange se skitterende onderhoud met Cas Vos. Intieme afwesige is beslis ‘n belangrike toevoeging tot ‘n reeds indrukwekkende oeuvre.

Lekker lees aan alles en geniet die week wat op hande is.

Mooi bly.

LE

Onderhoud: Cas Vos

Sunday, August 30th, 2009

Wat oorbly is roet & ink

Cas Vos in geprek oor sy nuutste digbundel Intieme afwesige, met Johann de Lange  

Cas Vos

Cas Vos

 

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica.In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.

 

Wat my opgeval het met die lees van die bundel is hoe elke afdeling nuwe nuanses van die titel belig. Die intieme afwesiges wissel van ongeborenes tot gestorwenes, van herinnerings tot inspirasie, van mense van bloed & vlees tot mense van ink of verf. Op intertekstuele vlak kan dit verder verbind word met ander tekste, heel dikwels uit antieke tye, wat as’t ware soos op ‘n palimpses intiem aanwesig is. Brei bietjie uit oor wat die funksie van ‘n titel vir jou is.

 

‘n Titel is vir my soos ‘n hartklop. Jy hoor of die bundel leef. By Van Wyk Louw het ek geleer om ironies te leef en bo alles die liefde te behou (en dis nie altyd maklik nie!). Die titel suggereer ‘n teenstelling. Naby en ver. Verlange en liefde, leegte en vervulling, lewe en dood. Af- en aanwesigheid. Hierdie teenstellings loop dwarsdeur die bundel. Daarom is daar dikwels gesprekke tussen gedigte. Hiervan is die Abélard en Héloïse-reeks ‘n duidelike voorbeeld. Intimiteit is so menslik. En meestal staan afwesigheid in die weg daarvan. Hierdie kontraste  staan voortdurend op gespanne voet teenoor mekaar.

 

Jou bundels se omslae raak toenemend belangriker as sleutels. Verál Die afdruk van ons hande & nou Intieme afwesige. Hoe sien jy die rol van omslagontwerp in die semantiese spel, & hoe maak jy vrede met die kompromieë wat gemaak moet word wanneer sakebelange & artistieke visie bots?

 

Intieme afwesige

Intieme afwesige

 Vir my is ‘n bundel as geheel ‘n kunswerk, ‘n skeppingsdaad. Daarom is die voorblad vir my nie net maar ‘n oogvanger nie. Dit is deel van die bundel. Die voorblad gee die leser ‘n blik op wat hy/sy kan verwag. Dit dra by tot die verstaan van die gedigte. Dis ‘n hermeneutiese sleutel. Maar ook omgekeerd: dit gedigte kyk elke keer terug na die omslag.
In die geval van Intieme afwesige wou ek ten alle koste die smoke drawing van Diane Victor op die voorblad hê. En glo my dit het nie sonder slag of stoot gegaan nie. My uitgewer het begrip gehad vir ‘n waansinnige digter. Maar gode sy dank, nou kan die omslag ‘n inslag hê op die gedigte. Weerloosheid, afwesigheid, eensaamheid, broosheid en verdriet hink deur die bundel. En die voorblad wil die leser help om dit raak te sien.

Hoe gebeur ‘n gedig by jou? Watter soort prikkels vuur ‘n gedig af? Wat, bv. is die rol van reis?

 

Saam met T.T. Cloete wil ek sê dat gedigte uit die mees onverwagte oord kan kom. Ek dig met my oë. Daarom is ek altyd op die uitkyk na digmoontlikhede. Ek dig ook met my liggaam. ‘n Bepaalde ervaring kan tot ‘n gedig lei. Ek dink ook na en soek na konsepte wat gedigte kan word. ‘n Gedig is altyd in wording. Reis maak nuwe wêrelde oop en ervaringe los. In Parys het ek onlangs baie gedigte geskryf. Moenie vra waaroor nie! 

 

‘n Vers soos ‘Ode aan ‘n bloekomboom’ & talle ander verse waaruit jou sterk visuele ingesteldheid blyk soos ‘See’, ‘Is jy blind?’, ‘Parys se winter’, & ‘’n foto in woorde’ stel dit onomwonde dat kuns nie net ontspring uit die waarneming & interpretasie van ander kunsvorme nie, maar ook uit die veelsinnige wêreld om ons.

 

T.T. Cloete het oor God as die groot Digter gedig. Vir my is die skepping in sy rykheid en variasie ‘n bron van gedigte. ‘n Mens kan byvoorbeeld sterre pluk en ‘n ruiker maak. Ek is ook intens bewus van die wedersydse afhanklikheid van skepsel en skepping. Ons kan nie sonder die skepping asemhaal nie. Ek sidder as ek dink hoe ons die skepping afknou, kneus, ontstel en verwoes.

 

In al jou bundels, maar verál in Gode van papier is daar ‘n baie sterk bemoeienis met die skryfdaad. Ek kon nie help om byvoorbeeld met die lees van Gode telkens die woord ‘papier’ te registreer nie. 

 

Johann, jy het ‘n sleutel tot my gedigte opgetel. Papier is vir my die ruimte waar woorde asemhaal en sug. Dáár kan woorde ook dans en liefde maak. Dis ook die ruimte waar woorde gesluierd loop om pyn en weerloosheid te bedek. Verder is ‘n gedagte meestal so diep soos papier. Dis lig en vlugtig. Digby verdwyn. Ek vlug na papier om te skuil en te lag.

 

Sou dit korrek wees om te sê dat dit ‘n bundel is vol geboortes, weliswaar geboortes van allerlei soort. In die eerste afdeling is dit Perseus, Horus & Jesus (die ongeborenes is die intieme afwesiges waarvan die titel praat), in afdeling 2 figureer die skeppingsproses as geboorte (hier is die vers oor Kate Moss ‘n dubbeldoor), dan is daar die geboorte van Astralabe. Maar dis ook ‘n bundel oor afwesige vaders (bv. Zeus, maar ook Christus is in ‘n sin ‘n intieme afwesige vader).

 

Op jou vraag is my antwoord: ja. Die eerste geboorte (Reynard, my kleinkind) is ‘n menslike geboorte. Uit die liefde van ‘n pa en ma maak hy sy opwagting. Weliswaar ‘oorlams’ en ‘geskik vir kwaad’. Dan volg die goddelike geboortes. Maar elke keer staan ‘n god pa vir die geboorte. Ek put ryklik uit die Griekse mitologieë. Wat veral opval (sonder om aardsgeheime te verklap), is die menslikheid van die gode. Hulle bekers loop oor van begeertes en drange. Ek moes Jesus se geboorte indig. Want, ook Hy, is vaderloos. Josef word opsy geskuif. Dit is dus die verhale van afwesige vaders en seuns sonder vaders. Kate Moss, ‘n erotiese vers, is uit en uit ‘n dubbeldoor. Intiem en afwesig.

 

Dit is trouens opvallend hoe jy in jou verse telkens die antieke uitbring by die aktuele & lig werp op die hede, of dit gaan oor Gilgamesj & Enkidu of oor Leonard Matlovich; of dit die geboorte van jou eie kleinkind is of die geboortes van historiese of mitologiese figure soos Perseus, Horus of Jesus sélf.

 

Al lê die eeue agter ons, haal dit ons keer op keer in. Hoe word die geskiedenis, al is dit in ‘n ander tyd, tog nie herhaal nie. Ons is almal erfgename van die geskiedenis. Soms is dit uiters donker, maar daar is ook lig. Geskiedenis is verstaansgeskiedenis. Dit laat ons die verlede en die hede beter verstaan. Dit laat ons tot verstaan kom, tot verhaal kom. Die antieke is vir my ‘n spieël waarin ons gesigte uit die verlede sien en ook ons eie gesigte. By Emmanuel Levinas het ek geleer dat die ander se kritiese blik op my my help om myself en my eie ‘algebra van nood’ beter te begryp.

 

Via die mitologiese onderbou verken jy die moderne manifestasies van gode in ‘n moderne, sekulêre samelewing.

 

Sedert die neukery met die appelboom, om Marthinus Versfeld aan te haal, is ons wêreld in mites gedoop. ‘n Mite is ‘n manier om die misterie, die onsêbare te probeer verstaan.

Gode duik op elke hoek op. Elke keer in ‘n ander gedaante. Hoe verklaar mens hulle? Ons dink te maklik dat ons in ‘n postmodernistiese samelewing met gode kan afreken. Maar hulle trek met ons saam. Hulle kruip in ons harte in. Mites en mitologiese taal, dink ek, help ons om onsself en die gode beter te verstaan. En om die gode op hulle plek te sit en te hou. 

 

Sien jy in verhale soos dié van Gilgamesj ‘n behoefte aan die ou gode, in ‘n tyd van te veel gode?

 

Ek is bang vir die ou gode, want ek ken hulle nie. En te veel gode maak my nog banger. Ek dink ons kan veel bý en ván die ou gode leer. Ons kan byvoorbeeld uit al hulle foute en vergrype leer. Dink net aan Marduk en Zeus! Gode maak mense verder nederig. Ons is tog so broos en verleibaar.

 

Sien jy jouself as deel van die religieuse ‘tradisie’ in die Afrikaanse poësie? Vir my sluit jy nóg by die mistieke Cussons & nóg by die meer sekulêre I.L. de Villiers aan. Jy voel jou eerder aangetrokke tot beide die Oosterse sowel as die Westerse tradisies (iets wat mens weliswaar ook by die vroeë Cussons aantref).

 

Ek is nogal ongemaklik om myself as deel van enige religieuse ‘tradisie’ te sien. Dis die etiket van teoloog-wees wat al dié misverstande wek. Natuurlik put ek uit die rykdom van die Antieke wêreld. Ek is dus geen apologeet nie, eerder ‘n saboteur. Hiermee bedoel ek dat ek eerder religieuse tekste, in soverre hulle in my bundel voorkom, dekonstrueer. Ek doen dit om saam met eietydse mense te worstel met die raaisels en misteries van die lewe. Voorbeelde hiervan is ‘Die Here is nie my herder nie’ in Die afdruk van ons hande, en ‘Ontheemde’ in Intieme afwesige.

Ek stem saam met jou. Ek voel aangetrokke tot die Westerse én Oosterse tradisies. Albei vind neerslag in van my gedigte. Só ‘n benadering maak my oop vir groter wêrelde. Ek dink ons weet so min van die rykdom van veral die Oosterse wêreld. 

 

Jou bundels dek telkens ‘n wye register temas & ‘n uitgebreide verwysingsraamwerk. Só gebruik jy in Die afdruk van ons hande byvoorbeeld die Gilgamesj-sage om op byna metafisiese wyse kommentaar te lewer op óns tyd. Vergewe my dus as ek (onmoedswillig) vra waarom jy nie meer gemaak het van die homoseksuele relasie tussen Gilgamesh & Enkidu nie (dit het tewens ‘n pendant in die verhaal van Dawid & Jonathan)?

 

Dis ‘n boeiende en geldige vraag. Daar is geen twyfel dat die epos ‘n homoseksuele relasie tussen Gilgamesj en Enkidu uitspel nie. Byvoorbeeld: nadat Gilgamesj en Enkidu baklei, word Gilgamesj se droom waar - hulle soen mekaar en smee ‘n vriendskap (Tablet 11:18). Wanneer Enkidu sterf, bedek Gilgamesj die gesig van sy vriend soos dié van ‘n bruid (Tablet V111:59). Hierop het ek wel in my weergawe van die epos gesinspeel.

 

Gilgamesj draal nog om sy vriend

en bedek

sy gesig met ‘n aswit sluier.

 

In die Ou Nabye Ooste was dit heeltemal normaal om die dinge wat jy nie met jou vrou kon deel nie, met jou vriend te deel. Van die dinge kon ook seksueel wees. Homoseksualiteit is dus nie só ‘n issue in die Gilgamesj-epos nie. Daarom het ek net subtiel daarna verwys en die beker by my laat verbygaan. In Intieme afwesige is daar wel twee gedigte wat meer eksplisiet en subtiel is: een oor homoseksualiteit en die ander oor ‘n lesbiese verhouding.

 

Wat my bring by ‘Verblind (of ‘n oog vir liefde)’: met Dumas se ‘Male beauty’ as vertrekpunt, betrek dit die geskiedenis van Vietnam veteraan Leonard Matlovich, een van die eerste slagoffers van die Amerikaanse Militêre Akademie se Don’t-ask-don’t-tell beleid, & later ook slagoffer van Vigs. Dis asof die ondraaglike blootstelling van Dumas se naakfiguur en die gay soldaat wat naak voor ander staan mekaar reflekteer. In verse wat skryf & sing & praat vier, is dit ironies genoeg swye wat Matlovich se loopbaan & uiteindelik sy lewe beëindig het. Ek kan nie help om te dink aan Koos Prinsloo se verhaal “Belowe jy sal niemand sê nie”, ‘n belofte waardeur die slagoffer ‘n medepligtige word by sy eie dood.

 

Die onreg van ‘gee jou lewe, maar nie jou liefde nie’, het my in die Dumas skildery aangegryp. Liefde het nie grense nie. As jy dit wil afgrens, oortree jy die wet van die liefde. Ek het die gedagtes ironies en eroties in die gedig probeer verdig. Staan ons nie almal min of meer naak voor ander se oordeel nie? Die swye wat die soldaat se lewe beeïndig, is ‘n klag teen ons samelewing. Maar die stem van die liefde sal ondanks alles altyd deur die eeue eggo.

 

Die gedig het my laat dink aan Socrates se woorde:

 

The time to depart has come,

and we go our separate ways - I to die,

and you to live. Which is better

the god only knows.

 

In die tweede afdeling met sy vertolking van skilderye is inspirasie sélf die intieme afwesige. Die grootste aantal van die verse word gewy aan Marlene Dumas (’n figuur wat ook vir Antjie in Kleur kom nooit alleen nie fassineer het). Die hoogtepunt van hierdie procédé sal vir my altyd Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie bly. Die erotiese, intieme kwaliteit van Dumas se werk, maak van die doek as’t ware ‘n palimpses waardeur die onsegbare of verswygde historie skemer. Wat is dit wat tot jou spreek in Dumas se werk? 

 

Die reeks gedigte as vertolking van skilderye is ‘n voortsetting van die skeppings-proses uit afdeling 1. Hier is sowel die skilder as digter skeppers. Uit die oog van die digter is die skilder ‘n mede-skepper. Soms is die digter die oorsaak van ‘n skildery. Hierdie wisselwerking tussen skilder en dig boei my. Dumas skep en open vir my digwêrelde. Wat my van Dumas fassineer, is die alledaagse en die uitsonderlike. Dit gaan om weerlose en soekende mense. Verskillende gestaltes van menswees word in haar skilderwerk ontmoet. Haar 2008 uitstalling, Intimate relations, tipeer vir my haar werk. Sonder pretensie, maar grensverskuiwend. Dit laat die kyker anders dink en voel oor die lewe. Verder is daar, soos jy met reg aanwys, die erotiese, intieme kwaliteit van haar werk wat uitstaan. Die intieme en die afwesige, lewe en dood bind haar werk. In my gedigte resoneer al die trilings. Ek het ook ironie uitgebuit. Lees asb net die gedigte oor Sigmund Freud se vrou, Martha, en Kate Moss (geskilder deur Freud se kleinseun, Lucian). Ná die lees behou ‘n mens ook die humor oor. 

 

In ‘Martha’ gaan die vers oor Dumas se skildery oor Freud se vrou, Martha, & in ‘Kate Moss’ gaan dit weer oor Lucian Freud se kontroversiële 2002 skildery van die supermodel Kate Moss. Freud verkies normaalweg ‘gewone’ mense vir sy onderwerpe, & dit maak sy keuse van die swanger Moss nogal ongewoon. Wat fassineer van Freud se skilderye is die gekneusde vlesigheid van sy modelle, die rou realisme waarmee hy vlees weergee. Die normale plankdun Moss word in ‘Naked Portrait’ nogal heel voluptueus uitgebeeld. Soos heelparty ander in die bundel het hierdie vers ook geboorte as tema, op ‘n ander vlak die skepping van die kunswerk (vgl. ‘My hand ritsel’ waar die moeisame geboorte van die gedig beskryf word).

               

Ek wou die afwesigheid, die afstand tussen Sigmund Freud en sy kleinseun Lucian Freud laat deurskemer. In 2005 is die twaalfde druk van Freud se beroemde Die Traumdeutung gepubliseer (as digbundels maar soveel herdrukke kan beleef!). Sy psigoanalitiese teorië het geslagte kunskritici beïnvloed. Daar is na die betekenis agter die ‘beelde’ gesoek. Die kunstenaar is as ‘n pasiënt met ‘n siek psige beskou. In die gedig het ek probeer om hierdie wa(a)nsiening te ontmasker. Herr Sigmund, soek eers die splinter in jou eie oog. Daarom is Lucian Freud se skildery van Kate Moss so ironies. Die intieme afwesige is die verborge fetus en Kate is eroties-vleeslik aanwesig. “My hand ritsel’ is die digterlike geboorte van ‘n vers. Daar is selfs ‘n Bybelse intertekstualitieit in die vers. Maar ek sal nie sê waar dit lê nie! 

 

Met die Abélard en Héloïse-siklus pak jy nes in Die afdruk van ons hande met die Gilgamesj-sage ‘n bekende & tydlose liefdesgeskiedenis aan, ‘n verhaal wat kunstenaars deur alle tye geboei het & nog steeds boei. In ons letterkunde het Cussons & Louw hulle bv. pertinent met dié geskiedenis identifiseer. Vertel asseblief meer hieroor, & ook oor die daaropvolgende reeks oor Astralabe, die kind wat Abélard & Héloïse sou verwek het - ‘n gestalte wat eintlik tussen die vloerplanke van die geskiedenis deurgeval het. Dis verál deur hulle woorde, deur die briewe & gedigte dat hierdie “brewwe” momente bewaar gebly het.

 

Die Abélard en Héloïse-siklus het my ontroer omdat dit so tydloos is. Dit is net so aktueel en aangrypend as in die 12de eeu. Intieme afwesige eggo dwarsdeur die siklus. Daar is die pyn, verdriet, verlies, verlange en vreugde (erotiek) van die liefde. Eers op die grafbed lê Abélard stokstyf en doodstil langs Héloïse. Hoe ironies kan die liefde tog nie wees nie! Anders as by Van Wyk Louw, Sheila Cussons en Daniel Hugo het ek die siklus in dialoogvorm geskryf. Iets van ‘n teater. ‘n Poëtiese praatvers.

Astralabe is die liefdeskind van Abélard en Héloïse. Oor die stomme kind is byna niks bekend nie. Al is hy so onbekend, is hy nietemin die toonbeeld van verlatenheid, eensaamheid, verlorenheid, vader- en moederloosheid. Vir hom was sy pa én ma die intieme afwesiges. En hysélf die intieme verlatene. O hemel, dis so eietyds en menslik. 

 

Afdeling 3 bevat benewens liefdesgedigte soos ‘Ek pluk vir jou rose’, ‘Voor dit donker word’, ‘In die tuin van die nag’, & ‘As ek in die slaap’ waarin jy in die taal van Hooglied & met die konvensionele simboliek van rose/blomme die liefde besing ook versetverse soos ‘Ontheemde’ & ‘Cueca solo’. Verse waarin geworstel word met God. Hoe so?

 

By my sal jy altyd liefde kry, liefde en ironie om Van Wyk Louw te onthou. Tussen lewe en dood bloei die liefde. Vir my is God die onbegryplike, die ongrypbare. Hy is ook dikwels die intieme afwesige. Daarom is my vraag: waar is God in my pyn, verdriet, alleenheid, worsteling? Eerder as om God los te laat, wil ek met Hom stry en worstel. Miskien maak iets eendag sin.

 

Jou gedigte demonstreer hoe kunstenaars deur die eeue deur metafore, simbole & mites betekenis gee aan die moderne samelewing. Is dit die rol van die kunstenaar, sou jy sê?

 

Natuurlik is daar tydlose gedigte. Ek dink aan Van Wyk Louw se ‘Vier gebede by jaargetye in die Boland’ en D.J. Opperman se ‘Grondstowwe by die Siklus van Seisoene’. Maar ek dink omdat ‘n gedig in die tyd ontstaan, dra dit ook die merke en kwetsure van die tyd. Die digter is nie net met sy/haar klein wêreldjie besig nie, maar hy/sy kan ook die trillings van die aarde en die pyn en vreugde van ander mense voel en daaroor dig. Hierdie siening is myne, en nie voorskriftelik nie. To each his own. Metafore, simbole en mites is die grondstof om die moderne samelewing met al sy modder en afgronde te probeer, net te probeer, verstaan.

 

Aan die tegniese kant skryf jy ‘n meer konvensionele vers met ‘n sterk fokus op vorm (soos sonnette, of selfs ‘n meer esoteriese vorm soos die villanelle), sterk klankbinding & beelding. Maar dan het jy ook ‘n voorliefde vir die intertekstuele spel met ander digters, verse (ek dink hier bv. Aan jou pragtige variasie op Breyten, ‘Allerliefste’), verse oor ander kunstenaarsfigure, kunswerke uit ander genres bv. die skilderkuns & musiek, gekombineer met ‘n liefde vir reis. En soos ek reeds genoem het, jou uitgebreide verwysings na mitologieë, historiese figure, Bybelse verwysings. Dit alles sorg vir ‘n digte gedig wat die deeglike leser beloon.

 

Hierdie opmerkings van jou raak die hart van my siening van en omgaan met poësie. Jou tipering van die landskap en kleur van my verse is só akkuraat. Die steun op die meer konvensionele vers beteken nie dat dit ‘n keuse vir geyktheid of bleekheid is nie. Wel vir ‘n vorm, ‘n patroon. Hiervan is die skilderkuns ‘n uitnemende voorbeeld. Diane Victor se smoke drawings het steeds ‘n vorm (’n gesig), kyk net wat doen sy met die vorm. Dis amazing. Dit is wat binne die vorm aangaan wat saak maak. Die vorm hou eintlik die perde (metafore, mites, simbole) in toom. Anders ruk alles handuit. Anders gesê: kreatiwiteit en varsheid kan net soos ‘n vis in water in ‘n vorm lê. In die vorm is daar ook asem, ‘n vertelling.

Die intertekstuele spel is ‘n noodwendigheid. ‘n Mens moet met jou voorvaders en tydgenote kan gesels. En soms ‘n hand uitreik. Want hulle verryk jou eie gedigte. Die Antieke tekste is vol van intertekstuele spel. Ek dink aan die Hebreeuse, Assiriese, Babiloniese, Persiese, Griekse en Latynse poësie, om net ‘n paar voorbeelde te noem. En hedentyds wemel dit daarvan. Intertekstualiteit is soos systrome wat invloei in die groot rivier van ‘n gedig. Hiervoor is ek nie skaam nie en vra ek nie om verskoning nie.

Ander kunsvorme boei my en het ‘n invloed op my gedigte. Ek kan my nie ‘n lewe sonder musiek en skilder voorstel nie. Dit roep by my klanke, ritme en beelde op. Historiese verwysings kom dikwels in my poësie voor. Die geskiedenis is ‘n tradisie. Bybelse verwysings is ook eie aan my gedigte. Net nie te veel tekste nie asseblief! Die vraag wat die leser moet vra is: wat maak ek daamee? 

 

Dit het deesdae mode geword om verby die moederspeen te skel (om Breyten te betrek), & daar is ‘n baie sterk klem op die sg. praatvers asof dit iets nuuts is, maar in die Amerikaanse letterkunde is dit ‘n báie goed gevestigde tradisie. Die digters het egter deurentyd ander bindingsmiddele gevind. Vir my gevoel lewer die strewe na ‘n ‘no fun skinny’ tipe vers (as ek Seattle coffee se terminologie mag besig) met die absoluut minimum aan poëtiese bindingsmiddele meer dikwels as nié ‘n uitgesponne, middelpuntvliedende soort gedig op wat trendy is, maar nie altyd as kunswerk oortuig nie. Wat is jou gevoelens hieroor?

 

Oor die mode en trends in die eietydse poësie en die moederspeen wil ek met sagte woorde praat. Ek wil eintlik net asem skep. Dis waarom dit in benaderinge oor poësie behoort te gaan: ruimte vir variasies. Nie ‘n teenoor nie, maar ‘n met. En tog wil ek bysê: die sg. praatvers moet ook aan die grondwaardes van poësie gemeet word. Ek bedoel nie ‘objektiewe’ maatstawwe (maatstrawwe) nie, maar dit wat tot die wese van poësie behoort. Gaan lees die briljante Job gedig in verhaalvorm en jy word oorrompel deur die poëtiese krag daarvan (die wyse van vertel, die metafore, die ryk en wye wêreld wat geskep word), die Ilias, die Odusseia, Vergilius se Aeneid en Georgics. Robert Pinsky en Anne Carson is byvoorbeeld uitnemende eksponente van die praatgedigte. Nog ‘n keer: Selfs die praatgedigte moet poëtiese bindmiddels hê, anders verbleik alles in (onder) die son.

Wie dans, moet dans, wie rock moet rock, maar ons álmal hoef dit nie te doen nie. Daar is na my mening in die Afrikaanse tradisie (en nie van gister af nie), en ook vandag, besonder suksesvolle praatverse. Maar soms is dit net te binnemonds, bekfluitjie sonder asem.

 

Hoe voed jou kontak met mense, deur berading etc. jou skryfwerk? Sal jy sê dat jou beroep jou in ‘n unieke posisie plaas om die menslike kondisie te verken? Jou bundels verken die hele register van pynlike & vreugdevolle ervarings waardeur ons gaan, die aanbidding van vals gode, verlies in sy duisend gedaantes. Maar ook die erotiese, iets waar jy nogal ‘n raakpunt het met Cussons vir wie die liggaam juis sintuig word vir geloof eerder as ‘n struikelblok.

 

Ek dink dat ek in ‘n unieke posisie geplaas is om die menslike kondisie te verken. Maar dis ook ‘n pynlike posisie. Ek word ook in die proses verwond, maar hoop om die ander se pyn te help verlig of draagbaar te maak. Dit doen ek o.a. deur te dig. Ek sien en ervaar naas verlies ook vreugde. Dis alles openinge vir gedigte. Die erotiese speel, dink ek, ‘n belangrike rol in my digwerk. Doodgewoon omdat dit deel van die menslike bestaan is. Dit kan ook pyn bring, maar meestal is dit borrelende geluk.

Ek voel gevly dat jy opmerk dat ek ‘n raakpunt met Cussons het. Ek sou dit nie wou ontken nie. Die liggaam is inderdaad ‘n sintuig vir geloof. Ons moet liggaamlik kan glo en leef.

 

‘n Vers soos ‘lewe en dood’ wat in gesprek tree met Dumas se ‘measuring your own grave’ - ‘n effe losser omgang met die villanelle - berei mens voor op die verse rondom afskeid & dood wat in die slotafdeling voorkom.

 

Marlene Dumas. Measuring your own grave

Marlene Dumas. Measuring your own grave

   

  

 

 

Die vers deursuur die hele bundel. Lewe en dood eggo intieme afwesige. Tussen die pole van ‘lewe en dood’ speel die menslike bestaan af. Met sy vreugdes en pyn, eensaamheid en volheid, verlange en nabyheid, erotiese vlugte en laaste stuiptrekkings. Alles stuur af op afskeid en dood. Uiteindelik haal die dood ons almal in.

 

Van ‘Die vyfde evangelis’, die vers oor Bach, waar musiek sélf goddelike inspirasie is, tot by meer kontemporêre inspirasie soos Jim Morrison, Sting, Katie Melua. Wat beteken musiek vir jou?

 

Ek kan nie sonder musiek leef nie. Dis my lewensasem. Die klanke, die ritme, die lirieke, die atmosfeer, die ontroering vind weerklank in my gedigte. En laat ek dit maar bely: Wolfgang Amadeus Mozart maak die nag vir my lig. Sonder hom kan ek my nie my lewe voorstel nie. 

 

Cas, as jy moet kies, watter gedig sal jy kies om jou bundel aan nuwe lesers bekend te stel?

 

as suster dood kom

 

sal ek nog in drome verdwaal

en nagmerries saans opsaal

sal ek sterre ryp

aan ‘n donker prieel sien tros

 

sal ek die odusseia op reis na die ver land

lees en wag vir amandelbome om te bloei

sal ek steeds kan kyk hoe digters metafore

skommel en in ‘n kuil vol ritme strooi

 

sal ek god in die aandwind hoor ritsel

en die afdruk van sy liefde sien

sal ek my nog verbly oor ‘n meisie

se jong borste wat trots soos pruime swel

 

sal ek jou steeds kan liefhê, liefhê

sal ek jou met my soene die nag in kan lei

en sal jy, my lief, nog my dieper dors kan les

as suster dood kom?

 

Johann, baie dankie vir die gesprek en jou dieptastende en uitdagende vrae wat my tot nadenke en weerwoorde kon lei. Ek voel ek is in die hande van ‘n meester. 

 

 

Ander Bundels deur Cas Vos

 

1999. Vuurtong. Clubview: Benedic Boeke.

2001. Gode van papier. Pretoria: Protea Boekhuis.

2003. Enkeldiep. Pretoria: Protea Boekhuis.

2007. Die afdruk van ons hande. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

 

 

 

 

 

 
 
 
 

 

 

 

‘n Ringdig vir Vrouedag!

Monday, August 10th, 2009
Vrouedag

Vrouedag

Nou ja, toe. Gister was Vrouedag en só is dit goed en is dit reg. Ek kan my beswaarlik ’n man indink wat nie met akklamasie die vroue in ons geledere sal wil toejuig (en koester) nie. Soms weliswaar met geknersde kake of bedremmelde gemoed, maar objektief beskou is dit immers vroue wat die aanhou en uithou in hierdie lewe die moeite werd maak. Nietemin, ter viering van vrouedag het ons dit goedgedink om ’n aantal digters te nader met die versoek om elkeen ’n reël tot ‘n ringdig oor vroue by te dra. Liewe hemel, wat ’n gedoente! Uiteraard is dit beslis nié ’n goeie idee om so iets op ’n Vrydag voor ’n langnaweek te probeer nie, want mans werk mos, sien. En natuurlik kan jy nie die vers na ’n volgende persoon aanstuur alvorens jy die reël van die vorige persoon ontvang het nie. Dus - wag en wag. Later bel. En uiteindelik is dit klaar; met gebreke en al.

Laat my nogals dink aan sóveel “manlike” situasies waar die man so dikwels vergewe moet word vir ’n bra gebreklike produk of optrede met dié woorde: “Toe maar, dis tog die idee wat tel.”

As stimulus vir die ringdig het ek die openingsreël uit NP Van Wyk Louw se gedig nr. LXV in Tristia geneem. Waarskynlik was dit nié ’n goeie keuse nie, want die verwagte darteldans van sinne en beelde het helaas nie gematerialiseer nie … Dalk ook maar vanweë die “einde-van-die-week-sindroom”?

In ieder geval, hier onder volg ons poging, met al die gepaste blosings en vroetelings wat ’n groepwoeps so dikwels tot gevolg (behoort) te hê. Die digters wat hieraan deelgeneem het (in streng alfabetiese volgorde ten einde identiteit te verbloem), is: Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, IL de Villiers, Louis Esterhuizen, Daniel Hugo, Danie Marais, Johann Lodewyk Marais, Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal, Christo van Staden (aka JC Van) en Cas Vos. Veral dankie aan Johann Lodewyk Marais wat darem by wyse van slot die vers op ’n manier tot iets met leesbare potensie kon bekook. Ook - my apologie aan die twee digters wie se reëls liggies aangetas moes word ter wille van die geheel.

Dan is dit ook vir ons besonder aangenaam om bekend te maak dat prof. Bernard Odendaal ingestem het om as residensiële resensent vir die webblad op te tree. Dit beteken dat hy nuwe digbundels eksklusief en uitsluitlik vir Versindaba gaan resenseer. Te midde van die uitgesponne debat oor die stand van ons resensie-bedryf wat die afgelope jaar of wat in die media gevoer word, wil ons glo dat die aanstelling van ‘n vaste resensent voordelig gaan wees ten opsigte van kontinuïteit, gehalte en objektiwiteit. ‘n Verdere voordeel wat dié forum aan prof. Odendaal bied, is dat daar geen lengtebeperking geld ten opsigte van sy resensies nie. Ons glo dat hierdie ‘n uiters belangrike toevoeging tot die funksionaliteit van die webblad is. Intussen kan u prof. Odendaal se resensies oor onlangse bundels lees wat hy goedgunstelik vir plasing deurgestuur het. Sy resensie van Jelleke Wierenga se “Bloot mens” sal eersdaags geplaas word.

Lekker lees aan al die nuwe inhoud op die webblad en geniet die rusdag.

Mooi bly.

LE

 

RINGDIG VIR VROUEDAG

9 Augustus 2009

 

 

Die vrou die word glo magies vasgesnoer
deur die liefde as heilige of as hoer –

altans, sy stel haar in sonlig so voor

en glimlag klandestien van oor tot oor.

           

Maar, ag, sonlig, dis net die duister se verwyl

as sy onder geskroeide vlerke skuil

en hemel toe versug, maar neerwaarts hel

sonder om sente of soentjies te tel.

 

Die vrou, glo gebore om te bekoor,

laat vallend beelde skeur, repe skildery

ontheg: sigself is skoonheid nie genoeg.

O vrou, wat ‘n vreemde vreugde is jy!

 

Ek rond my soet en kortstondige verblyf

af met ’n welgeluksalige en verleё wuif.