Posts Tagged ‘Charl-Pierre Naudé gedigte’

Charl-Pierre Naudé. Skandinawiese speurverhaal

Saturday, April 15th, 2017

Skandinawiese speurverhaal

Svendborg, 2017

 

ʼn Ydelheidsakkie:

per definisie

verdag. Swart. Die sakkie glím

in die laatlig se bleek stuiptrekke

(en weens die rol van emjambement).

 

Op ʼn rakkie, in die badkamer.

(Let op: die staccato-effek,

dís beduidend.)

 

Swart, soos die priester

se rok. Hy’t ʼn skaduweebaard:

ʼn betekenisvolle leidraad.

Laat mens wonder of die sexy pop

wat deur ʼn venster loer, ook iets wegsteek.

 

Kom in, die tuinier.

Sy reguit antwoord: “Ek sou maai”.

Daai’s verdagte nommer drie.

 

Nog sneeu sak uit, en haar hand

klem stywer om haar boordjie.

 

Wit, wat bedek.

Middernag.

Die verhaal van ’n driehoek.

 

Die sakkie, oopgerits.

ʼn Rok eenkant gewerp.

Skuim, die ligtheid

van haar luim.

En ʼn witter-as-sneeu sneeu

so koud soos skeermeslemmetjies.

 

 

(© Charl-Pierre Naudé / 2017)

Charl-Pierre Naudé. Voltrekking

Thursday, March 9th, 2017

Voltrekking

Svendborg, 2017

 

Diepnag. Nagdiepte.

Bibbering.

Middelwinter.

 

Ek tuur, ná middernag.

Na swane op ʼn meersee.

Skeertuie. Kalkoene van Boeddha.

 

Oop kolle

op ʼn swart skildery.

Die slaaprok van Rothko

 

se geheime minnares.

Oor wie

hy so wit gedroom het.

 

In ongelyke, serene stukke.

Geskeur. En op die water gegooi.

Groot konsternasie.

 

By die afslaer. Die kaaiklok tingel.

Selfs die mooiste, mooiste meisies

(met witste glimlagte)

 

kan soms ʼn stukkie vis wil vang.

Geen grap nie.

Na benede moet duik.

 

Suurstof.

Ruimtevaarders.

Die helderwit pakke.

 

Gewigloos. Skaatsers.

Oor en weer, op en af.

Bo gelyk aan onder.

 

Swart swart swart.

Snorkel nie vergeet nie.

Natuurlik nie. Nag, mos.

 

Fyn kuns. Van wit porselein.

Blaas.

Oggendbeuel.

 

Die buiging van die nekke.

Militêre presisie.

Oorgang.

 

Onderhandeling.

Geslag.

Verekussing.

 

Sneeu. Op die meersee.

En natuurlik

die swane.

 

 

© Charl-Pierre Naudé