Posts Tagged ‘Charl-Pierre Naudé’
Thursday, January 14th, 2010
Peter Holvoet-Hanssen – Vertaal deur Charl-Pierre Naudé
Maanfees
Dit was die maan die volmaan
die letters het mosbedekte woorde gevorm
en ’n takkeweelde het die aandag vasgegryp
die woorde het sinne verwek die nag oop op ’n kier
die sig was goed besonder goed dus was die uile heel doenig
ek stap deur die bos en byt in die yskoue lug
en waai met my arms die sterre opsy
al wandelend deur die netwerk van bome met maanlig behang
van die allerfynste gehalte sy ’n allermooiste wandeling
dit moes tog na ’n oopte lei
en ja ’n oop kring met daarbo die maan wat die water opwellend liefkoos
en in die middel rustig maar wel ’n knewel
sy eie krag plesierig genietend in vurige omhelsing
’n piesang ’n uitmuntende eksemplaar
nie te groen en nie te ryp nie in die maanlig selfversekerd
dus loop ek na hierdie komma wat in die bos daar lê
en slaan my tande in die boonste die keurigste stuk
van my gele vriend wat het my besiel en hy
ruik wel na piesang maar dis tog te verwagte
en ná die piesangsmaak pyl skielik in die hartjie van winter
braambos framboos op my af al glimmend van die dou
wat ’n sinnefees ’n bloubosbessie kon ook nie wag nie
spat sommer oop die spanning was volmaak die nag
u sal merk ek raak skoon liries wat nie my gewoonte is nie
ek so bekend om my nugter gestroopte styl
geprys om my nugter gestroopte styl
wat selfs betaal word om innemend te swyg aan tafel
sit nou met ’n soetsappige blerrie piesanggedig
inderdaad geen maskerade was dit
’n maanverligte bos sê ek daar was spore
sigbaar van verse wat nog nooit geskryf is nie
en so stralend gereed is
en wag net om geëet te word.
Wednesday, January 13th, 2010
César Vallejo – vertaal deur Charl-Pierre Naudé
“Die moment as die tennisspeler…”
(”En el momento en que el tenista…”)
Die moment as die tennisspeler met groot gesag
sy koeël afslaan, is hy besete met dierlike onskuld;
die moment
as die filosoof ‘n nuwe waarheid verras,
is hy volledig rund.
Anatole France het bevind
dat religieuse gevoel
die funksie van ‘n spesiale orgaan in die menslike liggaam is,
tot dusver heeltemal misken en aldus
kan mens ook postuleer
dat die presiese moment as so ‘n orgaan
ten volle funksioneer
die gelowige so van Kwaad gesuiwer is
‘n mens kan hom ‘n groengewas ag.
O siel! O Denke! O Marx! O Feuerbach!
*
Geweld van die ure
(La violencia de las horas)
Almal is dood.
Dona Antonia, die skril een, wat altyd goedkoop brood in die dorp gebak het, is dood.
Ou priester Santiago is dood, wat daarvan gehou het as die jong manne sowel as die meisies hom groet sodat hy sonder onderskeiding kan teruggroet: “Goeie more, José! Goeie more Maria!”
Daardie jong blondine, Carlota, is dood, en het ‘n baie klein kindjie agtergelaat, wat toe ook dood is, agt dae na sy ma.
My Tante Albina, wat oor die platteland en gebruike uit die jaar toet gesing het, is ook dood. Sy wat op die binnehof se lang stoepe sit en borduur het, vir Isadora, die bediende van professie, daardie eerbaarste van vroue.
‘n Ou een-oog man het doodgegaan, sy naam ontglip my, maar hy’t in die son geslaap op ‘n stoeltjie voor die deur, van die blikslaer, op die hoek.
Rayo, die hond my grootte, is dood, geskiet deur die Vader-weet-wie.
Lukas is dood, my swaer, gesterf in die vrede van die heupe, wie ek onthou as dit reën en daar niemand is om my ervaring te deel nie.
My moeder het gesterf in my rewolver, my suster in my vuis, en my broer in my bloederige ingewande, die drie van hulle deur ‘n treurige soort droefheid saamgebind, in die maand van Augustus van opeenvolgende jare.
Die musikant Mendez het gesterf, ‘n boontjierank en baie dronk, wat melankoliese toccatas op sy klarinet kon sol-feggio, wie se presiese artikulasie die buurt se hoenders laat slaap het, lank voor sononder.
My ewigheid het gesterf, en ek hou die waak.
Wednesday, January 13th, 2010
Raymond Carver – vertaal deur Charl-Pierre Naudé
Uniestraat, Goodwood, somer 1975
Daai was volstoom-vorentoe-dae. Maar dié Sondag-
middag was ons bedaard. Net gesit om ’n tafel
en drink en stories uitruil. ’n Paartie wat met rukke,
en stote, aan die gang was sedert Vrydag ’n jaar tevore.
Toe word Gawie se vrou voor die woonstel
afgelaai deur haar kêrel en sy kom die trappies op.
Mos Gawie se verjaardag gewees, plus-minus
’n dag of so. Mekaar ’n week lank nie gesien nie,
min of meer. En sy’s skoon uitgevat. Hy omhels haar
soort van, meng vir haar ’n drankie. Kry ’n plek
vir haar om die tafel. Almal wil nou weet hoe dit
gaan, en so. Maar sy ignoreer hulle almal.
Die spul alkoholiste. Duidelik is sy afgepis
en soos gewoonlik in verkeerde geselskap.
Met wat de hel hou Gawie homself besig,
wil sy weet. Sy suig aan haar strooitjie
en gluur hom aan of hy breinskade het.
Bemerk ’n puisie op sy ken, ’n ingedraaide haar maar
die ding is vol etter, verskriklik, lyk soos die Verderf.
En voor almal, sê sy: “Wie’t jý onlangs uitgeëet?”
En sy hou nie op staar na die puisie nie.
Self gekoring, ontgaan sy antwoord my nou.
Iets soos: “Kan nie onthou, nie haar naam gekry nie.”
Slimjan, natuurlik. Elk geval, sy vrou
met ’n uitslag en plek-plek sulke blase
miskien koorsblare om haar mondhoeke,
was nie een om te praat nie. Maar flussies
is dinge soos gewoonlik, hou die twee handjies vas
en lag uit die maag soos die res van ons, vir iets
onbenulligs of sommer vir niks.
Later, in die woonkamer, onder die indruk
dat die res van ons uit is vir hamburgers,
het sy hom voor die TV afgesuig. Luiters gesê:
“Lekker verjaar, jou moerskont!” En sy brille
van sy gesig afgeklap. Selle brille wat hy so-ewe op had
toe sy hom bygekom het. Net daar kom ek toe
ingeloop en sê: “Vriende, doen dit nie aan mekaar nie.”
Sy’t nie geblik of gebloos nie, of hardop gewonder
onder watse klip ék nou uitkruip nie. Net gesê:
“Wie’t jou iets gevra, pis van ’n leegloper?” Gawie het sy bril
weer opgesit. Sy broek opgetrek. Ons het almal
kombuis toe gesuiker vir ’n drankie. En nog een. En net só
het die wêreld verander, van middag na middernag.
Uit: All of Us: The Collected Poems (Harvil).
Tuesday, November 17th, 2009
Alfred Schaffer - vertaal deur Charl-Pierre Naudé
[ http://versindaba.co.za/2009/09/23/alfred-schaffer-as-voorbeeld-van-die-hermetiese-poesie/ ]
Impasse
Vertier in wissewasjes zoeken, zo blijft een mens overeind.
Toonladders oefenen. Eindeloos van iemand houden. Maar,
wat een afknapper is de mens, dweepziek, een slaaf van zijn
agenda, en zint hem iets niet, dan verbreekt hij de verbinding.
Je ruikt hoe ik bederf, ook al ben ik er niet, je ligt, zo stel ik
me voor, verrukt te staren naar een monitor, naar de eerste
bewijzen van leven op Mars, daar beweegt iets onschuldigs,
iets wat kans van slagen heeft, en zonder je blik af te wenden
grijp je mijn hand – die er niet is, druk doende dit alles alvast
neer te krabbelen, ergens waar ik pelgrimstochten onderneem
naar hooggelegen gebouwen, ver voor Christus opgeleverd.
Mijn sleepdraad is geknapt, ik krijg me niet aan land gehesen.
Als straks het stadsgeluid bezinkt, zou ik met deze nachtkijker
meer moeten zien. Voor alle zekerheid. Maar meer is er niet.
Impasse
Deur vermaak in beuselagtigheid te vind, so bly mens staande.
Toonlere oefen. Eindeloos iemand liefhê. Maar wat ’n
teleurstelling is die mens, dweepsiek, ’n slaaf van sy
agendas, en kry hy nie sy sin nie verbreek hy verbindings.
Jy ruik hoe ek vrot, al is ek nie naby nie, jy sit, so reken ek,
in vervoering na ’n monitor en staar, na die eerste
bewyse van lewe op Mars, daar beweeg iets onskuldigs,
iets met ’n oorlewingskans, en sonder om weg te kyk
gryp jy my hand – wat nie daar is nie, wat besig is
met notas, êrens waar ek pelgrimstogte onderneem
na hoogliggende bousels, lank voor Christus opgelewer.
My sleeptou is geknip, ek kry myself nie aan land getrek nie.
Straks as die stadsrumoer bedaar sou ek met die nagteleskoop
meer kon sien. Net seker maak. Maar meer is daar nie.
Waarom ben ik niet verdrietig
Ik was je even kwijt en rustte niet, onbekwaam tot enig goed geneigd.
Casino’s en ravijnen, bordelen en woestijnen.
En voetsporen, sporen uitgewist.
Vreemd, dat je lichaam dagen kon verdwijnen zonder deining,
dat mijn leven nooit van jou zou kunnen zijn, noch van de wetenschap,
terwijl we toch precies dezelfde kant op kijken,
ieder met een hand boven de ogen tegen de laaghangende zon,
ieder in zijn eigen zomeravond,
een als deze, waarin je met gemak zou kunnen wederkeren,
de straten in het centrum zijn de hele dag al natgehouden,
het is bijna tijd aan deze kant van moeder aarde
om de witte schittering op de rivier als een symbool te presenteren
en er is kermis, als in een wonder, lichtjes,
schel geschetter, het reuzenrad staat pal naast het station geplant,
een mooi gezicht nu ook de schemering ten einde loopt – je zou het moeten zien,
een troost in je dagen.
Wat geurloos was in de verbeelding, zonder vorm en zonder zwaarte,
is in de werkelijkheid verzonnen.
Kun je mij vinden, alsjeblieft, ik heb me niet verstopt,
in de schiettent heb ik een fluwelen teddybeer voor je gewonnen,
je kunt niet ver meer zijn, ik voel het gewoon,
als je me staande houdt,
als passant, niet als medeplichtige,
dan zal ik je herkennen. En je niet bevatten.
Waarom verknies ek my nie
Ek was jou kwyt vir ’n ruk, rus nie, en “doen nie die goeie wat ek wil nie”. *
Dobbelhuise en ravyne, hoerhuise en woestyne.
En voetspore, spore uitgewis.
Vreemd, dat jou liggaam so oordag kon verdwyn sonder ’n rimpeling,
dat my lewe nooit van joune nog van die wetenskap sou kon wees nie,
terwyl ons teen presies dieselfde skuinste op kyk,
elk met ’n hand bo die oë teen die laaghangende son
elk in sy eie someraand,
een soos hierdie, waarin jy doodluiters sou kon terugkeer,
die strate in die stadskern word heeldag al natgehou,
dis byna tyd aan dié kant van moeder aarde
om die wit skittering op die rivier as ’n simbool voor te stel,
en daar is die kermis, wonderbaarlik, die liggies,
skel gesketter, die kermiswiel staan pal langs die stasie opgerig,
’n mooi toneel noudat die skemering ten einde loop – wens jy kon dit sien,
’n vertroosting in jou dae.
Wat onprikkelend vir die verbeelding was, sonder vorm of swaarwigtigheid,
is in werklikheid versin gewees.
Kan jy my vind, asseblief, ek het nie weggekruip nie,
in die tombolatent het ek ’n teddiebeer van fluweel vir jou losgeskiet,
jy kan nie meer ver wees nie, ek voel dit gewoon aan,
as jy my staande hou,
as verbyganger, nie as betrokkene nie,
sal ek jou herken. Maar nie begryp nie.
* Die Nederlands is ’n toespeling op Romeine 7:17 -15 in die Bybel. Ek voeg aanhalingstekens in om dit te suggereer.
Exit muze
Staat je prima, dat legergroen. Kleurt vast geweldig bij je
exercities in het regenwoud. Die hitte, die verbetenheid.
Van her en der ben je gekomen, ingevroren en ontdooid,
negen keer over de kop, toen van het balkon gedonderd.
Lees maar iets voor, dan voer ik de vissen wat goudstof.
Mijn wonderkind. Eindproduct van breedvoerige zinnen.
Een orakel, tuk op moraal. In je kale atelier dat uitziet op
het zuiden staat een asbak die kan hoesten, versuft val je
in slaap voor de tv, elke nacht speelt een dankbaar orkest
naast je bed. Toch lijk je wat nerveus. Is het mijn litteken?
Het kan geen toeval zijn dat ik je aantrof in het warenhuis,
mijn jonge veteraan, graaiend bij de uitverkoop – toen je
bukte, kon ik je bilspleet zien. Of je had geen kleren aan.
Maar hoor ik daar niets ritselen, daar, achter die struiken?
Exit muse
Dit pas jou eersteklas, daai army-groen. Skakeer voorlopig
mooi in by jou oefenritueel in die reënwoud. Die hitte, die verbetenheid.
Van heinde en ver gekom is jy, bevrore en toe ontdooi,
nege keer bollemakiesie, toe van die balkon af gedonder.
Lees maar ietsie voor, terwyl ek die vissies goudstof voer.
My wonderkind. Eindproduk van wydlopige sinne.
’n Orakel, mal oor moraal. In jou kaal ateljeetjie
wat suid kyk is ’n asbak wat kan hoes, duiselig
val jy aan die slaap voor die tv, elke nag speel ’n orkes dankbaar
langs jou bed. Tog lyk jy ’n titsel senuweeagtig? Is dit mý litteken?
Dit kan geen toeval wees dat ek jou in die pakhuis gekry het,
my bloedjong veteraan, snuffelend by die uitverkoping – toe jy buk
kon ek jou boudespleet sien. Dalk was jy sonder klere aan.
Maar hoor ek dan niks wat ritsel nie, daar, agter die struike?
Monday, November 2nd, 2009
Tags: Andries Bezuidenhout, Carina Stander, Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, digter-skilders, Heilna du Plooy, Ilse van Staden, kunsuitstalling Versindaba 2009, marlise joubert, Rosa Smit, Trienke Laurie Posted in Artikels, essays, e.a. | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Monday, October 19th, 2009
Sowat ‘n anderhalfjaar gelede het die kleine Maude Bekaert (met die grootste van harte) uit Brugge, België, my genader om haar te help om Afrikaanse digters se werke aan te stuur vir ‘n projek wat sy aan die gang gesit het: Om ons Afrikaanse, asook Vlaamse en Nederlandse gedigte-woorde in klip te verewig. Sy het self die keuses van gedigte gedoen - eintlik enkele lyne uit gedigte - en dit toe in steen ge’hak’. Kalligrafies ingekap.
Digters soos Hennie Aucamp, Toast Coetser, breyten breytenbach, DPM Botes, Charl-Pierre Naude en die uwe se werke is gebruik. Die imposante klipwerke is later tydens ‘n veiling in België verkoop en het derduisende rande (65 990 euro, om presies te wees) ingesamel vir ‘n Vigs-kindertehuis in Suid-Afrika. Die enigste ‘tema’ van die gedigtelyne was dat dit ‘die moed moet vertoon’. Lyne van hoop, met ander woorde.
Die wonderding is dat Maude en haar span nou na Suid-Afrika kom, en komende Saterdag is daar ‘n ope dag by die Kasteel waar plaaslike ‘klippehakkers’ - deur Maude opgelei - weer eens Afrikaanse diglyne op klip ten toon stel. ‘n Boek wat die werke bevat, Wor(l)ds, word ook dan vrygestel. Enigeen is welkom, die program vir die dag verloop so:
BOOK Launch WOR(L)DS
Launch of the book on the letter carving collaboration between Southern African and Belgian artists held in 2008. Of special interest to designers and architects, also poets and people who love the written word.
Meet the designers, carvers and teachers of this art and see samples of their work. Buy the book. Support Breadline Africa projects.
Date: Saturday 24th October 2009
Venues: Start your lovely spring afternoon visiting the studio of the Number One Letter Carvers at the Castle of Good Hope. Open studio from 1.45 to 2.45 pm. Then Stroll up Waterkant Street to The Book Lounge (at 71 Roeland Street) for the launch of the book together with readings from some of the featured poets, starting at 3pm
RSVP: The Book Lounge: booklounge@gmail.com or 021 - 462 2425
En kyk, so het een van ‘my’ klippe gelyk..

‘n Ander lieflike blokklip het as volg uitgekom:

Rachelle Greeff het net na die veiling in Rapport hierdie storie geskryf:
“Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele.’’
Dis ‘n sonnige Sondagoggend, die laaste Sondag in September en honderde mense stroom na die stadshuis in Brugge, België. Die geleentheid, elfuur die oggend, is die opveiling van 37 klipblokke met poësie-reëls daarin gekalligrafeer. Die versmakers is bekende Belgiese digters en een Nederlandse digter, Stef Bos, wat nou in België woon. Hierbenewens is daar die teks van N’kosi iSikelele iAfrika (Enoch Sontonga) – en dan ook ses Afrikaanse digters.
“Dit sê daar is ’n plek in die internasionale taleryk vir Afrikaans – ‘n jong, uiters moderne samekoms van verskeie reistale, hoofsaaklik Hollands, wat met voortdurende nuweskeppings die basistaal se sprekers raak en roer.
“Die oënskynlike eenvoud van die digsinne (wat die Vlaminge uitgekies het, terloops) klim uit daardie klippe uit en spreek tot die Belge se harte. Soos dit hoort.
“Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele,’’ sê een van die gekose digters, die Gautenger Ronel Nel.
Nel se klip met die woorde kom ons pluk die lug en melk die son het 3 400 euro gehaal. Dis die tweede hoogste bod op die veilig, en die hoogste van die Afrikaanse digters. Die algemene hoogste bod was vir die Vlaamse digter Huguette van Reamdonck met Als het donkert komt de maan vir 4 000 euro.
Buiten Nel is die ander Afrikaanse digters wat deur die Belge gekies is Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach, Toast Coetzer, Charl-Pierre Naudé en D.P.M. Botes.
Altesaam is 65 990 euro is gemaak en die organiseerders verwag ‘n verdere sowat 12 000 euro uit die verkope van katalogusse, brosjures en ander wetenswaardighede van die projek. Die geld is bestem vir organisasies, Sprinkle en Breadline Africa, gemoeid met Afrika-kinders met Vigs. Geen van die digters word vergoed nie.
Dié poësie-stene is drie maande lank deur die loop van die Europese somer op die fiets- en wandelpad tussen Brugge en Zeebrugge uitgestal. Drie van die stene is deur die stad Brugge gekoop, vir sowat 5 000 euro, en sal voortaan blywend in die stad besigtig kan word.
Die projek, Wor(l)ds, is gereël deur Brugge Plus, ‘n kultuurorganisasie van Brugge, en is bekroon vir die mees vernuwende toeristies-kreatiewe projek van die provinsie. Die projekleier, kalligraaf Maud Bekaert, sê tot haar “verwondering het die die klippe met Afrikaanse tekste nog beter verkoop as die klippe met Nederlandse tekste’’. Aanvanklik was sy “bietjie bang dit sou moeilik wees om Afrikaanse tekste te verkoop, maar iedereen wil ‘n Afrikaanse teks hê’’.
Die volgende versreëls het in België onder die hamer gekom:
- Om in ‘n trein te slaap is om ‘n rivier te wees
- Die vuur moet van binne kom
Albei van Breyten Breytenbach.
- Die wind is ’n droë lied sonder die see, deur Toast Coetzer.
Tijd is enkelvoud/ of zelfs het veelvoud ervan/ zoals de liefde
- In de wereld van negatieven/ Is alles omgekeerd.
Beide Charl-Pierre Naudé, vertaal deur Robert Dorsman.
· Verlange onbegrens. / So is liefde sinvol/ nie ingekort tot mens, deur Hennie Aucamp*.
- Voor die dag is die nag
- Die son kniel by die ewenaar
- Kom ons pluk die lug en melk die son
Al drie van Ronel Nel.
- Ons moenie versigtig wees nie die liefde is roekeloos, deur D.P.M. Botes.
Kom Kasteel toe en kom klip saam!
Wednesday, October 7th, 2009
 Die program
Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.
Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.
Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.
Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.
‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.
Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.
***
En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie? ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.
Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.
Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.
Mooi bly.
LE
Tags: Andries Bezuidenhout, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, Danie Marais, Daniel Hugo, David Kramer, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Hilary Mantel, Ilse van Staden, Jasper van Zyl, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johan Myburg, Johannes Prins, Laurinda Hofmeyr, Loftus Marais, Lucie Möller, Luna Paige, marlise joubert, Piet van Rooyen, Pirow Bekker, Program, Rosa Smit, Sheila Cussons, Versindaba 2009 Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, October 6th, 2009
Daar was skynbaar heelwat ontevredenheid verlede week oor Charl-Pierre Naudé se bloginskrywing oor burgerlike ongehoorsaamheid. Wat het die politiek te make met die poësie?, wou sommige lesers weet.
Dit het my laat dink aan ‘n ou gunstelinggedig van my, W.H. Auden se Refugee Blues, wat ook Passport Blues genoem sou kon gewees het. Auden het dit vroeg in 1939 geskryf; die Tweede Wêreldoorlog was op hande.
Maar die gedig resoneer veel wyer as daardie oorlog en Joodse vlugtelinge. Dit spreek die hele politieke orde van moderniteit, van nasie-state en genasionaliseerde burgerskap, aan vanuit die perspektief van die uitgeslotenes. ‘The consul banged the table and said,/ “If you’ve got no passport you’re officially dead”:/ But we are still alive my dear, but we are still alive.’
Daar is dalk weinig beelde in die moderne poësie wat die impak van die politieke op die private of die persoonlike meer onstellend en akkuraat uitbeeld. Júís om die geroetineerde, alledaagsheid van die toneel van uitsluiting en ‘maatskaplike dood’ wat dit beskryf. Júís omdat dit so endemies is aan ‘n politieke orde wat ons die meeste van die tyd as natuurlik en vanselfsprekend aanvaar.
Maar dalk is daar ook weinig treffender voorbeelde in die moderne poësie van mense se vermoë om hulleself ten spyte van, in reaksie teen, en anderkant die bestaande politieke orde(ning) uit te herverbeel: ‘But we are still alive, my dear, but we are still alive.’ Om hierdie stem te hoor, te amplifiseer, en te herhaal in die skep van ‘n mensliker, sagter wêreld, is tegelykertyd ‘n poëtiese en ‘n politieke daad.
Refugee Blues
W.H. Auden
Say this city has ten million souls,
Some are living in mansions, some are living in holes:
Yet there’s no place for us, my dear, yet there’s no place for us.
Once we had a country and we thought it fair,
Look in the atlas and you’ll find it there:
We cannot go there now, my dear, we cannot go there now.
In the village churchyard there grows an old yew,
Every spring it blossoms anew:
Old passports can’t do that, my dear, old passports can’t do that.
The consul banged the table and said,
“If you’ve got no passport you’re officially dead”:
But we are still alive, my dear, but we are still alive.
Went to a committee; they offered me a chair;
Asked me politely to return next year:
But where shall we go to-day, my dear, but where shall we go to-day?
Came to a public meeting; the speaker got up and said;
“If we let them in, they will steal our daily bread”:
He was talking of you and me, my dear, he was talking of you and me.
Thought I heard the thunder rumbling in the sky;
It was Hitler over Europe, saying, “They must die”:
O we were in his mind, my dear, O we were in his mind.
Saw a poodle in a jacket fastened with a pin,
Saw a door opened and a cat let in:
But they weren’t German Jews, my dear, but they weren’t German Jews.
Went down the harbour and stood upon the quay,
Saw the fish swimming as if they were free:
Only ten feet away, my dear, only ten feet away.
Walked through a wood, saw the birds in the trees;
They had no politicians and sang at their ease:
They weren’t the human race, my dear, they weren’t the human race.
Dreamed I saw a building with a thousand floors,
A thousand windows and a thousand doors:
Not one of them was ours, my dear, not one of them was ours.
Stood on a great plain in the falling snow;
Ten thousand soldiers marched to and fro:
Looking for you and me, my dear, looking for you and me.
Tuesday, September 29th, 2009
Nog ‘n skrywer het die pad gevat.
Charl-Pierre Naudé
Die verse van I.L. de Villiers was van die eerstes wat ek ooit gelees het. Ek was nog op skool, dit was dekades gelede.
I.L. de Villiers was ‘n omstrede man. Met alles waarvoor hy gestaan het kon almal nie altyd saamstem nie. Maar hy het die poësie na Jan Alleman gebring soos min Afrikaanse digters voor of na hom. En in oënskynlike spanning hiermee het hy onverpoos ‘n aristokratiese ideaal verteenwoordig. Sommige mense sal sê hy het hierdie ideaal minder goed verwesenlik tydens sy redakteurskap van Rapport destyds.
In ‘n tyd soos hierdie kyk mens na die hoogtepunte en die strewes agter die omstrede openbare persoon.
Ek het hom oor e-pos leer ken omdat ek as teksversorger gehelp het om sy laaste boek, Strooidak en toring, vir voorlegging gereed te kry. Agter in hierdie boek is ‘n referaat wat hy gelewer het voor die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oor die belang van kleiner kulture om te oorleef. Dit vertoon ‘n deurdinkte strewe en - dalk omdat dit Izak de Villiers binne ‘n verswakte Afrikaanse verband was - vertoon dit besonder edel.
Die Izak de Villiers wat ek as openbare figuur geken het, het ek dikwels ervaar as antagonisties teenoor die strewes wat vir my persoonlik belangrik is. Ons was van verskillende generasies. Die een wat ek meer persoonlik leer ken het, in die kwesbaarheid - die weliswaar uiterste kwesbaarheid - van sy ouderdom het ek ervaar as iemand wat baie bewus is van sy eie teenstrydighede, pynlik bewus, soos ook blyk uit sy laaste boek, en juis daarin het hy my herinner aan hoe belangrik dit is om mens se eie strewes meer genivelleerd te sien, meer in spanning met hul eie kontrapunte, en dus helderder - strakker - binne menslike en sosiale verband.
Hamba kahle, I.L. de Villiers. Gaan u goed.
Friday, September 11th, 2009
 Ian McMillan
Dit wil voorkom asof die wêreldwye ekonomiese krisis besig is om veral supermarkgroepe in Brittanje tot uiters innoverende bemarkingsfoefies te forseer. So het Sainsbury onlangs die dienste van die Naakte Kerwer Jamie Oliver bekom om hul produkte aan die verbruiker bekend te stel. Kort hierna het Asda gevolg met Sharon Osbourne; waarskynlik met as motto: “If it’s good enough for Ozzi, it’s good enough for you.”
Nietemin, Morrisons het pas albei dié winkelgroepe getroef deur onbeskaamd vir die meer digterlike mark te vis: hulle het naamlik drie digters, Ian McMillan, John Mole en Peter Sansom aangestel om ‘n reeks gedigte te skryf oor resepte waarin hul produkte geadverteer word. ”Poets have always accepted shillings from patrons,” het McMillan volgens The Guardian se verslaggewer gesê. “A lot of courtly poets were given financial backing by the king, and there’s been a rise of poets in residence since the 80s. It’s fine, as long as you don’t write anything you’re not happy with.”
Die drie food laureates het intussen agt gedigte geproduseer, waaronder John Mole se “Curry in a hurry” en Ian McMillan se resep vir brood “Use your loaf”. Hierdie resepte sal tesame met video- en klankgrepe in al 415-takke van Morrisons geplaas word. Judith Palmer, direkteur van die Poetry Society, ondersteun dié inisiatief heelhartig en het die volgende te sê gehad: “Rhyme (is) great for instructions and advice, making it the perfect tool for remembering kitchen tips”.
***
Vandag is dit ook Joan Hambidge se verjaarsdag. En watter vreugdevolle okkasie behoort dít nie te wees nie. (Diegene wat al die voorreg gehad het om saam met Joan partytjie te hou, sal weet wat ek bedoel …) Veels geluk, Joan, en mag daardie vlytige sleutelbord onder jou hande nooit tot bedaring kom nie. Vier lekker fees hierdie naweek en probeer tog altyd om die rymskema in gedagte te hou, hoor.
***
Ten slotte - daar is uiteindelik sinvolle reaksie op Charl-Pierre Naudé se voorlaaste blog waarin hy ‘n paar kritiese opmerkings oor Johann de Lange se gedig in reaksie op ‘n vroeër vers van Loftus Marais wat op LitNet verskyn het. Gaan lees gerus Johan Bruwer, Welma Immelman en Johann de Lange se kommentare. Die vraag wat egter nog wag om beantwoord te word, is of daar inderdaad ‘n verskil in verdraagsaamheid bestaan tussen die gay - en heteroseksuele wêrelde ten opsigte van direkte, eksplisiete - en in dié geval persoonlike - verse van seksuele aard. Dit is inderdaad ‘n óú praktyk, soos Johann de Lange aandui met sy verwysing na die Beats (Ginsberg, Kerouac en Cassidy) se verse aan mekaar … Maar bestaan daar soortgelyke voorbeelde in die “heteroseksuele” digkuns? In die privaatheid van een tot een, sekerlik “ja”. Maar gepubliseer in ‘n openbare forum? Ek weet nie; gaan lees gerus en oordeel self.
***
Lekker lees hierdie naweek aan alles wat nuut is op die webblad; en moenie Johann Lodewyk Marais se twéé nuwe blog-inskrywings mis nie … Die een kostelik, die ander skeurmooi geskryf. Vir jul verdere leesplesier - maar veral vir Joan op haar verjaarsdag - volg Ian McMllan se “tong in kies” gedig “Use your loaf” hier onder.
Geniet die naweek. Nuuswekker hervat weer op Maandag.
Mooi bly.
LE
Use your loaf
Flour salt water yeast
Will make you a feast
So:
Add yeast to the water: let’s go!
Mix salt in the flour. Make dough.
It’ll seem so surprising
When it starts rising
Just leave it to swell and to grow.
Then heat up your oven: put in
The dough that you’ve placed in a tin
After 25 minutes
Your joy is infinite
You’re a baker: let eating begin!
© Ian McMillan
Thursday, August 27th, 2009
 Lynn Barber
Synde ‘n lojale en toegewyde lid van die Nasionale Rokersvereniging, het die volgende berig my omtrent laat regop sit. Lynn Barber, ‘n bekende skrywer en joernalis in Brittanje, het naamlik van die Richmond Book Now-fees in November onttrek nadat die organiseerders daarop aangedring het dat sy ‘n ander foto vir hul promosiemateriaal moet verskaf. Op die foto wat sy vir hul brosjure ingestuur het, teug sy salig aan ‘n sigaret en die organiseerders is van mening dat sy hierdeur ‘n swak voorbeeld stel. “We don’t like to use images of people smoking in our promotional material. As a local authority we are responsible for encouraging good health habits in the area, and to be seen to be endorsing smoking, no matter how unintentional, doesn’t complement this. We asked Miss Barber for an alternative picture but she declined and has withdrawn from the festival, which is a shame given her standing as an author and journalist,” het ‘n segspersoon namens die organiseerders aan The Guardian se verslaggewer gesê.
Lynn Barber se reaksie? “I always wanted to be a Smoking Martyr and obviously this is my opportunity. If a pic of me smoking is such a threat to the good burghers of Richmond, imagine what my presence would do.”
Nou ja, toe. Uiteraard vrees die organiseerder nou ‘n massale ontrekking deur al die ander lojale rokers op hul feesprogram. Gelukkig - soos dit maar alte dikwels die geval is - is daar steeds géén beperking op drank-advertensies of foto’s van mense wat “gesellig verkeer” met ‘n glasie wyn in die hand nie. Die vooruitsig op ‘n ”gesellige fees” - soos dit maar alte dikwels die geval is - word dus nié hierdeur geaffekteer nie … Solank daar darem drank is.
So, druk dood daardie sigaret en skink ‘n glasie op ‘n gesonde lewensstyl.
Dan is dit vandag die verjaarsdag van een van ons gereelde medewerkers op die webblad, naamlik Charl-Pierre Naudé. Lekker verjaar, Charl-Pierre, en mag die nuwe lewensjaar ‘n vreugdevolle affêre wees … (Gelukkig is Charl-Pierre nié ‘n roker nie; die hoop op nog vele jare beskaam dus nie.)
Nietemin, vir jou leesplesier vanoggend, die onderstaande gedig deur Rutger Kopland.
Mooi bly.
LE
Over het verlangen naar een sigaret
Ken je het verlangen naar een sigaret,
naar die gelukkig tijd dat je nog rookte?
Niemand begrijpt dit verlangen behalve ik.
Ik herinner mij iemand die altijd
als ik iets zei dat ze niet begreep
antwoordde: op zich is dit heel intrigerend.
En ik herinner mij ook dat ik dan
die uitspraak een aantal malen
in mijn hoofd moest herhalen:
op zich is dit heel intrigerend
totdat de betekenis verdampt was.
God kan ondoorgrondelijke dingen met ons doen
dankzij het feit dat hij niet bestaat
en zo kunnen ook ondoorgrondelijke dingen
worden beweerd dankzij het feit
dat ze nergens over gaan.
Sinds ik dit bedacht begrijp ik veel meer.
Het verlangen naar een sigaret is
het verlangen zelf.
© Rutger Kopland
Monday, August 24th, 2009
 Waarnatoe?
In navolging van die gesprek oor metropool en provinsie wat tans op Charl-Pierre Naudé se blog gevoer word, lees ek die volgende stuk deur ene Paul Stubbs raak wat hier geplaas is. In sy aanhef vra hy die vraag: “When does poetry begin to capitulate? Turn back in on itself? When it fails to assimilate the new, the foreign, when in the words of Nietzsche in The Birth of Tragedy, the human remains in a perpetual state of individuation; or what in this country has always been its burden, the totality of the influence of one poet: T.S. Eliot.” Na ‘n hele betoog oor Eliot en hoe inhiberend sy lang skaduwee oor die Britse digkuns val, stuit Stubbs op die volgende stelling: “It still seems self-evident to me that in trying to understand what poetry does, can and cannot do, one must draw one’s exemplar’s from as wide a range of it as possible. It sounds obvious, yet British poetry has always failed, either willingly or unwillingly, to acknowledge this sane poetic truth. But what a different outlook, approach, and reality our poetry might have had today if, notwithstanding the always trite and facile English arguments concerning translation, our main poetic influences in this country were all of a European or world variety?”
Sjoe. Die res van sy betoog is pure dinamiet. En oorredend. Sy slotsom? “The great innovative poetry of the 21st century will be forced to assimilate new religions, genetics, nanotechnologies, robotics - I hope, for its own survival, that British poetry can learn to un-rope itself from its own (always) island-bound verbiage, to become for the first time, what it has never been, in any era, a truly World poetry; for our poets to become (how Ted Hughes described Eastern European poets to be) “the most wide-awake of poets”. And then, only then, might English poetry learn to become unfamiliar again with itself.”
Die toepasbaarheid van hierdie stuk op ons eie digkuns is só voor die hand liggend dat verdere kommentaar haas onnodig is. Die feit is: Ons digkuns mag klein wees, maar hemel, gedug is sy inderdaad! Histories beskou beskik ons immers óók oor die Eliots, Audens en Larkins wat dekades lank ons totale digkuns op sleeptou kon neem; dog, hoe skitterend is ons digters nie besig om hulle daarvan los te woel nie! Die vraag bly egter staan: is die teoretiese masjinerie van ons literatore opgewasse hiervoor? Want, soos Charl-Pierre Naudé dit stel in die slotsin van sy essay oor eietydse poësie: “ (Die) digter woon in opwindende tye. Al wat hy kortkom is ‘n opwindende leser.”
Nou ja, toe. Net vir vandag: Maak of jy mal is en doen alles.
Mooi bly.
LE
Monday, August 10th, 2009
 Vrouedag
Nou ja, toe. Gister was Vrouedag en só is dit goed en is dit reg. Ek kan my beswaarlik ’n man indink wat nie met akklamasie die vroue in ons geledere sal wil toejuig (en koester) nie. Soms weliswaar met geknersde kake of bedremmelde gemoed, maar objektief beskou is dit immers vroue wat die aanhou en uithou in hierdie lewe die moeite werd maak. Nietemin, ter viering van vrouedag het ons dit goedgedink om ’n aantal digters te nader met die versoek om elkeen ’n reël tot ‘n ringdig oor vroue by te dra. Liewe hemel, wat ’n gedoente! Uiteraard is dit beslis nié ’n goeie idee om so iets op ’n Vrydag voor ’n langnaweek te probeer nie, want mans werk mos, sien. En natuurlik kan jy nie die vers na ’n volgende persoon aanstuur alvorens jy die reël van die vorige persoon ontvang het nie. Dus - wag en wag. Later bel. En uiteindelik is dit klaar; met gebreke en al.
Laat my nogals dink aan sóveel “manlike” situasies waar die man so dikwels vergewe moet word vir ’n bra gebreklike produk of optrede met dié woorde: “Toe maar, dis tog die idee wat tel.”
As stimulus vir die ringdig het ek die openingsreël uit NP Van Wyk Louw se gedig nr. LXV in Tristia geneem. Waarskynlik was dit nié ’n goeie keuse nie, want die verwagte darteldans van sinne en beelde het helaas nie gematerialiseer nie … Dalk ook maar vanweë die “einde-van-die-week-sindroom”?
In ieder geval, hier onder volg ons poging, met al die gepaste blosings en vroetelings wat ’n groepwoeps so dikwels tot gevolg (behoort) te hê. Die digters wat hieraan deelgeneem het (in streng alfabetiese volgorde ten einde identiteit te verbloem), is: Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, IL de Villiers, Louis Esterhuizen, Daniel Hugo, Danie Marais, Johann Lodewyk Marais, Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal, Christo van Staden (aka JC Van) en Cas Vos. Veral dankie aan Johann Lodewyk Marais wat darem by wyse van slot die vers op ’n manier tot iets met leesbare potensie kon bekook. Ook - my apologie aan die twee digters wie se reëls liggies aangetas moes word ter wille van die geheel.
Dan is dit ook vir ons besonder aangenaam om bekend te maak dat prof. Bernard Odendaal ingestem het om as residensiële resensent vir die webblad op te tree. Dit beteken dat hy nuwe digbundels eksklusief en uitsluitlik vir Versindaba gaan resenseer. Te midde van die uitgesponne debat oor die stand van ons resensie-bedryf wat die afgelope jaar of wat in die media gevoer word, wil ons glo dat die aanstelling van ‘n vaste resensent voordelig gaan wees ten opsigte van kontinuïteit, gehalte en objektiwiteit. ‘n Verdere voordeel wat dié forum aan prof. Odendaal bied, is dat daar geen lengtebeperking geld ten opsigte van sy resensies nie. Ons glo dat hierdie ‘n uiters belangrike toevoeging tot die funksionaliteit van die webblad is. Intussen kan u prof. Odendaal se resensies oor onlangse bundels lees wat hy goedgunstelik vir plasing deurgestuur het. Sy resensie van Jelleke Wierenga se “Bloot mens” sal eersdaags geplaas word.
Lekker lees aan al die nuwe inhoud op die webblad en geniet die rusdag.
Mooi bly.
LE
RINGDIG VIR VROUEDAG
9 Augustus 2009
Die vrou die word glo magies vasgesnoer
deur die liefde as heilige of as hoer –
altans, sy stel haar in sonlig so voor
en glimlag klandestien van oor tot oor.
Maar, ag, sonlig, dis net die duister se verwyl
as sy onder geskroeide vlerke skuil
en hemel toe versug, maar neerwaarts hel
sonder om sente of soentjies te tel.
Die vrou, glo gebore om te bekoor,
laat vallend beelde skeur, repe skildery
ontheg: sigself is skoonheid nie genoeg.
O vrou, wat ‘n vreemde vreugde is jy!
Ek rond my soet en kortstondige verblyf
af met ’n welgeluksalige en verleё wuif.
Tags: Andries Bezuidenhout, Bernard Odendaal, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Christo van Staden, Danie Marais, Daniel Hugo, Gerrit Brand, IL de Villiers, Johann Lodewyk Marais, Louis Esterhuizen Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Monday, August 3rd, 2009
 Die koningrooibekkie
Aangesien ons hierdie naweek die derde maand van die webblad gevier het, is ‘n meer persoonlike Nuuswekker seker in orde … En wat ‘n wonderlike 3 maande was dit nie! So is daar die daaglikse besoekerstal wat lag-lag meer is as die gemiddelde oplaag van ‘n digbundel; die entoesiastiese terugvoer vanuit soveel verskillende oorde; die verbysterende gehalte van die bydraes wat ingestuur en/of geplaas word; die bloggers wat ‘n mens telkens stom laat voor die gehalte van hul blogs, ensovoorts. Maar natuurlik, soos dit maar dikwels die geval is, was daar teleurstellings ook. Soos ons onvermoë - tot dusver - om ‘n borg vir die webblad te kan bekom; of ondernemings wat gegee word en dan nie nagekom word nie. Sug. Mens bly maar mens, is dit nie?
En dit bring my by die storie waarmee ek jou vanoggend wil vermaak. Dit handel naamlik oor ‘n allerlieflikste koningrooibekkie wat die afgelope weke die boom reg voor my studeerkamervenster sy tuiste gemaak het. Telkens wanneer ek voor my rekenaar kom sit, sal hy reg voor my kom fladder en saggies teen die ruit pik-pik asof hy na binne wil kom. Andersins sal hy op die tak reg voor my venster sit en my stip dophou, hoe en waar ek ook al beweeg. Pietjan het ek hom gedoop en klaviermusiek is sy ding. Veral Chopin en Schumann. Ons het goeie vriende geword, uiteraard. Aangesien ek egter bekommerd begin raak het oor Pietjan se onnatuurlike fiksasie op my, asook sy beperkte spieruithouvermoë, het ek ‘n spieël in die ruit geplaas met ‘n voetstuk aan die buitekant sodat hy ure daar kan verwyl in ‘n intieme gesprek met sy spieëlbeeld. Ai, mense. Wat ‘n plesier … Maar nou ja, soos in my inleidende paragraaf reeds gesê: té veel vreugde is ook nie goed vir ‘n mens nie. So gebeur dit toe mos dat die mossies óók die spieël ontdek en dit volledig vir hulself toeëien, terwyl Pietjan (wat maar nog ‘n babatjie is) hom ietwat verleë verder agtertoe in die bos skuilhou. O, die teleurstelling.
Nietemin, na drie maande moet ons afskeid neem van een van ons gewaardeerde bloggers. Daniel Hugo het naamlik versoek om vervang te word, aangesien hy dit weens omstandighede moeilik vind om daarmee vol te hou. Ek moet ook erken dat Daniel se onderneming reg van die begin af was om ons net te help om die webblad se blogs van stapel te stuur. Vir sy insette kan ons net dankbaar wees. Dankie daarvoor, Daniel. En wees verseker: ons sal jou wel weer op ánder maniere (probeer) betrek.
Nou ja, so is dit dat ons tans oor ons eerste vakature vir ‘n blogger beskik. Laat weet gerus indien jy sou belangstel.
Maar kom ons eindig dié Nuuswekker op ‘n meer positiewe noot. Een van ons uitgespelde doelwitte met dié webblad is om die Afrikaanssprekende poësieliefhebber ook groter blootstelling aan Internasionale Poësie te bied. Hierin lewer Charl-Pierre Naudé uiteraard ‘n enorme bydrae en sy voorstel onlangs om van “gas-bloggers” gebruik te maak, is ‘n skitterende idee. Breyten Breytenbach se stuk “Klinkdink“, wat al geplaas is, is byvoorbeeld pure leesplesier. En dan laat weet Charl-Pierre dat Valzhyna Mort, oor wie ek in Vrydag se Nuuswekker berig het, se stuk reeds ontvang is en binnekort deur hom geplaas sal word. Sjoe, ‘n mens kan nie wag nie …
Ten slotte, aan almal wat tot die vestiging van hierdie baba-blad meegewerk het: baie, baie dankie. Veral diegene wat tot onderhoude toegestem het en/of artikels gestuur het. En natuurlik: ons bloggers. Ons kan maar net handeklap en juig. Júlle is immers die murg in hierdie gedoente se kuberpype. Om nie van ons geliefde webmeester te vergeet nie: dit is jý wat hierdie hele pypgedoente aan mekaar hou, Marlise. Dankie vir die ure en ure se harde werk.
Vanoggend, by wyse van oordaad, twéé verse. Die eerste deur ‘n meester; die ander ’n geleentheidsvers.
‘n Uiters aangename week word jou toegewens.
Mooi bly.
LE
Kontrak
U het die wêreld oopgeskiet
tot grot en grammadoela;
toe die blaar en riet,
U arbeiders, gestuur; wortels
wat nederig werk, die mier wat stokkies dra
en beitelpunt van die rivier.
U droom met dinamiet
en laat aan arbeiders
die besonderhede en verdriet.
© DJ Opperman (1945: Heilige beeste)
Spieëlmaats
Telkens die koningrooibekkie
se geflitter voor jou studeerkamerruit -
die elegante getjirp waarmee hy
sy trae refleksie buitentoe roep. En jy
plaas ‘n spieël teen die glas vir hom,
met ‘n voetstuk van draad daarby
om knus-intiem in skerper fokus
by ‘n spieëlmaat die dae kop-in-mus
te verbly. Maar vanoggend is daar
net ‘n mossie se dom geboggel
by jou ruit: op en af, ure aaneen, op
en af, spring, spring, die waggelende
potsierlikheid. Om jou liefbekkie
waarskynlik elders heen
te verwilder.
© Louis Esterhuizen
|
|