Posts Tagged ‘Christo van Staden’

René Bohnen. Herfs in Johannesbos

Friday, March 30th, 2012

Kosmosse is mos kitsch. Ek het iewers gelees dat die sade van die blomme hier in Suid-Afrika beland het via die perdevoer wat vanaf Meksiko ingebring is vir die Engelse perde tydens die Anglo-Boereoorlog. Hulle is eintlik glad nie inheems nie. Maar ʼn sekere tyd van die jaar staan die paaie en veld hier in Gauteng vol in die blom. Soos nou.

Herfs is ʼn goeie seisoen vir gemengde gevoelens, ervaar ek hierdie week. Nie dat dit al heeltemal herfs is nie, maar ek het darem ‘n paar roeserige blare raakgesien die afgelope naweek. So tussen die pienk en wit en wynrooi kosmosse deur. Johannesburg is ryk, ryk aan bome.

Hoe beeldskoon is hierdie lelike stad. Lieflik is dit om by die dam in ons park te gaan stap, hoe jammer my vriendin is daar beroof met gewere teen haar kop in die middagson. Vreemd is ons fotosessies; gewapende manne pas ons op as ons reël om herfsbruide in die veld te gaan afneem.

Hoe hard en weerloos is hierdie land. Adam Small kry uiteindelik, uiteindelik die Hertzog-prys. Uiteindelik. Maar daar is konflik. Daarom het hierdie eerste geel-en-oranje dae ná die ekwinoks my nie aan Vroegherfs laat dink nie, maar wel aan:

Ek haat en ek het lief

Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.

O my land, o my land: jy is ek.

Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.

Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.

*

Dat liefde so tot haat kon skif.

Liefde wat tóg vol goue room was.

Haat wat sulke dun wei-water is.

(N.P. Van Wyk Louw)

Maar: oppas vir die negatiewe perspektiewe, waarsku ʼn wyse vriend my. Want naderhand verdring dit alles wat mooi is. Daarom omhels ek die ambivalensie van melankoliese herfs. Daarom verheug ek my in die skildery wat Christo Van Staden (ook bekend as Johannes van Jerusalem, digter van die bundel “Eros Ontbind”) gemaak het. Christo (verder ook bekend as JC Van, hy van vele Bekgevegte) is besig om ʼn hele reeks Johannesburg-skilderye te verf en sy digterstem is so helder hoorbaar in sy troetelname vir hierdie stad: Johannesbos, Joyburg, Johannesberg….

Delta Park deur Christo van Staden

Delta Park deur Christo van Staden

Herfs in Johannesburg laat hom onbekwaam voel, sê hy. Ja, dink ek. Want ook herfs het haar geheime. Dis net ons wat swaar dra aan die dubbelsinnigheid. Soms.

Andries Bezuidenhout. Melville se poësiefees, 2011 – fotobeeld

Monday, October 17th, 2011

Dis nie met groot fanfare afgekondig nie. Die fees se baniere het ʼn underground kwaliteit gehad – dit is nie dwars oor strate opgehang nie, maar tussen die pilare van Melville se 1930s-geboue. Die Facebook-bladsy is eers ʼn week of wat voor die fees opgesit, die program selfs later. Maar nuwe bundels is die wêreld ingestuur (een van Gail Dendy), gesprekke is gevoer (een oor die nalatenskap van Wopko Jensma), gedigte is in binnehowe en restaurante voorgelees, weefwerk tussen beeldende kuns en woordkuns is teen mure opgehang (deur Hans Pienaar en Charl-Pierre Naudé), musiek is in teaters opgevoer, ʼn imbongi het van Melville se dakke af geroep (darem deur luidsprekers, spookagtig in die kalklig), gedigte is sommer op straathoeke voorgelees – enigiemand kon kom luister.

Ek wil nie veel hier sê nie, laat die foto’s eerder praat. Ek wil egter twee punte maak, oor wat die fees vir my besonders gemaak het:

Eerstens, die intieme skaal en aard van die voorlesings. Daar was twee geleenthede vir Afrikaanse gedigte – die een in ʼn restaurant se binnehof (“Melon Courtyard”) en die ander in ʼn aardige kroeg/restaurant (“Love & Revolution”). Daar was nie mikrofone en luidsprekers nie. Hans Pienaar het elke digter op sy rustige manier voorgestel en dan het mense sommer opgestaan waar hulle sit en hul gedigte voorgelees. In Love & Revolution het ek sommer op die vloer gesit, dalk die beste plek in tye van liefdeloosheid en revolusies wat skeef loop. Die spanning tussen van die digters het die geleentheid ʼn vreemde tipe energie gegee.

Tweedens, die ware Johannesburgstyl. Dit was ʼn Suid-Afrikaanse fees, waarin Afrikaans ook verteenwoordig was, as een van baie tale. Op ʼn persoonlike noot was dit vir my lekker om my musiek aan mense te kon voorstel wat nie andersins daarna sou luister nie. Ek het gepraat oor Voëlvry se verbintenis met Johannesburg en die vertoning met Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow” afgeskop; dinge van daar af verder geneem. Al kon sommige van die mense in die gehoor – waarskynlik die meerderheid – nie Afrikaans verstaan nie, was die ontvangs tegemoetkomend en het ek welkom gevoel.

Gee jou gedigte vir Hillbrow...

Banier tussen pilare

Gedigte op straathoeke

Christo van Staden, ook bekend as Johannes van Jerusalem

Corné Coetzee lees voor, Hans Pienaar luister

Toast Coetzer lees: "Die Here is my herderspastei..."

Loftus Marais lees, Harry Kalmer heel links

Charl-Pierre Naude lees, Johann Lodewyk Marais in die gehoor

Rene Bohnen lees

En Cornel Judels

Heidi Papadopoulos

Johann Lodewyk Marais, oor Livingstone en Lamu

‘n Ringdig vir Vrouedag!

Monday, August 10th, 2009
Vrouedag

Vrouedag

Nou ja, toe. Gister was Vrouedag en só is dit goed en is dit reg. Ek kan my beswaarlik ’n man indink wat nie met akklamasie die vroue in ons geledere sal wil toejuig (en koester) nie. Soms weliswaar met geknersde kake of bedremmelde gemoed, maar objektief beskou is dit immers vroue wat die aanhou en uithou in hierdie lewe die moeite werd maak. Nietemin, ter viering van vrouedag het ons dit goedgedink om ’n aantal digters te nader met die versoek om elkeen ’n reël tot ‘n ringdig oor vroue by te dra. Liewe hemel, wat ’n gedoente! Uiteraard is dit beslis nié ’n goeie idee om so iets op ’n Vrydag voor ’n langnaweek te probeer nie, want mans werk mos, sien. En natuurlik kan jy nie die vers na ’n volgende persoon aanstuur alvorens jy die reël van die vorige persoon ontvang het nie. Dus – wag en wag. Later bel. En uiteindelik is dit klaar; met gebreke en al.

Laat my nogals dink aan sóveel “manlike” situasies waar die man so dikwels vergewe moet word vir ’n bra gebreklike produk of optrede met dié woorde: “Toe maar, dis tog die idee wat tel.”

As stimulus vir die ringdig het ek die openingsreël uit NP Van Wyk Louw se gedig nr. LXV in Tristia geneem. Waarskynlik was dit nié ’n goeie keuse nie, want die verwagte darteldans van sinne en beelde het helaas nie gematerialiseer nie … Dalk ook maar vanweë die “einde-van-die-week-sindroom”?

In ieder geval, hier onder volg ons poging, met al die gepaste blosings en vroetelings wat ’n groepwoeps so dikwels tot gevolg (behoort) te hê. Die digters wat hieraan deelgeneem het (in streng alfabetiese volgorde ten einde identiteit te verbloem), is: Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, IL de Villiers, Louis Esterhuizen, Daniel Hugo, Danie Marais, Johann Lodewyk Marais, Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal, Christo van Staden (aka JC Van) en Cas Vos. Veral dankie aan Johann Lodewyk Marais wat darem by wyse van slot die vers op ’n manier tot iets met leesbare potensie kon bekook. Ook – my apologie aan die twee digters wie se reëls liggies aangetas moes word ter wille van die geheel.

Dan is dit ook vir ons besonder aangenaam om bekend te maak dat prof. Bernard Odendaal ingestem het om as residensiële resensent vir die webblad op te tree. Dit beteken dat hy nuwe digbundels eksklusief en uitsluitlik vir Versindaba gaan resenseer. Te midde van die uitgesponne debat oor die stand van ons resensie-bedryf wat die afgelope jaar of wat in die media gevoer word, wil ons glo dat die aanstelling van ‘n vaste resensent voordelig gaan wees ten opsigte van kontinuïteit, gehalte en objektiwiteit. ‘n Verdere voordeel wat dié forum aan prof. Odendaal bied, is dat daar geen lengtebeperking geld ten opsigte van sy resensies nie. Ons glo dat hierdie ‘n uiters belangrike toevoeging tot die funksionaliteit van die webblad is. Intussen kan u prof. Odendaal se resensies oor onlangse bundels lees wat hy goedgunstelik vir plasing deurgestuur het. Sy resensie van Jelleke Wierenga se “Bloot mens” sal eersdaags geplaas word.

Lekker lees aan al die nuwe inhoud op die webblad en geniet die rusdag.

Mooi bly.

LE

 

RINGDIG VIR VROUEDAG

9 Augustus 2009

 

 

Die vrou die word glo magies vasgesnoer
deur die liefde as heilige of as hoer –

altans, sy stel haar in sonlig so voor

en glimlag klandestien van oor tot oor.

           

Maar, ag, sonlig, dis net die duister se verwyl

as sy onder geskroeide vlerke skuil

en hemel toe versug, maar neerwaarts hel

sonder om sente of soentjies te tel.

 

Die vrou, glo gebore om te bekoor,

laat vallend beelde skeur, repe skildery

ontheg: sigself is skoonheid nie genoeg.

O vrou, wat ‘n vreemde vreugde is jy!

 

Ek rond my soet en kortstondige verblyf

af met ’n welgeluksalige en verleё wuif.