Posts Tagged ‘Clinton du Plessis’

Clinton du Plessis. Die vaderland des aanstoots

Tuesday, December 6th, 2016

Die vaderland des aanstoots

Iewers, tussen lojale patriotisme en digterlike sinisme, staan daar altyd ‘n kaal, gulsige keiser, met voete van klei, met sy gevreet op ‘n banknoot en sy rojale agterstewe in die land se botterbak.

En wee die digter wat hom durf teëspreek.

Vir menige skrywer word die vaderland, of dan eerder, die politieke bestel in sy geboorteland, op een of ander stadium, dit wat weersin wek, wat jou inderdaad soos Opperman instinktief “trots” wil laat rym met “kots.” Hoe gepas het Antjie Krog dit ook nie verwoord nie: “ek wrok volkome.”

In 1999 kruis my paaie met ‘n aantal uitgeweke skrywers. Onder hulle, ‘n aangename, goedige, gentleman, Jack Mapanje – hy lyk vir my heel onskadelik.

Hy kom uit Malawi en was die middelvinger in die stiksienige oog en die hand skrywende teen die muur tydens die bewind van Hastings Kamuzu Banda –  die despoot en lewenslange president. Tydens Mapanje se tyd in aanhouding, word sy springtou waarmee hy fiks bly van hom weggeneem, omdat hy homself (volgens die owerhede) daarmee sou kon beseer.

Mapanje stut sy loop met ‘n kierie, ek is op krukke en later teken hy vir my sy digbundel, Skipping without ropes.

Omslag

 

Hier lees Mapanje sy gedig voor aan ‘n groep leerders.

<iframe width=”340″ height=”90″ src=”https://www.youtube.com/embed/qtyXsEYIhqQ” frameborder=”0″ allowfullscreen></iframe>

 

Nader aan die tuisfront is daar vele voorbeelde van wordkunstenaars se onvrede met die bestel, van tas pak en die vreemde ‘n blyplek probeer maak.

Die digter-dramaturg Vincent Magombe, uit Uganda ( ‘n soldaat het ‘n geweer teen sy kop gedruk, die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie), praat oor hierdie pyn en vervreemding:

“You start forgetting everything. Even the impression of what an African forest is like, the smells, the colours. Your poetry becomes drier and you compensate by making it more combative. But then you worry about writing propaganda.”

Vir my bly een van die mees tragiese verhale van hierdie land, die verloop van die kort lewe van joernalis-skrywer, Nat Nakasa.

Nat Nakasa

Nat Nakasa

Bron:http://www.sanef.org.za/awards/about_the_nat_nakasa_award/

 

Nat Nakasa

 

As alles té veel word

wens jy dat jy vlerke kon groei,

kon vlieg, ontvlug,

weg van ‘n wêreld

waar alles té duidelik is,

waar die skeidslyne

net té helder getrek lê:

swart of wit,

wit of swart.

 

Dan vertrek jy,

hoopvol, sonder paspoort,

met ‘n eenrigting-vat-jou goed-en-trekpermit.

 

New York is anders:

kouer, nie die beloofde Hiernamaal,

die vroue meer koelbloedig, berekend,

bleekblond, serebraal, maar jou vel bly uitroepteken,

wat jou plek, minder subtiel, maar tóg nóg, bepaal.

 

Jy verlang na die knus sjebeens van

Jozi, Sophiatown,

die gladde lyf van die bottel,

die reuk van afval,

met stampmielies en pampoen,

die ritme op die dansvloer,

die wiegende heupe van Afrika,

die tongklap van die taal

van die hartland,

die gehate land,

die hartseerland,

die oop vure,

die broeiende verset

ondergronds brommend soos

die veraf rammel van ‘n donderstorm wat kom.

 

As alles te veel word

in die vreemde,

wil jy vlieg,

selfs sonder vlerke,

terug na ‘n wêreld

waar alles té duidelik is

waar die skeidslyne

net té helder lê:

swart of wit

wit of swart.

 

Jy wik en weeg,

in die venster,

huiwer op die smal balkon,

tussen lewe en dood,

jou woorde stol.

 

Jou geboortegrond

‘n meulsteen

‘n kruis

om jou nek

trek jou snel

aarde

toe, jou lewensboek

slegs 28 bladsye dik.

 

 

Mag die digter hom bly verset teen onreg. Met woorde, soos met bomme.

 

Bronne:

  1. Uittreksel uit onderhoud met Vincent Magombe: http://www.independent.co.uk/arts-entertainment/i-had-never-come-to-a-western-country-before-it-is-good-for-my-writing-1580734.html

Clinton V. du Plessis. “Hallusinasie – onthou is drogbeelde”

Thursday, November 27th, 2014

Hallusinasie – onthou is drogbeelde

 

 

Ek het gidse, aanwysers,  nodig

om my te lei

van die hede na die verlede

die kronkelpad,

 

my onthou en jou vergeet

net, dáár lê die onding.

 

Die ongeskonde era van die heuningby is verby

die bedreigde skoenlapper fladder vlerkverdwaasd in reservate.

 

Die geskiedenis – boesmanrotstekeninge

teen  reuse swartborde van vergeet.

 

Oranje-Vrystaat, waar jy kon kooi slegs met permit

Die Tuisland vir Kaffer om, buite sig, te pik en te spit.

 

Tussen Brandfort

en Die Eiland is die pad glad nie kort

by Verkeerdevlei wag nou ‘n nuwe tolhek

(they paved paradise and put up a parking lot.)

 

Dáár iewers staan die kerktoring penis-orent:

Excelsior se 19

die dominee en die duiwel,

die gróót taboe,

die donker nagmaal

se soet verleiding,

die paal ken geen perk,

die ontrou, oor die tou

trap wat uitloop op

die gróót skaamte,

die slapnekhang aan ‘n tou

die hoer en die hof

die vergryp aan die meid

 

my onthou en jou vergeet

net, dáár lê die onding.

 

Die breë hoofstraat

eens, effe Joods en Portugees,

en nou die vele leë gebou

eens gekaart en getransport aan Kerk

verhuur aan Sanlam en Staat se geheimlike pynpolisie

wat waak oor die dun grys grenslyn

tussen waarheid,

tussen lieg,

tussen bedrieg

tussen máák bieg:

die inkopiesak oor die kop

die ongelaaide pistool se snellertrekfop

die natgepiste vrees van die verganklike vlees

en die verbrande briewe wat die prisonier nooit mog lees.

 

Vensters sukkel ruitloos

om die meeluister te onthou

dit wat eens só ankervas, só seker was

Geloof, Gelofte en Hoop

verval

gesloopte fondamente,

skaam monumente.

 

Al die geykte Afrikaanse idiome kom lê soet, vol genoegdoening in die mond:

 

die wiel draai,

daar’s ‘n wind wat waai,

gogga maak vir baba bang,

die bordjies word verhang,

elke hond kry sy dag,

wie die laaste lag.

 

John Vorster Square – die onvaste greep,

die vervlakste val na die gly op die seep.

 

Die nuwe Opperman

met die merk van die dier

staan trots met die land se leisels

in sy geëlte hand

hy, die Ou Taai Coon,

Koebaai Kanjani,

outa,

Utata,

Ou toppie,

profeet in die buik van die walvis

olike Jorik, kwalik nugter,

wedergebore as Marco Polo,

Raka, Shaka, Koki

mens, Dier, Ding

 

o waar, o waar, is ‘n Baltzhasar of Koot

in die volk se uur van nood?

 

My onthou en jou vergeet

net, dáár lê die onding

 

Janusz, Pools, met geleende pistool

draai sy gesig na die spieël

sien die bebloede lem en die lintwurm.

 

Selfs Derrida dekonstrueer die dooie Thembisile,

die kommunis as postmodernis

daar sit betekenis

laag op laag op laag,

onder die sin se soom

die dood is juis ‘n palindroom.

 

Ons vir jou

laat nou

vir wie koud?

 

My onthou en jou vergeet

net, dáár lê die onding

 

Boelala, my basterboer.

 

 

(c) Clinton V. du Plessis / 2014

 

Louis Esterhuizen. Die ganske wêreld in 140 karakters

Tuesday, August 6th, 2013

 

Iemand het jare gelede teenoor my opgemerk dat “poetry will never lie down in the grave that has been prepared for it”. En telkens staan ek verstom oor  hoe hardnekkig dié gemarginaliseerde kunsvorm op soveel uiteenlopende – en hoogs kreatiewe – maniere haar na vore dring ten einde haar voortbestaan te verseker. Neem nou byvoorbeeld die hele kwessie van mikropoësie, of te wel twitter-poësie ( “twihaikoe”) wat vinnig besig is om internasionaal een van die gewildste poëtiese uitdrukkingsvorme te word.

Daarom dat ‘n artikel deur Charlotte Cripps op The Independent se webtuiste, my oog gevang het. “Poetry in 140 characters? What would Sylvia Plath have made of tweet poems?”, begin Cripps haar relaas. “Twitter poetry (also known as “twihaiku” or “micropoetry”) is still in its early stages, but could it bring poetry back to the forefront of the modern world?” By wyse van ‘n antwoord haal sy Chloe Garner, artistieke direkteur van die Ledbury Poetry Festival aan:  “I think Twitter poems will become a new form, the modern-day version of the haiku. Poets love writing to different forms, even just as a way of exercising the poetic muscles.”

Volgens Judith Palmer, hoofdirekteur van die Poetry Society in Brittanje, die volgende: “There’s a renewed interest in the form of British poetry at the moment and the constraints of the 140-character limit play to that, in the same way as the 14 lines of the sonnet or the 17 syllables of the haiku. Twitter poems tend to be playful and are often collaborative, but they’re also good for ‘Imagist’-style observation, or philosophical musing. They can reach a wide audience in moments but they’re also ephemeral, evaporating pretty as the Twitter-feeds roll relentlessly on.”

En verskeie digters doen met gróót entoesiasme mee. Soos Benjamin Zephaniah, byvoorbeeld:  “I like to send out little treats of poetry every now and then to make people think a little bit. It’s a great way to connect daily with your audience. It is a better way of saying, ‘I’m in the shop.” En ook George Szirtes, wenner van die T.S. Eliot-poësieprys in 2004 en iemand oor wie ek onlangs nog geskryf het: “I write in Twitter because I am interested to see what a form as short and as evanescent as Twitter can do: in effect, it does anecdote and shorter forms of poetry quite well, which is why I have written some 20,000 as an experiment.”

Selfs Billy Collins, voormalige poet laureate in die VSA, spreek hom ten gunste van dié ontwikkeling uit: “Restrictions, like the rules of the sonnet, can be liberating in the right hands… So there’s nothing wrong with poets finding a new box to play in, even though Twitter has co-opted a once perfectly useful word to describe birdsong.” 

Nou ja, toe. Maar gaan lees gerus die volledige artikel by The Independent. Daar is ook heelwat voorbeeldgedigte wat aangehaal word.

Ten slotte, hier by ons aan die anderkant van die halfrond, is dié versvorm uiteraard nog maar net ‘n piepkleine tintinkie in die nes … Met die uitsondering van Clinton du Plessis, natuurlik, wat reeds verlede jaar ‘n bundel, Flitse, met twitter-verse die lig laat sien het. In die onderhoud wat Robert Pearce met hom gevoer het, het hy dié gedigte soos volg beskryf: ““Die gedigte is kort, in die trant van twitter-boodskappe. Die nuwe sosiale netwerkgenerasie se briewe in bottels wat miljoene per dag die kuber-oseaan ingestuur word.” (Lees ook Bernard Odendaal, wat eweneens sy hand al aan heel indrukwekkende sms-gedigte gewaag het, se resensie oor Flitse.)

Vir jou leesplesier volg twee mikroverse uit genoemde bundel.

***

Oes

 

Ek gerf vir jou verse om in jou hand te pas

ek pak warm woorde in jou reistas

sodat jy my kan onthou

as jy alleen aan die strooihalms van ons liefde klou.

 

***

 

Duskant

 

Die splinters van hierdie droewe land

se kruis, sit nog vas in die palm van my hand,

iewers anderkant kleur

moet ons weer die gedeelde taal van menswees leer.

 

© Clinton V. du Plessis (Uit: Flitse, 2012: Ama-Coloured Slowguns)

 

 

Clinton du Plessis. Twee gedigte

Sunday, November 11th, 2012

 Dorp

 

Die Portugees met die bakkery

 en die Griek met die vis & chips was híér op die hoek,

 híér waar die nou vreemde tongval

 sit en skaak speel tussen die

 Cd’s en die waslappe,

 die selfoon-rechargers, die superglue,

 plastiekwasskottels, naelknippers, wasgoedpennetjies,

 die adibas-tekkies, ingevoerde grappe,

 en die gordels

 om stywer te trek om die krimpende maag,

 die gadgets vir Afrika

 all made in China,

 híér het die bank besigheid gedoen,

 Volkskas, arbeid adel,

 ABSA het bo-op die treinspoorbrug, by die ingang van die dorp

 windgat die toekoms ingestaar met

 ‘n boer, sy seuntjie aan die hand

 en ‘n goue koring-oes op die ge-photoshopte land,

 “As dit eendag alles syne is, sal ons steeds hier wees,”

 maar dáár waar die tellers was,

 dáár speel ons nou lotto,

 vat ons almal een uit ‘n miljoen of meer kanse,

 in Mister Foo se China Shop,

 Mama Norah en Prof. Make Beliefe van Ghana,

 beloof tradisioneel rykdom, gesondheid en ‘n groter orgaan,

 híér waar Blessing en God Help Us en Beautyful haarsalonne langs mekaar probeer bestaan,

 híér het Afrika kom wortel,

 híér knoop die Pakistani’s rats weer onwillige

 selfoonseine aanmekaar,

 en oral is daar cash loans,

 rente word die opium van die sakpatriot,

 graad twaalf bring jou geen werk

 of parkeer jou in ‘n hoek as ‘n toonbankklerk,

 almal leef

 op toekomstige inkomste

 verdiskonteer môre se loon

 vir vandag se oorleef,

 tussen botter en ‘n brood

 is daar net so min wat rande nog kan koop 

 alles hier word nuut en anders,

 net Avbob gaan nog ongestoord

 onder die bloekombome voort,

 want die dood, dié is nog altyd met ons.  

  

  

 Route 69

  

 Sy reis aand na aand deur

 geheime donker poorte met mans,

 sakemanne en dié wat geslepe kans

 vat, met note kan kies, kus en keur,

  

 sy maak vir verlore siele deure oop

 laat haar ure met ‘n gekibbel verkoop,

 ontsnap met lywe vir ‘n wyle

 word vir die oomblik ‘n geile, geile,

  

 fantasie: sy die heilige begeester van peester,

 as skooldogter, sekretaresse of verpleegster

 sy luister,  dié skunnige vleesterapeut,

 na elke hunker, elke onmenslike skeet:

 sy is almal se halfweghalte, almal se stasie,

 die beste hoer reis lig, sonder bagasie.

Clinton du Plessis. Aan die gatkant van die maan

Friday, August 19th, 2011

Aan die gatkant van die maan*

 

Etienne praat in die Victoria Manor oor vergeet & onthou & hy laat my dink:

om te onthou is om selektief & nostalgies te vergeet,

ek onthou;

die Bruce Lee movies, no chinese & dogs allowed,

aan die rand van die dorp – die draak wat wag met skrefies-oë 

om sy tentakels verder uit te strek,

om besit te neem, soos wyle Dirk Opperman:

edms bpk; “dis my gebied” “alles…alles my eiendom,”

iswe lethu, die grond is myne, het Sobukwe se kaders vergeefs gechant,

maar die dice van die bank was klaar geskommel & loaded,

ek onthou,

skrywers in Cradock oor ‘n naweek,

ek die minor poet met geen major literary ambitions,

soos die dromskrapers in vodde flenters krap ons in die vullisdromme rond na oorskiet

vir ‘n storie, gedig of meer,

Olive was hot vertel die skrywer, jagsmaakmateriaal…

& skynbaar gewillig

Gannahoek se eie Paris Hilton, minus die sextape,

altyd op medikasie,

ek wonder of sy ooit ‘n joint sou rook, op die seilkoppie, of teen oukop?

ek onthou,

Goniwe in sy Honda,

Calata in die pop band in Lynleystraat,

te oud om te droom, te jonk om op te gee,

lokasie & dorp,

rook van oop vure, Goodyear tyres & tuine met swart outas & pissende beeldjies

& hoofman oom opperste PW in sy hoed & die vryheid van die dorp geketting om sy nek,

ek onthou,

in wat eens heilig katoliek & kerk was

lees & luister ons, dissipels van die woord, kyk ons na 101 kerke,

‘n vervalle Bantu Dutch Reformed Church word ‘n skrif aan die muur, 

maar die res van die dorp

bly afstandelik eenkant,

afvallig sit mense op stoepe in die son,

iewers braai iemand op maat van Michael learns to rock,

kyk families op plasma-skerms super-something rugby,

iewers verkrag iemand ‘n vrou of ‘n kind of ‘n hond,

die taverns is oop tot vroeg in die oggend,

& ons skryf gedigte & romans & probeer tot ons sinne kom,

rondom lang glase rooiwyn & sop & brood verwek ons karakters,

onthou ons & vergeet ons,

maar niemand van ons hier glo meer in wonderwerke nie,

wie kan uit hierdie vyf brode & die Visrivier

die menigtes voed?

om te vergeet is om selektief & nostalgies te onthou.

 

*na Heather Parker Lewis se “Olive Schreiner – the other side of the moon.”

10/07/2011, geskryf na die Karoo Writer’s festival in Cradock

 

© Clinton du Plessis. 2011