Posts Tagged ‘Clinton V. du Plessis gedigte’

Clinton V du Plessis. With or without you

Friday, November 16th, 2018

With or without you

(U2)

 

 

Soms

word ek snags

in onbekende plekke langs jou wakker

bly dan só lê

te bang om jou ritme te versteur

ek luister gespits en stip in die donker

na die geluide van elke nuwe bestemming.

 

Soms

‘n stad se sinlose

banaal drukgang van bestaan

lééf diep die nag in

die wemel van lyf

die wroeg in verkeer.

 

Soms

aan die kus

bly die branders deur die nag breek

maar jy bly slaap

en ek luister na jou

bang vir wanneer jou asem

eendag stil sal wees.

 

Here, wat doen ek dán, só sonder jou?

 

Soms

op dorp

skaars aan mens

staan ek saans

op, staar na die suinige straatlig buite

die oordaad donker

en sterre skerp en helder

gespikkel, gespansel, gestrooi

teen die ruim se plafon

ligjare ver

dán maak ek jou wakker

en ons verwonder só saam.

 

Soggens sien ons hoe dit welig

boom, blom en bedding

skoenlapper en by en vink

in vlug.

 

Dit lewe. Ons sterwe met elke hartklop.

 

Ek en jy is toeriste

sonder padkaart

sonder kompas

sonder stuurwiel in die hand

soms dut jy teen my

ons hande vervleg

maar, ek bly wakker

ek lees die teks van die landskap

deur die bus se venster:

 

oer is die heuwel en berg

dor die bossie

bang blink die oog van dier

stil sitskuil die sterwe op ons skouers.

 

Die dood vra nie paspoort of visum nie.

 

Ons reis stadig, tydsaam saam

na iewers, waar ons hoop ons pad nêrens sal vurk nie.

 

Want, wat doen ek dán, hoe bly ek beweeg

só sonder jou?

 

 

 

© Clinton V du Plessis / 2018

Clinton V. du Plessis. Sela

Friday, November 20th, 2015

Sela

Die see gee nie meer vis nie, meneer
nou sit ons net hier rond
en wag,
die boot
die skippers
die crew
hier langs die witgekalkte huisies
met die kat op die stoof
die vrou wat moan
en die kinders wat nie verstaan nie.

Ons het nog net die view oor, meneer
befokte view, amper paradise,
maar om die view regtig te appreciate
het jy ‘n maag, met ietsie in nodig, meneer
maar hulle praat van ons moet skuif
die developers wil hierdie strand afkamp
hekke en booms,
controlled access,
right of admission reserved
amper soos in die ou dae,
maar nou tel die kleur nie meer
dit is die geld wat tel, meneer
jy het of jy het nie.

Here, meneer,
kyk hoe mooi skuimwit boggel hy daar
daardie brander,
elke oggend staan ons op
maar selfs die bietjie vis
kan ons nie hoek nie, meneer
want ons het ‘n permit nodig
om te mag nette gooi, meneer.

‘n Minister was self hier
laas jaar,
met drie body guards
blink van kar
rond van figuur,
met ‘n stywe blink suit,
vensters getint
wat die mense buite hou, weg hou
stakeholders meetings, meneer
met al die interested en al die affected parties, meneer
was alles Engels, meneer
boring speeches en empty promises
permits vir buddies en vriende van dooie stalwarts
talk is so damn cheap, meneer.

Om te dink, meneer
die visser kom al lankal aan
daar uit die Bybel se tyd
al daai dissipels
hulle was manne wat die waters kon lees
weet wanneer die tides kom en gaan,
die sout van die aarde
wat kon bid as die storms op die rowwe waters
dreig.

Nou sit ons hier, meneer
en die wind, die wind
hy waai net waar hy wil
en die see, die see
is ‘n baie ou vrou
met ‘n dooie droë baar, meneer.

© Clinton V. du Plessis / 2015

Clinton V. du Plessis. Die boor

Sunday, November 15th, 2015

Die boor

 

Thandisizwe, die rotsbooroperateur,
huur in ‘n township, Boitekong,
‘n sinkhuisie, in die agterplaas
die ekstra huurgeld help die eienaar
sonder kaart of transport
om siel en liggaam aanmekaar
te probeer hou.

Na werk, was Thandisizwe
in ‘n skottel,
op ‘n ou spieëlkas,
sy gesig, sy bo-arms, sy lyf,
moeg na ‘n dag se swoeg,
agt ure die aarde se baarmoeder in
die donker warm vagina waarin
hy verbete boor vir die erts
om los te kom
om te smelt
om uit te voer.

Soms kuier hy naweke laat in taverns
met baie vuur en bier
waar vleis en driftige vlees
hom tydelik laat vergeet
van sy huis ver van hier

Daagliks is dit sy inferno,
die hel is ‘n skag,
‘n tonnel,
diep
in die aarde
geboor,
daar waar
Kapitaal gretig
met haar bene wyd-oop
wink en hy droom van al die dinge om te koop
vir vrou en kind:
die goedkoop vermaak
ingevoer op satellietskottel
en tot vervelens toe herhaal,
die gewaande behoeftes
geskep deur advertensiehuise
se jong briljante cocaine breine.

Sy hel;
‘n boor
van 25kg in sy arms
wat vibreer teen ‘n rotswand
en iewers ‘n skelm wat skuil.

Snags, in sy bed,
steeds die boor
wat in sy arms vibreer,
bewe,
sy hele bed wat skud,
bewe,
die boor wat dreig
om deur
die kamer
se sinkmuur te beur,
vibreer,
deur sy slape te skeur.

* ‘n Skelm is ‘n term wat deur myners gebruik word vir plofstof wat in ‘n rotswand geplaas is, maar nie ontsteek het nie. Daar bestaan die gevaar dat dit later in die boorpunt se pad kan beland en ontplof. Daar is sedertdien nuwe rotsbore op die mark wat nie vereis dat werkers dit hoef vas te hou nie.

© Clinton V. du Plessis / 2015

Clinton V. du Plessis. Taalles 101

Friday, October 16th, 2015

Taalles 101

Daar was nooit sekere woorde
in ons woordeskat nie
dus het ons nooit sommige idees gekoester of vertroetel nie
want wat jy nie
kan benoem nie
nie kan verwoord nie
nie wil onthou nie
dit bestaan eenvoudig nie
meer
nie.

Byvoorbeeld:

wie onthou kitskonstabels?
bykans nege duisend
gekweek
ses weke opgelei
om opstand te onderdruk
die reëls te verbuig,

dit wat ongerieflik en ongemaklik
op die tong kom lê
stroop ons uit die taal
ons kapater die gewete die geheue gemaklik gerieflik
reduseer die diskoers tot

140 karakters lank

Kyk, die taal is soepel,

speels soos ’n hanslammer, lank voor die slagting

rooi rok bokkie-mooi
ah ah ah

baby, baby tjoklits-onskuldig
ah ah ah

hokaai stop die lorrie-verontwaardig
ah ah ah

jy vergeet
die taal was in Boipatong

(the place of hiding)
aan ’n stewel wat snags ’n deur in sy moer kon skop
of koevoet,
of in die loop van ’n pistool, knalgedemper
op die tweede verdieping van ’n vermeende skuilhuis
in ’n buurland
met twee verdwaasde kinders
wat wees wonder
oor die stillewe
van hul ouers se bloedbedruipte lyke op die vloer

die taal het ’n balaklava gedra
as die derde mag in die donker lokasies van teen-insurgensie
die sweterige hande met kapmesse in mynhostelle
het mombakkies aangesit die aangesig
Askari-swart gesmeer
handskoene
het die koverte vingerafdrukke van afsku verbloem

die taal was ’n fopmyn,

’n briefbom, fraai vermom.

 

Taal skend en skeld:

nigger, dyke

impimpi, Amaqheya

Sieg Heil.

 

Steeds:

“O wye en droewe land, alleen”

 

Desnieteenstaande:

“mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde.”

 

Want:

“Die geheue is ’n byekorf
vir die aandword van ons dae”

 

Dus,

die taaie tameletjie dan:
is dit taal of spreker wat die mandjie vol ballas
van die verlede moet probeer pypkan?

 

Eindnote:

Aanhalings kom uit gedigte van:

N P van Wyk Louw

Antjie Krog

Breyten Breytenbach

 

© Clinton V. du Plessis /2015

 

Clinton V du Plessis. Marilyn Monroe

Thursday, October 24th, 2013

Marilyn Monroe

 

In die Afrikaanse literatuur

is jy onder andere deur:

 

T T Cloete, Marilyn Monroe foto in blou,

Tom Gouws, Marilyn Monroe foto in grou,

Joan Hambidge, Monroe: foto in rou,

Lina Spies, Marilyn Monroe: foto in goud,

Lucas Malan, Lonely lady,

Peter Louw, Mej. Monroe in die oggend,

en nog

in vers gevang,

gekiek, momenteel, verewig.

 

Al wat die wêreld

van jou onthou,

 

Marilyn Monroe:

 

is nie die komplekse vrou

maar net die plooi, die vou.

 

Hollywood se opblaaspop,

bloot ’n lens se loops camel toe.

 

Oop, sonder dieper betekenis.

 

 

© Clinton V du Plessis / 2013

 

 

Clinton V du Plessis. Annie Leibovitz

Wednesday, October 23rd, 2013

Annie Leibovitz

 

Die lens word surrogaat-orgaan

groei tot ’n oog wat

penetreer,  

binnedring.

 

Dié oomblik vasvang

met die druk van die sluiter

dit wat verborge was

óópmaak, ontbloot, vaslê

die lae soos lippe

van mekaar wegtrek,

ontplooi,

soos net ’n vrou kan.

 

Whoopi Goldberg:

swart geskaap,

witgewas,

soos sneeu of wol,

die spatsels melk semenwit teen die dye

tog nog geslagloos,

gesig, bene, arms.

 

Demi Moore:

die baarmoeder swaar. 

volledig, twee handevol vrou,

geswolle met kind en melk,

sy behoort, ring aan die hand.

 

Dán, Susan Sontag:

die wrang glim- of grynslag,

regterhand in die hare

wat in kartels golf,

‘n gordyn weggetrek van die gesig.

 

Sonder grimering, jarige rolnektrui,

dáár op die grens,

in die grys tussengebied van menswees

gekiek, in swart en wit.

 

Jou kykers, waarin ek ’n teks probeer lees,

siekte as metafoor?

 

© Clinton V du Plessis / 2013

 

 

Clinton V du Plessis. Woordportrette vir die buitekamer

Tuesday, October 18th, 2011

Woordportrette vir die buitekamer:

 

Peter Snyders

 

Ek weet dat jy klein

is en bril dra

maar my bra

djy kyk ver-ver vooryt

met jou colourful soegenaamde oog:

djy weet van die lewe in trein en drein

en die mystery van die humane brein.

 

Ronelda S Kamfer

(the ties that blind)

 

ek scheme tupac shakur

is eerder jou broer,

as daai dude DJ O

of NP van Wyk Louw,

maar hoekom die slapende hond

aan die ketting op jou grond?

 

Diana Ferrus

Jy digbid, soos hy, vir die ontheemde gebeente
om terug te keer na die land se skoot
die Venus-vrou se onbetaamlike ontbloot
word die oerverhaal van die vreemde leemte
tussen mens en medemenslikheid.

Floris BrownWie hierdie digter se boedel wil beredder
sal worstel soos met die van ‘n naweekwedder,
sy verse soos slegte wedkaartjies minagtend opgeskeur-
hierdie digter is mos ‘n buiteperd van ‘n ander kleur.

 

 

Adam Small

Die kitaar
het geen snaar,
en die mond
nou net ‘n oop stil wond.

 

© Clinton V. du Plessis, 2011