Posts Tagged ‘Corlia Fourie onderhoud’

Onderhoud met Corlia Fourie. (Die goeie vrou en ander mites)

Thursday, September 13th, 2018

Corlia Fourie se debuutdigbundel, Die goeie vrou en ander mites,

het pas verskyn. Sy gesels met René Bohnen oor haar bundel.

 

Corlia, baie geluk met jou debuutdigbundel, Die goeie vrou en ander mites.  Jy is ‘n gesoute skrywer van romans, kortverhale, kinderverhale en dramatekste, sowel as joernalistieke werk. Is ek reg as ek sê dat jy hiermee nou al die genres voltooi? Hoe verskil dit vir jou, om in hierdie genre te publiseer. Wat wil jy sê wat nie in die prosa genres gesê kon word nie? Hoe sluit die gedigte by jou ander werk aan, of hoe verskil dit daarvan?

Ek werk meestal instinktief en sien soms eers agterna hoe die gedagte saam (of teen) die ander werk. Ek het werklik nie probeer om in ‘n groot hoeveelheid genres te werk nie. As ek aan iets dink wat dalk ontgin kan word, is die vorm ook daar. Ek het dus nooit oor gedigte gedink of gedroom nie, (hoewel ek baie lief is om gedigte te lees), maar een dag so tien jaar gelede nadat ek by Emmarentiadam in Johannesburg gaan stap het, was daar ‘n gedig in my kop en ek het dit neergeskryf – oftewel aan my rekenaar toevertrou. Ek het gedink dié gedig is ‘n eenling, maar maande later was daar weer iets in my kop. Nog steeds het ek geen idee gehad wat ek daarmee wou doen nie, want ek het nie gedink ek gaan ooit genoeg hê vir ‘n bundel nie. Ook was daar jare waarin ek met ander dinge besig was en nie eens een gedig geskryf het nie.

Die digkuns is baie anders as prosa omdat jy so min woorde nodig het en soveel daarmee kan sê. Dit maak dit vir my interessant, want dit voel vir my soos speel, selfs al skryf jy dit oor en oor. Om bv. ‘n roman te skryf, is werk, werk wat jou dag na dag besig hou, en vir my is konsentrasie baie moeilik. Ek moet gedurig tyd vir ontspanning inwerk – anders werk my brein net nie. Al rede waarom ek ‘n manuskrip vir ‘n roman voltooi, is omdat daar na baie maande al soveel werk in is dat ek dit nie sommer wil los nie. Dis makliker om ‘n gedig te los as dit nie wil werk nie en dan moontlik later weer daaraan te werk.

Ek dink dat my werk die sentrale tema van vrouwees belig, of dit in romans, kortverhale, kinderstories of dramatekste is – altyd is daar ‘n vrou of meisie as hooffiguur.

Kom ons kyk nou na die titel en die voorblad. As ek in ‘n verklarende woordeboek kyk, sien ek ‘n mite is “ou volksverhaal oor gode en godinne; ongegronde praatjie” En so tref ons inderdaad op bladsy 24 vir Poseidon, Medusa en ander aan. Ek dink vanuit die inhoud van die bundel dat die tweede definisiebetekenis net so sterk is as die eerste. Kyk ek egter na nog bronne, word dit duidelik dat daar grys gebiede en soms slegs geringe tegniese verskille is tussen mites, sprokies en fabels en dat hulle dikwels gemeenskaplike doelstellinge het. In jou bundel eggo bekende sprokies deurgaans in die verse, maar dan met ‘n kinkel of eindes wat op die kop gekeer word, of ironies aangewend word. Boonop bestaan die persepsie dat moderne mites en sprokies anders is as die tradisionele en dat nuwe idees oor die gemeenskap aan die gemeenskap oorgedra wil word.

Wat is jou gedagtes hieroor in die algemeen?

En: ‘n bietjie meer spesifiek oor hoe dit funksioneer in jou digbundel? Vertel ons ook iets van die voorblad, asseblief.

Ja, ek werk met altwee die definisies van die mite. Ook het ek soms mites en sprokies deurmekaar geroer en daar is nie ‘n duidelike onderskeid  tussen hulle in die bundel nie. My ma het kleintyd vir my sprokies gelees en my pa het vir ons kinders boeke oor mites gekoop. Dié “volksverhale” (en daar is natuurlik ook weer ‘n verskil tussen ‘n volksverhaal, ‘n mite en ‘n sprokie) kom ‘n lang pad saam met die mens en ek dink dat dit deel van ‘n mens se onderbewussyn is, soos Jung beweer.

Die meeste lesers ken sprokies en baie mense is ook vertroud met mites. Dit het my dus lekker beweegruimte gegee sodat ek na hartelus kon verander. Die oorspronklike gegewe werk dus ook nog in die gedig sodat dit die teks verruim.

Die omslagkunswerk dui op verskeie tradisies: eerstens is daar die idee van Maria, kenmerkend in blou soos in Middeleeuse skilderye en die hand is ook dié wat in Christelike skilderye van daardie tyd gebruik is. Maar in sekere Oosterese lande is diepblou ook die kleur wat prominente Moslemmans se vroue dra. Die verskillende kleure vir haar gesigskerm dui op moderniteit – dit wil sê sy word ‘n universele vrou, ‘n metafoor vir alle vroue wat worstel om aan die samelewing se vereistes te voldoen.

Ons tref ‘n hele aantal bekende vroue aan. Wie is hierdie vroue en hoekom betekenisvol vir jou? Hoe het jy hulle gekies? Wat verteenwoordig hulle?

Jy gaan dikwels verrassend te werk met hierdie bekende figure. Ek het heel lukraak die gedig oor Coco Chanel gekies om dieper te bekyk. Omdat ek die geskiedenis van haar kinderjare nie ken nie, het dit my belangstelling geprikkel dat jy haar en die nonne in ‘n klooster in een gedig saamgevoeg het. As ek aan Chanel dink, is dit in haar kenmerkende swart of spierwit klere. Google Images met eers “Coco Chanel” en dan met “nuns” spoeg presies daardie beelde uit –oor en oor swart en wit, swart en wit. Dis die eerste keer dat ek haar styl en ontwerpersidees ervaar as uitinge van haar spesifieke verwondheid. Is ek net onbelese op die gebied, of wat het jou hierdie idee laat ontgin? Dit is vir my treffend. Ek plaas die gedig hier. Waarna kyk jy as jy besluit om ‘n gedig oor ‘n spesifieke persoon te skryf? Wat is vir jou die aanknopingspunt?

 

Coco Chanel

 

So chic in haar swart rokkies.

So chic in haar wit rokkies.

So chic in haar swart-en-wit

rokkies.

 

Soveel geheime,

soveel stories,

soveel minnaars,

soveel aborsies,

soveel verlange

na haar afwesige pa

en soveel stilte

oor haar siek ma.

 

Maar nooit ooit

kon sy die donker gange

van die gehate klooster,

die dunlippigheid

van die morbiede nonne,

die skel lig deur hoë,

loodregte vensters ontvlug.

 

Ek stel belang in (bekende) vroue se lewens en lees dikwels biografieë oor hulle. Die vroue oor wie ek gedig het, was vir my interessant  en hulle verteenwoordig ‘n verskeidenheid vroue wat sin probeer maak uit hul lewens en hulle is meestal vroue wat hulle uit die eng konvensies van die samelewing losgewikkel het of hulle minstens probeer loswikkel.Baie van die vroue is kunstenaars of soos James Barry ‘n randfiguur. Oor James Barry het ek byvoorbeeld ‘n “Beeld van ‘n vrou” vir rooi rose geskryf. Hy/sy het nog lank daarna by my bly spook.

Coco Chanel is vir my interessant omdat sy so ‘n mode-ikon is en in ‘n spesifieke tyd (in die twintiger- en dertigerjare) die hele modewêreld op sy kop gekeer het met haar eenvoudige, gemaklike, dog treffende uitrustings. Nádat ek ‘n biografie oor haar gelees het, was dit vir my duidelik dat haar skeppende werk uit haar verwonding kom of dat sy dit (dalk onwetend)  in die skeppingsproses gebruik het.

Die verse is werklik baie toeganklik. Ek hou so van die heks in Johannesburg. Dit roep ‘n beeld op van ‘toil and trouble’ en sommer ook van Little Miss Muffet. Die spinnekop met zebrapote het beslis uit ‘n sprokie ontsnap. Ons het natuurlik ook die mite van Anansi in die agterkop, of die Keltiese simbologie van die spinnekop. Of ander skeppingsmites en webbe. Of doodeenvoudig ‘n spinnekop met gestreepte bene in ‘n slaapkamer in ‘n betonoerwoud! Huisie in die bos laat my dink aan Hansie en Grietjie. En ook aan Baba Yaga. Die volwassene onthou klokhelder haar kinderervaring van sprokies. Is daar van die gedigte wat met spesifieke sprokies en mites skakel? Is van die gedigte werklik outobiografies, soos die heks wat in Joburg met woorde bak en brou, dalk? Is hierdie vrou ook alle vroue?

Van die gedigte is outobiografies en ek wil nie presies aandui watter nie. Die leser moet maar daaroor besluit. Die “heks van Greymont” is ‘n spesifieke vrou, soos “Die oujongnooi”  en ek dink nie sy verteenwoordig alle vroue nie. Alle vroue is nie dieselfde nie, maar baie vroue probeer hard om “goeie vroue” te wees en dit behels nou nog goed soos om heel laaste in die ry te staan, ná kinders, man, huis, ouers, werk – nie noodwendig in daardie volgorde nie. Die idee van die selfopofferende “goeie” vrou kom uit patriargie en godsdiens. Maar die “:heks van Greymont” het al hopelik daaruit ontsnap.

Tragiese, hartseer of moeilike eindes van die narratiewe, of slotte van die gedigte is dikwels aan die orde van die dag. Word vryheid teen ‘n hoë prys verwerf?  Die leser kry sterk die indruk dat, van Chanel en Sylvia tot Skropvrou, daar eintlik geen onderskeid is in die bagasie of die smart en vreugde nie. Onreg teen en misbruik van meisies en vrouens word in die bundel direk aangespreek. Hoe het jy te werk gegaan om hierdie tema te aktiveer?

Soos ek reeds gesê het: Ek stel in vroue se lewens belang en lees graag nie-fiksie oor besondere vroue sowel as artikels oor vroue en hul probleme. Ek het nie voor die tyd besluit om ‘n bundel oor vroue te skryf nie; ek het ook nie van die begin af op die titel besluit nie. Ek het maar net gedig oor waarin ek belang stel en uiteindelik het ‘n patroon duidelik geword. Daarna het ek nog ‘n paar gedigte bygevoeg, spesifiek na aanleiding van die tema wat homself openbaar het – en ‘n paar gedigte “weggegooi” wat nie ingepas het nie.

Die lewe is vir die meeste mense moeilik en as jy van jou maskers ontslae raak, word dit nie rêrig makliker nie en is daar ook nie noodwendig minder klippe op jou pad nie. Jy lewe net eerliker.

Sprokies werk met argetipes en die psigologie se begrip van Gestalte. Ons weet ook dat daar genderstereotipes in sprokies is. Gegewe jou bundeltitel, het ek gewonder watter rol argetipiese mans of manlike stereotipes in jou verse speel en het jy gender kwessies in gedagte gehad om uit te lig?

Ja daar is baie argetipes in sprokies: die mooi onskuldige jong meisie, die sterk, dapper prins en die afskuwelike heks en in sprokies oorvleuel hulle met genderstereotipes – die meisies wat meestal passief vir die prins sit en wag, die prins wat so goed, sterk en slim is, die aaklige heks, wat seker maar die ouer vrou verteenwoordig, ensovoorts. In baie van my werk  (selfs kinderstories) keer ek dié stereotipes op hul koppe om. Wat mans in die bundel betref, is hulle heeltemal op die agtergrond en ek glo nie alle mans wil vroue onderdruk, verkrag of oor die algemeen sleg behandel nie. Maar ongelukkig is daar mans wat magsposisies misbruik om vroue te na te kom.

Bloedbande blyk betekenisvol te wees vir die digterspreker. Vashou en loslaat word ondersoek, ook van die eie kinders. Ons vind ‘n beleë beskouing op erkenning en verwydering, soos byvoorbeeld in die gedig op bladsy 49

Spoelklip

 

Ek is trots

op my pa.

Trots omdat hy

mense vir so lank

soveel plesier kon skenk.

Omdat die stories

uit hom stroom,

onderwyl ek sukkel,

stamel,

struikel.

Oor en oor,

oor begin.

 

Dog as kunstenaar

wil ek net wees:

’n gladde klippie

in ’n suiwer stroom.

Nie die stowwerige

splint van ’n steen.

 

Vergelyk dit met die gedig op bladsy 58, waar beide die goeie en die slegte geëerf word.

Dankie

 

Ek het nooit vir my pa dankie gesê

vir sy harde werk,

strengheid,

ons huis, kos en klere nie.

Ek het gedog dit kom my toe.

 

Nooit dankie gesê vir vakansies,

studiegeld,

ekstra boeke,

’n goeie voorbeeld

en die trots in sy oë

as hy na sy kinders kyk.

Ek het gedog dit kom my toe.

 

Ek het nooit vir my ma dankie

gesê vir al haar

oormatige sorg,

die verwyte,

die kritiek waarin sy my

ondergedompel het,

“vir jou eie beswil,”

sodat ek altyd nat en koud was.

Ek het gedog dit kom my toe.

 

Ek het nooit vir my land dankie gesê

vir die manne in swart pakke,

die vroue met streng monde,

die vrees vir mense van kleur,

die haat vir mense met ’n ander taal,

die angs van vuur-en-swael-preke.

Ek het gedog dit kom my toe.

Corlia, hoeveel wil jy vertel van die wil om ‘n eie self te wil wees en steeds dankbaar te wees vir nalatenskap? Ek sal bly wees as jy bereid is om uit te brei, dalk oor beide dit wat ons ontvang en ook dit wat ons gee.

Ja, die bande wat mense bind, is ook iets waaroor ek baie nadink. Ek is dankbaar dat ek grootgeword het in ‘n huis vol boeke. My lewe sou net soveel armer gewees het daarsonder. Ook was my ouers baie beskermend, heel moontlik oorbeskermend. Ek onthou ook heerlike vakansies waartydens ons feitlik die hele land verken het. Terselfdertyd is dit vir ‘n kind nogal moeilik as sy oor baie lewenskwessies heel anders dink as haar ouers, maar die ouers glo dat hul kind  nie die reg het op sy eie lewensbeskouing nie. So asof daar net een “regte” manier is om oor alles na te dink. Net een regte manier om te leef. Toe ek self  ‘n ouer word, het ek besef dat ek my kinders gaan verloor – en nou praat ek nie oor fisieke afstand nie – as ek hulle nie toelaat om hul eie mense te wees nie.

Bekende plekke en eksotiese plekke word vitaal beskryf – die Alpe, Morokko, Namibië en die Karoo word baie visueel vir die leser aangebied. Soms is daar verlange na een plek terwyl daar ook verknogtheid aan die huidige plek is. Vertel asseblief meer van jou belewenis van jou omgewing en hoe dit jou voed.

Vir my is my omgewing ‘n lewende entiteit en ek is lief vir  berge, velde en die see, maar ook vir stede.Ek het nog altyd met ‘n seer hart van een plek afskeid geneem om daarna weer net so verknog te raak aan ‘n nuwe plek – waarskynlik wanneer die nuwe plek deel word van die kaart van my hart. Wanneer ek skryf, moet ek weet hoe lyk die plek waar ‘n storie gaan afspeel, selfs al beskryf ek dit nie. As ek die regte gevoel van die omgewing kry, kan ‘n storie begin.

Laastens, deel met ons die gedagteprosesse agter die afdelings en hul titels, asook die skakeling in bundelverband. Is die narratiewe en gesprekke veronderstel om ‘n kausale of chronologiese eenheid te vorm of kan ons rond en bont lees vir dieselfde efek? Wat was jou doelwit met die versameling gedigmites?

Die mites was vir my belangrik omdat daar nog nie veel verander het oor hoe vroue deur baie eeue beskou is nie. Medusa was “skuldig” aan haar verkragting en so word daar vandag nog gesê dat ‘n vrou daartoe bygedra het deur haar kleredrag en liggaamshouding – dat sy die man daartoe aanleiding gegee het. Dis nie net mans wat so sê nie, baie vroue dink dit ook: Blameer die slagoffer.

Oor die afdelings: toe ek opgelet het dat ek baie gedigte het, waarskynlik genoeg vir ‘n bundel, het ek bymekaar gesit wat bymekaar hoort en van ‘n paar ontslae geraak wat nêrens wou inpas nie. Dit was nie moeilik om oor afdelings te besluit nie, die gedigte het hulleself aangemeld.

Die gedigte hoef nie noodwendig chronologies gelees te word nie, maar ek sou sê dat al die gedigte in die eerste afdeling saam gelees moet word om die gevoel te kry van wat hulle in hul somtotaal beteken. Maar al die gedigte kan ook op hul eie staan …

Corlia, baie dankie vir die onderhoud, ek wens jou en die bundel alles van die beste toe. Is daar ‘n laaste gedagte wat jy wil deel of ‘n spesiale gedig wat jy wil aanhaal, ten slotte?

Vir my was dit opvallend toe ek die hele bundel (weer) lees oor hoeveel gedigte met afskeid en verganklikheid te doen het. Dit voel of die hele bundel daarin gedoop is, maar ek het dit nie besef terwyl ek daaraan gewerk het nie.