Posts Tagged ‘Damon Galgut’

Philip de Vos. Aandagsgebreksindroom of pleinweg ADD

Saturday, November 6th, 2010
Die ding met inskrywings vir ‘n gereelde blog is dat jy later glad nie meer weet waaroor presies jy behoort te skryf en hoe gereeld jy dit moet doen nie. Skryf jy een elke dag of drie is daar die moontlikheid dat die juweeltjies waaraan jy vir ure gesit en worstel het die kuberruim in verdwyn sonder dat ‘n enkele woord ooit deur iemand gelees is. Lees ander mense jou gevleuelde woorde of is dit op die ou end net ‘n egoïstiese monoloog?
     
Maar, nou ja …
     
 Ek het eintlik ‘n baie oppervlakkige kennis en dit het glad niks met beskeidenheid te doen nie. Dit het miskien meer te doen met ADD; Engels vir Attention Deficit Disorder of in hoghe Afrikaans: Aandagsgebreksindroom. Ek het nooit eens geweet dat ek dit het nie tot die ander dag terwyl ek klere gestryk het en terselfdertyd na Cape Talk geluister het. Iemand bel toe in en sê dat een van die simptome (en die woord simptome klink ‘n bietjie te veel na iets waaraan jy dalk kan doodgaan), is dat jy gedurig aan die uitstel is.
     
En kan ek uitstel? Ja, beslis.
     
Jare gelede toe ek nog in Bloemfontein was, het ek vir Nico Smit ontmoet. Ons was albei nog op skool en dit was in een van die skoolgange van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein dat ek met hom begin praat het. Dit was in 1953 en hierdie vriendskap het gebly tot hy vroeër vanjaar op ouderdom 71 oorlede is.
     
Toe Nico sy B.A.-graad behaal by die destydse UOVS het, hy vir my as vriend gevra om ‘n paar foto’s van hom te neem. Die foto’s is toe wel in Bloemfontein geneem en ek het vir Nico later self afdrukke van hierdie foto’s in my tuisgemaakte donkerkamer gemaak. Die enigste probleem was dat dit in my donkerkamer in Kaapstad was en die ander een was dat dit ongeveer 25 jaar later was. En het Nico dit waardeer? Ja, verskriklik! Het ek vir hom die foto’s die volgende dag laat kry, was dit glad nie so besonders nie, maar ‘n kwarteeu later het hierdie foto’s ekstra, ekstra spesiaal gemaak.
     
En van Nico gepraat. Nico was seker die eerste persoon wat geweet het toe ek en my vriend Peter vegetaries geword het. En hierdie vegetaries-wordery van my was omdat ek in ‘n Ster Kinekor-teater gesit het en die rolprent Babe oor die pratende varkie gesien het. En toe daardie varkie sy mond oopmaak en vir sy ma vra of varke se enigste rede vir bestaan was om geëet te word, het ek daarna my mond nooit weer aan vleis gesit het nie, en dit is die reine waarheid.
     
Een aand, so 17 jaar gelede kry ek ‘n skielike oproep van Nico. “Wil nie vanaand by ons kom eet nie? Johannes het nou net ‘n heerlke beessert-sop gemaak.” En my woorde aan Nico was min of meer die volgende: “Nico, ek en Peter is nou vegetaries.” En ek hoor toe hoe Nico na die kombuis toe skree: “Johannes, hulle is nou vegetaries!” En ek hoor baie, baie duidelik hoe Johannes terugskree: “Wel, wat se kak is dit nou met hulle?”
     
Tog moet ek byvoeg dat Johannes in die jare daarna tog die heerlikste vegetariese disse vir ons voorberei het en sy Lebanese komkommersop van destyds is seker die lekkerste sop wat ek nog ooit geeet het.
 
Dis die lekkerte van ADD, jy spring sommer binne twee sekondes van die een onderwerp na die ander. Nooit óóit raak jy verveeld nie. Die enigste nadeel is dat dit party mense vreeslik vervies as ek sommer tussen-in oor ‘n hele ander onderwerp begin praat. Maar nou ja, dit is hulle probleem en nie myne nie.
 
Een ding omtrent ADD is dat jy nooit ‘n hele boek kan deurlees nie. Op bladsy drie reeds raak ek verveeld, en dan blaai ek na die eerste bladsy van ‘n volgende een. Dit is seker daarom dat ek soveel titels en skrywers se name ken, maar glad g’n idee het wat eintlik in die boek se binneste gebeur nie. Deon Meyer en Karen Brynard moet maar vergeet dat ek ooit een van hulle boeke gaan lees, want die goed is glad te dik om van Karel Schoeman nie eens te praat nie. En my boodskap aan Karin Brynard: Jou titel Plaasmoord maak my glad te bang ek sal seker nie eens so ver as bladsy drie kan kom nie. Ek lees veel liewer tot bladsy drie van Ena Murray se Die Oujongnooi van Polkadraai.
   

Ja, dit is die lekkerte van ADD. Jy hoef jou nie te lank by een onderwerp te bepaal nie.

Die volgende:

Ek ontmoet tog so met my omwandelinge ander mense, al is dit somtyds net vir ‘n minuut of tien.

Dinsdagoggend het ek foto’s van Zandra Bezuidenhout geneem. En die GPS in my Uno het my al die pad tot reg by haar voordeur geneem met ’n vrouestem wat sê: Destination on the left!

Daarna was dit Winand Grundling die hoogs begaafde jong orrelis met wie ek saam middagete in Stellenbosch se straatkafees gehad het. En om die waarheid te sê ek ken ook nie juis die orrel as instrument nie. Dit laat my te veel dink aan die ure wat ek as kind in die kerk gesit het en die dominee gepraat en gepraat en gepraat het en die orrel gespeel en gespeel en gespeel het. En vir iemand met ADD voel ‘n uur in die kerk soos ‘n honderd jaar. Die ander dag vra ‘n vriend egter: “Maar hoe kry jy dan reg om vir drie uur lank na Avatar te sit en kyk?”

En tot my skaamte moet ek erken, toe Winand dié middag my novelle Tot siens, Tommasino uithaal om geteken te word en ek voorin ietsie moois vir hom skryf, kon ek vir ‘n oomblik glad nie sy naam onthou nie. My gedagtes was seker al klaar by die volgende onderwerp: oor wat ek presies vir die volgende paar uur sou doen

O ja, ek het netnou vergeet om te sê ek lees darem so nou en dan ‘n boek deur. ‘n Paar dae gelede was dit die laaste bladsy van Damon Galgut se In a Strange Room. Die lekkerte van dié boek is dat die boek se reëls in dubbelspasie gedruk is en dat Galgut se sinne kort is. En vir my met my ADD was dit een van die roerendste en allenigste boeke wat ek al ooit gelees het. Eenvoud en diepte in kort gelaaide sinne. Intellektueel was ek nog nooit nie en ek wil dit ook nooit voorgee nie en wil daarom ook nooit gedigte of boeke probeer ontleed nie, want ontleding vat te lank en die volgende boek se eerste drie bladsye wag. Maar – vir dié wat slimmer as ek is (en ook die ander) – lees asseblief dié boek.

Dinsdagmiddag in Stellenbosch, het ek toe van 13:00 tot 17:00 tyd gehad om te wag om weer vir Piet Grobler te sien. Hy was vir ‘n baie vlugtige besoekie aan die land vir die bekendstelling van Marita van der Vyver se Die Mooiste Sprokies van Grimm saam met met Piet se soos gewoonlik, wonderlike illustrasies. En toe ek vir Piet, wat nou in Engeland woon, vra hoe dit voel om terug in die land te wees, sê hy. “Dis vreemd. Ek voel ek behoort nie daar ander kant nie, en ek behoort ook nie meer nie hier nie” En toe vertel hy my hoe hy verby sy ou huis in Paradyskloof gery het. En die wonderlike hoë heining wat die huis met die groen dak half en half weggesteek het, is nou kort gesnoei. Ja, ‘n jaar is verby en dinge het verander.

En in die wagtyd tussen 13:00 en 17:00 het ek in Protea Boekwinkel in ‘n leunstoel gesit en boeke van bladsy 1 tot 3 begin lees. Veral die fotoboeke met foto’s soos dié van David Goldblatt. Maar toe maak ek ‘n ontdekking: tussen al die boeke ingedruk is Jurie Els se Ver van Vrede. En ongelukkig moet ek nou bieg, ek is ook maar nes baie ander Suid-Afrikaners. Ek hou van skinder en is geseën met ‘n tikkie Schadenfreude en ja, ek lees ook maar Die Huisgenoot wat my buurvrou-viendin Vicky Taljaardt vir my aandra en wat ek so gewillig lees.

Ja, van Jurie Els gepraat. Nog voor al die Klay-stories begin het, was ek bewus van die man wie se gesig so gereeld op Huisgenoot se voorblaaie verskyn het. En ek kon nog nooit vat kry aan iemand wat die heeltyd glimlag nie, want ‘n smaail irriteer my verskriklik, om die waarheid te sê, vir party mense s’n, gril ek my half dood.

En daar sien ek toe Ver van Vrede op die rak, en ek wil nie hê Louis Esterhuizen moet weet wat ek so skelm-skelm in die Protea-boekwinkel sit en lees nie. Toe haal ek maar ‘n dik fotoboek van die rak af met Jurie Els se Ver van Vrede onder dié groot boek versteek. En elke keer as Louis verbystap, sug ek diep. Hy dink toe dis oor Paul Alberts se roerende foto’s wat ek sug, maar min het hy geweet dit was eintlike oor Jurie Els se manewales.

Later dié middag het ek ‘n uur of wat by Louis en Marlise aan’t huis deurgebring. Ons het buite in die tuin gesit en wag op die voëltjie wat so gereeld kom kuier het. Ons het sit en wyn drink. Daar was klaviermusiek met die wondelike andante-gedeelte van Shostakovich se tweede klavierkonsert uit die sitkamer agter ons. En die voëltjie het laatmiddag steeds nie opgedaag nie.

Toe het dit skemer begin word en moes ek met my heerlike nuwe GPS-speelding in my Uno na Oude Libertas toe ry vir Piet se boekbekendstelling.

En daar het ek met Wilma Janse van Vuuren en Hilton Paul begin gesels. En Hilton het vir my gesê ons moet eendag by Giovanni’s in Groenpunt gaan koffie drink. Ek was nog nooit daar nie, net omdat ek seker ‘n bietjie te skaam is om alleen daar in te stap. En ja, dit is tog lekker om nuwe mense te ontmoet

Vir iemand met ADD is die lewe nooit werklik vervelig nie.

Later dié naweek gaan praat ek dalk weer met my nuwe vriend Rob Kirsner oor ou MGM Musicals …

Die ander dag juis sê een van my oudste pêlle: Ja jy dink net die hele tyd aan jouself! En dit herinner my skielik aan ‘n miss Piggy cartoon.

Dit was min of meer die volgende: “I have talked much too much about myself already. Let us rather talk about you. Tell me, what do you think of me …

Amen

Desmond Painter. Damon Galgut en die vervlietende reis

Wednesday, September 8th, 2010

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made” — Damon Galgut, In a Strange Room.

Ek is terug uit die buiteland — en Victoriastraat is of groen van jaloesie, of dit is inderdaad lente in Stellenbosch! Ek wou meer gereeld uit Engeland blog, maar eers het die kongres (in Southampton) my aandag opgeneem en daarna (nog twee dae in Londen) het ek probleme met my skootrekenaar se webkonneksie ondervind. Ek sal wel nog af en toe hier na my reis terugverwys: ek wil byvoorbeeld graag ‘n paar bloginskrywings maak oor jong Britse digters.

Maar eers iets anders (of dalk ook nie…). My resensie van Damon Galgut se uitstekende In a Strange Room het eergister in Die Burger verskyn. Moenie dat hierdie boek by jou verby gaan nie. Galgut is ‘n uitstekende skrywer, en hierdie is een van die beste prosawerke uit Suid-Afrika tot dusver hierdie jaar. Myns insiens. Dit is ‘n fynbesnaarde, subtiele teks en ‘n diepgaande meditasie oor reis, eensaamheid en die ‘enigma van tuiskoms’ — om Naipaul aan te haal. Ek plaas dit hier vir diegene wat nie Die Burger te lese kry nie:

Damon Galgut op reis

Damon Galgut op reis

As jy onder die indruk verkeer dat Engelstalige prosa in Suid-Afrika altyd in die skadu van die Nobelpryswenners Nadine ­Gordimer en J.M. Coetzee sal staan, of dat dinamiese hedendaagse prosa hier te lande slegs in Afrikaans geskryf word, maak jy ’n baie groot fout.

Skrywers soos Ivan Vladislavic en Damon Galgut, om maar twee persoonlike gunstelinge uit te ­sonder, lewer werk van wêreld­formaat. Albei is meesters van ’n soort afstandelike, maar altyd deernisvolle perspektief op die Suid-Afrikaanse werklikheid.

Albei ontgin en strek die estetiese moontlikhede van Engels om ’n Suid-Afrikaanse werklikheid ná apartheid onder woorde te bring.

Boeke soos Vladislavic se ­Portrait with Keys, seker een van die skitterendste Suid-Afrikaanse prosawerke van die afgelope ­dekade, en Galgut se roman The Good Doctor hoort op enige ­ernstige ­leser se boekrak.

Dit kom dus nie as ’n verrassing dat Galgut hom met sy jongste boek, In A Strange Room, weer ­binne trefafstand van die gesogte Man-Bookerprys bevind nie. Met The Good Doctor het hy in 2003 reeds die kortlys gehaal, en sy jongste is onlangs tot die langlys van 13 boeke benoem.

In A Strange Room het as sub­titel “Three Journeys”. Die werk word op die flapteks getipeer as ’n ­roman, maar die drie verhale het oorspronklik as afsonderlike ­tekste in die tydskrif Paris Review verskyn. Hulle kan gelees word as outobiografiese reissketse, as ­lange­­rige kortverhale, en inderdaad ook as ’n novelle of roman in drie episodes.

Maar hoe jy hierdie boek ook al benader, Galgut verbluf met subtiele maar trefseker karak­teri­sering, en met die onder­­beklem­toonde, maar psigologies baie ­presiese oopskryf van inter­­per­soon­like verhoudings. Dit is ’n boek vir herlees, waarin die ­­­eint­like dramas onder die oppervlak speel. Dit is ’n boek vol een­saam­heid en verlange, maar ­sonder ­melo­drama of onnodige ­effusie.

Galgut vertel drie verhale. In elk is die verteller op reis –- in ­Griekeland, Afrika en Indië. In elk bevind die verteller hom in ’n ­komplekse, soms aftakelende ­verhouding met ’n reisgenoot. In die proses skryf Galgut eintlik ’n reeks meditasies oor die sielkunde van die reis, die soeke na immer ontwykende ­liefde en tuiskoms, en die aard van vriendskap en gemeenskap.

In die hand van ’n mindere ­skrywer kon die gegewens van die reis en gedoemde verhoudings maklik geyk geword het, maar by Galgut is dit nie die geval nie. Dit is verhale wat ’n mens bybly en, by tye, lank by ’n mens spook. Die laaste verhaal, “The Guardian”, het my katswink geslaan. Dit is een van die aangrypendste, hartseerste verhale wat ek in ’n lang tyd ­gelees het; en die siel­kundige ­profiel wat daarin ter sprake kom word absoluut outentiek ver­gestalt.

Galgut se evokasie van landskappe is deurgaans meer as bloot romantiese verfraaiing. Die vreemde landskap, en die in­heemse bevolkings, is ook nie bloot ’n skerm waarteen ’n uit­eindelik egosentriese, eksisten­siële ­proble­matiek geprojekteer word nie. Soos in Albert Camus se briljante verhaal, “Die Owerspelige Vrou”, word landskap en reis by Galgut bemiddelend vir die interpersoonlike en psigologiese ver­stol­pings en verskuiwings waaroor die ­verhale eintlik ­handel.

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made”. Só skryf Galgut aan die ­einde van ’n boek waarin hy die ­gebaar of beweging wat ons “reis” noem met bedrieglike eenvoud verken. In die proses lewer hy ’n teks wat die vervlietende aard van daardie reis beslis sal oorleef.