Posts Tagged ‘Danie Marais’

Onderhoud II. Danie Marais

Thursday, April 15th, 2010

‘n Toeris in eie land, Deel 2

Danie Marais in gesprek met Louis Esterhuizen

 

(Hierdie onderhoud is ʼn vervolg op Deel 1 en het steeds ook betrekking op

Danie Marais se essay, “Stilte in die hof!”)

 

 

Danie Marais

Danie Marais

Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ‘n BCom-graad met regsvakke. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, Wiskunde en Filosofie as hoofvakke. Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis in Kaapstad. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus: Poëzie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en Universiteit van Johannesburg-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ‘n misverstand, het in Maart 2009 by Tafelberg verskyn. 

 

In oorsese digkunste, veral die Amerikaanse en Latyns-Amerikaanse digkunste, bestaan daar natuurlik ‘n lang tradisie van aktuele digkuns met sy gepaardgaande harde en direkte aanslag op die leser. Normaalweg is dit ook meer toeganklike verse met veel minder resonansie as die gebruiklike liriese aanslag wat ons eie digkuns in ‘n groot mate kenmerk. Is ons plaaslike poësielesers en kritici ooit in staat om diesulke verse na waarde te skat, wonder ek meteens?

 

Laat ek uit die staanspoor sê: Die resepsie van poësie of enige kulturele produk bly vir my ‘n fassinerende raaisel. Ek is telkens verstom oor dinge wat gewild raak (onder die publiek en/of kritici) en net so gereeld oor boeke of musiek wat nie kopers of kritiese aanvaarding vind nie. Ek kan net beaam wat Margaret Atwood in Negotiating with the Dead: A Writer on Writing (2003) sê: Daar is net vier soorte boeke - goeie boeke wat verkoop; goeie boeke wat nie verkoop nie; slegte boeke wat verkoop, en slegte boeke wat nie verkoop nie.

Daar is ‘n element van geluk of toeval wat enige kunstenaar se loopbaan kan maak of breek. Neem byvoorbeeld punk-rock: Die Stooges, die MC5 en The New York Dolls was punk voor dit ‘n naam gehad het en hulle het almal kommersieel geflop en skouspelagtig privaat en op die verhoog uitmekaar geval. En toe, net twee jaar later, kom massa-werkloosheid en politieke onrus, en skielik is punk-groepe soos die Sex Pistols, The Clash en The Ramones sterre wat treffersparades verower. Die New York Dolls en die Sex Pistols het boonop nog dieselfde bestuurder, Malcolm McLaren, gehad. Dieselfde kan van die Beat-skrywers gesê word wat eintlik eers baie lesers in die volgende hippie-generasie gevind het. En sou Bob Dylan meer as ‘n kultusheld gewees het as dit nie was vir die folk-fanatiese blommekinders, die Viëtnam-oorlog en die revolusionêre tydsgees van die 60s nie? Ek twyfel.

Met ander woorde, of enigiets na waarde geskat sal word of hoegenaamd gelees sal word, is ‘n ope vraag. Aan die een kant meen ek dat die tyd ryp is vir poësie wat ons rasse-spanning en taalkwessies direk vanuit ‘n verwondbare, radikaal eerlike persoonlike hoek probeer deurgrond. Aan die ander kant is die behoefte aan eskapisme eers groot in sulke beroerde, onseker tye. In my ervaring was toegewyde poësie-lesers se behoefte aan eskapisme nog nooit so groot as die breër publiek s’n nie. Soos T.S. Eliot gesê het: “Humankind cannot bear very much reality.”

Maar wat die kwessie van resonansie betref: ‘n Harde, direkte aanslag in ‘n gedig oor ‘n aktuele kwessie sluit geensins resonansie uit. Soos my oorle’ eks- Duitse skoonpa altyd gesê het: “Jy kan doen net wat jy wil, jy moet dit net beter as die ander doen.” Neem byvoorbeeld hierdie gedig van Wisława Szymborska, vertaal deur Stanislaw Baranczak and Clare Cavanagh:

 

Vietnam

“Woman, what’s your name?”  ”I don’t know.”
“How old are you?  Where are you from?”  ”I don’t know.”
“Why did you dig that burrow?”  ”I don’t know.”
“How long have you been hiding?”  ”I don’t know.”
“Why did you bite my finger?”  ”I don’t know.”
“Don’t you know that we won’t hurt you?”  ”I don’t know.”
“Whose side are you on?”  ”I don’t know.”
“This is war, you’ve got to choose.”  ”I don’t know.”
“Does your village still exist?”  ”I don’t know.”
“Are those your children?”  ”Yes.”

‘n Gedig soos dié, wat ‘n aktuele kwessie in sy volle vervloekte verwikkeldheid uitbeeld, sal nooit oor resonansie hoef te kommer nie. Maar enige gedig wat tot ‘n lessie, ‘n eenvoudige stelling of eensydige propaganda vir ‘n spesifieke saak gereduseer kan word, is myns insiens nie poësie nie. Kinky Friedman se speurder sê altyd: “Put it on a bumper sticker for me.” En ek sê as jy ‘n gedig sonder enige verlies aan nuanse of betekenis op ‘n bumper sticker kan sit, is dit nie ‘n gedig nie, maar ‘n slagspreuk. [Hoewel daar sekerlik bumper stickers met poëtiese kwaliteite denkbaar is. Dalk moet 'n mens reëls uit gedigte meer gereeld as graffiti of bumper stickers aanwend. Naby ons woonstel in Bremen was daar graffiti wat die Duitse digter Gottfried Benn aangehaal het: "Die Krone der Schöpfung, das Schwein, der Mensch" (Die kroon van die skepping, die vark, die mens.")]

Ek ken nie die Latyns-Amerikaanse digkuns baie goed nie, maar die werk van die Chileen Ariel Dorfman (hier bekend as die dramaturg van Death and the Maiden wat onvergeetlik deur Polanski verfilm is) is vir my ‘n sprekende voorbeeld van iemand wat kop aan kop met politiek in sy poësie bots. Sy bundel In Case of Fire in a Foreign Land (2002) het my geruk soos geen koerantberig of dokumentêre film kan nie.

Hier is ‘n voorbeeld:

 

FIRST PROLOGUE:
SIMULTANEOUS TRANSLATION

I’m not so different from the interpreters 
in their glass booths 
at endless international conferences 
translating what the peasant from Talca 
tells about torture 
repeating in English that they put him on the cot 
stating in the most refined and delicate French 
that electric shock produces lasting transmissible effects 
finding the exact equivalent for rape by dogs  
pau d’arara I insulted the murderers 
finding a phrase without emotion 
that describes exactly the sensation
- please forgive any rhymes or rhythms you may find -
when the wall is at your back 
and the captain begins to say the word fire, 
trying to take the melodrama out of the sentences 
trying to communicate the essence and the feeling 
without giving in to the dark cloying current 
of what they are really saying 
they were torturing my son in the other room 
they brought back our compañero unconscious 
they put rats inside out compañera it’s Gods truth.
Not so different from them 
with their voices their dictionaries their notes their 
culture their going back home 
in Geneva in New York in the Hague, 
an intermediary, not even a bridge, 
simultaneous translation for good pay 
because we are specialists 
and the incredible thing is that in spite of us 
in spite of my river of interpretations and turns of phrase 
something is communicated  
a part of the howl 
a thicket of blood 
some impossible tears 
the human race has heard something 
and is moved.

 

Ariel Dorfman (Sien http://www.adorfman.duke.edu/ vir nog.)

 

Digkuns oor aktuele temas beteken nie noodwendig iets nie. Digters moet skryf oor die dinge wat hulle verruk of krap en snags wakker hou. As dit die maan of die geur van blomme is, is dit waaroor hulle moet skryf. En as jy voel dis uiteindelik net skoonheid wat oorbly en troos en wat derhalwe die moeite werd is om oor te skryf, is dit natuurlik ook ‘n legitieme siening. Om bloot opportunisties ‘n aktuele tema te pak, is futiel en treurig.

Dit sou egter dodelik vir ons digkuns wees, indien digters sekere temas wat wel aan hulle vreet, vermy omdat hulle bang is vir lesers en kritici se reaksie. Ek kan net namens myself praat wanneer ek sê ek het wel in die verlede uit vrees sekere gedigte wat ek eintlik wou skryf, liewer nie aangepak het nie.

 

By monde van Tony Hoagland se artikel “Negative Capability - How to talk mean and influence people“, maak jy die volgende uitspraak: ” Die digkuns van die afgelope dekades het gespesialiseer in empatie - ‘n onvoldoende strategie vir so ‘n emosioneel komplekse saak.” Myns insiens vorm hierdie verwysing die kern van jou pleidooi; uiteraard omrede dit neerkom op ʼn “konfronterende” benadering tot die leser. Verstaan ek dit reg? Maar, as teenargument: Is konfrontasie nie die uiterste vorm van empatie nie? En móét dié konfrontasie venynig en onbeskof wees, soos jy dit stel?

 

Die soort poësie waarvan ek (en Hoagland) praat, is in die eerste plek ‘n eerlike konfrontasie van die digter met sy eie ek; ‘n poging om sy verstrengelde polities onkorrekte binneste te ontwar - dit wat onder die oppervlak van die beleefde table talk oor ras en kleur aangaan. En as jy wil erns maak van die saak, verplig jy jouself om te wys wat jy opgediep het; om die foto’s wat jy as’t ware met jou diepsee-duikbol gaan neem het, te vertoon. Uiteraard leef daar nie net gedrogte daaronder nie, maar sommige van die foto’s kan jou en alle ander kykers skok.

Die konfrontasie (met die ek en die leser) hoef nie venynig en onbeskof te wees nie - dit moet bloot genadeloos eerlik wees, en genadelose eerlikheid grens maar dikwels in sosiale situasies aan onbeskoftheid en venyn, of kan maklik so verstaan word. Sodra jy daardie alewige wag voor jou mond verwyder, raak dinge potensieel gevaarlik.

‘n Gedig wat uit ‘n empatiese hoek geskryf is, kan natuurlik ontroer, maar dit maak selde die leser so ongemaklik dat hy oor sy eie teenstrydige emosies en opvattings begin nadink.

Deur die wag voor jou mond te hou, perk jy jou bewussyn en potensieel dieper begrip in. En goeie poësie veroorsaak, soos Owen Barfield beklemtoon het, ‘n verruiming van die bewussyn.

Hoagland verduidelik sy opvatting hiervan helder in sy kommentaar op sy gedig “The Story of White People” in The Washington Post. Hier is die kommentaar gevolg deur die gedig: ”The Story of White People” is one of a dozen or so poems I’ve written on the subject of race in America, that toxic reservoir over which our playgrounds and city halls are built. I’ve tried to make the poems explorations unhindered by the hedging and filling of political corrrectness or middle class Caucasian guilt. Most of the poems use a strategy of crooked speech to vocalize the deep uneasiness and confusion white Americans feel towards brown Americans; the poems try to have dark fun with the verbal taboos and truths of what one of the poems calls “Negrophobia.” After all, we all know and feel a lot more than we pretend to, and our arrested speech is the essence of our arrested consciousness. In “The Story of White People,” I thought I would write in the other direction, looking at what we generally feel now about the changing status of whiteness.

 

The Story of White People

After so long seeming right, as in
true, as in clean, as in smart,
being smart enough at least
not to be born some other color

after so long being visitors
from the galaxy Caucasia
now they are starting to seem a little

deficient; leached-out, spent, colorless;
thin-blooded, indefinite-
as in being too far and too long
removed from the original source
of whiteness;

suffering from a slight amnesia
in the way that skim milk can barely
remember the cow

and this change in status is
mysterious, indifferent, and objective
as when, at the beginning of winter,
the light shifts its angle of attention

from the mulberry to the cottonwood.
Just another change of season,
not that dramatic or perceptible

but to all of us, it feels different.

_______________________________________

Tony Hoagland, “The Story of White People” from “Unincorporated Persons in the Late Honda Dynasty.” Copyright 2009 by Tony Hoagland. Used by permission of Graywolf Press.

( Sien: http://voices.washingtonpost.com/shortstack/2010/02/poets_choice_the_story_of_whit.html)

 

Soos jy weet, is daar in die randgebiede van ons digkuns etlike (jonger) persone wat wél die tipe poësie skryf waarvoor jy hier agiteer, maar om die een of ander rede verkies hulle om hul toevlug na ánder genrès te neem; of hulle is gewoon nie geïnteresserd om tot die saamstel van ‘n bundel te kom nie … Waaraan sou jy dié (vermydende) toedrag van sake toeskryf?

 

Ek dink jy’s reg. Daar’s beslis mense wat hierdie tema pak buite die, kom ons sê maar by gebrek aan ‘n beter woord, poësie-establishment, maar dit is sekerlik nie altyd poësie met die selfkritiese genuanseerdheid van ‘n Hoagland nie.

Twee lirieke rondom dié kleurtema wat beslis ‘n groot impak op jongmense gemaak het, is Fokofpolisiekar se ”Oop vir misinterpretasie” (opgeneem in Nuwe Stemme 4) en Klopjag se “Nie langer”:

 

Oop vir misinterpretasie (’n uittreksel)

 

my skoene is deur vroueslawe in die Verre-Ooste gemaak

dis nie my skuld nie

 

my korttermyn-geheue verval

tersiêre opvoeding nietig verklaar

dit is nie my skuld nie

 

elke jaar gaan vinniger verby

moet nie bekommer nie

jou verbeelding spring jou voor

dit was nog altyd so

 

‘n mens kan baie praat

tog sukkel om sin te maak

almal weet perspektief

is nie ‘n speelding nie

 

my vriende se bediendes het hulle met liefde grootgemaak

dis nie my skuld nie

 

ek herinner myself aan my pa

hulle moes grens toe gaan

dis nie my skuld nie

 

net die skoon word vermoor

net die sag kry seer

net die jonk glo

soos wat net die jonk van hart kan glo

 

***

 

Nie langer

 

Ek weet ons was verkeerd

Dit was op BBC, CNN en Carte Blanche

Die feite lê nou op die tafel

Kan ons asseblief aanbeweeg meneer

 

Refrein:

Want ek sal nie langer jammer sê nie

Ek sal nie langer jammer sê nie

 

Ek sal agter in die tou staan

Ons reënboog op my mou dra

 

Maar ek sal nie langer jammer sê nie …

 

Ek glo egter nie hierdie jongmense vlug so seer na ander genres nie. Dis myns insiens ‘n minder bewuste proses. Baie van ons jonger sanger-liedjieskrywers het eenvoudig in die voetspore gevolg van mense wat hulle geïnspireer het - Koos Kombuis, Valiant Swart, Battery 9, Gert Vlok Nel ensovoort. Dis met ander woorde minder ‘n doelbewuste verwerping van die formele poësie, maar eerder ‘n poging om jouself te artikuleer binne die idioom van jou helde en die mense wat jou geroer en laat dink het.

 

Toe mense soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en John-Henry Opperman van Klopjag begin lirieke skryf het, het hulle hulself nie as digters gedefinieer nie en ‘n bundel was dus hoegenaamd nie iets waaraan hulle gedink het nie. Hulle het in terme van lirieke, songs en albums gedink. (Ek raai nou, as ek verkeerd is, kan hulle gerus die saak regstel.)

              

Dat iemand soos Toast Coetzer nog nie ‘n digbundel publiseer het nie, is ‘n jammerte, maar ek verneem sy gebundelde lirieke van The Buckfever Underground is gelukkig op pad. Ek dink egter ook in Toast se geval was dit meer die gevolg van sy bitter vol lewe as dat hy nie in ‘n bundel geïnteresseerd was nie.

 

In my ervaring moet die liriekskrywers, oftewel rock-en-folk-digters, eintlik maar net uitgenooi word na poësie-geleenthede, dan kom hulle.

 

Maar kom ons vra gerus ‘n paar van hulle of hulle hulself as digters sien en of hulle graag bundels wil uitgee.

 

Danie, ten slotte, baie dankie vir die geleentheid om oor dié belangrike aspek te kan gesels. Soos gebruiklik wil ons graag die onderhoud afsluit met ‘n vers van die “ondergehoude” persoon. Het jy dalk ‘n vers in jou laaikas wat as voorbeeld kan dien van die tipe vers wat jy in jou essay voor pleit? (Enige ander “voorbeeldvers” sal ook nuttig wees, indien jy dit sou verkies …)

 

Ek voel nie ek het al heeltemal geslaag om die soort verse waarna ek soek, self te skryf nie. Maar hier is ‘n onlangse poging in dié rigting: (Dis opgeneem in die nuwe versamelbundel Onse mense wat rondom Marié Stander se werk ontstaan het - sien: http://versindaba.co.za/2010/03/29/onderhoud-marie-stander/)

 

Lizzie (c) Marié Stander

Lizzie (c) Marié Stander

Lizzie is 16

Net buite Stellenbosch is Lizzie
16 en swanger en bruin,
want die harde feite
en die fyn swart-en-wit lyne
van ‘n kunstenaar se tekening val soms
saam met die verflenterde kaalvoet-cliché,
die geoefende knop in die keel
van ‘n betrokke wit gedig.

En die digter lees sy vers -
‘n netjiese tragedie by die lig van ‘n kers -
en die klein gehoor doen die hartseerwals
sonder om op ‘n enkele belese toon te trap,
terwyl Lizzie se maag suutjies groei
in ‘n bloedige Bolandse somer
tot die kind uit die raam van sy stillewe ontglip
met ‘n nuwe ongeletterde gil -
‘n oerkreet wat al die welwillende wit
spookmusiek
uitdoof.

 

En hier’s twee pogings uit Al is die maan ‘n misverstand (Tafelberg, 2009):

Bismarck en die tuinman

 

Hier waar ek lê
in lou badwater
voel ek hoe die somerhitte druk.
Ek sweet
onder my papnat gewasde hare.
Die sonbesies buite
klink soos ‘n sameswering;
herinner my
aan my kuiers by Leon met die groot ore
toe ek 11 was -
Leon, die enkelkind in die groot huis
met ‘n swembad en ‘n tennisbaan
en al die jongste plate en ‘n ouma
wat altyd tuis was
om koekies en koeldrank aan te dra
vir ons wat na Wham of Michael Jackson luister.

Op die tennisbaan
het Leon my gemaklik geklop,
maar toe ek eendag ‘n stel wen,
het hy sy raket op die grond gegooi
en binne toe gehardloop.

Op die vuurwarm tennisbaan
het ek onseker agtergebly -
die kombuis se sifdeur wat agter Leon toeklap;
die sonbesies wat te kere gaan.
Bismarck die Rottweiler -
‘n knorrige, opvlieënde bliksem -
het tussen my en die agterdeur kom staan.
Vir Bismarck was ek bitter bang.
Hy’t eenkeer na my gehap.
In my nagmerries
het hy altyd van agter gekom.
Met die grom en die omkyk
was dit te laat.
Sy kake het maklik om my ribbekas gevou,
die tande wat in my vleis wegsink
soos stewels in modder.
Hy’t my in sy bek opgetel -
ek kon my hopelose tennisskoene in die lug
sien spartel.
Ek was te bang om te skree.

Maar die tuinier het vir my geglimlag
en gewaai.
Ek kon nooit verstaan hoekom
die tuinman met my vriendelik is nie.
Leon het my vertel
hoe hy die tuinman bekruip
wanneer hy die gras sny,
en hom met sy BB-gun skiet.
Kon ‘n mens ‘n verskil
tussen my en Leon sien?
Was die tuinman so bang vir Bismarck
soos ek?
Het hy Leon gehaat
soos ek hom sou haat
as ek die tuinman was?
Dat die tuinman vir Leon eendag
met sy tuinvurk sou doodsteek,
was nie vir my onwaarskynlik nie.
In die somerhitte en my angs
is sy wit glimlag
tot ‘n hatige gryns verwring.
Die bloed in my ore
het harder gesuis as die sonbesies.
Ek was naar en duiselig,
maar niemand het kom help nie,
niemand het my op die tennisbaan sien staan nie.
Ek het vriendelik vir die tuinman gewaai.

Wanneer ek bang vir binne
en bang vir buite
soos vandag in die bad dobber,
weet ek glad nie hoe om uit te klim nie.

Buite patrolleer Bismarck die aarde.
Binne glimlag die tuinman breed.

 

 ***

 

Daar lê ‘n ou vrou in die reën

 

Daar lê ‘n ou vrou
in die gietende Woodstock-winternag
voor ons huis.

Toe ek die knoppie vir die garagedeur druk,
sien ek haar -
die outomatiese deur het haar
swetsend
tot op haar knieë gedwing.
Weer druk ek die knoppie
en dadelik syg sy
weer neer -
plat op haar maag,
‘n bondel ellende sonder skoene
in my kopligte.

Ek gaan in en bel my vriend Clive.
Hy sê: “Moe’ nou net nie
soos ‘n slegte whitey
die polisie bel nie.
As hulle enigsins opdaag,
gaan hulle haar net bliksem
en êrens aflaai
en dan sukkel sy môre
om haar pad terug te kry.
Sy sal orraait wees.”

“Maar sê nou sy verkluim?”

“Daar’s baie alkohol in anti-freeze -
bergies verkluim nie sommer nie.
Vat vir haar ‘n stywe dop.”

My Ierse vriend Pat het my jare gelede
in ‘n Duitse kneipe gesê:
“As jy wil hê iemand moet ‘n probleem
vir jou oplos -
kry ‘n Duitse ingenieur.
As jy wil hê iemand moet ‘n gedig
daaroor skryf -
vra ‘n Ier om hulp.”

Ek het nog altyd meer Iers as Duits gevoel,
maar ek wonder waarvoor deug Duitse digters
en Ierse ingenieurs?
Terwyl my vrou in die bad sit,
ons baba salig slaap
en ‘n ou vrou voor ons huis
in die koue reën
bly lê.

 

(c) Danie Marais

Lewies Botha. Dankie Danie M.

Wednesday, April 14th, 2010

 

Ek het in ‘n vorige blog geskryf oor my gedig  Die Akkerboom en my gewroeg oor die skryf daarvan; wat gee my die reg, wat het ek te sê , dit kan nooit eerlik wees nie. Wel om eerlik te wees, eerlikheid lyk my is die deurslaggewende kriteria, sou ek maar nie die moed gehad het om die volgende gedig te skryf as dit nie vir Danie se Essay was nie. Ek hoop die gedig vertel iets van waar ek, ja wit en man en voorheen bevoordeeld en boer en afrikaans en beneuk en apolities en in-die-army-gewees en draadsitterig en veertig en voorstedelik ‘n nawelstaarderige wannabe digter my bevind;

 

Nav. my gedig, Die Akkerboom

(Gedagtig aan Danie Marais en daardie Essay)

 

Soos ‘n angstige kleuter met ‘n vetkryt prentjie

mooi tussen die lyne ingekleur

het ek my akkerboom gedig se weergawes dikwels

vir jou gegee om te lees. Dis mos meesterlik.

Hiermee erken ek jou,

gee ek jou ook ‘n gediggie, ‘n plekkie my lief

tussen al die plaas en meerkat

koeie en kalwers verse van my.

 

Dit is nuwe grond wat ek sny;

My vrou was forced removed

weens die lelike government beleid

dit maak my mos current

en kan ek mos eerlik skryf

ek moet net probeer,

sonder om die woorde; wit of bruin te gebruik

of apartheid of district six,

en hoe vertaal mens multi-racial relationship

sonder dat opportunisme vinger wys

maar uitlos is min, dit is so digterlik on ontgin,

die lofbasuin se stink kan ek al sien blink.

 

Hoekom wil ek dig oor jou bruingeit nou?

God !, my vrou, wanneer was jy bruin vir my?

Toe ek my ma vertel jy is; “van Indiese afkoms”

om haar, of jou,  die verleentheid te spaar

of voor te berei op die Groot ontmoeting.

(wat het ek tog gedink? tog was jy ook besorg)

Wel, sy was okei toe sy uitvind jy is Katoliek

dis darem nie te heidens nie.

Ek het skeefweg eenkeer op straat gehoor; “koelie meid”

maar ek kon myself verbeel het.

 

Jy het toe gehou van my akkerboom gedig, gesê;

“Dit was net so, ek kan dit proe”

 

Nes jy ken ek; die vrolike buurt

nes Distrik Ses soos op TV al gesien;

Jazz trompette, Kaapse klopse,

kinders wat speel in strate

‘n hele bedrywigheid, ek weet mos;

soos die fotos in Drum van Sophia Town.

(Ek moet bely ek moet nog Triomf  lees)

Ek kan my mos ook verbeel wat dit was om te trek

soos ons destyds Durban toe is met die treklorrie

volgestapel, ek was so hartseer toe ek sien my Pa

het die tropiese vissies op die gras uitgegooi.

 

Ek het jou nog nie vertel nie, ek het toevallig,

okei, ek krap soms rond tussen jou goed,

jou verhaal van Northend gekry;

 

“You always say; why don’t you write the stories of  Northend?”

 

Ek is die aangeklaagde stilte in die hof;

skrap “vrolike buurt “ uit gedig. 

Ek sal weer moet probeer

die keer met woorde soos;

venyn en pyn, bitter en seer

drank en moleste,

wrang en bang, arm en darem.

Ek is jammer my vrou, skuldig

soos jy sê; wit ongevoelig.

Onderhoud I. Danie Marais

Monday, April 12th, 2010

’n Toeris in eie land, Deel I

Danie Marais in gesprek met Louis Esterhuizen

 

(Let wel: Hierdie onderhoud het betrekking op

Danie Marais se essay, “Stilte in die hof!”)

 

 

Danie Marais

Danie Marais

  

Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ’n BCom-graad met regsvakke. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, Wiskunde en Filosofie as hoofvakke. Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis in Kaapstad. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus: Poëzie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en Universiteit van Johannesburg-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ’n misverstand, het in Maart 2009 by Tafelberg verskyn.

 

 

 

 

 

 

Danie, ten eerste – veels geluk met ʼn belangwekkende essay oor die stand van ons digkuns. In ʼn persoonlike opmerking het jy aan my genoem dat jy lank gewroeg het aan die skryf van dié betrokke essay … Wat was dan die katalisator wat jou daartoe genoop het om dié pleidooi  teen die kerkdeure vas te spyker?

 

Baie dankie vir die kompliment Louis, maar ek weet nie lekker waar om te begin met ’n antwoord op jou vraag nie. Want dit was geen enkele katalisator nie – dis ’n ding waaroor ek al lank broei.

Iets wat beslis ’n rol gespeel het, is my betrokkenheid by die Beeld Jeugberaad in die afgelope  vyf jaar. Elke jaar moedig ek en die ander gespreksleiers (Andries Bezuidenhout is ook ’n gereelde medewerker) al die 17-jarige toekomstige hoofseuns, hoofmeisies en toppresteerders aan om betrokke te raak by die gesprekke in Suid-Afrika; om nie uit die staanspoor te aanvaar dat hulle as lede van ’n Afrikaanssprekende minderheid onwelkom is by provinsiale of nasionale instansies waar besluite geneem word nie.

In 2008 het ons spesifiek met die jongmense gesels oor die refrein van Fokofpolisiekar se “Antibiotika”: “Ek’s net ’n toeris in my geboorteland.” [Terloops, Frikkadel (Zach du Plessis) het reeds in die destydse Vetkoekpaleis ’n soortgelyke sentiment verwoord toe hy min of meer gesê het: “Hoekom sal ek oorsee gaan, as ek saans in my eie woonkamer voor die 7-uur-nuus soos ’n vreemdeling kan voel.”] Ons het met die deelnemers die toeriste-sindroom bespreek wat volgens die vooraanstaande Poolse sosioloog Zygmunt Bauman ’n wêreldwye verskynsel is onder landsburgers wat op verskeie vlakke vervreem voel van besluitnemingsprosesse en ’n demokraties verkose regering wat soos ’n alien mother ship – ver, intimiderend en onbereikbaar – bo hul koppe dryf. ’n Toeris het regte, maar geen noemenswaardige pligte of verantwoordelikhede nie.

Ek het aangevoer dat dit nie net wit mense is wat in Suid-Afrika só voel nie – om deel te word van ’n nuwe, inklusiewe bestel moet almal sekere kulturele en taalvoorkeure by die huis los en fokus op ooreenkomste eerder as verskille binne gedeelde demokratiese ruimtes. As beswering van hierdie toestand van apatie en noord kyk – in vele gevalle letterlik met die oog op latere emigrasie – het ek aan die hand gedoen dat ’n mens ten minste probeer om jou in forums buite jou eie gemaksone te begeef omdat jy waarskynlik dan ander ervarings sal hê om jou vooropgestelde idees aan te toets.

En deels is ek ook oortuig hiervan. ’n Voorbeeld: Dit was nog altyd my droom om musiek oor die radio te speel en mense voor te stel aan al my onder die radar-helde wat in ’n regverdige wêreld ryk en beroemd sou wees. Omtrent drie jaar gelede het ek en Clive Smith toe ons konsep vir The Unhappy Hour by die gemeenskapsradiostasie Bush Radio in Woodstock gaan voorlê en daar het ’n begeesterde Zane Ibrahim, die destydse uitvoerende hoof van Bush, ons ’n kans gegee. Hulle wou boonop hê ons moet die program in Afrikaans aanbied, en nie in Engels soos wat ons aangeneem het nie. Sedertdien het ek agtergekom dat ware geluk die speel van sad songs op ’n Sondagaand is, maar ook dat ’n mens wel kan deel word van ’n gemeenskap wat nie oorwegend uit wit gesigte bestaan nie. Ek voel vanweë my betrokkenheid by Bush meer deel van Woodstock as wat ek ooit deel gevoel  het van Sunnyside in Pretoria, waar ek nog begin 2006 gewoon het. Deur Bush het ek mense ontmoet soos Wanda, die hip hop DJ  wat ook binnekort ’n jong swart mediese dokter gaan wees; mense wat my hoop gee vir Suid-Afrika en bevestig dat nie ons of hulle ooit almal so was nie. (Toast Coetzer en Erns Grundling het intussen ook lid van die Unhappy-span geword en ek is seker hulle sal kan dit beaam.)

Maar ja, dan is daar ander ontstemmende ervarings waaroor ek nie met die jeugberaaddeelnemers praat nie – soos byvoorbeeld Poetry Africa 2007, waar ek skielik intens bewus was van my ondraaglike Afrikaanse witgeid; waar ek wel by tye gevoel het soos ’n polities verdagte toeris in my geboorteland – ’n man wat altyd in sy wit vel en kloustrofobiese taalgemeenskap vasgekeer sal bly, maar vry is om hom te verkyk aan die mense en plekke om hom. En dis nie oor dit wat die vriendelike organiseerders of die oorwegend hartlike swart digters gesê het nie, maar oor al die onderliggende spanning, die verstikkende las van die geskiedenis, die klein insinuasies en innuendo’s, die vanselfsprekendheid waarmee sommige “goeie” linkse, aktivistiese buitelanders Afrikaans afmaak en minag wat jou teruggeboender in die hok van jou moedertaal en erfskuld laat voel.

Ek het, byvoorbeeld, voor die opening van die Poetry Africa-fees saam met ’n wêreldwyd gevierde Keniaanse digter van Indiese afkoms na ʼn radio-stasie vir ’n onderhoud gery. Ons het heel gemaklik oor ditjies en datjies gesels en toe vra sy my in haar hoogdrawende, gestudeerde Britse aksent of ek vanaand in Afrikaans gaan voorlees. Ek sê toe ja, maar daar sal ’n Engelse vertaling op ’n doek geprojekteer word. O, sy sien uit, sê sy, want ’n Duitse vriend het vir haar gesê Duits is die derde-lelikste taal in die wêreld. Tweede-lelikste is Nederlands, maar die lelikste is Afrikaans en sy’s nuuskierig om te hoor hoe dit klink. Nou wat sê jy ná so íets? Ek kon nie ’n woord uitkry nie.

Ek is weer herinner aan die woorde van ’n aangeklamde Ierse vriend een aand in ’n kroeg jare gelede. “White South Africans are like the tuna,” het hy gesê. “People would only stop eating tuna to save the dolphins caught in the same net. But nobody gives a shit about the tuna.” (Nou ja, intussen gee mense wel deeglik om vir die blouvintuna, so dalk is daar tog hoop vir die onaansienlike vis.)

En dan gaan lees jy die aand voor en waar jy nog die middag gevoel het (in die woorde van Fernando Pessoa in “The Tobacconist”) soos ’n hond wat deur die eienaar geduld word omdat hy skadeloos is, voel jy skielik soos ’n sirkusbeer of die olifantman en jy weet nie of dit nou net jou paranoia en neuroses is wat met jou mors nie en of dit net die nare ondervinding van die middag is nie, maar hoekom lyk almal nou skielik so vyandig. En jy begin wonder  of Afrikaans werklik so grusaam glottaal klink vir nuwe ore? Knetter die Afrikaanse konsonante altyd soos vanaand soos masjiengeweervuur? En hoekom voel jou gedigte skielik so onverstaanbaar, so asof die gehoor lankal die “mute”-knoppie gedruk het?

Maar die verwarring eindig nie daar nie. Ná die tyd word ek totaal verras deur verskeie opreg waarderende reaksies. ’n Skaam swart student kom vra vir my of sy êrens die Engelse vertaling van my gedig oor my bipolêre nefie se dood aan ’n oordosis kan kry. “It is the story of  my family,” sê sy. En die groot, jolige jong swart student wat ons bussie hotel toe bestuur, kom wens my geluk met die voorlesing. “Thank you, thank you,” sê ek kinderlik dankbaar, “I felt so strange.” En sy lag kliphard en lekker: “It’s just white guilt, man. We’ll make a Zulu out of you yet.”

En die punt wat ek met die lang relaas wil maak, is die volgende: Ek sukkel my gat af om te verstaan wat in hierdie land aangaan, maar ek kry dit nie reg nie. En gewoonlik skryf ek oor die goed wat my ten diepste pla, veronseker en met gemengde gevoelens vervul, maar hoekom het ek tot nou toe nog nie oor Poetry Africa geskryf of enige soortgelyke ervarings nie? Hoekom neem ek so dikwels nie aan gesprekke oor byvoorbeeld die taalkwessie deel nie, terwyl ek elke jaar die jeugleiers aanmoedig om dit te doen? Toe ek nog in Duitsland gebly het, het ek doelbewus my mond gehou oor my indrukke van “toestande” in Suid-Afrika. Daar is niks irriterender as ’n expat wat vir mense probeer vertel in watter land hulle eintlik woon nie, het ek geredeneer. Maar nou is ek al byna agt jaar terug in Suid-Afrika en ek bly steeds tjoepstil oor sekere situasies wat heftige innerlike konflik tot gevolg het.  [En ek vermoed verskeie ander wit Afrikaanse (en Engelse) digters doen dieselfde.] Ek swyg omdat ek bang is om te gaan krap in daai “paradoxical complexities of privilege, shame and resentment” waaroor Hoagland in sy essay “Negative Capability” skryf; omdat ek nie deel wil wees van die aanstigters wat groepe in Suid-Afrika verder van mekaar af dryf nie; omdat ek nie – soos hierdie lang, selfregverdigende betoog seker ook duidelik maak – as reaksionêr afgestempel wil word en dan terug hok toe gejaag wil word nie. Ek wil tog nie hê ’n fees soos Poetry Africa moet my nooit weer uitnooi nie – dit was per slot van sake ’n belangrike ervaring wat my opnuut laat nadink het oor “waar ek staan”.

Hoagland se werk, Major Jackson se essay “A Silence Big and Black”, die onlangse werk van Anton Kannemeyer en die skrikwekkende polarisering van die Suid-Afrikaanse samelewing het my egter oortuig dat dit die moeite werd is om na te dink oor die redes vir my en ander wit digters se stilte; en dat ek behoort te skryf oor dinge wat aan my krap en vreet  – nie omdat dit my plig as  digter of verantwoordelike burger of wat ook al is nie, maar omdat ek nog altyd soos Charles Bukowski geglo het: “The first thing writing should do is save your own ass. If it does this, it will automatically be juicy, entertaining.”

Kortom, ek stem saam met Ronelda Kamfer: “êrens diep binne my / weet ek waar ek staan”. Maar waar ek staan, maak my bang en dit maak my opstandig, want dit voel of ek deur Die Geskiedenis aangesê is om daar, in die hoekie, te staan en ek wil êrens heen met my woede en frustrasie, maar dan begin ek my skaam oor al die seëninge wat ek blykbaar nie wil tel nie en ek raak ontsteld oor ander Afrikaners se hatigheid en op die ou end gebeur daar nie eens ’n gedig nie.

 

Inderdaad karteer die digkuns ook die emosionele landskap van ʼn bepaalde taalgroep. Lees ek jou essay korrek indien ek dit sou saamvat as ʼn pleidooi vir meer aktuele temas in ons digkuns? Voel jy inderwaarheid dat ons digkuns “vals” – en daarmee gepaardgaande irrelevant – geword het, omrede ons digters die dwingende sosio-politiese temas met weldeurdagte en vernuftige verse probeer systap, eerder as om daaroor te skryf?

 

My essay is beslis nie ’n ongekwalifiseerde pleidooi vir meer aktuele temas in ons digkuns nie.

Laat ek dit onomwonde stel: Ek glo nie daar bestaan ’n inherente etiese plig wat enige digter  of ander kunstenaar noop om hom sosio-polities, in sy werk of elders in die openbaar, uit te spreek nie. Inteendeel, ek was jare lank geïrriteerd met verskeie Europese intellektuele wat as vanselfsprekend aanvaar dat Suid-Afrikaanse kunstenaars sosiaal betrokke moet wees, terwyl skeppende geeste uit die sogenaamde Eerste Wêreld hulle blykbaar met enige postmoderne foefie of absurde vorm van konseptuele nawelstaardery mag besig hou. So ’n houding impliseer tog dat die ryk demokrasieë van die noorde eintlik alle sosio-politiese probleme opgelos het en daarom nou vry is om te doen wat hulle wil, maar in Afrika is ons so desperaat, agtergeblewe en in die knyp dat wroeging voorgeskrewe is.

Goeie kuns is nooit propaganda nie en ek beskou ons digkuns ook nie as vals nie. Ek meen bloot daar is ’n opmerklike  swye oor die ras- oftewel kleurtema – ’n tema waaroor baie digters in die struggle-jare veel te sê gehad het. En hierdie swye is wit, want bruin en swart skrywers skryf openlik oor hul woede, pyn en frustrasie.

Die redes en moontlike gevolge vir hierdie stilte is interessant omdat dit myns insiens iets sê oor waar die denkende, digtende en lesende  wit Afrikaner hom of haar bevind. En dit is ’n bitter verwarrende plek.

Met ander woorde, ek sal bly wees as ons digkuns die huidige emosionele landskap van ons taalgroep nog meer volledig en waagmoedig wou karteer. Nie omdat dit noodwendig sake sal verbeter nie – ons weet almal die poësie is ’n nis waaraan groot korporasies, fundamentaliste en politici hulle min steur – maar omdat ek graag beter wil verstaan, omdat dit my en ander soos ek sal help om sin te maak van hul tentatiewe plekkie hier aan die suidpunt van Afrika en omdat ons dalk uiteindelik meer van ’n oop en minder agterdogtige gesprek sal kan aanknoop tussen wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes en -skrywendes.

 

Na aan die begin van jou essay sê jy: “Die gevoelighede oor die verlede lê nog te na aan die oppervlak van ons verdeelde samelewing.” Aangesien die lesers in groot mate bepaal watter bundels, en watter tipe poësie, deur die uitgewers as “bemarkbaar” beskou word, stuit ʼn mens voor die vraag of ʼn digkuns van die aard wat jy propageer, inderdaad móóntlik is in ons teenswoordige situasie van verdeeldheid en onsekerhede? Of is jy van mening dat sodanige poësie  juis nóú ʼn noodsaaklikheid is; sonder aansien des persoons, óf verkope?

 

Ek dink daardie gevoelighede lê nog te na aan die oppervlak vir Suid-Afrikaners om oor ’n inheemse grappie soortgelyk aan dié een oor die Europese hemel en hel te lag, maar ek glo beslis ons poësie-lesers is volwasse genoeg om gedigte soos dié van Hoagland te kan lees en waardeer.

Die digkuns wat ek propageer, word nie noodwendig deur ’n aanslag gekenmerk wat aanstoot gee nie. Dit vra bloot om ’n ander invalshoek. Die groot verskil tussen Hoagland en Kannemeyer se werk en die meeste ander kuns oor die tema is dat hulle nie die outobiografiese “ek” ontsien nie. Die meeste politiese betrokke werk oor die kleurtema kom vanuit ’n aktivistiese, betogende of ’n empatiese hoek. Deurdat Kannemeyer homself deurgaans as ’n wit Kuifie-figuur teken, maak hy homself deel van die verwarrende gemors. Hy gee implisiet toe dat sy bewussyn nog deurspek is van stereotipes en dat hy self in die oë van die ander gevange bly in die karikatuur van die wit kolonialis. Hy hou dus op om die empatiese, diep besorgde ooggetuie of agiterende kommentator te wees, maar word ’n problematiese, verskeurde deel van die groter, gekompliseerde prentjie.

Poësie waarbinne die ek-spreker as onbetroubare aandadige die mynveld van rasseverhoudings verken, maak die digter en leser ongemaklik, maar dit hoef nie noodwendig ’n negatiewe uitwerking op verkope of menseverhoudings te hê nie.  Ek praat uiteraard nie van haatspraak of blatant rassistiese tirades nie.

 

In jou essay maak jy die (veralgemenende) opmerking dat die aanspreek van aktuele temas soos die spanning rondom tale, kleure en kulture “stil” geword het sedert die 1994-verkiesing … Watter faktore, volgens jou, is in hoofsaak verantwoordelik vir dié “stilswye” en in welke mate verskil dit van vóór 1994?

 

Oor sommige van die redes het ek reeds in die essay gespekuleer, maar een belemmering is sekerlik die afwesigheid van ’n duidelike vyandsbeeld, soos die ou regime. Dis moeilik om tegelyk ’n ontstoke rebel of taalstryder én deel van ’n ekonomies bevoorregte minderheid binne ’n bedreigde spesie met ’n slegte naam te wees. Sodra jy bewus word van die land se enorme onderwyskrisis, kruipende armoede en werkloosheid, begin jy wonder of dit nie kleinlik is om al jou energie en tyd aan ’n taal- en kultuurstryd te bestee nie. Of moet jy jouself eers as Afrikaner en dan Suid-Afrikaner definieer? Maar hoe kan jy as Afrikaanse skrywer en/of joernalis anders as om ten diepste oor die toekoms van die taal begaan te wees?

’n Stryd vir Afrikaans is ook, soos Hunter Kennedy in Boeke-Insig gesê het, ’n stryd teen globalisering. Die wêreld beleef tans ’n massa-sterfte van tale namate die aardbol krimp en die groot handelstale al hoe sterker word. ’n Mens moet jou dus nie net plaaslik definieer nie, maar ook binne ’n vinnig veranderende globale konteks.

Voor 1994 kon Afrikaanse digters skryf met regverdige woede en die hoop op ’n beter, bevryde, demokratiese môre, maar nou twyfel ons heimlik aan ons bestaansreg en oorlewing binne daardie demokratiese bestel.

Ek glo al hierdie dilemmas lê digters lam. Maar dalk projekteer ek net? Miskien praat ek maar net namens myself?

 

[Word vervolg]

Danie Marais. Stilte in die hof!

Wednesday, April 7th, 2010

 

Hulle sê in die Europese hemel is die Britte die polisiemanne, die Duitsers die ingenieurs, die Franse die kokke, die Italianers die minnaars en die Switsers organiseer alles. In die Europese hel is die Duitsers die polisiemanne, die Franse die ingenieurs, die Britte kook, die Switsers is die minnaars en die Italianers organiseer alles.

Toe ek in die laat 90’s in Duitsland gebly het, was dit ’n grappie wat ek gereeld by verskeie partytjies gehoor het. Almal kon daaroor lag en niemand het dit as rassisties of hatig beskou nie. En laat ons gerus onthou, hierdie volke het mekaar oor eeue in verskeie oorloë afgemaai. Maar dit sou moeilik wees om ’n Suid-Afrikaanse vertaling vir dié grap te vind wat niemand aanstoot gee nie. Die gevoelighede oor die verlede lê nog te naby aan die oppervlak van ons verdeelde samelewing. Om die waarheid te sê, 16 jaar ná ons eerste demokratiese verkiesing klou ons in die parlement, om die raadstafel, in restaurante en by die vergaderings van ouer-onderwysersverenigings desperaat aan die goeie tafelmaniere van politieke korrektheid, terwyl die kakkerlakke van ou wrewel, wantroue en haat so hard onder die vloerplanke lawaai dat ons mekaar dikwels skaars kan hoor.

Die bruin digter Ronelda Kamfer sê dit sekuur in die eerste strofe van “Waar ek staan”, ’n gedig uit haar bekroonde debuutbundel Noudat slapende honde (Kwela, 2008):

            Nou sit ek om ’n tafel
            met my voorvaders se vyande
            Ek knik en groet bedagsaam
            maar
            êrens diep binne my
            weet ek waar ek staan

’n Mens sou dink hierdie spanning tussen tale, kleure en kulture wat so ’n sentrale rol in die Suid-Afrikaanse samelewing speel, behoort ’n tema te wees waarom baie kontemporêre Afrikaanse poësie draai, maar sedert die 1994-verkiesing het dit stil geword.

Ek het so pas saam met Ronel de Goede die bloemlesing Nuwe stemme 4 (Tafelberg, 2010) saamgestel – ’n bundel waarin ongepubliseerde digters bekend gestel word. In die keurproses het ons die werk van meer as 250 digters gelees wat elk sewe gedigte ingestuur het. Benewens enkele verse wat op blatant paternalistiese wyse na ’n vroeër bestel hunker, of geweld, misdaad en veral plaasmoorde tematiseer, het die meeste (oorwegend wit) digters hulle met die natuur, godsdiens, liefde, familie, intertekstuele gesprekke, ars poetica of intieme herinneringe besig gehou. Ons kon weliswaar gedigte van André Trantraal en Sydda Essop opneem wat deels ’n skreiende blik gee op die sielkundige letsels wat die verlede in bruin gemeenskappe gelaat het, maar oor rassisme swyg die wit digters.

En dis nie ’n verwyt nie – ek stik self aan my eie verlammende mengsel van skuldgevoelens, vrees en ambivalensie wat hierdie tema betref.

Literêre temas behoort nooit voorgeskryf te word nie, maar wanneer rasse-spanning en –haat steeds so duidelik ’n potensiële gevaar vir daardie einste demokrasie inhou, is dit tog ’n vreemde, benoude stilte. En is die poësie nie juis ’n ruimte waarin die individu die volle skrikwekkende kompleksiteit van sy menslike verstrikking kan verken nie?

Major Jackson

Major Jackson

Hierdie verskynsel is egter nie net ’n wit Suid-Afrikaanse een nie. In sy essay “A Mystifying Silence: Big and Black” (American Poetry Review, September/Oktober 2007 –sien: http://poems.com/special_features/prose/essay_jackson.php) kla die Afro-Amerikaanse digter Major Jackson oor wit Amerikaanse digters se swye oor die tema van ras. “Hoekom,” vra hy, “weerspieël en hou poësie nie boek van die evolusie van houdings ten opsigte van ras, soos wat Amerikaanse fiksie van Harriet Beecher Stowe se Uncle Tom’s Cabin tot Philip Roth se The Human Stain dit doen nie?”

Dieselfde kan oor die Afrikaanse prosa en poësie gesê word. Daar was Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie (Kwela, 2000) met die hoendervleis-gedig “ná grond-invasions in Zimbabwe, die bloemlesing Nuwe verset (Protea, 2000) saamgestel deur Daniel Hugo, Leon Rousseau en Phil du Plessis, Brief uit die kolonies (Protea, 2003) deur Marius Crous en enkele ander verse hier en daar – Charl-Pierre Naudé se “Twee diewe”, byvoorbeeld – maar daar het nie digbundels in die laaste dekade verskyn wat op dieselfde manier met die ontwikkeling van rasseverhoudings gemoeid is as Marlene van Niekerk se Agaat (2004) of Eben Venter se Horrelpoot (2006) nie.

Jackson spekuleer oor moontlike redes vir dié fenomeen: Die selfsensuur van wit digters is waarskynlik deels te wyte aan die vrees van openbare verdoeming deur ’n politiek korrekte tydsgees. Enigeen wat hom-/haarself as progressief beskou, is bang om as reaksionêr afgestempel te word en dit gebeur maklik. Dink maar aan die besware van rassisme hier te lande wat luidkeels teen die werk van wit Nobelpryswenners soos Coetzee en Gordimer geopper is.     

Maar Jackson reken dit het moontlik ook met die oorwegend outobiografiese aard van poësie te doen. Fiksie-skrywers groter risiko’s waag en omstrede temas konfronteer deur middel van ongure karakters wat duidelik nie die outeur self verteenwoordig nie. Digters skep daarenteen “sprekers” wat meesal maar ’n ligte versluiering van hul eie ontblote ekke is. Daar is binne elkeen sekere vooroordele ten opsigte van ras, geslag, klas en ouderdomsgroepe, maar, sê Jackson, die meeste digters wil dit nie openlik toegee aan die verbeelde gehoor van sensitiewe, kritiese poësie-lesers nie. Selfs al stem hulle heimlik saam met die voormalige Amerikaanse hofdigter Robert Pinsky, wat in Democracy, Culture, and the Voice of Poetry (2002) verklaar het: “Poetry is not the voice of virtue and right thinking –not the rhyme department of any progressive movement.”

Tony Hoagland

Tony Hoagland

n Amerikaanse digter wat egter nie wegskram van die rou sensitiwiteite rondom die rastema nie, is die veelbekroonde Tony Hoagland. Jackson bestempel hom as die mees kontroversiële kontemporêre wit digter oor ras. Hoagland-gedigte soos “The Change”, “Rap Music” en “Poem in Which I Make the Mistake of Comparing Billie Holiday to a Cosmic Washerwoman” het soveel opspraak in poësie-kringe verwek dat die Geraldine R. Dodge Foundation in 2006 ’n openbare gesprek rondom “Race and Poetry” gereël het waaraan Hoagland saam met ander vooraanstaande digters deelgeneem het.

Die redes vir Hoagland se omstredenheid blyk duidelik uit “Rap Music”, waarin hy sy gevoelens as volg verwoord oor die aggressiewe hip hop wat uit ’n motor dawer:


I don’t know what’s going on inside that portable torture chamber,
but I have a bad suspicion
there’s a lot of dead white people in there

and what I’m not supposed to say
is that black for me is a country
more foreign than China or Vagina
more alarming than going down Niagara on Viagra
And it makes me feel stupid when I get close
like a little white dog on the edge of the big dark woods
I’m not supposed to look directly into

this tangled roar
which has to be shut off
or blown away or sealed off
or actually mentioned and entered.

 

In sy essay “Negative Capability – How to Talk Mean and Influence People” dink Hoagland self na oor die terughoudendheid van wit Amerikaanse digters rondom die rastema en kom tot die gevolgtrekking die digkuns van die afgelope dekades het gespesialiseer in empatie – ’n onvoldoende strategie vir so ’n emosioneel komplekse saak:

“To really get at the subject of race, chances are, is going to require some unattractive, tricky self-expression, something adequate to the paradoxical complexities of privilege, shame, and resentment. To speak in a voice equal to reality in this case will mean the loss of observer-immunity status, will mean admitting that one is not on the sidelines of our racial realities, but actually in the tangled middle of them. Nobody is going to look good.”
(Dié essay is opgeneem in Hoagland se essay-bundel, Real Sofistikashun: Essays on Poetry and Craft, Graywolf Press, 2006.)

In sy nuwe bundel, Unincorporated Persons in the Late Honda Dynasty (Graywolf Press, 2010), sit Hoagland sy verkenning van diepe ongemaklikhede rondom ras voort in onthutsende verse soos “Hinge”, “The Story of White People” en “Foghorn” (kyk heel onder). En dit is veral in laasgenoemde waar Hoagland sê waar hy staan, oftewel waar hy aan ’n spesifieke kafeteria-tafel teenoor ’n swart man sit. Sy taal is oneerbiedig en sardonies, want soos hy in “Negative Capability” sê: Venyn en onbeskoftheid is problematies in sosiale interaksie, maar in poësie kan dit waardevol wees. Die bereidheid om aanstoot te gee, bevry die roekelose waarnemer in elkeen van ons – daardie hatige, opmerksame klein wese wat raaksien en uitpraat sonder aarseling of doekies omdraai.

Deur in ’n gedig soos “Foghorn” toe te gee, kyk, my verwarde binneste het nog nie die ideologies gesteriliseerde punt bereik wat politiek korrekte taal verwoord nie; ek is nog vasgekeer in die familiemotor wat die geskiedenis gerol het, maar ek wil nogtans baie graag praat, nodig hy die man anderkant die tafel uit om ook die sluier te laat val. Dis ’n geval van ek’s nie oukei nie en jy seker ook nie, maar dit sal moet oukei wees, want dis eenvoudig hoe dit is. 

 

Raw Deal

Raw Deal

 

 

 

The Liberals

The Liberals

Anton Kannemeyer (ook bekend as Joe Dog, die  ikonoklastiese opstoker van Bitterkomix) is ’n Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar wat in sy onlangse werk soortgelyke polities gelaaide terrein as Hoagland verken. Dit is interessant hoe hy bewus met stereotipes werk en veral hoe die Belgiese stripkunstenaar Hergé se Kuifie-karakter as verwysingspunt dien.

Sprekende voorbeelde is Raw Deal (klik op die afbeelding om dit te vergroot) wat deel gevorm het van sy Fear of a Black Planet-uitstalling in die Michael Stevenson-galery verlede jaar, asook The Liberals (ditto), ’n skildery uit sy nuwe solo-uitstalling wat op 22 April in dieselfde galery open. In Kannemeyer se werk word Kuifie die wit Afrikaan wat vasgekeer is in sy eie inkriminerende vel; ’n desperate karakter wat, ten spyte van sy eie liberale, demokratiese oortuigings, nie van sy koloniale verlede kan ontsnap nie. Die swart figure wat in die nagmerries van wit voorstedelinge spook, word bewus geteken nes Hergé die “primitiewe inboorlinge” in die lank verbode Tintin in the Congo (1931) uitgebeeld het.

Deur hierdie stereotipes in te span, gee Kannemeyer ons ’n ontstellende kyk in die troebel hart van wit vrees. Hoe kan angs, wat op die veronderstelling berus dat iets of iemand met jou kwade bedoelings het, ooit politiek korrek wees? word implisiet gevra. En nog meer uitdagend: Hoe opreg oop vir swart Afrika kan wit liberale werklik wees as die drome van geweld en verkragting wat hulle natgesweet in die nag laat wakker skrik, verstrengel is met rassistiese vrese wat met moedersmelk ingeneem is? Maar hoekom is gedigte soos dié van Hoagland en kuns soos Kannemeyer s’n nodig? Blaas dit nie net ou rassistiese vure aan nie? Ons weet mos dis slegte tafelmaniere en potensieel gevaarlik om oor politiek of godsdiens te gesels. Die kuns en letterkunde was egter nog nooit ’n vorm van etiket nie, maar eerder ’n tastende verkenning van teenstrydighede en ambivalensies. En juis daarom mag kunstenaars hulle ook nie deur politieke korrektheid laat sensor of hulself sensureer nie.

Deur stil te bly, sê Major Jackson in sy bogenoemde essay, behandel wit digters die morsige maar noodsaaklike debat rondom ras en etnisiteit as ’n toeskouersport; laat hulle die politici en ekstremiste alleen voortdonder. Deur so onverskrokke eerlik oor rasse-spanning soos Hoagland te dig, sê Jackson, skep hy ’n ruimte waarin ons openlik oor ras kan gesels, selfs al maak sy gedigte ons ongemaklik en al is dit soms uitermate selfregverdigend. Sulke uitdagende kuns kan mense van verskillende groepe dus help om mekaar te verstaan. Soos die Afro-Amerikaanse skrywer en aktivis vir burgerregte James Baldwin dit in sy essay-bundel The Fire Next Time (1963) stel: “… relatively conscious whites and the relatively conscious blacks must, like lovers, insist on, or create, the consciousness of others.”

As ons verwarde nasie-in-wording nie die dinge wat ons ten diepste ongemaklik maak, openlik gaan uitpraat nie, sal dit dalk net die demagoë, huursoldate en kapitalistiese opportuniste wees wat ons dreigende reënboogramp oorleef; gaan niemand ooit uit hul velkleur bevry word en uitkom by ’n plek waar Suid-Afrikaners van elke taal en kleur om dieselfde tafel of braaivleisvuur kan lag oor ’n inheemse grappie soortgelyk aan dié een oor die Europese hemel en hel nie.

So, digters, denkers en sensitiewe siele, sê asseblief waar julle diep binne met julle onstuimig gemengde gevoelens staan, en laat hy of sy wat ná drie en ’n halwe eeu se ras- en kultuurkonflik ’n perfek gesuiwerde, onbevlekte gemoed het, gerus die eerste klip gooi.

 

Foghorn

 

When that man my age
came towards me in the fast food restaurant
with his blue plastic tray

and stood next to the table where I sat alone
(there was no place else to sit),
I looked up at him in welcome –

But when a black man and a white man
turn their glances on each other
the air suddenly fills up with secret signs,

like MLK and NBA, like KKK
and NRA, like DWB and NWA
—and it gets hard to see through
all that smoke and burning shrubbery.

And what with the internal sirens
and the historical foghorn
and the sprinkler system
designed to suppress non-categorical
fraternization

and the voice that says Impossible
and the other one that says Lying Motherfucker,
you just want to put your hands over your head
and step away from the vehicle.

Here is what we know:
history is a car wreck from which
our parents did not escape;
our nation is a career criminal;
we were raised to be liars and deniers.

Now here we are in time for our own
moment of unequal opportunity,
which we will probably fail to understand
or raise our best selves to.

In this land where consciousness is a fiction,
through the oxygen mask of my lies
and the skin of my self-deception,
this is what I say:

Brother, lean your brown face down
and let me look at you.

(c) Tony Hoagland

 

Danie Marais

 

BRONERKENNINGS::

“The Liberals” © Anton Kannemeyer, akriel op doek. Met vergunning van die Michael Stevenson-galery, gefotografeer deur Jan Verboom.

“Raw Deal” © Anton Kannemeyer, gemengde media op papier. Met vergunning van die Michael Stevenson-galery.

Vir nog inligting, besoek die webtuistes by:

http://www.michaelstevenson.com/contemporary/exhibitions/kannemeyer/index2010.htm

http://www.michaelstevenson.com/contemporary/artists/marais_essay.htm

 

Danie Marais se essay het oorspronklik in die 4 April 2010-uitgawe van Rapport Boeke verskyn.

Tans kan dit ook nog gelees word by: http://www.rapport.co.za/printArticle.aspx?iframe&aid=3030de51-d975-46f5-9d7e-d7056cba3134&cid=2296

 

 

 

 

 

Oortjies net-net bo die water

Tuesday, March 16th, 2010

 

Na die afgelope Woordfees begin ek so stadigaan weer my kop bo water lig – my oortjies steek net-net uit.

 

Louis en Marlise het seker al moed opgegee met my omdat ek die afgelope twee maande so stil was. Ek is jammer daaroor, liewe webmeester en webmeesteres.

 

Ons is besig om die laaste punte vas te knoop na ʼn heerlike Woordfees waarin ons ʼn rekord aantal kaartjies verkoop het. Ons is ook baie dankbaar oor die bywoningsyfer van 70,72%. Verlede jaar, tydens die elfde US Woordfees, wat toe die grootste was in die elf jaar van die fees se bestaan, was dit net onder 70%.

 

Sonder ons skrywers en digters sou die fees natuurlik nie kon wees nie. Baie van die digters wat aktief is op hierdie webwerf, het opgetree by die Woordfees. Aan gesprekke en lieflike poësie was daar dus nie ʼn tekort nie.

 

Ek deel graag ʼn paar foto’s van digters wat gaste was by Skemerverse op die laaste (Sondag-)aand van die Woordfees.

 

Annie Klopper, van wie se verse in Tafelberg se Nuwe Stemme 4 opgeneem is, het die foto’s geneem.

 

 

 

Abel Kraamsaal het gesorg vir die musiek tussen digters se voorlesings. Sy jongste CD, Die afstand tussen tyd, is onlangs uitgereik na ʼn musikale stilte van drie jaar.

 

 

Danie Marais was skitterend, soos altyd. ʼn Lekker verrassing was toe hy vir Rustum Kozain as gas daar aanbring. Ek en Danie kon darem vinnig-vinnig nuus uitruil tydens ʼn kort verposing in die Trumpet Tree se rookkamer.

 

 

 

Twee jongmanne aan wie se lippe Skemerverse se gehoor gehang het, was Jasper van Zyl en Loftus Marais. Loftus het, soos almal weet, nou omtrent al elke literêre prys met sy uitstekende debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, ontvang. Ons sien uit na Jasper se debuut wat later vanjaar verskyn.

 

 

Louis Esterhuizen en Marlise Joubert is altyd ʼn wenkombinasie by ʼn geleentheid soos Skemerverse. Die ontstemmende rustigheid en liefde wat straal uit hul aanbiedings bevredig ʼn kritiese gehoor. Oor Louis se Wat die water onthou heers daar groot opgewondenheid.

 

 

Diana Ferrus was haar formidabele self. Ek het agterna tot om middernag saam met haar gekuier. Ons verstaan mekaar. Diana, ek hoop jou bril en skoene wat jy vergeet het, het jou bereik daar waar ek dit by UWK laat aflewer het.

 

Volgende jaar maak ons weer so.

Oopmond in beeld en Facebook

Monday, March 15th, 2010

Johannes Prins het ‘n paar foto’s geneem, sommer so op die verhoog, tydens Oopmond by die Woordfees.

Jo Prins

Ronel Nel praat strategie. Foto: Jo Prins

Hier bo sit ek (DJ Stotterman) saam met Ronel Nel (Ingrid Dronker). Vroeg reeds word strategie bespreek en logistiek beplan, veral verversings, waarsonder die kreatiewe proses nie kan vloei nie.

Jo Prins

Danie Marais en John-Henry Opperman van Klopjag. Foto: Jo Prins

Danie Marais (NP van Lykskou) praat oor musiek saam met John-Henry Opperman van Klopjag.

Jo Prins

Niel van Deventer. Foto: Jo Prins

Hier lees Niel van Deventer (Breyten Lykverdag) van sy nuutskeppinge voor.

Jo Prins

Ingrid Dronker. Foto: Jo Prins

Laastens, Ingrid Dronker lees ’n gedig voor. Rock ‘n roll!

Nou het Oopmond ‘n gat op Facebook ook. Gaan sluit gerus aan, blaai deur die foto’s, lewer kommentaar.

Donker tye vir Britse boekhandelaars

Wednesday, February 17th, 2010
Bedreigde spesie

Bedreigde spesie

Daar is inderdaad min bedrywe ter wêreld waar die belange van alle rolspelers so verweef is met mekaar soos dit in die boekbedryf die geval is. Daarom dat enige boekhandelaar met kriewelende nekhare en ‘n lastige gejeuk in sy kieliebakke die volgende berig op The Guardian se webblad sal lees.

Volgens hul beriggewing het die Britse Booksellers Association bekend gemaak dat 102 onafhanklike boekwinkels hul deur finaal gesluit het in 2009. Dit verteenwoordig ‘n daling van 27% in die aantal onafhanklike boekwinkels. Die twee vernaamstes onder dié groep wat gesluit het, is Murder One, ‘n boekhandel wat in misdaadfiksie gespesialiseer het, en Kaydee Bookshop wat 60 jaar in bedryf was en in 1992 nog vereer was as die beste onafhanklike boekhandel in Engeland.

Dit is egter nie net die onafhanlike boekwinkels wat deur die negatiewe bedryfsfaktore geaffekteer word nie. Borders, met sy 45 takke landwyd, is verlede jaar onder kuratorskap geplaas, terwyl Waterstone’s bekend gemaak het dat hul verkope in die kritieke Kersfees-mark met 8.5% afgeneem het in vergelyking met die vorige jaar.

“The current economic climate is undeniably tough and the book retail sector is suffering across the board,” het Meryl Halls, voorsitter van die Booksellers Association’s gesê. Sy het ook ‘n beroep op boekliefhebbers gedoen om die onafhanklike boekwinkels te ondersteun aangesien hulle, ten spyte van ‘n stryd om oorlewing “continue to deliver an outstanding service - knowing the books they recommend and sell, knowing their customers, focusing on things that the deep price cutters can’t offer and running fantastic and value-adding events. These booksellers are at the centre of their communities but, as with all retailers, they need to be supported in order to survive.”

Op die Booksellers Association se webblad is daar ‘n paar riglyne uiteengesit ten einde dié krisis hok te slaan; onder andere dat die voorbeeld van die Nederlandse en Sweedse boekwinkels gevolg moet word deur meer gesamentlike projekte van stapel te stuur.

De Papieren Man het juis in n verwante berig verslag gedoen van ‘n 10% styging in omset en 5.8% meer boeke wat verkoop is verlede jaar in de Vlaamse boekwinkels; merendeels te danke aan ‘n “stormloop” vir kook- en kinderboeke. Ook vertaalde romans deur twee megaverkopers, Stieg Larrson en Stephenie Meyer, het gehelp dat ‘n silwer randjie om dié rosige wolk sigbaar bly.

*** 

Vanoggend lê die webblad omtrent tot teen die balke gestapel met nuwe inhoud. So is daar die vier manjifieke artikels oor die digterskap van TT Cloete wat ons van Tydskrif vir Geesteswetenskappe ontvang het vir plasing, naamlik die artikels deur Heilna du Plooy, Rensia Robinson, Hein Viljoen en Johann Lodewyk Marais. Ook het ons ‘n uitgebreide onderhoud met TT Cloete opgespoor wat verlede jaar opgeneem is en oor die bestek van 15 videos beluisterkyk kan word. Aan die blogkant van sake is daar nuwe plasings deur Andries Bezuidenhout, Philip de Vos, Johann Lodewyk Marais en Ilse van Staden, asook twee nuwe gedigte deur Danie Marais.

En ja, ten slotte is daar die ding wat ek nie langer kan ontken nie. Ek het ‘n nuwe digbundel gepleeg en dit is gister by die winkels afgelewer. Soos gebruiklik plaas ons ‘n onderhoud om die geleentheid te vier. Lees dus gerus die onderhoud wat Andries Visagie met my gevoer het. By Publikasies kan meer inligting oor “wat die water onthou” gevind word.

Lekker lees en skryf tog maar ‘n brief vir Brieweboks oor jou gunsteling liefdesvers(e)? Die tyd raak min om te kwalifiseer vir vandeesmaand se boekprys …

Mooi bly.

LE

 

 

Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel

Saturday, February 6th, 2010

(Erkenning: Hierdie artikel het in Stilet XXI:2 - September 2009 verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die Eindredaksie.)

 

Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006)

Abstract: Narrative elements in Danie Marais’ debut poetry volume in die buitenste ruimte (2006)

Deur:  Bernard Odendaal

Danie Marais’ 2006 poetry debut in die buitenste ruimte (in outer space) won him three literary prizes, but also coincided with a debate in Afrikaans literary circles about the merits, if not, of what has more than once been termed “praatpoësie” (talk-poetry). ‘Talk-poetry’ is typically freer of structure and more spontaneous and accessible in style than traditional ‘lyric poetry’. It is characterised by everyday speech-rhythms and often features narrative elements in a prominent way. Poetry with narrative elements, often of an autobiographical nature, seem to be of growing importance in, amongst others, the Afrikaans and Dutch literary systems of the past thirty years (i.e. in the postmodern period).

            Marais’ debut volume is taken as a case in point. Hühn’s reflections (2004) on the dimensions of sequentiality and mediacy in narratives, his definitions of scripts and frames as cognitive schemes, as well as Strydom’s distinctions (1976) between the cyclic and serial ordering of poems are employed to analyse the syntagmatic and the paradigmatic coherence of in die buitenste ruimte. It is concluded that Marais’ use of narrative elements does not result in ‘unpoetic’ poetry at all. In fact, the thematizing of the narrative aspects in this volume, the way in which the borders between poetry and prose are blurred, the ‘spontaneous’ and ‘artless’ use of everyday speech (but which is then disrupted and rhytmitised in marked poetic ways) - all serve to give poetic shape to a contemporary feeling of disruptedness.                        

 

1.         Oor “praatpoësie” en ‘n oplewing in narratiewe verskuns

 

Tydens Versindaba 2006 op Stellenbosch is nogal skerp oor tendense in die Afrikaanse poësie verskil. Dié verskille is spesifiek op die spits gedryf tydens gespreksessie B1 op Saterdagoggend 9 September van daardie indaba, toe die gespreksinleiers gevra is om hul mening te lug oor “Tendense in kontemporêre Afrikaanse digkuns vandag” (sic).

Na my wete is die gespreksbydraes van daardie sessie nie gepubliseer nie, maar ek onthou dat breedweg twee strominge onderskei is: ‘n meer tradisioneel liriese verskuns, waarin ‘verdigtende’ elemente soos hegte klankstrukturering, ritmiese gestileerdheid, beeldsamehang, stilistiese kompaktheid, betekenisimplikasie-vermenigvuldiging asook die uitbuiting van vormgewingskodes oorheers; en ‘n vryer, spontaner en toegankliker poësie, dikwels gekenmerk deur die benutting van spreekritmes en ‘n meer verhalende inslag.

Laasgenoemde tendens is deur een gespreksinleier (Phillip John) as “anti-poësie” bestempel. Ander deelnemers, waaronder een van die digdebutante van daardie jaar, Danie Marais, het gemeen dit verteenwoordig dalk ‘n vernuwende koers in die Afrikaanse digkuns.

By Versindaba 2007 het Lina Spies, in haar (wél gepubliseerde) Dana Mouton-gedenklesing getiteld “Wat is poësie?”, haar in geen onsekere terme nie geskaar by die opponente van die “praatpoësie” - laasgenoemde ‘n bestempeling wat al meermale aangaande die tweede van die hierbo geïdentifiseerde soorte verskuns gebruik is (onder andere deur Hambidge, 2006:5, en Hugo, 2006). Spies (2007:108) meen onder meer dat hierdie soort Afrikaanse poësie van die jongste tyd, waar dit volgens haar “‘n ongekende bloeityd [beleef] gesien al die literêre geleenthede waartydens digters in die kollig staan, hulle verse voorlees en geapploudisseer word”, alte veel “bly steek in die anekdotiese; [dit] word verhalend en prosaïes; wek die indruk van poësie te wees deur kunsmatig gevormde versreëls sonder ritmiese noodsaak”.

‘n Mens moet in gedagte hou dat die opvatting dat poësie wesenlik liries van aard is, eers sedert die 18de eeu, toe die Romantiese lewens- en kunsbeskouing sy invloed laat geld het, oorheersend geword het. Dit beteken dat dít die genre geword het wat as die tuiste gesien is van primêr ekspressiewe skryfwerk, dit wil sê werk waarin die digter se lewensgevoel, sy selfbeskouing en verhouding met die omringende werklikheid, tot literêre uitdrukking kon kom. Die domein van die epiese genre is terselfdertyd toenemend as die van die romankuns gesien. (Stolk, 2007:1122; Altena, 2007:1128 & 1131)

Uit daardie Romantiese siening van die verskuns het, via die digpraktyke en onderliggende poësiebeskouings van byvoorbeeld Baudelaire en Mallarmé, in die twintigste eeu ‘n outonomistiese - en oorwegend taalpragmatiese of retoriese - fokus op die “wêreld in woorde” van veral die enkelwerk voortgevloei. Hierdie ontwikkeling het waarskynlik verder bygedra tot die onderbeligting van die narratiewe samehange in enkelgedigte, gedigreekse en bundelgehele in die grootste deel van die twintigste-eeuse literatuurstudie (Altena, 2007:1129). In sy inleidende opstel tot De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels noem Ad Zuiderent (2001:12) byvoorbeeld dat selfs in van die mees resente Nederlandstalige poësie-analisehandleidings - hy noem Brems se De dichter is een koe (1991), De Feijter se Literatuur en context (1991), Bronzwaer se Lessen in lyriek (1993), Van Alphen se Op poëtische wijze (1996) en Van Boven en Dorleijn se Literair mechaniek (1999) - daar geen eksplisiete verrekening van die plek van die gedig in ‘n digbundel, of van die betekenis van die komposisie van die bundelgeheel, voorkom nie.

Laasgenoemde is minder waar van veral die Noord-Amerikaanse literêre tradisie, met name van die Verenigde State van Amerika, al is dit die bakermat van die close reading. Amerika het naamlik ‘n sterk stroming van narratiewe poësie in die twintigste eeu geken. Digtername soos Ezra Pound, William Carlos Williams, Charles Olson en talle ander is in hierdie verband te noem. (Altena, 2007:1131-1132)

Met narratiewe poësie word nie net na epiese gedigte verwys nie (soos, sê maar, na Homeros en Dante se beroemde werke, of hier by ons na N.P. Van Wyk Louw se Raka of D.J. Opperman se Joernaal van Jorik). Ook wat in die Anglo-Amerikaanse letterkundewêreld die “long poem” genoem word (soos, byvoorbeeld, die Karibiese Nobelpryswenner-digter Derek Walcott se Omeros, of die Kanadees Ann Carsons se Autobiography of Red), word bedoel; daarby “serial poems”, die moderne “poetic sequence” en enkelgedigte met ‘n anekdotiese inslag. (Stolk, 2007:1122 & 1127)

Die oplewing in die verhalende soort poësie, soos byvoorbeeld in onlangse tye in die Nederlandse sisteem bespeur word, kan in samehang gesien word met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” (of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer). ‘n Aangewesenheid op sogenaamde klein vertellings wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied, is hierdeur in die hand gewerk  (Vaessens & Joosten, 2003:86-87). Sulke klein vertellings, waar hulle neerslag in die poësie vind, vertoon daarom dikwels duidelike trekke van die outobiografiese.  

Stolk (2007:1129-1130 & 1137) wonder selfs of daar ‘n verband kan bestaan tussen die oplewing in narratiewe digwerk en die oorgang na wat hy, vertaald,  “‘n deelnemende internetkultuur” noem. Hy huiwer egter om verder te gaan as om, met analogieskeppende verwysing na ontwikkelinge in die sewentiende en agtiende eeue, net nog die volgende bespiegelende vraag in hierdie verband te stel: “Als er ooit een ‘moment’ was waarop de opkomst van de burger, het individualisme, de vrije pers en het copyright in de poëzie leidden tot een voorkeur voor lyriek, zou je dan nu kunnen stellen dat de paticipatiecultuur - die samenvalt met een crisis van het onderscheid tussen publiek en privé, van het copyright, en met een herdefinitie en herwaardering van ‘the common’ boven het ‘publieke’ - [dat dát] een voorkeur voor epische poëzie verklaart?”

Opvallend in onlangse tye is ook die aanwesigheid van artikels oor die poësie in boeke, tydskrifte en studies wat op verhaalteorie fokus. (Vergelyk, onder meer, Phelan, 1996, 2004a & 2004b; Pier, 2004; Dubrow, 2006; en die hele De Gids-nommer van November 2007.)

Die verskyning van ‘n bundel soos Danie Marais se in die buitenste ruimte (Tafelberg, 2006), die erudiete wyse waarop hy die benutting van die meer narratiewe “praatvers” daarin kontekstualiseer en motiveer (dikwels met verwysing na die Noord-Amerikaanse poësietradisie), en die herhaaldelike bekroning van hierdie debuutwerk van hom sedertdien (die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys, die Skrywersgilde se Ingrid Jonker-prys en die Universiteit van Johannesburg se prys vir debuutwerk) is straks aanduidings dat hierdie soort verskuns ‘n impak op ook die Afrikaanse poësie aan die maak is.

In die lig van bostaande is die outeur van hierdie artikel en dr. Odile Heynders van die Tilburgse Universiteit in Nederland deur prof Heilna du Plooy van die Noordwes Universiteit genooi om mee te werk aan ‘n navorsingsprojek met as titel: “Vers en verhaal. ‘n Ondersoek na die verskyningsvorme en funksies van narratiewe strukture en tegnieke in die poësie”. Die onderhawige artikel verteenwoordig ‘n bydrae in hierdie verband, naamlik as een verkennende gevallestudie tussen ander, wat hopelik uiteindelik tot ‘n oorsigtelike beskrywing en funksionele teoretisering van die verskynsel in Afrikaans en Nederlands sal bydra.

Eers sal die nuutheid, al dan nie, van die narratiewe soort vers in Afrikaans kortliks in die kollig geplaas word, voordat in meer besonderhede ingegaan word op die vorme van narratiwiteit wat in in die buitenste ruimte benut word, asook op die koherensieskeppende funksies wat dit in die betrokke bundel het.

 

2.         Enkele opmerkings oor die literêre konteks van Danie Marais se debuut

 

Word Afrikaanse digkuns uit die laaste drie dekades wat narratiewe elemente bevat, maar nie streng epies van aard is nie, onder die loep geneem, is dit duidelik dat Danie Marais se bundel nie in braakland opgeskiet het nie.

Van Vuuren (1999:249) se gewagmaking van “‘n opvallende outobiografiese inslag” in die Afrikaanse digkuns “vanaf eind sewentigerjare” (sic) - volgens haar naamlik “as teenreaksie op Van Wyk Louw se byna krampagtige wering uit die teks van die ‘mens agter die boek’” - kan myns insiens as (deels) tekenend van die sterk aanwesigheid van die narratiewe element in die liriek in die genoemde tydperk gesien word. Dis tekenend hiervan as die outobiografiese inslag gesien word in die lig van wat hiervoor gesê is oor die aard van die “klein vertellings” waarvoor ‘n voorkeur in ‘n postmodernistiese konteks bestaan.

In ‘n vorige studie (Odendaal, 2006:128-129) kon ek aandui dat byna elke Afrikaanse digbundel wat tussen 1998 en 2003 verskyn het, in ‘n mindere of meerdere mate outobiografiese gegewens bevat het, al word die outobiografiese dikwels aangebied in vervlegting met of verhul deur meer ‘objektief’-beskrywende, -beeldende of -portretterende verse. Daar is aangetoon dat - hoewel die poësie sedert die Romantiek as liriese genre uitstaan, en derhalwe gewoonlik sterker deur ‘n persoonlike belydeniselement gekenmerk word as die ander literêre genres - dié outobiografiese tendens tog ook in samehang gesien moet word met byvoorbeeld die opbloei in die publikasie van egodokumente en werke toegespits op die private ache op die Afrikaanse prosaterrein sedert 1990. Ook is genoem dat dit alles in die lig staan van ‘n identiteitsvraagstuk wat deur die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke omwentelinge en deur die globaliseringstendens van die afgelope dekades in onder meer Afrikanergeledere geïntensiveer is.

Grové (2001:9), in ‘n resensie van Barend J. Toerien se bundel Die huisapteek, dui spesifiek aan dat ‘n verhalende element een van die belangrikste wyses is waarop die “persoonlike aanslag” van die outobiografiese geobjektiveer of bo-persoonlik gemaak word.

Van Vuuren (1999:282-286) sonder D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok (1979) en Breyten Breytenbach se Soos die so (1990) in hierdie verband uit. ‘n Mens sou, as voorbeelde van liriese Afrikaanse digbundels van die afgelope dertig jaar met ‘n duidelike narratiewe of verhalende element, ook nog Antjie Krog se Jerusalemgangers (1985 - veral die “Die Jerusalemgangers”-reeks oor die Enslin-trek), Lady Anne (1989) en Kleur kom nooit alleen nie (2000) kon uitlig. Daarby P.J. Bosman se Ryp geel kring (1992); Gert Vlok Nel se Om te lewe is onnatuurlik. Eenvoudige spoorwegstories  (1993); Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg. ‘n Versroman (1996), Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007); Anlen Marais se muur van berge (1999); H.J. Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard (2000); Ronel Nel se [en die here het foto's geneem oor vanderbijlpark] (2002); Marius Crous se Brief uit die kolonies (2003); Heilna du Plooy se in die landskap ingelyf (2003); Charl-Pierre Naudé se In die geheim van die dag (2004); Dolf van Niekerk se Nag op ‘n kaal plein (2006); Carina Stander se Die vloedbos sal weer vlieg (2006); en Bernard Odendaal se Onbedoelde land (2007a).

Behalwe uit bogenoemde tendens in die Afrikaanse poësie, kon Danie Marais, soos genoem, uit veral die Noord-Amerikaanse digtradisie put, waar narratiwiteit en outobiografie ‘n sterk stroming in die twintigste eeu gevorm het. Hy is ook geïnspireer deur die dikwels narratiewe werk in aldagtaaltrant van Duitse digters soos Rolf Dieter Brinkman en Bertolt Brecht. In onderhoude beklemtoon hy voorts hoe hy die gepaste toon en vorm vir sy verskuns ontdek het in die werk van Raymond Carver en Czeslaw Milozs, terwyl sy bewondering vir rock- en country blues-musikante soos Bob Dylan, Leonard Cohen, Tom Waits, Nick Cave, P.J. Harvey en Johnny Cash ook hierin meegespeel het. (Hugo, 2007.; Van der Merwe, 2007; Hambidge, 2006:5; Nel, 2006:8)

 

3.         Die dimensie van opeenvolgendheid (die storiedimensie) in in die buitenste ruimte

 

‘n Verhaal veronderstel basies ‘n minimum aan ‘n storie en ‘n verteller wat daardie storie of storiebrokke vertel. Hühn (2004:139), wanneer hy dit oor die verhalende element in liriek het, praat in hierdie verband van ‘n dimensie van die sekwensialiteit of opeenvolgendheid van gegewens en gebeure, en van ‘n dimensie van bemiddeldheid (”mediacy”) van daardie gegewens en gebeure. In hierdie afdeling neem ek eersgenoemde dimensie, soos gemanifesteer in Marais se bundel, onder die loep.

 

3.1       Die sintagmatiese samehang van ‘n liefdesgeskiedenis in in die buitenste ruimte

 

‘n Sintagmatiese samehang word deur die opeenvolgendheidsdimensie tot stand gebring. In in die buitenste ruimte word, in die eerste plek, die storie vertel van ‘n liefdes- en huweliksverhouding wat in Suid-Afrika begin het en na nege jaar se verblyf in Duitsland op die rotse geloop het, voordat die “ek”-spreker na Suid-Afrika terugkeer. Dis nie ‘n geheim dat hierdie gegewe ooreenstem met gebeure in die digter se eie lewe nie, met ander woorde dat die “storie” wat vertel word, naastenby outobiografies van aard is.

Die gebeure word glad nie streng chronologies aangebied nie. Die bundel begin waar die ontnugterde subjek reeds met ‘n “pap hart” sit en verlang na sy geboorteland (”‘n Pass op ‘n pap hart”), en waar die haperende verhouding tussen twee homoseksuele vriende duidelik ‘n spieëlbeeld vorm van die subjek se eie verbrokkelende huwelik (”Up so close”). Eers in die agtiende gedig in die bundel (”Onder ‘n somermaan”) word die eerste keer vertel van die aanvange van die verhouding tussen die “ek” en sy Duitse vrou, jare gelede toe hy nog ‘n skaars mondige student op Stellenbosch was. In die tweede laaste gedig van die bundel (”As ek deur geslote ooglede onthou”), as die egskeiding al plaasgevind het en die spreker terug in Suid-Afrika is, hoor ons via ‘n herinneringsterugblik weer van hierdie begindae in hulle verhouding.

Maar: voor die middel van die bundel, in die 25ste gedig (”In die donker kamer”), verneem die leser al van ‘n volgende geliefde van die spreker, van “die slapende lyf van die vrou / met wie ek nou my lewe deel”.

Allerlei ander herinneringsterugblikke - in verband met die spreker se jeugjare in Suid-Afrika, sy familielewe en vroeër ontluikende seksualiteit, asook in verband met reise na ander wêrelddele gedurende sy verblyf in Duitsland - word voorts verspreid in die bundel verwoord.

Hoewel dus kennelik in brokke en stukke, en met spronge heen-en-weer in die tyd, is die basiese sintagmaties koherensieskeppende faktor in die bundel tog die vertelling van die toenemende verwydering wat tussen die huwelikspaar intree, totdat hulle uiteindelik onhoudbaar “eensaam saam” is en van mekaar skei.

 

3.2       ‘n (Betreklik) sikliese opbouprinsipe; tog ook met serie-kenmerke

 

Strydom (1976:13-16), in sy gepubliseerde proefskrif Oor die eenheid in die digbundel, sou hierdie opbouprinsipe as betreklik siklies van aard bestempel, synde gerig op “die ontwikkeling van ‘n tema in [relatief] kontinue tyd en ruimte sodat die gedigte onderling in volgorde onverwisselbaar is”, al kom daar oop plekke tussen hulle voor. (Hy gebruik hiervoor die term “woordleegtes”.) Die sikliese prinsipe word juis deur Strydom as geskik vir die daarstel van ‘n verhaal beskou.

Talle temporele aanduidings in in die buitenste ruimte versterk die indruk van ‘n hoofsaaklik sikliese verloop. Dae van die week word genoem (met beklemtoning van die subjek se neerslagtigheid op Sondae); seisoenale verwysings kom voor (met beklemtoning van die deprimerende donker, nat winters in Noord-Duitsland). En talle ander tyd- of tydsverloopaanduidings duik op, meermale in gedigtitels - vergelyk: “Na die vakansie”, “Na byna vyf jaar in Duitsland”, “Lank na die begin”, “In die Oujaarsnag”, “Winter, weer” en “Barcelona - 2 en ‘n ½ jaar later”.

Ook op ander wyses word die sikliese gebeure-aanbod aangedui. Die “Ek en Jy” bereik byvoorbeeld uiteindelik “die gatkant van ons koppige liefde” (”Middagslapie”) wanneer die spreker sy lewe met ‘n volgende liefde begin deel. En die ongelukkige huwelikservaring in die vreemde - wat wesenlik metonimies funksioneer van ‘n ontheemdingsbelewenis, soos ek later sal aandui - word eers behoorlik verwerk wanneer die subjek teruggekeer het na sy geboorteland; met name wanneer hy, soos uitgebeeld in die slotgedig van die bundel, tydens die bywoning van ‘n kursus in Duitsland drie jaar later tot die besef kom dat Afrika, spesifiek Suid-Afrika, sy eintlike heimat is - dat dit dáárdie land is, en alles wat daarmee geassosieer word (byvoorbeeld “moeder, taal en verlies”), wat brandend in sy gemoed leef.

Die wesenlike rede vir die huweliksverbrokkeling is egter in die eerste plek die twee geliefdes se indiwiduele selfgerigtheid, hulle geslotenheid vir mekaar. Nie verniet nie word daar in ‘n hele paar gedigte na ‘n “ek en jy” eerder as na ‘n inklusiewe “ons” verwys - soms bykomend nadruklik gemaak deur die “Ek” en “Jy” met hoofletters te skryf (soos in “In die Oujaarsnag”, “Winter, weer”, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”).

Ek verskaf slegs twee aanhalings uit die bundel ter stawing van die siening aangaande die paar se onversoenbaarheid met mekaar:

 

  • In die gedig “Middagslapie” verwyt die “jy” die “ek” dat sy, wat om “hulp en raad” by hom “bedel”, te staan kom voor al sy “negatiewe energie / [sy] permanente desperaatheid”. En dan, in ‘n dubbelsinnige beskrywing wat sowel uitmergelende gewoontebakleiery as radelose seksuele omgang suggereer, spring

[...] ek en jy

en jy en ek

oudergewoonte aan mekaar

soos taxi’s en trems

soos taxi’s en trems

hulle nat kom-en-gaan-klanke

heen en weer en op en af sleep

in ‘n reëndag

reëndag[.] 

 

  • In die terugskouende tweede laaste gedig van die bundel, “As ek deur geslote ooglede onthou”, vertel die subjek onder meer hoe hulle as egpaar by ‘n huweliksberader gaan hulp soek het:

maar ons was reeds ver anderkant woorde

vasgekeer in ‘n woonstel

saam.

            Ook gaan hy voort om “jy en jou intimiderende selfgenoegsaamheid” wat “soos die Starship Enterprise / outonoom / deur tyd en ruimte suis” uit te wys - iets wat hom, as haar eggenoot,  ”altyd / sentimenteel, behoeftig en alleen” laat voel het.

 

In die loop van die bundel lees ‘n mens telkens raak hoe die egpaar eintlik in isolasie van mekaar verkeer, byvoorbeeld in verskillende vertrekke in dieselfde huis in Bremen; of sy bínne die huis en hy búite, op die balkon. Of hoe sy slaap terwyl hy alleen en bedremmeld wakker sit; hoe sy bel om hom te laat weet dat sy uitslaap en nie huis toe kom nie, omdat daar ‘n “deadline” by die werk is om te haal…

            Hierdie “saam eensaam” wees van hulle (’n woordspel wat aan dié van J.C. Steyn in die titelgedig van sy 1975-bundel Die grammatika van liefhê herinner) skakel natuurlik met Marais se bundeltitel, in die buitenste ruimte. Op letterlike vlak word die “buitenste ruimte”-seem versterk met ‘n hele paar verwysings na die hemelruim en na hemelliggame soos die maan, asook na die wetenskapsfiksiefilmreekse Star Wars en Star Trek.

            Maar dan word die “buitenste ruimte”-gegewe ook op verdere semantiese vlakke uitgebou, naamlik deur middel van ‘n aantal verbandhoudende isotopieë.

  • Eerstens met ‘n isotopie wat verband hou met die selftwyfel en neerslagtigheid waaraan die subjek so dikwels onderworpe is, sodat hy soms net nog na die “buitelyne van ‘n leemte” voel (”Soms ontmoet jy iemand”), of voel dat hy “hang soos Luke Skywalker / aan die einde van The Empire Strikes Back oor die niks”. Sodanig is sy amperse chroniese neerslagtigheid dat sy vrou hom in ‘n stadium uitkryt dat hy “neuroties en ipekonders (sic) en patologies pateties is” (”Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”).
  • ‘n Tweede isotopie in hierdie verband het te doen met die uitgewekenheid van talle Suid-Afrikaners in ons tyd (die sogenaamde expat-problematiek - vergelyk Hugo, 2006) en met, verwant hieraan, die algemene gevoel van vervreemding, ontheemding en vaderlandsnostalgie wat veral Afrikaners tans teister (soos, onder talle meer, uitgewys deur Jaap Steyn, 2009:10). In talle gedigte, waaronder “Skielik narerig”, “Die nag vol woorde”, “In my ma’le se tuin”, “Groot”, “Gebed in ‘n Boeing”, “Na die vakansie”, “‘n Hart breek soos die see”, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens” en “Bundesstraße 51″ word uiting hieraan gegee.
  • ‘n Derde vlak waartoe die “buitenste ruimte”-motief uitgebou word, betref die (soms net geïmpliseerde) verwyderdheid én afhanklikheid wat die spreker (en ander expats met wie hy in aanraking bly) voel jeens die tale waarmee hy grootgeword het - veral jeens sy moedertaal, Afrikaans, wat as bedreigd gesien word deur hom en wat hy skrynend mis in die vreemde. Vergelyk gedigte soos “‘n Pass op ‘n pap hart”, “Van waar ek vannag balanseer”, “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer”, “Hawad, der einzige dichtende Tuareg” en “Ouma is dood?”.
  • ‘n Vierde isotopiese uitbouing in hierdie verband betref die vervreemding en vasgekeerdheid wat die subjek ervaar in die Europese, eerstewêreldse omgewing waarin hy hom tydens sy huwelik bevind, met name in Duitsland. Laasgenoemde word, luidens die tekening daarvan in die bundel, kultureel gekenmerk deur strenge gereglementeerdheid en onontkombare kunsmatigheid, asook deur ‘n ironieserwys byna verpligte soort indiwidualismekultus. “Wes-Europa,” skryf Marais in die slotgedig van die bundel, is “helaas [..] die ryk van die enkeling, / die nadoodse ondersoek van die humanisme, / ‘n verloopte piromaan se droom.” ‘n Paar keer in die bundel word dié omgewing à la T.S. Eliot en D.J. Opperman geskilder as ‘n “grysland”, tipies met betrokke en winterse weersomstandighede. Dusdanige ‘onherbergsaamheid’ van Europa word gekontrasteer met wat, in gedigte soos “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens” en “Die vlamdans van herinnering”, die “verterende skoonheid en hopeloosheid” van Afrika en Suid-Afrika genoem word - of, op dubbelsinnige wyse, “die onthoude uitspansel / van moeder, taal en verlies”.
  • Laastens word die “buitenste ruimte”-gegewe verbind met die subjek se vicarious ­(dit wil sê “plaasvervangend[e], middellik[e], tweedehands[e]“) lewe in en via tekste, daar waar hy hom as ontheemde in Europa bevind - ‘n leefwyse waarvan sy vrou hom in die gedig “In die donkerkamer” beskuldig. In ‘n ander gedig, “Aan ‘n seegroen kombuistafeltjie êrens”, dring sy wanhopig by hom aan dat hy

[...] moet ophou ophou ophou

met [sy] ewige

sweeping statements en grand gestures

dat [hy], o, “Herr Gott weiß” moet ophou

om vir [haar] goedjies te fokken quote.

            Uit die praktyk van sy bundel blyk egter dat Marais nie gehoor gee aan hierdie pleidooi van sy gewese vrou nie. [I]n die buitenste ruimte is naamlik deurspek van aanhalings en intertekstuele toespelings. Selfs wanneer hy in die slotgedig sy finale afskeid van die ‘Duitse episode’ in sy lewe (en derhalwe sy keuse vír Suid-Afrika en Afrikaans) verwoord, doen hy dit by wyse van beeldmatige, meestal gepersonifieerde voorstellings van woordwaardes. Hy skryf byvoorbeeld oor Duitsland:

                        Hier brand ‘n gedig soos ‘n olietenkskip

                        so groot soos ‘n nag

                        kontinent

                        vir my alleen.

 

                        Hier is die woord “ma”

                        ‘n wolkekrabber

                        in ligte laaie;

 

                        die woord “pa” ‘n brandstapel

                        vir name en plekke

                        wat dreig om my te vergeet.

 

                        Hier leer die woord “ek”

                        die vlamdans van herinnering,

                        van was,

                        tussen mense

 

                        van as.

                                    (”Die vlamdans van herinnering”)

 

Op hierdie wyse dra die isotopiese uitbouing van die tematiese lae in die bundel by om die “retarderende” of “opdammingseffek” via herhalings-met-variasies te bewerkstellig wat Strydom (1976:17) met die serie-aspek van bundelstrukturering verbind. Volgens hom dra sodanige serie-aspek by om die innerlike onnoodwendigheid van sikliese strukturering te oorstyg, en om die “immanente” koppeling van en die “onderling funksionele relasies en patrone” van heg gestruktureerde gediggroepe, soos in bundelverband, te bevorder. Of om terme te benut wat nog vroeër deur Raidt (1962:6-8) gebruik is: die hoofsaaklik “lineêre” samehangendheid in epiese verband word innerlik versterk deur “konsentriese” uitbouing, in hierdie geval deur die herhaling van verbandhoudende temata en motiewe.

 

3.3       ‘n Leitmotiv van ontheemding, met die huwelik, transformasie in Suid-Afrika, globalisering en ‘n persoonlike identiteitskrisis as interpretasierame

 

Uit die aangetoonde tematiese gelaagdheid word dit ook duidelik dat die verbrokkelende liefdes- en huweliksverhouding nie die leitmotiv of bindende tema van die bundel vorm nie, maar eerder iets soos vervreemding of, beter nog, ontheemding. Die bundeltitel, soos dit ‘n funksionele bundeltitel betaam, wys al opvallend hierop. En Marais het self in onderhoude hiervan gewag gemaak (Marais, 2007).

Die relaas oor die verbrokkelende en eensaamheidskeppende huweliksverhouding vorm dus net een van die sogenaamde rame waarbinne die gedigte gelees moet word. Hühn (2004:143) skryf die raam as kognitiewe skema “designate the thematic or situational contexts or frames of reference within which poems are to be read”. Naas die huweliksverhoudingsraam, moet die gedigte in in die buitenste ruimte dus ook verstaan word binne die raamwerke van die transformasie in Suid-Afrika sedert veral 1994 (waardeur byvoorbeeld Afrikaners gemarginaliseer voel, en talle Suid-Afrikaners as uitgewekenes elders gaan leef) en van die globaliseringsverskynsel. Laaste, maar nie die minste nie, moet die raamwerk van die subjek se identiteitskrisis en -vasstelling genoem word.   

 

3.4       Die vreemde in en terug - die soektog na die self as intrigeskema in in die buitenste ruimte

 

Hühn (2004:143) identifiseer ook ‘n tweede kognitiewe skema wat koherensie en betekenisvolheid van narratiewe opeenvolgendheid en intrigevorming kan onderlê, naamlik wat hy noem: “scripts”.

Miskien sou ‘n mens in Afrikaans van skripte kan praat - of liewer nog van basiese intrigeskemas, want in die woorde van Hühn verwys dit na “sequence patterns, i.e. natural processes or developments, conventional series of actions, or stereotyped procedures, usually in close connection with the relevant frame”. Hy onderskei intrigeskemas soos sterfte (naamlik as ‘n oorsteking van die grens tussen die hiermaalse wêreld en ‘n ander, onbekende wêreld), persoonlike groei (as die ontwikkeling van kindwees na volwassenheid - wat óf positief óf negatief gesien kan word, dit wil sê onderskeidelik as gepaardgaande met die verwerwing van gerypte kennis of met die verlies aan spontane vitaliteit) en die geformaliseerde ritueel van die hoofse liefde (wat die bevrediging van die minnaar se begeertes verhinder).

Waar die raam as kognitiewe skema betekenisvorming en -integrasie in statiese verband aandui, sinjaleer die intrigeskema ‘n dinamiese proses.

‘n Mens sou die reis die vreemde in omwille die eie identiteitsvasstelling of -bevestiging, en die terugkeer ná pynlike loutering na die heimat, as die onderliggende intrigeskema van in die buitenste ruimte kan sien. In ‘n onderhoud met Marius Crous (2007:14) het Marais self iets in dier voege verklaar: “Toe ek Duitsland toe is, was ek vasbeslote om ‘n nuwe identiteit vir myself te skep. Maar op ‘n emosionele vlak het Duitsland vir my meer na die buitenste ruimte gevoel. Vryheid en anonimiteit laat ‘n mens dikwels voel asof jy gewigloos is en vryval[.]” Dit gaan dus om ‘n intrige wat ietwat op die patroon van die Bybelse verhaal van die “verlore seun” verloop.

 

4.         Die dimensie van bemiddeldheid (die verteldimensie) in in die buitenste      ruimte

 

Sover dit die vertel-dimensie in Marais se bundel aangaan - die bemiddeldheidsaspek daarvan (soos Hühn dit bestempel - slegs enkele opmerkings.

Soos dikwels kenmerkend van poësie in die Romantiese en modernistiese tradisies (Hühn, 2004:149) is daar ‘n sterk kongruensie van spreker en protagonis (van die verteller- en karakterdiskoerse) in in die buitenste ruimte. Voorts aansluitend by hierdie tradisies is daar ‘n grootlikse saamval van stem en fokalisasie, naamlik deur die gebruik van die teenwoordige tyd en die eerstepersoonsvertelling. Die handeling van artikulasie word gedramatiseer om die indruk van onmiddellikheid, spontaneïteit en derhalwe outentiekheid te wek. So iets kontrasteer met die verwikkelde stem- en fokaliseringsaanbod wat in Krog-bundels soos Lady Anne en Kleur kom nooit alleen nie, of in byvoorbeeld Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg aangetref word.

Die beskuldiging wat die Duitse eggenote aan die “ek” rig dat hy ‘n vicarious lewe lei, en dat hy voortdurend skuilgaan agter quotes, laat egter blyk dat die bemiddeldheidsdimensie in hierdie bundel nie onproblematiserend gehanteer word nie. Die bemiddeldheid word trouens getematiseer, soos ek voorheen aangetoon het. Die implikasie is ongeveer dat die subjek, daar waar hy weg van sy geboorteland en moedertaal ‘n liefdesverhouding heel probeer hou, waar hy ‘n nuwe lewe probeer lei, as ‘t ware op taal en literatuur en ander teksvorme (films, televisieprogramme, liedjies) aangewese is om sy ontheemdheid te probeer oorbrug - maar daardeur ironieserwys juis die bemiddeldheid of nie-onmiddellikheid van sy bestaan kontinueer. In die gedig “Saturday night alive” (waar die titel reeds weer slaan op ‘n ander teks as die subjek se eie lewe, naamlik op ‘n bekende Amerikaanse TV-vermaaklikheidsprogram) satiriseer die “ek” sy bemiddelde, “tweedehands[e]“, derhalwe eintlik clichématige lewenswyse. Dié clichématige kenmerk van sy lewe word verikoniseer deur, naas die benutting van aanhalings en ander intertekstuele toespelings, die opstapeling van opvallende, ellelange samestellings met koppeltekens. Vergelyk die volgende strofes uit dié gedig:

            Ek doen die inval-by-die-flat-

            storm-die-yskas-nommer.

            Ek doen die Judy-Garland-op-die-vensterbank-

            met-Amaretto-en-melk-

            “somewhere-over-the-rainbow”-

            wat-die-dokter-my-verbied-het-program.

 

            [...]

 

            Maar ek doen veiligheidshalwe ook die selfkritiese-

            1-2-3-blok-myself-

            is-die-gedig-noodsaaklik?-

            prosedure.

            Ek doen die skud-en-skop-die-ou-moedertaal-

            soos-’n-defekte-Coke-outomaat-in-’n-uitgestorwe-Bahnhof-

            op-’n-klein-Duitse-spookdorpie-lank-na-middernag-roetine.

 

Hühn (2004:153) toon aan dat die - wat hy noem - “materiality” en die formele struktuur van digtekste (klank, ritme, prosodie, sintaksis, tipografie, ensovoorts) benut kan word vir bykomende modellering van narratiewe sekwensies, waardeur die semantiese intrige-ontwikkeling onderskraag, gewysig of teengewerk kan word. In sulke gevalle, skryf hy, funksioneer die formele kenmerke spesifiek as paradigmatiese relasies of ekwivalensies (bykomend tot die seme en isotopieë).

Reeds op tipografiese vlak lyk dit of Marais die tradisionele sienings oor die onderskeide tussen prosa en poësie ‘n bietjie wil uitdaag. Daniel Hugo (2006) skryf in sy LitNet-resensie dat in die buitenste ruimte, op “buitegewone” wyse, “[i]n ‘n era van kort liriese uitbarstings [...] grotendeels uit langerige tot heel lang praatverse” bestaan. ‘n Mens sou selfs kon sê dat die gedigte in ‘n sekere sin kortverhaalagtig aandoen.

Opvallend is voorts dat die gedigte nie in afdelings ingedeel is nie, wat ‘n aanduiding is dat die sekwensialiteit (om die woord van Hühn weer te gebruik) deurlopend is.

Die anekdotiese, verhalende element in die gedigte gaan gepaard met ‘n opvallende voorkeur vir aldagtaal in langer, dikwels voortstromende sinne, meestal met redelik konvensionele leestekengebruik. Stukke dialoog, ook in Duits, direk aangehaal of gerapporteer, asook sitate uit boeke, liedere, films en TV-vertonings, vind gemaklik hulle plek in die gedigtekste. Die digter is ook nie bang om Engelse woordeskat, anglisismes en bepaalde ongrammatikaliteite (matig) te benut om die indruk van speektaligheid te versterk nie.

Marais (kyk Nel, 2006:8) verklaar self dat hy “met die toon van die vertellerstem [...] probeer om gestalte te gee aan ‘n gebroke, eietydse lewensgevoel en het sodoende outomaties nader aan die ritme van die spreektaal beweeg”. Hy was “op soek na ‘n soepel kruising tussen die ‘hoë’ kultuur van die literatuur en die ‘lae’ kultuur van pop, rock en comics” - ‘n toon wat “spontaan en ongekunsteld klink”.

Die omslagontwerp, deur Karlien de Villiers, die digter se tweede vrou, pas syns insiens by die inhoud en styl van die bundel. “Die Dr.-Seuss-met-die-winterblues-illustrasie skep die regte atmosfeer. Dis vir my belangrik dat die omslag ‘n naïewe, byna kinderlike komponent het. Die Skotse digter Ivor Cutler het die volgende aanbeveling aan voornemende digters gemaak: ‘Remove your intellectual encumbrances, turn on the tap and speak like a child.’” (Nel, 2006:8)

Tog word die normale sinsbou en spreektaligheid dikwels in die bundel ietwat ontwrig, of andersyds geritmiseer. Sintaktiese hervattingstrukture, opstapelende beeldspraak en versreël- en strofe-afkappings is wyses waarop dit geskied.

Één voorbeeld ter illustrasie van laasgenoemde. Let op hoe herhalings- (soos iterasies, parallelismes en anafore) en kwantiteitsfigure (enumerasies, beeldopstapelings) in die volgende gedeeltes van die gedig “In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer” stilisties bydra om die indruk van die meedoënlose gereglementeerdheid en geroetineerdheid wat die Duitse samelewing op die subjek maak, te vergestalt:

 

Duitsland is waar die wolke in gelid marsjeer,

waar die son ‘n permit het om te skyn,

waar die maan nie mag opbly so laat soos sy wil nie.

 

Duitsland lyk soos Duitsland op televisie.

Al verskil tussen Duitsland en televisie

is dat daar iets gebeur op televisie.

 

Die misdadigers in Duitsland droom

van groot gewere,

van Amerika.

Die booswigte het almal

warm water, elektrisiteit en ‘n mediese fonds.

Die kriminele lei lewens van stille vertwyfeling

nes die onderwysers, slagters en bankiers.

 

Duitsland is seker maar soos orals -

die soort van plek waar jy bang is

dat Die Mense gaan uitvind van jou,

gaan weet van jou;

dat Die Mense hulle televisies gaan afsit,

uit hulle talk shows ontsnap

om jou te kom haal,

te kom kreun en hamer aan jou ruit

op die vierde verdieping

soos die zombies in Night of the Living Dead.

 

[...]

 

In Duitsland saai jy mielies

in die blombakke op die balkon.

 

In Duitsland

lê ‘n see van hoekige huise nog so blou,

as jy ver stemme oor die telefoon hoor.

 

In Duitsland praat jy lekker Duits,

tot jy een oggend skielik weer

soos iemand wat by die tandarts was

sukkel om “selbstverständlich” te sê.

 

[...]

 

In Duitsland loop jy

perfectly digitally animated, vat jy

sonder om te raak, beweeg jy

sonder om te roer

deur mure en mense, glip jy

moeiteloos

soos ‘n stem deur ‘n telefoonlyn

deur die onverskillige dag.

 

[...]

 

In Duitsland moet jy doen

wat jy wil

of jy nou wil

of nie.

 

As resultaat kry ons ‘n digkuns wat helder, toeganklik maar tog ook ietwat afstandelik aandoen - myns insiens doelbewus so om ontroering teen te werk oor die droewige storie (oor die huweliksverbrokkeling en ontheemdheidservaring) wat vertel word.

Die indruk van direktheid is egter ‘n bietjie misleidend. Soos aangetoon, is die bundeltitel ‘n leidraad na die betekenisverwikkeldheid wat onder die stilistiese helderheid skuilgaan.

Marais self (kyk Nel, 2006:8) beweer dat die “Poëtiese” (sic) in die eerste plek geleë is in “die krag van beelde”. Die dikwels verrassende en treffende beelding in in die buitenste ruimte is oorwegend ontluisterend, om aan te sluit by die hoofsaaklik negatiewe belewenisse wat uitgebeeld word. Gelukkig word die neerdrukkende hiervan verlig deur, eerstens, die bewerkstelligde afstandelikheid, maar ook deur die soms humorvolle (self-) ironie. Laasgenoemde vind ook uiting in die opvallende benutting van opsetlike teenstellings (”afwesig saam”, “salige depressie”; “Duitsland is spekvet ongesond”, ensovoorts).

 

5.         Slot

 

Aan die gevare verbonde aan die soort poësie waaraan hy voorkeur gee, ontkom Marais nie altyd nie. Waar ‘n mens aanvanklik intens geboeid lees aan die bundel, werk die prosa-agtigheid van sommige verse in die tweede helfte van die bundel ‘n sekere eenselwigheid in die hand - iets waaroor meer as een resensent kritiek uitgespreek het (Hugo, 2006; Hambidge, 2006:5; Odendaal, 2007b:8; Olivier, 2007; Crous, 2007:14).

Ek is bowendien van mening dat sekere gedigte in die bundel alte enumeratief uitweidend raak; dat die (meestal kennelike) opsetlikheid van woordoortollighede op die duur retories afslyt (vergelyk frases soos “probeer simpatiek toemaar kyk”,  “iewers êrens orals” en “kwynende, sterwende aanwesigheid” uit verskillende gedigte in die bundel); dat die beeldopstapelings soms oordryf word (soos in die gedig “Tussen ver en nietig”); voorts dat die herhaalde gebruik van Engelse woordeskat lateraan ietwat studentikoos aandoen - veral as in ag geneem word dat soveel van die vertelde gebeure teen ‘n Duitse agtergrond plaasvind.

Kortom, die opvallende en herhaalde benutting van herhalings- en gelede of opstapelingsamplifikasiefigure soos bogenoemde (Plett, 1985:33-56, verskaf ‘n bondige oorsig van die aard van sodanige stylfigure) stuur onvermydelik op ‘n mate van oordrywing en derhalwe sentimentalisering af. Vergelyk ook die sentimentaliseringseffek van die volgende repetisies in die gedig “Barecelona - 2 en ‘n ½ jaar later”: “Die stoele en tafels is wit wit oblivion wit. / My hemp is blou, raserig Hawaii-blou”.

Tog bevat in die buitenste ruimte véél meer wat poëties treffend en ‘nuut’ is as aspekte wat prosaïes en retories is. Dit is as bundelgeheel allermins as ‘anti-poëties’ ervaar deur die kritiek.

Marais het in ‘n onderhoud met Nel (2006:4) sy digterlike strewe soos volg aangedui: “As die woorde in ‘n spesifieke volgorde by die leser bly spook, is dit poësie.”

Uit die hierbo bespreekte narratiewe dimensies blyk dat Marais op funksionele en grootliks treffende wyse die verteldimensie van sy debuutbundel met die storiedimensie daarvan (die hoe met die wat) versoen het. Die bemiddeldheidsaspek word integraal getematiseer; die tipografiese grense tussen vers- en verhaalkuns word vaer gemaak; ‘n ‘spontane’ en ‘ongekunstelde’ spreektaligheid staan op die voorgrond op die stilistiese vlak, maar word tog ook weer ontwrig en geritmiseer op kenmerkend poëtiese wyses - alles in diens daarvan “om gestalte te gee aan ‘n gebroke, eietydse lewensgevoel”, naamlik ontheemdheid, soos die digter self in hierdie verband aangehaal is.

Die resultaat is inderdaad verse wat “by die leser bly spook” - soos bevestig deur die getal en die aard van die pryse wat deur beoordelaars daarvoor toegeken is.

 

Universiteit van die Vrystaat

 

VERWYSINGS

 

ALTENA, ARIE.

            2007. Epische poëzie nu. De Gids, november:1128-1138.

 

BOSMAN, P.J.

            1992. Ryp geel kring. Pretoria: HAUM-literêr.

 

BREYTENBACH, BREYTEN.

            1990. Soos die so - toktokkie se nagregister. Amsterdam: Meulenhof / Van Gennep & Johannesburg: Taurus.

 

 CROUS, MARIUS.

            2003. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

            2007. Marais keer terug uit buitenste ruimte. Die Burger, 4 Mei:14.

 

DUBROW, HEATHER.

            2006. The Interplay of Narrative and Lyric: Competition, Cooperation, and the Case of the Anticipatory Amalgam. Narrative 14(3), October:254-271.

 

DU PLOOY, HEILNA.

            2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

ESTERHUIZEN, LOUIS.

            1996. Die onderwaterweg. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

 

            2001. Opslagsomer. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

 

            2004. Liefland. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

            2007. Sloper. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

GROVÉ, A.P.

            2001. Resensie oor Die huisapteek (Barend J. Toerien). Beeld, 28 Mei:9.

 

HAMBIDGE, JOAN.

            2006. Marais se aangrypende, genoeglike debuut (resensie oor Danie marais se in die buitenste ruimte). Rapport-Perspektief, 22 Oktober:5.

 

HUGO, DANIEL.

            2006. Buitengewone debuut verwoord buitestanderskap (resensie oor Danie Marais se in die buitenste ruimte). [Internet]. www.litnet.co.za. [Toegang op 15 Maart 2007].

 

            2007. ABSA ketting: Daniel Hugo gesels met Danie Marais. [Internet]. LitNet, 11 April. http://www.linet.co.za. [Toegang op 29 April 2008].

 

HÜHN, PETER.

            2004. Transgeneric Narratology: Application to Lyric Poetry. In: Pier, John. (ed.). 2004:139-158.

 

KROG, ANTJIE.

            1985. Jerusalemgangers. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

            1989. Lady Anne. Bramley: Taurus.

 

            2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

 

MARAIS, ANLEN.

            1999. [M]uur van berge - elegieë. Kaapstad: Tafelberg.

 

MARAIS, DANIE.

            2006. [I]n die buitenste ruimte. Kaapstad: Tafelberg.

 

            2007. Danie Marais: die emosie van ontheemding (onderhoud: Versindaba). [Internet]. www.litnet.co.za. [Toegang op 29 April 2008].

 

NAUDÉ, CHARL-PIERRE.

            2004. In die geheim van die dag. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

NEL, GERT VLOK.

            1993. Om te lewe is onnatuurlik. Eenvoudige spoorwegstories. Kaapstad: Tafelberg.

 

NEL, RONEL.

            2002. [en die here het foto's geneem oor vanderbijlpark]. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

            2006. Marais dig kinderlik eerlik (onderhoud met Danie Marais). Beeld-Plus, 29 November:8.

 

ODENDAAL, B.J.

            2006. Tendense in die Afrikaanse poësie in die tydperk 998 tot 2003. In: Van Coller, H.P. (red.). 2006:105-148.

 

            2007a. Onbedoelde land. Kaapstad: Tafelberg.

 

            2007b. Verskil tussen prosa en poësie uitgedaag (resensie oor in die buitenste ruimte). Volksblad, 22 Januarie:8.

 

OLIVIER, FANIE.

            2007. Taaldinge wat jou na asem laat snak (resensie oor in die buitenste ruimte). Beeld, 10 April.

 

OPPERMAN, D.J.

            1979. Komas uit ‘n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

PHELAN, JAMES.

            1996. Narrative as Rhetoric: Technique, Audiences, Ethics, Ideology. Columbus: Ohio State University Press.

 

            2004a. Rhetorical Ethics and Lyric Narrative: Robert Frost’s “Home Buriel”. Poetics Today 25, Winter:627-652.

 

            2004b. Toward a Rhetoric and Ethics of Lyric Narrative: The Case of “A Clean, Well-Lighted Place. Frame 17:627-652.

 

PIER, JOHN (ed.).

            2004. The Dynamics of Narrative Form. Studies in Anglo-American Narratology. Berlin & New York: Walter de Gruyter.

 

PIETERSE, H.J.

            2000. Die burg van hertog Bloubaard. Kaapstad: Tafelberg.

 

PLETT, H.F.

            1985. Einführung in die rhetorische Textanalyse. Hamburg: Hekmut Buske Verlag.

 

RAIDT, EDITH H.

            1962. Die bundel as eenheid. ‘n Ondersoek na die funksie van die simbool in Opperman se Blom en baaierd. Ongepubliseerde M.A.-skripsie. Kaapstad: Universiteit van Kaapstad

 

SPIES, LINA.

            2007. Wat is poësie?: die misterie van ‘n ondefinieerbare genre (sic). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 14(1):93-109.

 

STANDER, CARINA.

            2006. [D]ie vloedbos sal weer vlieg. Kaapstad: Tafelberg.

 

STEYN, J.C.

            1975. Die grammatika van liefhê. Kaapstad: Tafelberg.       

 

            2009. Min glo Zuma. Skandelike transformasie gaan lustig voort. Volksblad, 8 April:10.

 

STOLK, FABIAN R.W.

            2007. Bij een zondagnamiddagwandeling. De Gids, november:1121-1127

 

STRYDOM, LEON.

            1976. Oor die eenheid van die digbundel. ‘n Tipologie van gedigtegroepe. Pretoria & Kaapstad: H&R Academica.

 

VAESSENS, THOMAS & JOOSTEN, JOS.

            2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nederland: uitgeverij Vantilt.

 

VAN COLLER, H.P. (red.).

            1999. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

 

            2006. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik Uitgewer.

 

VAN DER MERWE, KIRBY.

            2007. Wanneer woorde spook (onderhoud met Danie Marais). By (bylae by Beeld), 26 Oktober. [Via internet verkry - toegang op 29/04/2008.]

 

VAN NIEKERK, DOLF.

            2006. Nag op ‘n kaal plein. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.

 

VAN VUUREN, HELIZE.

            1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960-1997). In: Van Coller, H.P. (red.). 1999:244-304.

 

ZUIDERENT, AD.

            2001. De tweede gisting van poëzie. Ter inleiding. In: Zuiderent, Ad & Van der Starre, Evert  (reds.). De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels. Amsterdam: Amsterdam University Press. Pp. 9-28.

 

 

As almal ver is

Monday, October 19th, 2009

Kom maak tog maar ‘n draai Woensdagaand. Ek gaan ‘n paar tunes ook speel.

So lyk gelukkige digters…

Wednesday, October 7th, 2009

Die digters van Oopmond: van regs na links: Joe Moer! (Johannes Prins), JC Van (Johannes van Jerusalem), Rene Renaissance (Rene Bohnen), DJ Totterman (Andries Bezuidenhout), NP van Lykskou (Danie Marais), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en Uys Intrige (Neil Sandilands). FOTO: Alet Pretorius, foto24

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE

Loftus, Lize en die sletterige trekklavier

Monday, October 5th, 2009

Dit het alles by Loftus Marais se gedig oor die trekklavier begin. Adriaan Brand, van Springbok Nude Girls-faam, wat gewoonlik sy trekklavier wurg as Loftus die gedig voorlees, kon dit nie maak nie. Dís hoe ons toe aan Lize Wiid dink, wat gewoonlik saam met die Radio Kalahari-orkes en Laurie Levin speel.

Rachelle Greeff het as Boeke-Rapport se redakteur ʼn poësieprogram vir Aardklop saamgestel. Dis nou al so half ʼn tradisie om die laaste Vrydagaand van die fees iets met gedigte en musiek by die Boeke-Oase te doen. Hierdie keer kon ek, Danie Marais, Johannes Prins (ook bekend as Jo Prins) en Loftus Marais op die ou end instem en die logistiek agtermekaar kry om gedigte voor te lees. Ek moes sommer ook as musikant double up. Die geleentheid is “Met woorde soos met manne” genoem.

Kyk, Lize Wiid laat vele manne se woorde soos ʼn kers met ʼn uitgebrande pit stotter. Nie net het sy ʼn fenomenale talent vir musiek nie, sy is beeldskoon, to say the least. (En enigiemand wat nou oor objektivering wil aangaan, kan gaan doppies blaas – vir watter een van die twee opsies hulle ook al sin het.)

Ons sit in die Gereformeerde Gemeente se tent, waar hulle kos en drank tydens die fees bedien. Rachelle gooi ‘n vinnige party met Lize en die vier manne om oor die geleentheid te gesels. Ek en Lize oefen van my songs wat ons wil opvoer, ek met my kitaar en sy met die trekklavier. Sy figure sommer vinnig uit wat ons moet doen. Selfs “Spoed”, ʼn rock song oor ʼn beduiwelde biker, word met die trekklavier opgespice.

Nietemin, Loftus is min of meer bestand teen die uitgebrande-pit-sindroom in Lize se teenwoordigheid en dis toe lekker om te hoor hoe die twee oor die gedig praat. Dis nogal lank, met verskillende luimveranderings.

“Wat wil jy hê moet ek doen?” wil Lize weet.

Loftus trek sy neus op ʼn plooi. “Van die dele is ernstig,” sê hy, “en ander dele is weer sletterig.”

Lize se wenkbroue lig so effentjies.

Loftus sit die gedig se teks voor haar neer en sy lees dit. Hulle gesels nog ʼn bietjie en dan stel Rachelle voor dat ons almal gaan rus. Sekere mense se rooi oë speel seker ‘n rol; ek het die vorige aand net ʼn uur geslaap weens ʼn verbete kuiersessie wat vele blikkies Red Bull behels het in die Snowflake, ʼn ou meelmeule wat as kuierplek en kunsgalery dien, en ʼn vroeë afspraak in Johannesburg waarvoor ek moes terug en toe kort voor sonsopkoms sonder vlerke iewers in Sebokeng en Orange Farm verdwaal het.

Vroeër die middag het ek ʼn disaster van ʼn optrede op ʼn oop verhoog op die “bult” gehad. Die “bult” is ʼn plat stuk grond naby die universiteit waar die meeste van die fees se minder kunstige doef-doef-doef en kou-kou-kou plaasvind. Ek kon slegs twee mense in ʼn redelike groot gehoor identifiseer wat ek nie heeltemal koud laat nie en het toe maar op hulle gekonsentreer. Ten spyte van dié twee se ondersteuning, het ek een song se akkoorde heeltemal vergeet en moes rooigesig in die middel ophou.

Dalk moes ek nie eers vieruur die oggend Johannesburg toe gery het nie.

Ten spyte van my slegte bui het “Met woorde soos met manne” toe heel goed uitgewerk. Danie, Loftus en Jo het wonderlike gedigte voorgelees – een van Danie se nuwe gedigte gaan oor swak gedigte. Hierdie gehoor was meer ontvanklik vir my ou liedjies en Lize se trekklavier het wondere vir die atmosfeer verrig. Ek het van die onderliggende humor gehou, veral toe Loftus met die titel van die geleentheid spot en uitwys dat hy die enigste een van ons vier is wat nie getroud is nie, twee wat boonop nog kinders ook het – hy as die token “mannin.”

Die hoogtepunt was egter toe die duet op die maat van Loftus se gedig oor die trekklavier. In die speelse dele speel Lize speels, in die gemaak ernstige dele speel sy dramaties, en toe Loftus die sletterige deel heel sletterig voorlees, speel sy ook heel gepas heel sletterig.

Dit was ʼn besige Aardklop. Ek het min tyd gekry om produksies by te woon of om kunsuitstallings te besigtig. Ek moes ʼn paar keer my kitaar instem en vir my supper sing, of by die Boeke-Oase met mense oor boeke gesels. Alles was nogal lekker, ten spyte van die gemors by die oop verhoog. Vir my was die hoogtepunt egter die twee poësiegeleenthede – “Met woorde soos met manne” en “Oopmond” (waaroor ek eerskomende Sondag in my Rapport-rubriek skryf). By laasgenoemde geleentheid was sowat seshonderd mense. En dít vir poësie.

Dis lekker as dinge soms net uitwerk. Dis lekker as jy daardie gevoel kry dat jy deel van iets moois was. En jý weet dit en álmal wat daar was weet dit en gaan sit sommer na die tyd om ʼn groot tafel en drink die Doppergemeente se wyn in hulle tent en hulle gee nie eers om dat Loftus ʼn fire resistant cat suit het vir die oordeelsdag nie, ook Steve Hofmeyr, wat onder ʼn pet agter een van die boekrakke geluister het en ek na die tyd kon onthou dat daar ʼn man met ʼn pet aan tafel was maar nooit eers herken het nie.

Súlke oomblikke besweer soms al daardie voorbehoude wat maak dat jy alles op ʼn ironiese afstand moet bejeën en kan jy onbeskaamd aan ʼn glas wyn uit ʼn bottel met die etiket van ʼn Doppergemeente slurp en voel dís hoe dit perdalks moet wees.

Woorde en manne en sulke goed

Tuesday, September 29th, 2009

Kyk net hoe lyk hulle in swart!

Mense wat by Aardklop is, kan gerus Vrydag om 18:00 ʼn draai kom maak by die Rapport Boeke-Oase. Rachelle Greeff het ʼn program met Danie Marais (saam met haar in die foto hier bo), Loftus Marais, Johannes Prins en ek saamgestel. Die vier van ons gaan van ons ouer en nuwer gedigte voorlees. Ek en Lize Wiid gaan ook ʼn bietjie musiek maak om mense ʼn blaaskans te gee.

Die program se naam is “Met woorde soos met manne.” Ek weet nie heeltemal wat om daarvan te maak nie. Ek wonder wat dink Antjie Krog hiervan. Ek vermoed Rachelle wil iets oor manlikheid sê en ons gaan met hierdie doel voor oë ingespan word. Ek hoop daar word nie met swepe geklap nie.

Die sweep het geklap en die wawiele draai…

Of hoe gaan daardie ander gedig nou weer?

Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan
wat sy drank kan vat en wat sy vrou kan slaan.

Nee, die oorspronklike weergawe het seker ietwat anders geklink. Dan is daar die een oor geld en geweld. Die volgende is een van my eie, meer onlangse pogings.

RENT-A-HUSBAND

ʼn Yskas het ʼn kompressor
en ʼn oond ʼn element.
Een kondenseer en verdamp,
die ander bied weerstand.

Vleis kan ek vries
en dit dan weer braai
deur meters te lees
en knoppies te draai.

Hoe om dinge af te koel of op te warm
weet ek dus goed,
maar helaas, my lief, as dáái goed breek
you’re on your own.

Sien julle Vrydag by Rapport Boeke-Oase. Vir meer oor die program, gaan kuier hier.

Digters op reis

Monday, September 28th, 2009

Ek weet nie hoeveel lesers onthou nog die wonderlike aanhaling van Albert Camus voor in Hennie Aucamp se kortverhaalbundel Enkelvlug nie: ‘Dit is geen plesier om te reis nie. Ek sien eerder ‘n askese daarin. Vir sy eie ontwikkeling gaan ‘n mens op reis, wanneer ‘n mens onder “ontwikkeling” verstaan die afrigting van sy diepste sintuig, dié vir die ewigheid.’

Nou ja, self is ek maar eksistensieel ongesofistikeerd; ek is versot op Camus en kie, maar reis is nogtans vir my een groot, ononderbroke plesier. Afrigting vir die ewigheid? Whatever, soos ons in Afrikaans sê. Laat die ewigheid vir homself sorg; dit sal in elk geval nie die eerste keer wees dat ek ongeoefen vir iets opdaag nie.

Nee wat, selfs die kleinere teenspoedjies is vir my lekker, want hulle maak goeie stories vir die mense by die huis. Van daardie oomblik af dat ek my eerste whisky op die vliegtuig bestel tot wanneer ek die gevange gehoor van vriende en familie onderwerp aan my foto’s, is ek in my selftevrede element. Om jou daaglikse roetine vir ‘n wyle ter syde te stel en al die plekke van jou gunsteling flieks en boeke te besoek, is niks minder nie as ‘n reuse voorreg en plesier. ‘n Mens kan sommer liries raak! 

Ek vermoed dit is hoe baie digters ook maar voel, met die gevolg dat reisgedigte baie maklik anekdoties, soetsappig, oorromanties, en cliché-matig kan klink. Die ‘onthou jy nog die middag in [vul in: enige Europese stad]’ soort vers hou beslis groot risikos in. In daardie opsig is reisgedigte seker soos liefdesgedigte: pragtig as hulle werk, maar vol slaggate vir die goedbedoelende digter!  

Ted Hughes

Ted Hughes

Die reis, of die verblyf elders, kan natuurlik ook ‘n onwennige ervaring wees. En goeie skrywers en digters het die fisieke reis nog altyd ontgin as ‘n kragtige, durende metafoor vir die meer ‘geestelike’ of eksistensiële reise wat ons ook moet aflê. Albert Camus se eie kortverhaal, ‘Die owerspelige vrou’ (in Afrikaans vertaal deur J.D. Stemmet en opgeneem in Hennie Aucamp se Wys my waar is Timboektoe), is ‘n skitterende voorbeeld hiervan.

Een van die dinge wat my aanspreek in Danie Marais se eerste bundel, In die buitenste ruimte, is juis sy bevreemdende, wrang blik op die Europese gegewe, die verblyf in Duitsland. Daar is ander voorbeelde ook in Afrikaans: enkele van Marlene van Niekerk se gedigte oor Amsterdam in Groenstaar; die beste van Joan Hambidge se gedigte oor reise na afloop van ‘n liefdesverhouding.  

Is daar egter ‘n meer manjifieke voorbeeld van die ingesteldheid waarvan ek praat as die Engelse digter Ted Hughes se ‘You Hated Spain’? Dit is een van die gedigte waarin hy Sylvia Plath aanspreek en het eers in New Selected Poems 1957-1994 en later in Birthday Letters verskyn. Hier is die eerste paar reëls:

Spain frightened you.
Spain.
Where I felt at home.
The blood-raw light,
The oiled anchovy faces, the African
Black edges to everything, frightened you.
Your schooling had somehow neglected Spain.
The wrought-iron grille, death and the Arab drum.
You did not know the language, your soul was empty
Of the signs, and the welding light
Made your blood shrivel.
 

My bewondering vir hierdie gedig is so groot dat ek Hughes se idee ‘n paar jaar terug vir ‘n eie skryfsel gesteel het, ‘n soort alter-perspekstief op daardie wonderlikste van wonderlike plekke, die Griekse eilande… Ek plaas dit hier, maar wees my maar genadig: ek het mos al in my eerste aflewering gesê ek is nie ‘n digter nie!

 

JY HET GRIEKELAND GEHAAT
(n.a.v. Ted Hughes se You hated Spain)

 

Jy het Griekeland gehaat

die son was vir jou te warm 

die rondloperhonde het aan jou gekou

hulle het dag en nag en sonder ophou

gekerm en byt om ons bed se enkels.

Later het ons nog net in jou slaap gepraat.

 

Jy het Griekeland gehaat

elke onverbiddelike heuwel met sy kerk

ver van alles swygend en die verploeterende hitte 

alewig in die middag en die eentonig afgewitte

ure met hulle stowwerige donkies en ooms

en swartgeklade tannies op straat.

 

Jy het Griekeland gehaat

die gekibbel en gelatenheid van die mense

die gefnuikte gasvryheid van elke gebaar:

Jy sou eensaam bly eerder as om jou te skaar

by die té intussen menswees van hierdie land

van eilande klip en baie water.

 

Jy het griekeland gehaat.

Daagliks gedoog die bouer die argeoloog

want die lewe hier is altyd wat dit was en dan ook meer.

Jy het weggegaan in die wete dat niks wat teer

is tog oorbly waar soveel ten spyt oorleef. Liefde is ‘n ruïne hier

en elke dag ‘n duisend jaar te laat.