Posts Tagged ‘Danie Schreuder’

‘n Bos het al sy wortels nodig

Monday, July 20th, 2009

Pan Cogito

 

Ek het enkele dae gelede klaar gelees aan Danie Schreuder se bundel kortverhale, ‘n Beter hemel (2009: Tafelberg Uitgewers). Terwyl ek deur al die inspirerende leesstof op julle webblad rondsnuffel, kon ek net nie die een beeld wat Danie Schreuder in ‘n verhaal gebruik het, uit my kop kry nie. Dit is naamlik die verhaal waarin hy na die bos bome teen Papegaaiberg verwys en meer spesifiek na die wortels wat ondergronds verstrengel lê en al die bome bogronds voed; van die grotes tot selfs die heel kleintjies.

 

So is dit met die meeste skrywes op hierdie webblad gesteld, myns insiens. Neem nou byvoorbeeld Marlene van Niekerk se opmerkings en Charl-Pierre Naudé en Danie Marais se artikels. Hulle sê eintlik presies dieselfde ding; net op ‘n ander manier. Dieselfde geld Peter Holvoet-Hanssen se praatjie, oftewel vuurspeech! (Terloops, laasgenoemde stuk is as oorkoepelende kommentaar eintlik ‘n treffende samevatting van die voorafgaande stukke.) So ook die gesprek oor “toeganklike poësie” wat so ampertjies hier kop wou uitsteek. Dis nou na aanleiding van Bernard Odendaal se blog in reaksie op Jaybee Roux se dwarsklappe in Die Volksblad. In ‘n Nuuswekker het Louis Esterhuizen ook na André Kotzé se stuk op LitNet verwys …

 

Hopelik het julle ook Andries Visagie se Kopstukke (“Waar is die opstopper-gedigte?”) in Die Burger van 11 Julie gelees? Hierin lewer hy weer ‘n stewige betoog ten gunste van die hermetiese vers, soos hy dit noem. En natuurlik – die opstootjies van ‘n klompie weke gelede oor die gebruik van intertekstualiteit. Alles eintlik maar net die verstrengelde wortels ondergronds wat dieselfde bos voed, is dit nie? Waarom dan die heftige kap en die téénkap? Solank die leser van die digkuns nie ‘n homogene groep is nie, is die totale verskeidenheid van die digkuns ‘n noodwendigheid. En die wonderlikste is dat niemand eintlik daardeur bedreigd hoef te voel nie. Dis tog iets om te geniet, is dit nie? In watter vorm of gedaante dit ook al na ons toe kom … Solank julle as digters net voortgaan met dit wat julle móét doen. En dit is om gedigte te maak.

 

Voorspoed daarmee!