Posts Tagged ‘Daniel Hugo’

Hannalie Taute. Skitterende meisies, winkelpoppe en fantasie

Thursday, September 5th, 2013

Wat het Sonja Heroldt en Lauren Beukes in gemeen mag jy dalk wonder.  Seker nie veel nie, maar kom ons kyk hoe pas die legkaart inmekaar…..terwyl ek my gedagtes hier onder orden.

Ek (en ander kunstenaars) is onlangs uitgenooi om deel te neem aan ʼn uitstalling ten bate vir Rape Crisis via Kurator Jacki Lang en skrywer Lauren Beukes.  Ek het die projek vreeslik geniet!  Die opdrag: Hulle stuur bladsye wat uitgeskeur is uit haar nuutste boek: The Shining Girls.  Die bladsye word aan kunstenaars gestuur wat dit op enige manier mag intrepreteer en iets daarmee doen.  Ek het bladsy 136 gekies.  Aangesien ek nog nie die bogenoemde boek  gelees het nie, het die woorde op die bladsy my leiding gegee.  Ek het ʼn paar woorde uitgewis en voila- inspirasie!.

Ek wil almal graag uitnooi na hierdie opwindende inisiatief/uitstalling tydens die Openbook Festival

Uitnodiging

Vir meer inligting oor die projek besoek Lauren se webwerf hier.

Ek het nou wel nie Lauren se nuutste boek gelees nie, maar wel Maverick- Extraordinary women from South Africa’s past, wat handel oor noemenswaardige vroue in Suid Afrika.  Nadat ek Sonja, meisie van Nigel – ʼn lewensverhaal  deur Carel R Cronje gelees het, is ek van mening dat sy ook  as ʼn noemenswaardige vrou beskou kan word.

Ek het groot geword met Sonja Heroldt se musiek in die huis.

“Ek verlang na jou…

Na die wind wat sy arms om my vou.

So verlang ek as die son en die maan en die wind

En die wolke oor my gaan….”

Juis omdat ek dalk groot geword het met die klanke van haar stem het ek besluit om haar lewensverhaal te lees.  Die omslag het my oog gevang terwyl ek op soek was na Fees van die ongenooides.

Soos ek verstaan was sy die begin van ligte Afrikaanse musiek.

Ons eie Suid-Afrikaanse  winkelpop:

Winkelpoppe: glinsterrokke:

As jy wil en weet kom hou my –

Blondekoppe: goue lokke:

As jy wil en weet kom hou my –

Winkelpoppe: onbetrokke:

As jy wil en weet kom hou my vas….

Haar lewensverhaal is broos. Die boek boeiend.  Met tye wou ek lag en huil. Soms was ek boos en ander kere wou ek haar troos.  Ek het so baie geleer van haar as mens, asook ligte afrikaanse musiek in daardie tyd (70 en 80’er jare).  Hoe Anton Goosen lank vir haar geskryf het, en toe op ʼn dag gese het hy kan nie meer ”marshmallow stuff” skryf nie- of so iets.  Asook hoe David Kramer van mening was dat Skipskop nie haar song was nie, maar volgens my vertolk sy dit uitstekend en is haar bydrae defnitief een van my gunsteling weergawe van die liedjie.

ʼn Paar jaar gelede het ek na haar nuutste album (Reconstructing Alice) geluister en daarvan gehou, en nou wonder ek: sing sy nog?

If music is the food of Love, play on!  sê Shakespeare.

Musiek = lirieke of poësie? Ek het baie oor die vraag gewonder. Wicus Luwes het in sy vorige inskrywing daaraan geraak.  Ek wonder of ek Joernaal van Jorik beter sou onthou indien dit getoonset was….sou ek beter punte by die eindeksamen behaal het?

In my soektog na meer inligting oor lirieke vs poësie het ek op die boek Lyflied.  Liedtekste deur Hennie Aucamp afgekom.  In die nawoord, geskryf deur Daniel Hugo, staan daar: “Hennie Aucamp was die eerste skrywer van Afrikaanse lirieke wat ook teoretiese tekste oor die onderwerp gepubliseer het.”  Baie interessant, maar ek merk op dat dit meer handel oor Kabaret as Sonja se tipe liedjies, maar nogsteeds- ek is vasgenael.

“Eers saam met musiek en ʼn sanger wat ook woordkunstenaar is, kan ʼn liedjie ʼn soort gedig word.”

Woordkunstenaar….wat n mooi woord.

A ha en hoor hier: “..n ‘rym’ is nog nie ʼn gedig nie, maar vertoon darem ʼn ernstige strewe in die rigting.”

En danksy Daniel is Hennie Aucamp as ernstige digter opgeneem toe hy twee van sy liedtekste in Speelse verse van 1988 ingesluit het- 11 jaar na Hennie se Die lewe is ʼn grenshotel.  Snaaks hoe die lewe sy paadjie loop.

Voordat ek die hele Nawoord herhaal gaan ek hierdie laaste sin op bl 67 aanhaal: “Dit is al moeilik genoeg om te bepaal wat goed is;  as jy boonop wil onderskei tussen groot en klein beland jy in ʼn erger morele en literêr-teoretiese moeras.”

Ek sluit af met my gunsteling:

WAT MOEDERS WEET VAN LIEFDE –Hennie Aucamp

Die liebe dauert

Oder dauert nicht

Het Bertolt Brecht gesê –

My Moeder met haar wysheid

Kon Bertolt nie weerlê:

 

“Want wie, my kind, sou ons kon sê,

Hoe diep of vlak die liefde lê?

Wat diep is, kan soms vlak lyk:

ʼn bergpoel in die son;

wat vlak is, kan soms diep lyk,

tot jy eers nader kom.

 

“Wat blywend is, my dogter –

En dit moet jy onthou –

Is fantasie oor liefde

En dit moet jy behou.

“ʼn Leeftyd vol winters

Is fantasie jou gloed

Wat wanhoop, en selfs erger,

Verstarring moet verhoed.

 

“Want fantasie oor liefde

Kan méér as liefde bied.

Uit fantasie kom verse;

Uit liefde – skaars ʼn lied.”

 

Die Liebe dauert u.s.w

Louis Esterhuizen. Tot lof van effektiewe vaagheid

Tuesday, June 11th, 2013

 

Foto deur Steve Pyke.

In navolging van die onlangse gesprek oor hermetiese digkuns, lees ek ‘n interessante stuk op Poetry International Web oor die Amerikaanse digter John Ashbery raak; ‘n digter wat allerweë gereken word as nie net een van die vernaamste hermete vandag nie, maar ook as een van die mees gewaardeerde en geliefde digters in die Amerikaanse lettere beskou word.

By wyse van oriëntering, eers die volgende kommentare wat op Poem Hunter gevind kan word: “John Lawrence Ashbery is an American poet. He has published more than twenty volumes of poetry and won nearly every major American award for poetry, including a Pulitzer Prize in 1976 for his collection Self-Portrait in a Convex Mirror. But Ashbery’s work still proves controversial. In an article on Elizabeth Bishop in his Selected Prose, he characterizes himself as having been described as ‘a harebrained, homegrown surrealist whose poetry defies even the rules and logic of Surrealism.’ Although renowned for the postmodern complexity and opacity of his work, Ashbery has stated that he wishes it to be accessible to as many people as possible, not a private dialogue. “

En – “No figure looms so large in American poetry over the past 50 years as John Ashbery,” Langdon Hammer, chairman of the English Department at Yale University, wrote in 2008. “[N]o American poet has had a larger, more diverse vocabulary, not Whitman, not Pound.” Stephen Burt, a poet and Harvard professor of English, has compared Ashbery to T. S. Eliot, the “last figure whom half the English-language poets alive thought a great model, and the other half thought incomprehensible”.

Die essay op Poetry International Web waarna ek hierbo verwys het, is deur Ton van’t Hof geskryf en handel oor die gedigte van John Ashbery wat hy vertaal het en wat nou as Ergens in Amerika gaan verskyn. Van’t Hof tipeer Ashbery se digkuns soos volg:Over the years Ashbery has used a familiar technique: effective vagueness. Ashbery’s phrasing sounds concrete, but is in fact so general and ambiguous, that each time it smoothly fits in with the reader’s experiences, tuning his or her thinking to the poem. I rarely feel uncomfortable near an Ashbery poem. This effective vagueness is an important criterion for finding the proper words: whenever I have a choice, I always opt for the Dutch word that enlarges the meaning of the text in its entirety, even if it creates new connotations in comparison with Ashbery’s original work. Although I’ve never asked him, I believe that that is what he would want me to do […]Another effect of this vagueness is that every reader reads his or her very own John Ashbery poem.”

Alfred Schaffer

Hoekom hierdie van belang is? Wel, hierdie opmerkings oor Ashbery se kenmerkende digstyl kan myns insiens net so van toepassing gemaak word op Alfred Schaffer se digkuns; selfs die verwysing na “surrealisme” en Ashbery se versugting dat hy “toeganklike” verse wil skryf is van toepassing … Maar hoe gemaak met die vertaling van diesulke verse? Volgens sy eie verklaring het Van’t Hof homself die vryheid vergun om bepaalde woorde wat hy as “effektief vaag” beskryf in die Nederlands te “verruim”. Hierteenoor het Daniel Hugo weer met sy vertaling van Alfred Schaffer se gedigte (Kom in, dit vries daar buite, 2013: Protea Boekhuis) die oorspronklike teks met uiterste integriteit hanteer; ten spyte van die assosiatiewe (surrealistiese?) spronge wat die hermetiese vers so dikwels maak.

Myns insiens strek dít Daniel Hugo as vertaler tot eer.

Maar, ‘n laaste beskouing. In sy onderhoud met Danie Marais het Alfred Schaffer soos volg reageer op Marais se vraag oor die hermetiese aard van sy digkuns: “Watter soort poësie ek skryf, hang tot ’n mate ook af van die leser. ‘Hermeties’ sou ek my gedigte nie wil noem nie. ’n Gedig wat verwys na ’n musiekstuk of kunswerk of geografiese plek wat ek persoonlik nie ken nie, kan vir my meer hermeties voorkom. Die mate van verstaanbaarheid hang tot ’n mate saam met die soort van assosiatiewe denke van die leser. Wat wil jy as ’n leser van ’n gedig? Elke leeshouding is geldig, maar elke opvatting sorg weer vir ’n ander tipe leser. Moeilik of maklik, tradisioneel of eksperimenteel, poësie speel tot ’n mate altyd met die onsegbare.”

Inderdaad.

Op Poem Hunter is daar verskeie van John Ashbery se gedigte wat gelees kan word. Aangesien die meeste van hulle betreklik lank is, plaas ek as lusmaker hieronder net die laaste strofe van die gedig “Syringa”. En vir jou leesplesier, ‘n gedig van Alfred Scahffer soos dit deur Daniel Hugo vertaal is.

***

 

Droombegin

Die nagte is die ergste. Verderaan die laaste plase
maar alles is al onherkenbaar selfs my eie stem niks
niks maak meer sin nie – wat bestaan lyk skielik
supernaby en gedokumenteer, die water in die slootjies
die wind deur die kniehoë gras, die suigende grond
en daardie perd daar ek dink dit is ’n perd. Om tyd te wen
strik ek my veters. In my rugsak water kos droë klere
’n handvol los koeëls my selfoon het gewoonweg ’n sein.
Ek dink skaars, ek haal skaars asem, presies of ek dood is
maar ek is springlewendig. Is ek dors dan drink ek, is ek moeg
dan sing ek ’n liedjie wat my ma altyd vir my gesing het.
Van bo af sou dit miskien kon lyk of ek vlug maar
van bo af is alles duister. Hoogstens nog ’n paar kilometer skat ek
dan kom die son op, skitterend en helder lig oor alles.

© Alfred Schaffer (Vertaling deur Daniel Hugo)

***

Syringa

………..

But how late to be regretting all this, even
Bearing in mind that regrets are always late, too late!
To which Orpheus, a bluish cloud with white contours,
Replies that these are of course not regrets at all,
Merely a careful, scholarly setting down of
Unquestioned facts, a record of pebbles along the way.
And no matter how all this disappeared,
Or got where it was going, it is no longer
Material for a poem. Its subject
Matters too much, and not enough, standing there helplessly
While the poem streaked by, its tail afire, a bad
Comet screaming hate and disaster, but so turned inward
That the meaning, good or other, can never
Become known. The singer thinks
Constructively, builds up his chant in progressive stages
Like a skyscraper, but at the last minute turns away.
The song is engulfed in an instant in blackness
Which must in turn flood the whole continent
With blackness, for it cannot see. The singer
Must then pass out of sight, not even relieved
Of the evil burthen of the words. Stellification
Is for the few, and comes about much later
When all record of these people and their lives
Has disappeared into libraries, onto microfilm.
A few are still interested in them. “But what about
So-and-so?” is still asked on occasion. But they lie
Frozen and out of touch until an arbitrary chorus
Speaks of a totally different incident with a similar name
In whose tale are hidden syllables
Of what happened so long before that
In some small town, one different summer.

© John Ashbery

 

 

Resensie: Kom in, dit vries daar buite (Alfred Schaffer)

Wednesday, March 20th, 2013

Alfred Schaffer. Kom in, dit vries daar buite. Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-912-8. Sagteband, 106bladsye. R150)

Resensent: Zandra Bezuidenhout

  

Omslag

Alfred Schaffer is ‘n produktiewe en veelbekroonde Nederlandse digter wat tans in Suid-Afrika woon. Dit is vir ‘n digter van die jonger geslag ‘n prestasie dat daar binne die relatief kort tyd van 13 jaar ‘n keur uit sy vyf bundels saamgestel is, en ‘n bonus dat dit deur Daniel Hugo se vertalings vergesel word.

Schaffer se verse is vanselfsprekend in ‘n eietydse idioom en styl geskryf, en lyk geensins soos die Nederlandse verse van Kloos, Gorter, Achterberg en selfs Nijhoff wat ‘n ouer geslag op skool of universiteit so bekoor het nie. Wat nie beteken dat Schaffer se werk nie ook ‘n bekoring van sy eie het nie; inteendeel, dit is boeiende verse met ‘n vars aanslag wat jou onverwags tref en aan die dink sit. ‘n Tergende raaiselagtigheid maak die meeste gedigte meer ingewikkeld en spannend as die werk van De Coninck, Kopland en andere wat ook oor die afgelope jare deur Hugo vertaal is. Tipies van die moderne poësie, word daar inhoudelik nie soveel uitgespel soos die gebruik vroeër was nie. Schaffer werk eerder met suggestie. Die emosie word onder die oppervlak gehou en die versaanbod is subtiel, soms selfs afstandelik; sy werk is dus “onderkoeld”, soos die Nederlanders dit noem. Ten spyte van die oorwegend vaste strofebou, sluit die werk in toonaard aan by die verhalende geselstrant wat in die hedendaagse poësie so gewild is.

Die versameling bevat ook meer toeganklike gedigte (25),waarvan een in sy vertaalde vorm aangehaal word:

 Die situasie teen sluitingstyd

In die vlak deel van die swembad blaas ‘n man

klein wolkies in die aandlug.

‘n Paar meter verder omhels ‘n seun en meisie mekaar

vir die eerste keer – hulle skuur saggies met hul onderlywe,

 

hulle wil dans in ‘n nagklub, liefs tot die volgende oggend,

onder water na mekaar toe swem

en mekaar vasgryp soos wat hulle dit eenkeer in ‘n film gesien het.

Of waai en roep na die intens starende man

 

wat lyk of hy hom skielik bedink en maak of hy

versigtig uit die swembad klim noudat die trappelende bene

van die twee verliefdes allerlei vorms begin aanneem

in die voortdurend bewegende water.

Dit is nie altyd ewe maklik om vas te pen waaroor die gedigte presies gaan nie, omdat verbande dikwels ontbreek. Hierdeur gee Schaffer egter aan die leser die geleentheid om self betekenis te “maak”. Dis nou maar eenmaal hoe die eietydse hoofstroom-poësie werk, soos dit tewens met alle eietydse kunsvorme gesteld is. Geen vooraanstaande kunstenaar kan dit bekostig om staties te bly en in verouderde vorms vas te steek nie; en die leser wat werklik in poësie belangstel, sal daarmee tred hou.

Die oorwegende kenmerk van die gedigte is dat flarde van situasies en belewenisse op ‘n innoverende en onverwagse wyse in taal herskep word. Die digter konfronteer jou met omstandighede en verskuilde gemoedstoestande wat daarmee saamval, soos dié van samesyn en intimiteit (11, 25); of situasies van onmin (23) of verwarring (79). ‘n Bewussynstoestand word intens ervaar en, paradoksaal genoeg, met ‘n soort verwronge sekuurheid verwoord, onder meer deur die oomblik uit te rek en die gedig met ‘n reeks losstaande gegewens en gewaarwordinge te laai. “Vakansiemusiek” (17) met sy “uitruilbare beelde” is een so ‘n voorbeeld. Soms word die essensie van die gedig as ‘n nagedagte in die slotposisie geplaas, soos in “Wat hy besit, is waardevol” (27) met sy losstaande eindreël: “As sy sou omkyk, het sy hom nodig.” – veel bondiger as die Nederlands wat lui: “Zij heeft hem nodig als zij achterom zou kijken.” Deur die gesuspendeerde aard van die voorstellings gee die verse hul spreekwoordelike geheim nie maklik prys nie. Maar die leser wat ingestel is op assosiasies, suggestie, ironie en absurditeite kom algaande agter waarop die digter mik. Dit doen Schaffer gedissiplineerd en kundig, want die versbeweging stuur af op ‘n netjiese slot.

Vormgewys probeer hierdie digter nie in die tradisionele sin “mooi” of “poëties” skryf nie; hy soek eerder na ander vorms van poëtiese skoonheid, soos om woord en beeld op ‘n ongewone manier in te span of onverwante sake naas mekaar te stel, sodat sy leser onverhoeds in situasies gedompel word. Tog gaan dit om dinge wat ons almal een of ander tyd teëkom, maar deur die vernuf van die digter in eiesoortige omstandighede en taal aangebied en ingebed word. Op ‘n vervreemdende wyse systap Schaffer die digterlike clichés van minderes in sy vak. Ondanks, of dalk danksy sy ongewone skryfstyl, lei hy sy lesers om die vervlegte, durende, en soms verwarrende oomblikke van hul eie lewensloop te herken.

Die digter toon ‘n voorliefde vir uitgebreide of onwaarskynlike gedigtitels, soos “Oor die hele oppervlakte ‘n veld, dit is tyd om huis toe te gaan” (71). Dikwels word so ‘n titel teenoor ‘n alledaagse episode gestel om uiteenlopende sake te versoen en nuwe betekenisse te genereer. Dit is ‘n berekende werkwyse waardeur die digter ook ‘n ironiese afstand van sy stof verkry, en die indruk skep dat die spreker homself nie al te ernstig opneem nie. Dieselfde geld vir die bundel se titel, want Kom in, dit vries daarbuite nooi die leser met ‘n knipoog om saam met hom in sy gedigte te kom skuil, weg van ‘n banale buitewêreld wat per definisie as ongenaakbaar en onherbergsaam ervaar word. As mens die bundel goed lees en herlees, word die verhouding tussen ‘n gedigtitel en –inhoud duideliker, en op plekke vanselfsprekend. Dit kan as ‘n hebbelikheid van hierdie digter beskou word dat hy die leser opsetlik onkant vang, waardeur meer vertolkingsmoontlikhede oopgelaat word (moontlik ook vir die spreker self), en dit sodoende die impak van die gedig versterk. Een voorbeeld is “Die parallelle heelal” (31) waar die digter ‘n frase uit die natuurwetenskaplike jargon as ‘n metafoor gebruik. Op ‘n absurdistiese wyse word hierdie natuurgegewe ‘n versinnebeelding van ‘n dubbele lewe wat in normale omstandighede gelei word.

Die eerste strofe van die bogenoemde gedig kom op jou af soos Superman self:

 

In daardie tyd het Superman bekend gestaan as uiters vriendelik.

Aan die ontbyttafel het hy beleefd gegroet,

as gevra word, die suiker aangegee

en die asemrowende panorama geniet.

Hy het ou musiek gespeel as hy besluite neem

en daarna sy ma gebel.

Dieselfde idee van rolspel en die ervaring van ‘n buite- teenoor ‘n private binnewêreld, kom voor in die daaropvolgende gedig “Die leerling”, met sy enigmatiese slot:

 

Tot dusver is hy die enigste een wat dit op ‘n groot verhoog

kan waag om voorwerpe te gebruik wat net hy kan sien.

Schaffer se werk is lakoniek en gedug. Hy veins ‘n sekere opgewektheid en daag die leser uit om saam met hom losstaande oomblikke en landskappe van die gees te betree waar niks behoorlik sluit nie. Sy gedigte werk soos onduidelike fotobeelde of geknakte rigtingwysers. Die konstruksie van die verse is eiesoortig, maar weldeurdag, met geen woord te veel nie. Dit is die moeite werd om, soos die digter, te bespiegel oor die waarde van die gewoonste dinge soos die “toeklap van ‘n motordeur” (37), of ‘n beeld soos “[d]ie water kolk in sy liggaam” (39) wat na ‘n angssituasie verwys; of jou eie voorstelling te maak van ‘n man wat “…die meisie uiteindelik soen, sy oë toe,/ in haar pa se verlate kruidenierswinkel.” (41) In die digter se eie woorde klink die laasgenoemde frase so: “…en hij het meisje eindelijk zoent, zijn ogen gesloten,/ in de verlaten kruidenierszaak van haar vader.”

Die slotstrofe van “Land so ver as wat die oog kan sien” (43) is sprekend van die soort vrae wat die bundel by implikasie stel:

 

Moet iets gebeur? Of is dit al verby, die vinger op die sneller,

die spiralende rook – dit kon ek nie gedoen het nie, dink jy nog, dit

kon ek nie gedoen het nie. Al dié agterdog oor niks, geknie

uit die soort stof waarvan in ‘n verre verlede drome gemaak is.

Wat die vertalings betref, mis sommige van die versreëls vir my die ingeboude ritmiek van Schaffer se taal, wat te verstane is omdat Nederlandse woorde en sinne ten opsigte van die lettergrepe en sinstruktuur verskil van die Afrikaans. Tog sou mens meer moontlikhede kon oorweeg en klein verstellings kon aanbring om die vertalings vlotter en vloeiender te maak. In die digkuns gaan dit ook om die effek op die oor, wat deel vorm van die leser se totale belewenis van die teks. Waar die vertaler voorkeur gee aan die Afrikaanse vorm van ‘n Nederlandse woord, word die tipiese Afrikaanse segswyse nie altyd voldoende benut nie. Soms laat dit die vertaling te plegtig en formeel klink, of heeltemal vreemd, soos in die geval van “flaneer” (9) wat in die Afrikaans behoue bly, maar maklik met “drentel” vertaal sou kon word. Daar is talle gevalle waar so ‘n woord of sinsnede in albei tale nommerpas is – maar selfs hieroor is vertalers (en kritiese lesers) dit nie altyd eens nie.

As lesers self probeer om die Nederlands te vertaal, en ter wille van die spel hul eie pogings met Hugo se weergawe op die bladsy langsaan vergelyk, sal hulle gou ontdek hoe wyd óf skraal die moontlikhede in sekere gevalle is. Enige woord wat naasteby dieselfde betekenis dra, is nie goed genoeg nie. Bowendien moet die vertaler, afgesien van die inhoud, ook die styl, ritmiek, klankwaardes, beeldspraak en strukturering van die oorspronklike teks in ag neem. Die woordkeuses moet bowendien die instelling en moontlike woordspelings uitdruk wat die digter met groot sorg in die bronteks ingebou het. Miskien wil dapper lesers dit waag om te oordeel of “uitgekleed en doorgelicht” in Afrikaans die mas opkom as “kaal en ge-X-straal” (44/45).

Daar word doelbewus stilgestaan by die vertalingsaspek om te bevestig dat Hugo, in die geheel gesien, krediet moet kry vir die slim skuiwe waardeur hy die Nederlandse poësie Afrikaans laat praat. En Nicol Stassen van Proteaboekhuis en sy redakteur, Martjie Bosman, verdien lof vir hierdie inisiatief waardeur ‘n familiegesprek tussen verwante tale voortgesit word.

Ek sou die bundel vir fynproewersmaak aanbeveel; insluitende vir diegene wat in vertaling belangstel en ook hul kennis van die hedendaagse Nederlandse digkuns wil uitbrei. Maar die waarde van Schaffer se werk lê in die eiesoortige visie, tegniek en tematiek waaruit hy poësie maak. ‘n Beentjie om aan te kluif, voorwaar.

 

 

 Resensie geborg deur :

 

 

Marlies Taljard: Gedigte wat met hanekraai ontstaan

Wednesday, October 10th, 2012

Onlangs het ‘n paar nuwe digbundels op my lessenaar beland – een daarvan Daniel Hugo se Hanekraai wat ek met vreugde gelees het. Hugo is beslis ‘n meester van die kort gedig en sy vormbeheer is so ná aan perfek as enigsins moontlik. Sy gedigte is dikwels impressionisties van aard en herinner aan Moment Musicals wat op woordspel berus om, soos Ernst van Heerden dit sê, “blitssnel die swaartepunt [te] verstel”. Hanekraai is duidelik op die gewilde mark gerig – indien daar so ‘n mark van poësielesers bestaan! Dit is nie gedigte wat swaar dra aan literêre verdienste nie, maar gedigte wat onmiddellik en dikwels met die eerste lees plesier verskaf. Sommige gedigte neig selfs na die volkskuns.

Een van die belangrikste temas van die bundel het te make met die digkuns self, digters en die digambag – in hierdie blog wil ek kortliks op dié gedigte uitbrei.

Die titel, Hanekraai, word reeds in die motto en in die openingsgedig verantwoord: dit speel in op die oorgang van nag na dag. Die motto lui:

dit is tyd as die haan kraai

om van die nag na die dag

om te blaai:

 

In die eerste gedig konstateer die digter:

die gedig wat met hanekraai

ontstaan, skitter kortstondig

 

dan kom die son opgedaag:

die rooi vos wat die haan verjaag

 

Hierdie reëls verwys metafories na die persepsie dat gedigte lig werp op sake wat vir die mens “duister”, onverklaarbaar of onformuleerbaar is. Terselfdertyd raak dit egter ook aan die kortstondigheid van die insig wat deur middel van die gedig tot stand gebring word – wanneer die gedig aan die lig van die son blootgestel word, word dié insig “verjaag”. Dié beeld kan dui op die ongrypbaarheid van betekenis en die aard van gedigte om juis nie antwoorde te verskaf nie, maar vrae te vra en verwarring te skep. Die onvermoë van woorde (en van die digkuns) om betekenis oor te dra en die onverwoordbare te verwoord, word op velerlei wyses in die bundel aangeroer. Een van die gedigte waarin dié insig pragtig verwoord word, is Namibië III:

ek voel vreemd in dié woestyn waar

die stilte enjambeer van uur tot uur

en elke songeblakerde dag eindig

as ‘n volmaakte swygsonnet

hier staan die digter stom:

al wat in hierdie wydsheid rym

is die afwesigheid van klank

 

Wat my ook opgeval het, is hoe dikwels diere en dig met mekaar in verband gebring word. Die belangrikste is natuurlik die haan wat metafories aan die gedig gelykgestel word wanneer dit lesers uit hulle toestand van onverskilligheid ruk en tot insig lei. In Drieluik word die gedig eers met ‘n springbok vergelyk en daarna (in die kwatryn Baldspieël) met swaels:

swart teen die spierwit somerwolk:

sillabes van tuimelende swaels –

as jy sintaksis daarvan maak

skaal jy dit af tot iets banaals

 

En dan is daar die (vir my) onvergeetlike vergelyking in Selfkatkisasie tussen katte en digters: “katte (net soos digters) kan jy maklik krenk”.

Die skryfproses en selfrefleksiwiteit is ‘n verdere tema binne die gedigte wat oor skryf handel. In Seespieël lewer die digter tussen hakies kommentaar oor sy eie skryfwerk: “(my versreëls spoel nooit ‘n bladsy vol)”. In die gedig Namibië spreek hy die land aan en sê: “[jy is] ‘n onuitputlike bron / vir die talentloses wat wil skryf”. Die gedig Eggo probeer iéts beskryf van die skryfproses as sodanig:

vir sy stem wat

fluister of roep

skep die digter

met rymende reëls

‘n klankboemerang

wat oor die af-

grond eggo tussen

rou emosie en

versvormdwang

 

Getrou aan sy aard as meester van die ironie eindig die gedig Digter met die reëls;

digters is die edel-

smede van elke taal

onsin: hulle is slinks,

selfsugtig en brutaal

 

Ook in die handvol gedigte oor ander digters kom dikwels kommentaar op die skryfproses as sodanig of op die styl van die betrokke digter voor. In die kwatryn wat hy aan Johann de Lange opdra (in Twee kwatryndigters) verwys hy byvoorbeeld na de Lange se bundel Weerlig van die ongeloof waarin 102 kwatryne voorkom (as ek reg onthou):

jy kom met die lewe

en sy stront in die reine

in die pront bestek

van ‘n honderd kwatryne

 

Die slot van Muse II is ‘n goeie samevatting van die bundel as geheel, maar spesifiek ook vir dié gedigte wat oor die skryfproses handel:

In hierdie bruisende woordekosmos

raak die stomme digter se lippe los.

Daniel Hugo. Vertaling en die Afrikaanse Digkuns

Monday, October 1st, 2012

Voël, Perd en Bul: Vertaling en die Afrikaanse Digkuns

(Praatjie gelewer by SATI / SAVI se driejaarlikse prysfunksie vir vertalers en woordeboekmakers op 29 September 2012 by die Universiteit van Johannesburg)

Vooraf

Voordat ek by die eintlike onderwerp van my praatjie kom, eers ‘n kort woordjie vooraf.

Die graad van kulturele sofistikasie wat ‘n taal bereik het, word dikwels gemeet aan die vertalings van klassieke tekste uit die wêreldletterkunde. In die Christelik-Westerse konteks word dan heel eerste gedink aan die Bybel. Dit was inderdaad ook van die heel begin af ‘n belangrike prioriteit van die mense – soos Arnoldus Pannevis en S.J. du Toit – wat Afrikaans as ‘n standaardtaal wou vestig. Met die verskyning van die volledige Bybel in 1933 is die belangrikste hoeksteen van Standaardafrikaans gelê. Maar ook die Oosterse kulturele en linguistiese bande van Afrikaans het formeel beslag gekry met die volledige oorsetting uit Arabies van Die heilige Qur’ān deur imam M.A. Baker in 1961.

Vertalings van klassieke tekste het Afrikaans se posisie as volwaardige, kultuurtaal verstewig. Die lang epiese gedigte die Ilias en die Odusseia van Homeros uit die negende eeu voor Christus word beskou as die begin van die Griekse, en daarom ook van die Europese, letterkunde. Hierdie twee werke het onderskeidelik in 1954 en 1963 in ‘n Afrikaanse prosavertaling deur J.P.J. van Rensburg verskyn. Van Rensburg was ‘n professor in Grieks aan die Universiteit van Stellenbosch en hy het ook dramas van Sophokles, Euripides en Aristophanes in Afrikaans vertaal.

N.A. Blanckenberg het klassieke tekste uit die Latynse letterkunde vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak met sy vertalings van Vergilius wat in 1975 en 1980 die Suid-Afrikaanse sonlig gesien het. In 2002 verskyn nog ‘n Latynse teks, die Encomium Moriae van die sestiende-eeuse Nederlandse teoloog Desiderius Erasmus, in Afrikaans as Tot lof van Dwaasheid. Erasmus se klassieke Latyn is deur J.L. de Villiers in klinkende Afrikaans omgesit.

Dante Alighieri se La Divina Commedia uit die dertiende eeu is waarskynlik die belangrikste digwerk in die Christelike wêreld. Delamaine du Toit het Die Goddelike Komedie volledig in Afrikaans vertaal as Die Hel (1990), Purgatorium (1998) en Die Paradys (2002). Vir elkeen van hierdie vertalings, met uitgebreide aantekeninge en kommentaar, is Du Toit deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon. Dante se ingewikkelde rymskema, die sogenaamde terza rima met sy “kettingryme” aba bcb cdc …, het die meeste rymende vertalings in die wêreldletterkunde onleesbaar en onbetroubaar gemaak. Du Toit het hierdie stilistiese slaggat vermy deur ‘n letterlike prosavertaling te maak. Die beroemde openingsreëls van Dante se Inferno klink nou só in Afrikaans: “Halfpad deur die reis van ons lewe / het ek my in ‘n donker woud bevind / daar ek die reguit pad byster geraak het.”

Saam met Homeros en Dante word Shakespeare altyd genoem as een van die grootste skrywers van alle tye. Die literator F.I.J. van Rensburg noem Shakespeare “een van die groot vertaaltoetsstene” vir enige taal. En hy gaan voort: “Elke literatuur probeer hom aan Shakespeare meet … Dit is vir sommige selfs ‘n prestige-saak hoeveel Hamlet-vertalings ‘n bepaalde literatuur besit.” Daar bestaan verskillende vertalings van Shakespeare se dramas in Afrikaans, maar die bestes is ongetwyfeld dié van Uys Krige. Hy is deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon vir Twaalfde nag en Koning Lear.

En nou kom ek by die drie diere van my praatjie se opskrif.

 

Voël

 

Die Afrikaanse digkuns is byna 900 jaar oud en het begin met ‘n vertaling uit Latyn. Die oudste stukkie opgetekende Nederlandse poësie kom uit die tweede helfte van die twaalfde eeu. Dit klink só:

 

Hebban olla vogala

nestas hagunnan

hinase hic enda thu.

Wat unbidan we nu?

 

Dit wil sê: “Al die voëls het neste begin, behalwe ek en jy. Waarvoor wag ons nou?”

Hierdie reëls staan agterin ‘n Angel-Saksiese preekbundel wat behoort het aan die klooster van St Andrews by Rochester in Kent. ‘n Monnik het klaarblyklik sy nuwe gansveerpen op die skoon agterblad van die manuskrip uitgetoets. Hierdie sjarmante gediggie staan reg onder die Latynse reëls waarvan dit die direkte vertaling is. Dit is omstreeks 1150 neergekrabbel en het verlore gegaan, totdat die Engelse taalkundige Kenneth Sisam dit in 1932 in die universiteitsbiblioteek van Oxford (die Bodleian) ontdek het. Hy het dit dadelik geïdentifiseer as Oudnederlands. Die krabbelende en moontlik verliefde monnik was waarskynlik afkomstig uit Vlaandere.      

Omdat Afrikaans regstreeks uit sewentiende eeuse Nederlandse dialekte ontstaan het, is die Middelnederlandse letterkunde en ook hierdie Oudnederlandse reëls deel van ons literêre erfenis. Afrikaans het nie op 14 Augustus 1875 uit die blou Paarlse lug in ds. S.J. du Toit, die stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners, se skoot neergedaal nie. Afrikaans stam uit Nederlands en daarom begin ons digkuns ook met hierdie liefdesgediggie.

            Die Afrikaanse digters het van die ontdekking in die Bodleian kennis geneem en kort voor lank die reëls toegeëien. Die eerste digter wat bewustelik daarop gereageer het, was D.J. Opperman. In 1947 verskyn sy Negester oor Ninevé en die bundel open met die gedig “Ná ‘n besoek aan die dieretuin”:

 

                        Twee kraaie het hul nes gemaak

                        van stukkies draad;

 

                        en in staalkoue

                        ver van riete en riviere afgesluit

                        broei rooivinke en wildepoue

                        nog hul eiers uit;

 

                        in ysterhokke

                        ver van rantjies en langgras

                        werp ape en die waterbokke

                        nog hul kleintjies af;

 

                        net in ‘n enkelkamer ek en jy

                        van hulle vreugde afgeskei.

 

In die bloemlesing uit sy werk, Astrak van 1960, voeg Opperman die woorde “Hebban olla vogala …” as ‘n motto by die gedig. Sedertdien het talle Afrikaanse digters laat blyk dat hulle deur dié Oudnederlandse reëls geïnspireer is – te veel om nou ‘n inventaris daarvan te gee. Digters is dikwels tradisiebewuster as ander taalgebruikers. Hulle is die argivarisse én die nuutskeppers van ‘n taal.

 

Perd

 

Maar nie net die Nederlandse letterkunde beïnvloed Afrikaanse digters nie. Sedert die Britse besetting van die Kaap in 1806 sou ook die Engelse letterkunde sy invloed laat geld. En dit het al gebeur vóór die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners in 1875. F.W. Reitz was die eerste werklike digter in Afrikaans. Sy vroegste digpoging was “Klaas Geswind en syn perd” wat in 1870 in Het Volksblad verskyn het. Dit is ‘n vertaling en verwerking van Robert Burns se vermaaklike gedig “Tam o’ Shanter” van 1791.

F.W. Reitz, wat later president van die Oranje-Vrystaat geword het, het ook gedigte van Walter Scott en William Cowper in Afrikaans verwerk. Verder was hy in 1888 die eerste bloemleser van Afrikaanse gedigte wat in tydskrifte en koerante verskyn het. Tydens die Anglo-Boereoorlog was Reitz die Boere se enigste aktiewe digter-te-velde. In 1910 verskyn sy Oorlogs- en andere gedichten wat verse in Afrikaans, Nederlands en Engels bevat.

Robert Burns se “Tam o’ Shanter” is in Skots en Engels geskryf. Reitz verplaas die gebeure na die sendingdorpie Suurbraak naby Swellendam in Suid-Afrika. Hy doen dit in sprankelende Afrikaans in ‘n tyd toe Afrikaanssprekendes nog hul bes probeer het om Hoog-Hollands te skryf.

Ek haal uit Burns se gedig aan:

 

                        But pleasure are like poppies spread,

                        You seize the flower, its bloom is shed;

                        Or like the snow falls in the river,

                        A moment white – then melts for ever.

 

Reitz maak daarvan:

 

                        Plesier is nes ‘n jong komkommer:

                        As jy hom pluk, verlep hy sommer;

                        Of nes ‘n skilpad in sy dop in:

                        Soos jy hom vat, dan trek hy kop in.

 

Burns se Tam ry op ‘n vaal merrieperd genaamd Meg. Sy red hom van ‘n klomp spoke en die duiwel self wat Tam agternasit toe hy een nag in ‘n beskonke toestand by ‘n begraafplaas verbyry. In Reitz se gedig word van Klaas se perd gesê:

 

                        ‘n Flukse merrie was ou Kol,

                        Al was haar rug ‘n bietjie hol.

 

Tam en Klaas word gered deurdat hul perde oor ‘n riviertjie spring, want:

 

                        ‘n Spook is nes ‘n bokkapater,

                        Hy loop nie sommer in die water.

 

Hierdie gedig van F.W. Reitz staan vandag nog in die standaardbloemlesings uit die Afrikaanse poësie. “Klaas Geswind en syn perd” kan beskou word as die tweede begin van die Afrikaanse digkuns, en net soos in die geval van die eerste begin met “Hebban olla vogala” is dit ‘n vertaalde teks.

 

Bul

 

Uys Krige (foto: Marlise Joubert)

Die digter Uys Krige is waarskynlik die beste poësievertaler in Afrikaans. Hy het ons digkuns veral verryk met vertalings uit Spaans. Krige het natuurlik ook roem verwerf as vertaler van Shakespeare. In sy studie Digters van Dertig beweer die digter en akademikus D.J. Opperman selfs: “Uys Krige se vertalings neig tot oorspronklike werk, sy oorspronklike werk tot vertalings!” Krige se beste versvertaling is waarskynlik dié van Federico Garcia Lorca se “Klaaglied van Ignacio Sanchez Mejias”. Dit het in 1950 verskyn in die bundel Vir die luit en kitaar wat sy vertalings uit die Franse en Spaanse digkuns bevat.

            In sy opstel oor Lorca sê Krige dat dié grootse gedig in vier afdelings ‘n treursang is ter ere van ‘n vriend, die groot stiervegter Sanchez Mejias, wat in 1934 in die arena deur ‘n bul gedood is. Ek haal Krige woordeliks aan: “Dis geensins ‘n loflied op die stiergeveg nie. In sy wese het dit maar min met die stiergeveg te doen. Dis ‘n treursang op die dood van ‘n vriend, ‘n vriend wat kragtig en dapper gelewe en gesterwe het en wie se lewe ‘n eenheid was. Maar dis van so ‘n geweldige poëtiese siening, van so ‘n visioenêre krag, dat dit Lorca se eie klaaglied word, die klaaglied vir miljoene mense wat ná Lorca in die Burgeroorlog en daaropvolgende Wêreldoorlog sou sterwe, ‘n klaaglied vir almal wat moedig lewe en sterwe hier op aarde.” Tot sover Uys Krige.

            Lorca het natuurlik self ‘n slagoffer van die Spaanse Burgeroorlog geword toe hy in 1936 deur aanhangers van generaal Franco doodgeskiet is.

            Uys Krige vertel in ‘n naskrif by Vir die luit en kitaar hoe sy vertaling tot stand gekom het. Dit bevat een van die merkwaardigste bekentenisse deur ‘n vertaler wat ek al ooit teëgekom het. Krige sê: “Lorca se Klaaglied het ek in 1937 – tydens die Burgeroorlog en ná Lorca se dood – vertaal. Ek het nie die minste moeite daarmee gehad nie. Dit was asof iemand anders vir my die eerste, tweede en vierdie gedigte geskrywe het. Binne ‘n halfuur was aldrie kant en klaar. Dit was ook die enigste skryfwerk wat ek nog ooit gedoen het terwyl ek onder die invloed van drank was …” Dit wil dus voorkom of “daardie iemand anders” wat die vertaalwerk namens Uys Krige gedoen het, niemand anders as die god Bacchus was nie!

            Maar alle grappies op ‘n stokkie: Krige se vertaling is waarlik meesterlik en word inderdaad beskou as ‘n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse poësieskat. Met reg is dit sedert 2000 opgeneem in die Groot verseboek – daardie Bybel van die Afrikaanse digkuns. 

Om u ‘n idee te gee van Krige se vertaalvermoë lees ek die vierde gedig in die reeks, “Die afwesige siel”. En daarmee sluit ek af.

 

            Die bul sal jou nie ken nie nog die vyeboom,

            nog die perde nog die miere van jou eie huis.

            Die kind sal jou nie ken nie nog die agtermiddag

            want jy is dood vir altyd.

 

            Die plat kant van die leiklip sal jou nie ken nie,

            nog die swart mantel waarop jy verdelg is.

            Selfs jou eie stomme herinnering sal jou nie ken nie

            want jy is dood vir altyd.

 

            Die herfs sal kom met al sy slakkies,

            trosse van mis en saamgehurkte heuwels,

            maar niemand sal jou in jou oë wil kyk nie

            want jy is dood vir altyd.

 

            Want jy is dood vir altyd,

            dood soos al die dooies van die aarde,

            soos al die dooies wat vergeet word

            soos ‘n klomp dooie brakke in ‘n hoop.

 

            Niemand sal jou ken nie. Nee. Maar ek besing jou.

            Ek besing vir later jou gestalte en jou grasie.

            Die verhewe volwassenheid van jou begrip.

            Jou honger na die dood en die smaak van sy mond.

            En die treurigheid ten grondslag van jou manhaftige vreugde.

 

            Ons sal lank moet wag vir die geboorte, as hy ooit gebore word,

            van ‘n Andalusiër so helder, so ryk aan avonture.

            Ek besing jou swier en jou kordaatheid met woorde wat kreun

            en ek herinner my ‘n droewe wind deur die olywe.

  

© Daniel Hugo. 2012 

 

Bronne

 

Krige, Uys. 1950. Vir die luit en die kitaar. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Opperman, D.J. 1953. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasou Beperk.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.

Reitz, F.W. 1978. Outobiografie & Twee en sestig uitgesogte Afrikaanse gedigte.

Kaapstad: Tafelberg.

Hugo, Daniel (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

 

 

 

 

 

                            

 

 

    

Onderhoud met Daniel Hugo

Monday, July 16th, 2012

 

Gesprekke vir die binne-oor

Daniel Hugo gesels met Joan Hambidge oor sy pasverskene bundel, Hanekraai

***

Baie geluk met jou nuwe bundel Hanekraai wat sopas by Protea verskyn het, Daniel. Ek het in 2007 met jou op Litnet gesels Ek wil nie myself herhaal nie en verwys lesers graag na hierdie onderhoud. ‘n Vraag wat steeds tersaaklik bly: hoe voel jy oor die stand van ons digkuns tans?

Jy dwing my nou om te bieg, Joan. Sedert ek van die radio weg is en voltyds vertaal, het ek nie tyd of energie om op die hoogte van die jongste digkuns te bly nie. Ek volg wel deur middel van Versindaba alles wat uitbroei, kekkel en kraai. Van duskant die heining lyk dit vir my na ‘n klein maar woelige boerdery.

Jou nuwe bundel bevat gedigte oor ander digters. Hoe sien jy so ‘n gesprek? Is dit ‘n kritiese regstelling of aansluiting by daardie vakman?

Beide – dit kan ‘n kritiese regstelling by een wees, en ‘n simpatieke aansluiting by ‘n ander. Voorbeelde van die eersgenoemde soort is “Eksistensie” wat aan T.T. Cloete opgedra is of “Arthur Koestler (1905-1983)“, en van die laasgenoemde: “Twee kwatryndigters” wat handel oor Hennie Aucamp en Johann de Lange. Maar meestal is dit in memoriam-verse vir gestorwe skrywers wat van my waardering vir hulle werk en persoon getuig, soos die gedigte oor Ina Rousseau, Lucas Malan en Eugène N. Marais. Ek moes darem ook ‘n kwatryn wy aan die doyenne van die lykdig in Afrikaans:

 

Lykdigter

vir Joan Hambidge

 

haar versreëls lê soos die skaduwees

van ‘n laning sipresse oor die blad

dié bome laat die wind droewig suis:

hoor jy dit, is jy na ‘n graf op pad

 

Jy skryf ook satiriese verse soos die volgende een:

 

Heil die leser!

vir Nicol Stassen

 

A, wat is ‘n bundel verse sonder

‘n setfout of twee? ‘n Dooie wonder.

Anders word die leser voor ‘n keuse gestel:

Is dit ‘n blaps of is dit ‘n woordspel?

Gee die digter alle voordeel van die twyfel

as jy, liewe leser, nog wil weifel.

(Die lui redakteur kry nooit die eer nie.)

Die blatante fout word gesublimeer

tot meerduidigheid en dan sorgvuldig

gekontinueer. Papier is mos geduldig.

 

Wat is die funksie van so ‘n satire?

Om die leser te laat glimlag. Om my werkgewer (Nicol Stassen) en uitgewersredakteur (Martjie Bosman) ‘n bietjie te terg – en hopelik ook te laat glimlag. En miskien om te wys op die vrugbare feilbaarheid van die gedrukte teks én die leser. Want selfs al kry die leser ‘n betroubare teks onder oë, het die digter geen beheer oor wat daar ingelees gaan word nie. Dit hou die wonder van die poëtiese kommunikasie lewendig. Sodra daar eenstemmigheid oor die betekenis en waarde van ‘n gedig bereik is, verander dit in ‘n “dooie wonder”. Dit is die lotgeval van die meeste “klassieke” tekste.   

Jy is dikwels meedoënloos met jouself in hierdie bundel. Hoe voel jy oor die gedig as self-gesprek of as ‘n soort selfmoord? Jy noem digters ook “slinks, selfsugtig en brutaal” in die gedig “Digters“. (Hier is ek natuurlik ‘n uitsondering, nie waar nie?)

 

Digters

 

die soetsappiges laat

graag hul gevoelens blyk:

die woorde versuiker

terwyl jy daarna kyk

 

die betraandes weer skryf

of hulle gerook is:

die woorde vloei ineen

en kantel uit fokus

 

ander is verbitter

of onuitstaanbaar suur:

die gal wat hulle braak

brand dwarsdeur die papier

 

die suiniges word deur

te veel woorde gekwel:

hul laat die reëls presies

ses lettergrepe tel

 

digters is die edelsmede

van elke taal

onsin: hulle is slinks,

selfsugtig en brutaal

 

Jy het die selfkritiese ingesteldheid goed raakgesien. Dit is nie om dowe neute dat een van die gedigte die titel “Selfkatkisasie” het nie! Ek reken myself byvoorbeeld tot die suinige digters van die voorlaaste strofe in die gedig hierbo. (Jy kan maar tel: elke reël in dié gedig het net ses lettergrepe.) In “Lesingsaal, 1975” is ek beslis ook krities op my jong, verwaande self. (‘n Soort selfmoord? Moontlik.)

Die skryf van gedigte is vir my in die eerste plek ‘n self-gesprek. Die woordspel en ander grappies (soms galgehumor soos in “Skande“) is eintlik net bedoel om myself te vermaak. Dit is sekerlik ook so dat die Afrikaanse digter se potensiële gehoor aan die krimp is vanweë die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal op skool en universiteit. ‘n Alternatiewe titel vir die bundel sou Gesprekke vir die binne-oor kon wees, na aanleiding van die volgende reëls uit “Veertien verse vir ‘n wettelose land“:

 

Op my rekenaar

kielie ek deesdae gediggies uit

oor die lente, die liefde, die Lethe

in ‘n taal wat binnekort vergete

sal wees. Ek lawe my verslae ego

met dáárdie klanke van Afrikaans

wat nog net in die binne-oor bly eggo.

 

Jy het jare gelede Elisabeth Eybers as ‘n digterlike heldin beskou. Nou ja, niemand kan soos Eybers ‘n distigon of sonnet bedryf nie. Lees jy haar steeds? En Ina Rousseau?

Ja, ek lees al twee nog graag, veral Ina Rousseau. In Hanekraai staan ‘n gedig wat so begin:

 

ek lê in die bed en lees Ina Rousseau

dis haar klankspel wat my wakker hou –

 

Ek het die afgelope tyd twee uiters toeganklike Amerikaanse digters ontdek wat my baie plesier gee – selfs al skryf hulle ‘n soort gedig wat totaal anders is as die kort, klankryke verse van Eybers en Rousseau. Ek praat van Billy Collins en Tony Hoagland. By albei waardeer ek die humor en improvisasievermoë.

Ek sien eweneens die invloed van Auden op jou digkuns. En ook Opperman. Wat my uitbring by jou nougesette vakmanskap: jou verse is perfek gekonstrueer. Hoe vermag jy dit?

Dankie vir die kompliment, maar dis ‘n vraag wat bykans onmoontlik is om te beantwoord. Waarskynlik het dit met my psigiese samestelling te doen. Ek voel klaarblyklik onseker en onveilig as ek te veel vryheid gegun word. Daarom hou ek van rym, lettergreeptelling en vaste vorms soos die distigon, haikoe, kwatryn en sonnet. Ek moet myself soms forseer om losser versreëls aanmekaar te timmer. Daarom beny ek die gemak waarmee digters soos Collins, Hoagland en Danie Marais (op sy beste) die versreëls laat vloei sonder om die vae grens na prosa oor te steek.

Hoe lank het jy aan hierdie bundel gewerk?

Sedert my vorige bundel Die panorama in my truspieël wat in 2009 verskyn het. Maar sommige gedigte is ouer en het veel langer in die laai gelê. Nie alles wat ‘n digter skryf, is altyd geskik vir ‘n spesifieke bundel nie. Ek weet Hanekraai en sy voorganger lyk na skraal oeste, maar dit kom van lettergrepe tel!

Jy is eweneens ‘n vertaler van sowel prosa as digkuns. Watter impak het jou werk as vertaler op jou gedigte?

Dit gee my minder tyd om te skryf, maar die vreugde van vertaal vergoed daarvoor. (Kyk, dit laat my selfs allitereer!)

‘n Mens sou jou as vernufsdigter kon tipeer. Jy het immers hieroor ‘n tesis geskryf. Tog is daar in hierdie bundel ‘n groter emosionaliteit aanwesig. Het ek gelyk? In die openingsgedig staan daar:

 

my hart is ‘n gravitasiekolk

waarin die laaste vonk verslaan

 

Dit is ‘n vraag wat ek moeilik self kan beantwoord. As jy dink die verse is emosioneler van aard, is ek bly. Dan het ek nie verniet gelewe en gely nie!

Daar is eweneens natuurgedigte in hierdie bundel. Jy skryf oor katte, krappe, insekte, honde en wat nog. Wat is die funksie van so ‘n vers wat dikwels ‘n vers oor die vers word?

 

Seespieël

 

blou branders kom rymend aangerol

(my versreëls spoel nooit ‘n bladsy vol)

in seeblou ink skryf ek spieëlskrif hier:

die oseaan is ál gedig wat duur

 

Die digter vind dikwels ‘n gedig in die natuur en daarom word die natuur hier resiprokaal as ‘n gedig voorgestel. Die gedig en die natuur word spieëlbeelde. Wat die diergedigte betref: Met ‘n hopeloos oorbevolkte en oorontginde aarde raak mens en dier al hoe meer op mekaar aangewese. Ons begin diere al meer as lotgenote beskou.

Jy beoefen ook die haikoe en variasies hierop in jou bundel. Waarom het jy hierdie vorm gekies?

 

Haikoe

 

al weer ‘n seisoen

om lettergrepe te tel –

dis herfs in Japan

 

Die haikoe is die Everest van die die lettergreeptellers. Jy moet met baie min suurstof klaarkom en elke voet presies reg neersit. Binne sewentien tellings staan jy op die top van die wêreld of lê jy begrawe onder ‘n sneeuwit blad. Die groot uitdaging vir die moderne haikoeskrywer is om ander temas as die vier seisoene en die natuur as spieël van die digter se gemoed te beproef. W.H. Auden kon elke denkbare saak in haikoevorm giet. In Hanekraai het ek sowel tradisionele as “eksperimentele” haikoes probeer skryf. Die grootste uitdaging was om twee beroemde haikoes van die grootmeester Matsuo Basho (1644-1694) te vertaal en dan een-en-twintigste-eeuse variasies daarop te maak:

 

Matsuo Basho: weerspieëlings

 

I

vergete vywer

‘n padda spring van die wal

die klank van water

                                    *

giftige vywer

die padda dryf witpens bo

die stank van water

 

II

dit is doodstil – dan

deurdringend tot in die rots

die sonbesieskree

                                   

*

stilte bestaan nie

slegs kosmiese tinnitus:

die skril kubersfeer

 

 

Wat beteken die titel van jou bundel vir jou? Jy gebruik dit in verskeie geledinge, onder andere dat jy werk in ‘n taal wat dalk mag uitsterf en dat digters dus verraai voel deur die kuberruimte en politieke werklikheid waarin die bedryf van stilte al hoe meer verminder word …

Die haan simboliseer twee dinge: verraad en ontwaking. Wat die eerste aspek betref, kan ‘n mens – by wat jy hier bo noem – voeg dat die mens besig is om sy eie aard én die aarde te verraai. Dit staan in ‘n drieluik gedigte aan die begin van die bundel: “Evoluisie“, “Troetelgoed” en “Jurassic Park“.

Die idee van ontwaking kom veral voor in die erotiese verse aan die einde van die bundel. Die titelgedig “As die haan kraai” gaan redelik blatant oor die manlike ereksie. Dan volg vier liefdesgedigte en dié sekwens word afgesluit deur “Dagbreek“, wat met die volgende reëls wegval:

 

                        die haan staan op sy tone

                        met sy erekte nek tot die uiterste gestrek

 

Die haan as aankondiger van ‘n nuwe dag figureer in die motto voor in die bundel en in die twee reëls waarmee die bundel afgesluit word.

‘n Laaste vraag: hoe voel jy oor die stand van resensies tans en dat digbundels al hoe meer afgeskeep word in die dagbladpers?

Dit is ‘n treurige toestand wat weekliks treuriger word – veral aangesien die reeds beperkte ruimte in die Afrikaanse blaaie aan soveel Engelse boeke afgestaan word. As ek resensies oor die wêreldletterkunde wil lees, koop ek Engelse koerante of gaan soek dit op die internet. Die Afrikaanse pers is besig om sy taak ten opsigte van die Afrikaanse letterkunde gruwelik te verwaarloos ter wille van ‘n sogenaamde ruimer blik. Gelukkig is daar nog Versindaba wat sorg dat elke Afrikaanse digbundel behoorlik bekendgestel en uitvoerig bespreek word.

 Gee vir ons ‘n gunsteling-gedig uit hierdie bundel.

 

Nege metafore en ‘n vergelyking

 

‘n kind kraai anders as ‘n haan

‘n kat lek anders as ‘n kraan

‘n deur piep anders as ‘n muis

‘n klok slaan anders as ‘n vuis

die wind huil anders as ‘n wolf

‘n vy swel anders as ‘n golf

‘n wolk dryf anders as ‘n skuit

‘n peer bloos anders as ‘n bruid

‘n voël sing anders as ‘n vers

en digters doof gou soos ‘n kers

 

© Daniel Hugo (Uit: Hanekraai, 2012: Protea Boekhuis)

 

 

Daniel Hugo & Joan Hambidge

Daniel Hugo & Joan Hambidge

 

Louis Esterhuizen. Rutger Kopland, Nederland se mees geliefde digter, oorlede …

Sunday, July 15th, 2012

 

Hartseernuus vanoggend is dat die NRC Handelsblad pas bekend gemaak het dat Rutger Kopland (foto), allerweë beskou as een van Nederland se mees geliefde digters, op Woensdag, 11 Julie, oorlede is. Hy was 77 jaar oud. Luidens die verklaring, die volgende: “En nog altijd is zijn werk ongekend populair. Van zijn bundels zijn in totaal meer dan 200,000 exemplaren verkocht, en ze worden nog steeds herdrukt. Die grote populariteit zal ongetwijfeld te maken hebben met Koplands toegankelijke, bedachtzame stijl, zijn milde ironie, zijn weemoed, en met de voor velen herkenbare onderwerpen, vooral in de vroegere poëzie.”

Rutger Kopland se regte naam was Rudi van den Hoofdakker en hy is in 1934 in Overijsselse Goor gebore. Hy het hom na sy skoolopleiding as sielkundige bekwaam In die sestigerjare was hy werksaam as sielkundige in Groningen en in die sewentigerjare was hy verbonde aan die departement Biologische Psychiatrie aan die Groningse Universiteit, van 1981 tot en met sy emiraat in 1995 as hoogleraar.

Verdermeer is Kopland die tweede Nederlandse digter wat deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is en binne enkele dae van mekaar gesterf het. Sy vertalings van Kopland se verse, Onder die appelboom, het in 2010 by Protea Boekhuis verskyn. (Die ander digter is Gerrit Komrij.)

In ‘n onderhoud wat ek in Februarie 2011 met Daniel Hugo gevoer het, het hy die volgende oor Kopland se digkuns te sê gehad:

“Rutger Kopland se gedigte gee ‘n soort mistieke ervaring van die werklikheid weer in gedigte wat die eenvoudigste taal denkbaar gebruik. Hy skryf ook graag digterlike besinnings van die mens se belewing van tyd. Kopland op sy beste kan die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes huiwerend maar suiwer verwoord. Afrikaans is ‘n minder vloeiende en konkreter taal as Nederlands, met die gevolg dat heelwat Kopland gedigte eintlik onvertaalbaar bly […] Tipies van Kopland se denkwyse is die volgende reëls uit sy gedigreeks ‘Een lege plek om te blijven’: … Geef mij / maar een vraag en geen antwoord. In die gedig ‘Wat is poëzie’ probeer hy formuleer wat die digkuns nou eintlik is. Ten slotte relativeer hy sy poging met die woorde: ‘is dit een antwoord vraag ik.’ Vir Kopland bestaan daar nie vaste sekerhede nie. Sy bewussyn is ‘n waterryke, mistige landskap waarin ‘n mens maklik verdwaal en ten slotte verdwyn.”

En ‘n laaste aanhaling, oor Kopland se invloed op die Afrikaanse digkuns, die volgende wat ek met ‘n ligte blos op die wange plaas: “Daar is in Afrikaans geen digter wat werklik met Kopland vergelyk kan word nie. Ek weet wel, Louis, dat jou bundel Wat die water onthou deur Kopland beïnvloed is […] Met jou bundel het Kopland byna ongemerk ‘n deel van die Afrikaanse literêre sisteem geword. Die vertaling van sy verse gee hom nou ‘n prominenter staanplek in die geledere van ons poësie. Hopelik sal Kopland in die toekoms nie net Afrikaanse digters ten goede bly beïnvloed nie, maar sal hy ook die Afrikaanse lesers met sy unieke kyk op die wêreld verryk en verruim. Hy beskryf ‘n vloeibare, gedempte wêreld wat opvallend kontrasteer met die harde, droë wêreld van die Afrikaanse digkuns – as ek nou só grof mag veralgemeen.”

Inderdaad is ek iemand wat vandag hier ter lande ‘n glasie lig op ‘n grootse digter. Rutger Kopland was vir my ‘n reus onder reuse. As huldeblyk plaas ek die gedig wat Daniel uitgesonder het tydens die onderhoud as ‘n gunsteling van hom, met daarnaas ‘n vers van Kopland met ‘n spesifieke betekenis vir my as toegewyde roker.

***

Die roeier

 

Vanaand trek die mis oor die weiveld

 asof die aarde oopgaan en

 die grondwater oor sy walle stroom

 

 perde en koeie begin dobber en

 soos in ‘n moeras uit die oertyd

 dryf ten slotte nog net koppe

 en rûe verby

 

 uit die bome aan die oorkant

 raak iets los wat vir my lyk na

 ‘n roeier wat oorsteek om my te kom haal.

 

***

 

Oor die verlange na ‘n sigaret

 

Ken jy die verlange na ‘n sigaret

na daardie gelukkige tye toe jy nog gerook het?

 

Niemand verstaan dié verlange nie, behalwe ek.

 

Ek herinner my aan iemand wat altyd

as ek iets sê wat hy nie verstaan nie

geantwoord het: dit is nou baie interessant.

 

En ek herinner my ook dat ek dan

daardie uitspraak ‘n paar keer

in my kop moes herhaal:

dit is nou baie interessant

totdat die betekenis verdamp.

 

God kan ondeurgrondelike dinge met ons doen

danksy die feit dat hy nie bestaan nie

 

en so kan ook ondeurgrondelike dinge

gesê word danksy die feit

dat dit niks beteken nie.

 

Vandat ek dit bedink het, verstaan ek veel meer.

 

Die verlange na ‘n sigaret is

die verlange self.

 

© Rutger Kopland (Uit: Over het verlangen naar een sigaret, 2001.)

Vertalings deur: Daniel Hugo (Onder die appelboom, 2010: Protea Boekhuis)

 

Daniel Hugo – vertaling in Engels

Thursday, December 8th, 2011

Daniel Hugo – vertaal deur/translated by Charl JF Cilliers

 

Daniel Hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo was born in Stellenbosch on 26 February 1955. He spent his school years in Greyton and Windhoek. He subsequently obtained a BA (Hons) degree at the University of Stellenbosch, an MA at the University of Pretoria and  DLitt (Free State). At Stellenbosch he was a member of the D.J. Opperman Literary Laboratory. In 1982 Hugo made his debut as a poet with the volume Korte Mette. His latest volume is Die panorama in my truspieël. He is also well known as a translator of the Dutch poets Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) and Herman de Coninck (Die lenige liefde). After almost 20 years as a broadcaster on the Afrikaans radio service of the SABC, he is now editor of Protea Boekhuis. He has won several prizes for his translation work and radio programmes.

 

 

Table Bay II

 

To the horizon the salt of the ocean stretches

— a slavish mirror reflecting its azure —

the sun is a banished fire that trembles

over the bubble of Robben Island there

with all its scars of lepers and mandelas

 

I take a seat on a bench to admire

the view – on the sea breeze the polluted

miasma of a mendicant wafts all around —

before me rocks the radiant blue bay

and the tawny hilltops of the Swartland

 

to enjoy nature’s serenity in this land

your conscience needs to bear a heavy load.

 

(From: Skeurkalender, Tafelberg, 1998)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

The House Listens

 

my rooms are hollow as an inner ear

I hear how the occupants noisily fight,

make love, find fault, console each other, tear

to shreds the nasty present, never content;

keep bickering about could or should or might

 

let me tell you that I preserve what went

before: my bedrock cracks under the load each day

my ceilings riddled by all the echoes

from too many curses my plasterwork crumbles

from years of tears, on window panes the blight

 

of rust: and so what was wears all of us away

my roof plates and all your prayers that were sent

cry out for help with each mounting decibel

unheard in every night’s hollow conch shell

 

(From: Dooiemansdeur, Tafelberg, 1991)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

In Memoriam The Poet

 

His life was brief but heated

(at thirty years of age it ceased)

every flagon he depleted

let no lush virgin rest in peace

all his escapades he’d treat

with the clamorousness of his rhyme

his art was his prime conceit

blasphemous as a Faust

 

alas, he who seeks his wages

there is doomed to those Dark Ages:

hounded endlessly to dwell

by the printer’s devil’s sentence

without let or hindrance

in an antiquated hell

 

(From: Verse van die ongeloof, HAUM-Literêr, 1989)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

Deconstruction

 

the poet philosophises:

 

draw a line through silence

then you have words

 

draw a line through night

then it’s daylight

 

draw a line through death

then there is life

 

draw a line through the line

to make sure the cancellation is excised

and night, death, silence are revitalised

 

draw a line through poet

 

(Uncollected poem)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

Sparrow And Man

 

God never stops working on his cosmic symphony

(which will forever, so it seems, remain unfinished)

vexed by the harmony’s inflexibility

from time to time he brushes loose notes from his table

 

one of them lands in the tree in front of my window

indignantly it sits there chirping

                                                I have sympathy

with my fellow earthling, my small sparrow friend

 

in God’s universe there are far too many scraps

 

(From: Die panorama in my truspieël, Protea Boekhuis, 2009)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

Translator:

Charl JF Cilliers  was born in 1941 in Cape Town. Initially he went into the field of electronics and lectured for 4 years. He then joined Parliament as a translator in 1968 and retired in 1998 as Editor of Hansard. His first volume of poems West-Falling Light appeared in 1971, to be followed by Has Winter No Wisdom in 1978. His Collected Poems 1960 – 2008 appeared in 2008 and The Journey in 2010. His latest volume of poetry , A momentary stay.  was published in 2011. He also published a volume of children’s poems, Fireflies Facing The Moon, in 2008. He has retired to the Cape West Coast where he continues to write.