Posts Tagged ‘Dante Alighieri’

Onderhoud met Cas Vos (Vert. Dante Alighieri, Il Paradiso)

Monday, October 15th, 2018

Dante Alighieri, Il Paradiso, vertaal deur Cas Vos. Naledi, 2018

Cas Vos gesels oor sy vertaling met Johan Myburg.

 

J.M.   Il Paradiso is die derde en laaste deel van Dante Alighieri (c. 1265-1321) se magnus opus La Divinia Commedia. Elke deel van dié epiese gedig bestaan uit 33 canto’s. Die belang van die getal drie word verder benadruk deur die struktuur, die sogenaamde terza rima – driereëlige verse met 11 sillabes en ʼn rymskema aba, bcb, cdc, ded…. Hierdie laaste deel het jy nou uit Italiaans in Afrikaans vertaal en getrou probeer bly aan die teks, die vorm en die inhoud en boonop het jy die Afrikaanse leser van die 21ste eeu in gedagte gehou. Hoe het dit gekom dat jy dié taak aangepak het?

C.V. My jare van naby kontak met Niek Schuman, emeritus professor van die VU wat Italiaans vlot praat en Dante uit sy kop kan siteer, het my hiertoe oorreed. By hom het ek my liefde vir Italiaans aangeleer. Die vertaling van Il Paradiso vereis ook ’n kennis van Latyn, Grieks, Hebreeus en Aramees. Toe ek Il Paradiso begin lees, is ek begeester om die reis saam met Dante aan te durf. Maar eers het ek vir Apollo, op Dante se voetspoor, gepleit:

O gedugte Apollo, ek smeek jou vir krag

om my so aan die laaste taak te wy

dat mense my die lourierkrans waardig ag.

.

Tot dusver was die een piek van Parnassos

vir my voldoende; nou het ek albei nodig

vir die voltooiing van die drie laaste canto’s.

.

Kom, vul my met jou krag in voldoende mate

soos die keer toe jy Marsaïs verslaan het;

jy het hom gepluk uit die skede van sy ledemate.

Ek was so beïndruk deur die struktuur en tekstuur van die manjifieke gedig dat ek besluit het om die lang reis aan te pak. Johan, jy verwys met reg na die driereëlige verse en die terza rima rymskema. Dante het egter nie slaafs elke reël getel om 11 sillabes te vind nie. Daar is, om net drie voorbeelde te noem, reëls wat nie uit 11 sillabes bestaan nie.

ficcar lo viso per la luce etterna,

Cosi ricorsi ancore a la dottrina

che non move occhio per cantare osanna;

Die sillabes hoef in die vertaling nie in 11 ingedwing te word nie. Elke reël stel sy eie eise ten opsigte van die aantal sillabes. Dit gaan om die asemhaling, die ritme en vloei van elke reël. Ek het besluit om vir die tersines konsekwent ’n aba, cdc, efe …rymskema te gebruik. Die rymwoorde moet ten alle koste dwangrym vermy. Die funksie van rym is om die klank en kleur van elke tersine tot sy reg te laat kom.

J.M. Wat is die relevansie vir die hedendaagse leser om Dante in Afrikaans te kan lees? Is daar raakvlakke (polities, maatskaplik, godsdienstig) tussen Firenze van die 13de, 14de eeu en ons ervaring?

C.V. Dante se gedig bly tydloos. Dit ontsluit voorheen ongekende wêrelde en werklikhede. Dan is daar natuurlik die heerlikheid om die gedigte te ervaar..

Johan, jou vraag oor die raakpunte van Dante se Firenze en ons tyd is uiters relevant. Dit is asof Dante by ons aanklop en die gedig aan ons oorhandig. In Firenze was daar die politieke twiste tussen die Wit en Swart Guelfe. Politieke spanning, korrupsie, staatskaping, bedrog en verraad. Klink dit nie bekend nie? Dante is as stadsowerste van Firenze aan korrupsie en finansiële wanbestuur skuldig bevind en ten onregte verban. Indien hy sy voete ooit weer in Firenze sou sit, sou die doodstraf op hom wag. Die vonnis is eers in 2008 opgehef. Die samelewing is gekenmerk deur skatrykes en armlastiges. Net soos vandag. Die Rooms-Katolieke Kerk en die Heilige Romeinse Ryk het om mag gewedywer. Pous Bonaficius VIII was ’n egosentriese boosaard. Die probleem was nie God nie, maar sy grondpersoneel. So is dit vandag nog.

Dante het Il Paradiso in ballingskap in Ravenna gedig. Hy het dit gedoen om sy liefde vir Beatrice, sy mia donna, te verewig en hoop vir die toekoms aan die mensdom te gee. Dit is wat ons vandag meer as brood nodig het: hoop. ’n Toekoms.

J.M. Waarom het jy besluit op Il Paradiso? Was dit onder meer ʼn persoonlike voorkeur?

C.V. Ek het Dante vertaal omdat hy na my mening een van die allergrootste digters is en Il Paradiso is sy grootste werk.

Dante se invloed kan duidelik in die werk van onder andere Torquato Tasso se Gerusalemme Liberta (1581) gesien word:

O Musa, tu che di caduchi allori

non circondi la fronte in Elicona,

ma su nel Cielo infra I beati cori

hai di stelle immortali aurea corona.

.

O hemelse muse, mag die verlepte lourierkrans

van die Helikoniese lente nie u wenkbroue beskadu nie,

maar sit gekroon met sterre se onsterflike straledans

in die hemel, dáár bring engele glansend lof aan u.

Sy invloed op heelwat gerekende digters is enorm: Geoffrey Chaucer, John Milton, Henry Wadsworth Longfellow, Alfred Lord Tennyson, Ezra Pound, T.S. Eliot, W.H. Auden, Derek Walcott, Seamus Heaney en Robert Pinsky. Daar is ook spore van hom by Peter Blum.

Dante se komposisie is indrukwekkend. In canto 1 volg na die inleiding 100 reëls. Dit is ook die geval met canto XXXIII. Ná die woorde van Bernardus van Clairvaux volg die 100 slotreëls.

Die poëtiese strategieë wat Dante aanwend het my bekoor. Die rykdom van blomvars metafore en vergelykings, enjambemente, die akrostigon (maar dan op ’n eie oorspronklike manier), sillogismes, satires en nog veel meer.  Ek het gereken Dante moet in Afrikaans vertaal word. Dit is ’n ereskuld aan Afrikaans. Ek het byna tou opgegooi toe ek by canto’s XV en XVI kom. Die edel voorsaat van Dante is  Cacciaguida en dan is daar al die ander onuitspreekbare voorgeslagname. En hulle moet rym! Toe ek oor die slaggat gekom het, het ek besef nou moet ek tot die laaste canto voortgaan. Ek het uitgeroep: “Mio amico Dante, istanze!”

J.M. Hoe verskil dié nuwe vertaling van Il Paradiso van die bestaande vertalings in Afrikaans (ek dink aan dié van Delamaine du Toit en Kobus Krüger)?

Delamaine du Toit het al drie dele vertaal. Sy bedoeling was om Dante in Afrikaans leesbaar te maak. Die rym en poëtiese krag kom egter nie tot sy reg nie. Daar is opmerklike spel(foute) in die vertaling en aantekeninge. In Die Paradys X word reël 85 vemenigvuldig geskryf. In canto XVI, reël 41 staan erste in plaas van eerste. En in canto XXIX, reël 28 is drievoudge in plaas van drievoudige. Dis genoeg. J.S. (Kobus) Krüger het die Inferno in prosavorm vertaal. Dit is na my mening die beste en getrouste prosavertaling wat daar in enige taal bestaan.

Ek wil my nie oor my eie vertaling uitspreek nie. Wat ek wel wil skryf, is dat dit as gedig beoordeel moet word wat so trou as moontlik aan Dante se Italiaanse gedig staan, maar ook die huidige leser aangryp. Ek luister na die kenners van die Italiaanse teks van Dante. Ek gee eerder ’n voorbeeld van my vertaling: Canto XX:

142     En net soos ’n goeie luitspeler die sanger

           met die streel van seningsnare begelei,

           so word die lied se klank ryker en pragtiger,

145     en, terwyl hy aanhou praat het, was ek bewoë

            toe ek sien hoe daardie geseënde ligte

            net soos twee knippende en winkende oë

148      vlamme laat bewe met daardie gedigte.

J.M. Daar is mense wat meen Dante is onvertaalbaar en dat die rede is waarom daar (steeds) soveel vertalings ontstaan. Wat is die grootste uitdagings om Dante te vertaal? Jy verwys in die voorwoord onder meer na vertaling as ʼn kwessie van “keuses maak” en die gevaar om ʼn vertaling “inheems” te maak.

C.V.Vir my is die soveel vertalings juis ’n aanduiding dat daar ’n behoefte is aan meer en goeie vertalings. Die vertaling van Ike Cialona en Peter Verstegen het reeds vanaf 2000 tot 2013 sewe  herdrukke beleef.  Meer sê vir my daar kan nog beter vertaal word.

Keuses moet ten opsigte van elke tersine gemaak word. Dit geld die rymwoorde, maar ook die ritme en klank. Die band met en oogmerk van die bronteks moet eerbiedig word. Die oorgaan van een taal in ‘n ander, is ‘n reis. Met die reis breek nuwe seisoene aan. Die vertaling klink anders in die ontvangstaal, maar dit moet trou aan die grondtaal bly. Vertaling beteken dat ‘n nuwe daeraad aanbreek sonder om die glansende son van gister te vergeet. In een sin: Dante praat nou Afrikaans!

J.M. Rym en metrum maak vertaling soveel moeiliker. Wat was jou leidster ten opsigte van dié vertaaluitdaging? [Kan jy dalk ʼn voorbeeld uit die teks gee?]

C.V. Johan, ek stem volkome met jou saam. Rym moet in elke ontvangtaal vars wees en sonder dwang. Lees die vertaling herhaaldelik met die oor om daarvan seker te maak dat dit as gedig oorkom. Metrum (die natuurlike ritme en aksente) is ‘n eis vir ‘n poëtiese vertalng. Die leser moet oor naby aan die gedig wees. Vir my was die voortreflike voorlesings van Dawid Minnaar die toets van ‘n geslaagde vertaling. Die klank, die intonasie, die stemkleur en die interpretasie speel alles mee om dit as gedig te ontvang en te waardeer.

Ek gee ‘n voorbeeld van my vertaling:

82  Nooit dors ’n troostelose baba so innig

      na sy ma se melk as wanneer hy wakker

      skrik en die skerp lig sy voorkop belig,

85   só het ek ook, om nog skoner spieëls van my

       oë te maak, afgebuk na die water wat daar murmel

       sodat ons ons in die waterspieël kan verbly;

88   en skaars het my oë daaruit gedrink

       of dit het vir my gelyk of die rivier

       se lengteloop nou sirkelvormig krink.

J.M. Dante het beskik oor ʼn ensiklopediese kennis wat sterk van kosmologie tot letterkunde tot politiek. Dit verg ʼn vertaler wat bewus is van die kultuur-historiese konteks van die Dante-teks. Hoe berei ʼn mens jouself voor daarop?

C.V. Johan, ek sou nog teologie, filosofie en himnologie wou byvoeg. Dit is verbysterend. Stel jou net voor: die banneling in Ravenna is besig met sy allergrootste digwerk. Maar sonder enige bron en ook nie prof Google tot sy beskikking nie. Virgilius (Aeneïs), Ovidius (Metamorphoses), Cicero (De republica VI), Plato (Timaeus), Pseudo-Dionisius (De coelesti hierarchia), Aristoteles (Posteriora analytica II), Augustinus (Confessiones), Thomas van Aguino (Summa Theologica), Anselmus (Cur Deus homo), Albertus Magnus (De caelo et mundo), Bernardus van Clairvaux (De Consideratione).  As kind van sy tyd het Dante op die astronoom Ptolemaeus se kosmologie gesteun. Hy het vir sy engelehiërargie Pseud-Dionisius se engeleleer nagevolg (De coelesti hierarchia). Die planete, behalwe die Aarde, was as gode beskou. Binne hierdie raam kon Dante sy reis na die Empirio (die hoogste hemel) onderneem. Dit gaan my verstand te bowe dat Dante al die bronne, en nog meer, kon beheer. Dit was net ‘n genie beskore.

Sonder ‘n grondige kennis van die kultuur-historiese konteks van die Dante-teks en kennis van veral Italiaans, Latyn en Grieks is ‘n vertaling nie moontlik nie. Gelukkig hoef die leser nie alles te weet nie. Hy/sy moet hom/haar deur die vertaling laat meevoer na die visio Dei, die lig en heerlikheid van God.

Hoe verruklik word die drie-eenheid nie poëties toegelig nie?

109 Ek kan nie beweer dat hierdie stralende Gloed

       meer as ’n enkele voorkoms gehad het nie,

       want Hy is soos Hy is, altyd volmaak en goed,

112 maar my sig het sterker geword terwyl ek kyk,

        ek het sonder ophou getuur en gemerk

       dat die enkele verskynsel verander, buite my bereik.

115 In die onpeilbare helderglansende beeld

       van die Verhewe Lig kon ek drie sirkels

       sien van drie kleure en met een grootte bedeeld;

118 die eerste is in die tweede gereflekteer

        soos Iris deur Iris, die derde was vuur

        uitgeblaas onder die eerste twee se beheer.

121 Hoe ontoereikend is woorde om dit te beskryf

        wat ek gesien het en aan my geheue geknoop is;

        maar om dit weinig te noem, is om te oordryf.

Die teologie kan ook by Dante baat om die inkarnasie (menswording) meer poëties en minder dogmavas te verstaan.

82  Die aardse poeierstof is so volmaak gemaak

      vir die heelheid van ’n lewende wese,

      en sodoende het die maagd toe swanger geraak.

Ek gee nog ‘n poëtiese wyding aan die inkarnasie:

28  Daarom het die hele mensdom reeds lankal

      in hulle dwaling siek geyl, maar toe het God

      se Seun in die vuilerige slik van ons bestaan geval

31  tot waar Hy die natuur wat ons van God skei,

      met Homself herstel en verenig het;

      Hy het dit alles uit liefde en genade berei.

J.M. ʼn Aansienlike deel van jou vertaalde Il Paradiso bestaan uit verklarende aantekeninge waarin jy die net wyd sprei en die leeservaring as’t ware aanvul. Wat my laat wonder: Is dit moontlik om Dante te lees sonder dié agtergronde?

C.V. Dit is bedoel om die leeservaring aan te vul. Dit is wegwysers om Dante se gedig te begryp en daardeur aangegryp te word.

J.M. In Die Goddelike Komedie, ook uitgegee deur Naledi, het jy reeds gedeeltes uit die driedelige Dante-teks vertaal. Sien jy kans vir ʼn volledige vertaling van Inferno en Purgatorio?

C.V. Nee, Johan. Ek sien nie kans om van die hemel na die hel (inferno) af te daal nie. Dalk ontmoet ek daar vir Vanni Fucci, die verraaier wat ook die naam “Muil” gedra het.

Johan, baie dankie vir sinvolle en insiggewende vrae.

Die skakel na Dawid Minnaar se voorlesing.

Dante, Florence en al daai dinge

Wednesday, October 28th, 2009
Dante Alighieri

Dante Alighieri

Dit wil my omtrent voorkom asof Nuuswekker vandeesweek meestal rondom die tema van nageslagte en hul rol in die handhawing van beroemde voorsate se nalatenskap berig. So lees ek op The Guardian se webblad van Graaf Pieralvise Serego Alighieri, ‘n direkte afstammeling van die beroemde Italiaanse digter, Dante Alighieri, wat ‘n boikot-aksie teen die stadsraad van Florence van stapel gestuur het. Soos jy waarskynlik weet, moes Dante in 1302 dié stad inderhaas verlaat nadat hy ter dood veroordeel is weens bedrog en struwelings met die Pous van daardie tyd. Die res van sy jare het hy in Verona en Ravenna geslyt.

Nou wens die stadsraad van Florence om dié verwydering tussen Dante en sy moederstad uit die weg te ruim deur die hoogste toekenning waartoe hulle in staat is, tot die nagedagtenis van Dante Alighieri te maak. Graaf Pieralvise Alighieri weier egter om sanksie hiertoe te verleen aangesien hy voel dat die stadraad nie “jammer genoeg” is nie. Vyf lede van die stadsraad het naamlik téén die tersydestelling van die vonnis van toentertyd gestem. “It was anything but a collective ‘mea culpa’ and symbolic ending of [Dante’s] exile”, het Graaf Pieralvise gesê en bygevoeg: “I could have wept when I read the comments of some of the councillors.”

Dié “rekonsiliasie”, wat deur twee stadsraadslede van Silvio Berlusconi se People of Freedom Party geïnisieer is, het sterk teenkanting gekry van die liberale partye: “Dante does not need the council to rehabilitate him” het Nicola Rotondaro, leier van die Kommunistiese Party gesê. “If he had been sent to his death, would we perhaps have asked for his resurrection?” het hy gevra.

Nou ja, toe. Soveel dae, soveel dinge, nè.

Hieronder volg die eerste strofes uit Delamaine du Toit se vertaling van Die Hel. Terloops, dié drie dele, wat etlike jare uit druk was, is tans weer beskikbaar nadat Politika Uitgewers dit weer her-uitgegee en beskikbaar gestel het. Enige ordentlike boekwinkel behoort dit in voorraad te hê.

***

Intussen is ons maandelikse Nuusbrief aan De Contrabas gister op hul webblad geplaas. Terloops, De Contrabas word bedryf deur ‘n span van drie: Chrétien Breukers, Ton Van’t Hof en Jan Pollet. Indien jy ietsie meer oor Chrétien te wete wil kom, kan jy die onderhoud wat Meander met hom gevoer het, gaan lees. Inderdaad fassinerende leesstof. Dan is Melt Myburgh, ons nuwe blogger, vanoggend volstoom aan die gang. Hy het besluit om sommer met ‘n drieluik oor “vreemde liefdes” los te trek en beoog om die tweede en derde dele hiervan later vandag en môre te plaas … Ook van Ilse van Staden is daar ‘n besonderse bydrae met ‘n paar prikkelende gedagtes oor die kwessie van digterskap. Op sy beurt raak Andries Bezuidenhout weer opgewonde oor Rapport se nuwe baadjie.

Lekker lees en geniet hierdie middel-in-die-week-dag.

Mooi bly.

LE

 

Halfpad deur die reis van ons lewe

Het ek my in ‘n donker woud bevind

Daar ek die pad byster geraak het.

 

Ag, hoe pynlik om dit te beskryf,

Hierdie bos so wild en wreed en dig

Dat bloot die gedagte daaraan my vrees hernieu!

 

Só bitter is dit dat die dood skaars erger is.

Maar om verslag te doen van die goeie wat ek daar gevind het,

Sal ek vertel van die ander dinge wat ek daar gesien het.

 

Ek weet nie mooi hoe dit gebeur het dat ek daar ingegaan het nie;

Só swaar was die slaap wat my op daardie oomblik oorval het

Dat ek die ware weg verlaat het.

 

Maar nadat ek die voet van ‘n heuwel bereik het,

Daar waar daardie dal geëindig het

Wat my hart so met angs deurboor het,

 

Het ek opgekyk en gesien dat die helling daarvan

Reeds beklee was met die strale van dié planeet

Wat die mens reguit voorgaan op al sy weë.

 

© Dante Alighieri (Uit: Inferno / Die hel, vertaal deur Delamaine du Toit, 1990)