Posts Tagged ‘David Kramer’

Andries Bezuidenhout. Digkuns in die musiek – rock sonder die sterre

Monday, October 24th, 2011

Goeie naweek. Tyd vir lees en tyd om na musiek te luister – Gil Hockman se nuwe CD Too early in the journey. Die lees het ook oor musiek gegaan – Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers se nuwe biografie van David Kramer.

Gil is ʼn stigterslid van The Buckfever Undergound, saam met Toast Coetzer. In Buckfever speel hy gewoonlik baskitaar. Nou het hy ʼn solo-CD uitgereik, met ʼn hele paar van sy eie komposisies, maar ook pragtige covers van ander mense se musiek, insluitende ʼn mooi weergawe van Johannes Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow”, James Philips se “Shot down”, en die Handsome Family se “So much wine”. Die album is lo-fi opgeneem, meestal net stem en kitaar. Gaan luister gerus na ʼn paar van die tracks of Gil se Facebook-blad.

Die biografie van David Kramer het ek werklik geniet. Ek hoop dis die eerste in ʼn lang rits boeke oor Suid-Afrikaanse musikante wat deur letterkundiges geskryf word; beide Slabbert en De Villiers werk by die Universiteit van Stellenbosch se Engels-departement. Die boek is oorspronklik in Engels geskryf, maar ek is beïndruk met die Afrikaanse vertaling daarvan. Ek hoop dit word wyd gelees, omdat die boek onder die vel van een van ons beste en mees enigmatiese kunstenaars inklim. Ek hou van hoe Kramer se liriek ernstig opgeneem word en in historiese konteks deur die skrywers herlees en uitgelê word.

In kommentaar op ʼn onlangse artikel oor ʼn geleentheid waaraan ek deelgeneem het, skryf Johann de Lange die volgende: “Die ‘rocksterre’ moet nou nie laf wees & lirieke met gedigte verwar nie. Weinig van lirieke plaaslik haal die paal as gedigte. Lirieke is iets heel anders & uniek, maar gedigte is hulle nie sonder meer nie.” David Kramer is dit met hom eens. In ʼn onderhoud op LitNet sê hy die volgende:

“A lyric is not a poem and needs to conform to a structure and specific form. A poem often needs to be read again and again for its intention to be revealed, but a lyric has to be sung and understood on first hearing. In some ways it’s like that competition where you have to write a story with only seventeen words. It needs to be concise, much like a haiku. Another analogy would be miniature painting as opposed to broad strokes on a large canvas… Lyric writing is a process of distillation. Beginners tend to be too verbose or imprecise in their first attempts. A good lyric uses simple, singable words to convey big and strong ideas sometimes… A successful song needs to have a good idea. It needs to be fresh and personal but embody something that an audience can recognize or identify with… The way the lyric scans and its marriage to the melody are vital. A weak lyric will sink a good melody. A strong lyric will survive a weak melody, but it will soon be forgotten… The title and the melodic hook are vital and need to be placed properly. There is a craft to lyric writing, but that craft needs to be applied to an inspired idea. Without a fresh idea or twist to an old subject (like love) lyrics are prone to be clichés – a list of greeting card emotions. Sensitivity to your surroundings and your own emotional landscape is often a trigger for inspired ideas… You need to listen to great songwriters whose work has become evergreen. Read poetry and sharpen your powers of observation; be critical of your own work and rewrite.”

Tog wil ek myself verstout, ten spyte van wat Johann de Lange en David Kramer self sê, om te beweer dat van David Kramer se lirieke ook volwaardige gedigte is. Dis deels hoekom letterkundiges genoop voel om oor sy lewe en sy werk te skryf, dink ek. Oor die aanhalingstekens by “rocksterre” is ek De Lange dit eens – Suid-Afrika is te klein om van rocksterre sonder ʼn goeie riff of lick ironie te praat. Tog het ons ʼn veelsydige argief om te ontgin – soos Gil Hockman se afstof van James Phillips se “Shot down”. Dis voorwaar ʼn classic. Dalk nie ʼn gedig nie, maar as jy ʼn rock song só lo-fi kan doen, sonder verwerkings om agter weg te kruip, ís dit ʼn classic.

Andries Bezuidenhout. David Kramer oor die fracking-besigheid

Friday, May 6th, 2011

Gaan loer gerus hier in. David Kramer praat oor die Karoo, wat dit vir hom beteken, en fracking. Mooi beelde van die landskap. Kyk sommer ook na ‘n video vir “Onnerwater“!

Andries Bezuidenhout. Wat jy verloor as gemeenskappe verhuis

Wednesday, February 2nd, 2011

Piketberg gesien vanaf die pas Piket Bo-berg toe

Piketberg laat my altyd aan David Kramer se lied “ʼn Man stap” dink. Dit kom van sy plaat Kliphard af. Ek weet die lied gaan nie oor Piketberg nie, maar toe ek David Kramer ʼn slag daaroor uitvra, het hy gesê hy het elemente van verskillende dorpe in die liriek saamgevoeg, onder andere Worcester, waar hy grootgeword het. Dit gaan oor ʼn Suid-Afrikaner wat uit Kanada terugkeer om sy geboortedorp te besoek:

ʼn Man stap deur die strate
Jy kan sien hy’s van die stad
Hy dra ʼn donkerbril en Calvin Klein
Sy baard is kort en glad
Hy dink: Hoekom is ek terug
Vir wat is ek op soek?
Was hier nie ʼn klein kafeetjie nie?
Net hier op die hoek

Waar is die Scala Bioskoop
Het hulle dit gesloop?
Die sinagoge was in die gebou
Waar jy nou meubels koop
Die Jode het almal weggetrek
Die ou mense is dood
En laaities sit nou sonder werk
Hul voete in die sloot

Dis spesifiek die deel oor die sinagoge en die Jode wat weggetrek het, wat my aan Piketberg laat dink en soms ook Calvinia. Piketberg se naam was aanvanklik Piquetberg, ʼn verwringing van die Franse woord vir troepe wat ʼn wagpos beman. In 1792 is ʼn militêre pos hier begin om boere van Europese afkoms teen aanvalle van die Gonjemans, soos die oorspronklike bewoners genoem is, te beskerm. Deesdae is daar ʼn baie eksklusiewe vakansiedorpie genaamd Gonnemanskraal regs langs Jacobsbaai op die Weskus. Ons het ook ʼn plaas met hierdie naam teëgekom, maar as Goedemanskraal.

Piketberg se kanonne is ook gebruik om die boere van die aankoms van skepe in Kaapstad se hawe te verwittig. Hulle het hul waens dan vol produkte gelaai om met die skepe handel te dryf. Later is die kanonne afgevuur met spesiale geleenthede, soos Koningin Victoria se verjaarsdag en die aankoms van die eerste telefoonlyn op die dorp. Piketberg is formeel as dorp in 1836 gestig, toe Sir Benjamin D’urban grond vir die oprig van ʼn kerk toegeken het. Die huidige kerkgebou is tussen 1880 en 1882 gebou in ʼn neo-Gotiese styl. Vandag lyk die kerk so:

NG Kerk Piketbeg, vooraansig

NG Kerk Piketberg, detail

NG Kerk Piketberg, historiese gegewens

Toe ons die dorp die eerste keer besoek het, het ons ook ʼn draai by die begraafplaas gemaak. Daar is baie Joodse vanne op van die grafstene. Klaarblyklik was daar eens ʼn sterk Joodse gemeenskap, meestal van Litouse afkoms. Baie het hulself uit armoede opgehef deur goedere as smouse van opstal na opstal te verkoop. Die ou sinagoge is darem nie ʼn meubelwinkel nie, maar dien as die plaaslike museum:

Piketberg se Museum, voorheen die dorp se sinagoge

Sinagoge vanuit 'n ander hoek

Uitsig op vallei met koringlande

Ons het Piketberg nou al ʼn paar keer besoek. Dis beslis nie ʼn dorp wat agteruitboer nie. Tewens, verskeie van die geboue in die dorp waarvan ons hou, blyk gerestoureer te word. ʼn Voorbeeld is ʼn ou art deco motorhawe wat in onbruik verval het, wat iemand nou in kantore omskep het. ʼn Victoriaanse gebou langs die kerk is ook ingerig as ʼn gastehuis en daar is ʼn nuwe kunsgalery. En as jy hier aankondig dat jy nou “Hoofkantoor” toe gaan, verwys jy beslis nie na ʼn werklike kantoor nie, maar die hotel se kroeg.

Piketberg se kanon is die laaste keer in die 1960s afgevuur, toe ʼn misplaaste skoot die skool se vensters in ligte laaie gelaat het. Die loop is terstond met sement toegemessel en die kanon staan blykbaar nou in die skool om deur besoekers besigtig te word.

Die kwessie van Piketberg se Joodse gemeenskap laat my baie keer wonder. Piketberg is ook nie ʼn uitsondering nie. In Calvinia is die ou sinagoge ook nou ʼn museum:

Calvinia se museum, voorheen die sinagoge

Vele Suid-Afrikaanse dorp is deesdae armer sonder die Joodse gemeenskappe wat eens daar gewoon het. In baie gevalle was Jode, as meer onlangse emigrante uit Europa, die kern van sulke dorpe se kulturele lewens – toneelstukke is opgevoer, die dorp se kinders kon leer klavier speel en note lees, familieverbintenisse het mense in voeling gehou met gebeure in die wêreldletterkunde. Onthou, Calvinia is die dorp waar die gemeente C. Louis Leipoldt se pa, hul predikant, versoek het om nie sy viool te speel nie, omdat hy volgens hulle duiwelse musiek daarop gemaak het. Hy het die instrument weggebêre en het eers weer op sy sterfbed daarna gevra. Hy is met die viool in sy hand oorlede. Een van die redes waarom die Joodse gemeenskap Calvinia verlaat het, was toe die skool Engels as parallelle voertaal afgeskaf het om klasse uitsluitlik in Afrikaans aan te bied.

Van die aanvanklike Gonjemans en die Joodse gemeenskappe bly daar in sommige gevalle slegs name oor. Op sekere dorpe sal dit mettertyd seker die geval met Afrikaners ook wees. Ek hoop die kerkgeboue word nie meubelwinkels nie, maar darem museums wat getuig van ʼn vroeër beskawing, al was dit soms ʼn onverbiddelike, ongenaakbare kultuur. Miskien kry die nageslag van die Gonjemans selfs eendag hul grond terug.

ʼn Tragikomiese deel van David Kramer se liriek is die vrou agter die toonbank in die Pandora Koffiekroeg wat steeds dink haar naam is “Missies”. Die lied se refrein gaan só:

Wat maak ek in die dorpie?
Hier kan ek nie bly nie
Ek bly in Toronto
Maar Toronto’s nie vir my nie
Die somers is bedompig
Die winters is te koud
Jou hele lewe hardloop jy
En eendag is jy oud

Die nageslag van Piketberg se Jode het in 2004 ʼn olyfboom geplant om hul geskiedenis op die dorp te gedenk.

Erkennings:

Uittreksels uit “ʼn Man stap” kom van David Kramer se album Kliphard (Blikmusiek, 1999). Van die inligting oor Piketberg se geskiedenis kom uit ʼn brosjure Discover the Bergriver Region, wat deur die Bergrivier Munisipaliteit uitgegee is. Die storie oor C. Louis Leipoldt se pa kom uit John Kannemeyer se biografie van die digter.

Desmond Painter. Hoe ek tot die digkuns verlei is…

Monday, February 1st, 2010

Ernst van Heerden

Ernst van Heerden

Ek het nie besef, toe dit begin gebeur het, dat ek tot die digkuns verlei word nie… As ek het, het ek dalk beter weerstand gebied!

Maar nee, ek was jonk, ek was weerloos, en ek het nie van beter geweet nie.

Dit het alles met musiek begin – eers (in chronologies orde) Anton Goosen, David Kramer, en Bruce Springsteen; en toe, deur hulle toedoen, Bob Dylan, Jim Morrison, Leonard Cohen en ‘n rits ander troebadoere – en al te gou het dit gelei tot gesteelde uurtjies in die dorpsbiblioteek, ‘n stadig groeiende persoonlike versameling digbundels, en, natuurlik, die skryf van selfbewuste gediggies op bladsye wat ek versigtig uit my skool-skryfboeke geskeur het…

Oor hierdie klas vergrype het ek natuurlik aanvanklik maar by die skool en op rugbytoere geswyg – ‘n mens kon spog dat jy U2 se nogals poëtiese The Joshua Tree besit het, maar nie juis dat jy Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur op uitverkoping by die CNA aangeskaf het nie… ongeag hoe bitter gelukkig daardie aanwins jou ook al gemaak het!

Toe ek David Kramer, Anton Goosen en daarna Bruce Springsteen ontdek het (tydens my laaste jaar of twee op laerskool), was dit van meet af aan die lirieke, wat hierdie kunstenaars met blote Afrikaanse en Engelse woorde kon vermag, wat hulle vir my onderskei het van die popgroepe wat ek aanvanklik saam met die kudde na geluister het: Wham!, Duran Duran, Modern Talking, A-ha – ja-ja, wat kan ek sê, ek is ‘n kind van die 1980s!

Maar dat dit poësie was wat hierdie kunstenaars gepleeg het – dít het ek glad nie besef nie. Ek was ‘n niksvermoedende slagoffer! Popmusiek was toe wél gevaarlik, soos hulle op skool soms gewaarsku het, maar vir geheel en al ander redes: dit was ‘n soort Trojaanse Perd wat die poësie losgelaat het in my binnekamer; wat my verbeelding aangetas het en woorde vreemd gaan staan en maak het!

Dus, al ek het dit nie geweet nie, dit was ‘n klomp folksangers en rock ‘n rollers wat my verlei het tot die digkuns, nog lank voordat ek besef het gedigte, soos hokkie, klavierlesse en die debatsvereniging, is nie net vir bleeksiele nie. (Wel, ek moet bieg, ek is nou nog nie seker oor die debatsvereniging nie.)

Die saadjie was dus geplant, en al wat dit gekos het om dit te laat ontkiem, was daardie onafwendbare, onthutsende eerste ontmoeting met Breyten Breytenbach in Opperman se geel (as ek reg onthou) Verseboek in Standerd 6.

Ja, my storie begin ook, soos so baie Afrikaanse lesers van ‘n sekere ouderdom s’n, by BB en ‘n bietjie Krog; trouens, die eerste digbundels wat ek ooit vir myself gekoop het, was Breytenbach se Katastrofes (ja, dit is ‘n digbundel!) en Die huis van die dowe.

En tog was dit nie Breytenbach wat my die spreekwoordelike doodskoot gegee het nie. Dit was ‘n ander, miskien minder vanselfsprekende Afrikaanse digter wat seker gemaak het dat my aanvanklike belangstelling in die digkuns nie beperk sou bly tot ‘n tydelike kultus van persoonlikheid nie, maar sou lei tot ‘n langdurige belangstelling en liefde: die reeds genoemde Ernst van Heerden.

Ek weet nie meer presies hoe dit gebeur het nie, maar ek het ‘n versameling van sy eerste ses bundels in een band, Die kleur van donkerte, in die hande gekry en obsessief begin gelees. Ek weet nie presies wat die aantrekkingskrag was nie, maar Die kleur van donkerte het my as 14-jarige heeltemal onkant betrap. Skielik was ek nie net gefassineerd deur ‘n digter nie, maar deur gedigte en die skryfproses self. Skielik het ek besef woorde kan sing; en dat ek hulle dalk ook kan laat sing.

‘n Jaar of twee later het ek Amulet teen die vuur (ja, op uitverkoping) in die hande gekry… Ek het daardie bundel seker meer as enige ander bundel gelees, en probeer om daardie uitgesponne, filosofiese vrye vers-gedigte na te doen. Met min sukses, ongelukkig!

Ek lees nie juis meer die gedigte in Kleur van donkerte nie. Baie van hulle neig na die sentimentele, is dalk ietwat selfbewus verestetiseerd, of vertoon gewoon swak teen die beste verse wat Opperman, Van Wyk Louw, Eybers en ander op daardie stadium geproduseer het. Van Heerden het sy blywende bydrae (en dit is nie ‘n geringe bydrae nie) tot die Afrikaanse poësie, myns insiens, met sy latere bundels gelewer – rofweg, die bundels vanaf Tyd van verhuising.  

Hoe ook al, Ernst van Heerden is steeds disproporsioneel verteenwoordig op my boekrak; sy digbundels en ook sy outobiografiese werke en reisverhale, was ‘n konstante teenwoordigheid gedurende my skooljare. En of ek dit nou lees of nie, Die kleur van donkerte, met sy nou reeds gebleikte blou omslag, staan trots tussen al die ander bundels wat ek sedertdien gekoop en gelees het.

Dit herinner my aan ‘n vroeë verleiding.

Andries Bezuidenhout. As almal ver is

Monday, October 19th, 2009

Kom maak tog maar ‘n draai Woensdagaand. Ek gaan ‘n paar tunes ook speel.

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  “If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE