Posts Tagged ‘De Waal Venter digstring’

Digstring: Die wetenskaplike en die fee (De Waal Venter)

Wednesday, October 4th, 2017

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

—————————————————–

Die wetenskaplike en die fee

.

Voëls gaan tekere

in die bome van die agtertuin

waar die sosioloog

met ’n vergrootglas

’n paar sandaaltjies bestudeer

so groot soos druiwepitte.

’n Fee skiet deur ’n streep sonlig

en land op die tafel

naby die man se kneukel.

Haar vlerkies glinster

en verdwyn dan amper heeltemal

toe die lig verander.

Sy dra jeans

oop op die knieë,

’n neusring amper te klein om te sien

en ’n skilpadraambril.

Die fee stap nader

en leun teen die sosioloog se duim,

arms gevou. Sy is kaalvoet.

Hy staar net, bang om te roer.

Jy’t my sandale, sê die fee.

Die sosioloog knik sy kop versigtig,

terwyl die fee plat gaan sit

en haar sandale aantrek.

Wat’s jou gevolgtrekking? vra die fee

en vryf haar neus met effens opgetrekte bolip.

Die sosioloog skraap senuweeagtig sy keel:

jy bestaan nie.

Jou voet man!

antwoord die fee vrolik.

Sy klap die man se duim

soos sy ’n ryperd se boud sou klap

en vlieg die sonlig in,

skielik soos ’n skrikgemaakte vlieg.

(Uit “Oop sirkel” Naledi,  p. 80)

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Die gedig is ongeveer twee jaar gelede geskryf, ek kan nie onthou presies wanneer nie. Wel in die oggend. In die nag slaap ek.

Wanneer dit kom by die ontstaan van die gedig, is daar vir my veral twee begrippe ter sake: die rol van die onbewuste en die poëson.

Die “poëson” is ’n woord wat ek geskep het om die basiese element van ’n gedig te beskryf. Dit is nie maklik om te verduidelik nie, maar mens kan daaraan dink as ’n denkpatroon wat deur die gedig loop en die onderdele daarvan verbind. Daar is meer as een poëson in ’n gedig en hulle verbind ook met mekaar om die digte betekenisstruktuur van ’n gedig te help skep.

Wanneer ek skryf, is die poëson in my geval nie ’n bewuste vonds nie, maar tree te voorskyn uit my onbewuste en ontplooi oënskynlik spontaan. Ek weet byoorbeeld nooit hoe ’n gedig presies gaan eindig wanneer ek skryf nie.

Die gedig word wel gevorm deur bewuste denke, maar op die lees van die onbewuste opdoeming van die poësons.

 

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

My gedigte ontstaan in een aaneenlopende proses wat gewoonlik nie baie lank duur nie. Die begrip van “verskeie weergawes” is vir my vreemd. Net soos daar nie verskeie weergawes van een mens kan wees nie, kan daar ook nie van (my) gedig verskeie weergawes wees nie. Dit is ’n organiese geheel.

Ek skaaf wel aan ’n gedig waar nodig. Maar dit is minimaal. Ek skryf die gedig met die hand en dan tik ek dit in op my woordverwerker. Dit is wanneer ek hier en daar ’n woord verander en taalfoute of feitefoute regmaak. Dit gebeur ook soms dat iemand my wys op ’n swakheid in ’n gedig en dan verander ek dit as ek iets beters kan kry.

 

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Ek kan nie ’n gedig “uitdink” nie. Die gedig ontstaan in my onbewuste en wanneer dit “na vore kom” skryf ek dit neer. Ek het ’n vaste roetine en die meeste van my gedigte word vroeg in die oggend geskryf. Ek stel my daarop in om ontvanklik te wees – dit is ’n gemoedstoestand wat nogal herinner aan ’n meditasie-proses.

In ’n onlangse radio-onderhoud (Vers en klank op RSG) het ek skertsend verwys na my muse, Yanni Euterpe. Sy stap by my in en begin dikteer. Dan moet ek net skryf om by te bly!

Omtrent enigiets kan as kern dien vir die gedig-idee. Rondom die kern groei die gedig dan op ’n soort organiese manier. Hierdie kern kan iets wees wat ek gelees, gehoor gesien, ervaar of geruik het. Dit kan selfs iets wees wat iemand gesê het.

In ’n gesprek ’n ruk gelede het iemand byvoorbeeld gepraat van die Spaanse woord “cariño”. Dit het daarop uitgeloop dat ek ’n Afrikaanse gedig geskryf het met hierdie woord daarin. Dit is ’n woord van vertedering, iets soos “liefie” of “dierbare ding”.

 

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek gebruik nie vaste rympatrone of formele ordeningsbeginsels nie. Elke gedig het sy eie orde en struktuur wat deur sy poësons geskep word. Elkeen is anders. Soms is hierdie eiesoortige struktuur nie sterk genoeg nie en dan slaag die gedig nie, kom nie volledig tot poësie nie en bly eintlik net ’n stuk prosa.

Dit is een van my moeilikste take om daardie gedigte te eien wanneer ek ’n versameling aanbied. En dit is waar ’n keurder met insig soveel vir enige digter kan beteken. Louis Esterhuizen het my byvoorbeeld gehelp om ’n handjievol sulke gedigte uit die gepubliseerde “Oop sirkel” te hou.

 

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Wanneer ek skryf is dit net ek en Yanni Euterpe wat werk. Niemand anders nie.

 

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek bedryf ’n poësie-blog, “Poetry en poësie” (ek skryf ook Engelse gedigte), waarop ek gewoonlik my gedig dadelik plaas sodra dit geskryf is. Hierdie “fee-gedig” is vir die eerste keer daar gepubliseer.

 

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Ek het ’n gedig gekies met ’n ligter aanslag om hier te bespreek. Ek wou nie te diepsinnig en dus moeilik leesbaar wees nie. Tog dink ek die gedig bied die leser iets om oor na te dink.

Is daar ’n enkele “feit” in die gedig? Op die oog af, nie. Alles fiksie.

Maar, lewer dit nie dalk kommentaar op die mens se geneigdheid om in vaste denkpatrone vasgekeer te raak nie? Galileo, jy is gek as jy dink die aarde draai om die son! Die mens stam nie van ape af nie, Darwin! Aardverwarming? Bog man!

Hier sit die wetenskaplike en sien met sy eie oë ’n fee. Sy praat met hom en hy antwoord. Wat is nou die werklikheid? Bestaan die fee of nie? As hy dit ontken moet hy sy eie ervaring en bewustheid ontken.

 

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Bo en behalwe wat ek hierbo sê, kan ek byvoeg dat ek ’n hekel het aan manlike chauvinisme. Die soort man wat dink dat hy meerderwaardig is teenoor ’n vrou, net omdat hy ’n man is, maak my knorrig. Hierdie gedig wys speels daarop hoe ’n vrou speel-speel ’n man kan koudlei, al is hy twintig keer groter as sy!

 

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die Grimm-broers en my kleindogters.

 

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee. Dit is baie selde dat ek ’n gedig vir ’n bepaalde persoon skryf. My gedigte word vir alle lesers beskikbaar gestel. Ek weet party lees vinnig en oppervlakkig, party met begrip, ander met onbegrip, party met waardering, ander met verveling. Almal is welkom, lees maar er staat niet wat er staat.

 

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Hierdie vers pas in die soort waar ek humor en ironie toepas. Ek probeer altyd om die humor só in te span dat daar wel iets beduidend gesê word. Ek skryf ook in ’n paar ander style en benaderings, maar wil dit nou nie hier opnoem nie.

 

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee. Die gedig kon net so wel in Europa of Amerika of elders geskryf gewees het. Dit put uit ons groot Europese erfenis.

 

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Soos ek voorheen gesê het, is die skryfproses by my aaneenlopend en taamlik vinnig. Ek “versaak” nooit ’n gedig nie. Maar natuurlik beteken dit nie dat al my gedigte geslaagd is nie.

 

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het goeie reaksie ontvang van ’n klein kring kennisse en familie. Ek dink die humor in die gedig het reggekry om dit te help oordra wat ek wou kommunikeer.

 

  1. ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

In September 1962 was ek ’n twintigjarige mediese student aan Tukkies. Een van my eerste gedigte wat ek kon opspoor is “Lied in die lente”. (Ek gaan nie verskoning vra vir die gedig nie, ons moet almal êrens begin).

.

Die sipresboom

is ’n lang

smal skeur

wat roer

in die duifgrys

nag.

Die ou,

gevlekte maan

wieg in

die fyn

nag.

Die sipresboom

is dig

en stowwerig

van die verdriet

van menslike

dinge.

Die bly blomme

is orals

met onsigbare kleure

en lag onhoorbaar geluidloos

van ongedoende

dinge.

***

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens