Posts Tagged ‘De Waal Venter gedig’

De Waal Venter. Gedigte oor sterflikheid en verganklikheid 2

Monday, January 7th, 2019

Elke dag word gister

.

Vandag het opgedaag,

oënskynlik boordensvol energie,

daadkrag en dinamiese planne.

.

Hy gaan sit voor my,

klap die rekenaar-tablet oop

en wys my sy beplanning

wat rondpronk in helder Oled-kleure.

.

Maar dit is vir my ál

of daar iets geforseerds is aan hom.

As hy voel na iets

in sy formele baadjie se binnesak,

ruik ek Boxer-tabak;

my oupa het die geurige kerwinge

met sy duim in sy pyp vasgedruk.

Die vuurhoutjie se swaelslag

het my neus ’n speelse klap

op die blad gegee.

Dan die wit rook

met die geur van ou beplannings,

saamgedring en beliggaam

uit die lippe van my oupa.

.

Die dag wil my die hele dagplan laat deurwerk,

maar ek sien hom nou

in sy werklike wese.

Hy dra nie meer ’n pak nie,

maar ou plaasklere.

Sandale wys sy lang tone

en ek dink die Bybelse Petrus

het so gelyk.

Hy praat saam met die oubaas

oor waar die beeste vandag gaan loop,

en hoe hulle gaan regmaak vir die dip.

.

Hy kyk na my,

en sy gesig, bruin soos die grondpad

na die mielieland,

verander nie,

maar ek weet hy glimlag.

Woorde is vir hom kap met ’n byl,

elkeen moet reg kap in die hout,

indring in die stomp,

anders mors jy jou krag.

.

Maar nou vra hy:

Jy’t vroeg opgestaan saam met oubaas?

Ek knik, want nou voel woorde, die byl,

vir my te swaar om op te tel.

Hy draai om, om te gaan werk, en sê:

Dis goed so, want vanaand kom,

vir ons almal,

vir jou ook.

 

***

 

Lewe uit dood

.

Die stad is dood.

Daar is niemand in die strate nie.

Die verkrummelende geboue is bruin.

Binne die huise is daar die nietighede

van verlate persoonlike besittings.

’n Hardloopskoen

lê roerloos

langs ’n hopie gekreukelde klere.

’n Glas water,

eienaardig onaangeraak

op ’n vensterbank

met gebreekte ruite.

Alreeds word die substansie van die stad

omgesit in eenvoudiger verbindings,

dit sak stadig die grond in

om nematodes, bakterieë,

erdwurms en ander honger kreatuurtjies te voed.

Hierdie stad sal herrys,

maar in ’n ander gedaante – ex terra semper aliquid novi.

 

© De Waal Venter. 2018

De Waal Venter. Riglyne tot gebed

Friday, October 12th, 2018

Riglyne tot gebed

 

My gedagtes wat wyd rondloop

begin stadig naderstaan

om die klip.

 

Dit vat langer vir party

om by te kom,

want hulle was baie ver.

 

Een het gesit en kyk

hoe ’n vrou

grassaad tussen haar hande vryf

tot daar ’n hopie lê

op die velletjie voor haar.

 

’n Ander een

het met ’n stok

(toegegee, nie ’n baie geskikte instrument nie)

gesteek-steek in die los grond

in die stikdonkerte

van ’n sonlose deel van die maan.

Hy het die los grond opgetel

(handskoene aan, natuurlik)

en in die skerp lig van sy flits

gesoek na yskristalle.

Ja, hier en daar het iets geblink.

 

Uiteindelik was naastenby almal

rondom die klip bymekaar.

 

En nou dat ons bymekaar is?

Nou stap ons in,

sê die sterk een wat uit die niere kom.

 

Ons stap in.

Binne welf die blou kristalplafonne

hoog bokant ons.

Waterpoele lê stil

soos slapende koeie

in kristallyne holtes.

 

’n Luggie trek en streel oor ons neuse.

Hier binne

kan mens bid.

Dink net baie mooi

wat jy wil vra.

Jou gebed bly net hier.

 

© De Waal Venter. 2018

De Waal Venter. Verras deur ‘n gelukkie

Sunday, October 21st, 2012

Verras deur ‘n gelukkie

  

Ek sal sonskyn aantrek

vir ‘n hemp.

Daardie streepwolke

sal ek my hare mee kam.

Vanoggend se sagte reën

sal my sagtesool skoene wees.

En my broek?

Die groene,

die baie groene van bome

en gras en somerplante.

 

Netjies aangetrek

sal ek die dag instap

om my vinger te vryf oor

die vergeetmynietjie blou

van die berg se rug,

om rimpels te blaas

op die rivier,

en om rond te voel in my sakke

vir my gevoelens

wat so maklik is om te verloor.

 

Aha, hier is ‘n klein gelukkie

baba-warm in my hand;

wat is hierdie skielike nattigheid?

 

© De Waal Venter, 2012

De Waal Venter. Nageslag

Tuesday, May 8th, 2012

Nageslag

 

Die atmosfeer in die huis

is effens slordig.

Jan dra ‘n ligblou trui

oor ‘n donker gholfhemp.

 

Ons sit in die woonkamer

met skilderye teen die muur.

Hulle gehalte wissel vreeslik.

Die portret van die jong Bernice oorheers.

 

Sy bring ‘n skinkbord met tee en koffie in.

Sy het haarself opgekikker

en dra geborduurde dansskoene.

Mens kan nog die ooreenkoms sien

tussen haar en die portret.

 

Sy skink tee, bied koffie aan.

Daar is tuisgebakte beskuit

en stukkies vrugtekoek, baie soet.

 

Bernice praat vrolik oor die teater,

maar sê niks van haar groot rolle nie.

Jan staan effens moeilik op

en verlaat die kamer.

 

Hy kom terug met ‘n witterige klip

en gee dit vir my.

daar sit klein gefossileerde beentjies in,

‘n klein diertjie.

‘n Soort knaagdier,  sê Jan.

Die voorloper van alle soogdiere kon so gelyk het.

 

Ek sien klein kloutjies,

‘n smal skedel, ‘n ry skerp tandjies.

‘n oogkas wat eenkeer ‘n blink ogie gehuisves het.

 

Bernice sit die koppies bymekaar.

Dit was baie lank gelede, sê sy.

Jy was die koningin van die verhoog, sê Jan.

Dit het babas gesoog, antwoord Bernice,

en kyk na die foto van die gradeplegtigheid teen die muur.

Nes ons.

 

De Waal Venter, 2012

De Waal Venter. Die grense van liefde

Monday, April 23rd, 2012

Die grense van liefde

Ek duik die singende blou lug in
oneindig in jou oë,
trek die somerasem in
vanaf jou bors.

Ek lei my oor
tot digby jou altyd-geselsende
hart.

So naby is ek om te begryp
wat jou heldervloeiende rooi woorde
inhou,
die bloeiende roos, my liefling, van jou lippe
vorm die grense
van my klein land
waarin ons
die taal van liefde praat.

© De Waal Venter, 2012.