Posts Tagged ‘De Waal Venter gedigte’

De Waal Venter. Stewig in beheer van die kombuistafel

Tuesday, November 17th, 2015

Stewig in beheer van die kombuistafel

 

Die huis is in ’n toestand

van skaars onbeheersde chaos,

dit is in ’n toestand

van beheersde chaos;

skaars chaoties,

onvoldoende beheer.

 

Dogtertjies trek stout gesiggies,

trippe, trappe, tone

oor agnostiese idees

van grootmense.

 

Treine haas verby met Hockneyaanse vulgariteit,

katte tik fyntjies na metafore vir muise,

Vaaldam-water stoot nors aan hulle sluise.

 

’n Gespierde stofsuier

kap gedagtes en gesprekke

in blokkies volstruis-filet.

 

Sonlig leun deur die venster

en streel liefderik oor die pampoen-oranje

teksture op die muur.

Die stilte sit alleen by die kombuistafel,

drink swart koffie

in half-meditasie.

 

Dit is ’n toestand van skaars onbeheersde bestaan,

om beheersd te lewe

skaars in beheer.

 

 

(c De Waal Venter / 2015)

De Waal Venter. Pragtige vrou

Sunday, May 25th, 2014

Pragtige vrou

 

Haar tone

woon langs mekaar

in stille harmonie.

Die kleintoontjie

buig skamerig

en vlei aan teen die een langsaan.

Dit het ’n nael

soos ’n skildjie

wat glinster van adellikheid.

Haar groottoon het die vorm

van ’n slank Italiaanse sportmotor,

afgerond met ’n effense punt,

die nael

’n klein meer

wat die sonlig terugspeel

as weerkaatste landskappe

van plekke wat mens smag om te besoek.

Die boog van haar voet

krul agtertoe

soos ’n elegante brug

tot in haar netjies geplaaste hak.

Alles is bedek met ’n vleklose, sagte vel,

’n ongerepte laag sneeu

oor die harde bene

van ’n alp.

 

Hoe hard probeer ek

om die voetstappe

te volg

wat sy laat

in my gemoed.

 

© De Waal Venter /2014



De Waal Venter. Sal 1950 loslaat wat dit inhou?

Saturday, January 18th, 2014

Sal 1950 loslaat wat dit inhou?

 

Die sypaadjie bewe effens

onder my voete

soos die elektriese trem naderkom

op sy verbryselende staalwiele.

Uit die haarkappersalon

kom die nogal aangename reuk

van vars beesmis,

die reuk van die goed

waarmee hulle hare perm.

 

Ek het ‘n halfkroon

om vir Moeder daardie asbakkie

vir Kersfees te koop,

‘n glasboot

met ‘n blink metaalseil.

 

Ek verstaan dit nie;

1950 is ‘n jaar,

hoe kan dit iets “inhou”?

 

Die trem skuddemannetjie my

na die winkels,

kletterend, laat boodskappers

op hulle fietse wild wegswaai,

knars oor syspore.

 

Twee ousies in voorskote

gesels op die straathoek.

Ek is trots dat ek kan uitmaak

wat op die Vaderland se plakkaat staan:

“WAT HOU 1950 IN?”

 

Swart werkers in verweerde klere

loop op die sypaadjie,

geselsend, een lag in Zoeloe,

hulle word nie in die trem toegelaat nie.

 

Die trem stop reg voor die winkel.

“DADOO dry goods an acessories”.

 

Ek klim ondertoe met die spiraaltrap,

die kennisgewing sê:

“Do not excep … expecro … cate

on the stairs

Moenie spu op die trap nie”

Die een Engelse woord is te moeilik vir my,

maar ek sal al die woorde kan lees

in 1950 wanneer ek in standerd een is.

 

Ek sal selfs dan weet

hoe ‘n jaar iets kan inhou,

ek sal weet wat dit inhou.

 

 

© De Waal Venter / 2014

De Waal Venter. ‘n Huldeblyk aan Tranströmer

Sunday, October 27th, 2013

  

As huldeblyk aan Tranströmer (foto hier bo) het ek besluit om onderstaande gedig  (Die oggend in) te skryf so na as moontlik aan sy styl en ervaringswêreld.  Die gedig wat ek geskryf het, bring hulde deur as’t ware die digter se instrumente, sy stylkenmerke, te leen en ‘n gedig daarmee te skryf. Van die kenmerke van Tranströmer se styl is: oorgange tussen lig en donker, lewe en dood, bewussyn en onbewussyn. Dan ook die reis, landskapbeskrywing, onverwagte kombinasies wanneer metafore gebruik word en ingehoue emosie, asook ‘n mate van mistiek en religiositeit.

Hier kan jy ook die twee gedigte in Engelse vertalings lees.

 

I morgon

 

Mörkt i luften, flaggan reser över landskapet

 

 

Die oggend in

 

Donker in die lug, trek die vlag oor die landskap,

voëls word die lug ingehelp deur die rant van die son

die kaalkop dag.

 

Dis nag in die motor, die donker bos buitekant klou ‘n onbekende droefheid teen sy bors.

‘n Waterval van donkerte stort in die fjord af,

maar as dit die water tref, glinster dit.

‘n Vel skil af en onthul dowwe blou lig wat wegspat van die see se staal-oppervlak.

 

Nou brand die vlag, word triomfantelik deur die dag oor dorpe gewaai, dit steek die kruise op die rooi

dakke van kerke aan die brand,

dit brul in die ore van die winkeleienaars wat hulle winkels oopsluit,

vandag gaan hulle nog ‘n deel van hulle lewens verkoop.

 

© De Waal Venter / 2013

 

 

Kväll – Morgon

Månens mast har murknat och seglet skrynklas.

 

 

Aand  – oggend

 

Die maan se mas het verrot en die seil is opgefrommel.

Meeue swaai dronk weg oor die water.

Die pier se vierkantige tong is verkool.

Struikgewas verdrink in donkerte.

 

Uit met die trap. Die oggend slaan hou op hou

op die see se grou poort en die son skitter

naby die wêreld. Halfversmoord vroetel die somergode in die warm mis.

 

(Gedig deur Thomas Tranströmer, vert. deur De Waal Venter. “Aand- Oggend” kom uit sy versameling “17 Dikter” ).

 

 

De Waal Venter. Dink deur

Wednesday, September 12th, 2012

Dink deur

 

Met sy gesig

op die harde, gladde oppervlak

het hy gelê.

Hy was nie dood of bewusteloos nie,

maar hy’t doodgewoon probeer om weg te sink

in die grond.

 

Hy het probeer

om by die grond in te dink,

die ding wat jy as werklikheid kan beskryf,

of syn, as jy dit meer menslik wil laat klink.

 

 Sy neus het begin pyn

en sy voorkop het koud gevoel.

Hy draai sy kop effens –

‘n beweging trek sy aandag:

dis sy moeder se bruin skoene

aan haar voete,

hulle beweeg reëlmatig, doelbewus

soos sy loop.

 

Hy staan op die kant van die stootwaentjie,

kyk hoe sy kleinboet

‘n stadig groeiende borrel

uitstoot langs sy fopspeen.

 

Hulle beweeg verby die stank

van ‘n taamlik ryp hondebesigheid;

‘n kar ry verby

en verander van rat,

‘n voël vaar die lug in

met iets in sy bek.

 

Sy moeder se bruin oë

beheer die wêreld.

Hy vertel haar dikwels wat hy dink,

maar party gedagtes hou hy vir homself.

 

Hy weet regtig eintlik nie wat hulle beteken nie.

 

© De Waal Venter, 2012