Posts Tagged ‘De Waal Venter vertalings’

Pablo Neruda - vertaling in Afrikaans

Thursday, January 26th, 2012

Pablo Neruda - vertaal deur De Waal Venter

 

Ode aan die tamatie

 

Die straat

het vol tamaties geword,

middag,

somer,

lig word in die helfte

gesny

soos

‘n

tamatie,

die sap

loop

deur die strate.

In Desember,

onverpoos

val

die tamatie

die kombuis binne,

met middagete kom hy in,

vat

dit gemaklik

op kombuiskaste

tussen glase,

botterbakke,

blou soutpotte.

Hy skyn

met sy eie lig,

goedaardige majesteit.

Ongelukkig moet ons

hom vermoor:

die mes

sak weg

in lewende vlees,

rooi

binnegoed,

‘n koel

son,

verhewe, onuitputlik,

bevolk die slaaie

van Chili,

gelukkig getroud

met die helder ui,

en om dit te vier,

gooi

ons

olie oor,

essensiële

kind van die olyf,

op die helftes,

peper

gee

ekstra geur,

sout gee magnetisme:

dit is die troue

van die dag,

pietersielie

hys

sy vlaggies,

aartappels

kook lekker,

die geur

van die braaiboud

klop

aan die deur,

dis tyd!

komaan!

en op

die tafel in die middel

van die somer,

die tamatie,

ster van die aarde,

herhalende

en vrugbare

ster,

vertoon

sy vouinge,

sy kanale,

met sy merkwaardige volheid

en oorvloed,

geen pit

geen doppe,

geen blare of dorings,

bied die tamatie

sy gawe

van vurige kleur

en volkome varsheid.

 

 

“Oda al Tomate” - Pablo Neruda

Vert. De Waal Venter, 2012

                 …

 

Pablo Neruda (Julie 12, 1904 - September 23, 1973) was die outeursnaam van die skrywer en politikus Neftali Ricardo Reyes Basoalto. Hy het sy outeursnaam ontleen aan die beroemde Tsjeggiese digter Jan Neruda.

 

Neruda het ‘n verskeidenheid style geskryf, van erotiese en liefdesgedigte tot surrealistiese gedigte, geskiedkundige eposse en politieke manifeste. Hy kry in 1971 die Nobelprys vir letterkunde. - DWV

Rolf Jacobsen - vertaling in Afrikaans

Monday, January 23rd, 2012

Rolf Jacobsen - vertaal deur De Waal Venter

 

Op wiele - (al in die rondte)

 

In die meganiese stad

waar alles op wiele loop

om gou te kan geniet

en geld te maak om alles te koop

daar ken niemand mekaar meer nie

want hulle het nie tyd nie

want hulle loop op wiele

en koop lekker dinge

om dit te kan geniet

en jongmense sorg vir hulle eie plesier

en oumense gaan lê om te sterf

want niemand het tyd en niemand lewenswysheid

want dit gaan oor vergeet en om gou te geniet

terwyl die ligte rooi flits en groen flits

loop alles op wiele

al in die rondte

om en om

ens. ens …

 

(Rolf Jacobsen word beskou as een van die belangrikste Skandinawiese digters en hy word Noorweë se Groen digter genoem. - De Waal Venter)