Posts Tagged ‘Dertien kraaie’

Digstring. “Dertien kraaie” (Ilse van Staden)

Sunday, February 5th, 2017

images

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

_______________________________________________________________________

Dertien kraaie

(na “Thirteen ways of looking at a blackbird” van Wallace Stevens)

1

‘n noot op ‘n dwarsbalk van bome

‘n enkele kras en krakende

kraai

2

twee kraaikuikens

     uit ‘n boom

        gewaai

ewe   dood

3

om ‘n kind te sus

hang aan ‘n kruishoutjie

drie draadjies draaiend

as die wind dit waai

drie knap gekerfde kraaie

4

pik plat paddas op uit paaie,

kraaie

5

aai aai my witborskat

daar’s kraaie en krááie

skat

6

as die kouvoël houvoël vrek

o my siel!

dan sit ek sonder kind of kraai

7

siembamba mamma se kindjie

kraai by die venster

kraai by die bed

cry baby cry

8

soms wanneer ek die woord byster raak

hoor ek kraaie taktloos

in tale kraak

9

van binne is ‘n kraai vol bene

10

tien kraaie pik

hul pad oop

uit die eierdop van my keel

11

kakofonie van

raafswart toiings kom

aan op die rukwind

af tussen takke,

iewers – die nag

12

niemand skryf ooit met kraaivere nie

want kraaivere krap in die keel

en skor skrywers raak krapperig

depressief of drink te veel

potensieel

13

die dertiende kraai

krys ‘n lala-baai

(c) Ilse van Staden (Uit: Waar die oog van stil word, 2016: Protea Boekhuis)

 

***

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

 Ek het dit begin skryf iewers aan die einde van 2015. Ek het toe al min of meer al die gedigte bymekaargemaak vir die bundel Waar die oog van stil word en kraaie het so hier en daar opgeduik. Toe ek die gedig van Wallace Stevens lees, het ek besluit om te probeer om iets soortgelyks te skryf.

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek het die gedig stuk-stuk geskryf, met elk van die dertien eenhede afsonderlik aangeheg en ook nie noodwendig in die finale volgorde nie. Party dele het ek later uitgegooi en vervang met ander.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Seker hoofsaaklik “gegee”, met so stukkie wroeg en sweet.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Aanvanklik het ek net dertien afsonderlike seksies geskryf en dit lukraak rangskik. Later het ek patrone raakgesien (soos die verwysings na getalle) en dit daarvolgens rangskik en herskryf. Een van die afdelings het ek vir die pret akrosties geskryf.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ongelukkig het ek tans geen klankbord nie.

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Soos reeds gemeld, was dit een van die laaste gedigte vir die bundel en is dus gepubliseer omtrent vier of vyf maande na voltooiing.

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Eerder sou ek sê feit en metafoor. Feit: ek kom daagliks kraaie teë. Die res is metafoor.

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit was nie die bedoeling tydens die skryf van die gedig nie, maar as ek dit nou lees, sou ek raai dit handel oor lewe en dood, oor die hele katastrofe van skepping, geboorte, groei, liefhê, worsteling, dood.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot stand koming van dié betrokke vers gelei het?

Die gedig “Thirteen ways of looking at a blackbird” van Wallace Stevens, wat ek in ’n biblioteekboek oor Amerikaanse gedigte raakgelees het.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee. Ek skryf wat ek skryf. Laat lees wie wil.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis een van min verse wat ek doelbewus geskryf het n.a.v. iemand anders se gedig. Dis ook die eerste maal dat ek ’n gedig skryf wat uit soveel “stukkies” bestaan, elkeen byna ’n gedig op sigself.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, tensy dit die verwysings is na Afrikaanse liedjies soos “Aai aai die witborskraai” en “Siembamba”.

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek is redelik tevrede met die gedig, maar sou dalk aan een of twee van die afdelings nog kon torring.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

As ek “die lesers se reaksie” kan oordeel volgens die opmerkings van een of twee resensente, ja, dan is ek tevrede.

  1. ’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit moes iewers in graad een gewees het – ek het nog ’n kaartjie gehad waarop ek in potlood ’n datum in Mei 1979 geskryf het en dan die gediggie daarna (dit het verdwyn tydens ’n diefstal). Ek het dit aangehaal by die gedig “Variasie op ’n tema” wat in Watervlerk verskyn het.

 ***

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.