Posts Tagged ‘Desmond Painter’

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Desmond Painter)

Thursday, November 24th, 2011

 

Kopskuif is ʼn inisiatief waarvolgens ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies wil fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.

As volgende bydrae plaas ons Desmond Painter (foto) se reaksie.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent, Desmond?

Hierdie is nie ʼn maklike vraag nie. Suid-Afrika het verskillende openbare domeine (‘publics’) wat naas mekaar bestaan, en mens kan nie sonder meer veralgemeen oor die vlak en produktiwiteit van diskoers in hierdie verskillende domeine nie. Dinge gaan soms beter in een domein as in ʼn ander - die openbare diskoers mag dalk meer gesond wees in die politieke as in die letterkundige domein; meer gesond in Afrikaans as in Engels; of wat die geval ook al mag wees.

Openbare diskoerse is ook seisoenaal, as ek dit so kan stel: elke nou en dan kristaliseer daar uit die chaos van menings en verbygaande skermutselinge wat die media-industrie aan die gang hou ʼn outentieke, belangrike gesprek. In Suid-Afrika is hierdie soort gesprekke nie skaarser as elders nie, en daar word dikwels vreesloos en indringend gepraat oor dinge waaroor daar in baie ander lande eerder maar geswyg word. Besoekende buitelandse kollegas is dikwels verbaas oor die openhartige en selfs ironiese wyse waarop ons, ten spyte van al die bagasie, slaggate en bymotiewe, dit tog soms regkry om oor dinge soos ras en rassisme te praat.

Wat die ‘vlak’ van openbare diskoers betref: die fenomenale uitbreiding van aanlyn-interaktiwiteit (blogs soos hierdie, waar mense direk kan deelneem aan gesprek; elektroniese uitgawes van koerante, waar lesers onbelemmerd kommentaar kan lewer op nuusberigte; geselsprogramme op TV, waar menings wat per SMS gestuur is deurgaans aan die onderkant van die skerm verbyrol; inbelprogramme op radio, ens.) skep soms die illusie van ‘openbare debat’, wanneer dit eintlik maar net die eensydige uitblaker van ‘opinies’ is. Dit mag dus lyk na ʼn vervlakking en banalisering van die openbare diskoers, maar ʼn mens moet jou ook nie hieraan blind staar nie. Interaktiewe forums skep nie net geraas nie, dit verryk ook die openbare diskoers op baie maniere: meer outonome ruimtes, meer stemme, meer ruimte om ʼn gesprek verby die blote daarstel van opinies te voer…

Verwysings na die ‘lae vlak’ van openbare diskoers of spesifieke debatte (oor taal of oor kapitalisme, byvoorbeeld) kan ook die doel dien om moeilike gesprekke te probeer demp en ongewilde menings te diskrediteer. Daar word soms uit die perspektief van ʼn soort liberale verontwaardiging geoordeel oor diegene wat dit durf om standaard-standpunte (dikwels maar veilige middelklas-menings ingekleur as onaanvegbare sekerhede) vanuit ‘reaksionêre’ of ‘onrealistiese’ posisies te bevraagteken. ʼn Mens moet dus ook maar oplet deur wie, onder watter omstandighede en vir watter retoriese doeleindes die ‘vlak’ van diskoers of debat bevraagteken word.

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

Weereens, ek dink dit hang af van die bepaalde konteks of diskoersdomein. ʼn Regeringsamptenaar wat deur ʼn wit joernalis aangevat word oor korrupsie mag die kwessie dalk verpersoonlik deur die joernalis ʼn rassis te noem - of, as dit ʼn swart joernalis is, haar ‘outentieke swartheid’ of politieke lojaliteit aan die ‘revolusie’ te bevraagteken. Ons ken daardie strategieë; dit is voorspelbaar en al hoe minder steur hulle daaraan. Seker die dat die regering hulle geheime nou wetlik wil beskerm!

In die Afrikaanse letterkunde word meningsverskille ook soms ‘persoonlik’, selfs venynig. Hier geld ander redes: spesifieke persoonlikhede, gevestigde belange, oorvleuelende rolle (beide skrywer en resensent), die feit dat die gemeenskap klein is (amper almal ken mekaar op ʼn manier) maar terselfdertyd ook oorbevolk (min forums, klein mark, slegs enkele uitgewers, 98% woon in een land en waarskynlik 80% in slegs twee of drie stede, ens.).

En dan is daar ook ʼn mark in Afrikaans vir ʼn goeie twisgesprek: ek kan nie dink dat ʼn Engelse koerant soveel ruimte sou afstaan aan ʼn relletjie tussen twee plaaslike Engelse skrywers as wat Die Burger byvoorbeeld afgestaan het aan die oor-en-weer tussen Kannemeyer en Van Coller nie. Ek kla nie: dis nie asof hierdie soort goed geen vermaaklikheidswaarde het nie! ʼn Mens kan in die proses selfs iets leer…

Soms, soos die vraag impliseer, word produktiewe gesprek wel in die wiele gery wanneer ego’s en persoonlike vetes die oorhand kry. Maar iets anders gebeur ook soms. Ons skram soms te maklik weg van potensieel interessante literêr-teoretiese (of ‘kunsbeskoulike’) gesprekke bloot omdat dit ‘persoonlik’ opgeneem kan word - iets wat nie die geval sou gewees het as die Afrikaanse gemeenskap, en die boekwêreld, nie so ʼn klein en intieme ruimte was nie. Omdat ons mekaar ken, en met mekaar moet saamwerk, is dit moeilik om sekere soorte kritiek en bedenkinge in die openbaar uit te spreek. In privaat gesprekke hoor ʼn mens soms wonderlike alternatiewe oordele oor onlangse boeke of hele oeuvres, maar min van hierdie robuuste kritiek vind neerslag in resensies en analises. Dit is jammer!

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

Eerlikheid, integriteit, respek vir die opponent (of ten minste vir die onderwerp onder bespreking), geregverdigde woede (soms), humor (altyd), die moed van jou oortuiging, die bereidwilligheid om ʼn goeie punt toe te gee. Ons moet, in die letterkunde sowel as in die politiek, ook ontslae raak van ons verknogtheid aan ʼn konsensus model van diskoers. Die doel van debat hoef nie konsensus te wees nie, en diegene wat konsensus onmoontlik maak hoef nie gemoraliseer, gesensureer, of gepolisieer te word nie. Wanneer ek met ʼn opponent argumenteer, doen ek dit dikwels om die aard van die verskil tussen ons beter te artikuleer en te begryp, nie om tot ʼn vergelyk te kom nie. Daar’s ʼn soort wedersydse respek hierin: die gesprek het nie die uitwis van verskille as oogmerk nie, maar die kreatiewe, produktiewe omgaan daarmee. Die stelling “Let’s agree to disagree” moet die gesprek voorafgaan, nie beëindig nie!

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

Daar’s heelwat. Die Boetman-debat. Die debat oor homoseksualiteit en die kerk. Die debat laasjaar oor resensieruimte in die Afrikaanse koerante. Enige debat, eintlik, wat nuwe idees, nuwe subjektiwiteite, nuwe beweegruimtes, nuwe wegkruipplekke, en nuwe beginpunte moontlik maak.

 

  • - Desmond Painter

 

 

 

Desmond Painter. Droedeldig: Die Keiser is Kaal - Emperors Palace, September 2011

Friday, September 30th, 2011

1.

Sy parkeer die huurmotor laatmiddag voor die hotel.

Sy boek in, haal haar ringe af, vanuit haar kamer bel

sy hom. Om 20h00 ontmoet hulle in die Ocean Basket,

streng volgens die reëls wat sy self gemaak het.

 

2.

Sy vind dit altyd ongemaklik om voor die tyd te pis

terwyl hy op die bed lê en wag. Sy sorg dat dit porselein is

wat sy tref, nie water nie. Wanneer sy geluidloos uitloop

lê hy en glimlag, asof van sy eie naaktheid onbewus.

 

3.

Haar hotelkamer: dit is waar hulle eindig, vanself-

sprekend. Die TV bly aan, hulle doen dit op haar helf-

te van die bed. Dit duur nie lank nie. Hy trek

aan, is terug in sy kamer skuins na elf. 

 

4.

Laatnag gaan try hy weer sy luck in die lobby bar.

Hy bestel ʼn whisky, sit ʼn rukkie, sien niemand daar

nie. Hy loop buitentoe, gaan rook op die parkeerterrein.

ʼn Week soos ʼn country song, vyf dae en ʼn refrein.  

 

5.

Hy moet vlieg, hulle sal mekaar nie sommer

weer sien nie. Hy wis hulle sms’e, haar nommer

van sy foon. Te lank reeds het hy hier gesloer.

Hy los die handdoeke ongeërgd op die vloer.

Desmond Painter. Droedelaire!

Friday, September 16th, 2011

Die laaste drie dae het ek deurgebring by die jaarlikse kongres van die Psychological Society of South Africa (ek het al vantevore verwys na die akademiese stam aan wie ek teen wil en dank behoort, die sielkudde, die sielskunniges, die kopbekruipers, die bewussynsswyne, die gedragsmasjiniste, die bitterweters…).

Erger nog, die kongres was nie by ‘n universiteit aangebied nie, maar by Emperors Palace net langs die Johannesburg Internasionale Lughawe. So tussen die casino (Richmond Fontaine se wonderlike song, “Casino”, het meermale deur my kop gedraai…) en die food court met die vreemde plafon vol prente van wolke en beligting wat dit laat lyk of dit altyd skemer is (ons het een aand by die Ocean Basket gaan eet, en jou wrintie, die eerste ding wat die kelner ons vra is: “Do you want a table inside or outside?”).

Maar laat ek julle nie verveel met werkspraatjies nie. Terwyl ek so sit en luister na die een referaat na die ander, droedel ek maar in die komplimentêre notaboekies met die komplimentêre penne wat in al die lesingsale uitgedeel word. Ek skryf neer wat ook al by my opkom, en dan probeer ek die gedagtes voor afloop van die sessie in ‘n digterlike vorm indwing.

Ek het vanaand na afloop van die kongres deur my boekies geblaai, en tussen al die gedagtes en enkelsinne darem vyf kwatryne gevind wat al so half en half konsepstadium bereik het. Terloops, ek het tuisgegaan in een van die hotelle binne die Emperors Palace kompleks, wat nogal ‘n neerdrukkende ervaring was. ‘n Dooie ruimte. Iets van die vervreemdende, deels beklemmende, deels bevrydende aspek van hotelle en hotelkamers (onthou julle Stef Bos se lieflike song, “Hilton, Barcelona”?) het in die droedels neerslag gevind, lyk dit my.

En na drie dae in ‘n casino kan ek netsowel maar met ‘n paar kwatryne dobbel, so hier is hulle — en kom ons noem hulle vir nou sommer “Vyf Hotelkwatryne”

*

1.

Koffie te maak. Die oggend haar gang

te laat gaan. Te luister na die veraf sang

van die strate. Te droom, te word, prys te gee

al wat die oggend van jou verlang.

2.

gisteraand se gawes staan verleë

wanneer sy die deur agter haar toeklap

wanneer sy straataf stap

wanneer die oggend meegee

3.

hy sit na homself en staar

in die hotelkamer se spieël

staan eers op wanneer hy haar

in die hotelkamer se bed verbeel

4.

die vergifnis van kortstondigheid

of die warmte van geleende tyd

wie weet wie sy gister was

‘n hotelkamer hou jou anders vas

5.

‘n Hotelontbyt, net vlugtig die koerant

voor ek loop. Ons is nêrens nuus nie, want

laasnag in daardie rookvrye kamer

het ons ongemerk uitgebrand.

Droedelsak: Die versamelde versgrype van Walter Witman

Tuesday, April 12th, 2011
Fraktale Droedel

Fraktale Droedel

Toe Louis en Marlise my destyds gevra het om op hierdie webblad te blog, het ek dit sommer gou duidelik gemaak dat ek nie ‘n digter is nie. Nie. Nee. Glad nie. Ek ontken dit! Gaan weg! Die eerste sin wat ek in my eerste blog geskryf het, was dan ook: Ek is nie ‘n digter nie.

Eintlik is die waarheid natuurlik eerder dat ek, sedert kindsdae al, wel nou en dan gediggies skryf, maar dat ek gewoon nie genoeg talent en wilskrag het om dit regtig goed te doen nie. Let’s face it, ek gaan nooit ‘n bundel publiseer nie; en dis orraait: daar’s al klaar meer digters as lesers in Afrikaans! En daar is ander dinge wat ek graag wil skryf, en wat ek dink ek kan skryf.

Maar die blog as persoonlike sowel as openbare ruimte was natuurlik ook erg verleidelik: elke nou en dan moes ek eenvoudig een van my skryfseltjies plaas… Chris Coolsma het my verder ‘n soort alibi gegee: ek sou my kreatiewe vergrype ‘droedels’ noem, eerder as ‘gedigte’. 

Ek was gisteraand skielik lus om weer ‘n slag te droedel (seker maar die herfs…), en besluit toe om eers te gaan kyk hoeveel droedels ek in die verlede al hier geplaas het. Nogal ‘n hele paar! En skielik voel ek toe sommer jammer vir my maakseltjies: elkeen iewers vergete in die kuberruim… So hier verskyn hulle almal weer ‘n keer, as ‘n soort Versamelde Droedels, Deel 1.   

 

***

MISS JESUS (20/09/09)

(vir Hennie Aucamp)

 

 

Miss Jesus is die messias

 

die redder in die salon

 

wat sy noem ‘Die Dias’

 

oor sy van ver plekke kom

 

 

van Amsterdam aan wal

 

of op ‘n skip van Lissabon

 

Miss Jesus, wanneer die donker val

 

vanaand in die salon

 

 

soms sing sy kabaret

 

soos ‘n madame uit Berlyn

 

in haar visnetkouse en rooi korset

 

maak sy water van ons wyn

 

 

ja en soms dra sy gedigte voor

 

van Breyten en ene Breton

 

jou glas bly vol, jou hart loop oor

 

vanaand in die salon

 

 

en altyd preek sy redding

 

liefde, reise, die middernagson

 

Miss Jesus lei ons kring

 

vanaand in die salon

 

 

so glase omhoog: ‘Miss Jesus!’

 

en dan die koue ent na die peron

 

alles was tog so goddêm obvious

 

eenmaal in die salon

 

 

 

JY HET GRIEKELAND GEHAAT (28/09/09)

(na aanleiding van Ted Hughes se You hated Spain)

 

 

Jy het Griekeland gehaat

 

die son was vir jou te warm 

 

die rondloperhonde het aan jou gekou

 

hulle het dag en nag en sonder ophou

 

gekerm en byt om ons bed se enkels.

 

Later het ons nog net in jou slaap gepraat.

 

 

Jy het Griekeland gehaat

 

elke onverbiddelike heuwel met sy kerk

 

ver van alles swygend en die verploeterende hitte 

 

alewig in die middag en die eentonig afgewitte

 

ure met hulle stowwerige donkies en ooms

 

en swartgeklade tannies op straat.

 

 

Jy het Griekeland gehaat

 

die gekibbel en gelatenheid van die mense

 

die gefnuikte gasvryheid van elke gebaar:

 

Jy sou eensaam bly eerder as om jou te skaar

 

by die té intussen menswees van hierdie land

 

van eilande klip en baie water.

 

 

Jy het Griekeland gehaat.

 

Daagliks gedoog die bouer die argeoloog

 

want die lewe hier is altyd wat dit was en dan ook meer.

 

Jy het weggegaan in die wete dat niks wat teer

 

is tog oorbly waar soveel ten spyt oorleef. Liefde is ‘n ruïne hier

 

en elke dag ‘n duisend jaar te laat.

 

 

 

VOOR IN DIE WAPAD (28/09/10)

 

 

Die lewe is nie solied nie dis

 

aanhoudend in beweging en aan die geraas

 

maak. Die lewe maak ‘n aardige geluid:

 

Bome wat brand, bande op nat teer.

 

Jy soek verniet staanplek of stilte.

 

Die lewe bly in vloed, neem sy loop,

 

by wyse van spreke, in eie mond.

 

Die lewe bou onwyse huise op sand.

 

Die lewe is ‘n gedagte, woorde

 

wat nooit standpunt word

 

of sin. Die lewe is wat staan vergaan,

 

wat loop gaan dood. Die lewe is nie ‘n gedig

 

nie dis ‘n cliché in wording.

 

Want voor in die wapad brand daar

 

‘n voortvlugtige vlam, knetterend

 

en selfvernietigend op reis.

 

Natuurlik is dit kosbaar, die lewe.

 

Die lewe is die vet

 

is in die vuur.

 

 

 

LIEFS NIE OP STRAAT NIE (30/08/10)

 

 

Hy’s glo getref deur ‘n dwaalkoeël –

 

maar wie weet uit watter geweer?

 

Eenkant op die sypaadjie in ‘n poel

 

bloed lê hy: die flâneur.

 

 

 

BY DIE REüNIE (22/07/2010)

 

 

Jy sê simpel goed soos:

 

Die maan is ‘n semenvlek

 

op die swart onderbroek

 

van die aand, en ek

 

 

lag, want dít is hoe ons was

 

soveel jare terug

 

vol dooswyn en gedigte.

 

 

By die bicycle shed ‘n laaste sigaret.

 

Jy sê: Kyk, ek suig die aand

 

deur ‘n strooitjie op

 

tot die laaste droesem leeg;

 

 

en ek sê: Nee, soos ‘n Kreepy

 

Krauly wat laatnag lug sluk

 

in ‘n voorstedelike swembad –

 

 

onthou jy daardie geluid?

 

 

 

AANVAARDING (02/07/10)

(baie vry na ‘n gedig van Ziya Osman Saba)

 

 

Ek aanvaar die lewe waarin ek gebore is.

 

Ek aanvaar my gesig, die kleur van my vel.

 

Ek aanvaar hier en daar, ek aanvaar

 

Brackenfell, ek aanvaar die tong wat toeval

 

vir my uitgesteek het, al die kwynende klanke.

 

Ek’s ‘n man en ek aanvaar dit. Getroud, kinderloos

 

nog aanvaar ek, soos dat ek bogronds dwaal

 

maar ondergronds dood sal wees.

 

Ek aanvaar die bitterals van die lewe:

 

die fronsende gesig, die tewerige tong.

 

Ek aanvaar die bedelaar en die honger kind.

 

Daar’s ‘n oorlog, ek aanvaar dit; die bittereinder,

 

die vredesduif, die koerantverkoper,

 

en elke slaaf van God aanvaar ek.

 

Kontinente en valleie, koepelsvol son.

 

Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar.

 

 

 

SONDAG (02/05/10)

(baie vry na ‘n gedig van Necati Cumali)

 

 

Vir drie dae lank sien ek al uit na Sondag –

 

want Sondag is die dag waarop sy my sal laat weet!

 

Glo my, vir drie dae al eet ek skaars my kos,

 

sukkel ek tot slaap, begeer ek dáárdie dag bo alle ander.

 

“Tot Sondag!” – so het ek dit beaam, en so begin te wag…

 

 

Maar ag, o aarde! Hoe skielik is dit dan weer

 

Sondag! My onbedaarde hart kom sit koggel in my keel:

 

Wat as sy nie die een is vir wie ek lief is nie?

 

Wat as sy nie is wat ek begeer?!

 

 

 

BY DIE DOOD VAN ‘N KIND (02/05/10)

(baie vry na ‘n gedig van Oktay Rifat)

 

 

Hy het gesterf, maar van sy dood is hy helaas

 

onbewus. Hulle plaas hom in ‘n kis, ry met hom weg – 

 

hy kan nie eers meer protesteer: ‘Nee, ek sál nie gaan nie!’

 

Sy legkaart het onvoltooid gebly, en van melk

 

en koekies is daar met sy aanland

 

ook geen sprake.

 

 

Hy het gesterf. Hy sal sy ooms nooit kan bedank

 

vir die dra van die kis, sy tannies vir die gerf aronskelke

 

op sy graf. Ag, die dood van ‘n kind…

 

Tog so anders as dié van ek en jy!

 

 

 

‘N NOTA LANGS JOU KUSSING (29/04/10)

(baie vry na ‘n gedig van Roberto Fernández Retamar)

-vir Claire

 

 

Te veel herinneringe en té veel hoop

 

is daar al tussen ons gekonkel. Te veel lewe

 

by nabetragting gelewe vir ons reis om ooit te skei:

 

nie die jare wat ons in die gesig vat nie;

 

nie die jare wat ons net by benadering geleef het 

 

nie die somer se aftog nie, kan ons meer skei

 

nie. Tyd, daardie veerboot van soveel vlugte, spoor

 

van soveel verlore liefdes, van Stellenbosch na Grahamstad,

 

van Bellville na Havana, na weemoed, na ontsetting

 

selfs, na meer illusies as in drome kon – soveel so dat niks,

 

behalwe dít wat alle dinge skei, ons meer kan skei nie.

 

Meisie van gister en môre, vrou van my lewe.

 

 

 

(nóg ‘n kleindorpse lament) (11/03/10)

 

 

ek wou verder gaan

 

ek het geweet jy wag agter die plantasie

 

en jou fyn ondergoed het by my gespook

 

en hoe jy jou bene sprei, o jirre, met die grasie

 

van ‘n gaap… en na die tyd het ons gerook

 

en gelê en kyk na die maan

 

 

maar nee, ek wou verder gaan

 

ek moes weet wat wag verby die stasie

 

ek het gebrand om uit hierdie dorp te loop

 

maar ek droom, jy weet mos, vraatsig soos

 

‘n vlam… en na die tyd het ons gerook

 

en gelê en kyk na die maan

 

 

 

(07/05/10)

 

 

Hoe dun is ons dae. Jy kan hier net so min

 

by die tyd bedel as wat jy na die dood kan vra

 

in ‘n gedig. Jy kan aanhou soek, ja, aanhou op hoop

 

of jou verloor in háár arms – om die winste

 

van die wêreld weer te vind as sonlig

 

deur die oggend stroop. Maar ‘n digter

 

dag is jou nie beskore

 

nie. 

 

 

Dis weer droedeltyd in die Boland!

Tuesday, September 28th, 2010
Kaapstad Internasionale Lughawe

Kaapstad Internasionale Lughawe

Ek moes gisteraand vir Claire en ‘n sekere, onlangs nogal berugte Afrikaanse digter by die lughawe gaan haal (nee, ek laat nie vir Claire op vakansie gaan met berugte Afrikaanse digters nie — hulle het maar net toevallig op dieselfde tyd geland…) en terwyl ek wag het ek op my selfoon se notafunksie begin droedel. Ek het die produk gou vanoggend getik en toe bietjie spoeg en politoer aangesmeer. Dit is nogtans net ‘n eerste poging, ‘n klein kreet, die soort dinge waaroor mens tob in ‘n lughawe se aankomslokaal. (Nadat mens verwonderd deur die Woolworths gedwaal het, maar dis ‘n ander storie.) Ek plaas die droedel hier vir julle plesier; of om julle die geleentheid te gee om hoonlaggend meerderwaardig te voel as digters. (Maar pasop! Julle weet hoe vervies ek my!) Hier is dit:

 

Voor in die wapad

Die lewe is nie solied nie dis

aanhoudend in beweging en aan die geraas

maak. Die lewe maak ‘n aardige geluid:

Bome wat brand, bande op nat teer.

Jy soek verniet staanplek of stilte.

Die lewe bly in vloed, neem sy loop,

by wyse van spreke, in eie mond.

Die lewe bou onwyse huise op sand.

Die lewe maak staat op losse skroewe.

Die lewe is ‘n gedagte, woorde

wat nooit standpunt word

of sin. Die lewe is wat staan vergaan,

wat loop gaan dood. Die lewe is nie ‘n gedig

nie dis ‘n cliché in wording.

Want voor in die wapad brand daar

‘n voortvlugtige vlam, knetterend

en selfvernietigend op reis.

Natuurlik is dit kosbaar, die lewe.

Die lewe is die vet

is in die vuur.

Daar’s weer droedeltjies in die drome

Thursday, July 22nd, 2010

By die reünie

 

Jy sê simpel goed soos:

Die maan is ‘n semenvlek

op die swart onderbroek

van die aand, en ek

 

lag, want dít is hoe ons was

soveel jare terug

vol dooswyn en gedigte.

 

By die bicycle shed ‘n laaste sigaret.

Jy sê: Kyk, ek suig die aand

deur ‘n strooitjie op

tot die laaste droesem leeg;

 

en ek sê: Nee, soos ‘n Kreepy

Krauly wat laatnag lug sluk

in ‘n voorstedelike swembad –

 

onthou jy daardie geluid?

 

 

‘n Droedel oor Aanvaarding

Friday, July 2nd, 2010

Aanvaarding

(baie vry na ‘n gedig van Ziya Osman Saba)

 

Ek aanvaar die lewe waarin ek gebore is.

Ek aanvaar my gesig, die kleur van my vel.

Ek aanvaar hier en daar, ek aanvaar

Brackenfell, ek aanvaar die tong wat toeval

vir my uitgesteek het, al die kwynende klanke.

Ek’s ‘n man en ek aanvaar dit. Getroud, kinderloos

nog aanvaar ek, soos dat ek bogronds dwaal

maar ondergronds dood sal wees.

Ek aanvaar die bitterals van die lewe:

die fronsende gesig, die tewerige tong.

Ek aanvaar die bedelaar en die honger kind.

Daar’s ‘n oorlog, ek aanvaar dit; die bittereinder,

die vredesduif, die koerantverkoper,

en elke slaaf van God aanvaar ek.

Kontinente en valleie, koepelsvol son.

Ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar ek aanvaar.

Droedel-ie-doe!

Friday, May 7th, 2010

(Stellenbosch, 7 Mei 2010)

 

Hoe dun is ons dae. Jy kan hier net so min

by die tyd bedel as wat jy na die dood kan vra

in ‘n gedig. Jy kan aanhou soek, ja, aanhou op hoop

of jou verloor in háár arms – om die winste

van die wêreld weer te vind as sonlig

deur die oggend stroop. Maar ‘n digter

dag is jou nie beskore

nie.

 

 

Die dinge wat jou vashou

Thursday, October 22nd, 2009

Born in the USA

Bruce Springsteen se kommersieel mees suksesvolle album, die ikoniese Born in the USA, is vanjaar 25 jaar oud. ‘n Hele kwarteeu; kan jy dit glo?

Ek was nog altyd, sedert my vroeë tienerjare, ‘n groot aanhanger van Springsteen. Nee, meer as ‘n aanhanger: hy het die klankbaan van my lewe geskryf; ‘n voorstedelike, middelklaslandskap gekarteer wat net sowel Brackenfell, Bellville en Gordonsbaai kon wees.

Nie vir mý die klaagliedere van Kurt Cobain en sy geslag uitsiglose grungers nie. Teenoor hulle selfopgelegde isolasie, Springsteen se drang na gemeenskap en sy lofliedere aan vriendskap; teenoor hulle studentikose melancholie, Springsteen se bereidwilligheid tot ‘n volwasse vreugde; teenoor hulle selfkoesterende angst, Springsteen se hoopvolle, mobiliserende woede; teenoor hulle eentonige vokale geneul, die volle register van Springsteen se stem, van die bloedstollende kreet op Born in the USA tot die gefluisterde twyfel van Cautious Man.

Ja, ja, dit is ‘n teologiese debat hierdie, nie sommer song and dance nie!

Maar juis omdat Born in the USA kommersieel so suksesvol was, het ek gedoen wat alle tienerjarige rock-snobs doen: aangedring dat USA sy swakste album was, ‘n tree te ver op die pad van 80s popproduksie en kommersiëlering. Enige self-respekterende aanhanger, so het ek geglo, koop eerder Born to Run, The River, Darkness on the Edge of Town en Nebraska; klassieke albums, een en almal, met geen nut vir vertonerige musiekvideos en treffersnitte nie.

En om jouself regtig uit te sonder van die sommerso-Springsteenbewonderaar, moes jy jou tande gesny het op sy tweede, kommersieel natuurlik totaal onsuksesvolle album uit 1973, The wild, the innocent and the E Street shuffle: ‘n teer en uitbundige album deurdrenk van roekelose romantiek en windverwaaide karakters; nog steeds een van die bes bewaarde geheime in rockmusiek.   

Maar ek het onlangs in ‘n bietjie van ‘n romanse met Born in the USA gewikkeld geraak. Die rede is dat ek besef het dat ek nou net so oud was as Springsteen toe hy hierdie musiek opgeneem het! Vyf-en-dertig. Jonk genoeg om nog groot drome te droom; oud genoeg om te weet hoe maklik hierdie drome ontspoor, en die tyd verbyvlieg. En dít is presies die bestaansdilemma wat hierdie album op amper elke snit verwoord: ‘But time slips away/ and leaves you with nothing, mister/ but boring stories of/ glory days…’

As Born in the USA een van Springsteen se meer ongefokusde album is, ‘n skynbaar arbitrêre versameling liedjies eerder as ‘n koherente narratief, lirikaal veel yler as die albums voor dit en die bestes daarna, is dit tog ook ‘n fantastiese dokument van die soort dinge wat op hierdie ouderdom by mense, en veral mans, begin spook: die eerste roeringe van nostalgie vir ‘n jeug wat verby is; die eerste paartjies in ‘n vriendekring wat skei; vriende wat onherroeplik afdwaal, buite sig, buite hoorafstand; die eens ononderhandelbare hartstogte wat roetine word en hulle glans verloor; en die gemengde gevoelens oor daardie dinge wat ten spyte van alles ook tog dieselfde bly: ‘n tuisdorp met ‘n hoofstraat en ‘n kafee; ‘n werk en ‘n kar; ‘n Sondagoggend met ‘n koerant; vaders en seuns.

Die dinge wat jou vashou.

Die eiland waar niks onmoontlik was nie

Tuesday, October 20th, 2009

Fidel Castro

 Familielede van Ernesto ‘Che’ Guevara, onder andere sy dogter, is hierdie week in die Wes-Kaap. Ek sal nie hulle voordrag by UWK kan bywoon nie; ‘n jammerte. Kuba bly ‘n maar ‘n plek wat die verbeelding aangryp. Ek was presies vier jaar gelede daar; ‘n ongelooflike drie weke. Om langs die Malecon te stap in die rigting van die Hotel Nacional, waar almal van Al Capone tot Ernest Hemingway al tuisgegegaan het, is werklik so romanties soos dit in Wim Wenders se dokumentêr, Buena Vista Social Club, lyk. Die branders breek oor die seemuur; blou Buicks uit die 1950s taxi verby.

So ‘n jaar gelede het ek My Life, Fidel Castro in gesprek met Ignacio Ramonet, vir Die Burger geresenseer. Dit is in 2007 in hardeband deur Allen Lane (Penguin Books) gepubliseer, maar is deesdae ook in sagtebandformaat beskikbaar. Dit, saam met Jon Lee Anderson se Che: A revolutionary life (Grove Press, 1997), is essensiële leesstof vir enigiemand wat in hierdie eiland belangstel.

Ek plaas my destydse resensie hier; gun hom ‘n tweede lewe! (Dit is die ongeredigeerde weergawe, so daar mag spel- en taalfoute wees…)

 ****

Enkele jare gelede, tydens ‘n besoek aan Kuba, het ek twee poskaarte gekoop met foto’s van ‘n jong Fidel Castro daarop. Op die een is die bebaarde, lenige Castro, toe maar skaars 33 jaar oud, besig om ‘n vurige toespraak te lewer. Op die ander, geneem tydens die Amerikaanse inval by die ‘Bay of Pigs’, spring hy atleties van ‘n pantservoertuig af. In die voorste linies, midde-in die aksie. So was dit nog altyd.

Die beeld van die jong Fidel Castro was omgeef met dieselfde romantiese bekoring en ruwe aantreklikheid wat sy kameraad, Ernesto ‘Che’ Guevara, ‘n kampusikoon sou maak en die skynbaar ewigdurende simbool van jeugdige verset.

Castro het, teen alle verwagtinge in, egter nie jonk gesterf nie. Daar was natuurlik deur die jare baie pogings om van hom ontslae te raak. Die CIA het so ver gegaan as om met die Mafia te heul in hulle komplotte om die kommunistiese regime op die VSA se drumpel te ontsetel. 

Waar Guevara die simbool geword het van ‘n soort draagbare revolusie wat enige plek te wêreld moes kon wortel skiet, was Castro benewens guerrilla ook ‘n pragmatiese en geslepe politikus. Waar Guevara se beeld Kuba uiteindelik sou transendeer, en amper engelagtig sou sweef bo die morsighede en kompromieë van werklike, dag-tot-dag regering, was en bly Castro onlosmaaklik verbonde aan sy Karribiese eiland.

Dit is juis die vloeibaarheid van Guevara se beeld wat hom die volmaakte pin-up vir beide revolusionêre fantasieë en kapitalistiese uitbuiting gemaak het. Vandag koop jy jou Che T-hemde immers in Mr Price en Truworths Man…

Miskien het die grys Castro op die voorblad van hierdie boek, met sy behoedsame, dog uitdagende blik, tog ‘n beter kans op ‘n betekenisvolle politieke oorlewing as Guevara. Ignacio Ramonet het hierdie outobiografiese onderhoude kort voor Castro se siekte in 2006 en sy uiteindelike uittrede vroeër vanjaar gevoer. Indien hulle enige aanduiding is van wat Castro nog in die arena van ideëpolitiek kan bydra, bevestig hy homself beslis as méér as bloot ‘n laaste stuiptrekking van die Koue Oorlog.

Castro is ‘n gehate figuur in die VSA en baie wit Suid-Afrikaners, hoofsaaklik weens Kuba se betrokkenheid destyds by die Angolese oorlog, voel dieselfde oor hom. Terselftertyd was en bly Castro ‘n held in die ontwikkelende wêreld. En met rede. Wat mens ook al polities teen Castro se halfeeu aan bewind kan sê, dit is ongetwyfeld so dat die menslike kapitaalontwikkeling wat onder sy leiding in Kuba plaasgevind het, ruimskoots beskikbaar gestel word aan ander ontwikkelende lande. Dit is veral die geval in Latyns-Amerika, waar Kuba ‘n wesenlike bydrae lewer met hulle mediese dienste, geletterheidsprogramme en volwasse opleiding.

Dit is egter nie nodig om positief oor Castro te voel om hierdie boek te waardeer nie. En in elk geval, selfs teenstanders erken dikwels ‘n wrokkige soort bewondering vir Castro se chutzpa en sy politieke oorlewingsdrang oor soveel dekades in die aangesig van Amerikaanse militêre en ekoniese aggressie. Orkane is nie die enigste storms wat sy klein, trotse eiland oor die jare moes trotseer nie. In Castro se eie woorde: “I can say that the little island that was so alone during the arm-wrestling between the dominant empire and the Soviet government – the latter which fell apart and the former of which became the single superpower – was able to resist, show that nothing is impossible” (p. 219).

Ramonet, redakteur van die invloedryke Le Monde Diplomatique, laat reg geskied aan sy gespreksgenoot deur hom ingelig en met empatie te benader. Hy skep ‘n ruimte waarbinne Castro uitgebreid en in diepte kan praat oor die baie dimensies van sy lewe, sy land en die politieke wêreld waarin hy ‘n rolspeler was. Die boek, met sy deeglike notas, sal waarskynlik ‘n standaardwerk word vir historici en biograwe.

Castro is bekend vir sy maraton-toesprake. In hierdie onderhoude, wat weens Castro se besige skedule dikwels laat in die nag gevoer is, bewys hy homself as ‘n ewe energieke gespreksgenoot. Dit is nie net dat hy baie praat nie; hy praat ook oor baie. Sy belesenheid oor onderwerpe van strek van wetenskap tot letterkunde, en van wêreldgeskiedenis tot die omgewingskrisis, is dikwels verbluffend.

Die boek sal nie net spreek tot lesers wat belangstel in die geskiedenis van Kuba nie. Dit sal in die smaak val van enigiemand wat geïnteresseerd is in die politieke geskiedenis van die era tussen die Tweede Wêreldoorlog en die einde van die Koue Oorlog. Castro is ‘n aantreklike historiese gids, want sy politieke ervaring strek oor soveel kontinente en dekades heen. Watter ander figuur was ‘n kameraad van beide Kroestjef en Chavez? Watter ander staatshoof het in een ampstermyn beide die Kubaanse missielkrisis en die gebeure van 11 September 2001 beleef? Castro het die wêreld meer as een keer sien verander, en te midde alles het hy ideologies probeer koers hou en probeer sin maak van die politieke teenstrydighede van sy era.  

Daarom is hierdie onderhoude met Castro meer as net ‘n opwelling van politieke herinneringe, of verhale van ‘n ou man wat in sy laaste jare mymer oor ‘n lewe wat haas verby is. Die Castro wat hier aan die woord is, is nog onvermoeid betrokke by die wêreld. Hy is ‘n ingeligte, byderwetse en harstogtelike kommentator oor die baie uitdagings wat ons vandag in die gesig staar, van die energiekrisis tot neo-liberale kapitalisme. 

Natuurlik kan ‘n mens Castro kritiseer. Dit strek Ramonet tot eer dat hy bereid is om Castro deeglik aan te vat oor die belangrikste punte van kritiek teen sy regime, en Castro dat hy bereid is om eerlik, beredeneerd en soms self-krities te antwoord. Die doodstraf, vryheid van die pers, tronkstraf vir politieke dissidente, en die gebrek aan ‘n veelparty-demokrasie is maar enkele van die knelpunte wat hier bespreek word.

‘n Mens verskil dikwels van Castro se benadering tot hierdie onderwerpe, maar moet toegee dat hy nie wegskram van kritiese besinning nie. Daar is in elk geval so baie wat hy wel sê wat stof tot nadenke bied. In ‘n era waarin neo-liberale kapitalisme dikwels voorgehou word as onaanvegbaar, is dit interessant om gekonfronteer te word met iemand wat ‘n ander werklikheid bepleit en probeer staande hou het.

Op ‘n stadium sê Ramonet aan Castro: “You’re still an incorrigible dreamer.” Hierop antwoord Castro dan: “There’s no such thing as dreamers, and you can take that from a dreamer who’s had the privilege of seeing realities that he was never even capable of dreaming” (p. 399).

Lucebert se toespraak gevind

Monday, September 14th, 2009
Lucebert se toespraak van 5 November 1949

Lucebert

“Geachte aanwezigen - Hier sta ik … in een opvallend schuchtere houding voor U … omdat ik uiters verlegen ben met de taak die voor vanavond op mijn schouders rust. Ik heb nl. bij u in te leiden een groep jonge dichters die de pretentie heeft de Nederlandse literatuur te vernieuwen.”

So het Lucebert sy toespraak wat hy tydens die “dichtersavond” op 5 November 1949 in die Stedelijk Museum (Amsterdam) gelewer het, begin. Die groep “jonge dichters” waarna hy verwys het, het buiten homself ook nog Gerrit Kouwenaar, Bert Schierbeek en Jan Elburg ingesluit. Maar by voorlees het dié aand nooit uitgekom nie, want ná die 25-jarige Lucebert (L.J. Swaanswijk) se openingsrede het dié geleentheid in totale pandemonium ontaard met algemene geskreeu en vuisgevegte.

Chaos. Maar CoBrA was gebore. En saam daarmee die groep digters wat later as die “Vijftigers” bekend sou raak. Nie net die Nederlandse digkuns nie, maar inderdaad die Europese digkuns sou hierna nooit weer dieselfde wees nie.

Die goeie nuus is egter dat dié historiese toespraak nou na 60 jaar opgespoor is en deur die Neerlandikus Peter Hofman in die publikasie Hollands Maandblad gepubliseer is. (Die inleidende paragrawe kan hier gelees word.) Die waarde van hierdie toespraak lê natuurlik daarin dat Lucebert  ”het verzet van de nieuwe generatie dichters en schilders tegen de ‘letterdames en letterheren’ van het naoorlogse Nederland voor het eerst openlijk verwoordde.”

Uiters vermaaklik is die berig op De Contrabas se webblad waar hulle verwys na die media-reaksie destyds op Lucebert se openingesrede. De Waarheid het byvoorbeeld verwys na ‘n ‘Trotzkistische rel’ terwyl Het Vrije Volk weer die volgende siening gehuldig het: ‘Wie deze tentoonstelling gezien heeft, heeft geen hoop meer, dat er uit Karel Appel en Corneille, uit Constant en Théophile Wolvenkamp, uit Gerrit Kouwenaar en Lucebert ooit iets anders zal groeien dan wat ze nu al zijn: knoeiers, kladders’.

Na ja, toe. Dat ‘n mens só deur die geskiedenis verkeerd bewys kan word, nè …

***

Vanaand is dit die amptelike bekendselling van Mathews Phosa se bygewerkte digbundel Deur die oog van ’n naald wat verlede Vrydag in die boekwinkels afgelewer is. Die bekendstelling gaan op ‘n wynplaas buite Stellenbosch wees. Lees gerus die onderhoud wat met dr. Phosa gevoer is, asook die inligtingstuk oor die bundel.

***

Dan is dit vir ons aangenaam om Desmond Painter as blogger te verwelkom. Desmond is een van die veelsydigste intellektuele in die land en ons kan beslis uitsien na sy “buite-blik” op die poësie. Mag dit vir jou ‘n plesierige affêre wees, Desmond!

***

Ten slotte, nog ’n aanhaling uit Lucebert se legendariese toespraak: “Wil men in de chaos, de snelle gang van zaken volgen en er een werkzaam aandeel in hebben, dan moet men de stoute schoenen aantrekken, de moed hebben avonturier en beelden stromer te zijn. Voortdurend het verleden vernielen moet men in het heden staan als in het laboratorium der toekomst.”

Lekker knoei en klad hierdie week.

Mooi bly.

LE

Desmond Painter se Blog

Thursday, September 10th, 2009

Desmond Painter

Desmond Painter

Desmond Painter het grootgeword in Brackenfell, gestudeer aan die Universiteit Stellenbosch, en later vir ses jaar gewerk by Rhodes Universiteit in die Oos-Kaap. Tans doseer hy sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. In sy doseerwerk en navorsing fokus hy op sosiale sielkunde, kritiese sielkunde, kwalitatiewe navorsingsmetodes (spesifiek diskoersanalise), kritiese sosiale teorie, en die filosofiese grondslae en historiese ontwikkeling van die sielkunde as ‘n dissipline. Sy huidige navorsingsprojek is ‘n studie oor die konseptualisering van taal, subjektiwiteit en politiek in die sosiale sielkunde, met taalpolitiek in Suid-Afrika as die spesifieke empiriese konteks. Benewens akademiese publikasies oor hierdie onderwerpe, skryf hy ook gereeld essays, opiniestukke en resensies oor verskeie politieke, kulturele en literêre kwessies in publikasies soos Die Burger, Rapport en LitNet. Hy stel ernstig belang in letterkunde, musiek en films, reis graag wanneer hy die kans kry, en boer in Stellenbosch se koffiewinkels.

 

Desmond se eerste blog volg binnekort [Red.]