Posts Tagged ‘Die algebra van nood’

Die algebra van nood

Sunday, August 9th, 2009

Die algebra van nood

 

 

Johann de Lange

Human & Rousseau (R140)

 

Die algebra van nood

Die algebra van nood

Met sy bundeltitelkeuse lui De Lange al die dringende toon van Die algebra van nood in. Dis naamlik veral die noodwendigheid van verlies, gefnuiktheid en verganklikheid, en die angste en verdriete wat dáárdeur gewek word, wat tot uitdrukking kom.

Die tematiese opbou van die bundel weerspieël iets van dié onontkombare proses – vanaf die intense belewing van aardse skoonheid en verrukking in die openingsafdeling tot by die elegiese herdenking van gestorwenes in die slotafdeling. Trouens, die ekstase van die natuurbelewings aan die begin verkry ‘n kwellende kwaliteit in die lig van die latere uitgesproke bewustheid van die verydelende kragte in die lewe.

In afdeling twee volg die uitbeelding van die (teennatuurlike) “bedrieglike paradyse”  wat via dwelmgebruik nagejaag word. ‘n Beklemmende gevoel van futiliteit tree al sterker op die voorgrond.

So ook in die derde afdeling, “Naspele & voortvlugte” (‘n ironiese toespeling op die subtitel van N.P. van Wyk Louw se Tristia). Die voort- én teenskrywings op die temas en stylgrepe van digterlike voorgangers verteenwoordig ‘n ewe plaasvervangende strewe as die dwelmgebruik.

Die meermaals treffende  ars poetica-gedigte van afdeling vier bevestig verder die ydelheid van die digterlike strewe om die verganklikheid via kuns(her)skepping te oorstyg.

Enigsins parallel aan die natuurbelewings en die kunsstrewes is die homoërotiese ervarings wat in die afdeling “Die handgrepe van hartstog” geteken word. Dit word veelseggend gevolg word deur ‘n groep gedigte onder die titel “Die meervoud van verdriet”.     

In die twee laaste bundeldele oorheers veroudering, verval en die dood, naamlik as dieptepunt van die menslike nood.

Die ingeligte leser sou uit bostaande talle bekende temas uit die De Lange-oeuvre herken het. Met hierdie agste digbundel van hom bou hy indrukwekkend voort op sy vorige werk.

Soos voorheen is die verse fyn afgewerk, munt hulle uit in veral klankspel en beelding.

‘n Estetiserende neiging is weliswaar hier en daar merkbaar, byvoorbeeld in nuutskeppings en samestellings wat ‘n bietjie gesog of versentimentaliseerd aandoen. (Vergelyk:  “‘n soebatblou Oktoberlug”.) Voorts is ek nie oortuig dat die “algebra”-motief tot naatloosheid verweef is in die bundelopset nie. Die “&”-teken wat deurgaans pleks van “en” gebruik word, verklap dalk die digter se aanvoeling van ‘n tekortkoming in hierdie verband.

 

Resensent: Bernard Odendaal

 

Boeke-Insig sê: Met hierdie bundel versterk De Lange sy oeuvre op imponerende wyse.

Die bruikleen-fenomeen

Tuesday, June 16th, 2009

Die bruikleen-fenomeen

– op- en aanmerkings oor Johann de Lange

se bundel Die algebra van nood,Human & Rousseau, 2008.

 

deur Lucas Malan

 

Reeds met sy debuutbundel, Akwarelle van die dors (1982, het Johann de Lange ‘n vars profiel in die Afrikaanse poësie met uitdagende temas en fyn versorgde verse verwerf. Vir sy debuut en ‘n latere bundel het hy dan ook gepaste pryse ontvang. Die sestal bundels wat op sy debuut gevolg het, is ook almal (met die uitsondering van een negatiewe resensie deur die gedugte Marlene van Niekerk) oorwegend gunstig ontvang.

 

In Deel 3 van H.P van Coller (red.) se Perspektief en Profiel  (2006) skryf Marthinus Beukes (volgens die inhoudsopgawe met die medewerking van Andries Visagie) ook met begrip en waardering oor De Lange se verse waarin ‘n obsessie met die erotiese ervaring en die dood, die liggaam en die sterflikheid telkens as transformasie in hierdie digterskap gelees moet word. Beukes vermeld ook spesifiek De Lange se vakmanskap, hoe goed sy bundels as eenheid gekomponeer word, en – kritiekloos – hoe dikwels De Lange sy verse met intertekstuele knope vervleg en voed.

 

Kortom, Johann de Lange word as ‘n beduidende digter van die periode 1982 tot 1995 beskou. Maar ná sy laaste bundel van 1995 publiseer hy net kortverhale en in 2007 ook ‘n bundel vaardige Engelse vertalings van Wilma Stockenström se gedigte.

 

Eers vroeg in 2009 verskyn daar weer ‘n opvallend ruim digbundel van hom met die titel Die algebra van nood. Net voor die verskyning daarvan kry De Lange in Die Burger (27 Februarie 2009) ‘n volblad onderhoud met Murray La Vita waarin De Lange oor enkele persoonlike sake bely en die aroma van sy naskeermiddel ook aandag kry.

 

Toe kom die eerste resensie van die bundel deur Ampie Coetzee in Die Burger (20 April 2009). Coetzee vind weinig meriete in dié “onnoemenswaardige” bundel en plaas dit op ‘n skaal van vyf sterre op twee, wat sê “lees maar as dit moet”.

 

Eers tien dae later plaas Die Burger ‘n brief van prof. Henning Snyman, volgens De Lange se vermelde onderhoud sy studieleier en voorstander vir die publikasie van dié bundel. Snyman het besware oor Coetzee se oordele en skimp op sy onvermoë om die bundel in te skat vir wat Snyman self o.m. “opreg menslik en ontroerend in die genadelose blootlê van menslike passie, deernis en weerloosheid” noem. Snyman vermaan ook verbasend naïef dat De Lange se bundel “as ‘n eenheid gelees (moet) word.”

 

Voorts wys hy op swak formulering en ‘n feitefout in Coetzee se resensie wat hy afwysend as moontlike “verskrywings” beskou. (Wat feitefoute betref, wil ek Snyman tog daarop wys dat De Lange se gedig “Bloem in die Karoo” (p. 54) óók ‘n “verskrywing” is, want hy verwar die Nederlandse digters J.C. Bloem en A. Roland Holst se besoeke aan Suid-Afrika. Vgl. J.C Kannemeyer se kort herinneringstuk waar De Lange sy stof gaan leen en toe verwar het : “A. Roland Holst se Besoek aan Suid-Afrika” in Uit puur verstrooiing, Inset-Uitgewers, 2007, p.296.)

 

Prof. Snyman sê ook vroeg in sy brief dat hy hom daaraan troos dat ‘n resensie “altyd maar die eerste indrukke van ‘n bepaalde leser (is).” Om dié cliché te beklink, wil ek sy lesing van die voorblad as selfgesprek” en “ontroerend” weerlê met mý persepsie daarvan as nóg ‘n “bepaalde leser”: Ek vind dit ‘n lig obsene eksemplaar van ekshibisionisme; in die trant van: Kyk, hier is ons eie Baudelaire, “die vervloekte digter”; ons eietydse Eugène Marais.

 

Verder probeer Snyman die uitputtende gebruik van die ampersand (&) as sinvolle “teken” in hierdie bundel verdedig, maar of dit nou met die algebra of die semantiek verband hou, vind ek dit oortollige “grimering” en ‘n irriterende affektasie wat die leser al gou vervreem. En dit het ons te danke aan De Lange se deurlopende en toenemend vervlakkende gebruik om ter wille van die allure by al die groot name stof te gaan leen en dit vernuftig te herwin. (Die ampersand-teken (&) kom bv. veral in William Blake (1757 – 1827) se tekste voor.)

 

Sedert prof. Ampie Coetzee se negatiewe resensie het daar van Marthinus Beukes (Beeld, 11 Mei 2009) ‘n teoreties gerigte resensie tot lof van De Lange se bundel verskyn. Ook ‘n lojale student aan die UK, Jaco Barnard-Naudé het saam met ‘n spook genaamd Crito op Litnet vir Coetzee en dr.Gerrit Brand, redakteur van Die Burger se boekeblad, geraps oor hul vermeende swak oordeel. Daar sal wel ook ander kommentare in die skemergange van kuberruimtes wees, maar genoeg. Ek wil nou die aandag vestig op ‘n enkele sin in Coetzee se resensie waar hy skryf oor dit wat ek in my opskrif die bruikleen-fenomeen noem. Hy  skryf: “Dan ook nog motto’s, parodieë, opdragte en herinnerings aan ander digters, en verse op die wysie van ander digters se verse (ek kursiveer) – ook by die twintig”.

 

Oor die strategie / tegniek / term of stylgreep intertekstualiteit kan ek niemand iets leer nie en andersom. Laat ek lesers net daaraan herinner dat ons al in 1968 met P.G. du Plessis se uitstekende proefskrif Die verwysing in die literatuur en kort daarna met Pirow Bekker se proefskrif Die titel in die poësie (1970) deeglik ingelig is oor wat die aard, die funksie en effekte van dié gebruik in die literatuur behels. En vir dié wat vergeet het of nie weet nie, wys ek ook op ‘n uitspraak van Ernst van Heerden hieroor in sy bundel opstelle Digterlike diagnose (1977). Hy skryf :

 

            Dit is begryplik (en vergeeflik, hoop ek) om in die werk van iemand wat hom sy

            hele lewe met die literatuur besig gehou het, voorbeelde van verwysings na ander

            literature te vind. Die gebruik van versluierde of indirekte aanhalings in die poësie

            is soms ‘n soort intellektuele ekshibisionisme of erudiete vertoon, maar kan andersyds

            ook met ‘n onthullende, aanvullende en verdiepende funksie waardevol wees . (p.10).

 

(Tydens ‘n openbare gesprek oor dié bundel, herinner ek my, het Van Heerden in ‘n guitige oomblik bygevoeg: “En de helft is u nog niet verteld”.) Ons aanvaar dus dat alle digters van formaat hulle soms laat voed deur die werk van voorgangers – veral die grotes. Maar wanneer dit in ‘n hele oeuvre die oorheersende element word en elke bundel iets van ‘n  Groot Verseboek in die kleine word, moet daar iewers tog halt geroep word.

 

Hier volg ‘n ekskursie deur De Lange se oeuvre soos ek dit ken. Soms kan ek nie direkte bewysplase vermeld nie, want ek maak staat op my geheue en ou mededelings. Indien De Lange en sy ondersteuningspersoneel egter my bewerings kan weerlê, staan dit hulle vry.

 

 

Die bundeltitels

 

Met die (moontlike) uitsondering van Waterwoestyn (1984) en Vleiswond (1993), het De Lange al sy bundeltitels aan ander digters of publikasies te danke. Vergelyk: Akwarelle van die dors (1982) – Lucebert; Snel grys fantoom (1986) – uit ‘n artikel in die tydskrif Time oor James Dean se dood; Wordende naak (1990) – N.P. van Wyk Louw; Nagsweet (1991) – Thom Gunn (The man with night sweats); Wat sag is vergaan (1995) – Jeanne Goosen, ‘n verhaaltitel in haar bundel ‘n Kat in die sak (1986), deur my opgeneem in Hongergrond (1994), daarná deur De Lange as bundeltitel gebruik en sowaar nou weer as afdelingstitel in sy Die algebra van nood (2008), waarvan die titel volgens De Lange nogmaals geleen is by ene William Burroughs.

 

Voeg nou hierby die groot aantal motto’s en opdragte dwarsdeur die oeuvre waarop Ampie Coetzee in sy onlangse resensie ook moedeloos reageer, en ‘n mens begin wonder waarom De Lange sy onmiskenbare talent só gemaklik wil stoffeer of met ander kuipvogte wil versny.

 

Die jongste bundel

 

Dit kan ‘n moeisame onderneming word om elke eggo of geval van bruikleen in De Lange se jongste bundel met jota en tittel aan te toon, daarom het ek as ervare leser van die Afrikaanse poësie chronologies net die opvallendste grepe met die betrokke digters of gedigte wat dit oproep – ook waar dit openlik as direkte aanhaling fungeer – aangestip.

Dit lyk so:

 

Die eerste afdelingstitel, Hiermaals – Lina Spies; “Groen” (p.13) – Ina Rousseau; “Bolandse tafereel: laatmiddag” (p.17) – die frase “die eland met sy riffelkwakkie” – Wilma Stockenström; “Duimsketse” (deel 2, p.21) die woord “soef” – Wilma Stockenström (Uitdraai,?); “Sketsboek” (p.26) – Daniel Hugo, “Tafelbaai 1”, Skeurkalender (1998, p. 9); “Ostranenie” (p.32) die woord “smeuig” – Ina Rousseau; die woord “veelal” – Stephan Bouwer; “LSD, Seepunt” (p.33) – “tot in die fynste ontsteltenis” – Jeanne Goosen; “Betwixt” (p.36) – “verbeelde werklikhede” – Eleanor Baker; “Teen die berghang” (p.43) – Van Wyk Louw, wél ‘n bewuste en vernuftige verwerking; “Bloem in die Karoo”(p.54) – dit moet Roland Holst wees; “Miskien is dit nou die tyd” (p.60) – Van Wyk Louw; “Rembrandt” (p.67) – Hennie Aucamp se kwatryn “Uiteindelik”; “Daar is ‘n tyd wat sterre hou” (p.85) – Antjie Krog; “Dooiepunt” (p.91) en “Klein elegie” (p. 92) – Van Wyk Louw, Tristia; “Bloubaard” (p. 94), die woord “sweserik” – Ina Rousseau; “al my paadjies” (p.98) – Ingrid Jonker; “Ek min jou” (p.101) – J.C. Steyn; Afdeling VII; “Wat sag is…” – wéér Jeanne Goosen; “Ants Kirsipuu (1927 –2003)” (p. 117) – die woord “Nimmermeer” – Wilma Stockenström, wel geslaagd as konteksuele inbedding van haar gedig “Lêer van ‘n leeftyd”.  

 

Dit dan die aantekeninge oor wat ek steurend vind. Tussendeur is daar hoogs geslaagde gedigte in hierdie bundel. ‘n Frase in die boek Physique: Classic Photographs of Naked Athletes (Red. Peter KÜhnst, Thames & Hudson, 2004) het onder my aandag gekom. Dit is die laaste afdeling se titel: “Postmodernism and Postmodern Mannerism”. Is dit nie waarmee ons hier te doen het nie – ‘n laaste kramp van die Postmodernisme wat nou as flou Maniërisme manifesteer?  

                                                                                                   

  

Onderhoud: Johann de Lange

Saturday, June 13th, 2009

Om met ’n eie kompas te skryf

Johann de Lange in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Johann de Lange

Johann de Lange

Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonker-prys ontvang. Vir sy bundel Wordende naak (1988) ontvang hy die Rapportprys vir Poësie. Daarna volg Nagsweet (1990), Vleiswond (1993) en Wat sag is vergaan (1995). Vir sy gedig “Skerpskutter” ontvang De Lange ook die Pankratorprys in ’n internasionale poësiekompetisie van UNESCO, en ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker (“Verdrinkte hande”). Sy nuutste digbundel Die algebra van nood, verskyn in 2009.

 

 

 

 

 

 

Johann, ’n mens wil amper sê: Welkom terug! Dit is fantasties om na ’n stilswye van bykans 13 jaar weer ’n nuwe bundel van jou in die hand te kan neem. Waarom dié lang stilte en hoe het dié agtste bundel van jou (Die algebra van nood, Human & Rousseau, 2009) sy ontstaan gehad?

 

Die swye van 13 jaar was nie iets wat ek beplan het nie. Ek het ná Wat sag is vergaan (Human & Rousseau, 1995) ’n redelik hedonistiese fase binnegegaan waartydens ek uitgelate met verskillende dwelmmiddels eksperimenteer het. Toe dié na so om & by 3 jaar tot ’n einde gekom het, het ek ’n hele klompie jare verkwis met soek na ’n poëtiese medium waarin ek gestalte kon gee aan my dwelmervarings, maar ek kon net nie ’n bevredigende styl vind nie. Ek het aanhou skryf, maar omdat ek nooit pertinent aan ’n bundel gewerk het nie, het ek nie ernstig aan publikasie gedink nie; hou ook in gedagte dat dit al hoe moeiliker word om te skryf, omdat jy inskryf teen wat jy reeds geskryf het.

 

Aangesien my bundels almal uit druk is, het ek Human & Rousseau genader oor die moontlikheid om ’n seleksie uit my bundels te publiseer. Hulle was geesdriftig, & het gevra of ek so 20 nuwe gedigte het om by te voeg, sodat die bundel darem iets nuuts ook bring, aangesien ek lanklaas ’n nuwe bundel gepubliseer het. Ek het vir prof. Henning Snyman gevra om deur sowat 120 gedigte te gaan & 20 te identifiseer waaraan ek verder kan werk met die oog op publikasie. Hy het toe vir Alida Potgieter van Human & Rousseau genader & aanbeveel dat hulle eerder ’n nuwe bundel publiseer & die keusebundel vir ’n wyle uitstel.

 

Daarna was dit maande se harde werk om af te rond & te organiseer. Ek skryf nie eenheidsbundels nie, maar wanneer ek ’n bundel saamstel & die gedigte orden, begin ’n tweede fase natuurlikerwys waartydens ek klein wysigings aanbring om verse op mekaar te laat inspeel, om sekere tematiese geledinge verder & meer spesifiek uit te werk & te versterk. Terselfdertyd het ek begin soek na ’n kunswerk vir die omslag & via ’n vriend by Christiaan Diedericks uitgekom. Hy is ’n ongelooflike kunstenaar & dit was opwindend om met hom saam te werk. Nie altyd maklik nie, want ons is albei eiesinnige mense, maar saam het ons ’n omslag geskep wat loshande die mooiste is wat ek nog gehad het. Vir my begin ’n boek met die omslag – ek is van die Aucamp skool-van-die-mooi-boek. Gelukkig het ek Alida Potgieter & Kerneels Breytenbach aan my kant gehad & hulle kon die bemarkingsmense se arms so effe draai…

 

Jy is bekend as een van ons tegnies mees vernuftige digters en Die algebra van nood bevestig hierdie reputasie by uitstek. Tog bestaan die gevaar deurgaans dat ’n mens die toon van ’n vers dood kan wurg as gevolg van ’n bykans oordrewe tegniese benadering – iets wat jy nog altyd in al jou bundels uitstekend kon vermy. Is (of was) dit ooit ’n probleem vir jóú en indien wel, hoe ontkom jy dié slaggat van tegnies vernuftig, dog bloedlose poësie?

 

Ek sal jou woord vat oor my tegniese vernuf. In vergelyking met dié van skrywers wat ek bewonder, is dit maar aan die power kant. Maar die pluskant daarvan is dat ek nooit ophou leer nie. Daar kan nooit ’n punt kom dat ek voel ek weet genoeg nie. Daarvoor is poësie te veel van ’n spél vir my. Wat die spanning tussen tegniek/vernuf & spontaneïteit aanbetref, is daar in retrospek heelwat van my verse wat nie daaraan ontkom nie. Ek glo darem dat die hoeveelheid met elke bundel minder word. Vernufspoësie is ’n rigting van sy eie, & ek skryf nie vernufspoësie nie, eerder gedissiplineerde poësie. Wat in die omgang straks ‘outyds’ genoem sal word. Ek volg nie modes nie, ek het my eie kompas.

 

Johann, in bykans al jou vorige bundels word daar met verskillende persone op verskillende maniere ‘n “gesprek” gevoer. Met Die algebra van nood is dit ook ‘n prominente verskynsel; nie net tematies nie, maar ook stilisties. Is hierdie gewoon ‘n intertekstuele spel a la post-modernisme of het jy ‘n ánder dryfveer hiertoe?

 

Ander tekste is net soveel deel van mens se belewenis as normale dag-tot-dag ervarings. Daar was nooit ’n doelbewuste besluit by my om op tekste te ‘reageer’ nie. Dit is nou maar soos ek gebek is. Dit is die manier waarop ék met tradisie omgaan, & dit is maar één manier tussen baie ander.

 

My eerste kennismaking met Tristia was ’n keerpunt. Dit was ’n teks wat meteens ánder moontlikhede vir my geopen het, die soort teks waarmee mens jou ’n leeftyd kan besighou sonder om dit uit te put. Wat my verál geboei het, benewens Louw se idiosinkratiese ontginning van taal, die sinkretistiese aanslag van dié bundel, was die manier waarop hy ander tekste omgedig het, in sy eie woorde uit die óngevormde kuns gemaak het.

 

In Die algebra van nood is daar ’n hele afdeling (‘Náspele & Voortvlugte’) wat op verskillende maniere met brontekste omgaan. Daniël Hugo het die brontekste by twee van die gedigte identifiseer. In een het ek doelbewus ’n teks van Louw sélf ontgin. Die manier waarop brontekste ontgin word, & die sóórt tekste wat as brontekste gebruik word, verskil telkens. So, in die geval van Algebra was dit dus ’n berekende spel. Elders is dit meer organies deel van hoe ek beleef & skryf. Intertekstualiteit is by verre nie die belangrikste aspek van my oeuvre nie. Dit sou oorvereenvoudigend wees om dit so te lees.

 

Jy is beslis nie iemand wat terugdeins van kontroversie nie en daarom is een van die hoofkenmerke van jou werk die onverskrokke eerlikheid daarvan. (Amper sê ek “weerloosheid” – en selfs dié adjektief sou van toepassing gewees het!) Nietemin, as gevolg hiervan bring jou werk nog altyd teenstrydige menings na vore, soos dit nou wéér die geval is met die resensies wat reeds oor Die algebra van nood verskyn het. Vind jy dit inhiberend om aan ‘n vers te werk wat jy vooraf wéét kontroversie gaan uitlok? Of is júís dié adrenalien vir jou belangrik tydens die skeppingsproses?

 

Wanneer ek aan ’n gedig werk, dink ek nie aan wat die moontlike ontvangs daarvan mag wees nie. Ek konsentreer eerder op dinge wat ek kán beheer. Kontroversie is nie iets wat ek soek nie. Dit kompliseer jou lewe & kan ’n distraksie word as mens dit toelaat. Ek glo jy kies nie jou temas nie, hulle ontspring uit jou persoonlike patologie. Van my temas is kontroversieel vir sommige lesers & dis helaas heeltemal buite my beheer.

 

Die enkele gedig in Algebra wat klaarblyklik vir sommige lesers problematies is (‘Nog een maal wil ek in jou mond kom’) word m.i. deur party lesers verkeerd gelees. Enigeen wat meen dat ek daarmee Van Wyk Louw wil verkleineer of verkrag of onteer, verstaan nie my relasie met Louw nie. Of is moedswillig.

 

In 2007 het jy ’n keur uit Wilma Stockenström se verse na Engels vertaal (The wisdom of water, Human & Rousseau). Waarom het jy juis op Stockenström besluit en watter werkswyse het jy gevolg? Kon jy die vertalings byvoorbeeld in samewerking met die digter maak of het jy heeltemal onafhanklik van haar gewerk? En ook – hoe belangrik is die hele kwessie van vertaling vir jou? Jy het immers vantevore al verse van Antjie Krog, Sheila Cussons, Lucas Malan en Ernst van Heerden ook vertaal.

 

Ek is nie ’n professionele vertaler nie. Vertaling is ‘n geliefde aktiwiteit vir my, iets wat ek doen om skryf-fiks te bly. Ek dink dis een van die beste leerskole, & ook ’n wonderlike manier vir ’n skrywer om sy eie kultuur te verryk met werk uit ander kulture. Met my vertalings van Wilma se gedigte was dit anders gesteld. Hoewel haar prosa in heelparty tale vertaal is, is haar poësie nie baie goed bekend buite SA nie. Ek wou iets daaraan doen.

 

My vriendskap met Wilma het baie te doen gehad met my keuse, maar my bewondering vir haar poësie was ’n groot faktor. Die vertalings is met haar samewerking gedoen, & met dié verstandhouding dat geen vertaling die wêreld ingestuur sal word tensy dit haar goedkeuring wegdra nie. So ’n kollaborasie het ooglopende winste, maar dit het ook beperkings. Wilma was baie streng in haar vereistes & het my nie baie speling vir ‘herskepping’ (enige ‘poëtiese’ ingrepe) toegelaat nie – want vertaling is herskrywing ook. Dus het ek báie na aan die Afrikaans gebly. Sommige dinge gaan uiteraard verlore – veral by iemand soos Wilma wat Afrikaanse woorde op ’n baie unieke wyse ontgin. Maar dan was daar by geleentheid ook winste. Umberto Eco beskryf vertaling as “the art of failure”.

 

Vertaling is in baie opsigte soos kreatiewe skryfwerk, & die vertaler skep iets wat in ’n sekere sin sýne ook is. ’n Goeie vertaling word ’n nuwe gedig in eie reg. Borges stel dit so mooi: “The original is unfaithful to the translation.” Hoe ook al, dit is verrykend & baie leersaam. Ek sou vertaling ’n baie belangrike komponent maak van enige kreatiewe skryfkursus.

 

Johann, jy is iemand wat baie poësie lees en hom veral op hoogte hou met die internasionale digkuns. Is daar oorsese digters wat jy in die besonder sou wou uitsonder as digters wie se verse tot jou spreek? Hoe belangrik is hierdie aspek vir die digter as ambagsman? Ek vra hierdie vraag omdat ’n mens nogals dikwels die absurde argument teëkom dat iemand nie ander poësie wil lees nie, aangesien hy of sy bang is vir beïnvloeding.

 

My antwoord op hierdie vraag sal jou ure/bladsye lank kon besighou. Ek het nou die dag gekyk & besef dat ek al byna 46 000 bladsye rondom digters & digkuns op die internet afgelaai het. Die internet is ’n wonderlike resource in ’n land waar biblioteke toenemend verwaarloos word. Hoewel mens nie altyd die volledige bundel kan aflaai, kan jy gewoonlik ’n goeie verteenwoordigende seleksie aflaai. So dis meteens moontlik om báie, & baie wýd te lees. Selfs digters te hoor lees. My mees onlangse ‘ontdekkings’ was die biseksuele Skotse digter Carol Ann Duffy & die lesbiese Kay Ryan van Kalifornië, albei poet laureates. (Waar is I.D. du Plessis tog vandag om te sien hoe wyd & veelduidig sy vreemde liefde besê word.)

 

Ek is ’n kompulsiewe internet surfer, & so het ek die laaste maande wonderlike Australiese & Ierse digters ontdek. Digters soos Judith Wright (Australië se Marianne Moore), Les Murray, Stephen Edgar. Aan die Ierse kant ouens soos Ciaran Carson, Derek Mahon, Eavan Boland, Maurice Riordan:

 

The Wineglass

Maurice Riordan

 

We can never play it back again,

Our love-life’s little song and story.

The wineglass slips your fingers’ hold

And signals to the planet’s core.

I could, for just one millisecond,

Restore the moment to your hand.

Instead we watch it gather force

Along the curve-line through the floor.

We can never play it back again,

Our love-life’s little song and story.

 

Michael Longley:

 

Ceasefire

 

Michael Longley

 

1

Put in mind of his own father and moved to tears

Achilles took him by the hand and pushed the old king

Gently away, but Priam curled up at his feet and

Wept with him until their sadness filled the building.

 

2

Taking Hector’s corpse into his own hands Achilles

Made sure it was washed and, for the old king’s sake,

Laid out in uniform, ready for Priam to carry

Wrapped like a present home to Troy at daybreak.

 

3

When they had eaten together, it pleased them both

To stare at each other’s beauty as lovers might,

Achilles built like a god, Priam good-looking still

And full of conversation, who earlier had sighed:

 

4

‘I get down on my knees and do what must be done

And kiss Achilles’ hand, the killer of my son.’

 

Of Ciaran Carson:

 

Belfast Confetti

 

Ciaran Carson

 

Suddenly as the riot squad moved in, it was raining exclamation marks,

Nuts, bolts, nails, car keys. A fount of broken type.

And the explosion

Itself – an asterisk on the map. This hyphenated line, a burst of rapid fire …

I was trying to complete a sentence in my head, but it kept stuttering,

All the alleyways and side-streets blocked with stops and colons.

 

I know this labyrinth so well – Balaclava, Raglan, Inkerman, Odessa Street –

Why can’t I escape? Every move is punctuated.

Crimea Street. Dead end again.

A Saracen, Kremlin-2 mesh. Makrolon face-shields.

Walkie-talkies. What is

My name? Where am I coming from? Where am I

going? A fusillade of question-marks.

 

 

Daar is ander waarvoor ek nog steeds lief is: Elizabeth Bishop (ook lesbies), te veel om op te noem, maar daar is klassiekes soos ‘One art’ (waarop die Amerikaner Marilyn Hacker ’n waardige antwoord geskryf het met ‘From Orient Point’ ), ‘The Armadillo’, ‘The Fish’.

 

Rain Towards Morning

 

Elizabeth Bishop

 

The great light cage has broken up in the air,

freeing, I think, about a million birds

whose wild ascending shadows will not be back,

and all the wires come falling down.

No cage, no frightening birds; the rain

is brightening now. The face is pale

that tried the puzzle of their prison

and solved it with an unexpected kiss,

whose freckled unsuspected hands alit.

 

Dan is daar Adrienne Rich, Denise Levertov, Sharon Olds, John Berryman (wat n ongelooflike virtuoos!), John Updike (ja, hy is ‘n bedrewe digter ook), Leslie Monsour, Lisel Mueller, Mark Doty, Billie Collins (hy het die wonderlike vermoë om uit die doodgewone ’n epifaniese oomblik te haal), Rita Dove:

 

The Fish in the Stone

 

Rita Dove

 

The fish in the stone

would like to fall

back into the sea.

 

He is weary

of analysis, the small

predictable truths.

He is weary of waiting

in the open,

his profile stamped

by a white light.

 

In the ocean the silence

moves and moves

and so much is unnecessary!

 

Patient, he drifts

until the moment comes

to cast his

skeletal blossom.

 

The fish in the stone

knows to fail is

to do the living

a favor.

 

He knows why the ant

engineers a gangster’s

funeral, garish

and perfectly amber.

He knows why the scientist

in secret delight

strokes the fern’s

voluptuous braille.

 

En Thom Gunn (wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet & mee te korrespondeer), Stanley Kunitz:

 

The Knot

Stanley Kunitz

 

I’ve tried to seal it in,

that cross-grained knot

on the opposite wall,

scored in the lintel of my door.

but it keeps bleeding through

into the world we share.

Mornings when I wake,

curled in my web,

I hear it come

with a rush of resin

out of the trauma

of its lopping-off.

Obstinate bud,

sticky with life,

mad for the rain again,

it racks itself with shoots

that crackle overhead,

dividing as they grow.

Let be! Let be!

I shake my wings

and fly into its boughs.

 

Ek kan aangaan, maar volstaan hiermee. Om ’n onbekende digter te ontdek, is altyd ’n opwindende ervaring.

 

Ten slotte – ek ken jou as iemand wat baie ernstig oor die digkuns besin en baie spesifieke opvattings daaromtrent huldig. Hoe voel jy oor die stand van die Afrikaanse digkuns tans en in welke mate word dit deur bepaalde tendense (of verskynsels) bedreig?

 

Die Afrikaanse poësie was vir ’n lang tyd in bedroewende kondisie. Daar was weliswaar opflikkerings met die debute van Ilse van Staden se debuut & Danie Marais, maar dis verál met stemme soos dié van Loftus Marais, Carina Stander, Gilbert Gibson & Ronelda S. Kamfer dat mens weer hoop begin kry het. Vier digters wat radikaal van mekaar verskil, & vernuwing bring waar dit broodnodig is. Iewers sê Antjie Krog dat skryf vir haar begin met verset & ek dink dis ’n goeie uitgangspunt. En daardie verset kan baie verskillende gedaantes aanneem.

 

Onbehaaglike tendense?

 

Literêre pryse: Ons het hopeloos te veel. Hier stem ek met Wilma Stockenström saam waar sy sê dat iemand in Afrikaans maar net hoef te poep & dit word bekroon. Pryse dien nie die letterkunde nie, hulle  dien ánder gode. Skrywers & lesers kan gerus onthou dat pryse min sê oor die intrinsieke waarde van tekste. Pryse weerkaats maar net die feilbare & tydgebonde opinies van komitees. Sê eintlik meer oor politieke klimaat, modes, persoonlike agendas. En menige skrywer is al totaal verlam deur pryse, verál wanneer dit te vroeg gebeur. Veel belangriker as bekronings vir ’n skrywer is langlewendheid, uithouvermoë. Thom Gunn beklemtoon dit eweneens wanneer hy skryf: “It is not so difficult to kindle the poetic fire in the first place as to keep it going, hot and bright, through a whole lifetime.”

 

Boekeredakteurs: ’n Goeie boekeredakteur is ’n skaars ding. Verkieslik moet hy of sy nie sélf ’n skrywer wees nie, maar eerder letterkundige of akademikus. Ons het hier ter plaatse dikwels die situasie dat koerante joernaliste in die poste aanstel eerder as om ’n professionele persoon te nader. Hoe moeilik kan dit dan nou wees om skrywers & boeke te hanteer, reg? Die gevolg hiervan is dat sommige boekeredakteurs heel uit hulle diepte is.

 

’n Bedrewe boekeredakteur moet bewus wees van subtekste binne die bedryf ten einde te verseker dat boeke ’n regverdige ontvangs kry. Wanneer ’n boekeredakteur oningelig is oor onderstrominge binne die bedryf, kan dit gebeur dat verál literêre tekste nie altyd die allerbeste resensente kry nie. Hoe onpartydig kan ’n resensie wees as jy die boek stuur vir iemand wat ’n boesemvriend van die skrywer is, of die skrywer vyandig gesind is?

 

Daar is baie geleenthede vir ’n boekeredakteur om sy of haar posisie te misbruik: boeke kan vir ‘verkeerde’ resensente gestuur word, glad nie uitgestuur word nie, opsetlik laat uitgestuur word, vir vriende of bedmaats gestuur word, of ’n resensie kan terug gehou word (& daar sal altyd ’n goeie rede voor aangebied word). Kortom: dis feitlik onmoontlik om sulke misdrywe te bewys, want dis moeilik om te onderskei tussen aangebore onnoselheid & moedswilligheid.

 

Daar is tans ’n groot tekort aan goeie resensente, & ongelukkig is party van hulle so ontnugter deur die huidige toestand van die resensiebedryf dat hulle ophou skryf het. En diegene wat wel bereid is om te skryf (’n danklose taak as daar ooit een was), word so dikwels gebruik dat hulle verwyt word dat hulle te véél resenseer. Dit is belangrik dat dormante resensente wéér & méér begin resenseer as ons die bedryf van middelmatigheid wil red. Behoed ons van die tonnelvisie van kritici wat hulle ganse loopbaan op die werk van een skrywer parasiteer. Van lui resensente wat meen hulle kom hul verpligtings na as hulle bundels parafraseer & die res van die ruimte vol stop met aanhalings.

 

Die internet: webruimtes soos SêNet waar almal wat maar asemhaal (op eie stoom of met behulp van mediese toerusting) ’n spreukbeurt kry & toegelaat word om opinies te besig oor sake waarvan hulle meestal nie ’n snars verstaan nie. Is dit net die letterkunde wat hieronder ly, of word leke ook toegelaat om byvoorbeeld op mediese blaaie of webtuistes met hulle opinies te smous? Dieselfde geld blogs. Vir elke goeie blog is daar ’n honderd wat geen verdienste het nie. Woorde mag allemansbesit wees, maar die vermoë om te skryf is nié. Dit is seker maar die gatkant van die internet, die prys wat mens moet betaal vir die ander vryhede wat dit bied.

 

Dankie vir die gesprek, Johann, en veral vir jou openhartige antwoorde. Is jy nie dalk lus om vir ons lesers ‘n nuwe vers (of vertaling) hieronder te plaas nie?

 

My nuwe verse is nog nie bevredigend afgewerk nie, so ek volstaan met drie vertalings:

 

‘n Gekweste bok spring die hoogste

Emily Dickinson

 

‘n Gekweste bok spring die hoogste

het ek jagters hoor vertel –

net maar die dood se steil ekstase

en dan’s die woud weer stil.

 

 

Katte soos engele

Marge Piercy

 

Katte soos engele is veronderstel om skraal te wees;

varke soos gerubyne is veronderstel om vet te wees.

Mense is meestal iewers tussenin, ‘n kneukel

been wat uitstaan op die knie wat jy

graag sou wou stop, ‘n vetrol wat hang

oor ‘n lyfband. Jy straf jouself,

een van daardie rubberballe wat kinders het

wat terugbons van hul eie rakette,

spring terug van dieselfde blad.

Jy wil graag skraal wees en naatloos

soos ‘n bout.

                           Toe ek ‘n jongmeisie was

het ek gehou van werwelige mans wat asketies grinnik

die ene elmboog en woorde en kraakbeen

gerib soos staangemaakte newelgrys skeepsrompe,

gesigte wat die oë blind sny

op die glimmende lem, kennebakke

soos die boeë van Egeïese skepe uit om te roof.

 

Nou soek ek na mans wie se gemaklike boepe

‘n liefde vir die vlees en die tafel verraai,

mans wat in die kombuis sal kom sit,

wat nie dink aartappels skil

sal hulle penisse laat krimp nie;

mans met breë vingers

en pers vyerige balle,

mans met verrimpelde plooie en die effense

bedolwe voorkoms van beddens nog onlangs

goed gebruik.

                           Ons is nie almal veronderstel

om te lyk soos ondervoede veertienjarige

seuns nie, ongeag van wat die mode

mag gebied. Jy is gebou om ‘n wa te trek,

om ‘n swaar las op te lig en te kan dra,

teen die helling op te hys, en so

ook ek, boerelywe, aardse, soliede

welgevormde donker verglaasde potte

wat op die vuur kan staan. Wanneer ons

ons pense teenmekaar druk kletter ons nie

maar bons op die goeie stoffering.

 

 

Die Pous se penis

Sharon Olds

 

Dit hang diep verborge in sy togas, ’n delikate

klepel in die middel van ’n klok.

Dit roer as hy beweeg, ’n spookvis in ’n

stralekrans van silwer seegras, die hare

wieg in die donker en die hitte – en snags

terwyl sy oë slaap, staan dit op

tot lof van God.

 

 

Holst in die Karoo

Friday, May 15th, 2009

Holst in die Karoo

Daniel Hugo 

In Johann de Lange se bundel Die algebra van nood  (Human & Rousseau, 2009) staan die volgende gedig:

 

                        Bloem in die Karoo

 

                        Alles is oud en klaar,

                        byna eentonig grandioos.

                        Verby die treinvenster vaar

                        vlaktes twaalfuur-oseaan.

 

                        ’n Bruin lei waarop bruin gode

                        die kode van die heelal skryf.

                        Onkenbaar & tóg bekend, kompleet

                        of ek dit van iewers wil onthou.

 

                        Verby die blou blos dóér ver van dagbreek

                        of die fyn ideogram van ’n woestynroos,

                        word ’n binnelandskap openbaar,

                        ’n voorgeboortelike of nadoodse domein,

 

                        ’n heimwee sewe-agstes hemel

                        wat die Hollandse duine verdwerg,

                        & van die Alpe ’n mooi poskaart maak.

                        Dié onmeetlikheid laat wat wuft is val,

 

                        & maak ’n groter aanspraak op die gees.

                        Die lang lae berge rys uit kaal

                        vlaktes klip omhoog

                        asof die eeue sigbaar asemhaal.

 

Die Nederlandse digter J.C. Bloem het Suid-Afrika in 1948 vir langer as vyf maande besoek. Hy het die literêre geselskap van N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Jan Greshoff, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en Uys Krige terdeë geniet, maar het hom min gesteur aan die Suid-Afrikaanse landskap en natuurlewe. J.C. Steyn vertel in sy biografie N.P. van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal (Deel I, p. 472) hoedat Bloem diep dankbaar geantwoord het: “Goddank, daar hoef ik dan ten minste niet heen,” toe Greshoff hom meedeel dat die Krugerwildtuin in die somer weens gevaar van malaria gesluit is.

Dit is dus onwaarskynlik dat Bloem hom so liries oor die Karoo sou uitlaat, soos in die gedig hierbo. Die titel moes in werklikheid gewees het “Holst in die Karoo”.

            Die digter Adriaan Roland Holst was in 1946 en 1947 vir agt maande in Suid-Afrika. Dié hele geskiedenis is ook te lees in N.P. van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal (Deel I, pp. 450-456). Holst het op 3 Augustus 1946 met die skip die Oranjefontein uit die oorlogsgeruïneerde Nederland in Kaapstad aangekom, waar hy onder andere deur N.P. van Wyk Louw verwelkom is. Hy het die land deurreis en in Johannesburg, Pretoria, Potchefstroom, Pietermaritzburg, Grahamstad, Wellington, Stellenbosch en Kaapstad lesings gehou en Afrikaanse skrywers ontmoet.

            Holst was betower deur die Karoo. Steyn vertel dat dié “prins van die Nederlandse digters” op Saterdag 31 Augustus 1946 met die trein op reis was in die omgewing van Beaufort-Wes en toe die volgende aan Van Wyk Louw oor die landskap geskryf het:

 

Het verraste mij, geloof ik, omdat het was of ik het mij herinnerde. En hoe komt dat? vraag ik mij af. Het waren vooral de gedeelten waarin uit die leege vlakte de lange, lage bergen omhoogkomen als ademhalingen, die eeuwen geleden in werden gehouden. Het is alles zoo oud en zoo helder. De grandiose eentonigheid ervan heeft, vanuit de trein, verwantschap met de eentonigheid van de zee om een schip. Ik wist niet, dat een landschap zoo helder en open, zoo geheimsinnig kon zijn. En dat verklaart, misschien, dat vreemde gevoel van mij dit te herinneren. Want in deze heldere en onmetelijke eentonigheid is alles wat ‘pittoresk’ is eenvoudig weggelaten, en daardoor wordt het naar zijn wezen een interieur landschap, iets als een domein van voor de geboorte, of van na den dood. Als ik hier geboren was, zou ik er overal het heimwee van mij in omdragen. De grootschheid van de kusten van het schiereiland of van het Zwitsersche hooggebergte, wordt, hierbij vergeleken, bijna van de tweede rang, plaatjesachtig. Op deze eersterangswijze kan, geloof ik, een landschap alleen grootsch zijn als het voor 7/8 hemel is. Ik denk ook even aan de Hollandsche duinen, maar de Karroo is minder intiem, en doet daarom een volstrekter beroep op geest en ziel.

 

Daardie sin  “Als ik hier geboren was, zou ik er overal het heimwee van mij in omdragen” moes vir Van Wyk Louw – ’n Karoo-boorling – aan die hart gegryp het. Dit was inderwaarheid ’n voorspelling. Toe Louw gedurende die vyftigerjare in Amsterdam woon en werk, skryf hy uit heimwee talle gedigte oor die wêreld van sy jeug, onder meer “Beeld van ’n jeug: duif en perd” en “Klipwerk” uit Nuwe verse (1954), en “Karoo-dorp: someraand” uit Tristia (1962).

            Maar terug by Johann de Lange se gedig met die foutiewe titel. Hy slaag daarin om Holst se ietwat wydlopende prosa te kondenseer tot ’n gedig van 20 kort reëls waarin hy op ’n merkwaardige wyse die essensie van wat Holst sê, weergee. De Lange voeg wel nuwe elemente by. Die beeldspraak van die volgende reëls is nie by Holst terug te vind nie:

 

                        ’n Bruin lei waarop bruin gode

                        die kode van die heelal skryf.

 

en:  

 

                        Verby die blou blos dóér-ver van dagbreek

                        of die fyn ideogram van ’n woestynroos.

 

In die eerste strofe herskryf De Lange dié sin van Holst: “De grandiose eentonigheid ervan heeft, vanuit de trein, verwantschap met de eentonigheid van de zee om een schip”

 

as: 

           

                        Verby die treinvenster vaar

                        vlaktes twaalfuur-oseaan.

 

Hierdie twee reëls is die enigste wat my hinder in die gedig. In terme van die beeldspraak is dit nie die vlakte wat “vaar” nie, maar die trein. Verder: Wat is ’n “twaalfuur-oseaan” en hoe klop dit met die dagbreek van strofe 3? (Nee, daar is tóg nog iets in die gedig wat my pla. Die woestynrose wat ek ken, kom in die Namib voor – nie in die Karoo nie.)

Andersins is dit ’n bewonderenswaardige vers waarin Johann de Lange die volgende uitspraak van N.P. van Wyk Louw (in “Ars poetica” uit Tristia) demonstreer:

 

            Uit die gevormde literatuur

            is nooit weer poësie te maak nie,

            uit die ongevormde wél.

 

Adriaan Roland Holst se brief aan Van Wyk Louw geld sekerlik as “ongevormde literatuur” waaruit De Lange sy poësie kon maak.

           

 

Bronne

 

De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau

Louw, N.P. van Wyk Louw. 1962. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg