Posts Tagged ‘Die lekkerste perske is ‘n vy’

die lekkerste perske is ‘n vy

Friday, June 17th, 2011

Anne-Ghrett Erasmus. 2011. die lekkerste perske is ‘n vy. Helderview: Benedic Boeke. ISBN 978-0-9814408-5-9

 

Resensent: Heilna du Plooy

die lekkerste perske is 'n vy

die lekkerste perske is

Volgens die postmodernistiese denke is ‘n hiërargiese onderskeid tussen verskillende soorte literatuur ongeldig. Populêre romans en ernstige meer filosofies georiënteerde verhalende tekste wat dikwels ook eksperimenteel met taal en tegniek omgaan, staan volgens hierdie denke teoreties op dieselfde vlak van belangrikheid. En poësie is dan altyd poësie, ongeag die estetiese kompleksiteit of die mate van tegniese vaardigheid en subtiliteit wat in die gedigte voorkom.

Maar terwyl daar inderdaad vir alles ‘n plek is onder die son, is alles wat geskryf word vir baie lesers nie dieselfde in aard of gehalte nie. Daar is die bietjie gesonde verstand wat die teoretisering relativeer en wat wel lei tot nadenke oor waar en hoe bepaalde tekste in die huis van die literatuur inpas.  

Op die agterblad van Anne-Ghrett Erasmus se debuutbundel word die woord “vriendelik” tweekeer gebruik. Die digter word “die vriendelike digter” genoem en die begin van die bundel word beskryf as “‘n vriendelike uitnodiging”. En dit is dan ook so dat die bundel as geheel ‘n “vriendelike” indruk maak.

“die lekkerste perske is ‘n vy” bevat ligte verse oor verskillende aspekte van die lewe van ‘n taalsensitiewe mens. In nege kort afdelings word die gedigte in die bundel saamgegroepeer rondom temas of onderwerpe. Daar is ‘n afdeling oor skryf en die ontdekking van die vermoëns van die woord as poëtiese instrument en dan volg gedigte waarin natuurindrukke van die gewone omgewing weergegee word (eintlik impressies soos in die impressionisme). Daar is ‘n groepie gedigte oor religieë, oor vriendskap en vriende, oor seerkry en ontnugtering, maar ook oor die durende aard van liefde, aspekte van moederskap en seks, die vrees vir en verwerking van siekte, smart en die aanwesigheid van die dood.

Die gedigte toon min onderlinge samehang en is dus ‘n verslag van die verskeidenheid dinge wat ‘n lewe vul of eintlik ‘n lewe uitmaak. Dit bly dan ook ten spyte van ‘n bepaalde woordvirtuositeit losstaande stellings. Daar is duidelik ‘n literêre verwysingsveld waaruit die digter put, soos blyk uit die verwysings na Van Wyk Louw, Breytenbach, Jan (Jan Rabie?), Lindenbergh en Cloete. Daar word ook met duidelik vertroude kennis na skilderye en die praktyk van skilder verwys sodat die gedigte in die wyer wêreld van die kunste asemhaal.

Tegnies vloei die tekste glad, maar dit is asof daar ‘n metaforiese noodwendigheid en oorspronklikheid ontbreek en dat soms van oorbekende verbande gebruik gemaak word (byvoorbeeld, die herfs as tyd van besinning, wyn en seerkry, liefde en asyn, vissershuisies en die dorpshotel vir armoede en voorspoed, ens.). Dit is ook asof die poëtiese middele wat tot die beskikking van die digter is, nie genoeg ontgin word nie, asof dit onderbenut bly.

Erasmus skryf hier maklik verstaanbare verse, sag op die oor en die oog en waarskynlik vir ‘n bepaalde lesersgroep maklik om mee te identifiseer. Die gebrek aan dieperliggende binding in die verse en metafore wat soms onoortuigende oorgange of groot spronge teweegbring, asook die wisseling van byna naturalistiese verse ( “Oorryptyd” en “Pielieman”) tot verse wat eintlik ‘n bietjie sentimenteel is (“Lente”, “Kardoes” en “Diva”), val mens op. In die poësie is niks sekerlik verkeerd nie, maar die ervare poësieleser soek wel ‘n groter samehangende beweging of onderliggende gedagtegang in ‘n bundel, al handel die gedigte oor baie verskillende en selfs uiteenlopende onderwerpe. Hier is daardie deurlopende lyn bloot die uitbeelding van ‘n bewonderenswaardige vermoë om voluit te lewe, maar die vraag kom na vore, wat die toegif of meerwaarde is wat bewerkstellig word deur die feit dat dit gaan om die poësie, dat die poësie gekies is as medium van uitbeelding. Die gewaarwording dat die gedigte nie veel meer is as die belewenis van die digter as sodanig nie, wil nie wyk nie. Die vraag wat gevra kan word, is seker “Hoef gedigte meer te doen?”

Daar is ongetwyfeld ‘n plek vir ligter toeganklike poësie, waarmee mense kan identifiseer, soos wat ook met verhalende tekste die geval is. Maar daar is ook ander soorte poësie.

 

Junie 2011

 

 

 

Onderhoud met Anne-Ghrett Erasmus

Sunday, May 8th, 2011

Laat hierdie dae goeie gedagtes bly

Anne-Ghrett Erasmus in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Anne-Ghrett Erasmus by Woordfees 2011. Foto: Dr Awie Badenhorst

Anne-Ghrett Erasmus by Woordfees 2011. Foto: Dr Awie Badenhorst

Anne-Ghrett Erasmus is gebore in Pretoria, maar het grootgeword in Ladysmith, Kwazulu-Natal, waar sy ook gematrikuleer het. Daarna behaal sy haar BA(Drama) aan die Universiteit Pretoria.Sy speel toneel vir o.a. SUKOVS en TRUK. En skryf en regisseer dramas vir die Bop Arts Council en kunstefeeste. Ook speel sy in radiodramas en doen oorklanking. Anne-Ghrett het ook lank skool gehou by die Waldorfskool in Constantia. Tans is sy kurator by die Breytenbach Sentrum en besig met haar MA: seuntjie grootmaak. Sy naam is Kobus.Wat haar skryfwerk betref, het sy al gedigte gepubliseer in ‘n hele paar versamelbundels, asook ‘n drama geskryf vir die Storieboomreeks vir kinders. Sy het ook ‘n al ‘n handboek vertaal.

 

 

Anne-Ghrett, geluk met jou eerste digbundel … Inderdaad is dit ‘n verrassende debuut. Die titel, die lekkerste perske is ‘n vy,  tref ‘n mens summier en voorspel nogals ietsie van ‘n ironiese, tong-in-die-kies benadering tot die digkuns. Watter implikasies hou dié titel vir jou in?

Baie dankie, Louis.  Ja, die titel, toe ek dit die eerste keer gehoor het, het dit  my ook laat giggel. Dit som vir my eintlik op waaroor die skeppingsproses gaan, hetsy dig, skryf of skilder. Die finale produk wat jy jou verbeel as jy begin skep word dikwels omskep in iets anders. En dis mos altyd lekker as ‘n mens kan terugsit en dink ja! hierdie gedig is nou af of die skildery is voltooi, al het die perske ‘n vy geword.

Jy is natuurlik ook bekend as skilder; trouens, die omslag is juis een van jou skilderye. Bestaan daar vir jou ‘n bepaalde wisselwerking tussen skilder en skryf? Met ander woorde, vind daar kruisbestuiwing plaas, of bedryf jy dié twee vorme van kreatiwiteit in isolasie van mekaar?

‘n Skildery kom, net soos ‘n reël na my toe. Albei onafhanklik en op sy eie manier.  Daar moet verseker kruisbestuiwing plaasvind, maar ek dink dis meer in die onderbewuste dat die kwas en die pen met mekaar gesels.

Anne-Ghrett, ek weet ook dat jy al etlike jare besig is met die skryf van gedigte. Is daar bepaalde situasies en/of persone wat vir jou tot aansporing en/of inspirasie gedien het tot die byeenbring van hierdie bundel?

Louis, reëls kondig hulself maar aan. Daar is bepaalde plekke, soos bv. ‘n plaas in die Klein Karoo, waar die reëls altyd vinniger kom. En dan is ek bevoorreg om paaie te kruis met baie kreatiewe mense, mense wat ‘n mens baie inspireer en jou kop oopmaak en jou verder laat sien as net die alledaagse.

Die bundel bestaan uit agt afdelings. Wat is die tematiese fokus van hierdie onderskeie afdelings?

Die eerste afdeling gaan oor skryf, droom en skilderye. Afdeling twee bestaan uit natuurgedigte. Die derde bestaan uit religieuse gedigte. In afdeling vier lewer die gedigte sosiale kommentaar oor spesifieke plekke. Die vyfde afdeling is oor vriende. Afdeling ses gaan oor mislukte verhoudings, teenoor afdeling sewe wat liefdesgedigte is. Afdeling agt is oor geboorte, groei, vrese, siektes en die dood. Die laaste afdeling gaan oor verhuising en dan die aansluiting met die openingsvers, nl. “Loop“.

Die openingsvers in ‘n bundel funksioneer dikwels ook as ‘n programvers ten opsigte van die ‘oopmaak’ van die boek. Jouj vers, “Kaalvoet” stel dit pertinent dat daar kaalvoet geloop moet word “voor die tyd kom: / (om) jou hoed in jou hand te neem / en jou skoene aan te trek.” Waarom is juis dié gedagte vir jou belangrik binne konteks van die bundel?

Dit hang nou saam met hoe ek probeer lewe, naamlik bewustelik. Elke gedig in hierdie bundel is oomblikke wat vasgevang is, soos klein skilderytjies. Ek het ‘n paar jaar gelede boeke begin lees oor Zen om Breyten Breytenbach se werk beter te kon verstaan en daar maak dit toe soveel sin vir my, dat dit nou deel van my lewe/strewe is. Om in die oomblik bewustelik te leef en elke oomblik te proe. Ek hoop dit maak sin, Louis!

Die voorlaaste vers in die bundel, “Verhuising“, speel direk in op die bundeltitel met die reëls “en die vy sal wéér swel, / sy blare bakhand hou voor die son: / elke vrug word blom. / die lekkerste perske / is ‘n vy.” Hierdie pragtige vers word gevolg deur die slotvers, “Loop“, wat weer direk terugspeel na jou openingsvers; iets wat ‘n mens laat vermoed dat daar tussen die ‘kaalvoet loop’ van die openingsvers en hierdie “Loop nugter, broer, al / is jy ontnugter. / Die nuus is sleg:” ‘n hele proses van (ver)wording en ook aanvaarding hom voltrek. Lees ek dit korrek?

Ek weet nie, dit was nie doelbewus nie, maar as jy dit so lees, is dit seker so!

Anne-Ghrett, ‘n besonder mooi vers vir my is “In die somer van twintig agt, nege, tien“; ‘n vers waarin die waarde van vriendskap besing word en eindig met die volgende reëls: “altyd bring julle hande vol lewe / en sakke vol eerlike vreugde en oë vol liefde / en kan ons fees aan die vreugde in julle, / want met elke besoek leer kyk ons verder as die son.” Vertel ‘n bietjie wat hierdie (en ander) vriendskappe vir jou persoonlik beteken? (Terloops, ek vra hierdie vraag juis omrede die tema van samesyn en samehorigheid nogal ‘n prominente onderbou by die meeste gedigte in dié bundel vorm.

Soos ek reeds genoem het, is ek geseën met wonderlike vriende. Almal baie kreatiewe, oopkop mense, mense wat my al baie geleer het. Vanaf kook, tot skilder tot skryf. Mense wat die lewe net ‘n plesier en ‘n fees maak elke keer as ons bymekaar kom. Hierdie liefde en dankbaarheid en vreugde moes seker iewers deursypel en in ‘n gedig opeindig.

Vervolgens ‘n vraag oor die liefdesverse. Persoonlik vind ek hulle besonder mooi en ontroerend; veral vanweë die speelse aanslag daarvan. Is dit by jou ‘n bepaalde ingesteldheid, die ligtheid daarvan? Ek vra dié vraag omrede hulle soms wel die indruk wek van “geleentheidsverse” waarmee ‘n bepaalde insident deur middel van die vers ‘gedenk’ word. (Iets wat myns insiens nié afbreek doen daaraan nie, maar juis bydrae tot die sjarme van jou gedigte.)

Dankie Louis. Die liefde is mos lig en speels. Nee, dis nie doelbewus nie, dit gebeur maar vanself. Dit help ook as jou geliefde lig is. Ja, en dit is geleentheidsverse. ‘n Versie vir ‘n verjaarsdag is mos ook ‘n geskenk en maak dit meer spesiaal.

Anne-Ghret, ‘n digter se gedigte is sekerlik almal jou kinderfs en natuurlik is dit moeilik om tussen hulle te kies. Maar is daar dalk een gedig in jou bundel wat vir jou uitstaan omrede dit vir jou persoonlik besonderse tevredenheid bied? En sal jy so vriendelik wees om dit hieronder vir ons lesers by wyse van toegif te kopieer?

 

My larnie

 

My koning, my larnie, my oubie, my liefste, my man

van ons plaashuiswerf onder die Lemiete in Wellington:

wat met tien linkerduime

lywe, monde, koppe en siele

in stand hou:

 

wat passievol Larousse en Bocuse

met rojale fanfare opdien

en ons bekke tot oorlopens toe

laat water en ons pense boepens hou

 

wat Breyten en Merwin et kie voorlees

en ons laat snik en lag dat die oë loop

 

Vooroor gedompel sit jy in pa-se-jas en plat-geloopte pantoffels,

gedienstig en gedweë, noukeurig en stip

te lese aan elke passasie, roman of gedig

om eerlik die woord agter elke woord

uit te gaan begrawe

 

Jy koning-larnie-prof, wat steeds wil weet

wat die woord agter die woord beteken

en die metafoor deur Ricoeur probeer verstaan,

jy wat ook gulsig lees aan die speurverhaal en

cowboys-en-kroeks speel met olyfoogseuntjie,

wat mal is oor groot-blou-oog-seun se meisie

en hom troos as sy weggaan,

grote koning wat opgewonde raak

oor die slap crunchies wat ek vir jou bak.

 

Aan jou, my koning, my larnie, my allerliefste,

wat steeds, as jy na my kyk met jou olyfoë

en my murg maak in jou vat,

sê ek hêppie-hêppie birfday!

 

maar, herrinner ek jou ook aan

die belofte:

van die ewige lewe te behou

en by my te bly,

want jou oë, hande, kop, en siel

sal my tot in ewigheid

verlei.

 

© Anne Ghrett Erasmus (Uit: Die lekkerste perske is ‘n vy, 2011: Benedic Boeke)

 

die lekkerste perske is 'n vy

Omslag