Posts Tagged ‘Die mooiste AFrikaanse Christelike gedigte’

Resensie: Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (samest. Cas Vos)

Sunday, October 22nd, 2017

Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte

Samesteller: Cas Vos  [Lux Verbi, 2017]

 Resensent: Tom Gouws

Die versamelbundel as ‘n soort half-deurlatende lens

1.

In haar resensie van die digter Tom Gouws se bundel Syspoor het Joan Hambidge dit indertyd as die poësie van die smal weg getakseer, en toe kategories gestel dat, te oordeel aan dié verse van die geloof, sy veel eerder die breë weg verkies! Hierdie tipe poësie van die smal weg is dikwels helaas nie wat D.J. Opperman die “smal poort van die wonder” genoem het in sy beskrywing van die wonderbaarlike transfigurasieproses waardeur stellasies vers gestalte kry nie. Op die internet is daar letterlik duisende webwerwe waarin sogenaamde Christelike poësie floreer, maar dit is meermale baie swak gedigte. Grootse idees waarborg nie noodwendig goeie letterkunde nie. Ongelukkig is godsdienstige sentimentaliteit ‘n sware las op die digterlike skouers, en dit laat die sogenaamde Christelike vers dikwels sink in die gemeenplasigheid van religieuse uitdrukking. Daarbenewens is daar ook meermalig ‘n valse en verwronge lesersverwagting dat geestelike poësie ‘n bepaalde “mooiheid” moet hê, ‘n vangstrik waarin die titel van hierdie versamelbundel natuurlik oop-oë in trap.

Miskien is dit eerder die samesteller wat daarin getrap het, maar ek vermoed eerder dit is die uitgewer en die bemarkers wat druk uitgeoefen het vir hierdie bepaalde betiteling. Die bundeltitel is analoog aan die hoogs suksesvolle bloemlesing van Fanie Olivier: Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Maar die mooiste Christelike gedigte is myns insiens meer as ‘n onbehaaglike reklamefoefie om soveel as moontlik pienk boekies te verkoop en in die proses die Afrikaanse digters daarvoor te laat betaal. Dit hou ook nie enigsins rekening met die wesensaard van die Christelike geloof, dat dit dikwels per definisie juis nié mooi is nie. Mooi, het Immanuel Kant immers verduidelik, is nie noodwendig met subliem te rym nie (das Schöne teenoor das Erhabene). Ek verstaan die denkrigting van byvoorbeeld François-René de Chateaubriand se estetiese genié du christianisme, wat in Christelike intellektuele dogma en gestileerde liturgie die mooiheid van goddelike waarheid raaksien en vooropstel, maar dit is bepaald net ‘n versiersuikering van die bloed en mirre wat die deursigtige boeke van die ware geloof bied. Die lewe is dikwels nie mooi nie; helaas ook nie die dood nie.

Maar soos Koos Kombuis (http://klyntji.com/post/165233841243/koos-kombuis-oor-cum-geloof) weet te vertel het, in ‘n meesterlike toevalligheid van divine comedy-ironie, die spesifieke mark waarvoor die uitgewer, Lux Verbi (ongetwyfeld deur CUM geïkoniseer), met biddende hande lippe afgelek het, ‘n koïtus interruptus veroorsaak toe CUM die stapels pasverskene boeke summier teruggestuur het uitgewers toe. ‘n Mens wonder steeds hoekom hulle dit gedoen het? Omdat die mooi binneboekie nie pienk genoeg is nie?

2.

Bepaald het Cas Vos ‘n ander Christelike tas vir hierdie pelgrimsreis gepak as wat die meeste behoudende gelowiges sal kan verduur. Die waarmerkgedig van sy eie oeuvre – wat hy hier opneem – is die ontluisterende ‘die Here is my herder nie’, wat nogal veelseggend is vir ‘n bundel soos dié en sy samestellerskeuse se wyer definisie van mooi op ‘n metavlak effens opstuur, alhoewel ‘n mens betwyfel of dit enigsins só bedoel is. Desnoods vra dit vir ‘n ander tipe bril as die konvensionele Christelike perspektief:

.

Die Here is nie my herder nie,

ek kom alles kort.

Hy lei my na leegtes,

laat my bloedsweet,

bring my na ’n woestyn

sonder manna se genade

op die deinende duine.

.

Hy lei my op omweë

om sy verlore eer te soek.

Ek kruip deur donker dieptes,

my hart skommel bang;

U het u hand teruggetrek,

ek kyk vas teen u rug.

.

U laat my aan ’n kruis hang

terwyl my vyande koggel.

U ontvang my soos ’n rower,

ek is oorlaai met skuld.

Al slaan u stilte my stom,

sal ek na U bly roep,

ek, u weggooilam.

Tog is hierdie gedig, ten spyte van té gemaklike jukstaposisies, onteenseglik in die toonaard van die psalms, veral Dawid se aweregse uitsprake wat soms selfs godslasterlik kan klink as jy die eerlikheid van die hartstog miskyk. Die God van die Bybel is nie kleinserig nie, en Hy daag graag worsteling uit, soos ons met Jakob by die Jabbok geleer het, en waarvan Elisabeth Eybers in haar gedig ‘Jabbok’ dit mooi noem: God se “verpletteringsreg … wat ons verstrengeling moet besleg” (ongelukkig nie in hierdie bundel opgeneem nie).

Die vorige versamelneste van Christelike poësie, naamlik C.J.M. Nienaber & M. Nienaber-Luitingh se Die braambos brand (1987) en F.I.J. van Rensburg se Jubilate! Loofgedigte in Afrikaans (1995), was saamgestel met ‘n meer konvensionele, formele en teologies fundamentalistiese oog. Alhoewel Vos baie van hul (dikwels voorspelbare) keuses handhaaf, bring hy bepaald ‘n wyer aanbod as wat sy voorgangers gedoen het. Hy probeer dit in ‘n poëtiese, maar breedsprakige voorwoord verdedig deur te praat van  “die lang en onbekende reis” deur die versamelbundel waarop hy die leser moet “voorberei”. Die “voor-woord” doen dit helaas nie, want alhoewel hy die metaforiese konsep van die reistas van Orhan Pamuk (‘My father’s suitcase’, uit Other Colours) inspan, is die gebruik van die beeld ten opsigte van die versamelbundel taamlik oorspanne, selfs by die heilige hare bygesleep. [Ongelukkig is daar ook twee foute in die tweewoordtitel, voorgehou op p. 15 in die voetnote as In Other Colors.] Dat die versamelbundel buite die kanonieke grense van geïnstitusionaliseerde Christendom beweeg, is bepaald so, soos Charl-Pierre Naudé op Versindaba (met die bekendstelling van die bundel op dié blad) dit verdedig het. Maar Daniel Hugo se opmerking daaroor hou myns insiens méér water: “In die Christelike teoloog Cas Vos se woordeskat word die term ‘Christelik’ dus totaal inhoudloos.” (Hy bedoel dit kennelik as verwysende na die samesteller se uitgangspunt met sy bundel, en nie noodwendig verwysende na sy teologiese posisie nie.)

Die lig van byvoorbeeld Derrida en Caputo se openbarende insigte rondom “the return of religion” en die “self-revising, self-questioning mode of openness” wat dit onderlê (in Faith and Knowledge: The Two Sources of ‘Religion’ at the Limits of Mere Reason) bring ‘n moontlike teoretiese raster na vore wat besonder bruikbaar is in hierdie debat, veral as jy dit lees teen die grein van Paul Heelas en Linda Woodhead se boek The Spiritual Revolution: Why Religion is Giving Way to Spirituality, asook James A. Herrick se The Making of the New Spirituality: The Eclipse of the Western Religious Tradition. En hierdie drie ou staatmakertekste maak steeds insiggewende vensters na die ooste oop oor hierdie onderwerp: Otto se The Idea of the Holy: An Inquiry into the Nonrational Factor in the Idea of the Divine and its Relation to the Rational; Santayana se Interpretations of Poetry and Religion, maar veral Scott se The Wild Prayer of Longing Poetry and the Sacred. Maar dit dalk vir ‘n ander dag.

3.

Oor hierdie vreemde reistas van Christelike gedigte, sê die samesteller: “Al is al die gedigte in die bloemlesing nie noodwendig streng gesproke Christelik van aard nie, is al die opgenome gedigte weldeeglik versoenbaar met die Christelike oortuigings.” Dit is dan juis oor hierdie ontoepaslike titel: die mooiste Christelike gedigte waarteen ‘n klompie digters beswaar gemaak het. Ons het in die pers gelees van Daniel Hugo en Lina Spies wat ‘n probleem het met die feit dat hulle gedigte enigsins as Christelik voorgehou word. Trouens, Daniel was een van die uitgesproke nie-Christelike dog uitverkore digters wat volgens Vos “die nagte laat vonk het” om nuwe gedigte van geestelike karakter vir die bundel te lewer, en toe het Vos, die jakkals, hulle onverhoeds op skynbaar heilige grond gefop. Klaarblyklik sou die titel eers Die mooiste Afrikaanse geestelike gedigte wees, maar dan sou die samesteller perdalks as ‘n professor uit die Protestantse geloofstradisie nie die bundel kon saamstel nie. [‘n Mens vra jouself net af: Hoe kan die bygesleepte of ingesmokkelde gedigte summier deel van die “mooiste Afrikaanse gedigte” wees, as hul nog nie eens formeel gepubliseer is nie?]

Selfs al gebruik Cas Vos ‘n enkele frase van Breyten Breytenbach in die voorwoord, haal geen gedig van Breytenbach die heilige Christelike treknet nie.

En dít presies belig die problematiek met hierdie bundel. Breytenbach se totale bydrae tot hierdie bloemlesing is ‘n mooi twyfelagtige frase: “deur verkykers van trane”, maar vir seker is dit nie sy enigste Christelike saadstorting nie? As ‘n mens enigsins Wikipedia kan vertrou as breë omlysting, sê dié digitale ensiklopedie die volgende oor Christelike poësie: “Christian poetry is any poetry that contains Christian teachings, themes, or references. The influence of Christianity on poetry has been great in any area that Christianity has taken hold. Christian poems often directly reference the Bible, while others provide allegory.”

Nét uit hierdie populêre terreinafbakening as keusekriteria sou Breytenbach, ten spyte van die feit dat hy ‘n uitgesproke Zen-Boeddhis is, heelwat verteenwoordigende gedigte in hierdie versamelbundel moes kry. Sy werk is diep geanker in die Bybel as interteks, alhoewel hy dikwels sardonies die Woord met die woord probeer troef. Maar anders as met byvoorbeeld Hambidge, ook ‘n Zen-Boeddhis volgens haar eie belydenis, is hy geen ruimte tussen die Christelike digters gegun nie. ‘n Mens sou wou vra hoekom op Gods aarde nie – hy is immers die grootste van die aweregse dissipels? Inaggenome sy enorme oeuvre en veral die diep geworteldheid in die Afrikaanse leef- en denkwêreld, die religieus-kulturele kontekste van sy skryfwerk en sy inweef van Bybelse verwysings, sy hoogs interessante en dikwels amusante losgemaal met God, Jesus en die Heilige Gees, beantwoord hy onteenseglik aan die kriteria om hier ten minste op die eerwaarde kerkraad te dien.

Maar die saak is ook meer kompleks as dit, as byvoorbeeld die digter T.T. Cloete, wie se Godsbeskouing en Christelike belydenis duidelik uitdrukking vind in sy poësie, indertyd in ‘n onderhoud met Andries Visagie op LitNet, kategories ontken dat hy ‘n Christelike digter is. In hul gesprek oor die feit dat Cloete se bundel Heilige nuuskierigheid die indruk skep van ‘n religieuse, vooropstelling, antwoord Cloete: “Die bundel gaan nie Christelik-religieuse inhoud hê nie. Nee! Ek is nie ‘n Calvinistiese digter nie. […] Ek is ‘n Christen, en ‘n oortuigde een, in alle erns, maar ek wil nie ‘n Christelike digter genoem word nie.” Dit herinner my aan John Irving se boek The World according to Garp, waar daar ‘n beweging ontstaan het ná die elfjarige Ellen James verkrag is en die verkragter toe haar tong uitgesny het om nie teen hom te kan getuig nie. Baie vroue het in feministiese solidariteit met Ellen James hul tonge afgesny. As Garp die ware Ellen James op ‘n dag ontmoet, skryf sy vir hom op ‘n stukkie papier: “Hi, I am Ellen James. I am not an Ellen Jamesian.”

Die plot sickens as Cas Vos in reaksie op Joan Hambidge se besware teen die versamelbundeltitel en –prosedure dit eksplisiet uitspel dat hý ook nie homself as ‘n Christendigter beskou nie: “Ek reken, in alle beskeidenheid, myself, net soos T.T. Cloete en I.L. de Villiers, nie as Christelike digters nie, maar ek oordeel dat ek ’n digter is wat in heelwat gedigte ’n Christelike uitstraling het.” ‘n Christelike uitstraling? In alle beskeidenheid – die hemele behoede ons. Dalk moes Cas bloot net die publikasieproses summier gestop het – daar is heeltemal te veel teësprekinge in sy woorde en wederwoorde.

Geheel en al op ‘n ander punt (nié die naaldepunt waarop ontelbare literêre engele dans nie) – ‘n mens sou dalk ‘n saak kon uitmaak dat Afrikaans, benewens ‘n dwingende nasionale strewe, seer sekerlik ook ‘n gelykkloppende Christelike strewe gehad het, en dat ons ‘n Christelike tongval met die moedersmelk en die pampoen ingekry het. Die Taal is noodwendigerwys deurdrenk met die Christelike metafoor en segswyse, in dieselfde mate as wat Edward Said oor nasionalisme gesê het: “Nationalism is an assertion of belonging in and to a place, a people, a heritage. It affirms the home created by a community of language, culture, and customs; and, by so doing, it fends off exile, fights to prevent its ravages.” (in Reflections on Exile and Other Essays, p. 176). Inderdaad, in Miroslav Holub se bekende woorde: There is poetry in everything. That is the biggest argument against poetry.

Desnieteenstaande. Charles Glicksberg se omskrywing van Christelike letterkunde in sy boek Literature and religion: a study in conflict kan dalk beter as Wikipedia gebruik word om die tematiese keuse nader te omlyn: “At the heart of the religious utterance … is the awareness of the neverending endeavour to hold on to a faith that is elusive and paradoxical, a faith that cannot be grasped cognitively or verified empirically, a faith that transcends the limitations of language – above all, a faith that must be perpetually renewed if it is not to perish.” (p. 81). Die samesteller wou uiteraard so ‘n volledige diachronie as moontlik dek, maar gemeet aan Glicksberg se definisie hierbo sou ek egter ‘n groot aantal van die gedigte wat in die bundel opgeneem is, dalk uitgelaat het, want hulle is nóg mooi nóg Christelik.

[Net ‘n sydelingse irritasie: dit is jammer die gedigte word in die versamelbundel elkeen alleen op ‘n bladsy geplaas – dit mors ongelooflik ruimte en insgelyks ook geld. Daar kon amper die helfte meer gedigte geplaas gewees het as die bladuitleg anders was.]

Om die Christelike register wat die bloemlesing in sy allegaartjie nou wel uitstraal ten beste te kan beskryf, sou ek dalk die gedig ‘XLI’ van die digter M.M. Walters, uit die bundel met die mooi maar ontwykende titel, Sprekende van God, gebruik (helaas ook nie in die bundel opgeneem nie; ek haal net ‘n fragment aan):

Het ek ooit oor Gód gepraat, God sélf,

of maar net die mens se begrip van hom,

oor voorstellinge en simbole, een van die baie parallelle:

Allah, Boeddha, Christus, noem maar op,

een of ander profeet se individueel-menslike ervaring,

waanbeelde, visioene, hallusinasies, modelle

wat ontstaan uit ons so veelsydige onmag,

substituut vir oorsake wat onbekend is ..?

En alhoewel dit God is van wie gepraat word, moet daar streng gesproke eerder van Christus gepraat word, synde dat die bloemlesing as Christelik voorgehou word. (Maar dan – Olga Kirsch as Jodin se gedigte is hier opgeneem?) Miskien moet ons dan eerder sê die Christelike stemvurk van die bundel is binne die natrilling van die volgende fragment van Johann de Lange se gedig ‘Sheila Cussons: Brief aan ‘n skrywer’, in Die algebra van nood (ook nie in die bundel opgeneem nie):

Christus was nie net sommer ‘n man nie;

Hy is oneindig iets méér, oneindig iets ánders.

Hy is die Syn waardeur ons stroom

& deur Hom stroom ook, by the same token,

al die demone, alle legendes en mites,

hemel & aarde, als van watter menslike

bewussyn daar ooit nog was, is, of sal wees.

In hierdie lig gesien is al die Christelike lootjies wat Cas Vos aan die Afrikaanse digters – Moor, Jood en Mohammedaan – uitgedeel het, ewe lank. Sy uitverkiesing was per definisie nie Protestants of selfs Katoliek nie, maar goddank eerder universalisties. Love wins.

4.

Maar helaas nie alle liefde nie. Twee bydraes wat jammerlik in hierdie bundel ontbreek, is eintlik twee uiterstes wat die idiolek van die digter aanbetref, maar ook die geestelike belewenis wat met dieselfde tematiese gegewe werk, maar ‘n totaal ander geestelike beleweniswêreld veronderstel.

Alhoewel hier in die versamelbundel twee gedigte van Johann de Lange opgeneem is, is dit mooi en veilige gedigte. Maar De Lange se grootste bydrae tot die Afrikaanse diskoers lê juis in sy roekelose integrering van die lyflike en die Goddelike, sy onsubtiele growwe diskoers waarin hy vlesig van Jesus Christus praat. Hy noem dit later in ‘n bundeltitel dalk selfs Weerlig van die ongeloof (analoog aan Daniel Hugo se bundel lank terug: Verse van die ongeloof ). Hierin die hemel en aarde in ‘n verterende versvuur oorbrug; slaan hy, apokalipties gesproke, soos weerlig van die ooste na die weste. ‘n Groot deel van die bundel Vleiswond praat in tale wat Vos behoort te verlei het tot opname: sakrament, drie-eenheid, boetedoening, kommunie, hoëpriester, benediksie, bieghokkie, wywaters, kruisvaart, stigmata, houtkruis, die Onse Vader, profeet, gevlerkte engele, heiliges, en vele meer. Maar dit is skynbaar nié net “bloot ’n kwessie van geloof” (‘Stigmata II’) nie, nee:

die on-

goddelike genot

speel bes moontlik heel te gevaarlik na albei kante toe. Hier sou géén sprake durf wees van die goedkeuring van óf CUM óf God nie. En dit is jammer, want soos I.L. de Villiers êrens dit raak gesê het: “oor al ons heiligheid loop daar ’n vlieg”, altyd.

Maar weer eens – ek beoordeel dit wat nie daar is nie asof dit daar is, miskien self verlei deur die Bybelse beginsel om te roep wat nie bestaan nie asof dit bestaan. Maar lees net hierdie ontroerende gedig getiteld ‘Kommunie II’, met sy verbysterende gelykstellings, metafore en reikwydte, wat die allure van ‘n deurtastende gebed het  (helaas ook nie opgeneem nie):

.

Na die aand se brood en wyn

– die nagmaal van die vlees –

voel my vingers oor jou lyf

die opgehewe letsels van jou vrees

.

en weet dat jy gekruisig is,

dat almal van jou praat

en jy in drome elke soen

onthou as Judas se verraad,

.

dat jy in die doopsweet van die nag

weet wat ander van jou dink,

dat een, dat hý

nie uit jou glas wou drink.

.

Ek hoor jou langs my vra:

Word sonde sigbaar as sarkoom?

Skuil u Gees nie skimmig wit

in die dun kondoom

.

van my gebed? Kan U my voel

deur die fyn membraan?

Ek hoor jou laatnag huil, en Een

wat sê: Dit is voldaan.

.

Is u bloed dan ook besmet?

Hoe word ons ooit van U genees?

Is dit hoe U ‘n liggaam breek,

die bros skyf van die gees?

Dit is die vraag wat ek myself deurgaans in die loop van hierdie bundel vol Christelike gedigte van meestal nie-Christelike digters afgevra het – Hoe word ons ooit van U genees? En as jy die antwoord op hierdie ewige retoriese vraag in die heel laaste strofe probeer beantwoord kry, is daar verskeie tekste wat hul kom tuismaak in jou hart, nie net die hoëpriester van die duisternis, Walt Whitman, nie, ook die gay-ateïs Italiaanse filmmaker, Pasolini, (deur sy film, The Gospel according to St Matthew, in ‘n artikel deur Hambidge uitgewys), maar veral D.J. Opperman se grootse Christelike gedig uit die reeks ‘Kroniek van Kristien’:

.

In die tyd van geestelike dronkenskap

is haar lyf gevul met die rooi sap

wat van die geel son en die soet fontein

in haar liggaam gis en borrel soos jong wyn;

en daarvan het sy uitermate groot geswel

sodat haar lyf verby haar lede wel

en sy, volkome deur haarself omsluit,

net kommer oor: “Wat kom daar uit my uit?

In die groot honger is die kwaad

gesaai reeds met die strooiing van die saad

wat ek vermenigvuldig wek in my.”

Sy voel in haar hoe roer die rye:

“Is die pitte swart of bruin of wit?”

Dan het sy om haar sondes weer gebid.

Sy word ten volste van die groot verwag

en weet nou breek die uur aan van die slag,

en op ‘n warm somerdag het sy gedwee

haar met die loop van die vrugwaters oorgegee…

en half verstrooi sien sy hoe om haar staan

wit, bruin en swart, ‘n halwe maan,

en onbesorg eet hulle skyf na skyf

die wyn en brood van haar bros lyf.

Hierdie uitstaangedig in die Opperman-oeuvre is deel van ‘n siklus wat gebou is op die Middeleeuse Het heilige leven van Sinte Kerstine en bied ‘n profetiese versiendheid van wat die mirakelagtige moontlikhede van gemeenskaplike geloof in hierdie land kan wees. Ek sou dit bitter graag in hierdie bundel wou sien, miskien selfs in die plek van ‘Nagmaal’, uit dieselfde reeks.

Die ander groot mankament van Cas Vos se Christelike bundel is dat daar nie ‘n enkele gedig van Rosa Smit opgeneem is nie. Krone van die narsing is met die Ingrid Jonker-prys bekroon, en ook in Die begeleiding van duiwe en Die rooi veer in Vasco se hoed is daar onthoubare Christelike gedigte. Smit bied ‘n Christelike perspektief wat onder andere beslag gee aan die Pinkster- en Charismatiese belewenis, tematiek wat helaas min aandag in die Afrikaanse poësie kry, maar ongetwyfeld ‘n baie groot verteenwoordiging wêreldwyd geniet. Dit is jammer.

5.

Ek het nou al probeer verduidelik hoekom dit lyk asof die mooi-kwalifisering in hierdie bloemlesing misleidend is, ook die Christelike kwalifisering. Om dan vir ‘n oomblik stil te staan by die letterkundige trappe van vergelyking-kriterium waaraan die mooiste Christelike gedigte gemeet moet word, vra dat ‘n mens kyk na die samesteller se spesifieke keuse van tekste. Uiteraard is hierdie nie net ‘n lukrake versameling van Christelike gedigte nie, maar die bundeling word bepaald ook deel van ‘n kanoniseringsproses. Of Vos genoegsaam in die akademiese dissipline geag word om oor die Afrikaanse letterkunde só ‘n poortwagtersrol in te neem, is ‘n ope vraag. Die Christelike taksering is hoogstens ‘n tematiese keuse, maar die poëties-mooiste is twyfelagtige subjektiwiteit (veral as gedigte spesiaal in opdrag vir die bundel geskryf kon word).

Uiteraard, soos Cas Vos erken, is sy keuse van opgenome gedigte hoogs subjektief, al meen hy dit is “hopelik verantwoord”. Twee gesiene (Christelike) literatore van die (vroeër Christelike) Noordwes-universiteit het wel volgens die voorwoord “hulle wakende oë oor die versameling laat gaan”, dus was hulle nie deel van die seleksieproses nie, maar bes moontlik die twee finale keurders van die manuskrip. Vos het dus bloot as gewone digter en kennelik poësieliefhebber die reusetaak verrig om die Afrikaanse letterkunde te beoordeel uit hierdie spesifieke perspektief en dit voor te hou as die mooiste. Dat dit grootliks dus sy voor- en afkeure sal weerspieël, is noodwendig.

Die korpus waaruit Vos moes kies, is ontsaglik wyd. W.P. Rautenbach, in sy navorsing: Die Christusfiguur in die Afrikaanse poësie, wys uit dat van die aanvang van ons letterkunde in Afrikaans tot en met die studie verskyn het (1962), elke digtersgenerasie in die literêre geskiedenis deeglik oor hierdie onderwerp besin het. M.E. Bosman se latere studie: Op Hom die groot hosannas: enkele aspekte van die moderne Christelike poësie in Afrikaans (1989) het dieselfde bevind vir die tydperk sedertdien, ook Ammerentia Robinson se proefskrif: Poësieteks en Bybelse interteks (1992) wys dieselfde tendens onteenseglik uit. Gertruida Engelbrecht se insiggewende studie: Bybelse intertekste in resente Afrikaanse gedigte en lirieke, met spesifieke verwysing na identiteitsformasies in die (post)-postmoderniteit toon aan dat in die eietydse poësie en populêre liedere God en die Christelike godsdiens steeds ‘n absoluut prominente plek inneem. Op. p. 377 van hierdie studie is daar dié bevinding: “In Afrikaanse musiek, wat ook in hierdie studie aan bod gekom het, is religie dikwels nie die tema van die lied nie, maar is dit steeds ‘n belangrike verwysing en interteks. In Afrikaanse gedigte is religie steeds ‘n algemene tema.” Hierdie sterk tema vra derhalwe absoluut vir ‘n tipe samevoeging van ‘n familie gedigte in ‘n bloemlesing – dit is definitief dus ‘n aktuele bydrae.

Indertyd het D.J. Opperman in Wiggelstok dit benadruk dat die hele moderne Afrikaanse liriek staan in die teken van ‘n godsdienstige stryd. Dit was dan ook die navorsingsterrein van M.S. du Buisson se bekende teoretiese werk: Die mens-God verhouding in die Afrikaanse poësie. (‘n Vergelyking van die geestelike beskouing van ouer Afrikaanse digters soos Du Buisson dit geïnterpreteer het, en hoe dit sedertdien dramaties verander het, kan ‘n baie interessante navorsingsonderwerp wees. Charl-Pierre Naudé se uitstekende resensie, ‘Christelike’ verse vir die twyfel en die glo, op die virginaal-ontoeganklike Netwerk24 se boekeblad, is ‘n baie goeie voorloopverkenning van wat so ‘n studie kan bied.)

Daar is meer Afrikaanse digters, maar veral lewende tekste, weliswaar diep verootmoedig, helaas met leë hande, wat voor die geslote poorte van die heilige verbloemlesing staan. Ek is bewus van George Louw se donker gekweldheid oor God in die agtergrond, en hoor Freda Plekker prewel mea culpa mea culpa maxima. Ook Pieter Smit se “onwegbiddelike woord” waar hy in die township kerkhou, “waar u in die plek kom staan / van asem bloed en sweet”, hoor ek vaagweg. Ek hoor Gert Vlok Nel “in sy agteryardste agteryard … (toe) die laat-middag … chroom geword / & trein wat ysig fluit”, en ek sweer ek hoor hom prewel God se Naam sonder dat hy dit eens sê. En in die agtergrond dreun-inkanteer Totius die Psalmberymer sy Psalm 8-beryming heiligmooi met HemelBesem, Bittereinder en Die Heuwels Fantasties. En hulle harmonieer met P.W. Buys uit die Dopperhemel se sober Gereformeerde verwondering oor God, en met Koos Kombuis se vrank stem wat Petrus poëties namompel in sy gedig ‘hemel’ op die album dertien – “Kom maar binne. God nie godsdienstig. God liefde.”

Mea culpa. Na regte moet ‘n mens die onderhawige bundel beoordeel aan die gedigte wat wél daarin opgeneem is, maar met versamelbundels kan dit tog glad nié so werk nie. Die proses van beoordeling is meer soos die eerste strofe van die klassieke gedig van Hughes Mearns, ‘Antigonish’:

Yesterday, upon the stair,

I met a man who wasn’t there

He wasn’t there again today

I wish, I wish he’d go away…

‘n Mens kyk nou veral na wat NIE daar is nie, wat dan wel daar is, of soos Cloete dit in ‘n gedig (ook nie hier opgeneem nie) mooi benoem het as die aanwesigheid van die afwesigheid. Die begeesterde Christelike én nie-Christelike leser soek na veel meer as wat die bloemlesing uiteindelik bied, veral omdat die samesteller die poorte, by spreke van wyse, onchristelik wyd oopgemaak het. Ek soek byvoorbeeld Jeanne Goosen se schackerige gedig, ‘Let it be’, wat ek vermoed nog net bestaan op die grond van die genade dat dit baie lank terug in die vergetelheid van Rapport verskyn het (en uiteraard nie hier ingesluit is nie):

Ek sit op die stoep. Die aand kom af

Die driepootbrak huppel huiswaarts

Christus kom sit aan met sy vuil voete

en geblowavede hare

Hy breek die brood. Ek is moeg, sê hy

en ek bring vir hom ‘n skottel water vir sy voete

Hy skop sy sloffies eenkant

Niks is meer heilig nie, sê hy

Hulle ploeg nou atoomafval in mý woestyn

Let it be, sê ek. Let it be en ek skink sy glas vol wyn

Sorry, sê ek, maar Tassenberg is al wat ek het

By the way, jy‘s reg niks is meer heilig nie en dit maak my sad

Hoe voel jy, vra die meester. Hoe voel jy regtig?

Ek lag. Wil jy regtig weet

Praat met my, sê hy. Hoe voel jy regtig?

Wat kan ek tog sê. Alles is in sy moer

Dit help nie om ‘n woord daaroor te tjank nie

laat staan nog bid. Ek meen

my broer se as is in ‘n fles somewhere in Stikland

hy stamel sonder klinkers maar ek kop wat hy probeer sê

Let it be, sê die meester. Let it be al huil jy bloed

Die oordeelsdag kom ook en my pa slaap nie

.

Ek kop, sê ek. Ek kop alles

maar soms verlang ek na die ou dinge

soos die mooi droewe woorde van jou daddy

Goed soos regverdigheid en ewigheid en geluk

Ja, sê die meester, dis ‘n lang wag maar hy sal sy woord hou

Ek maak ons glase weer vol

Sorry weer ‘n keer, maar Tassenberg is al wat ek het

en waar dit vandaan kom is daar nog baie

so moenie skaam wees nie

Cheers

Daar‘s baie dinge waaroor ‘n mens jou ook kan verheug, sê die messias

maar los dit vir eers

Sit daar vir ons ‘n song op, vra hy

Ek doen

Somewhere over the rainbow sing Judy Garland

Ek breek ‘n stuk brood en voer die meester

‘n Mens moet eet ook, sê ek

and that is no bloody maybe

Soms is ek bang vir jou ou dad, sê ek

hy stuur reën maar ook goed soos droogte wat diere laat vrek

Let it be, let it be, sê die messias

Eintlik verdien aardlinge niks. Maar daar is goeie goed ook

Vat nou vir Judy Garland, sy‘s tog meer as reën of droogte

Selfs een soos daai ou Patience Strong

wat sy soms tussen die lyne kwytraak

Many a true word is spoken in jest

Maar dis julle klomp, julle wat niks met rus kan laat nie

wat van die wêreld so omgekrapte onheilige plek maak

Dis julle, you must let things be, you must let it be, let it be!

Dis net, sê die meester, dis net . . .

Ag, nou weet ek ook nie meer wat ek wou sê nie

Is daar nog Tassies?

Ek soek dus dalk, soos Peggy Rosenthal dit mooi verwoord in haar boek: The Poets’ Jesus. Dit sou byvoorbeeld netjies pas rondom ‘n teks soos ‘Die geloofsbelydenis van ‟n afvallige”’ van Lina Spies (nie hier opgeneem nie):

Ek glo in die skeppende God

van die wordende heelal

wie se naam te heilig was

om uit te spreek:

Jahwé, die God van Israel,

wat ‘n Vader geword het

vir Jesus van Nasaret,

die wonderskone boodskapper

van die onmoontlike liefde,

deur wie God my vader

maar ook my moeder is.

Ek glo in die Heilige Gees

wat mense in alle tye

inspireer tot werke

wat die stempel dra

van die ewige.

Ek glo dat omdat ek lewe

ek aan alle lewendes

sorg en deernis verskuldig is

en ek glo dat as ek sterf

ek opgeneem sal word

in die durende siklus

van vernuwing en verval

en dat die lewe triomfeer

in elke geboortekreet

omdat die lewe magtiger is

as die dood.

Maar meer as alles soek ek, Cas Vos, die één gedig wat hierdie bundel móés bevat het, die mees onskuldige, rein, veelvlakkige, digterlik briljante Christus-gedigte in die ganse Afrikaanse letterkunde: D.J. Opperman se ‘Sondag van ‘n kind’. Maar hy is nie hier nie. Helaas.

Ek is wel baie, baie bly dat Coenie de Villiers se pragtige gedigte in die bundel opgeneem is, en ek hoop van harte dit vind ook ‘n weg tot in Groot Verseboek. Maar ek soek tevergeefs na Amanda Strydom se lieflike en suiwer Godstaal.

‘n Mens sou verder kon pieker oor die Afrikaans in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, as daar ‘n paar (soms flouerige) vertalings ingegooi is, en daar dan geen enkele verteenwoordiging is van byvoorbeeld Uys Krige se singende Afrikaanse vertalings van Jorge Mateus de Lima en Murilo Monteiro Mendes nie.

Maar ‘n mens hoef nie die vaatjie uit te drink om te proe hoe proe die wyn nie. Daar sal altyd miskende heiliges wees.

6.

J.P. Spies het in ‘n artikel getiteld: ‘Intergedigtelike konteks’ (in F.I.J. van Rensburg, se Die kunswerk as taal ‘n uitdrukking gebruik wat hierdie Christelike versamelbundel raak beskryf. Dit is ’n “soort half-deurlatende lens” (p. 106). Dit is bedoel om soos Eugène N. Marais se woord so wyd soos die Heer se genade te wees, en daarom nooi dit byvoorbeeld Loftus Marais cocky met ‘n catsuit in en laat hom vermakerig voor God paradeer, maar dan sal ek ander wat nié hier verwelkom is nie, ‘n verleë kniebuiging na God se kant sou wou sien maak. Ons het van M.M. Walters die geharde ateïs en provokateur van God geleer:

God sélf, die objektiewe, werklike, die Één

wat skuil gaan agter ons metafisiese projeksies,

bly op geen enkele wyse te benader.

Ek het in ‘n resensie van ‘n vroeëre bundel van Cas Vos gesê hy ken bepaald die alfabet van geestelike geletterdheid, maar dalk het sy ensiklopediese kennis van die Afrikaanse digkuns hom bietjie in die steek gelaat; miskien ook genade vir die ware weggooilammers.

Ek sluit die resensie af met hierdie absoluut aangrypende gedig van Joan Hambidge, ‘Huisgodsdiens’, uit haar bundel: En skielik is dit aand (ook nie in hierdie versamelbundel opgeneem nie):

Vanaand bid my vader

voor die Here God

om genade, liefde.

Oopoog kyk ek na hom,

my vader,

en sy kinderlike geloof.

Eens het ek dit verloor,

om nou opnuut in God te glo.

Van ateïsme en agnostisisme

teruggekeer na die huis

van die vader:

om te bid soos my vader

om liefde, genade

vir my verbrokkelde gesin

vol windstreke,

dwarshede,

Boeddhisties aanvaar.

Uiteindelik verbind

in klotsels bloed,

dikker as brakwater.

Ek sou dit so graag anders

wou hê,

Vader.

En die vraag, na al hierdie sange, toesange en teensange, al die histeriese hallelujas, hoon en hosannas op Hom, is nog stééds nie beantwoord nie: Hoe word ons ooit van U genees?

.

.

Nuwe publikasie: Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Bloemlesing)

Friday, August 18th, 2017

Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte

Cas Vos (Samesteller)

‘n Versamelbundel van die gewildste Christelike gedigte in Afrikaans, saamgestel deur Cas Vos. Dit bevat nie net geliefde gedigte uit die kanon nie, maar ook nuwe verse wat spesiaal vir dié bundel geskryf is. Die digters sluit in: Boerneef, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog, Lina Spies, I.L. de Villiers, Joan Hambidge, Sheila Cussons, T.T. Cloete en Daniel Hugo.Die verse is baie toeganklik – ook perfek vir aanhaling vir menige geleenthede. ( Lux Verbi, 2017. Prys R280,    272 pp, 243 x 152 mm. Sagteband, ISBN-13 9780796320148)

Oor die samesteller : Cas Vos was die Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Akademie aan hom toegeken. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Intussen volg menige boeke, artikels, digbundels en vertalings van klassieke werke. Hy bly in Pretoria.

 

God die digter

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie

in moremis en in die bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

die aarde is deur ’n digter gemaak

 

TT Cloete