Posts Tagged ‘Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte’

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

Monday, January 31st, 2011

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Saamgestel deur Fanie Olivier. Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria. ISBN 978-0-7981-5182-5. Prys: R195,00. 253 bladsye. Sagteband.

 

By terugskoue maak die dekade-en-‘n-half tussen ongeveer 1985 en om-en-by 2000 die indruk van ‘n bestekopmakingstyd in die Afrikaanse poësie.

Omslag

Omslag

Daar was byvoorbeeld ‘n hoogbloei in die publikasie van bloemlesings, wat uitgemond het in die samestelling van Groot verseboek 2000. ‘n Mooi klompie tematiese versversamelings – oor religie, kos en drank, musiek, kind-wees, ekologiese bewustheid, die erotiek, die vroulike perspektief, ensovoorts – het ook in hierdie era die lig gesien. Die eerste (1987) en derde (2001) uitgawes van Fanie Olivier se keur uit die Afrikaanse liefdespoësie baken dit as ‘t ware van begin tot einde af.

Toe, rondom die eeuwending, het die uitgee van sulke bloemlesings, soos amper ook van solobundels, tot stilstand geknars. Sedertdien was groei en groeistimulasie egter ‘n belangrike kenmerk van die Afrikaanse poësieveld. Die profilering van (dikwels nuwe) digterskappe in die Nuwe stemme en Versindaba-reekse is ‘n opvallende uiting hiervan.

In 2008 het ‘n sterk uitgebreide uitgawe van Groot verseboek verskyn, en nou, laat verlede jaar, die vierde uitgawe van Olivier se liefdesvers-keuse, met 85 gedigte meer as voorheen. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is die enigste van daardie tematiese versamelings van weleer wat bly voortleef het, maar verteenwoordig saam met Groot verseboek 2008 tog iets van ‘n heropname van ‘voorraad’.

En die stand van sake is ‘n riem onder die hart. Sonder om onnodig ydel te wees: Die liefde bloei in Afrikaans! Dis plein pakkend en roerend om deur Olivier se samestelling te lees.

Tematiese bloemlesings is kenmerkend nogal behoudend en bevestigend met betrekking tot die kanon. Olivier se samestelling is oorwegend ‘n voorbeeld hiervan. Die “mooiste” word gekies – en nié noodwendig die grondverskuiwende of uitdagende nie. En nie verniet nie: Sulke bloemlesings word meestal saamgestel vir ‘n wyer as die goed ingeligte kopersmark. Gehalte en gewildheid is die twee kante van die glansmunt hier.

Vanaf die bundelmotto (die twee slotreëls van Boerneef se alombekende “die berggans het ‘n veer laat val”) tot die laaste bladsy toe is Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte dus deurspek van ‘klassieke’, partymaal getoonsette verse in Afrikaans, of van gedigte wat onderweg lyk om daardie status te verwerf.

Kort na die verskyning van die eerste uitgawe het kritici al gewag gemaak van die “veiligheid” van Olivier se gedigkeuses. “[J]a,” erken hy aldus in die jongste woord vooraf, “ek het gedigte wat swaar in die erotiek lê, destyds bewustelik weggelaat en hulle het daarom en daardeur ‘n wonderlike tuiste gekry in Johann de Lange en Antjie Krog se bloemlesing Die dye trek die dye aan.”

Gelukkig kon hy “die versoeking” hierdie keer “nie heeltemal weerstaan […] nie”, en kan ‘n mens strofes soos die volgende van Breyten Breytenbach te lese kry:

 

as my peester ooit die magiese

voering van jou kont sou vergeet

die diepberg en die knobbeltjie kittelaar

en die polsende grootmaak van jou tong –

mag dit dan verdor soos ‘n dooie vyeloot

mag dit stom word soos ‘n mondnar sonder tong

mag dit per ongeluk deur ‘n hond

ingesluk en uitgekak word op die strand

 

en indien my hart ooit die aanraak

van jou hande sou vergeet

sou verraai die golwing van jou hare

die ontvanklike oopgaan van jou dye nie onthou –

mag die skerpregter se mes dit deurboor

mag dit versmoor in die rooivloed van bloed

mag dit deur die eeue woed van pyn

want dan het ek jou hart nooit geken nie

 

en ek het vir wind en sotword gelewe

ja, ook dan sal die dood te genadig vir my wees[.]

 

(Slotstrofes van “die eed”, uit die windvanger, 2007 – ‘n gedig en bron wat nie in die kopieregerkenningslys agterin die bloemlesing vermeld word nie.)

 

Olivier stof dus nie maar net die vertroude Afrikaanse minneversskat af met hierdie uitgawe nie. Ek het genoem dat sowat 85 gedigte toegevoeg is tot die 2001-keur. 17 digters se name verskyn nou ook die eerste keer in die erkenningslys.

En die gedigte is hierdie keer volgens ‘n heeltemal ander beginsel gerangskik as in die vorige uitgawes: chronologies volgens eerste publikasiedatums in plaas van alfabeties volgens die digtersvanne. Dít bring myns insiens ‘n (gesonde) relativering van die kwalifisering “mooiste” teweeg. Olivier noem in die bloemlesinginleiding dat resensente voorheen “‘n verduideliking van die arrogante titel van die versameling” gevra het. Ek reken hulle het in minstens een opsig tereg hierop aangedring: Tematiese bloemlesings is tipies hede-gerig – ook wat in die verlede geskryf is, word in die lig van vandag se poësieopvattings beoordeel. Die alfabetiese plasing volgens outeursname van voorheen het die tydgebondenheid van style en literêre smake probeer ignoreer.

Die nuwe rangskikking vee nie die bepaling “die mooiste” uit nie; dit laat ‘n mens ‘skoonheid’ ewewigtiger in die lig van periodekodes sien. En laat ‘n mens des te meer respek kry vir wat mooi bly oor prosodiese en stilistiese eragrense heen – soos vir die volgende strofes uit A.G. Visser se “Rosa Rosarum”:

 

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose

Duist’re geheime vertrou aan die nag;

Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.

Drome en liefde die lang somerdag.

 

[…]

 

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,

Open die lotus haar heilige kelk,

Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –

As sy in glorie van songloed verwelk.

 

[…]

 

Kom as dit skitter van dou-diamante,

Rosa Rosarum, in my Paradys,

Dat ek my blomme, my bome, my plante,

Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

 

Onvermydelik, vanuit so ‘n literêr-historiese hoek gesien, begin ‘n mens dan wonder oor die ‘verteenwoordigendheid’ van die keuse. Nie omdat ‘n mens krities wíl wees nie; gewoon uit entoesiastiese meelewing. (Olivier nooi ‘n mens juis, en tereg ietwat tong-in-die-kies, in sy inleiding uit om hom te “vermaan”, waar nodig; om hom te “laat weet […] wat ek misgekyk het”.)

Ek noem ‘n paar vrae en gedagtes wat, al lesende, in hierdie verband by my opgekom het.

Kon daar nie ‘n skeutjie volkspoësie toegevoeg gewees het nie – byvoorbeeld uit die volkskwatryneskat wat Pieter W. Grobbelaar in Die rooilappieskombers (1997) versamel het, en waarvan talle met vryery en die liefde te doen het? Die gerf wat hier geoes is van vóór Dertig, lyk hoeka skraal.

Van die Dertigers gepraat: Verdien Uys Krige om so totaal afwesig te wees hier? Haal sy “Swaels bo die kamp”, uit Hart sonder hawe van 1949, nie dalk die paal nie?

Pirow Bekker is nog ‘n naam wat opvallend ontbreek. Die liefdesvers-afdelings in sy ‘ouderdomsbundels’ Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008) het mý egter ontroer.

Toe ek die keuse uit Ina Rousseau se oeuvre betrag, het ek dadelik die onthou-vers “Jan” uit ‘n Onbekende jaartal (1995) gemis:

 

Terwyl sy vir haar gesin ‘n broodjie

van water en witmeel maak,

dink sy weer aan ‘n man met die naam

Jan. Hoe hy eens op ‘n tyd ‘n baadjie

gedra het van bruin riffelferweel

en die woord dadelik

stukkend gebreek het tot drie enkelklanke

een dodelike stormdonker dag. So: daa de lik –

en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik

is onskadelik. Sy plaas die pan

in die oond en gaan na die hoofslaapkamer.

Baie stadig kam sy haar hare

terwyl sy deur die raam

na die sonsondergang staar.

So baie herinneringe,

so baie herinneringe deur so baie jare

van haar bestaan,

aan ‘n man met die naam

 

Jan – [.]

 

Lina Spies se “Groet in pers” het my na Van Wyk Louw se “Groet in bruin” laat soek – en toe ek deur Tristia (1962) blaai, kom ek vier bladsye vroeër op die onvergeetlike liefdesverlatenheid-vers “Sy sal nooit kom nie” af, wat ek óók in die bloemlesing sou wou sien:

 

Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.

Moenie wag. Moet niks verwag nie.

Leer die verwagting af. Leer die wág af.

Leer áf om te luister. Leer af.

 

Die genot wat Danie Marais my met sy vlerksleeppoësie in die eerste afdeling van Al is die maan ‘n misverstand (2009 ) besorg het, sou, indien ek in Olivier se skoene was, hom ‘n tweede gedig in die bloemlesing laat verdien het. En ek sou iets uit Johannes Prins se Een hart (2009) ingesluit het; en ek sou …

Publikasieruimte is nie onbeperk nie, ook nie goedkoop nie, soos Olivier en sy uitgewer seker selfs beter weet as ek. (Waarskynlik vandaar die slapband-baadjie wat hierdie uitgawe dra; die tweede druk van die vorige het al dusdanig in die boekwinkels verskyn.) En keuses kan nooit sonder persoonlike voorkeure uitgeoefen word nie.

Ten spyte van kommersiële beperkings het die samesteller en sy uitgewer kon regkry om kennelike liefdeswerk te verrig.

Daarom: Duim gelig vir hulle!

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Jelleke Wierenga. Oor die liefde en die leegte

Wednesday, October 27th, 2010

Dis Oktober, die mooiste, mooiste maand – nog ’n paar dae – en dus mag ’n normaalweg siniese mens nie te veel verkwalik word as sy oor die liefde skryf nie.

Ek kry die bundel Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, saamgestel deur Fanie Olivier, ter hand gestop deur “daardie god wat hom verlustig in verandering” (Peter Blum, “jou sintuie wil ek toesluit een vir een”, Steenbok tot poolsee). Ek maak die bundel lukraak oop, soos dit hoort.

Dit val oop by TT Cloete se “uniseks”:

 

ons het mekaar
se tagtig plus jaar
lief sonder onderskeid
van man- en vroulikheid
sonder sterkste en eerste
sonder taaiste of teerste
of mooiste ons yl hare is ewe lank:
en dun ons roosblaarhuid is ewe blank
en gevrat nooit vantevore só nie seer
seker het ons mekaar só liefgehad nie en nooit meer
en meer getrou as nou nie as een nou moet doodgaan
hou die ander een sommer op om te bestaan
albei se arms is vlerkewyd gebak
vir mekaar om mekaar in te haak
as een se voet nou sou swik
is die ander een ook gewrik
ons gaan eensgesind geklee
die eenders is altwee

 

Net nou die dag sê ek vir iemand: “Die liefde is dood – dalk nie die ouer-kind-liefde nie – maar die ander soort. Die mens is die mees wispelturige, onbetroubare wese wat ooit geskep is, tot die dood toe nie in staat tot durende liefde nie. Ek sluit myself daarby in.”

Maar nou lees ek die teendeel. Liefde tot in die grysheid toe, verby liggaam en ego, ydelheid en die sug na anders en nuut.

Vandag sien ek hoe grysheid nuwe lewe liefhet. In die koemkwatboompie het twee kwikstertjies ’n nessie saamgeflans, van bo beskerm deur ’n paar varsnuwe blare. Ek klim tot op die boonste sport van die trapleer en loer in. Daar lê die drie bondeltjies, skaars herkenbaar as toekomstige parmantige kwikkies. En waarop lê hulle? ’n Snoesige onderlaken van grys hare. Sommer ’n klomp hare, nie net hier of daar ingevleg nie. Die pa- en ma-kwikkie moes omtrent in hul skik gewees het met hul vonds – waar hulle dit ook al opgespoor het. Die hare lyk afgeknip en nie soos ’n bondel wat uit ’n borsel getrek is nie – waar sou mense nou hul hare stort indien nie reguit in ’n vullisblik nie? Glo mense nie meer aan toordery nie?

Op hul harige onderlaken, skaars herkenbaar as kwikkies.

Op hul harige onderlaken, skaars herkenbaar as toekomstige kwikkies.

Die hare laat my toe dink aan my eerste ernstige kêrel, VL, wat op op ’n haar na Woody Allen gelyk het en inderdaad deur mense in die straat gegroet is as “Mister Allen”. Hy het dieselfde ernstige Joodse neuroses as Mister Allen gehad … maar net so pittig daarby.

My Woody het ’n ding oor hare gehad. Gelukkig net sy eies – nie soos die ander Joodse kêrel wat ereksies oor my goue beenhare gekry het en alle skeermesse in ons woonstel verbied het nie. (Hy’t ook ’n fobie oor skuim gehad, maar dis ’n skinder vir later.)

Die eerste keer toe ek VL se hand vashou – op ’n bus, ons was albei joernaliste op pad terug van ’n funksie – kon ek nie verstaan waarom hy agterstevoor eelte het nie. Later het ek talle demonstrasies van die ontstaan van die verskynsel van agterstevoor eelte aanskou, tot malwordens toe. Hy het naamlik vuis in die mond gesit en al die haartjies aan die agterkant van sy vingers afgebyt totdat rooi, skubbige eelte gevorm het.

Die ander hare aan sy vreemde wese was ook nie bestand teen sy aanslae nie. Hy het orals kaal kolle op sy kop gehad waar hy sy mooi kastaiingbruin hare in orgies van neurotiese denke uitgepluk het. Hy het dikwels voor die spieël van die badkamerkassie gaan staan, sy onnatuurlike en natuurlike blesse betrag en dan gelamenteer: “As ek die dag hieroor gaan begin skree, sal die Here self moet afkom en my moet vashou.” Ter kalmering druk hy dan sy neusporieë uit.

Ek skinder nou lelik en aanhoudend, maar hy het ook dikwels hand in die hemp gesit, Napoleon-styl, en die hare op sy bors gemolesteer. Elke boek of tydskrif wat hy gelees het, het boekmerke van hare gehad.

Omdat hy ook so ’n ontevrede man was, het ek ’n kortverhaal geskryf met die titel “Die man wat aan ontevredenheid gely het en wat met hom gebeur het (’n moderne sprokie)”. Inderdaad het die ontevrede man aan ’n aaklige einde gekom, soos dit in ongesensorde, bloeddorstige sprokies hoort.

Elke oggend skud sy lankmoedige vrou sy beddegoed uit – hulle het natuurlik teen dié tyd al apart geslaap weens haar aanstootlike gewoonte om asem te haal wanneer sy slaap. Dit het die ontevrede man baie gepla. Wanneer sy dan nou soggens haar man se beddegoed op die gras uitskud, wag die voëls haar in. Orals glinster oë op takke en tussen struike. Wanneer die vrou na die huis terugstap, sak ’n piepende en krysende wolk op die gras neer. Gevegte ontstaan te midde van oorvloed. Gou staan die grasperk bekend onder die stad se voëls as die eldorado van nesmateriaal.

Sien, hier’s ek nou terug by die kwikstertjies en hul harige onderlaken.

O, en wat het verder gebeur met die Woody Allen-kloon? Hy was ook in my “Gal-ery van gewese geliefdes” (in my bundel Bloot mens), maar ek het dit voor publikasie uitgehaal. Te veel, te veel. Ek meen, hoeveel aaklige refleksies op jouself kan ’n mens hanteer? Hier’s die einde dan – die laaste paar strofes van nog ’n lang epos sonder helde of heldinne:

 

Ek wou jou trou,
maar die woord het jou
in diarree laat borrel en brou:
dan op knieë Imodium-grou
het jy gesmeek: Ek moet jou hou.

Hoe het dit geëindig dan
die storie van die Dopper en die Joodman?
Ironies soos net die lewe kan,
word hy ’n Jew for Jesus, ’n nuwe man:
en ek word na die kombuis geban.

My twee woordjies: “Love you”
was ter afskeid: “Fuck you”.

Tien jaar later sien ek jou toevallig
in Vishoek: vet en onbevallig
pankop onderstebo kou jy jou vingers swartgallig
langs vroutjie in tentrok voltallig.
Goddank ek’s jou gespaar: ontoevallig.

 

Maar daar’s nog ’n paar dae van Oktober oor … laat ek dus nou op die pers noot van die eerste jakarandabloeisels eindig. Dis mos mooi as iemand vir jou skryf: “Ek wil nog vir jou slaaptydstories lees uit vergete kinderboeke ek wil nog vir jou oordadig kook en wyn skink kruisbeen langs jou sit voor ’n kaggelvuur met winter buite ek wil nog saam met jou loop en stap tot ons beenmoeg is ek wil nog saam met jou foto’s neem wat my asem wegslaan ek wil saam met jou lag en huil oor stories en mensdinge ek wil nog deel van jou lewe wees, ek wil nog.”