Posts Tagged ‘Die roebaijat van Omar Khajjam’

Wicus Luwes. Tamám Shud

Monday, December 21st, 2015

Actual-tamam-shud

Die lyk van ‘n man is op 1 Desember 1948 om 06:45vm op Somerton Strand aan die suide van Australië ontdek. Die lyk was in ‘n netjiese baadjie, das en broek geklee. In sy sakke was ‘n gebruikte buskaartjie, ‘n ongebruikte treinkaartjie van Adelaide na Henley, ‘n smal aluminium kam, ‘n half-vol pakkie Juicy Fruit-kougom, ‘n pakkie Army Club-sigarette wat vol Kensitas-sigarette was en ‘n kwartvol boksie Bryant & May vuurhoutjies.

Geregsdienaars het begin soek na dinge wat bymekaar pas of spore wat die dooie man se skoene moontlik agtergelaat het. Op 14 Januarie 1949 het ‘n onopgeëiste bruin tas by die Adelaide treinstasie deel van die legkaart geword. Dit is op 30 November 1948 by die stasie ingeteken. Tussen die items in die tas was ‘n rooi geruite kamerjas, pantoffels, slaapklere, items om mee te skeer, broeke, ‘n skroewedraaier, mes en skêr. Die knoopsgate en ander items is gemaak volgens tipies Amerikaanse steke en patrone. Daar is geglo dat die tas verband hou met die lyk wat gevind is op die strand op Somerton.

SomertonstrandFoto: Seemuur by Somerton Strand waar die lyk gekry is

‘n Klein stukkie papier is in April 1949 opgerol gevind in ‘n geheime kompartement in die lyk se broeksak. Die woorde ‘Tamam Shud’ was op die papier gedruk. Biblioteek-personeel het bepaal dat die woorde uit Persies as ‘geëindig’ of ‘voltooi’ vertaal kon word en dat dit afkomstig was van ‘Die Roebaijat van Omar Khajjam’. Omar Khajjam was ‘n Persiese digter, skrywer en wiskundige. Sy werk, soos vertaal deur Edward Fitzgerald, is een van die grootste verkopers van digkuns in die wêreld. Daar is egter bepaal dat die opgerolde papier afkomstig was van ‘n skaars Nieu-Seelandse uitgawe van ‘Die Roebaijat’. ‘n Landswye soektog na die boek waaruit die stukkie papier geskeur is, het gevolg. ‘n Man van Glenelg in Adelaide het na vore gekom en laat weet dat ‘n boek waarna die polisie soek in sy motor gelos is rondom die tyd dat die lyk in Somerton ontdek is. Die motor was na bewering ongesluit en het geparkeer gestaan naby Somerton Strand toe die boek by die voet van die agterste sitplek gelos is.

Kwatryn 5

Vergeet van berou, gooi die winterjas
in die lentevuur, laat dit brand tot as.
Onthou, die kraai van die tyd kan kortpad vlie …
Moenie ‘n uur verspil nie: Lig die glas!

– uit Daniel Hugo se vertaling van ‘Roebaijat van Omar Khajjam’

TasinhoudFoto: Inhoud van die tas

Teen Februarie 1949 het die lyk agt moontlike identiteite gehad na aanleiding van ooggetuies en mense wat op koerantberigte gereageer het. Australië was vir een of ander rede gefassineerd deur die saak. Die ontdekking van die boek het egter meer as een stukkie tot die legkaart bygedra en dit het ‘n moontlikheid sleutel tot die identifikasie van die lyk of rede vir die sterfte gehad. Daar was ‘n inskrywing in die boek se agterkant wat gelyk het na ‘n geheime kode. Daar was ook ‘n telefoonnommer en ander nommer by die kode geskryf. Die telefoonnommer was ‘n ongelyste telefoonnommer en het behoort aan ‘n verpleegster, Jessica Thomson. Thomson het in Moseleystraat, naby Somerton Strand gebly.

Kwatryn 37

And strange to tell, among that Earthen Lot
Some could articulate, while others not:
And suddenly one more impatient cried –
“Who is the Potter, pray, and who the Pot?”

En vreemd genoeg onder die hele lot
kan sommige praat, maar ander is bot.
En skielik roep ‘n oproerige uit:
“Wie’s die pottebakker en wie die pot?

– uit Daniel Hugo se vertaling van ‘Roebaijat van Omar Khajjam’

Tydlyne is egter snaakse lyne, wat nie altyd in dieselfde rigting loop nie. Joseph (George) Saul Haim Marshall is in Junie 1945 in Sydney dood aangetref met ‘n kopie van die ‘Die Roebaijat van Omar Khajjam’ oop op sy bors. Marshall is vergiftig in ‘n moontlike selfdood (selfmoord?). ‘n Dame, Gwenneth Dorothy Graham, wat tydens Marshall se doodsondersoek getuig het is dertien dae na haar getuienis met gesnyde polse dood aangetref in ‘n nog ‘n klaarblyklike selfdood (selfmoord?). Die skokgolwe van die atoombom kon in die era na die Tweede Wêreldoorlog steeds gevoel word. Leidrade het kouer geword en die oorlog selfs kouer. Brittanje het in Maralinga, 800km van Adelaide af soos die kraai vlieg, met die effek van vuur en nie-kern wapens op kernwapens ge-eksperimenteer. Die eksperimente het tussen 1956 en 1963 plaasgevind.

 

“All around
An eerie sound
Their dreams a cloud
Their world in shrouds

In the wind
The ashes fly
Not much time
But time to try

And if you can’t see the smile in me
That’s ’cause I wanna be
I want to be here at the end
I have to be here at the end”

– lirieke uit ‘Maralinga’ deur Midnight Oil

 

NotaInSomertonSaakFoto: Geheime boodskap of kode in die agterkant van die Roebaijat

Dis makliker om tydlyne en moontlike motiewe te sien as jy jare later die voordeel van perspektief het. Die polisie se ondersoek moes egter sin maak van wat voor hulle op die tafel is: ‘n Onbekende man arriveer op 30 November 1948 in Adelaide met ‘n eenrigting treinkaartjie. Hy koop nog ‘n eenrigting kaartjie na Henleystrand en los sy tas by die Adelaide treinstasie. Hy gebruik egter nie die trein nie, maar neem eerder ‘n bus tot by Henleystrand. Die onbekende man klop aan Jessica Thomson se deur in Moseley straat, en doen navraag by bure oor haar. Na hy nie regkom by dooiemansdeur nie, stap hy na Somerton Strand. Sy lyk word die volgende dag teen die seemuur by Somerton Strand gevind. Nadoodse ondersoeke bevind dat hy gesterf het aan ‘n onbekende gifstof. Dit is ook onbekend of hy dit self gedrink het of moontlik op ‘n ander manier ingekry het.

Kwatryn 46

‘n Toevlug is dit teen die lentegloed:
hier waar ou bekendes mekaar ontmoet,
onder hierdie tak wat hang oor die muur
om sy bloeisels te gooi oor hand en voet.

Kwatryn 48

Ag, my lief, kon ek en jy met die lot saamsweer
om die krom bestel van sake te korrigeer
hoe sou ons dit nie aan skerwe slaan
en dan boetseer – nader aan wat die hart begeer.

– uit Daniel Hugo se  vertaling van ‘Roebaijat van Omar Khajjam’

 

Sommige spekuleer dat die lyk op Somerton Strand ‘n minnaar van verpleegster Jessica Thomson was, ander weer dat hul beide Russies spioene was. Na Thomson se dood het haar dogter aan 60 Minutes, die ondersoekende TV-program, vertel dat haar moeder Russies-magtig was. Die dogter, Kate, het ook laat blyk dat haar moeder wel die identiteit van die lyk op Somerton Strand geken het en dat sy nie eerlik was tydens die polisie-ondersoek nie. Die identiteit van die lyk op Somerton Strand blyk ‘n veilig bewaarde geheim te wees. Die stof en stoflyne wil maar net nie gaan lê nie en in 2013 loods Rachel Egan, kleindogter van Jessica Thomson, ‘n onsuksesvolle vertoë om die Somerton-lyk op te grawe in ‘n poging om te bepaal of hy dalk haar biologiese oupa is.

‘n Tema van ‘Die Roebaijat van Omar Khajjam’ is om die lewe te geniet en geen berou te hê as dit sou eindig nie. Die boodskap aan die lesers van die Roebaijat by Somerton Strand was miskien anders as die deursnit leser van die bekende kwatryne. ‘Tamán Shud’ word dalk nooit voltooi of opgelos nie.

nie alle reëls volg opmekaar
kleipotte word uit klei gebaar
miskien word rymwoord en woorde wat rym
slegs deur die lig van tyd openbaar

Kwatryn 50

And when Thyself with shining Foot shall pass
Among the Guest Star-scatter’d on the Grass,
And in Thy joyous Errand reach the Spot
Where I made one – turn down an empty Glass!

As jy ligvoets loop met oë wat tas
tussen gaste sterbesaai op die gras
en jy op jou vreugetog die plek bereik
waar ek ook eenmaal was – maak leeg jou glas!

– uit Daniel Hugo se  vertaling van ‘Roebaijat van Omar Khajjam’

LXXV

En gaan jy hier met blinke Voet verby
Deur Gaste net soos Sterre rond versprei,
En op jou blye Weg kry jy die Plek
Waar ek een was – maak leeg jou glas vir my
Tamám Shud

– uit CJ Langenhoven se vertaling uit sy Versamelde Werke

BegrafnisSomertonManFoto: Begrafnis van die onbekende man van Somerton Strand

Verdere leesstof:
– http://versindaba.co.za/2014/10/21/marlies-taljard-die-tentmaker-van-die-roebaijat/
– http://versindaba.co.za/2014/06/16/resensie-die-roebaijat-omar-khajjam-vert-daniel-hugo/

Bronne:
1. Hugo D, Die Roebaijat van Omar Khajjam, Protea Boekhuis, Pretoria ,2014
2. Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/British_nuclear_tests_at_Maralinga
3. Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/Taman_Shud_Case
4. Internet. http://www.adelaidenow.com.au/news/south-australia/new-twist-in-somerton-man-mystery-as-fresh-claims-emerge/story-fni6uo1m-1226766905157
5. Internet. http://www.metrolyrics.com/maralinga-lyrics-midnight-oil.html
6. Langenhoven CJ, Versamelde Werke, Nasionale Pers Beperk, Kaapstad, 1934

Onderhoud met Daniel Hugo

Friday, May 23rd, 2014

Daniel Hugo gesels oor sy pasverskene bundel vertalings van Die roebaijat van Omar Khajjam (Protea Boekhuis) met Bernard Odendaal (van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

Bernard Odendaal (BO): Daniel, jy is, as vertaler, bekend vir die werk wat jy doen om Vlaamse en Nederlandse tekste in Afrikaans om te sit. Nou kom jy vorendag met ’n bundel vertalings van vyftig kwatryne uit die nalatenskap van die elfde- tot twaalfde-eeuse Persiese digter, Omar Khajjam, dit wil sê soos daardie kwatryne deur veral die Engelse vertalings van Edward FitzGerald bekend geword het. Vanwaar hierdie nuwe koers in jou vertaalwerk?

Daniel Hugo (DH):  Eintlik het ek reeds op skool begin om Engelse gedigte te vertaal. Ek herinner my hoeveel plesier ek gehad het aan John Masefield se “Sea Fever”, en later is enkele van my probeersels uit Engels (Robert Frost, Dylan Thomas, Dorothy Parker, Elisabeth Eybers, R.S. Thomas) in my digbundels opgeneem. In die inleiding tot die bundel vertel ek van my kennismaking met FitzGerald se Khajjam-kwatryne in 1976. Ek was toe ’n honneursstudent in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Prof W.E.G. Louw het ’n kursus in die poësie van die groot Nederlandse digter J.H. Leopold aangebied en sy bewerkings van Omar Khajjam het ook ter sprake gekom. Toe ek in ’n Eikestadse boekwinkel ’n Amerikaanse uitgawe (met dekadente illustrasies deur Edmund J. Sullivan) van Die roebaijat raakloop, het ek dit dadelik uit my skamele beursgeld gekoop. Dit het my so aangegryp dat ek daar en dan my eerste vertaalpogings aangewend het. Omar Khajjam se versvorm en hedonistiese lewensfilosofie het my klaarblyklik nooit laat staan nie – vandaar hierdie vertalings amper veertig jaar later! Die beroemdste formulering van Khajjam se lewensuitkyk vind ’n mens in die volgende kwatryn:

Here with a Loaf of Bread beneath the Bough,

A Flask of Wine, a Book of Verse – and Thou

Beside me singing in the Wilderness –

And Wilderness is Paradise enow.

Ek het dit soos volg vertaal:

Met ’n verseboek in die skaduwee,

’n bottel wyn, ’n brood en jy daarmee

saam om vir my te sing in die woestyn –

en woestyn word ’n paradys vir twee.

C.J. Langenhoven se weergawe lyk só:

’n Snytjie Brood hier waar die skaad’wees sprei,

’n Flessie wyn, en ’n Gedig – en Jy

Hier by my om te sing in die Woestyn –

En die Woestyn is Paradys vir my.

Dit is interessant dat Langenhoven vir Omar en sy geliefde net ’n karige “snytjie” brood en ’n sobere “flessie” wyn gun!

Op die skutblad van daardie Amerikaanse uitgawe van Die roebaijat wat ek so lank gelede op Stellenbosch aangeskaf het, staan die volgende selfgemaakte kwatryn in my studentikose handskrif:

In die tent van Omar Khajjam

het ek rooi wyn gedrink en saam

gesing – maar as die Dood die toue sny

waar gaan ons dan die tent opslaan?

Terloops, die naam Khajjam (in Persies uitgespreek as Chajjaam) beteken “tentmaker”.

BO: Joune is nie die eerste poging om Die roebaijat van Omar Khajjam, of dele daarvan, in Afrikaans te vertaal nie. Ek het nie ál die vorige probeerslae onder oë gehad nie, maar die wat ek wel te lese gekry het …  wel, jou weergawes is, wat die digterlike gehalte betref, stukke beter as die oorgrote meerderheid daarvan. Was die gehalteoorweging die enigste rede vir jou besluit om nog ’n vertaling daar te stel? Was dit jou uitgangspunt om “getrou” aan dié FitzGerald-weergawes te bly? (Die FitzGerald-weergawes is telkens bo-aan jou kwatrynvertalings afgedruk, sodat die leser as ’t ware uitgenooi word om vergelykenderwys te lees.) Ek stel die vraag, want FitzGerald se werk staan stilisties redelik duidelik in die teken van die Romantiek. Wat was jou oorwegings in hierdie verband? 

DH: Eintlik is C.J. Langenhoven se Afrikaanse vertaling nog steeds die beste – en dit het al in 1923 verskyn! Het ek inderdaad probeer om op Langenhoven te verbeter, maar seker nie enduit daarin geslaag nie. Dit is ’n bekende verskynsel in die letterkunde dat klassieke tekste herhaaldelik vir nuwe geslagte lesers vertaal word, onder meer omdat die taal self met die verloop van tyd verander. Langenhoven se Afrikaans klink vandag noodwendig oudmodies; FitzGerald se Engels natuurlik ook, maar dit is myns insiens geen argument om daarom doelbewus argaïsties te gaan vertaal of ’n gedateerde vertaling bo ’n moderne een te verkies nie. Die vertaalde teks moet ewe toeganklik vir die hedendaagse leser wees as wat die oorspronklike in 1859 vir die Engelse leser was. Verder is dit groot pret om die verskillende vertalings met mekaar te vergelyk en taalkundige, ideologiese en verstegniese afleidings daaruit te maak. (Dit lyk vir my na ’n lekker onderwerp vir ’n nagraadse student!)

Ek het so ver as moontlik getrou probeer bly aan die FitzGerald-weergawes, maar die streng aaba-rymskema stuur ’n mens soms in onverwagse rigtings. In die volgende kwatryn word daar reikhalsend uitgesien na die einde van Ramadan, die Moslems se vasmaand:

“Be of good cheer – the sullen Month will die,

And a young Moon requite us bye-and-bye:

Look how the old one meagre, bent, and wan

With Age and Fast, is fainting from the sky!”

(more…)