Posts Tagged ‘die rol van die reg in letterkunde’

Nini Bennett. ‘n Digterlike disseksie.

Sunday, January 31st, 2016

rembrandt groter

 

Binne die interdissiplinêre studieveld, die rol van die reg in letterkunde, is daar nog relatief min gedoen in Afrikaanse literêre tekste. Grobler (2014:22) verwys in ’n ongepubliseerde MA-verhandeling na ’n artikel van Melodie Slabbert waarin sekere regsaspekte in Marlene Van Niekerk se roman, Agaat belig word, maar noem dat daar nog heelwat braakveld vir toekomstige literatuurstudie is. Die reg in letterkunde (“law in literature”) is sedert die sewentigerjare ’n gevestigde studieveld in die buiteland, en staan oorkoepelend bekend as die reg en letterkunde (“law and literature”) wat as sambreelterm dien. Die manifestasie van die reg in letterkunde is gemoeid met die wyse waarop regsituasies in literêre tekste voorgestel word: die fokus val op die interaksie tussen die regswetenskap en letterkunde, en die funksies van byvoorbeeld wetgewing, klagstate, howe, verhore, regslui en ondersoekprosedures. Die verhaallyne in romankuns toon sterk ooreenkomste met die narratiewe inherent teenwoordig aan juridiese prosesse. In die VSA word regstudente aangemoedig om letterkunde te bestudeer om hulle te bemagtig om die regsprofessie binne ’n groter sosiaal-wetenskaplike konteks te verstaan en te posisioneer. Omgekeerd kan kennisname van regsbeginsels ’n beter voorstelling van die onderliggende ‘moraliteitsteater’ van literatuur vir die leser bied. Voorbeelde van klassieke tekste binne die kanon: die reg en/in letterkunde is Measure for measure (Shakespeare), The brothers Karamazov (Dostojefski), The trail (Kafka) en Waiting for the barbarians (J.M. Coetzee). In Afrikaanse tekste figureer die reg in die werk van onder meer Etienne van Heerden, John Miles, Louis Leipoldt, C.J. Langenhoven, N.P. van Wyk Louw, André P. Brink, G.A. Watermeyer, Martina Klopper en ander.

Dit gebeur soms dat ’n digter met regsbegrippe flankeer ten einde ’n metafoor te aktiveer of meerduidigheid in die hand te werk, byvoorbeeld die vers “Kodisil” (2014:35) in Clinton V. du Plessis se bundel, Woorde roes in die water. Nadoodse ondersoek van Martina Klopper is op sy beurt ’n volledig deurgekomponeerde bundel waarin die lewering van ’n outopsieverslag die spilpunt van die verse vorm. ’n Outopsie, of ’n geregtelike nadoodse ondersoek word gelas in gevalle van ’n onnatuurlike (of skielike) doodsoorsaak soos misdaad of ander verdagte omstandighede. Forensiese patologie/geregtelike geneeskunde word geïmpliseer, wat op sy beurt weer raakpunte toon met velde soos strafreg en kriminologie. Die veelvoudigheid van betekenis in Nadoodse ondersoek bied interessante leesstrategieë, en in ’n artikel op Versindaba wys Jaco Barnard-Naudé dan ook op die prosesse van aflegging, rou en melankolie, aldus Freud en Derrida (http://versindaba.co.za/2010/08/30/die-digkuns-as-rouproses-martina-klopper-se-nadoodse-ondersoek-2010/).

Nadoodse+ondersoek

Die titel en aanbod van die verse in die bundel kan in die eerste plek as ’n “legal teaser” gesien word, ’n begrip wat Richard Posner beskryf as ’n tipe ‘lokaas’ om die leser te aandag te trek. Die bundelverdeling, naamlik “Misdaadtoneel”, (ná die programgedig “Patologie”), gevolg deur “Eksterne ondersoek”, “Interne ondersoek” en laastens “Verslag” skets die ondersoekprosedure wat gevolg word tydens ’n outopsie. His locus est ubi mors gaudet succurrere vitae is die inleidende motto tot die bundel, en beteken: Dit is die plek waar afgestorwenes juig om die lewendes te help. Dié kennisgewing verskyn dikwels by outopsiepraktyke. Reeds met die programgedig blyk dit die leser word die geïmpliseerde patoloog tydens die leesproses; die digter die reeksmoordenaar (na analogie van die berugte moordenaar, David Berkowitz); en die digter voltrek dan eindelik die forensiese nadoodse verslag as Ars poetikale refleksies in die laaste deel, “Nawoordse ondersoek III”, waartydens die digter self ‘ontbind’.

III Ontbinding

Wurms en maaiers vreet aan haar gesig,

larwes broei uit, word vlieë en vlieg

met die laaste woorde uit haar mond:

digter ontbindend tot gedig.

 

Die gedigte is gestroop en nihilisties en betrek temas soos geweldsmisdaad, aftakeling, verkragting, bloedskande, buite-egtelike verhoudings, morele selfbevlekking en skuld. Deurgaans word die besinnings oor digterskap geprojekteer teen die leefwêreld van patologie. Ontluistering word ‘n ironiese vorm van (self-)terapie; ‘n doelbewuste antidoot teen sentimentaliteit en selfkoesering. Poësie word gedemistifiseer en soos ‘n patoloog stel Klopper vakmanskap voorop: die  minimalistiese aanbod van die verse herinner aan digterlike disseksies. Soms word die boustene van taal gejukstaponeer met die lyflike of anatomiese en word ‘n merk of litteken in meer as een opsig ’n betekenisvolle signans, soos dié gedig getuig:

 

Dikvellig

I

Moesies is letters:

‘n komplekse netwerk,

‘n skema van betekenis

op die vel afgemerk.

 

My pa is ‘n kriptograaf:

die hale op my rug

verbind letters tot ‘n gedig

in ‘n netjiese oktaaf.

II

Elke letsel is ‘n morfeem

en wysig die lyf se taalsisteem:

“weerloos” word “weerwraak”

en “naaktheid” “ongenaak”.

 

Verskeie ‘korpusse’ kom in die bundel voor. Naas kadawers, word daar verwys na vermolmde groente en vrugte, ’n muwwe huis, houtkewers, ’n skedonk, ’n elektriese kragboks en wapens soos ’n handgranaat en geweer – in alle gevalle verse waarin die suggestie van verwording, gevaar of die dood skuil.

Om die dood ekshibisionisties te verbeeld, is niks nuut nie. ‘n Mens dink byvoorbeeld aan die bekende skildery, Die anatomieles van dr Nicolaes Tulp (1632) van Rembrandt van Rijn. Digters soos Charles Baudelaire en Edgar Allan Poe het met sukses oor kadawers gedig. Reeds vóór Nadoodse ondersoek lewer Johann de Lange ’n waardevolle bydrae tot “outopsiegedigte” met sy bundel, Die algebra van nood (2009). En om die kultuurikoon, David Bowie, wat onlangs oorlede is, aan te haal: “Confront a corpse at least once. The absolute absence of life is the most disturbing and challenging confrontation you will ever have”.  Nadoodse ondersoek het egter meer om die lyf as prosesse van aflegging, verlies en selfkonfrontasie.  Deur die kodes van forensiese patologie as lokaas te gebruik skep Klopper ‘n netjies deurgekomponeerde bundel wat as “outopsieverslag” die rol van die reg in letterkunde omlyn – en bevestig dat poësie, en nie net romankuns nie, kan baat by hierdie vinnig ontwikkelende studieveld.

 

Bibliografie

De Lange, J. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.

Du Plessis, C.V. 2014. Woorde roes in die water. Cradock: Ama-coloured Slowguns.

Grobler, S. E. 2014. Letterkunde en die reg: die verhoor as romangegewe in enkele tekste van André P. Brink. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

Klopper, M. 2010. Nadoodse ondersoek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Slabbert, M.N. 2006. Justice, justification and justifiability in Marlene van Niekerk’s Agaat: a legal-literary exploration. Fundamina 12 (1): 236-250.

Grafika: ‘n voorstelling van Die anatomieles van dr Nicolaes Tulp (1632). Rembrandt van Rijn.