Posts Tagged ‘Die stilte opgeskort’

Marlies Taljard: Hoe vou ʼn mens sy liggaam in die vorms van woorde (Deel 2)

Sunday, May 10th, 2015

Daar is reeds veel geskryf oor Heilna du Plooy se “Gesprek met die beeldreeks The Hunt van Maureen Quin” wat in haar nuutste bundel, Die stilte opgeskort (2014) verskyn onder die titel Die jag. Die doel van hierdie kort artikel is – soos ek in my vorige blog aangedui het – om die fokus te laat val op (onder andere) enkele narratologiese aspekte van dié gedigreeks.
The Hunt is ʼn reeks van 12 bronsbeelde deur die beeldhouer Maureen Quin wat tussen 1991 en 1999 ontstaan het (te sien by http://www.quin-art.co.za/hunt.htm). Quin self sê oor die beeldreeks: “I do not want to prescribe to the viewer what to see or experience, but I have tried to express the horror I feel for man’s inhumanity to his fellow man, compounded with the wanton destruction of our environment in the name of development, greed, power and self gratification.” Elders sê sy: “I am African and it saddens me to see that Africa is self-destructing. Finding an artistic solution for my thinking about these problems has not been easy. I had to explore many avenues before I found a way to express the vision which I so desperately wanted to represent in a tangible form.”
The hunt bestaan uit 12 bronsbeelde wat tematies aan mekaar verbind is. Die slanke, gespierde figure is deels mens, deels dier en beeld die verhouding uit tussen jagter en prooi. Oor die ontstaan van die reeks skryf Quin: “Initially I did not set out with any preconceived ideas or themes. I followed my creative instinct until I had reached an indefinable moment when the central theme of what I was doing gradually begun to emerge and manifest itself. From that point onwards I was lead intuitively to the completion of the series.”
Quin se betiteling van elke beeldhouwerk en die feit dat dit altyd in dieselfde volgorde uitgestal en afgedruk word, insinueer ʼn duidelike narratiewe inslag. Die titels suggereer ʼn basiese storie met ten minste twee perspektiewe, naamlik dié van die jagter en dié van die prooi: Bushman – Hunter – Chase I – Chase II – The hunted – The kill – Pietà – Grief – Remorse – Devastation – Supplication – The ultimate sacrifice.

The hunter - Maureen Quin

The hunter – Maureen Quin

Hoewel du Plooy in haar gedigreeks, waar die beelde telkens saam met die gedigte afgedruk is, dieselfde volgorde gebruik waarin die Quin-werke uitgestal en afgedruk word (sy laat Chase II uit), benoem sy haar gedigte anders, en inkorporeer sy soms meer as een beeldhouwerk in dieselfde gedig. Haar titels lui: Die Man (n.a.v. Bushman) – Die jagter (n.a.v. Hunter) – Jag (n.a.v. Chase I) – Die prooi (n.a.v. The hunted) – Naweë (n.a.v. The kill en Pietà) – Anagnorisis (n.a.v. Grief, Remorse, Devastation en Supplication) – Pathos (n.a.v. The ultimate sacrifice).

Die titels Anagnorisis en Pathos het betrekking op die plot of die intrige van die tragedie soos Aristoteles (384-322 v.C.) dit in sy Poetika beskryf. In die tragedie word die val van die held uitgebeeld, dikwels deurdat hy ʼn oordeelsfout begaan of weens ʼn inherente menslike swakheid. Die held hoef nie te sterf nie, maar sy lewenslot moet drasties verander. Daarbenewens kom hy ook dikwels tot insig aangaande die lot van die mens of die inherente menslike kondisie. Aristoteles beskryf dié insig as “a change from ignorance to awareness of a bond of love or hate” (ek gebruik Gerald F. Else se vertaling van Aristoteles se Poëtika).
Aristoteles definieer die tragedie soos volg: “Tragedy, then, is a process of imitating an action which has serious implications, is complete, and possesses magnitude; by means of language which has been made sensuously attractive, with each of its varieties found separately in the parts; enacted by the persons themselves and not presented through narrative; through a course of pity and fear completing the purification (catharsis, sometimes translated “purgation”) of such emotions.”
Nabootsing of mimesis waardeur die werklikheid of die waarheid deur middel van kuns gerepresenteer word, gee volgens Aristoteles vorm en betekenis aan dié werklikheid of waarheid – in teenstelling tot Plato se insig dat die werklikheid nie deur kuns gerepresenteer kan word nie. Omdat die poësie volgens Aristoteles se insig meestal met universele waarhede werk, word ʼn universele werklikheid of waarheid in gedigte uitgebeeld, en nie enige toevallige gebeurtenis nie. “Handeling met ernstige implikasies” beteken dat dit geskik is om vrees of medelye te ontlok en raak gewoonlik etiese, psigologiese of sosiale kwessies aan. Die feit dat die handeling volledig behoort te wees en groots in omvang beteken, aldus die Poëtica, dat dit nie net ʼn reeks episodes is wat uitgebeeld word nie, maar die konsep van nabootsing is hier belangrik in die sin dat handeling selektief uitgebeeld word. Enige aspek van die handeling wat nie in sigself universele waarhede bevat nie, word uitgelaat. Die taal moet geskik wees vir poëtiese uitinge en moet meer melodieus wees as prosa. Die tragedie maak staat op dramatisering en nie, soos die epiek, op vertelling en die rol van die verteller wat die storie vertel nie. Die tragiese handeling gee aanleiding tot emosies van vrees en medelye. Dan kom die katarsis en word alles wat vuil of besoedel was, in die laaste toneel (die pathos) gesuiwer (deur dit te omskep in voordeel) of verwyder (deur dit uit die emosionele sisteem uit te werk).
Aristoteles onderskei ses elemente van die tragedie, waarvan plot (storie) die belangrikste is. Volgens hom is die plot wat enkelvoudig maar kompleks is, die beste soort plot. Dit is die soort plot wat gekenmerk word deur ʼn ommekeer en ʼn insig. Die ommekeer (peripeteia in Aristoteles se terme) vind plaas wanneer die handeling wat sy loop in ʼn bepaalde rigting geneem het, skielik “omgekeer” word. Insig (anagnorisis, wat in Engels dikwels vertaal word as recognition, knowing again, knowing back, knowing throughout) is ʼn ingesteldheidsverandering van onkunde na bewuswording van ʼn band van liefde of haat, soos wanneer Oedipus die koning van Thebes doodmaak en dan uitvind dat dit sy vader was wat hy vermoor het. Die derde plot-element waarna Aristoteles verwys, is lyding (pathos). Dit kan ook met die woorde ramp, onheil of ellende vertaal word en is ʼn destruktiewe of pynlike handeling.
Neem ʼn mens nou weer die gedigreeks Die jag in oënskou, blyk dit dat hierdie reeks opgebou is volgens Aristoteles se beskrywing van die tragedie: In Die Man word die figuur in besonderhede beskryf. Elke gewrig is
ʼn hefboom wat werk
om in sy onskuld oop
te staan min te verberg
(my kursivering)

Die figuur is “onmiskenbaar mens” en het in sy hand ʼn instrument
wat soos ʼn speer so skerp word
wanneer hy hom verweer

Die volgende gedigte, Die jagter en Jag bevat die aanvanklike handeling wat medelye ontlok (Die prooi). Die ommekeer (peripeteia) kom in Naweë:
Ná die geveg staan die jagter
vervreemd in die aller-
innigste stilte

Sonder luister hoor hy die kreun
van sy eie soort en hy weet,
ons is nou een.
(My kursivering)

Insig in die onvermoë en die weerloosheid van die mens en veral die kunstenaar met gepaardgaande verslaenheid en die besef dat boetedoening moet volg, is die tema van die lang gedig Anagnorisis:
Hoe vou ʼn mens sy liggaam
in die vorms van woorde
uit ʼn vergete woordeskat?
Hoe wys ʼn mens se slim
slim hande smart?
Hoe sê ʼn mens se slim
slim mond verslaenheid?
Is daar woorde vir die maaksel
van ongeborgenheid
en onherbergsaamheid
wat voortspruit uit die mens se wil?

Die laaste gedig van die reeks, Pathos, verwys duidelik na die kruisiging van Christus en die moeder se pynlike offerhandeling.
Uit hierdie bespreking behoort dit duidelik te wees dat Heilna du Plooy se gedigreeks Die jag nie ʼn blote beskrywing of ʼn eenvoudige herinterpretasie van ʼn reeks beeldhouwerke is nie. Sy struktureer die reeks doelbewus met inagneming van Aristoteles se beskrywing van die tragedie en maak selfs van sy terminologie gebruik om haar werkwyse openbaar te maak. In my volgende blog sal ek uitbrei op die voorafgaande insigte en probeer aantoon wat die verhouding is tussen die gedigreeks en die primêre kunswerk.

Digstring: Heilna du Plooy. Ouhoutfluit.

Wednesday, November 26th, 2014

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

*

Ouhoutfluit

Vir my pa se houtgeworde tyd

 

Wat gebeur, is nie

wat gebeur het nie.

 

’n Pampoenstoel groei so allerhaastig,

haak sy ranke met dun wortels alleryl

vas aan die bolaag van die werf.

Die plant is onkieskeurig:

Hoe geil hy ook al groei

in hierdie agterplaas, dra hy

sy pampoene tot drie erwe ver.

 

Die kinders loop die ranke na en soek

die sterkste blare op die sterkste stingels:

Reg ingesny is elke vars groen steel

’n onmiddellike musiekinstrument.

Straataf met ’n impromptu optogorkes

blaas elke kind uit sy fluit

’n kortstondige skor geluid:

 

’n rou en vrolike lawaai gans onverwant

aan die stilte van groei in swart grond.

Inderdaad is wat gebeur het,

nie wat gebeur nie.

 

’n Loot groei langsaam tot ’n boom;

hoe langsamer, hoe digter,

hoe duursamer die grein.

Verslag van seisoene se weer

sorgvuldig in jaarringe geargiveer,

dra die boom sy erfenis diep, eers veel

later kenbaar: Om hout te word, neem tyd.

 

 

Die vakman wat sy bome ken

sal uit die groot verskeidenheid

– vir die beste, die swaarste,

die fynste, die syigste, die digste

en waterdigte soorte hout, hetsy ebbe,

swart ivoor, buks, yster, lance

(gepas raasblaar in Afrikaans!),

 

mopanie en veel vroeër slegs roos

– van iewers oor die hele aarde

die geskikte boom kan uitwys.

Dele van diere kan glo ook sing:

die ivoor van ’n olifanttand,

die bene van swane en volgens ou boeke

ook skeen – dalk van ’n mens?

 

Tydsaam word die hout gedroog,

raak die boom beleë in stromende lug.

Diep word die stomp dan gekloof

om die hart van die stam te ontbloot.

Daarná kom die oudgebore oog

en oor en merk een skrander baan

van glad gefossileerde vesel:

 

vooruit hoorbaar as net hierdie fluit

met die grasie van ’n swaan,

die geheue van ’n olifant, en dalk

met ’n vonk van God vir die mens.

Dan kan daar geluister word

na die geronde note, die verrykte

timbre, na die ongeveinsde geluid

 

wat soveel stemme, soveel toonaarde,

’n kaleidoskoop van menslikhede en verhale,

simfonies in wysies en in liedere in-sluit.

’n Toegeneë oor sal in die asemteue

deur die donker houtgeworde tyd

kan hoor hoe dit die note wel beskore is

om nader aan die ongekende te mag swewe.

 

(c) Heilna du Plooy, (Uit: Die stilte opgeskort, 2014: Protea Boekhuis)

Heilna, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gedig geskryf ongeveer in die middel van 2013 volgens die datums wat ek daarby aangeteken het. Dit is iets wat ek dikwels vergeet om te doen en eintlik is dit tog belangrik vir ’n mens self as jy agterna weer wil besin oor wat jy gedoen het.

Die gedig gaan terug op iets wat my pa dikwels gesê het, naamlik dat ’n boom “houtgeworde tyd” is. Ek het altyd gevoel daar is potensiaal vir ’n gedig daarin, hetsy in die frase of die idee. Maar soos sekerlik vir baie ander digters ook, moet ek soms vir die gedig wag. Die idee moet sy tentakeltjies uitsteek om ander gedagtes nader te trek en daar moet ’n sterker gedagtegang ontwikkel wat ’n gedig kan dra. En hierdie een het lank op hom laat wag.

Soms kom gedigte wel onmiddellik in mens se kop. Die reeksie “Vierluik” het ek in een worp op ’n Sondagoggend in die bed op ’n stukkie papier neergeskryf en ek was self verbaas toe ek agterna besef ek wil en het ook inderdaad geen woord verder daaraan verander nie.

Maar hierdie gedig het uitgegroei rondom die sentrale frase wat vir my verband hou met tyd, met insig en besinning, met herinnering, met interpretasie en met die onvermoë en onmag om regtig te weet en te verstaan.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het  by die eerste neerskryf reeds die basiese vorm van die finale versie gehad, die fases van die argument en die metaforiek. Ek broei hoofsaaklik in my kop met ’n gedig, raak eintlik liggies besete met die idee en die woorde en dit maal eers in my kop tot ek besef daar is ’n vorm, of die woorde en die idee en ’n bepaalde formaat het mekaar gevind. In hierdie fase van ’n gedig dink ek op ’n onderlaag van my brein eintlik aanmekaar daaraan en eers as ek dit neergeskryf het, kan ek ontspan.

Maar ek het wel aan die gedig geskaaf, natuurlik afgeskaaf, want aanvanklik skryf mens maar alles neer wat moontlik ’n plek moet kry.   Die werkstitels was opeenvolgend “Nuus”, daarna “ Boodskap” en “Boodskapdraer” maar dit kon uiteraard nie die gedig se titel wees nie. Sulke werkstitels is eerder vir myself ’n aanduiding van die onderliggende gedagte en natuurlik ’n manier om die gedig weer in die rekenaar te kan opspoor.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die impuls vir die gedig, vermoed ek, het ek ingekry, dit is vir my in die woorde van die frase “houtgeworde tyd” ingegee want dit is die frase wat my oor jare gekwel het. Die woorde was dus ’n latente inhoud in my denke vir ’n lang tyd. Maar toe ek die  tentakelraamwerkie raakgedink het, het dit relatief vinnig ontwikkel tot by die neerskryf. Die afronding het ook pynloos verloop.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die ontwikkeling van die gedagtegang was in hierdie gedig vir my belangrik. Die vormgewing is vir my altyd baie belangrik want vorm dra immers ook betekenis  – dit is wat ek trouens oor jare vir studente geleer het en eintlik weet ek nie meer wat ek self weet en waarmee ek myself via slimmer literêre geeste en skrywers geïndoktrineer het nie. Maar dit is wat vir my werk in ’n gedig en as die vorm en die inhoud mekaar nie ondersteun en uitbou nie (op watter gewone óf alternatiese wyse ook al), voel ek as leser van ’n gedig gekul.

Wat uit die materiaal vir my na vore gekom het, was die gang van tyd, die tyd wat nodig is vir besinning en begrip. En hierdie verloop van tyd het die inhoud en vorm van die gedig beïnvloed. Daarom is daar in die gedig lang sinne, ook parentetiese sinne wat half natuurlik gebeur het na aanleiding van die gedagtegang. Dit was aanvanklik ook erger maar ek het dit wel bietjie meer lesersvriendelik gemaak. Daar is ook ’n narratiewe lyn in ’n gedeelte van die gedig, naamlik die neskrywing van die maak van ’n fluit, maar die fluite en die maakproses slaan vir my nie net op die fluite nie. Dit dui ook op die onderliggende proses wat aan die kreatiewe handeling voorafgaan. Nie dat mens alles hoef te verstaan nie, juis nie, maar die besinning en ryping is vir my nodig.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek het nie regtig “’n eerste leser nie”, maar daar is vriende (partykeer Joan Hambidge) en ook van my jonger kollegas (soos Phil van Schalkwyk) aan wie ek soms ’n gedig sal wys. As mens mos daardie eerste klaargeskryfde produkkie so aankyk, wil jy dit deel, want al sê mense wat, taal en skryf het met kommunikasie te make. Ek kan nie onthou vir wie ek hierdie gedig aanvanklik gewys het nie, maar in ’n later stadium het T.T.Cloete dit gelees en nogal baie daarvan gehou.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Hierdie gedig het nêrens anders verskyn voordat dit in die bundel opgeneem is nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Interessant genoeg het die vers op verskeie vlakke met feit en fiksie te make. Soos ek hierbo verduidelik het, het my pa by geleentheid die frase “houtgeworde tyd” gebruik om ’n boom te beskryf. Dit is dus seker ’n feit. Dat ons as kinders pampoenfluite gemaak het, is ook ’n feit. My ouers het ’n groot erf in ’n voorstad gehad met ’n yslike groente- en vrugtetuin en daar kon sterk pampoenplante welig en wyd groei. Daardie dik blaarstingels het lekker fluite gemaak, ook jou mond erg laat brand na ’n rukkie. Dis ook ’n feit. My pa het ook altyd gespot en gesê ’n lywige agenda met baie bylae (soos byvoorbeeld op ’n sinode, wat hy, nadat hy as onderwyser afgetree het, ’n paar keer bygewoon het), is soos ’n pampoen wat hier groei en sy pampoene drie erwe verderaan dra. Dit het ek ook gesteel, maar anders gebruik.

Maar die gedig gaan vir my ook oor beriggewing in verskillende vorme en die oppervlakkigheid van nuus en verslaggewing. As jy onmiddellik reageer, kan jy ’n hard en duidelike, maar ongesofistikeerde en dikwels verkeerde boodskap oordra, want insig neem tyd. In die tyd waarin ons leef, is dit ongelukkig dikwels die een wat die hardste en vinnigste skree (veral in die media) wat die beste gehoor word. Die onmiddellike reaksie kan egter ’n fiksie wees omdat dit naïef en onbedag bly of slegs vanuit een hoek aangebied word; vir my lyk dit eerder of ’n feit relatief onbepaalbaar is en die volle implikasies daarvan inderwaarheid meestal ontoeganklik is en bly.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Wat ek nou net hierbo gesê het, is een aspek van die gedig, maar ek sou tog dink of hoop dat die gedig ook en dalk veral ’n poëtikale gedig is en dat dit raakgelees sal word. As ’n saak belangrik is, of ernstig, of kontensieus, is dit selde eenvoudig en dit neem tyd en besinning om woorde daarvoor te vind. Hierdie proses is egter nie bepaalbaar of voorspelbaar nie – daar is baie soorte bome en net party se hout is geskik om fluite van te maak; uit die hele boom moet die fluitmaker met ’n kennersoog die regte strook fyn en digte hout uitsoek; die fluitmaker moet dan ook maak sy vaardigheid gebruik om die fluit te maak. Die fluitspeler moet die instrument toets en goed gebruik. Die onsekere grense en selfs die lukrake aard van al sulke prosesse is vanselfsprekend – dit word gebruik, maar dit gebeur ook vanself.

In teenstelling met die luide en selfversekerde oordele en uitsprake van die daaglikse nuus en van byvoorbeeld politici wat alles oorvereenvoudig, werk die digter se kop anders. Sy weet nie wat groei in haar nie, sy weet nie vooraf wat bruikbaar gaan wees nie en sy moet wag vir tyd en vir groei. Want uiteindelik raak alles aan alles en in elke woord is ’n wêreld van ervaring en betekenismoontlikhede opgeslote.

Uiteindelik gaan dit ook oor die ontvanger van die gedig of enige ander kunswerk: daar moet ’n “toegeneë” oor wees; dit verg ’n bepaalde ingesteldheid om hierdie soort kommunikasie te verstaan of te wil verstaan. Ons leef in ’n tyd van direkte een-tot-een-betekenis, van kitsinligting en “one-liners” asof die lewe op te som is of saam te trek is in slagspreuke en wysneusighede. Hierdie gedig is oner meer my klein protes daarteen.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Vanselfsprekend speel musiek hier ’n belangrike rol. Dit is dalk ook ’n feit onderliggend aan die gedig: as kind het ek werklik elke dag urelank klavier geoefen en die grenslose, uitwaaierende, suggestieryke, intuïtiewe en terselfdertyd, in die sin van verhoogde bewussyn, hoogsbewuste manier waarop musiek kommunikeer, het, dink ek, gewoon deel geword van die manier waarop ek dink, verstaan, luister en funksioneer. Maar dit gaan om die musiek as soortlike verskynsel en nie oor ’n bepaalde stuk musiek nie.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Ek glo nie. Dit voel vir my eerder asof die materiaal waarmee ek werk my gespreksgenoot is. Maar soos ek reeds gesê het, mens wil dit wel uiteindelik deel.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Die gedig is dalk meer uitgesponne, want ek verkies meestal ’n gestroopte vers. Maar dit pla my nie want ek bly daarby dat die stof van ’n gedig sy vorm medebepaal. Hierdie gedig gaan oor prosesse en is dus self ook ’n prosesmatige vers. Jy kan tog nie die verskeidenheid van die lewe en ervarings in een formaat of styl probeer indwing nie.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die gedig is in sy geheel ingegee deur dinge wat Suid-Afrikaans is, deur my lewe in hierdie land, in hierdie ruimtes en in hierdie omstandighede. Jy kan sê dat as ’n versweë voorveronderstelling die kleure, die lig en die atmosfeer van hierdie land asemhaal in die gedig. Ook die kommentaar is dalk verskuil, maar vir my as digter is dit daar of ander dit raaklees of nie. Die raaklees deur ander mense is immers net die digter se droom en ideaal. Buitendien moet al die gedigte in die bundel ook saamgelees word om van die deurlopende temas en lyne bewus te word. En ons almal weet hoe min mense poësie lees, en hoe nog minder dit deeglik lees.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Die gedig is miskien tog wel afgehandel. Iewers moet mens selfs  jou kinders groet. Sekerlik sou nog ’n herwerkproses iewers ’n woord of wat kon verander, maar perfeksie is ook soms vervelig. Dit is dus goed so en ek laat die gedig daar, want daar is nuwe gedagtes wat gedink moet word. Buitendien sê die gedig aan die einde darem self dat die note net |nader aan die ongekende” sal swewe. Dit is dus geen absolute stelling nie – in poëtiese terme het die gedig ’n oop einde.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Oor die spesifieke gedig het min mense nog iets gesê. Dit was aanvanklik aan die begin van die bundel net na die gedig “Die vrou en die veer” geplaas om as poëtikale gedig daarby aan te sluit. Toe dink ek weer, nee, dit is te veel en te erg. Spaar die lesers en spasieer die langer gedigte. Nou staan die gedig dalk ’n bietjie weggesteek, maar dit vorm vir my wel ’n bruggie tussen gedigte wat ek as nogal bietjie betrokke beskou in die voorafgaande afdeling en die persoonlike maar, vir my, werklik ernstige besinnende verse wat daarop volg.

’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Die werklike poëtiese sondes van my jeug is genadiglik in klein boekies iewers in my studeerkamer se kaste en rakke bedolwe. Ek het soos alle woord-benewelde adolessente gedigte geskryf, maar ek het nooit regtig na hierdie pogings teruggekeer nie. Daarna het my lewe ’n narratiewe rigting ingeslaan, in die werklikheid met ’n huis en kinders, en in my werk met navorsing oor die prosakuns.  Ek het altyd gedink ek sou stories skryf en daarvan is daar ook inderdaad ’n paar in kaste en rakke bedolwe.

In die aanloop na die verkiesing van 1994 was ek, soos almal in die land, baie bewus van die geweldige onderliggende spanning en die kompleksiteit daarvan. Dit het vir my gevoel mens kan nie daaroor stories skryf nie, nog nie, want dit was nog te naby. Die lyne en onderskeidings was te moeilik en verwarrend soos wat die geweld toegeneem het. Om die verloop van ’n verhaal te kan natrek, sou meer afstand en tyd verg. Maar jy dink wel oor alles en raak saam met almal afwisselend terneergedruk en hoopvol en hierdie konflikterende gedagtes soek uiting. Vir my het hierdie uiting asof vanself in die vorm van poësie gekom.

In die winter van 1993 moes ons na die Noorde toe ry vir ’n sportgeleentheid van een van ons kinders en dit was ontsettend droog. Die land was, so ver as wat ons gery het, bar en dor en kleurloos uitgedroog en toe ons tuiskom, het ek die gedig “Wintervloekpsalm” geskryf wat die derde gedig in my eerste bundel is. Ek beskou dit as my eerste formele, want uiteindelik openbare, poging tot ’n gedig – dit is eers as brokstukkies neergeskryf en later aanmekaargelas.

Ek het, soos wat ek nou nog doen as ek besig is om ’n gedig te skryf, vir myself gesê: “Skryf net soos wat jy voel en wat jy dink. Niemand anders hoef dit tog te sien nie. Jy kan altyd agterna daaraan werk of dit weggooi of uitvee. Dit gaan nie nou om wat ander kan of gaan dink nie, dis nie ’n kompetisie of ’n eksamen nie. Dit gaan daarom dat jy nou hierdie gedagtes uit jou gees uitkry en hulle aan die papier toevertrou. Papier kan dit dra en jy kan tot rus kom omdat jy dit nie langer hoef te onthou nie.”

Nou klink hierdie gedig vir my vreeslik depressief want daardie geweld het wel ontspan en in ’n mate opgelos en die verkiesing was uiteindelik ’n euforiese geleentheid, maar die emosie is wel onherroeplik en ongesensureerd vasgevang en opgeteken. Vir wat dit werd is, is dit eg beleef.

Wintervloekpsalm

Augustus 1993

 

Hoekom is my huis hier?

Hier waar net die hardste hardes hou

waar winterstamme swart

en skeletaal strak staan

en dorings van die dorste dorte wit?

 

Waarvoor moet ek dankbaar wees?

Geel bolblomme aan die wattel

wat vervuil

roes aan die harde blare

van die anderlandse sipres

donker winterbrand in ’n metaalbal

van harde lig

 

alles en almal vas omsluit

deur donker haat wat skroei

die enigste geilheid mense wat bloei?

 

*

 

Julle bome het so baie blare

–         sê ek vir my Nederlandse vriend –
syig sag en soepel
die hemel ’n wolgrys koepel.

 

By ons is blare klein en hard

bros tussen dorings en droë bas

net soos ons verknot van die las.

 

By ons staan die takke stug en styf

saans teen die vuilpers lug

vergrysde gedaantes, perser as sug

die somber verdigting van lig.

 

*

 

En selfs as die koue se kilheid breek

dan hóú die wintersheid steeds

die landskap in sy greep

 

sodat die lente geel en bleek drup

aan die takke van die treurmoerbeiboom

en sielige ylgroen yslig beef

in die winterwilgerlaan.

 

*

 

Al die veld is nie vrolik nie

al die voëltjies sing nie

die kriekies kriek nie daar buite nie

en die sprinkaan se poot is af

 

hy hink en hy hink oor die land

deur die land

die hele land

 

want die land

is kafgedraf.

 

 *

(c) Heilna du Plooy / November 2014

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.