Posts Tagged ‘Diffraksie’

Susan Smith. By die sien: kennisname en kennisskepping

Tuesday, May 5th, 2015

Ek het my die afgelope tyd met ekokritiek en veral ekopoësie doenig gehou en met groot opwinding ’n literatuurkritiese en ekofilosofiese teorieruimte ontdek wat tot talle nuwe insigte lei. Wat my egter veral opval is dat die internasionale kritici hulself meestal met teorie besig hou, terwyl hulle weinig aandag gee aan die toepassingsmoontlikhede binne die literatuur. Dit is iets wat ek tot dusver juis op gefokus het in enkele van my navorsingsartikels.1 Ek vra myself die volgende vrae: Hoe lyk die groen gedig? Op watter wyse vind aspekte van die nuwe materialiteit neerslag in ’n bepaalde gedig? Hoe werk intra-aksie in die teks? Wat is die konneksie tussen die menslike en die niemenslike wêreld?

Soos dit maar gaan, neem my leeswerk my op interessante paaie. In ’n onlangse artikel van Serenella Iovino praat sy van “participative rupture” (2015:73), ’n term wat my verbeelding aangegryp het. Sy beskryf ’n proses wat deel uitmaak van ’n breër konsep, naamlik “diffractions of matter”. Donna Haraway (1997:14) definieer diffraksie as “producing a participative rupture in the linearity of the single elements’ performative properties”. Om by diffraksie uit  te kom, en boonop te sien hoe dit in ’n gedig manifesteer, moet ek die storie ’n entjie terug gaan haal.

Die ekokritiek – en meer spesifiek die nuwe materialiteit – ondersoek nie net materie en die meer-as-menslike wêreld in tekste nie, maar ook materie as tekste. Dus, die wyse waarop materie self uitdrukking gee aan hul eie konkrete realiteit deur interaksie met mekaar en met die menslike dimensie, en konfigurasies van betekenis en diskoers produseer wat ons as stories kan interpreteer (Iovino 2015:71). In ’n vorige artikel (Smith 2012:893,928) het ek reeds die term “storying matters” oftewel verhalende materie voorgestel, in aansluiting by Iovino (2012:136) se term van “storied matter” – die vertelling wat deur bemiddeling van die mens oorgedra word. John Felstiner sê “nature itself wants in on the storytelling” (2009:337). 

Ook David Abram sluit in sy seminale teks, Becoming Animal (2010) hierby aan met sy ekofenomenologiese benadering wat gesien kan word as ’n sensoriese en sensuele bewustheid van die deelnemende en aandaggewende aard van die mens se bestaan as deel van die meer-as-menslike wêreld en hoe hierdie wêreld sigself uitdruk (2010:7, 11). Karen Barad (2007:3) redeneer dat materie en betekenis nie van mekaar geskei kan word nie. Ons is nie buitestaanders wat die wêreld waarneem nie; ons is ook nie maar toevallig op ’n bepaalde plek in die wêreld nie – ons is deel van die wêreld in sy totaliteit van intra-aktiwiteit. Ons kyk en neem kennis, en om te weet is om intra-aktief betrokke te wees. Elke aksie van kennisname is ’n kognitiewe toe-eiening wat patrone van ingryping of tussenkoms en uiteindelike kennisskepping.  Die vraag ontstaan: hoe neem die digter deel aan die uitdrukking van die meer-as-menslike wêreld? 

Wat my by diffraksie bring: ’n deelnemende skeuring/breuk in die lineariteit van individuele elemente se eienskappe. Diffraksie word binne hierdie konteks deur Karen Barad (2003:803) gesien as die teenoorgestelde van refleksie. Volgens Barad is laasgenoemde slegs ’n herhaling op ’n ander plek, terwyl diffraksie elemente op ’n nuwe wyse kombineer wat nuwe eksperimentele voorwaardes tot stand bring. Deelname geskied intra-materieel: materie-betekenis en dus materie-diskoers, wat die mens insluit, word geproduseer. Om te weet is volgens haar om op direkte wyse met materie betrokke te raak, om te besef dat subjekte en objekte verweef is met mekaar en dat objektiwiteit ook te make het met ’n verantwoordelikheid teenoor die verweefdhede waarvan ons deel is. Dit dan, ’n baie oorsigtelike en voorlopige kennismaking met diffraksie.  

Die volgende stap sal wees om deelnemende betekenisskepping en diffraksie aan die hand van ’n gedig te probeer nagaan. Marlene van Niekerk laat die volgende gedig as kommentaar by myPoolshoogtegesprek(2014) op LitNet oor ekokritiek wat, sover ek weet, nêrens anders gepubliseer is nie:  

Dubbelportret: mens/duif 

Om so op riwwe van sink af te wiek uit die takke
van wilde-amandel, om kloek en versigtig,
soos betaamlik vir een met bloedweinig kans
in die groter verband, eers net te kýk wat aangaan,
lugtig na links en regs –  want weerskant sit
nou eenmaal die oë – besorg hoofbrekens.
Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
’n ander opeens die blik te ontmoet. Eenmalig
in beider heugenis droog verjaging of skrik
die oognat nie uit nie. Pupille ondergaan momenteel
’n stil, gespieëlde gradasie van aftas, takseer
en herkenning, daarna, onverbloembaar
’n verwyding tot reslose adorasie. Veral betref
dit die swart, vorentoe lekkende traan, die git
op die nek –  houtskool geduim op gebleikte
maroen – wat die voël vir sigself uit die kaatsing
verhaal. Knipvliese open en sluit simultaan
oor die rondings weerskant die vlak indentasie
in die front. Kontoer word dubbel bewonder,
lyn, dressuur, balans van stertpunt, pote.
Vliegwerk, russtand dring aan op  begrip
deur ’n vogtige transsubstansie –  één lyding,
één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
van duif. Skigtig volg dan ’n eerste notasie, ferm
geskrap, voorts ’n getortel wat die indamp
van lig op mat pluimasie uit die vingers wil speel,
en terselfdertyd bind.  Maagkiesel, grit, slegs
’n vlugtige por vir die uitgee van kropmelk,
is dit nie die kuns van ’n skets nie? Bly sit lank genoeg,
word gevra, bly sit, want die kleur is onsegbaar,
die subtielste vilet van die skemer, rooidag
gegrys tot kripsis onder skaduweeblare.
En dan die verplompte knikkoppende tred,
uit onder takke van wilde-amandel,
reg in die val van die hoognoenson op die dak,
die trant van ontwapening, wedersyds,
en, voorlopig, die onderling uitgestelde afskeid.
 

(Gedig en foto: Marlene van Niekerk/LitNet Poolshoogte)

In hierdie gedig neem ek iets waar van difraksie en ’n deelnemende breuk in verwagte lineariteit van die gedig wanneer die verwagte perspektief van mens=waarnemer/duif=waargeneemde omvergewerp word. In die gedig kyk die digter na die omringende wêreld, in hierdie geval die duif, en benoem dit: kennisname vind plaas. Die digter is intra-aktief betrokke by die duif deur haar deelnemende betekenisskepping wat dus ook kennisskepping tot gevolg het. Die digter se reaksie, in die vorm van haar gedig, is meer as net die daarstelling van ’n refleksie van die duif – dit veronderstel ’n verdere kennisskepping en ’n wyse waarop die digter elemente op ’n nuwe manier kombineer, wat nuwe ervaringsmoontlikhede produseer – dus, diffraksie. Die leser se fokus word gevra op die kykproses van beide die duif en die digter, waarmee die ervaring van die leser eweneens verruim word en die leser ook deelneem aan die nuwe betekenisskepping.  

In die kyk (deur die duif) herken die duif sigself in die digter/refleksie/portret en die digter haarself as “mensdier” in die duif: 

… één lyding,
één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
van duif.

Deur middel van “transsubstansie” ervaar die digter ’n eenheidsgevoel met die duif. Transsubstansie kan ook vertaal word met transmaterie, die uitruil tussen materie en materie – in hierdie geval die uitruil tussen mens en duif.  

Die effek van ’n “dubbelportret” word geskep: meer as refleksie, is die digter van die duif. Meer as refleksie (in die konteks van Barad se definisie van die begrip), is die omringende materie in die oë van die deelnemende digter. Die suggestie van die skeppingsproses word tot stand gebring deur die digter wat beide portretteer en selfportretteer is deur die verwoording van die digtersblik na buite en die verwoording van die duifblik op die digter na binne. Ook die duif is betrokke in ’n dubbelproses: die duif eien sigself en word verdubbel in die refleksie van die ruit én sien die “mensdier” daaragter. Die duif word ook verdubbel deur inskrywing in die gedig.  

Die elemente van verdubbeling en refleksie, wat deurlopend in die gedig voorkom (“Dubbelportret”, “weerskant”, “gespieëlde”, “sigself uit die kaatsing / verhaal”, “dubbel bewonder” en “wedersyds”) herinner aan Elisabeth Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” waarin die dubbelbeeld van die swaan beskryf word en wat hier as interteks optree.  

Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:

Gesplete hart van hals en dubbelhals,

Geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,

Geslote snawel dynserig vervals

Met eenkant lug en water anderkant. (Brink 2008:243)

In die Eybersgedig bly die blik egter op die objekte gevestig (die swaan en die twee kleuters), terwyl Van Niekerk se gedig die duif self as medewaarnemer daarstel, en daarmee dus diffraksie bewerkstellig en die bekende elemente (duif, digter-kunstenaar-kyker) op so ’n wyse kombineer dat nuwe voorwaardes en betekenisskepping tot stand kom. 

In die deelnemende kennisname en kennisskepping word ’n kunswerk geproduseer: die intense beskrywing van kleur is ’n verdere herhalende motief in die gedig: “git op die nek”, “houtskool geduim op gebleikte maroen”, “die subtielste filet van die skemer” en die “rooidag gegrys”. Die woord “skets” dui enersyds op die proses waarmee die digter deur middel van woorde besig is om vinnig die voorkoms van die duif vas te lê, en sy vind uiteindelik dat kleur “onsegbaar is”, maar kan op ’n volgende vlak ook aanduidend wees van ’n kunstenaarsproses waardeur die duif tot visuele kunswerk gemaak word. 

Die woorde “deursigtig geraam” laat die suggestie van ’n vensterraam (waardeur die “mensdier” na die duif kyk), maar verwys ook na die raam van ’n portret. Deur die wedersydse kykproses is beide mens en duif vir mekaar “geraam”.  

Interessant in hierdie gedig is die gebruik van die woord “ander”, wat altyd gelade is.  

Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
’n ander opeens die blik te ontmoet.

Die suggestie word gelaat dat die “mensdier” die ander is – die ander van die duif, wat interessante gevolge inhou deur nie net die ekokritiese siening van die niemenslike wêreld as die ander te sien nie, maar dan ook die bordjies te verhang en die dier/duif as Self te sien, terwyl die mens in hierdie geval die Ander word, op die periferie, vanuit die perspektief van die duif.  

Uiteindelik gaan dit oor sien. Ek hou van John Felstiner (2009:19-23) se kommentaar wat hierby aansluit: die idee dat die digter die omringende wêreld  opnuut benoem/van naam voorsien en daardeur as ‘t ware deelneem aan die eerste skeppingsaksie en die daaropvolgende benoemingsaksie van Adam. Om te kyk, om vir ’n oomblik te begryp, te noem, terselfdertyd onbegrip toe te gee. Dit bly steeds die rol van die digter. 

Om te sien is dus om deel te neem. Dit is beide kennisname en kennisskepping.

 

5 Mei 2015

____

1My artikels oor ekokritiek en ekopoësie is

Die aard van ekokritiek,Plek en ingeplaaste skryf en

Ekokritiek en die nuwe materialisme(verkorte titels).

 

Bibliografie

Abram, D. 2010. Becoming Animal: An Earthly Cosmology. New York: Pantheon.

Barad, K. 2007. Meeting the Universe Halfway: Quantum Physics and the Entanglement of Matter and Meaning. Durham: Duke University Press.

Barad, K. 2003. Posthumanist Performativity: Toward an Understanding of How Matter Comes to Matter. SIGNS, 28(3).

Brink, A.P.  2008. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Felstiner, J. 2009. Can poetry save the earth? A field guide to nature poems. Yale: Yale University Press.

Haraway, D. 1997. Modest Witness@Second Millennium. FemaleMan©MeetsOnco-Mouse™: Feminism and Technoscience. New York: Routledge. 

Iovino, S. 2015. “The Living Diffractions of Matter and Text: Narrative Agency, Strategic Anthropomorphism, and how Interpretation Works”. Anglia, 133(1): 69–86. 

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “New Materialism” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45. 

Smith, S. 2014. Die tasbaarheid en die on(aan)tasbaarheid van literatuurteorie: ekokritiek en die nuwe materialisme. LitNet Poolshoogte. Internet:

http://www.litnet.co.za/Article/poolshoogte-die-tasbaarheid-en-die-onaantasbaarheid-van-literatuurteorie-ekokritiek.(Afgelaai 1 Mei  2015). 

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3).