Posts Tagged ‘Digstring Bibi Slippers’

Digstring: Yskas (Bibi Slippers)

Monday, November 6th, 2017

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig


.

3. Yskas

     Let’s hear what you think of me now, but baby don’t look up / The sky is falling. – Tori Amos

.

haar oorlog teen die ys

het op ’n sonskyndag begin

 

toe sy bruin oë skielik blou was

 

hulle yskas

was meer wit meer teenwoordig

en twee grade

kouer

 

sy het ’n affodil-tattoo gekry en soms

bedags by die huis begin bly

om te voel hoe die kamers koeler word

om ’n oog te hou

op die yskas

 

haar oorlog teen die ys

het op ’n sonskyndag begin

 

snags het sy die yskas hoor

rammel en roggel

’n kil gekoggel waarvoor hy

doof was met sy blou oë wat

eers bruin was

 

sy kon nooit meer slaap nie

toe brei sy maar serpe en hekel

komberse

die yskas

het tergend aanhou snerp

 

haar oorlog teen die ys

het op ’n sonskyndag begin

en op ’n sondag geëindig

 

hy het haar op die vloer gekry

halfverkluim en opgebaklei

teen die ys

teen die yskas

 

sy het afsydig vir hom geglimlag

haar tande meer wit meer teenwoordig

haar groen oë grys

haar affodil-tattoo

nou ysbeer

 

[© bibi slippers]

.

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Terwyl ek gewerk het aan die manuskrip wat uiteindelik Fotostaatmasjien sou word. Ek wou ’n reeks gedigte skryf wat “covers” is, in die styl van liedjieskrywers wat ek bewonder, en ’n mix-tape van hierdie gedig-covers-van-liedjies in die bundel insluit.

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Relatief vinnig, in vergelyking met van die ander wat letterlik jare geneem het om hulle uiteindelike vorm te vind. Hierdie een het verskeie klein veranderinge ondergaan, maar die basiese idee was van die begin af daar, en ek moes net bly sit en seker maak dat die idee plus minus dieselfde op die papier lyk en voel as wat dit in my geestesoog gelyk het.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Nie te veel gesweet nie. Daar is ’n bietjie van ’n narratiewe kwaliteit aan dié gedig, en gewoonlik is die gedigte vir my bietjie makliker as hulle ’n storie vertel wat ’n duidelike begin, middel en einde het.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek het probeer om die vreemdheid van Tori Amos se musiek en lirieke in die vers vas te vang, maar dis die enigste beginsel waarvolgens ek hier geskryf het. Terwyl ek geskryf het, het ek oor-en-oor na haar liedjie “Silent all these years” geluister, en probeer om ook iets van die ritme daarvan in die vers in te werk.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek het baie onseker gevoel oor die reeks verse, en hulle vir Loftus Marais gewys om te hoor of hy dink hulle is die moeite werd om verder te slyp. Hy was entoesiasties oor van die verse in die reeks, en ek dink hierdie was een van hulle, as ek reg onthou…

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit het die eerste maal die lig gesien toe Fotostaatmasjien in 2016 gepubliseer is.

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die emosionele impuls vir hierdie gedig het uit ’n werklike insident ontstaan: ek was besig om die yskas in ’n destydse geliefde se huis te ontvries en skoon te maak, toe die beeld van iemand wat op die vloer lê voor ’n yskas by my opgekom het, en ook ’n baie droewige gevoel daarmee saam. Die gedig is egter eers 5 jaar later geskryf, en alles in die “storie” wat vertel word is opgemaak, maar die emosionele kern van die ding is die reine waarheid.

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Ek dink dit gaan oor ’n romantiese verhouding wat stadig afkoel totdat die twee mense onredbaar koud teenoor mekaar staan.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Tori Amos se musiek het my gehelp om die beeld en emosionele kern te gelei na die papier. Ek dink ek het dalk voorheen halfhartige pogings aangewend om hierdie gedig te skryf, maar eers toe ek dit onder die invloed van Tori Amos gedoen het, het dit begin werk. Daar was ’n ander poging tot ‘n Tori Amos-gedig, wat iets met ‘n baddery of ’n domestic meermin te doen gehad het – maar op die ou end is dit die yskas en die ysbeer wat geskryf wou word. Die meermin wag seker nog vir ’n meer geskikte geleier.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Hmmmm, nee. Ek weet ek moes al voorheen hierdie vraag antwoord, en nou kan ek nie onthou wat ek die vorige keer gesê het nie? Ek dink ek probeer maar die soort vers skryf wat ek graag sou wou lees, en ek dink iets in my wonder ook altyd of Loftus daarvan sal hou.

Onlangs het ek ‘n essay van George Saunders gelees waarin hy baie mooi skryf oor die skrywer wat die leser in die verbeelding oproep, dat die ideale leser die rede is waarom mens probeer om jou eie skryfwerk te verbeter:

This mode of revision, then, is ultimately about imagining that your reader is as humane, bright, witty, experienced and well intentioned as you, and that, to communicate intimately with her, you have to maintain the state, through revision, of generously imagining her. You revise your reader up, in your imagination, with every pass. You keep saying to yourself: “No, she’s smarter than that. Don’t dishonour her with that lazy prose or that easy notion.”

Die essay is hier te lese: https://www.theguardian.com/books/2017/mar/04/what-writers-really-do-when-they-write

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis ’n bietjie meer van ’n tradisionele narratief, dink ek? Andersins, as ek dit nou so vinnig lees, is dit eintlik nogal baie soos die ander.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, ek dink nie so nie. Dalk is die yskas in my verbeelding ’n tipiese Afrikaanse een J

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek dink ek was redelik tevrede. Dit voel klaar.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Die feit dat Andries Bezuidenhout van hierdie gedig hou is vir my die grootste kompliment.

  1. ‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Oe, ek het vreeslik graag as kind rympies gepleeg, maar dis veiliger as ons eerder nie hieroor praat nie.

.

***

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.