Posts Tagged ‘Digstring Corné Coetzee’

Digstring: Doekvoet (Corné Coetzee)

Wednesday, October 25th, 2017

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

.

Doekvoet

 

As jy nog vir doekvoet wil groet,

ou doekvoet met die glimlagstreep,

moet jy aanstaltes maak.

 

Gaan dadelik, al is dit laat,

ver, tot diep in die dorsland,

tot by die digte naat van ’n droë rivierloop,

soek ’n uitkykklip,

wag.

 

Kort voor dagbreek, wanneer jy begin raai:

hier is ’n struik, daar ’n klip,

sal doekvoet dalk

regop onder ’n Suidwesdoring sit,

klein, skaars twee hande vol,

haar swart glimlag luiters,

haar ore fyn skottels waardeur die rooison netnou glim.

 

Sy sal kom soek vir draaibos en ganna en ankerkaroo,

snuif aan bitterbos en riet

en omdraai en op haar harige voete

berustend

langs die loop afspring

 

en jy sal uitasem

en ver kyk, hartseer.

 

Maar gaan liewer nie.

Sou jy lank genoeg stilsit, doodstil, klipstil,

sodat jy stom word,

deur die dag tot kraanvoëls

in klein formasie koer en kir,

die ganse lug vlamgoud waai,

kleure van kriedoring en klip en grond

diep word

en stadig die donker bewillig,

 

en deur die nag

terwyl sterre oor jou uitsif,

die wilde geur van boegoe en salie en kapok

’n stil pryslied

totdat jy die mantel van die aarde hoor ruis,

 

kan jy wortelskiet, vasraak,

en tyd sal sy hek vir jou oopmaak.

 

Dan sal jy die vleiland rondom jou sien tot by die einders,

druppende biesies en varing en mos

en voorvaders van die likkewaan en skilpad

oopbek, waggelend.

Jy sal die son sien opkom en ondergaan

en die wind voel na die suide waai en na die noorde draai;

 

jy sal vure sien brand en droogte, en sand,

jy sal skerpioen sien en slang,

kwagga en bloubok en klein, ligvoetmense

en rustig en glimlaggend, doekvoetvolk.

 

Jy sal die goue kleed van die aarde sien

en weet die bewoners besit haar nie.

Sy bring haar kinders voort,

sy laat hulle gaan,

en die een geslag ken die ander nie.

Sy ken jou, sy roep jou.

 

Jou groet is geen afskeid nie

maar omhelsing, kén.

 

(Uit: hier nou,  H&R 2017)

 

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Dis vroeg in 2017 geskryf en het ontstaan uit my belangstelling in die omgewing. As omgewingsjoernalis vir verbruikerstydskrifte het ek ’n artikel oor ’n bedreigde “Klein Vyf” ­ – ’n skilpad, seeperdjie, pikkewyn,  paddatjie in KwaZulu-Natal en die oewerkonyn of doekvoet – geskryf. Die navorsing daaroor was interessant en droewig neerdrukkend en was die eerste inligtingsbron en inspirasie vir “Doekvoet”.  Die Karoo hou al jare lank ’n groot bekoring vir my in al is ek net ’n sporadiese besoeker. Paul Miles het my vertel hoe ruik die Karoo in die nag. Dit alles het gewag om in ’n gedig saamgevoeg te word.

 

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit het dalk ’n paar weke geneem. By my is daar gewoonlik nie soseer weergawes nie as ’n proses, wat ek weet nog nie klaar is nie. Die proses bestaan uit ’n eerste, voorlopige, lang storie neerskryf en dan geleidelike snoei, sif, ritmes en weerklanke vind.

 

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Alles voel soos wroeg, maar dis maar dinkwerk, bymekaarmaak, speurwerk, soos byvoorbeeld om die etomologie van ’n woord na te lees – werk soos in “kuns-werk” in teenstelling met arbeid of labour. Die oewerkonyn het homself voor my kom plaas. Selfs die “gevonde voorwerpe”, soos die reëls uit Prediker en die Koran wat ek toevallig teegekom het, is opgesoek en in hul wyer konteks gelees en bedink (wat ’n pure plesier was) sodat hulle hul behoorlike plek kry in die gedig kon kry.

 

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die narratief in die gedig is redelik eenvoudig, dit is die (verbeelde) chronologie van Karoo toe  ry, stilhou, deur heinings klim en veld-in stap. Dan is daar die geologiese chronologie. Maar gesamentlik moes die hele gegewe ’n verdere laag betekenis hê. Dié kom van die begin af, ’n mens kan dit nie later byvoeg nie.

 

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek werk alleen aan ’n gedig tot ek meen hy’s klaar. In hierdie geval het ek wel wat ek gemeen het ’n voltooide gedig was vir Charl-Pierre Naudé gewys, wat voorgestel het dat ek die slotreël, as ek reg onthou, ’n slotwoord, verander.

 

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit is vroeër vanjaar geskryf en toe in die bundel gepubliseer.

 

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die feite is dat die oewerkonyn, vleihaas of doekvoet  kritiek bedreig word en dat sy natuurlike habitat drasties verskraal weens beweiding en indringerplante – menslike optrede dus. Die groter werklikheid is dat ons volgens wetenskaplikes reeds in die epog van die sesde of antroposene massa-uitwissing is – hoofsaaklik weens menslike optrede. Die “fiksie” neem die vorm van magiese realisme aan.

 

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit is ’n treurdig vir ’n spesifieke spesie wat gevaar loop om uit te sterf, maar betrek alle spesies, ook ons eie. Die “opdrag” aan die leser (“gaan dadelik, al is dit laat”) is eintlik ’n soort verwyt omdat dit nie nagekom sal word nie, want wie gaan dan nou opstaan en die oewerkonyn vaarwel toeroep? en wil terselfdertyd ’n dringendheid suggereer.  Dit is ’n pryslied aan die Karoo. Dit is ’n meewarige aanvaarding dat die aarde sal bly voortbestaan en lewe voortbring, al sal ons nie altyd hier wees nie.

 

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Ek vermoed ek het die eerste keer as kind van doekvoet gelees in Rikie Postma se kinderboek uit die 1920’s Elsie die veldkindjie, dalk daarom dat die oewerkonyn vir my ’n blye weersiens was toe ek uitvind een van sy ander name is doekvoet. Dan was daar Google, gesprekke met Bonnie Schumann van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se oewerkonynbewaringsprogram, Christpoher Lloyd se boek What on Earth Happened? en besoeke aan die James Kitching-fossielsentrum en die Ganora- fossielmuseum en -gasteplaas by Nieu Bethesda.

 

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Ek skryf vir myself, as ek dink oor hoe mense of lesers of ’n naamlose, kritiese “hulle” iets sal lees of begryp, du ek myself ferm terug na my eie oordeel.

 

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit is minder persoonlik as die meeste van die vroeë gedigte. Dit is langer, wat vir my ’n nuwe skryfervaring was. Gewoonlik reduseer ek, hier wou ek juis uitbrei, die net wyer gooi.

 

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die haas, die Nama-Karoo.

 

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek wens steeds vir ’n wonderbaarlike allesomvattende laaste woord, maar laat gaan die gedig nou, hy moet nou staan soos hy staan.

 

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Oor dié gedig het ek nog net Charl-Pierre se reaksie gekry, dit was positief, behalwe vir sy voorbehoud oor die laaste reël. Nelleke de Jager, my wonderlike redigeerder by H&R, het wel gemeen die gedig moet in die sterk laaste posisie staan in die bundel; sy het geen vrae daaroor gehad nie, dalk beteken dit sy hou daarvan. Oor die algemeen voel ek: As lesers daarvan hou, gaaf, as hulle nie daarvan hou nie, ook goed.

 

  1. ‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Op laerskool, op pad huis toe van die skool af. Ek het ’n tuinwerker op sy hurke sien onkruid uithaal. Ek was dalk agt jaar oud. Iets van die klonkie (ek is ’n kind van Verwoerd) sit/ in die tuin en spit,/ hy is seker baie fit. Iets het vir my gesê “fit” is nie reg nie. Ek het dit nietemin vir my ma opgesê en sy het gesê ek moet dit vir Die Jongspan stuur. Dit het eerstens ’n werkswyse aan die gang gesit wat ek nou nog van hou: om te stap en aan woorde te dink.  Omdat ek ontevrede was met die poging, ten spyte van die aanprysing, het ’n tweede gewoonte net daar begin, om niemand se oordeel te vertrou nie, behalwe my eie.

***

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.