Posts Tagged ‘Digstring Hennie Nortjé’

Digstring: Ons land (Hennie Nortjé)

Wednesday, September 25th, 2019

Digstring: Ons land (Hennie Nortjé)

__________________________________________________________________

 

Ons land

 

Hulle sê ons land

is ’n omgekeerde piering:

die afgeplatte bokant

alkant aan die afloop

na die grou gedreun van see.

Maar dit bly ’n bra verkapte beeld,

want noordwaarts vloei ’n hoëveld,

sonder veel afdraand, stewig

met ’n donker kontinent aaneen.

Boonop dateer ons land

van lank-lank voor die tyd

van breekgoed, boeretroos of tee.

Dalk is ons land

bloot ’n allemintig-groot amandelklip:

voorlangs deur ’n ruwe hand

geniepsig weggesplinter.

En wie weet hoe lank

die gebreek en geskuur

nog sal duur?

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek werk al sedert 2016 aan hierdie vers. Van tyd tot tyd tel ek amandelklippe op hier in die wingerde buite Stellenbosch. Die gespitste voorkant van hierdie oer-handbyle lyk nogal soos die kaart van Suid-Afrika. Die afgesplinterde rante stem boonop  ooreen met ons land se topografie: ’n binnelandse plato weerskant skerp aan die afloop na die kus. Of soos ek destyds in aardrykskunde geleer het: ’n omgekeerde piering. Die voordurende geologiese verwering van ons sub-kontinent herinner boonop aan die algemene agteruitgang wat ons tans moet verduur – hoe als wat eens vas was, wegsplinter of oorsee emigreer.

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Onderstaande is my eerste poging. Ek het die woorde en strofes wat mettertyd aan gekap sou word, onderstreep.

 My land

Hulle sê my land

is ‘n omgekeerde piering:

‘n verhewe, afgeplatte bokant

alkant aan die afloop

na die grou genadelose see.

Maar dit blyk ‘n erg verkapte beeld,

want noordwaarts vloei ‘n hoëveld,

sonder veel afdraend, stewig

in ‘n donker kontinent aaneen.

Boonop dateer my land

van lank-lank voor die tyd

van breekgoed, boeretroos of tee.

Dalk is my land

bloot ‘n allemintig-groot amandelklip

voorlangs deur ‘n ruwe hand

reeds erg weggesplinter

en vermoedelik word dag

en nag nog steeds daaraan geskuur.

Maar dan weer is my land deel van Afrika

en waar kry mens na die oer-ou dae

hier nog so ‘n flukse reus?

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die eerste poging was binne ure “klaar”. En ek was nogal in my noppies daarmee! Dit was dan tog so welluidend. En wat ’n pittige slot, wou ek myself op die skouer klop.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Soos bostaande.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

My vrou, Lettie luister met uitermatige geduld na elke vers. Sonder haar regmerkies kom ek nêrens nie.

Hester Carsten van Quellerie, was soos met my eerste bundel, die redaktrise van Kryt. Sy het die verandering in die titel van die gedig voorgestel en het ook uitgewys dat “verhewe” en “bokant” steurende herhalings is. Verder kon sy my welverdiend kapittel oor die woord “erg”, aanvanklik nogal twee keer gebruik!

Louis Esterhuizen het my deurlopend en ononbeerlik as tekspraktisyn bygestaan met hierdie bundel.

Hy het onder andere voorgestel dat ek drasties kap aan die slot. En so het ek maar soos ’n wafferse Homo erectus, aanhou hamer en skuur aan my handbylgedig.

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 So ’n week daarna, want Kryt moes klaar en dit was ’n sleutelgedig. Die “gebreekte” voorpunt pryk selfs op die agterplats (miskien ’n beter idee as ’n foto van die gehawende ou digter, of een of ander onverdiende aanprysing.)

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Dis als die nare waarheid, veral die retoriese vraag ten slotte. Gelukkig is my Afrika-pessimisme darem nie altyd so volkome nie

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Ek dink ek het dit grootliks reeds geantwoord: Dat ons land ’n omgekeerde piering is, is onlangse weer bevestig deur die vlaag van xenofobie – selfs die rondloperkatte word hulle lekseltjies melk ontneem, want elke drinkbak word soos vullisdromme omgesmyt en lê aan skerwe.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Hier digby ons woonplek, net voor die Adam Tasbrug buite die dorp, is die eerste bewys vir die aanwesigheid van prehistoriese mense in Suider-Afrika gevind. Dit word nou slegs gedenk deur ’n rots langs die Polkadraaipad, want die gedenkplaat is lankal reeds afgesteel; seker maar verkoop as skroot. Die inskripsie het glo gelui: “In a road makers borrow-pit here in 1899 Louis Peringuey made the first discovery of  ‘Stellenbosch’ stone implements and thereby proved the great antiquity of man in Southern Africa.” (En vir dekades lank wou die Eurosentriese antropoloë, die arme Peringuey nie glo dat die mens se oorsprong in Afrika is nie!) Inderdaad is ons, die mensdom, al van die begin af hier, en behendige klipwerkers en vindingryke geweldenaars van meet af.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee. Politici dalk, maar dan weer: digbundels verkoop al reeds so swak.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Hierdie gedig is die eerste van drie verse in die eerste afdeling van Kryt wat handel oor die progressiewe bewapening van die mens : “Uit die amandelklip”en “Gaia” verbeeld  vervolgens hoe ons “gevorder” het van die handbyl tot die atoombom.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Miskien die blywende humor te midde van al die negativisme?

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

‘n Mens is nooit 100% klaar nie.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Die eerste resensie oor Kryt onlangs deur Daniel Hugo was nogal positief. Ek het geen spesifieke terugvoering sover oor hierdie vers nie.

Dis egter duidelik dat geen een van my kennisse weet wat vir ‘n ding ’n amandelklip is nie.

  1. ’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek was in standerd sewe. Ons Afrikaans-juffrou, Lorainne (nooiensvan?), toe pas verloof aan die befaamde uitgewer en digter Charles Fryer, het ons geïnspireer om gedigte te skryf. My eerste vers ooit was juis ook ’n klip, naamlik daardie ikoniese ou platte in Kaapstad se agterplaas – uitermatig patrioties moet ek sê: “eat yout heart out”, Jan F. Celliers!

Tafelberg (Circa 1971)

.

Wie het jou kruin gelyk gemaak

daar waar dit aan die blou lug raak?

 

Waar kom jou grou-grys rots vandaan

daar waar dit bo die Kaapse Vlakte staan?

 

Dis die werk van ‘n Hoër Hand

ver bo die die mens se klein verstand,

 

want jy’s geskape uit die niet

geen mensekind kon dit gebied.

 

Hiervandaan is die beskawing heengedra

vanaf Tafelberg, trots van heel Suid-Afrika.

 

(soos julle kan sien, het ek die laaste halfeeu weinig indien enigsins gevorder!)

_________________________________________________________________

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.