Posts Tagged ‘DJ Opperman’

Jaco Barnard-Naudé. Poësie en abstraksie: Paul Valéry se Zaharoff-lesing*

Monday, November 7th, 2011
Paul Valéry

Paul Valéry

Hierdie lesing, wat die digter in 1939 aan die Universiteit van Oxford lewer, behels ‘n problematisering van die onderskeid tussen wysbegeerte en digkuns (of dan die abstrakte teenoor die konkrete). Valéry het dit teen ‘n representasie van hierdie onderskeid spesifiek as ‘n binêre teenoorgestelde: “We say ‘poetry and abstract thought’ as we say good and evil, vice and virtue, cold and hot.” (208) Hierdie voorstelling van die verhouding tussen filosofie en poësie is oorbekend in die konteks van die Afrikaanse digkuns. Dit geniet wye aanvaarding, slaafse navolging, selfs. Dit is geen toeval nie dat die onderskeid onlosmaaklik gekoppel word aan die naam van DJ Opperman - ‘n nom du père in ons digkuns - wat, so word tot vandag toe vertel, in die Letterkundige Laboratorium op Stellenbosch aspirant-digters gewaarsku het om van die filosofie / abstraksies weg te bly. Die waarskuwing is ook opgeteken in Opperman se oorsigtelike artikel in Tydskrif vir Letterkunde, 1978, geskryf ter gedenking van die Laboratorium se twintigste bestaansjaar.

Valéry beskou bogenoemde onderskeid as geheel en al oorvereenvoudig, ondeurdag en net te gerieflik: “I believe we have learned and accepted this contrast without forethought and find it firmly established in us to the stage of argument, as if it represented true, clear relation between two well defined notions.” (208) Valéry gaan voort en maak die volgende (moontlik kontroversiële stelling): “if the logician could never be anything but a logician, he would not and could not be a logician; and if the other were never anything but a poet, without the least hope of abstracting and reasoning, he would leave behind him no trace of poetry. I sincerely feel that if every man were not able to live a number of other lives than his own, he would not be able to live his own life.” (213) Voorts maak Valéry ‘n bruikbare onderskeid tussen die digterlike toestand (”state of poetry”) en die digter as sodanig. Die digterlike toestand is abnormaal, van verbygaande aard, willoos en breekbaar. En dit is hoegenaamd nie genoeg om ‘n digter op te lewer nie: “no more than it is enough to behold a treasure in our dreams and later find it, on waking, glittering at the foot of our bed.” (215) Valéry definieer die digter in terme van die leser: die digter is iemand wat nie soseer in die poëtiese toestand verkeer as wat dit iemand is wat die poëtiese toestand in die leser kan veroorsaak nie, met ander woorde, die digter is vir Valéry iemand wat die leser deur die gedig kan inspireer. Ooreenkomstig hierdie onderskeid beskryf hy dus die gedig as die voertuig waardeur die digterlike toestand in woorde tot stand kom.

Bogenoemde onderskeid tussen die digterlike toestand en die gedig as totstandkoming van hierdie toestand deur woorde is kritiek in Valéry se besinning oor die rol van abstrakte denke in die digkuns. Vir Valéry kan die digter die digterlike toestand slegs in woorde (die gedig) verteenwoordig deur hom te beroep op abstrakte denke. Die rede hiervoor is dat daar ‘n temporale en ruimtelike gaping tussen die digter se inspirasie en sy komposisie bestaan en hierdie gaping kan slegs oorbrug word indien die digter hom tot denke keer. Hier gebruik Valéry die beeld van die digter as argitek: “as often as I have worked as a poet, I have noticed that my work demands from me not only that pretense of the poetic universe which I mentioned, but many reflections, decisions, choices, and combinations without which all possible gifts of the Muse or Chance would remain like valuable materials at a construction site without an architect. But an architect is not necessarily made of valuable materials himself. A poet, insofar as he is an architect of poems, is quite different from what he is as a producer of those precious elements which compose all poetry but whose composition is distinctive and requires a different mental effort.” (231-232) Valéry argumenteer dat die onmiddellike sensasie wat as inspirasie vir die gedig dien restant word in die geheue. Die gedig is die hertotstandkoming van daardie oorspronklike sensasie in die woordvorm en in hierdie sin kan die digter nie anders as om hom op die abstrakte (die nie-fisiese of nie-teenswoordige) te beroep nie en daardie abstrakte bestaan in denke. Soos Valéry skryf: “thought is the activity causing the non-existent to live in us; lending it, whether we desire it or not, our actual powers; causing us to accept the part for the whole, image for reality; and giving us the illusion of seeing, acting, submitting, or possessing, independently of our good old body, which we leave in its armchair with a cigarette while waiting to recover it abruptly at the call of the telephone or at the no less strange command of our stomach which needs subsistence.” (226)

In hierdie sin is poësie onlosmaaklik verbonde aan abstrakte denke. Die digter benodig die abstrakte denke op minstens twee wyses: eerstens, ten einde die oorspronklike sensasie wat as inspirasie vir die gedig dien deur die geheue daarvan in sy verbeelding op te roep; en tweedens, in die komposisie van die gedig waartydens ‘n magdom besluite geneem moet word ten einde klanke en woorde te orden tot ‘n betekenisvolle geheel wat daardie oorspronklike sensasie oordra. Dit is veelseggend dat ‘n digter hier aan die woord is ter verdediging van die abstrakte denke. Maar Valéry is weliswaar nie die enigste skrywer wat geglo het dat die poësie abstrakte denke benodig nie. Heidegger, byvoorbeeld, gaan so ver as om te argumenteer dat die ware denke slegs digterlik moontlik is, dat die metafisika die denke geparaliseer het. Om Valéry ten slotte aan te haal: “I said, however, that the poet has his abstract thought and, if we will, his philosophy; and I said that they are exercised in his very act as a poet. I said so because I have noticed it, both in my- self and in a few others. I do not have, here or anywhere else, any other reference, pretense, or excuse than recourse to my own experience or the most common observation” (230)

Digters wat (in ‘n dogmatiese navolging van tradisie) nie oor abstraksie te spreke is nie, moet dalk weer gaan dink.

 

*Paul Valéry “Poetry and abstract thought” (1954) 16(2) The Kenyon Review 208-233.

Prof Jaco Barnard-Naudé is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad.

 

Lina Spies. God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D. J. Opperman

Monday, October 10th, 2011

 

Prof. dr. Lina Spies

D. J. Opperman-gedenklesing

23 September 2011

 

Dames en here

Die metafoor waarvan ek uitgaan by geleentheid van vanaand se gedenklesing oor die religieuse motief in die poësie van D. J. Opperman kom uit die gedig “Wederkoms” in sy bundel, Dolosse. Die betekenis van dié metafoor van ‘n “magtige magneet” vir God kan eers duidelik word uit die konteks van die gedig, die bundel waaruit dit kom en die digter se oeuvre. Opperman gebruik dié metafoor op ‘n laat en rype stadium van sy digterskap. By die publikasie van Dolosse, sy sesde bundel, was hy nege-en-veertig en ‘n erkende digter met ‘n indrukwekkende oeuvre. ‘n Voorlopige interpretasie van dié metafoor kan ‘n mens wel aflei uit die woordeboekbetekenis van “magneet”. Ter sake is die vermoë van ‘n magneet om yster binne sy omringende magnetiese veld na hom aan te trek en om op of naby die aarde rigtingaanduidend aangewend te word (vgl. WAT). God of hulle beeld van God het inderdaad vir gelowiges die magnetiese vermoë om hulle na Hom aan te trek en rigting te gee aan hulle lewens. Of Opperman enigsins hierdie betekenis aan God gee, sal uit my lesing moet blyk.

Ek trek in my bespreking van die religieuse motief by Opperman die lyn vanaf sy debuut Heilige beeste (1945) na sy tweede bundel Negester oor Ninevé (1947) en vandaar deur na Dolosse (1963) en betrek in my bespreking gedigte in die drie bundels wat sy religie belig. My keuse is gemotiveerd, maar ander bundels en gedigte sou hulle ook kon leen tot die vasstelling van so ‘n ontwikkelingslyn in Opperman se oeuvre. Dit is opvallend dat sy “talent vir die geloof”, wat volgens post-modernistiese opvattings nie alle mense het nie, van die meeste literatore nie ernstige aandag gekry het nie. Daar is daaraan verbygegaan ten gunste van konsentrasie op vormlike aspekte: Opperman se rymvondse, sy oorspronklike metafore en sy vernuftige konstruksie van ‘n gedig tot ‘n hegte patroon van versreëls en strofes. Wat dikwels daarby vergeet is, is dat die vorm en inhoud van ‘n gedig tegelykertyd ontstaan en onafskeibaar is; dat mens inderdaad met die Nederlandse digter J. C. Bloem moet saamstem dat die vorm van die gedig sy inhoud is (1969: 17) en dat jy nie die een kan bespreek los van die ander nie.

Daarbenewens het Opperman gedebuteer nadat die digters van Dertig die vernuwing in die Afrikaanse poësie wat hulle bewus nagestreef het, verwesenlik het en hulle bundels wat die hoogtepunte van dié vernuwing verteenwoordig het, reeds verskyn het. Die kritici wat dikwels met skok kennis geneem het van die argumentatiewe en strydvaardige geloof van die Dertigers het die inhoud van Opperman se religieuse verse waarskynlik minder ernstig opgeneem deurdat hy bewus wegbeweeg het van die belydenisvers van Dertig na ‘n vers waarin die digter deur ‘n skuilfiguur praat. Uitdrukking deur middel van ‘n “objective correlative”, om die bekende term van T. S. Eliot te gebruik, beteken dat die leser nie geneig sal wees om wat ook al op dié wyse aan die orde gestel word - onder andere geloofsoortuigings en -ervarings - direk op die digter as persoon te betrek nie.

Opperman debuteer in 1945 met die omvangryke bundel Heilige beeste wat die resultaat was van sy keuse uit gedigte wat in die loop van ongeveer dertien jaar ontstaan het. By dié keuse moes hy reeds oor ‘n insig in die aard van sy digterskap beskik het waarvan die apart afgedrukte titelgedig as inleding tot die bundel inderdaad getuig. Hy identifiseer in dié gedig die drie motiewe wat die essensiële inhoud van sy bundel en sy digterskap uitmaak: die aardse, die erotiese en die religieuse. Die Zoeloewagter wat as ‘n ek-spreker in die titelgedig die woord voer, word in die slotstrofe die gestalte van die digter:

Dit is my laaste besit

wat ek bedags langs die Taka verdedig

en snags in die kraal tussen kiepersol en klip:

 

hulle wat wei

waar die hadida in die noorsboom wag

bo peule, miershoop en gras;

 

hulle wat afhanklik is

van die bul wat die sand krap

en die reuk van die koei nog vat;

 

hulle wat afstam

van kuddes deur dansende impi’s omring

in die koningskrale van Senzangakoma en Dingaan;

 

hulle my drie drifte:

die aardse, die vrou en die Groot-Groot-Gees

oor die kraal tussen kiepersol en klip.

 

Die vraag wat ek wil probeer beantwoord in hierdie bespreking is hoe Opperman se siening van die Groot-Groot-Gees en sy verhouding met Hom verwesenlik word in die kraal van sy poësie en hoe impulse van buite die kraal - uit sy huislike opvoeding, die geloofstradisie waartoe hy behoort het, die Bybel en sy eie ervaring - daarop invloed uitgeoefen het.

Opperman was, soos die generasie Afrikaners waartoe hy behoort het, Bybelsgevorm en uit sy oeuvre blyk by herhaling hoe goed hy die Bybel geken het. Waar hy dit het oor die vernuwende aard van die religie van die Dertigers in vergelyking met die ouer Afrikaanse poësie sê hy in sy seminale studie Digters van Dertig: “Ook is daar oor die godsdiens taamlik vaag, algemeen en dogmavas geskryf. Verder is daar geswyg en berus; die twyfel en die menslike worsteling in gebed met die Heer is skaars aangevoer - al ken ons volk dit, al ken hy voorbeelde uit die Bybel, soos Jakob wat met die Engel worstel, Job se ‘twis’ met die Almagtige . . .” (1962: 53). Opperman wys ook daarop dat die “geding met God” by die Louws ‘n “hoogtepunt bereik” en voeg by: “[A]l word dit nie by ander digters ‘n geding nie, worstel die meerderheid van hulle om godsdienstige helderheid” (1962: 53). Hy was ook bekend met die opvattings van prof. Johannes du Plessis van die Teologiese seminarium op Stellenbosch wat hy uitgespreek het in sy maandblad Het Zoeklicht en van die invloed daarvan op die Dertigers. Opperman (1962: 26) wys onder andere op Du Plessis se siening dat die Bybel “nie oral onfeilbaar geïnspireer is nie.”

Du Plessis se opvattings is doodgedruk toe die hof hom onskuldig bevind maar die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk hom ontslaan het. Die Bybel is daarna uitgelewer aan fundamentalistiese interpretasies waaroor eers nou in die post-modernisme weer debat gevoer word. Hedendaagse post-modernistiese interpretasies van Bybelverhale en -boeke deur literatore en teoloë met die gebruikmaking van literêre stratagieë was nie tot Opperman se beskikking nie. Waar dit vir my duidelik is dat Bybelverhale ‘n ryk bron vir Opperman se religieuse poësie was, kan ek my voorstel dat hy ruimskoots daaruit sou kon put. Ek self is in die gelukkige posisie dat sodanige bronne wel tot my beskikking is vir my interpretasie van sy religieuse gedigte. Karen Armstrong se uitgebreide essay In the Beginning: A New Interpretation of Genesis het my insigte gegee in gedigte in Opperman se eerste twee bundels waarvoor juis Genesis ‘n bronteks was.

Opperman se konflikterende siening van die aarde en die Skepper kan ‘n mens terugvoer na die twee teenstrydige skeppingsverhale waarmee Genesis begin. Die eerste skeppingsverhaal dateer uit die sesde eeu vhj deur ‘n skrywer by teoloë bekend as P, verwysend na die priesterskool waartoe hy behoort het. P noem God sonder verduideliking op sy formele heilige naam Elohim. Hy is die almagtige, transendente, liefdevolle God van die klassieke teïsme. Ná hierdie weergawe het die redakteurs van die Bybel ‘n ander vroeëre skeppingsverhaal geplaas, beginnend by Genesis 2:4, geskryf deur ‘n outeur (of skool van outeurs), bekend as J, omdat hy/hulle verkies om God Jahwé te noem; die naam waarop God Hom aan Moses openbaar het. Dit is ‘n veel komplekser verhaal waarin God op veel gespanner voet met sy skepping en die mens staan.

Die God wat in die gedig “Kontrak” waarmee die eerste afdeling van Heilige beeste ‘n aanvang neem deur ‘n geweldsdaad die aarde skep, is nie die God van die eerste skeppingsverhaal nie:

U het die wêreld oopgeskiet

tot grot en gramadoela;

 

toe die blaar en riet,

U arbeiders gestuur; wortels

wat nederig werk, die mier

 

wat stokkies dra

en beitelpunt van die rivier.

 

U droom met dinamiet

en laat aan arbeiders

die besonderhede en verdriet.

 

Die aarde word in hierdie gedig onmiddellik deur God se skeppingsdaad ontneem van sy paradyslike aard sodat dit “dorings en distels sal voortbring” (Gen. 3:18) en die mens lewenslank “met moeite daarvan sal eet” (Gen. 3:17). Dis die God van die tweede skeppingsverhaal wat in Opperman se gedig ‘n kontrak sluit met die mens as arbeider wat die gramadoelas moet bewerk tot land. Hy moet die opdrag uitvoer binne die evolusionistiese proses in die skepping waarin hy opgeneem is en waarvan “grot” en “gramadoelas” die primitiewe stadium suggereer. Die mens is nie die enigste arbeider wat deur God “gestuur” word nie; hy is by implikasie in die dier- en planteryk die medewerker van “wortels”, “mier” en “beitelpunt van die rivier”. Die metafoor “beitelpunt” suggereer die  onophoudelike metamorfose in die natuur wat nie sonder pyn geskied nie.

In sy interpretasie van “Kontrak” volstaan Kannemeyer met die idee van ‘n deïstiese Godheid wat die wêreld “met gemak” geskep het en die “besonderhede en verdriet” aan sy “arbeiders” oorgelaat het en konsentreer dan op hoe dié idee poëties uitdrukking vind: “Hierdie stille verwyt word egter deur middel van konkrete beelding van die natuurdinge in ‘n dramatiese progressie . . . met die gebruik van verassende metafore gegee . . .” (1979: 15;my kursivering). Die God van “Kontrak” het inderdaad soos meerdere gedigte in Heilige beeste sterk deïstiese trekke. Die vraag is egter of Opperman se Godsbeskouing deur en deur deïsties is. Die “deïsme” erken dat God die Skepper is maar nadat Hy geskep het, Hom nie meer met die geskape werklikheid inlaat nie (vgl. WAT). Kannemeyer impliseer ook in ooreenstemming met die deïsme dat God vir Opperman onpersoonlik is deur deurgaans nie na “God” nie, maar na die “Godheid” te verwys. “Kontrak” neem egter die vorm aan van ‘n gesprek met God wat die gebedsvorm benader deur die aanspreekvorm U waarmee die sinseenheid in elke strofe begin. Die mens kan nie ‘n onpersoonlike God aanspreek en Hom ook niks verwyt nie. Die God wat hier verwyt word, is die God wat Hom van die mens gedistansieer het deur Hom uit Eden weg te stuur en so sy intieme relasie met hom verbreek het, maar met wie die mens nog in gesprek kan tree.

In die gedig “Sarkofaag” wat op “Kontrak” volg, is die “gat” wat “honderde bandiete” reeds jare lank grawe in skelle kontras met die “grot” wat God moeiteloos “oopskiet”. Werk wat die mens tiranniseer, maak hom nie net tot ‘n bandiet in letterlike sin nie en ook nie net in die stad nie; hy word die gevangene van werk waarvan hy nie die sin insien nie. As stadsarbeider word hy uitgelewer aan ontmenslikende sleur en as landbouer lewer sy bewerking van die aarde nie altyd die verwagte vrug op nie. Die boer het as arbeider sy eie “besonderhede en verdriet”; hy staan ook binne die kontrak wat God die Skepper met sy skepsels gesluit het. Die tema van vergeefse arbeid kom in die siklus “Stelsel” (aanvanklik getiteld “Kleinboer”) in die vierde kwatryn wat ook die titel verklaar, eksplisiet tot uitdrukking:

Wat baat gebede, arbeid en gesaai

waar groter stelsels oor die enkling draai?

My goedversorgde koringland word deur

die wit koeëls van ‘n hemel afgemaai.

 

In die eerste skeppingsverhaal waarin Elohim in ‘n volkome harmonieuse verhouding tot alles wat Hy geskep het, staan, is daar ook geen sprake van die man wat eerste geskape is en die vrou eers daarna as ‘n hulp vir hom - sy ondergeskikte - nie; hier word hulle gelyktydig en gelykwaardig  geskape: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het hy hulle geskape. En God het hulle geseën . . .” (Gen. 1:27-28). In die tweede skeppingsverhaal word in plaas van ‘n seën ‘n vloek oor man en vrou uitgespreek: “Because they refused to accept the limitations of their existence, Adam and Eve had become a curse to one another and to their surroundings. The loss of blessing meant that they were no longer able to live productively and harmoniously in the world” (Armstrong 2011: 31).

Hierdie verlies aan die paradyslike harmonieuse verhouding stel Opperman ook voorop in die liefdesverse in afdeling II van Heilige beeste. Die teenpool van vervulling binne ‘n liefdes- en huweliksverhouding is ‘n verhoogde besef van eensaamheid by man en vrou. Ek gaan nie verder in op hierdie polêre spanningsverhouding tussen manlikheid en vroulikheid en tussen man en vrou in Opperman se omskepping van twee Griekse mites tot die sonnette “Echo en Narcissus” en “Daphne en Apollo” nie, maar staan eerder stil by Opperman se skepping van sy eie mite “Rodar en Yrsa”. Yrsa is ‘n Christen, Rodar ‘n Germaanse heiden. As hulle albei een aand die Germaanse god Thor “deur die takke” hoor “ruis”, beweeg dit Yrsa om as bekeerde Christen hom “van Christus en Sy sterwe aan ‘n kruis” te vertel. Rodar is ‘n Germaan en woedend en agterdogtig daag hy soos gebruiklik hierdie vreemde god uit. Sy spies blyk egter onmagtig teen dié mededinger en hy dwing Yrsa om “hom of die Gekruisigde te kies”. Soos in Opperman se omskepping van die twee Griekse mites, is die eindpunt van hierdie verhouding ook tragiese geskeidenheid: “Toe gaan hy eensaam weer sy eie gang / en snikkend het sy snags na hom verlang.” “Rodar en Yrsa” is glad nie op die vlak van die beste verse in Heilige beeste nie, inteendeel, dit is in der waarheid ‘n swakkerige vers, maar dit is belangrik vir Opperman se Godsbeskouing.

Die strydvaardige opstelling van Rodar teenoor die Gekruisigde is simptomaties van die gespanne verhouding waarin die digter tot Christus gestaan het. Dié verhouding vind uitdrukking in “Dertiende dissipel” waarin vereenselwiging met Christus, strydig met die dogma, nie ‘n versoening met God nie, maar juis ‘n vervreemding van Hom tot gevolg sal hê. Die harmonieuse verhouding tussen God, mens en dier van die eerste skeppingverhaal is vir goed versteur, maar soos wat God in Genesis betrokke bly by die mens, is Hy binne Opperman se siening van die verbond betrokke by alle geskapenes wat hulle paradyslike onskuld verloor het en kan Hy ook meeleef met die pyn van die dier. Dis juis die bewussyn van hierdie pyn wat van die digter ‘n “dertiende dissipel” maak. Die digter sluit hom aan by die Christelike tradisie: Hy is ‘n “dissipel”, ‘n volgeling van Jesus, maar nie “een van die twaalf” nie (’n verwysing na Jesus se intieme dissipelkring tydens sy aardse omwandeling); hy loop buite die gewone orde. Die assosiasies van rampspoed en ongeluk verbonde aan die getal dertien speel natuurlik ook in op die begrip “dertiende dissipel”:

Toe die dassie huil onder die daeraad

het ek verskrik die skuiling by die kruis verlaat,

terug na U, o God, wat onvermoeid tot selfvolmaking

deur gestaltes van die aarde wring,

deur die geslote sluimer van die ysterklip, die tas

in trae ranke van die wildedruif, die slu-gekaste

oë van die mamba; terug om in alleengeveg

volgens my sterkte U verlossing te besleg.

Toe die dassie huil moes ek Sy kruis verlaat

want teenoor U was dit my lang verraad.

 

Dit is paradoksaal dat die ek-spreker juis met die koms van die lig bewus word van die pyn in die skepping en dié paradoks word versterk daardeur dat hy die “skuiling by die kruis” “verlaat” om terug te keer na God, want om by die kruis te wees, beteken vir die Christen om by God te wees. Nou word geïmpliseer dat die “skuiling by die kruis” ‘n wegwees van God is. “Skuiling” suggereer beskutting, beveiliging, en die wegkeer van die kruis is dan ook ‘n blootstelling aan die pyn in die skepping; ‘n toe-eiening deur die sprekende ek van die onveilige, pynlike selfvervolmakingsproses van ‘n worstelende God wat hy bespeur in al die skeppingsordes: anorganiese (”ysterklip”), organiese (”wildedruif”) en dierlike (”mamba”). Opperman gee in hierdie gedig duidelik sy geloof in evolusie te kenne, maar dan in die sin van ‘n goddelike worsteling na die volmaakte in die skepping. Hier is geen sprake van die transendente God van die eerste Bybelse skeppingsverhaal waarin God ‘n geordende wêreld binne ses dae tot stand bring en as volkome goed en voltooid verklaar voordat Hy op die sewende dag rus nie. God is immanent, maar sy immanensie gaan met worsteling en pyn gepaard waardeur Hy veel meer gemeen het met die God van die tweede skeppingsverhaal van Genesis.

Die digter wat voluit en sintuiglik lewe, kan by geen vaste geloofsoortuiging uitkom terwyl God se worstelinge in die skepping voortgaan nie. In die vierde afdeling van Heilige beeste bereik hy ‘n oplossing van sy innerlike spanninge as ‘n “dertiende dissipel” na aanleiding van die voorbeeld van die kunstenaarskap van die skilder Vincent van Gogh en die skilder-digter William Blake. Albei hierdie kunstenaars het ontdek dat nie die dogmatiese, kerklike godsdiens hulle weg tot God was nie, maar die kunstenaarskap. Opperman skep in sy sonnet “Vincent van Gogh” (kyk heelonder vir die volledige gedig) ‘n kontras tussen Van Gogh se tradisioneel-Christelike godsdiens as “miskende heilige” toe hy as sendeling in die Belgiese Borinage geveg het “teen die ellende / en die onreg in die krotte van die myn” (sy “dissipel”-skap) en sy diens aan God deur sy kuns wat God se worstelstryd in kleur en vorm vasgelê het (sy “dertiende dissipel”-skap).

Vir Opperman was Blake se poësie belangrik, onder andere omdat sy belangstelling in die spiritisme en mediumistiese impulse vir sy poësie geword het, maar veral omdat D. J. Opperman sr. ‘n oortuigde spiritus was. Van huis uit was Opperman dus vertroud met die spiritisme wat ruimte gelaat het vir ander opvattings oor die hiernamaals as wat ‘n streng Christelike opvoeding toelaat. Opperman het sy vader se vormende invloed op hom hooggeag en belanggestel in sy spiritisme, maar skepties daarteenoor gestaan. Die elegiese vers “Nagedagtenis aan my vader” (kyk heelonder vir die volledige gedig) speel nogtans in op die moontlikheid dat die tasbare en sigbare werklikheid met die onsigbare geesteswêreld in aanraking kan kom; dat die “duskant”(die “Diesseits”) met die “anderkant” (die “Jenseits”) één kan word in ‘n vader en seun se momentele ontmoeting met mekaar. Die grens tussen die buite- en die binnewêreld vervaag letterlik in die gedig deurdat dit reën en die binnenshuise digter deur die ruit slegs die vervloeiende buitewêreld kan waarneem:

Buite

waai ‘n vaal misreën, en teen die ruite

buig rooi huise en die silwer eike skeef

in druppels wat vergly . . .

 

Ná die beskrywing van die onbelynde indrukke van buitedinge in die glans van die druppende reën, spreek die digter sy vroeëre sekerheid uit oor die bestaan van ‘n geesteswêreld soos wat sy vader daaraan geglo het: “Ek weet die wêreld was ‘n oop kol lig om / my, waar geeste uit die donker streke kom . . .” Maar ná die uitspraak van hierdie sekerheid is die aanvangsreëls van die derde, vierde en vyfde (slot-) strofe uitsprake van toenemende onsekerheid: “So kon ek dink . . .”, “Ek het verwag . . .”, “Nou wag ek . . .” Die digter-seun is teleurgestel in sy verwagting dat die vader volgens sy spiritistiese opvattings die hoogste hemel sal bereik waarin hy sy skeppende werk as Sondag-skilder sou hervat, die Drakensberge sou skilder en dan vanuit die hiernamaals met hom in vebinding sou tree. Onmiddellik ná die dood van die vader, toe die seun die “bont kransie” op sy graf neergelê het, was daar nog by hom die hoop dat die vader “eers ‘n rukkie rus”, maar die konkrete aardse werklikheid soos reeds deur die “bont kransie” in vooruitsig gestel is, het die onsekere hiernamaals as ‘t ware in die mis van die eerste strofe laat opgaan:

Ek weet nie waar jy is, of hoe verkeerd

ons menslike denke tas, ek weet

maar net die petrea se trossies blou

rank daagliks digter tussen my en jou.

 

Met die elegiese herinneringsgedig oor sy vader waarmee Opperman die die vierde- en slotafdeling van Heilige beeste inlei, neem hy afskeid van sy vader se spiritisme en van die kwelling oor sy verbondenheid aan die aarde en die sigbare. Dit het nog ‘n sekere innerlike verskeurdheid by hom tot gevolg gehad soos blyk uit gedigte soos “Absalom” en “Kind van die aarde” in afdeling III van die bundel. Maar nou weet Opperman in teenstelling tot die spiritiste dat die sintuie nie ‘n belemmering is om met die geestelike orde in aanraking te kom nie (vgl. “Nagskip langs Afrika”) maar juis die grond van die skeppende vermoë van die kunstenaar waardeur hy God dien en ken.

Waar ‘n bewussyn van skuld volkome afwesig is in Heilige beeste word dit ‘n obsessie by die digter in Opperman se tweede bundel, Negester oor Ninevé, en ‘n deurlopende motief vanaf die eerste tot die slotgedig. Dit is verbasend dat Opperman wat in sy debuut sy beskouing oor God en Christus so vry van die dogma kon ontwikkel in sy tweede bundel terugval in ‘n intense worsteling met die inhoud van die sentrale belydenisskrif van Christelike geloof; dié van skuld, genade en verlossing. Die bundeltitel self is deur die verwysing na die bose stad Ninevé in die Bybel met die betekenis van skuld en verlossing gelaai. Die neologistiese Negester is simbool van die nege maande van swangerskap en as sodanig van verwagting, vrugbaarheid, lewe en genade in teenstelling met Ninevé as simbool van frustrasie, verydeling, skuld en doem.

Die skuldmotief wat oorheersend is in die bundel het kritici opgeval en laat wonder oor die reële, biografiese en persoonlike oorsprong daarvan. W. E. G. Louw (1950: 363) praat van die ” ‘Ninevé’-motief” met verwysing na “Ballade van die grysland” en verwante verse en vervolg: “Opmerklik en op hierdie stadium, sonder nader gegewens moeilik verklaarbaar, is die skuldbewussyn wat soos ‘n obsessie deur hierdie verse tril.” Hierby sluit H. A. Mulder (1974: 23) aan: “Die vernaamste nuwe motief is ‘n apokaliptiese visie van die grootstad, waarby ons veral aan Johannesburg moet dink. Die digter ontpop hom hier skielik as doemprofeet wat die stad aankla vanweë die siele wat dit verongeluk. Ons kry die indruk dat hierdie digterlike visie wortel in ‘n skokkende persoonlike ervaring, wat aan sommige gedigte ‘n toon van aangrypende egtheid verleen.”

Dié persoonlike ervaring is tans bekend deur die knipsel van ‘n berig uit Die Vaderland van 12 Desember 1946 (Opperman-versameling; Universiteitsbiblioteek, Stellenbosch) oor die skuldigbevinding van die digter se jongste broer, Louis, op drie-en-dertig aanklagte van diefstal en ses van vervalsing. Dit is die teks agter die teks van die groot skuldgedig van die bundel, “Ballade van die grysland”. Wat daardeur in eerste instansie duidelik word, is hoe sterk die digter die persoonlike tot die algemeen-menslike kon transponeer. Die begrip “grysland” vir stad is ingegee deur ‘n aanhaling uit Totius se Trekkerswee waarmee die digter die titel begelei: “Die vroegre boere-paradijs / is nou één molshoop groot en grijs”. Anders as by Totius transendeer “grysland” die nasionale geval, die deur ondergrondse myne uitgeholde Johannesburg, tot die universele stad buite nasionale grense; ‘n oord van menslike vereensaming en verwording.

“Ballade van die grysland” bestaan uit drie genommerde gedeeltes wat die oerpatroon van Dante se Divina commedia volg, maar in omgekeerde orde: “Inferno”, “Paradissimo” en “Purgatorio”. (Opperman het inderdaad dié titels in die manuskrip gebruik, maar daarteen besluit by publikasie van die gedig.) Die jongman, die ek-spreker in die gedig, “ontsnap” uit die “vet van viskafees” na die “paradys”, maar dit is ‘n vals paradys “waar neonligte blom”. In teenstelling tot hierdie onnatuurlike, kunsmatige wêreld, word die spreker in sy “purgatorio” ontroer deur sy herinnering aan ‘n bloeiende peerboom:

 ’n Knop het in my keel gekom

die oggend toe die peerboom

in die steenkoolerf wit blom.

 

Die peerboom simboliseer die vrugbare, die skone, die suiwere en konfronteer die jongman met sy verspeelde lewe: Anders as hy kon die peerboom in sy onsimpatieke omgewing “wit blom”. Vir Opperman is die lewe en kunstenaarskap wesenlik stryd in harmonie met die natuur met sy inherente drif wat in die ongunstigste omstandighede voortstu tot sefverwesenliking. Daarom is Opperman se stadsgedigte nie “vlugverse van die grootstad” nie: Die opdrag om voort te plant en die paradyslike ook in ‘n onnatuurlike leefwêreld van steen en beton te herken, geld ook vir die stadsmens.

In teenstelling tot “Ballade van die grysland” skryf Opperman in dieselfde tydperk “Negester en stedelig” wat vooruitwys na die geboorte van sy eersteling Catharina Elizabeth op 10 Mei 1946; dis ‘n “gebed vir die ongeborene” wat dan ook inderdaad die titel was wat Opperman aanvanklik vir die gedig oorweeg het. Vergelyk ‘n mens die gepubliseerde gedig met die vroegste variante in die manuskrip van die bundel val dit op hoe Opperman die retoriese taal en die godsdienstige retorika weggewerk het. Die tweede variant waarin “Negesterre” reeds oorweeg word vir “Sewesterre” lui: “Groot-Gees wat in die donker nagte witter / in die Suiderkruis en Sewesterre skitter”. Die gebedsvorm word slegs in die slotstrofe van “Negester oor Ninevé” geëggo in die toekomstige vader se selfrekenskap oor die leiding wat hy aan sy ongebore kind sal gee:

Watter kaart of watter ster sal ek jou wys

om veilig deur die grysland heen te reis?

Sal ek van ‘n God praat wat verdoem,

van Christus, en die Tien Gebooie noem?

Voorlopig dan, maar onthou altyd

aan jou dade grens ‘n ewigheid;

gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen,

besef jy is ‘n vegter weer van die begin, alleen;

en mag die Suiderkruis en Negesterre witter

as die stedeligte in jou siel bly skitter.

 

By hierdie gedig oor die digter se toekomstige vaderskap sluit die kwatrynsiklus “Almanak” aan wat soos die titel te kenne gee, gaan oor die verloop van die vrou se swangerskapsperiode van nege maande. Die man is uitgesluit van die intimiteit van die verwagtende moeder se ervaring van die groei van die vrug in haar skoot. Hy kan hom slegs deur kennis en verbeelding die verskillende stadia van die fetus se ontwikkeling voorstel wat wisselende emosies, gedagtes en vrese by hom wek. Skuld word ook in hierdie siklus die oorheersende motief en dat dit teruggryp op ‘n kerklike leerstelling is verbasend omdat ‘n mens dit ná Heilige beeste nie by Opperman sou verwag nie.

Die eerste kwatryn “Bevrugting” gaan oor ‘n vorm van uitverkiesing waar een manlike saadsel uit miljoene die ovum binnedring om ‘n kind te verwek. Die tweede kwatryn “Uitverkiesing” verwys na die uitverkiesing van Noag en sy familie en die diere wat paargewys as mannetjie en wyfie gekies is om in die ark die sondvloed te oorleef en eindig met die vraag: hoe “word die skepping ingeskeep: die ark / met pare-pare chromosome?” Die titel “Uitverkiesing” is ook onwillekeurig ‘n verwysing na Calvyn se predestinasieleer. Die vierde kwatryn “Minotaurus” is ‘n retroversie van die bevrugtingsdaad vanuit manlike perspektief en gee die man se kommer weer dat die kind slegs uit sy eie, egoïstiese wellus verwek is. Die daaropvolgende kwatryn “Spel” verwys na die stadium van die swangerskap wanneer die embrio ‘n vrug geword het en reeds alles het wat ‘n mens moet hê. Maar al het die vader geen beheer oor die bepaling van wat die kind sal wees nie, kwel hy hom op hierdie tydstip tog dat sy “sondes van voorheen” die dobbelsteentjie verkeerd kan laat kantel. In die baarmoeder lê die moontlikhede beslote van “koning, knaap en skedelbeen” wat sy eie lot sal bepaal. Die uitgesproke sondebesef waarmee hierdie wete gepaard gaan, is vreemd aan die vroeëre Opperman, en wat as nog vreemder opval, is dat wanneer die kind gebore is en hy hom daaroor verheug, hy meteens in die twaalfde kwatryn “Formulier” gekonfronteer word met Augustinus se leer van die erfsonde:

Mooi gedagtes kom eers in die more

of het toevallig lank tevore

in ons opgewel; ons weet, my kind,

sondig is jy ontvange en gebore.

 

Wat die leser hier nie moet ontgaan nie, is die relativerende “ons” waardeur die spreker hom nie volkome vereenselwig met die groep waarnamens hy praat nie. ‘n Ongepubliseerde gedig “Mymeringe voor die Doop” bevat die embrio van “Formulier” nog gekombineer met ‘n enkele reël wat ontwikkel tot selfstandige uitdrukking in die kwatryn “Minotaurus”. Die doopsformulier waaruit Opperman aanhaal, bevestig Augustinus se leer van die erfsonde, naamlik dat ‘n kind “in sonde ontvang en gebore word”. Dis weliswaar so dat Opperman die wellus beskou as die oorsprong van menslike bestaan, maar dat hy nogtans twyfel of hy die kind sal laat doop:

Sal ek jou laat doop?

In sonde ontvange en gebore

ja, dis waar die mooi gedagtes

van skep, liefde, God het eers die môre

daarna gekom

maar nie die oomblik nie,

ewenwel, jy is uit wellus tog gebore

 

Sowel die gepubliseerde as die ongepubliseerde teks suggereer ‘n sekere voorbehoud by die digter oor die Augustiniaanse doopsformulier. Dekker (1974: 15) was volgens sy resensie van Negester oor Ninevé daarvan bewus dat Opperman Christelike denkbeelde en leerstellinge “herinterpreteer” wat hom moes weerhou het van die volgende ongenuanseerde stelling oor die “Almanak”-siklus: “Die Christelike leerstellings van sonde en uitverkiesing kry vir die digter weer nuwe en hewige sin” (1974: 18). Die “mooi gedagtes” oor “skep, liefde, God” oorstem weliswaar nie die gekweldheid oor wellus en sonde nie en die siklus sluit met die digter se somber siening oor die wêreld wat sy kind gaan beërwe:

Wees vir jou kind: vuurtoring teen die hang,

die klokboei wat ruk-lui aan sy stang,

eentonig al sy dae die mishoring

- genadetekens van die ondergang.

(”Stormkaap”)

 

Dit lyk voor-die-hand-liggend dat die somber visie van die wêreld en sy noodwendige ondergang vir Opperman onwillekeurig die sondvloed in herinnering moes roep. Die sondvloed is ‘n sentrale teks in Genesis wat soos reeds moes geblyk het ‘n belangrike oerteks vir Negester oor Ninevé is. Opperman se “herinterpretasie” van die verhaal van God se uitwissing van lewe op aarde deur ‘n vloed (Gen. 6-7) “Legende van die drenkelinge” (kyk heelonder vir die volledige gedig) vat Dekker (1974: 20) kortliks saam as die “dood van die laaste mens in die sondvloed” wat “met visionêre plastiek uitgebeeld word”. Die eerste publikasie van dié gedig het verskyn onder die titel “Laaste heiden” in die Huisgenoot, 4 Januarie 1946. In die eerste twee strofes van dié gedig word die koms van die reën beskryf vanaf die val van die eerste druppels tot die aanhoudende, vreeswekkende stortreën. Die “leier van die heidense ras” word vanaf die derde tot en met die sesde strofe die ek-spreker en bly enduit in opstand teen die vernietigende geweld van die waters waaroor hy hom afvra of dit deur die God van die “uitverkore groepie” veroorsaak word. Hy sink uiteindelik as ‘n swak sterfling in die vloed maar bly enduit die opstandeling wat nie die krag waaroor hy beskik het, ontken nie: “Ek was tog op aarde U sterkste mens / tot die end . . .” Dan beskryf die anonieme verteller in die sewende strofe sy dood wat die bedaring van die storm direk voorafgaan:

 . . . hy sak in U see,

skuins oor hom ‘n koelte, die skaduwee

van U ark; hy styg en gryp, snik

in die laaste waters, sink tot slik.

 

Toe breek deur die nastuiwende wolke hoog

en diep in die waters ‘n groot reënboog.

 

Daar is ‘n opvallende klemverskuiwing in die gepubliseerde gedig na ‘n meer Bybelsgetroue weergawe van die verhaal van die sondvloed en ‘n sterker beklemtoning van die ark as simbool van God se reddende genade. Die heiden is nou ‘n “reus uit die verworde geslag” en wat Opperman by monde van sy anonieme spreker in “Laaste heiden” net “U ark” genoem het, word nou in die mond van sy ek-spreker “U Ark van Genade”. Deur dié klemverskuiwings bring Opperman sy gebundelde gedig veel meer in ooreenstemming, nie net met die Bybelse verhaal nie, maar ook met die resepsie van die gedig as algemeen-bekende mite binne en buite religieuse konteks. Karen Armstrong (2011: 40) verwys na die verhaal van “Noag in die Ark” as ‘n voorbeeld van die oogklappe (”blinkered mentality”) waarmee Bybelverhale gelees word: “When we think about this story, we tend to concentrate on the haven of the Ark and forget about the Flood itself. Poussin’s picture ‘The Deluge’ is a useful corrective: we scarcely see the Ark. Instead we focus on the despair and terror of the men and women who are about to be drowned.”

Opperman demp die opstandsmotief in “Legende van die drenkelinge” maar soos in “Laaste heiden” beskryf hy in die grootste gedeelte van die gedig die vloed en die angs van die mense en diere wat op verdrinking wag in al die gruwelike besonderhede waarmee dit noodwendig gepaard moes gegaan het. Karen Armstrong het my oë daarvoor geopen. In my doktorale proefskrif het dit by my soos by alle geraadpleegde kritici verbygegaan (vgl. Spies 1992: 105-106). Soos Dante se “Inferno” die hoogtepunt van sy Divina commedia is en nie sy “Paradiso” nie demonstreer Opperman sy woordmeesterskap in die “inferno” van “Legende van die drenkelinge”. Ek haal as voorbeeld die tweede strofe aan as skrynende kontras met die vreugde oor die koms van die reën in die eerste strofe:

Maar later toe die druppels deur

die rooi hibiskuskelke en piesangblare skeur

en uit die watervlies rysmiere twee-twee tou

teen stele gras en aan die hoogste stengels klou,

toe sterk fonteine orals deur die splete borrel,

erdwurms slymrig boontoe kruip, die eerste korrels

hael die wildevy en -dadel saai, die vlerkie breek

sodat die bruinpatrys dit spring-spring langs hom sleep,

bosbokke na mekaar toe draf en bulk en stom

gaan staan in halwe kringe en met rûe krom

teen wind; die wolke krys en met geel kloue

bome uit die aarde ruk, was elke kind en vrou

en agter al die kalmte elke man bevrees

vir die ongekende toorn van die Watergees.

 

Vir die regverdigheid (deugsaamheid) van Noag word in Genesis geen oortuigende motivering gegee nie; dit word slegs twee maal saaklik gekonstateer. Nadat die skrywer God se berou omdat Hy die mens en selfs die diere geskape het, in die direkte rede weergegee het, vervolg hy: “Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here” (Gen. 6:8). Dié uitspraak word by monde van God self bevestig in die eerste vers van Genesis 7: “Daarna het die Here aan Noag gesê: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het ek regverdig bevind in hierdie geslag.” Van dié regskapenheid van Noag kry ons geen voorbeelde in die verhaal van die vloed nie. Armstrong (2011: 43-44) wys op die reaksie van die oorlewendes in die ouer vloedverhale in teenstelling tot dié van Noag. In die Gilgamesh-epos maak die enigste oorlewende ‘n luik van sy ark oop en as hy die vlak, lewelose landskap sien, buig hy hom neer en huil in teenstelling met Noag wat niks van die kenmerkende reaksie van die oorlewende van ‘n ramp toon nie. Hy lei sy familie uit die ark, laat die diere vry en bring ‘n offer aan God waarvan die heerlke geur God tot die willekeurige besluit bring om nie weer die mensdom en die diereryk uit te wis nie.

Die onbewoë Noag en sy hardvogtige God kon nie vir Opperman ‘n metaforiese ekwivalent van sy eie geestelike skeepsreis wat ook in ‘n ramp kon eindig, gee nie; sy nege maande lange vereenselwiging met die groeiende fetus tot en met die geboorte van sy kind. In die derde gedig van die drieluik “Genesis” het hy hierdie reis voorsien: “. . . - haar skoot / is ‘n klein ark! maar in die dood / se waters reeds . . .” Soos Noag beland God se profeet Jona in die waters van die dood. God stuur hom na Ninevé om te verkondig dat hy die stad sal vernietig indien die inwoners hulle nie bekeer nie. Jona probeer van sy opdrag ontvlug deur per skip na Tarsis te vaar, maar sy poging word verydel deur ‘n storm op see wat hy slegs kan afweer deur te erken dat dit deur sy ongehoorsaamheid veroorsaak is en die matrose te verplig om hom in die see te gooi. Hulle doen dit teensinnig, die storm bedaar en God red Jona wat dan tog na Ninevé reis om God se opdrag uit te voer, al gaan dit teen sy grein om die woord van God oor te dra aan mense wat nie tot die verbondsvolk behoort nie.

Opperman kon hom vereenselwig met die profeet wat van sy Godgegewe taak probeer ontvlug, omdat hy nie daarvoor kans sien nie en anders as in geval van die verdelgende God van Noag, kon die digter ook glo in die ontfermende God van Jona wat Ninevé spaar, veral ook ter wille van die onskuldige kinders en diere in die stad. Dekker (1974: 21) sê oor die gedig “Jona” dat Opperman daarin sy “geestelike ontwikkeling” saamvat (uiteraard tot op daardie tydstip) en voeg by dat dit interessant sal wees om vas te stel hoe die “tot uiterste essensie gereduseerde konkrete siening tot simbool geword het”. Eie aan verskeie Opperman-kritici, bly Dekker egter in gebreke om die simbool te interpreteer, terwyl die uitgesproke religieuse betekenis daarvan voorop staan. Die digter Opperman is as ‘n Jona deur die vrou (die skip na Tarsis in plaas van na Ninevé) weggevoer van homself. Sy vereenselwiging met sy vrou se swangerskap was ‘n toenemende proses van selfvervreemding, maar die geboorte van sy kind word sy hergeboorte as digter:

Hoe kon ek van U aangesig, my lot

as mens ooit vlug! O God

 

Ek sink . . . U seegras maal en bind

my nietig in U draaikolk soos ‘n kind

 

weer in die moer; maar wand na wand

sluit U genade na alkant.

 

En op ‘n reënerige kus is ek een more

voor ‘n God-erbarmde Ninevé herbore.

 

Die geboorte van ‘n kind stel nuwe moontlikhede in die vooruitsig: vir die digter om opnuut te skep, maar ook vir God om die goddelike deur ‘n nuwe mens te verwesenlik. In die slotgedig van die bundel, “Moederstad”, hoor die digter, afgeslote in sy kamer en sy digterskap, “beklem” God se opdrag wat naas ‘n waarskuwing nogtans ‘n gerusstellende versekering inhou:

“Solank die mens aan My geboorte gee

hang nog My Negester oor Ninevé.”

 

Opperman was nie in die letterlike sin van die woord ‘n reisiger wat uit vreemde lande inspirasie vir sy poësie geput het nie, maar binne die ruimte van sy studeerkamer het hy ver en intensief gereis. In “Moederstad” waar hy as ‘t ware opnuut tuiskom ná die maande van spanning voor sy kind se geboorte vra hy hom af waar hy in dié periode orals in die gees gereis het:

Maar in watter streke van die gees

was ek die afgelope maande dan gewees:

die groot woestyn met grys opgrawings

van beeld, pilaar en pot, beskawings

met ‘n doolhof na die binneruime

van ‘n kelder waar die koning sluimer,

soos ‘n dooi kind in die moer, stede

met dinastieë en beskawings in die skede?

 

Die “dooi kind in die moer” voorspel dat God se Negester nie noodwendig vir altyd oor Ninevé sal hang nie. In die bundel Dolosse, geïnspireer deur Opperman se enigste letterlike uitgebreide Europese reis in 1957, bly dit vir die digter nie net by ‘n voorspelling nie, maar het die Negester reeds bokant die Westerse beskawing uitgedoof. In die aanvangsgedig “Gedagtes by ‘n sarkofaag” (kyk heelonder vir die volledige gedig) van Dolosse staan die reisende digter nie in ‘n droom nie, maar in werklikheid by’n bewaarde gebeente in ‘n sarkofaag; ‘n “hopie skewe bene / van ‘n seun van twaalf”. Dié “geraamtetjie” uit die “vyfde eeu voor Christus” “ontroer” die digter en wek by hom allerhande vrae oor die die rede van die seun - volgens die ontwerpe op die klipdeksel ‘n “spies- of diskusgooier” - se verminking: Is hy deur “god of mens” vermink, was hy ‘n voorteken van vroeëre beskawings se ondergang en ook van die “Avondlandelike drang / na die ewige atleet op die ewige sportveld / en so na sy ondergang?” Die vraag is dus of die mens wat homself verby die perke van sy menslike vermoëns dryf in sy strewe na die hoogste prestasies, noodwendig sy eie ondergang bewerkstellig. Sy gevolgtrekking in die slotstrofe lui:

Na ‘n swangerskap van vyf-en-twintig eeue

kom jul beskawing

aan sy begin en end

uit die klipmoer

‘n kind geskend.

 

Net so eksplisiet spreek Opperman hom uit oor die eindbestemming van die Westerse beskawing waarvan hy homself ‘n deelgenoot voel in die gedig “Vuurbees”. Die mens is die “buffel van die metafisika” wat verbete die “vuurbees in homself” volg sodat “prikkels van die brein” oorgaan in kunswerke en natuurwetenskaplike ontdekkings: “piramides, Laaste Avondmaal, / wiel, chroom, / projektiele, produkte van atoom, / et cetera.” By al sy bewondering vir hierdie prestasies, relativeer die digter dit deur die ironiese “et cetera”. Uiteindelik sal die mens nie terugskrik vir die “alles-uitwissende slagveld” nie; die tekens daarvan is reeds sigbaar: die “Parthenon en Hirosjima” lê stukkend in die “bose skoonheid van geweld”. Soos die mens die aarde gaan vernietig, so gaan hy ook homself vernietig, besmoontlik deur die onheilige huwelik tussen mens en wetenskap. Prometheus is die wetenskaplike wat God uitdaag met die woorde: “Wat U as skepper skep / moet ek as mens herskep.” Waar God se “proewe ook soms misluk het” “stuif” hy “nuwe struike en diere groot” en “smoor” God se “ou modelle dood”. God en mens het volgens hom ‘n “wedersydse reg / om oor dood en lewe te besleg” en hy besluit:

Ek het U hemele ingeklim

en terug gekeer met radium.

. . .

Eers wek ek per ongeluk ‘n misgewas

maar bewus hierna ‘n nuwe ras.

 

Prometheus se optimistiese toekomsvisie in die sewende gedig van ‘n reeks van nege verse word nie in die geheel van die reeks bevestig nie, maar, inteendeel, weerspreek. Die reeks het die titel “Spermutasie” met as subtitel “‘n Speursprokie vir die jongste godjies”. Die subtitel dui daarop dat Opperman se vertrekpunt by die skryf van die reeks was om ‘n speurverhaal in poësie te vertel; ‘n verhaal gesentreer rondom ‘n gesin waarbinne ‘n wanstaltige, ongewenste kind gebore word van wie een van die gesinslede of iemand nou betrokke by die gesin, ontslae raak. Die lede van ‘n hedendaagse gesin dra egter die name van figure uit die Griekse mitologie waardeur hulle dade en onderlinge verhoudinge geaktualiseer word en die algemeen-menslike betekenis van die reeks belig. Dié betekenis is reeds vervat in samestelling “Spermutasie” wat deur die komponent “sperm”, die manlike saad, ‘n teen-natuurlike verwekking suggereer deurdat daar geen suggestie is van die vroulike ovum nie. Die man as wetenskaplike kan sonder tussenkoms van die vroulike ‘n mens skep wat egter niks anders kan wees as ‘n mutasie nie. Waar mutasies in plante en diere positief kan wees, lei dit by die mens net tot ‘n gebreklike kind (vgl. WAT).

Vir die doel van hierdie lesing staan ek slegs stil by die klein siklus van drie genommerde, onderlinge verse binne “Spermutasie” onder die oorkoepelende titel “Pirrhatjie”. Die verkleinwoord is opvallend, want die klassieke mitologie ken net die volwasse, regskape Pirrha, vrou van Deukalioon, die seun van Prometheus. Toe Zeus besluit om die goddelose mensdom met ‘n geweldige wolkbreuk te vernietig, het Prometheus nog in die raad van die gode gesit en het hy Deukalioon en Pirrha gewaarsku en vir hulle ‘n skip gebou. In hulle vaartuig het hulle nie in die vloed omgekom nie. Toe Zeus vanuit die hemel afkyk op die enigste oorlewende mensepaar wat geen skuld aan die verskriklike gerig gehad het nie, het hy om hulle ontwil die storm laat opklaar. Deukalioon was diep bedroef oor die verwoeste aarde sonder mense en Pirrha het die godin Themis gesmeek om hulle te leer hoe om weer ‘n mensegeslag te verwek. Die vermoë is aan hulle geskenk. By die besef dat die “gebeente van hulle moeder” die klippe van die aarde is, het hulle met hulle gesigte bedek, klippe oor hulle skouers agtertoe gewerp. Vroulike gedaantes het voortgekom uit die klippe wat Pirrha gegooi het; uit dié van Deukalioon manlikes. Die menslike gestaltes, aanvanklik grof en onvolmaak, het gou tot volwaardige mense ontwikkel (Schwab 1967: 19-23).

As ons aanvaar dat die moeder van Pirrhatjie in die denkbeeldige verlengstuk van die mite Pirrha is, tref dit die leser dat die dogtertjie in Opperman se gedig niks van haar mitologiese naamgenoot se aard en eienskappe openbaar nie. Pirrhatjie is in die letterlike en figuurlike sin van die woord onnatuurlik; gekunsteld en los van die natuur. In haar optrede en denke oor haar piepklein boetie “met vlerke van ‘n pikkewyn” is sy wreed en gevoelloos in plaas van moederlik. Sy toon geen vroomheid, regskapenheid of piëteit vir die aarde nie. Haar wandeling saam met haar pa is vir haar ‘n ruimtereis; in die fiets se klokkie hoor sy die “vlerke / van ‘n uiltjie flits” en sê aan haar pa: “Boetie kan as jokkie / in die sirkus werk.”

Ek is terug by Genesis as belangrike grondteks van Opperman se religieuse gedigte en spesifiek by die skepping en die vloed. Nie net in teenstelling met Noag is vir die oorlewende van die vloed in die Gilgamesh-epos die gesig van die vernietigde aarde hartveskeurend nie, ook vir Deukalioon in die Griekse mite. Opperman se liefde vir die aarde spreek in Dolosse uit sy versetsverse oor die mens se vernietiging daarvan. Nie net is hy besig om in die mutasieproses wat hy self aan die gang gesit het homself te vernietig nie, hy vernietig, om aan die vrou se ydelheid te voldoen, diere so kwesbaar soos fetusse:

Die eiland van foetusse:

 

Hulle lê op klipbanke

in die son en bak,

buitel in die water,

en seemeeue

engel die hemele oop.

 

Dan die dowwe smak

en vroue wat in pelse loop.

(”Robbeslaners”)

 

Nie net die kwesbare nie, maar ook die sterke vernietig die mens; die bul in sy wrede stiergeveg waaraan hy die camouflage van ‘n kleurryke spel gee. In die ingeslote arena smag die bul terug na die vrye veld waar hy hoort:

Ag! ruk die hekke oop dat ek soos vroeër vry

tussen die waterpan en berge

waar my keelvel deur die klokgras sny

en blou steekvlieë terge,

weer sorgloos langs die heupe van my kudde wei.

(”By die dood van Roy Campbell”)

 

Die bul as simbool van manlike drif en krag word “aan tuie” deur onvrugbare “muile uitgesleep” “onder die lui van klokkies”. Dit is klokkies wat net so vals klink soos die klokkie aan Pirrhatjie se fiets. Ook die kunstenaar moet sy natuurlike talent op ‘n onnatuurlike wyse beoefen. Die grootste beeldhouer van alle tye, Michelangelo, moet op die pouslike bevel van Pius II die skepping teen die koepel van die Sixtynse kapel skilder. Hy spreek sy verset teenoor God as die “Skepper van skepsels” uit; die “skepsels” synde in eerste instansie die pous self, maar ook sy “vleiers” en die skinderbekke wat Michelangelo vrees hom oor sy skilderye sal bespot. Hy ontvlug in ‘n droom na Carrara om blokke marmer te kies vir die beelde wat hy wil kap en dan vind hy die oplossing waardeur hy homself as beeldhouer getrou kan bly, terwyl hy die pous se opdrag om te skilder, uitvoer. Nou kan hy as ‘n “dertiende dissipel” hom tot God rig as die “Skepper van skeppers” om hom die krag te gee om te skilder asof hy beeldhou:

Skepper van skeppers, soek hulle my gebrek

om met geskinder my skilderye te bespot?

Lei U die kwas dan dat ek as argitek

én beeldhouer hul flous, en uit die grot

van chaos die grootste praalgraf skep:

waar U teen die solder van die hemel God

as oerkrag met net die vinger uitgestrek

die aarde, plante, sterre, Adam . . . tot

die sondeval, profete . . . uit Carrara wek.

(”Carrara”)

 

God was inderdaad vir Opperman die “magtige magneet”: Van Heilige beeste tot Dolosse het die skeppende God hom aangetrek en het hy besin oor die verhouding van God tot sy skepping en tot homself as skeppende kunstenaar. Hy het hom diep verbonde gevoel aan die aarde en hom vereenselwig met die worstelstryd van God tot steeds groter volmaaktheid wat hy binne al die bestaansordes waargeneem het. Ook met Jesus as die Gekruisigde kon Opperman slegs vrede maak deur sy offer te sien as ‘n verlossing van God uit sy worsteling in die skepping (”Legende van die drie versoekinge”, die “groot verlossingsgedig” in Negester oor Ninevé). Maar God is vir Opperman ook transendent en daarom kom hy tot die gevolgtrekking dat as die “magtige magneet” God die aarde uiteindelik weer sal terugtrek in Homself. Met dieselfde uitgestrekte vinger waarmee Hy in die voorstelling van Michelangelo die wêreld skep, sal Hy ook daaraan ‘n einde maak. In teenstelling tot die mens se gewelddadige aantasting van die aarde waaroor die rookkolom van die atoombom steeds as ‘n bedreiging hang, sal Hy egter nie soos met die vloed die aarde weer deur geweld vernietig nie:

God het as magtige magneet

Sy vinger

deur ‘n wit wolk

gesteek:

 

dakke en bome en mense

beur en buig krom

soos alles ontspyker, ontwortel, ontaarde

na Hom.

(”Wederkoms”)

 

In my bespreking het ek nie die twee belangrike bundels Engel uit die klip (1951) en Blom en baaierd (1956) betrek nie, terwyl Opperman se religieuse motief daarin groots en omvattend uitdrukking vind. Dié twee bundels vra om ‘n bespreking op sigself en verteenwoordig die wending in Opperman se godsdienssiening na die digter as profeet wat my sou weglei van die tema van hierdie lesing. Ook sy laaste bundel Komas uit ‘n bamboesstok het ek buite rekening gelaat. Daarin breek Opperman met die godsdiens: Ná sy merkwaardige herstel van sirrose van die lewer vier hy die aardse in eie reg sonder verbintenis aan die Groot-Groot-Gees. Hy het herstel nie deur ‘n goddelike ingryp nie, maar deur die wetenskap: “Christus is korrekte chemikalieë” (”Die ballade van spek en ham”).

Ten slotte: Opperman se Godsbeskouing verset hom teen die opdring van alle filosofieë daaraan: die deïsme, die panteïsme of watter “isme” ook al. Sy beskouing dat die filosofie gevaar inhou vir die poësie is welbekend: Hy het geglo dat die abstraktheid van filosofiese denke die konkreetheid van poëtiese uitdrukking kon ondermyn. Sy Godsbegrip is dus ook nie gevorm na aanleiding van filosofiese Godsbeskouings nie. ‘n Mens sou kon sê dat soos vir Pascal Opperman se God “nie die God van die filosowe is nie, maar die God van Abraham, Isak en Jakop”, mits mens dié beroemde uitspraak van Pascal kan interpreteer soos Theo de Boer dit doen. De Boer (2005: 14) wys daarop dat die metode van die filosofie die betoog is en nie die verhaal nie. Daarom is die filosofiese interpretasies van die God van die Bybel juis in stryd met die aard van die Joods-Christelike oorlewering: “Een groot deel van de in de bijbel gecanoniseerde teksten bestaat immers uit verhalen. Die vormen geen randversiering of illustratie bij een tijdloze doctrine of universele moraal. De verhalen over de God van Abraham, Izaäk en Jacob vormen de kern” (2005: 15). Die Ou-Testamentiese verhale wat Opperman se gedigte direk of indirek oproep, het ek gelees as intertekste by sy religieuse gedigte. Dit het gelei tot ‘n sekere interpretasie van dié gedigte en van die religieuse motief in sy poësie in die algemeen. Soos alle interpretasies beskou ek dit nie as absoluut geldig nie, maar hoop ek dat ek daarmee aan die een uiters belangrike kant van Opperman se digterskap, naamlik die religieuse, die aandag kon gee wat dit verdien en iets van die essensiële betekenis daarvan kon vasvang.

Ek dank u vir u aandag.

Lina Spies

 

Nota: Ná Opperman se begrafnis in September 1985 het ek by my terugkeer in Pretoria waar ek toe verbonde was aan die Universiteit van Pretoria, onmiddellik met mnr. Jannie Momberg in verbinding getree oor die instelling van ‘n D. J. Opperman-gedenklesing aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy het die Stellenbosse Fynproewersgilde genader wat bereid was om die lesing te borg. Op inisiatief van die destydse drie professore van die Departement Afrikaans en Nederlands, professore Combrink, Ponelis en Smuts, en met die goedkeuring van mev. Opperman, is die lesing in 1986 ingestel. Op 8 Mei 1987 was ek bevoorreg om die eerste D. J. Opperman-gedenklesing te hou en nou in sy vyf-en-twintigste bestaansjaar word dié geleentheid my weer eens gegun. Ek is dankbaar om met die dertiende lesing in dié reeks van tweejaarlikse gedenklesings weer eens ‘n groot digter en my mentor te eer. - Lina Spies

 

 

Bronne

 

Armstrong, Karen. 2011. In the Beginning: A new interpretation of Genesis. Londen: Vintage Books.

Die Bybel. 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Bloem, J. C. 1969. Poëtika. Amsterdam: Polak en Van Gennep.

De Boer, Theo. 2005. De God van de filosofen en de God van Pascal. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.

Dekker, G. 1974. Oor Heilige beeste (Die Huisgenoot, 27 Julie 1945). In: Grové, A. P. (red.) D. J. Opperman - Dolosgooier van die woord. Kaapstad: Tafelberg.

Dekker, G. 1974. Oor Negester oor Ninevé (Die Ruiter, 21 Novenber 1947). In: Grové, A. P. (red.) D. J. Opperman - Dolosgooier van die woord. Kaapstad: Tafelberg.

Grové, A. P. 1974. Oor Dolosse (Die Huisgenoot, 13 Maart 1964). In: Grové, A. P. (red.) D. J. Opperman - Dolosgooier van die woord. Kaapstad: Tafelberg.

Kannemeyer, J. C. 1979. Kroniek van klip en ster. Kaapstad: Academica.

Louw, W. E. G. 1950. Die Afrikaanse poësie ná 1900. In: Van den Heever, C. M. Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner Deel III. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Mulder, H. A. 1974. Oor Negester oor Ninevé (Die Huisgenoot, 9 Julie 1948). In: Grové, A. P. (red.) D. J. Opperman - Dolosgooier van die woord. Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, D. J. 1962. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasionale Pers.

Opperman, D. J. 1963. Dolosse. Kaapstad: Nasionale Pers.

Opperman, D. J. 1967. Heilige beeste. Kaapstad: Nasionale Pers.

Opperman, D. J. 1976. Negester oor Ninevé. Kaapstad: Tafelberg.

Schwab, Gustav. 1967. Griekse mythen en sagen. Utrecht: Prisma-boeken.

Spies, Lina. 1992. Kolonnade: ‘n Studie van D. J. Opperman se bundels Heilige beeste, Negester oor Ninevé en Komas uit ‘n bamboesstok binne verband van syoeuvre. Kaapstad: Human & Rousseau.

Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Stellenbosch: Buro van die WAT.

 

Gedigte

 

Vincent van Gogh

 

Jy het as ‘n miskende

heilige vergeefs geveg teen die ellende

en die onreg in die krotte van die myn

in agterbuurtes en op landerye; slegs die pyn

en skriklike stryd van God

leer ken, wat mens en boom verknot

in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe

in aanbidding van die son kon verwe,

boere, wasvrouens en gepynigde gesigde,

die kantelende landskap in die snelle ligte

geel en groen en blou - alles met koorsige gevlek

tot branding van die skone kon verwek,

toe is Sy hartstog eers in jou volbring

soos groen sipresse tot ‘n vlam verwring.

(Heilige beeste, bl. 83)

 

 

Nagedagtenis aan my vader

 

Buite

waai ‘n vaal misreën, en teen die ruite

buig rooi huise en die silwereike skeef

in druppels wat vergly; spits blare bewe

aan geboë palmtakke soos ‘n stralekrans

om die gebroke beelde in die waterglans.

 

Ek weet die wêreld was ‘n oop kol lig om

my, waar geeste uit die donker streke kom

soos in ‘n akwarium se groot kring glas

en water, skuwe visse nader tas

tot teen die skelle lig, dan vlug van hier

na verre skemeringe groen koraal en wier.

 

So kon ek dink dat na die siekte

jy moeg van die liggaam, in die diepte

van die aarde eers ‘n rukkie rus; vermoed

toe ek die bonte kransie links neerlê, sy gloed

sal in jou bly; jou hart is ‘n palet

en jy sou verf wat jy verower het:

blou-brokkelrig uit donker krans en kolk,

die Drakensberge bo wit banke wolk;

so sou die stapelwerk van klippe, vasgebind

deur worteltoue, toegang tot die hemel vind.

 

Ek het verwag jy sou ook nie vergeet

van ons gesprekke, hoe ek graag wou weet

en jy deur nagte heen vir my kon lei

langs luiperd, leeu en wyfiewolf verby

deur bosse, af teen steiltes van die Skulp

- was dit my eie siel? - altyd my hulp

en gids; ek het van ver gesien toe eens

rysmiere uit ‘n donker gat vlieg na die reëns

met ligte vlerkgeritsel, hoe die engele

so lank gevange, opstyg na die hemele. . .

 

Nou wag ek deur herinneringe afgesonder,

op jou verskyning of ‘n kleine wonder;

maar alles bly nog soos dit was, strak

afgesluit deur hoek en lyn en vlak.

Ek weet nie waar jy is, of hoe verkeerd

ons menslike denke tas, ek weet

maar net die petrea se trossies blou

rank daagliks digter tussen my en jou.

(Heilige beeste, bls. 74-75)

 

Legende van die Drenkelinge

Het water rijst aan ‘t hart.

vondel (Noach)

 

Toe die eerste los bui oor die aarde val

het geeneen Hom herken - die kinders het mal

in die reën gespeel en diep in hul longe

die klam lug gesnuif of koel op hul tonge

die druppels laat breek; die oues teen bome

het stiller gekyk hoe dampe afstoom

van kors-droë klippe en talmend opstyg

langs die stamme, die blaarlose twyg:

die reën het gekom, die reën

ná die roep van korhaan en deur nagte aaneen

die paddas en kriekies.

 

Maar later toe die druppels deur

die rooi hibiskuskelke en piesangblare skeur,

en uit die watervlies rysmiere twee-twee tou

teen stele gras en aan die hoogste stengels klou,

toe sterk fonteine orals uit die splete borrel,

erdwurms slymrig boontoe kruip, die eerste korrels

hael die wildevy en -dadel saai, die vlerkie breek

sodat die bruinpatrys dit spring-spring langs hom sleep,

bosbokke na mekaar toe draf en bulk en stom

gaan staan in halwe kringe en met rûe krom

teen wind; die wolke krys en met geel kloue

bome uit die aarde ruk, was elke kind en vrou

en agter al die kalmte elke man bevrees

vir die ongekende toorn van die Watergees.

 

En een, ‘n reus uit die verdorwe ras

wat onverskrokke in sy sondes was,

het onrustig gedink: “Is dit ons te wagte

ná al die gevegte, besittings en nagte

van fees van vrou? Is dit ná die spot

tog die uitverkore groepie se God

wat in slypende wind en verblindende mis

ons begeertes met weerlig en hael uitwis

en die kruipende waters wat alles bedreig,

bó die mes se kerf teen die stam laat styg?

Is dit nou die wraak van die aardse dinge

wat ons jaag met ‘n haat na die hemeltinne?”

 

“Agter ons in takke van die bome vasgekeer

spring die wildekat en apies klaend heen en weer,

maar uit bosse voor die waters wat ons volg,

maanhaarleeu en kalf, duikerlam en wolf,

vinnig voor ‘n Herder, één kudde teen die bult,

draf ons langs mekaar, wedersyds geduld;

wedersyds geduld, leeu en lam, deur die nood één

draf ons oor die klippe, draf ons deur die reën,

draf ons langs mekaar, Sy kudde aangehits

met wit swepe na die hoogste spits.”

 

Maar dan groei die haat: wie die vinnigste

klim teen die rots kan miskien die enigste

wees wat dié nag in genade sal bly.

Toe gryp hy sy mes teen die steilte en sny

en steek sy pad langs die hygende flanke oop

dat hy vryer kan trek aan die wortels en loop

oor die lys na die rots; en sy kierie die klink

teen kneukels en koppe wat een vir een sink

terug deur die reën en rol en ingly

slap in die waters wat kwaaier uitsprei

waar die voëls moeg en honger in klompe

neerstort in die donker of tjulp op drywende stompe.

 

“U stroom groot en grys om die klip

en die wêreld bly enkel ‘n stip

in U roering en kolk.” Laat die nag het hy

sy hand oor die laaste kriekie gesprei -

en toe die more rooi oor die waters skyn

en ‘n walvis wat spuit soos ‘n kleinvis verdwyn,

klou hy vingers en naels aan die klip

wat skielik soos ‘n dier onder hom ruk.

“Al was ek op aarde U sterkste mens

tot die end. . .”

 

Maar die blink sens

van die golwe maai oor die rots.

“Ag, alles bly stroming en donker geklots

van diep branders . . . buite U Ark van Genade.

En wat is die mens, en wat is sy dade

sonder U? Ek spartel in seë, snik

in U branding, sink tot slik. . .”

Toe breek uit nastuiwende wolke hoog

en diep in die waters ‘n groot reënboog.

(Negester oor Ninevé, bls. 15-18)

 

 

Gedagtes by ‘n sarkofaag

 

Vandese week

is uit die vyfde eeu voor Christus

in die kerkhof van Athene

‘n sarkofaag

tusssen die stukkende grafstene

oopgegraaf;

en onder die klipdeksel

lê ‘n hopie skewe bene

van ‘n seun van twaalf.

 

Volgens die ontwerpe

en vier klein olieskrapers -

drie van brons

en een van yster -

weet ons

hy was atleet,

‘n spies- of diskuswerper.

 

Is hy deur god of mens vermink

of albei saam?

Was hy van geboorte so

of dra sy liggaam

die eerste wring van thalidomide

of polio?

 

Het hy vrywillig of onder dwang

hinke-pink

die spies ver in die grond laat sink?

Of is hy voorteken van die geweld

wat oor sy land sou kom

deur eie mense, Pers, Romein en Turk,

maar ook van die Avondlandelike drang

na die ewige atleet op ‘n ewige sportveld

en so na sy ondergang?

 

Tog, ek raak by die klein

Griekse geraamtetjie ontroer

en voel die gode maak

met dié opgrawing

deur dié klompie dolosse bekend:

Ná ‘n swangerskap van vyf-en-twintig eeue

kom jul beskawing

aan sy begin en end

uit die klipmoer

‘n kind geskend.

(Dolosse, bls. 7-8)

 

 

 

 

Ars poetica-projek. Daniel Hugo

Friday, October 7th, 2011

 

Coenraad Walters, onderwyser by Somerset College, het die afgelope weke ‘n besonder interessante projek met sy matrikulante geïnisieer. Hulle het naamlik ‘n stel vrae oor die kwessie van ars poetica-gedigte opgestel wat aan bepaalde digters gestuur is vir hul kommentaar.

In ‘n eerste aflewering van dié projek plaas ons die vrae wat aan Daniel Hugo gerig was, en sy antwoorde daarop, hieronder.

***

Hoe het Opperman u bundels, naamlik  Die Boek Daniel, Dooiemansdeur en Korte Mette beïnvloed?

Die Opperman-invloed is baie sterk in my eerste twee bundels: Korte mette (1982) en Die klein aambeeld (1983). Opperman was destyds die poësiekeurder van die uitgewery Human & Rousseau, waar dié bundels verskyn het. Die titel Die klein aambeeld is dan ook deur hom voorgestel, en daarom is die bundel aan hom opgedra. Sy invloed in dié twee bundels is veral te vinde in die Persiese kwatrynvorm (aaba) wat ek destyds byna obsessief geskryf het. In sy opstelbundel Wiggelstok het Opperman ‘n stuk geskryf oor die Persiese kwatryn, waar hy die versbeweging van dié vierreëlige vorm beeldend beskryf. Die kwatrynskrywer is ‘n timmerman met ‘n hamer in sy hand. In die eerste twee rymende versreëls word die spyker twee keer liggies op sy kop getik, in die derde rymlose reël word die hamer hoog opgelig, om dan met ‘n finale hou die kwatryn in die laaste reël (wat met die eerste twee rym) te beklink. Daar word dus ‘n ritmiese spanning in die derde reël geskep. Die volgende gedig uit Die klein aambeeld is ‘n goeie voorbeeld van die Persiese kwatryn;

genesis

nou sweef oor die geklots en gedein

die gees oor die baaierd van die brein

en deur die woord orden hy elemente

tot die klein kosmos van ‘n kwatryn

Die woord “baaierd” het ek by Opperman leer ken uit sy bundel Blom en baaierd. Die baaierd is die chaos of ongevormde staat waarin die aarde verkeer het aan die begin van die Bybelboek Genesis. Daar word ook beskryf hoe die ordenende, skeppende Gees van God oor die waters gesweef het. Die aarde is dus uit die ongevormde chaos geskep.

In Die klein aambeeld het ek ‘n alternatiewe beeld vir die Persiese kwatrynvorm probeer vind in:

die kwatryn as skerpioen

met die een tang word gogga gegryp

en met die ander deeglik vasgeknyp

sodat die gesegmenteerde stert kan oor-

buig met sy dodelike angelspuit

Die “gogga” is die onderwerp waaroor die kwatryn handel. Die morfologiese enjambement “oor- / buig” in die rymlose derde reël is nie net ‘n illustrasie van die skerpioen se “gesegmenteerde stert” nie, maar stel ook die spanningskurwe voor van die Persiese kwatryn se ritmiese opbou tot ‘n klimaks. (Die klimaks word ongelukkig ‘n bietjie verwater met die halfrym “-spuit” wat slegs assoneer met “-gryp” en “-knyp”. Dit is dus minder klinkend as wat Opperman daarvan sou gehou het!)

Terug by die kwatryn, die kunswerk of “blom”, wat uit die “baaierd” ontstaan. Opperman was ‘n aanhanger van Michelangelo, die Italiaanse beeldhouer uit die Rennaissance, wat geglo het dat die beeld reeds in die marmer vasgevang is en dat dit die kunstenaar se gawe en plig is om dit raak te sien. Dan hoef hy slegs die rots rondom die beeld los te kap om die “engel uit die klip” te verlos. (Engel uit die klip is inderdaad een van Opperman se bundeltitels.) In Opperman se poëtiese woordeskat is “blom” en “engel” sinonieme, net soos “baaierd” en “klip”.

Die kunstenaar kan egter deur die beoefening van sy kuns “beseer” word, dit wil sê emosionele of psigiese skade opdoen, omdat hy in die skeppingsproses te diep in die eie psige of ervarings gaan delf het. Dit is waarskynlik wat die volgende gedig in Korte mette wil sê:

duiweboer

as seun het hy duiwe aangehou

en elke middag aan die hok gebou

gehamer en gesaag - maar nou

dat hy gevleuelde woorde laat pronk en paar

bestaan daar vir sy vingers steeds gevaar  

(Die woord “paar” dui natuurlik ook op die paarrym van die twee slotreëls.) Opperman het die fisiese en psigiese worsteling van die kunstenaar manjifiek beskryf in “Carrara”, sy gedig oor Michelangelo.

Die outobiografiese gegewe in Die boek Daniel (1986) is geïnspireer deur D.J. Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok (1979). Komas beskryf nie net die alkoholiese Opperman se siektegeskiedenis (komas vanweë lewerversaking) nie, maar betrek ook sy hele familiegeskiedenis. In die gedig “Selfportret” uit Die boek Daniel noem die na-apende digtertjie homself ‘n “potensiële alkoholis”, en in die res van die bundel skryf hy ook oor sy persoonlike lewe. (Terloops, my heel eerste digbundel wat onder die skuilnaam Daan van der Merwe verskyn het, Saad uit die septer van 1981, is baie bewustelik as ‘n parodie op Komas uit ‘n bamboesstok gestruktureer.)

In Dooiemansdeur (1991) staan die gedig “Ontnugterde digter (vir DJO)” wat ‘n soort herskrywing is van D.J. Opperman se baie bekende gedig “Digter”. Op die Versindaba-webwerf beantwoord ek ‘n aantal vrae oor “Ontnugterde digter” in die rubriek “Digstring“.

Het Opperman steeds ‘n invloed op u werk en denke of het u siening oor die jare verander? Indien dit verander het, hoe het hierdie proses verloop?

My siening het waarskynlik redelik konstant gebly.

Dink u dat Opperman se denke oor die digkuns toepaslik is in ons moderne samelewing?

Ek weet regtig nie. Ek stel meer in die tegniek van die digkuns belang as in die onderliggende ars poetica of filosofie of ideologie. Die digkuns het in elk geval omtrent geen invloed op die samelewing nie - doodgewoon omdat so min mense gedigte lees.

Hoe vergelyk u eie denke oor die ars poetica met dié van Opperman?

Sien vraag 1.

Is daar dalk ‘n groter of soortgelyke invloed(e) op u werk en hoe het hierdie digter(s) u beïnvloed?

Ek is waarskynlik ook beïnvloed deur die soort vernufvers wat N.P. van Wyk Louw in Tristia skryf. Vernufpoësie word gekenmerk deur ‘n intellektuele spel met die taal. In Engels staan dit bekend as poetry of wit. Woordspel vorm ‘n belangrike deel van vernufsgedigte.

Wat is u hoofboodskap oor die ars poetica wat u met u gedigte aan lesers oordra?

Miskien dat net soos die skeppingsproses dikwels ‘n worstelstryd is, die leser ook moeite moet doen om die digter te verstaan. So iets. Ek dink nie ek verstaan hierdie vraag nie. ‘n Ars poetica het nie ‘n boodskap nie - sommige gedigte wel.

Daniel Hugo

5 Oktober 2011

 

 

Hannalie Taute. Klankdig

Sunday, August 28th, 2011

Elf jaar lank lê hy en stof vergader op my boekrak.  Elf jaar lank sien ek nie kans vir Duchamp nie.  Ek weet nie wat het daartoe gelei dat ek besluit het om hom op te tel nie. Dit was seker ‘n geval van die regte tyd op die regte plek.

Aan Duchamp self het ek nie veel erg nie, maar ek het wel heelwat interessante karakters in die boek teëgekom - van Alfred Jarry tot Baroness Elsa. Wat ‘n kleurryke era! In die boek het ek ook meer gelees oor Man Ray/ Emmanuel Radnistsky. Die foto wat laasgenoemde geneem het van Duchamp se “Large glass” vol stof wat lyk soos ‘n maanlandskap is nogal treffend. Die einste Man Ray was blykbaar getroud met ene Adon Lacroix, (’n Belgiese digter). Van haar het ek gelees in ‘n ander boek waarvan ek ongelukkig nie die titel kan onthou nie, maar het wel ‘n fotostaat van haar klankgedig gevind wat ek in my dagboek van 2007 geplak het. Dit lyk/klink so:

E T Y M O N S

Not so                                   PN

DA DI ME                             ZAZZ

OMA DO RE TE                  O MA QU

ZI MATA DURA                  RRO RRO

DI O. Q DURA                     RU K

TI MA TOITURA                 ASHM   ZT

DI ZRATATITOILA              PLGE

LA LA LAR-R-RITA

LAR-R-RITA                         NM E SHCHU

LAR-R-RITA                         KM NE SCU

I love you

Mi o do re mi    mi o

‘marmalade’

Volgens die bron was sy ‘n tolk tussen Man Ray en Duchamp. In die bron word genoem dat die 5de lyn in die eerste kolom en die 3de lyn in die 2de kolom blykbaar die klank en simbool voorstel van Duchamp se werk getiteld: L.H.O.O.Q (”elle a chaud au cul’- she has a hot bottom).

 

L.H.O.O.Q
L.H.O.O.Q

Daar is nie veel op die internet oor Adon Lacroix nie. Ek sou graag wou hoor hoe die gedig klink, want volgens Wikipedia word klankgedigte meestal as opvoerings uitgevoer. Ek het een aand om die braaivleisvuur die gedig probeer voorlees, maar vermoed dat ek die klanke met my Afrikaanse aksent ietwat vermorsel het.

Soos jy kan aflei, is my nuutste obsessie klankgedigte. Veral aangesien hierdie verwaande moeder dink dat haar 11 maande oue seuntjie ‘n bobaas klankdigter is.

In die begin was daar klankgedigte, gevolg deur visuele gedigte en later konkrete gedigte.

‘n Voorbeeld van ‘n klank- en konkrete gedig gekombineer is:

“Zang Tumb Tumb of Zang Tumb Tuuum” geskryf deur Filippo Tommaso Marinetti.

Marinetti, die voorvader van Futurisme, het hierdie revolusionere boek/gedig geskryf nadat hy as oorlogverslaggewer tydens die Balkanoorlog gewerk het. Dinamiese ritme, onomatopieë, verskillende lettertipes, vorms en grafiese uitlegte is kenmerkend van die boek en futurisme. As ‘n verlengde klankgedig is dit ook ‘n monument van eksperimentele literatuur.

Willem Boshoff en Hennie Meyer is van my gunsteling konkrete digters, maar ek weet nie of daar op die oomblik ‘n klankdigter in Afrikaans is nie.  Sou mens sê dat “Geponste Lei” deur D.J. Opperman ‘n klankgedig is?

I ou

Pipi

Ri meri

Ik sok kos

1 2 3

A is fir aap

Hy kou aan I raap

Tarra

Rara boem di ry

Tant kaatji

Haar dogtertji

I vaal haar

Krullekop

In di skeurtji

Sit meneertji

Kriek en kriek

Bok bok

Waarom staan

My stokki styf

Sakka pakka

Ik dink

Ik kan

Oupa het n fark gery

Hoewel bogenoemde gedig wel klanke bevat, sou dit seer sekerlik nie beskou word as ‘n klankgedig nie?

Vermoedelik het Breyten al ‘n paar klankgedigte geskryf.

In Engels is daar heelwat … veral tydens die Dada-beweging.

Hugo Ball het in Cabaret Voltaire ‘n klankgedig opgevoer…

“I created a new species of verse, ‘verse without words,’ or sound poems… I recited the following:

gadji beri bimba

glandridi lauli lonni cadori…”

(Albright, 2004)

Vorm klanke tog nie woorde, so het hy homself nie dalk weerspreek?

Ek wil ook graag ‘n skakel deel na Kurt Schwitters se Kurt SchwittersUrsonate (1922-32, “Primal Sonata”)

http://www.ubu.com/sound/schwitters.html

Geniet dit.

D.J. Opperman. Drie vroeë gedigte

Monday, October 25th, 2010

Drie vroeë gedigte van D.J. Opperman

Amanda Botha

 

D.J. Opperman as student

D.J. Opperman as student

Drie vroeë gedigte van D.J. Opperman wat nie weer in sy gebundelde werk opgeneem is nie, en hyself nie vir publikasie beskikbaar gestel het nie, het ek gevind in die Natal University College Magazine, ʼn kwartaalblad wat deur die universiteit gepubliseer is. Die gedigte, wat onderskeidelik in 1935 en 1936 gepubliseer is, se outeurskap word bloot aangedui deur die letters, D.J.O.  Hy was ʼn student aan die universiteit.

Hierdie verse is ʼn dekade voor die verskyning van Opperman se debuutbundel, Heilige beeste, gepubliseer. In die samestelling van Opperman se Versamelde Poësie, wat in 1987 gesamentlik deur Human & Rousseau en Tafelberg gepubliseer is, is net die werk opgeneem wat in sy nege bundels verskyn het. Dit dek die periode vanaf 1945 tot 1979 en sluit die volgende bundels in: Heilige beeste (1945), Negester oor Ninevé 1947), Joernaal van Jorik (1949), Engel uit die klip (1950), Blom en baaierd (1956), Dolosse (1963), Kuns-mis (1964), Edms. Bpk. (1970) en Komas uit ʼn bamboesstok (1979).

 

A.P. Grové, wat as redakteur van Versamelde Poësie opgetree het, skryf in sy verantwoording dat daar wel vroeë gedigte is wat die digter nie vir publikasie vrygestel het nie. Dit is ook nie as nagelate gedigte oorweeg om in sy versamelde werk opgeneem te word nie. Met verwysing na Opperman se keur uit eie werk wat in Astrak (1960) gebundel is, wys Grové daarop dat Opperman in die herdruk van Heilige beeste (1947) en met Negester oor Ninevé (1947) “heel bewus afskeid geneem het van ‘swak’ uitgange wat hy as ʼn dertiger-res in sy poësie beskou het.”

Hierdie vroeë werk as student kan dalk as slypstene gesien word van sy latere digterskap.

 

Daeraad

 

Die bosveld lê in more sluimernis,

  Nog voor die fynste teken voel die vroeë tarentaal

Die rooidag wat aan nader is.

  Daar op die bergtop skiet ʼn straal

Sy lig en worstel teen die duisternis.

 

Die berge en die bome staan in fyn relief;

  Die vleie en raveine snoes in swartfluweel

Wat soos die masker van ʼn dief

  Die ware vorm van wese steel,

Maar op die bergtop lê die nag deurklief.

 

Ek wens toe op die krag om te aanvaar

  Die aantog deur tradisie, bygeloof, verbloemenis,

My leiend tot die bergtop waar

  Die vorm van alles duidelik is,

Omdat die Hoër Lig die nou verklaar.

                                              D.J.O.

(Oktober 1935).

 

 

Die Vallei

 

Die mis dwaal deur die holtes van die nag

  Na duine waar die skugter aandblom geur

Om in verstrooiing heimelig te wag

  Op maanlig wat die donker hangsel skeur.

In die vallei, groen maanlig in die nag,

  Musiek van fantasie jy laat ons treur

Na daardie vlam van lig wat ver en sag,

  Maar koud, deur die sterre-gaatjies na ons speur.

Die dal vol vonkelende morewyn

  Laat ou verlangens van die nag verdwyn,

Die nugter oog se pligsbesef verkry…..

  In wrede skoonheid, tot die verre blou,

In eeu-ou plooie, sien ek: Die Vallei

  Van Duisend Heuwels vou en vou en vou.

                                         D.J.O.

(Junie 1936)

 

 

Stadsaand

 

ʼn Sagte Skuifel oor die vloer,

  ʼn Dowwe skynsel in die saal,

ʼn Klop op die tamboer

  En rûe halfpad kaal…..

 

Droef waai die wind die misreën oor

  Die rye dakke, skuins en blink,

Tot alles lig verloor

  En in die nag wegsink.

 

Die klanke van die kerkklok kring

  ʼn Somber tyding deur die nag

En stoot ʼn huiwering

  Deur my, hier waar ek wag.

                             D.J.O.

(Junie 1936)

 

 

  • Die volledige uitgawe van die Natal University College Magazine word in die Argief van die Universiteit van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg gehuisves.
  • Die taalgebruik in hierdie gedigte is presies soos dit in die oorspronklike teks verskyn het.

 

 

 

Johann Lodewyk Marais. Die stryd van die kwatryne

Monday, June 14th, 2010
Platrand Gedenkteken

Platrand Gedenkteken

By Platrand, digby Ladysmith in KwaZulu-Natal, waar op 6 Januarie 1900 ‘n bloedige slag tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het, is ‘n kwatryn van Ernst van Heerden op een van die mure van die gedenkteken aangebring. Dit lees soos volg:

Deur hierdie hande het ‘n groter Hand

gestorte bloed so mildelik gesprei,

dat vingertoppe oor die heuwelland

na akkers wys waaruit die vryheid groei.

Die digter D.J. Opperman, wat in Noord-Natal gebore en grootgeword het, het die volgende kwatryn oor Platrand geskryf, wat moontlik as ‘n enigsins geïrriteerde ‘antwoord’ op Van Heerden se kwatryn beskou kan word:

PLATRAND BY LADYSMITH

Met vergesigte oor ‘n ou slagveld

lig ons beskermend en diep ontsteld,

O Heer, bo hierdie Burgerbeendere:

betongebare uit die groot geweld.

In die 1970’s het daar byna op Platrand ‘n Afrikaanse universiteit tot stand gekom. Die grond is deur die kinderlose mnr. Thys Jacobs, ‘n welgestelde boer van die distrik en oudstudent van die Universiteit van Stellenbosch, en sy vrou vir ‘n takkampus van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat beskikbaar gestel. Volgens oorlewering was Jacobs so vermoënd die Stadsraad van Kaapstad het by hom ‘n lening gehad!

Ilse van Staden. Verlore gunsteling

Monday, May 17th, 2010

Blogfokus

 

Wanneer ek ‘n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ‘n eiland wil uitspoel.

   Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ‘n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte - ‘n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.

   Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ‘n bundel - Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.

   ‘n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ‘n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ‘n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ‘n ver verlede en ‘n sentimentele geheue - “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.

   Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ‘n digbundel present gegee het…

 

Ilse van Staden

Verlore gunsteling

Monday, May 17th, 2010

Wanneer ek ’n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ’n eiland wil uitspoel.

   Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ’n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.

   Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ’n bundel – Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.

   ’n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ’n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ’n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ’n ver verlede en ’n sentimentele geheue – “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.

   Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ’n digbundel present gegee het…

Lewies Botha. Klara Majola

Thursday, April 29th, 2010

Blogfokus

 

Klara Majola

  

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

 

- D.J. Opperman

 

Klara Majola 

Klara Majola,

ek sit hier met probeerslae van ‘n gedig;

 

“koue krampe geknoop

wit geweld en duim in die mond”

 

O, Klara Majola, Klara Majola

dit is jy nou;

-wonderlike interteks materiaal.

-‘n bespreking van die gepastheid,al dan nie,

 van die beeldspraak; nav. AP Grove.

 

Klara Majola,

ons verkluim jou weer en weer,

ons breek jou vlerkies af,

ons plant wingerdstokkies in jou skouertjies,

ons buig jou krom en styf,

ons krul jou op in ‘n nat draggie hout

los ons jou daar alleen

op die klippe in ‘n stroom.

 

Klara Majola,

as die deurnag klubs later leegbloei

op die sypaadjies en ons ongepaardes

nog half verslae rondstaan, sien ons jou daar

onder herwinbare materiaal voor ‘n winkeldeur roer

en dan skugter draf na die motor met halfoop mote,

pote wat lustig roep.

 

Ek het jou daar alleen gelos

en later slapeloos met ‘n nadors

en ‘n regmaker wat in my lewerige hande bewe

het ek probeer om jou te verlos;

 

vers vir vers.

 

 

- Lewies Botha

Lewies Botha. “Kuns is boos!”

Sunday, February 28th, 2010

 

Feetjie

Ek loop al ‘n paar jaar met ‘n gedig wat my net nie wil los nie. Die gedig; “Akkerboom” was een wat ek in die kompetisie fase van NS4 voorgelê het, maar wat gesneuwel het. Tog bly ek nog karring aan hom. Nou die aand na Sewende laan sê ek vir my vrou; “Ko’ sit en luister en sê want hierdie is jou gedig, anners gaan ek hom nou wegsmyt.”

 My vrou is in die kosbedryf en daar werk dit so; as die kos nie gereed is nie as die gaste is moet jy net bid daar is baie drank by die paartie. In die kombuis is die lonte dan kort en bevele word blitsig en bitsig eksplisiet, soos Gordon Ramsay  ”skêl” soos my vrou sê. Dit kom toe so dat ek op ‘n keer met die rondry help en sy hier langs my in die motor inspring en sê; “Ry! ek moet Hallaal-vleis kry by die Oriental plaza.”

Die slaghuis was aan die onderkant van die Oriental plaza, in North End. Ek was half vies oor die vleis kopery hier in die vervalle en vuil deel van die stad. Rommel het verstrooid rondgelê, mense het om taxi’s gemaal en straatkinders het by die motorvenster kom bedel. Naderhand toe sy uit die slaghuis kom was ek al hoogs geïrriteerd maar voordat ek iets kon sê oor haar twyfelagtige keuse van slaghuis sê sy:

 ”Ons huis was hier gewees.”  

Sy het na ‘n oop stuk veld beduie waar mans besig was om taxi’s te was.

 ”This big Oak tree was next to our house.”

Haar sommerso, onverwagse mededeling het my heeltemal onkant gevang. Ek was vir ‘n oomblik verslae en wind-uit-die-seile, eensklaps midde in die werklikheid van die verlede in geruk. Alhoewel sy voorheen al terloops van die verskuiwings vertel het, het dit nooit by my ingesink nie. Was dit dieselfde; ons-wil-nie-weet-nie-afstand wat ons wittes ook destyds gehad het ?

North End in Oos London. Die liefdeloosheid en onreg wat Apartheid was het ook die mense van North End destyds geraak. My vrou was ‘n klein dogtertjie toe hulle verskuif is. Soos ‘n mens pyn voel as jou geliefde seer kry het ek ‘n seer pyn binne in my gevoel. Ek moes uit die motor klim om die trane wat huiwer te droog en het na die Eikeboom gekyk wat daar staan; manjifiek, reusagtig, allom-teenwoordig, oorwinnaar, sekerlik baie dekades oud.

 Soos Opperman sê; “Kuns is boos!”, nadat die episode lank in my gedagtes gemaal het, het ek begin skryf. Die slaggate waarin ek gaan trap met die poging was van die staanspoor af duidelik. Wat het ‘n 40-jarige wit man in elk geval te sê oor gedwonge verskuiwings.  Hier is die mees onlangs herskryfde weergawe;

Akkerboom

In Northend staan nog steeds die akkerboom

waar jou huis eens was.

Waar jy met konsert feetjie-vlerkies verlep

bang

in jou hand ‘n akkerpit gevou het;

 (met jou mense wat verslae skree en skel

en die government-trokke

wat laai, alles sonder enige erg

en die skrapers next

wat vee, plat voor julle durf waag weer terug te trek)

 

Ek weet, want ons het eenkeer daar stilgehou

en jy het my probeer vertel hoe vrolik die buurt was

maar ek het net die windverwaaide rommel

en slaghuisbrommers

en gomsnuiwende

straatkinders raakgesien.

 

“Ek wonder hoekom het hulle die akkerboom

gehou, my vrou?”

Jy was geirriteerd met my ongepaste vraag

(Ek weet, want ek ken al lank  jou lyf se taal

,was dit weer my wit ongevoeligheid ?)

en jy het probeer om weg van my oë

‘n akkerpit in tissue te vou.

 

In Northend staan nog steeds die akkerboom

en in sy skaduwee is ‘n taxirank

en vrouens verkoop lemoene;

piramiede hopies gestapel

en enkel sigarette

20 sent-lekkers

en akker-pitte

lê vollop rond.

Hoe het die stof in die orrel gekom?

Monday, February 1st, 2010

 ‘n “Fermanent woort” vir wie krag het om te luister

deur Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp het op die plaas Rust-mijn-ziel in die Jamestown-distrik grootgeword. Hy debuteer in 1963 met die kortverhaalbundel Een somermiddag en het sedertdien 18 kortverhaalbundels uitgegee asook verskeie beskouings, essays en samestellings van prosa. Benewens vertalings van Bertold Brecht se werk het Aucamp ses digbundels gepubliseer. Onder die talle literêre pryse wat Aucamp verower het, is die Hertzogprys (1982), die Fleur du Cap-prys (1987 en 2004), die Recht Malan-prys (1997), die ATKV-Veertjie-toekenning (2004) en die Afrikaans-Onbeperk-toekenning van die KKNK. In 2005 ontvang hy die Gustav Preller-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

 

 

 

 

1

 

In die “Proloog” tot Die pluimsaad waai ver kom die Ou Vrou tot hierdie slotsom:

maar geen volk het ooit rus van loutervlamme.

 

Van Wyk Louw se drama het in 1972 verskyn, en hy kon nog sonder apologie na “Afrikaners” as “volk” verwys; nou verwys die Afrikaanssprekendes in die land na hulself as “groep”, om nie aanstoot te gee nie, en dié spreker gaan ook van “groep” praat, maar iets van die N.P. van Wyk Louw-gees probeer behou.

‘n Groep, dus, en sy taal en letterkunde, moet reëlmatig aan “loutervlamme” blootgestel word as dit lewensvatbaar wil bly. Wat die taal en die letterkunde betref, was daar van oudsher af profete en rigters wat op gesette tye gevra het: “Is dit ons erns?”

Dié profete en rigters, of noem hulle liewers “openbare gewetes”, is die kritici, die resensente en, meer nie-amptelik, die skrywers en lesers van Afrikaans.

Hierdie kritici en resensente skryf dikwels uit sterk eie oortuiging, veral as die opvoedkundige imperatief by hulle sterk is, maar soms is kritici weinig meer as die segsmanne van kultuurfaksies, en dié mag politieke en ideologiese agendas hê. Wat onthou moet word, is dat uitgewers óók kultuurfaksies verteenwoordig, en eweneens as drukgroepe kan geld.

Maar hierdie spreker wil vinnig heengly oor die sosiopolitieke implikasies van kritiek, en meer algemeen, maar tegelyk ook meer persoonlik, na potensieel-ondermynende faktore binne die poësiebedryf kyk.

Wat is die funksie van kritiek? Een funksie is al geïmpliseer, naamlik dat die kritikus waak oor wat kosbaar is binne ‘n kultuur, en meer spesifiek binne sy letterkunde. Hier sou van die Koki-”sindroom” gepraat kon word; Koki, die protagonis in Raka, wat altyd eensaam was in sy besorgdheid oor kosbare dinge. ‘n Meer aardse, en vir my doel meer geskikte definisie van die funksie van kritiek, is dié van my oud-leermeester, prof. F.E.J. Malherbe, wat kritiek die “purgeermiddel” van die letterkunde genoem het.

Dié beeld klink eers ‘n bietjie kru, tot jy besef dat “purgeer” ook ‘n religieuse byklank het, naamlik “om te suiwer”.

Skrywers en digters lewe nie altyd vreedsaam saam met hul kritici nie. Wrywing tussen verskillende generasies en “skole” is dikwels die aanstigting tot rusies. Hiervan is Toon van den Heever se geniepsige portret van Jan F.E. Celliers ‘n goeie voorbeeld.

‘n Vriend van Toon van den Heever wat by De Bussy gewerk het, het Toon se gedigte geleen en aan Jan F.E. Celliers voorgelê. Oor na Toon van den Heever self, wat soos volg in sy essay “Digters van naby” skryf:

“Een aand het die groot man my ontbied. Ek was so senuagtig soos ‘n aap op ‘n dorsmasjien. Jan Celliers het my baie vriendelik ontvang en bejeën - so vriendelik dat toe hy eindelik my bundel papiere te voorskyn haal, ek al byna verwag het om van hom te hoor: ‘Steek die blad, broeder digter!’ Maar helaas! Olympos was vir my te steil. Die digter het my medelydend aangekyk: ‘Siet u, mnr. Van den Heever, dit help nie eintlik om gedigte te maak as mens hulle nie kan verkoop nie. U kies sulke uitheemse temas! Neem byvoorbeeld hierdie gedig oor die Minnegod - wat weet ons mense van hom af? Hulle lees hier van iemand wat kaal in die bossies wegkruip en boonop nog met ‘n pyl en boog gewapen is: hulle sal warempel dink dis ‘n Boesman! As u wil verkoop, bly by die ossewa, die keteltjie en die doringboom. In u werk mis ek die innige eenvoud van ware poësie; . . . . .”

Hierdie lang aanhaling bring enkele immergroen strydkwessies in die poësiekritiek na vore. Toon van den Heever is deur Mardelene Grobbelaar as “dekadent” geïdentifiseer in haar doktorale proefskrif, Die Bose Skoonheid, nes sy, ook suiwer literêr-wetenskaplik, Eugène Marais, Leipoldt, en J.F.W. Grosskopf as eksponente van die Dekadentisme uitgewys het. Toon van den Heever meld ook in sy essay “Digters van naby” dat Preller, stellig die eerste kritikus om dit te doen, na Eugène Marais as Dekadent verwys het. Die laaste gedeelte van Toon van den Heever se essay is dan ook ‘n ontroerende verdediging van sy vriend Eugène Marais.

Die interessante is dat Toon van den Heever digters begin haat het; in die geval van Jan F.E. Celliers, ook die digter-kritikus.

As Jan Celliers Toon van den Heever se bête noire was, het Uys Krige sy mes ingehad vir ‘n hele geslag kritici, soos G. Dekker, E.C. Pienaar, S.P.E. Boshoff, Abel Coetzee en P.C. Schoonees, in sy spotvers “Die Les-Honderd”, in sy “Gifpyltjies”-reeks in sy bundel Vooraand (1964). Hy het dié reeks uit 1939 later bygewerk en “klein Lindenberg” en A.P. Grové toegevoeg tot sy lys sondaars. Sy slotsom, aan die adres van sy mededigters, is dat digters net een groot les van kritici kan leer, en dit is hoe om nie te skryf nie.

Hier was Krige onbillik. Hy het inhoud met styl verwar, want party van sy kritici het goeie, skoon prosa geskryf, bowenal A.P. Grové en Lindenberg.

Wel strek dit Krige tot eer dat hy die geswolle prosastyl van byvoorbeeld D.F. Malherbe aan die kaak gestel het, en “Boere-digters” - Krige se woord - soos Boerneef en J. van Melle geloof het om hul eenvoud en onversierde uitings. Krige se opstelle oor Boerneef en Van Melle is baanbrekerswerk en is tereg deur J.C. Kannemeyer opgeneem in die bundel Die naamlose muse, wat Uys Krige as versiende kritikus toon.

Maar “Boere-Afrikaans” het nie vir Uys Krige beteken dat hy hom tot Boere-temas moet beperk nie. Hy was dié wêreldburger in Afrikaans, met sy reis- en verblyfboeke, sy vertalings, sy sleutelopstelle oor figure soos Lorca en Elouard.

Die “ironiese elegansie” (H.A. Mulder) van Uys Krige is verder gevoer, en na ‘n hoogtepunt gebring, deur D.J. Opperman met sy reeks “Met apologie” wat in Kuns-mis verskyn het. Waar satiriese verse soos “CNOringkorrel”, “Ná die Robslanery” en “Hellingaskoltis” nog as geforseerd en alte plaaslik aandoen, ook opgeneem in Kuns-mis, verteenwoordig “Met apologie” iets besonders binne die literêre kritiek in Afrikaans. Opperman se basiese teks lui só:

Op ‘n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee

in swart geklee

met twee kolliehonde langs die see.

Wat volg, is Opperman se parodiëring van die styl en selfs voorkeurdigsoorte van die volgende digters: C.M. van den Heever, I.D. du Plessis, W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers, Ernst van Heerden en S.J. Pretorius.

Waar is Olga Kirsch, vra ‘n mens jou af: het haar beenkaal poësie by voorbaat parodiëring weggekaats? Want dis juis op maniërismes dat Opperman so genadeloos toeslaan.

Hier volg Opperman se parodiëring van die vroeë N.P. van Wyk Louw en die latere Louw, soos hy hom in byvoorbeeld Tristia openbaar:

N.P. van Wyk Louw 1:

O, God! làngs U skriklike water

stap die weduwee Viljee

met dié weet: die waan en die waansin word later

twee honde wat dráf waar sy tree.

 

N.P. van Wyk Louw 2:

Op ‘n Sabbatmiddag

(die dag is goed)

lê la veuve de Villiers

die heilige snol

bo die boulevard

(a) aarselende om te kies

effens be-swaard

tussen twee kol-lies(te)

Wat Opperman hier aantoon, is dat ‘n digter - selfs ‘n digter soos N.P. van Wyk Louw - die prooi van sy eie retoriek en eksentrisiteite kan word.

Ernst van Heerden, daardie rats en gewikste gees, het tereg gevoel dat Opperman darem nie skotvry kan gaan nie, en skryf ‘n aanvulling by “Met apologie” van Opperman, dié keer soos die weduwee Viljee-teks deur Opperman self vertolk sou kon gewees het, met die byhaal van tipiese Opperman-temas en selfs reëls. Hier volg die eerste drie strofes van Van Heerden se parodie:

D.J. Opperman

Mevrou Viljee dink aan die bakkie sand

in donker hole van ‘n woonstelstoep,

en prys die vrye ruimtes van die strand

wat nou die kollies na ontlasting roep.

 

Sy’s pikkewyn vandag en ook verlos

van wasvrou, Vredehoek en kruidenier;

haar hart trek aan die koppelriem se tros

by ou seevelde van bamboes en wier.

 

Aristos Een het by ‘n boom gestol

- met vorige laventeltjies verdig

uit strooisies bruin kors van die kiepersol -

waar hy nou fyn die agterpootjie lig.

Uit: Anderkant besit, 1966.

In 1987 verskyn die satiriese gedig “Persoonlike korrespondensie” van Daniel Hugo, opgeneem in sy bundel Vuurdoring, wat by H.A.U.M.-Literêr verskyn het. Hierdie onderverkende satire is myns insiens op dieselfde hoë vlak as “Met apologie” van D.J. Opperman, en Hugo se skrywe is dan ook aan Opperman in die hemel, waar hy soos alle ander hemelinge nie meer ‘n opper- nie maar ‘n doodgewone man is.

“Persoonlike korrespondensie” bestaan uit drie afdelings: “(1) Berig aan Opperman, (2) Opperman antwoord en (3) Petrus stuur ‘n nota.” Die “jongste speurgodjies” kan nagaan hoekom ‘Berig aan Opperman’ in rymende koeplette is, ‘Opperman antwoord’ in tersines, en ‘Petrus stuur ‘n nota’ na ‘n amptelike memorandum klink.

Hugo se skindernuus oor die nog lewendes moet maar liewers tuis gelees word. Wel kan aangehaal word uit Opperman se antwoord, waarin hy reageer op Hugo se mededeling dat die Afrikaanse poësie deur vroue oorgeneem is:

meer welkom was jou chauvinistiese geskel

          - trouens dit is opwindende toekomsnuus -

van die vroumense hier is Ingrid al wat tel

 

in my tyd was daar mos net die liewe Liesbet

          - in Holland duik sy nog onder vir die dood -

later ook Olga: háár sal Petrus wel belet

Waaraan “die jongste speurgodjies” óók aandag kan gee, is dat Hugo in goeie postmodernistiese trant ‘n sterk interteks vir sy gedig “Persoonlike korrespondensie” gebruik, naamlik “Letter to Lord Byron” van W.H. Auden.

Miskien het dit tyd geword dat ‘n sterk, gevestigde digter Opperman se “Weduwee Viljee”-teks opnuut opneem en verse skryf in die trant van Cussons, Stockenström, Spies, Malan, Hambidge en ander. Dit sal ‘n gedugte onderneming wees, want ‘n parodis moet geestig wees en liefs oor die gawe van selfironisering beskik. Bowenal moet hy (of sy) talentgewys net so groot wees as die digters wie se styl en inhoud geparodieer word, of anders word ‘n parodie maklik ‘n flouïteit of, erger nog, “‘n vuil geskreeu”, soos Van Wyk Louw in Raka sê.

 

II

 

Wat sien hierdie spreker as potensieel-ondermynende faktore binne die huidige poësiebedryf? Twee dinge: disrespek vir die medium, dit wil sê die taal self; en oordadige ontlening.

Vir my “sermoen” het ek net twee teksverse gekies, beide eenvoudig en toeganklik. Die eerste is N.P. van Wyk Louw se opstel ‘Die stof staan by die orrel’, opgeneem in sy opstelreeks “Los gedagtes oor ons taal”, in Swaarte- en ligpunte (1958), en die tweede is Salman Rushdie se briljante jeugklassiek, Haroun and the Sea of Stories (1990).

‘Die stof staan by die orrel’ is ‘n hoogs potente opstel oor die verwaarlosing van taal as medium. Dit het ‘n sekere klassieke status gekry as gevolg van Merwe Scholtz se stel spitsvondige vrae by ‘Die stof staan by die orrel’ in die skoolhandleiding, Ons Moedertaal vir standerds nege en tien. Dis jammer dat Scholtz nooit sy vrae omgewerk het tot ‘n essay nie; só ‘n essay sou net so bekend kon geraak het as “Wat vertel ‘Oom Gert vertel’”, natuurlik ook van Scholtz, opgeneem in Herout van die Afrikaanse poësie.

Van Wyk Louw se opstel begin só: “‘n Niggie van my het my jare gelede hierdie storietjie vertel: dit was op ons buurdorpie wat hulle ‘n taamlike goeie orrel gehad het; en die ou orreliste - sy is ook lank nie meer daar nie - moet glo maar Sondag na Sondag ‘n dun straaltjie musiek daaruit laat fluit het; maar toe kom daar ‘n slag ‘n bobaas-orrelis op die dorp, en dié sou ‘n orreluitvoering gee: die aand sit die kerk gepak van die mense; maar toe hy ooptrek, toe staan die hele gebou vol stof: daar was glo pype en dinge waarvan die ou dametjie nooit eers geweet het nie en wat dertig jaar lank net stof staan en vergader het. ‘Tag,’ het die diaken ná die uitvoering gesê, ‘ons ou orreltjie kon toe darem ook vanaand sy long ‘n slag oophoes.’ En die volgende dag het hulle vier of vyf mossieneste wat uitgeblaas was, op die balkon kry lê.”

Op hierdie paragraaf volg paragraaf twee, wat só begin:

“Hierdie sinryke ou verhaaltjie kom dikwels in my gedagte op as ek oor ons taal nadink of praat, of as ek Afrikaanse boeke of tydskrifte lees.”

Van Wyk Louw se toepassing van ‘n “sinryke verhaaltjie” op ‘n taalsituasie is deursigtig, en hoef nie in besonderhede ontgin te word nie. Hoofsaak hier is dat net meesterlike taalgebruikers - en hier dink ‘n mens dadelik aan digters en skrywers - al die verborge nuanses en heerlikhede van ‘n taal na bo kan bring.

Met alle respek aan Van Wyk Louw moet gesê word dat jy nie ‘n Bach en ‘n Buxtehude uit ‘n verstopte orrel kan haal nie, want sy meganisme sal al klaar versteur wees. Sal oor vyftig jaar nog ‘n Raka en ‘n Joernaal van Jorik in Afrikaans geskryf kan word? Sal daar hoegenaamd nog ‘n Afrikaans wees waarin literêr gedink kan word? Nie teen die pas waarteen Afrikaans tot ‘n patois verword en verplet word nie, selfs deur sommige van sy digters.

Tydens die Engfrikaans-debat van ‘n paar jaar gelede, is hierdie spreker verkwalik omdat hy ‘n politieke dimensie in sy betoog betrek het; vandag dink hy meer in apokaliptiese terme. Kan dit wees dat die kollektiewe onbewuste die fenomeen Afrikaner, en die draer van sy identiteit, die Afrikaanse taal, totaal uitgewis wil sien; verby, afgelê, opgedoek? Dat ‘n nuwe lewe kan begin, sonder die ballas van tradisie?

Het Opperman dalk in dié rigting gedink toe hy sy gedig oor die nasionale selfmoord van reusagtige troppe springbokke geskryf het? Hier volg die gedig “Springbokke” uit Dolosse, ‘n bundel vol donker politieke ondertone.

Astrale magte op hul bloed

en soute in die grasse het bepaal

dat uit woestyn en vlakte

hulle as één groot trop ontmoet

en dae lank eers in ‘n stofwolk maal

tot een meteens koers snuif wat almal vat

en dan geen weerstand duld

dreunend oor veld en bult

waar hoef en horings alles plat

trap en voor hul vaart wegvaag,

elkeen gewillig om sy lyf te gee

dat die trop oor slote en riviere jaag

en onkeerbaar afstort in die see:

“Ons is geroepe om ‘n groot afspraak

met die dood te maak.”

Miskien is hierdie spreker darem té pessimisties. Daar is nog altyd digters, ook jonger digters, wat taal as ‘n presisie-instrument sien, en dan ook só gebruik.

Maar nou kan dit gebeur dat hierdie presiese en toegewyde taalgebruikers hul onteenseglike talent op ander maniere kan ondermyn, deur byvoorbeeld versperrings op te werp tussen die leser en die teks. Nog nooit was Ezra Pound se waarskuwing so tydig as nou nie, spesifiek wat die Afrikaanse poësie betref. In ‘n brief aan Harriet Moore skryf hy: “Every literaryism, every book word, fritters away a scrap of the reader’s patience, a scrap of his sense of  your sincerity.”

Dis hier dat die tweede teks van my sermoen te pas kom, naamlik Haroun and the sea of stories van Salman Rushdie. In hierdie verruklike verhaal trek ‘n seuntjie uit om, doldapper, die see van stories teen besoedeling te probeer beskerm.

Ten einde besoedeling in die regte perspektief te sien, moet teruggekeer word na skrywers en digters se paradyslike staat; terug dus na die tekenbord, nie dié van argitekskantore nie, maar dié van die kinderkamer. My kroongetuies gaan Margaret Atwood en Edith Sitwell wees.

Margaret Atwood, Kanadese skryfster en digter, onthou hoe hulle gesin na woeste en afgeleë dele afgereis het vir hul vakansies. Sy het as kind agter in die voertuig op die bagasie gesit en gesien hoe die landskap en telegraafpale verbyflits, en dan volg ‘n insiggewende reël: “Perhaps it was then that I began the translation of the world into words.” Wat ‘n pragtige definisie van die skryfkuns: “to translate the world into words.” Ook is dit belangrik om daarop te let dat Atwood se wêreld van meet af aan die natuur sowel as mensgemaakte dinge ingesluit het.

Maar Edith Sitwell se kinderervaring van kreatiwiteit gaan selfs verder as dié van Atwood. Op 3 Junie 1955 skryf sy aan Father Caraman:

“When I was a very small child, I began to see the patterns of the world, the images of wonder. And I asked myself why those patterns should be repeated - the feather and the fern and rose and acorn in the patterns of frost on the window - pattern after pattern repeated again and again and again. And even then I knew it was telling us something. I founded my poetry upon it.”

Die wonder van die kind as skepper is dat hy nog nie verknoei is deur ‘n oordaad kennis nie. Hy - of natuurlik sy - interpreteer nog nie via letterkunde of ander sekondêre prikkels nie, en kán dus nie ompaaie kies nie; sy ken-middels, die sintuie, is basies al toerusting waaroor hy beskik wanneer hy die omringende wêreld wil verower deur middel van woord, beeld en klank.

Wanneer literêre, kuns- en selfs musiekstromings begin stuiptrek in gemanieerdheid, was die kuur deur die eeue nog altyd: keer terug na die natuur en eie natuur; probeer om die prille intuïsies van ‘n kind te herwin.

Digters en skrywers vermaan dan ook in dié trant.

Herman Charles Bosman sê byvoorbeeld in A cask of Jerepigo:

“Nothing can take the place of the raw inspiration of life itself, expressed with all the strength of a creative personality.”

Van Peter Blum ‘n “reprement”, soos van hom verwag kan word. Hy skryf in ‘n brief aan Ernst Lindenberg: “Weet jy wat is verkeerd met die Afrikaanse digters? Hulle lewe nie.”

Blum word op ‘n manier herhaal deur sy vriendin Ina Rousseau. Tydens ‘n foongesprek met my het Rousseau in ‘n opgewonde stem iets te dien effekte gesê: “Weet jy wat is verkeerd met moderne poësie? Dit ontspring nie meer aan die aarde nie. Dit het blomme van lap geword.” Ina Rousseau het dit nie spesifiek oor die Afrikaanse poësie gehad nie. Sy het byvoorbeeld gereeld The Best American Poetry van ‘n bepaalde jaar bestel, maar dié gebruik later gestaak, omdat ook Amerikaanse poësie, volgens haar, bloedarm begin raak het.

Selfs op musiekgebied, musiek synde soveel abstrakter as poësie, klink soms die “Terug na die natuur”-oproep op. Debussy het byvoorbeeld in 1901 teen sy kollega Paul Dukas gesê dat talle moderne komposisies onnodig kompleks geraak het, en hierop laat volg: “They smell of the lamp, not of the sun.”

Wanneer ‘n digter en skrywer primêre prikkels begin verontagsaam ten gunste van sekondêre prikkels, word hy die spelbederwer in sy eie paradys. William Burroughs het dit nog meer blatant gestel: “Every man has inside himself a parasitic being who is acting not at all to his advantage.”

Die lelike woord “parasities” het geval; dit kan aangevul word met verdere negatiewe woorde soos roofbou, inteelt en appropiasie.

Dit is lonend om na die trefwoordelys in T.T. Cloete (red.) se Literêre terme & teorieë te kyk waar dit onder andere om literêre roofbou gaan. By “Parodie”, “Paskwil”, “Pastiche”, “Perifrase” en “Persiflage” staan daar elke keer tussen hakies: (vgl. PLAGIAAT) en by PLAGIAAT self staan daar “(vgl. INVLOED (LITERÊRE), PARODIE, PASKWIL, PASTICHE, PERIFRASE, PERSIFLAGE).

Die ouderwetse woord “letterdiewery” vir “plagiaat” word deesdae al hoe minder gehoor, danksy perspektiewe wat die rigting postmodernisme gebring het. Daar word nou eerder van “interteks” gepraat as van “plagiaat”, en van “intrateks”, want ja, ‘n digter en skrywer kan ook by homself leen, om maar nie van steel te praat nie. Picasso sou by geleentheid gesê het dat hy nie skroom om by ander kunstenaars te steel nie, maar dat hy skrik as hy agterkom dat hy by homself steel.

Die gevaar hier is dat ‘n digter so intens absorbeer wat hy gelees het, dat hy nie altyd kan onderskei tussen wat hy gedink het en wat ‘n ander gedink het nie. Een voorbeeld hier is voldoende:

S.J. Pretorius en D.F. Spannenberg het op 26 Augustus 1981 ‘n gesprek met I.D. du Plessis gevoer namens Tydskrif vir Letterkunde.

Du Plessis vertel die volgende staaltjie:

Een aand in my woonstel het W.E.G. Louw se bundel Terugtog voor ons gelê. Dit het toe net verskyn. Ek sê toe vir hom: “Gladstone, ken jy Roy Campbell se werk?” Toe sê hy: “Ja, natuurlik.” Daarop vra ek. “Ken jy sy ‘Mass at dawn’? Die laaste reël lui: ‘Never was wine so red or bread so white.’ In Terugtog is daar die reëls ‘Was in geen hand voorheen/Ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!’ “Louw sou nooit droom om ‘n reël oor te neem nie. Maar hy het die reël van Campbell geken en dit het so opgeduik.

          Ek sê eendag vir Ernst van Heerden na aanleiding van Koraal van die dood: “Ken jy die Vlaming Achilles Mussche se bundel Koraal van de dood?” Toe sê hy: “My magtie, is dit waar ek daaraan kom!”

Ten spyte van die glipse wat I.D. du Plessis uitgewys het, kan gesê word dat ontlening en heenwysing na die bestaande letterkunde skering en inslag vorm van die literêre bedryf; trouens, standaardpraktyk is. Die letterkunde is eeue reeds in gesprek met homself. Hiervan is uitinge soos parodie en satire goeie voorbeelde, want hierdie soorte is van ‘n “gasheer”, van ‘n “moederteks”, afhanklik vir eie bestaan.

Die groot parodieë in die letterkunde ontstyg en oorstyg die eng parameters van definisies, en word iets nuuts, soms iets geweldigs, soos Don Quixote wat die romantiese beheptheid met ridder-romans wou parodieer. Wat gebeur toe? Don Quixote, om Nabokov by te haal, word groter as sy skepper, De Cervantes. Hy word die tydelose dromer-idealis, dapper genoeg om, soos dit in die musiekblyspel Man of La Mancha heet, “die onmoontlike droom te droom”. Hierdie gawe word onvergeetlik vergestalt in die beroemde Russiese verfilming van Don Quixote in 1957, met Kozintsev as regisseur en die legendariese akteur, Cherkassov, as die Don. In die toneel met die windmeulens, word Don Quixote met één vlerkslag van sy perd gelig en bly hy draai, om en om teen die hoë blou lug van die hoogland van La Mancha, terwyl hy sy credo teen die hemele uitroep. Dis byna onmoontlik om die religieuse in hierdie toneel mis te kyk: wie dink op só ‘n oomblik nog aan ‘n parodie?

Maar die ontleningspraktyk in die letterkunde, hoe algemeen dan ook, het ‘n skadukant. Dit mag primêre skeppende werk verdring, geput diep uit eie belewenis (be-lewe-nis). Selfs wanneer die naskrywings van ‘n model tot verrassende wendings lei, bly één feit staan: die basiese dinkwerk vir ‘n herdigte vers is reeds deur iemand anders gedoen. Gedagtegange is klaar neergelê, ook sintaktiese bane. Die naelstring tussen ‘n nadigting en sy model blý dus voortklop. Ergo: geen nadigting is ooit volkome outonoom nie.

Kan ‘n letterkunde blý floreer as dit afstuur op grootskaalse afgeleide werk? Die groot dinge in Groot Verseboek is op stuk van sake geen náskrywings nie. Hulle is uit eie lendene gedink.

In baie opsigte is die eietydse digter, paradoksaal, slegter daaraan toe as sestig, sewentig jaar gelede. In 1952 het Jean Cocteau in sy dagboek kon skryf (Nederlandse vertaling): “Hoe veelvuldiger de mogelijkheden om te communiceren hoe minder men op de hoogte is van wat er elders gebeurt.”

Die digter in die nuwe millennium is oorgeïnformeerd en oorvertegnologiseerd; die media, die elektroniese media, kom uit alle rigtings op hom aan, dikwels met informasie wat hy nie wil hê nie, maar tog in sy reeds oorlaaide sisteem opneem. Die twaalfjarige seun van ‘n vriend was baie oorstuur oor sy oupa se dood en het - ek herskep - die volgende aan sy pa gesê: “Pappa, my kop is soos ‘n webwerf. Ek is ontsteld oor al die inligting wat ek moet hanteer.”

Digters moet hul sekondêre prikkels deesdae uiters selektief kies as hulle die gees van uniekheid, van oorspronklikheid, van eie segging wil behou in hul verse.

Versiende skrywers is hulle bewus van tegnologiese gevare. Die Switserse skrywer en dramaturg, Max Frisch, het byvoorbeeld gesê: “Technology is the knack of so arranging the world that we don’t have to experience it.”

Nog ‘n wêreldnaam kan hier genoem word, dié van Günter Grass, wat by die ontvangs van die Nobelprys in 1999 gesê het dat politiek en ideologie groot gevare vir die mensdom inhou. Hy noem verder dat literatuur al hoe minder ‘n teëgif word vir dogma. Grass sê: “Is it not rather the case that literature is currently retreating from public life and that young writers are using the internet as playground? A standstill, to which the suspicious word ‘communication’ lends a certain aura, is making headway.”

Die kanse dat jong skrywers toenemend gaan inkeer op hulself om kommunie met die eie siel te soek, raak al hoe skraler. Wat baie jong skrywers soek, is ononderbroke kommunikasie met “agente” buite hulself, via selfone, rekenaars, die internet, draagbare radio’tjies.

Alle musiek begin met stilte, sê Nigel Kennedy, die beroemde violis, en alle letterkunde sou ook met stilte, besinning en meditasie moes begin, maar wys my die jong digter wat drie weke woestynstilte kan aandurf sonder selfone en ander fragmenteerders van die stilte? Stilte, in ‘n elektronies bepaalde wêreld, het die VYAND geword.

Rekenaars kan deur virusse besmet word; die menslike gees ook. Debussy het dit al in 1915 geweet toe hy van kiemoorloë in die musiek gepraat het, en na “microbes of artificial grandeur” verwys het.

Remedie? Die oudste op aarde: gee primêre prikkels ‘n kans, soos vroeër gesê; keer in op stilte; herower die droom, en bowenal verbeelding, waarvan Eitemal so mooi gesê het:

“Verbeelding is stuurman, hy sit aan die roer,

En wys ons die weg wat na Kammaland voer . . .”

Op die ou end is ‘n skepper die enigste bewaarder van sy talent. Kritici kan hom help, maar ook mislei; aan die skepper lê dit om gereeld sy talent teen die lig te hou, soos ‘n kosbare vel tekenpapier. As die watermerk - daardie waarmerk van egtheid - nie op die papier verskyn nie, moet die digter terug na sy lessenaar; die skilder terug na sy esel.

‘n Skepper kan die hele wêreld verblind en begogel, net nie homself nie.

 

Kaapstad

31 Desember 2009

 

Geselekteerde verwysings

 

Atwood, Margaret. 1983/1996. “Unearthing suite”, Bluebeard’s egg and other stories. London: Vintage.

Cloete, T.T. (red.) 1992. Literêre Terme & Teorieë. Pretoria: H.A.U.M.- Literêr.

Cocteau, Jean. 1999. Dagboek van een duisendkunstenaar (1942-1954). Amsterdam: De Arbeiderspers. (Aanhaling bl. 156)

Grass, Günter. 2006. “To be continued . . .” (1999), Nobel-prys-toespraak, opgeneem in Nobel Lectures. Cambridge: Icon Books.

Hugo, Daniel. 1987. Vuurdoring. Pretoria: H.A.U.M.-Literêr.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, band 1. Kaapstad: Academica (Sien bl. 85 vir verwysing na Onze Jan Hofmeyr se toespraak “Is’t ons ernst?”)

Kannemeyer, J.C. (red.) 2008. Briewe van Peter Blum. Hermanus: Hemel & See Boeke.

Krige, Uys. 1964. Vooraand. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Louw, N.P. van Wyk. 1972. Die pluimsaad waai ver. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde Prosa I. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde Prosa 2. Kaapstad: Human & Rousseau.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde Poësie. Kaapstad: Human & Rousseau, sowel as Tafelberg.

Patrick, Julian (red.) 2008. 501 Great Writers: A Comprehensive Guide to the Giants of Literature. London: Quintessence Book. (Aangehaalde uitsprake van Max Frisch (bl. 407) en William Burroughs (bl. 427) kom in dié werk voor.)

Pound, Ezra. 19. . . . . . . Brief aan Harriet Moore, oorgedruk in Perspectives on Modern Literature, onder redaksie van Hoffman.

Ross, Alex. 2009. The rest is noise: Listening to the Twentieth Century. London: Harper Perennial. (Die Debussy-aanhalings, onderskeidelik op bl. 49 en 109, kom uit bogemelde werk.)

Sitwell, Edith. 1997. Selected Letters of Edith Sitwell, edited by Richard Greene. London: Virago.

Van den Heever, Toon. 1958 (vyfde druk). “Digters van naby”, Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

 

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (3)

Saturday, December 12th, 2009

Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.

Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.” 

W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.