Posts Tagged ‘DJ Opperman’

Johann Lodewyk Marais. Breytenbach en Opperman in die hof

Tuesday, September 15th, 2009

In 1977 het ek Breyten Breytenbach se tweede verhoor in die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria bygewoon. Ek en ‘n skoolvriend, Costa Georghiou, wat later ‘n diplomaat sou word en nou as politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Johannesburg verbonde is, was byna elke dag daar. Ons is selfs ‘n keer op die trappies van die gebou afgeneem en op SA Mirror/SA Spieël, die destydse nuusprogram wat in rolprentteaters vertoon is, getoon.

Die digter D.J. Opperman was lank siek weens lewerversaking, maar nadat hy wonderbaarlik herstel het, het hy onder meer na die noorde gereis en Breytenbach se hofsaak bygewoon. Ek het hom (baie maer, gedas en in ‘n pak klere) die eerste dag saam met sy aantreklike dogter, Diederi, in die deur van die hofsaal sien verskyn, terwyl ons gewag het vir die hofverrigtinge om te hervat. Hy het later by Rykie van Reenen in die persbank gaan sit en gesels en tot laat die middag gebly toe die hof vir die dag verdaag is. (As ek reg onthou, het die regspanne na die bande van die gesprekke tussen Breytenbach en die bewaarder, Lucky Groenewald (wat het van hom geword?), geluister.)

Die hofsaak is die volgende dag hervat. Dit was ‘n besondere geleentheid, wat my vandag nog hoendervel gee. Breytenbach is ingebring en het in die beskuldigdebank bly sit totdat regter W.G. Boshoff hom na die getuiebank geroep het. Breytenbach het opgestaan, na regs beweeg, verby die persbank waar joernaliste soos Rykie van Reenen en Martin Welz (van die faam van Breyten en die bewaarder (1977)) gesit het.

Opperman was weer tussen hulle. Toe Breytenbach by hom kom, het Opperman opgestaan, hom met sy maer hand ‘n handdruk gegee en waarskynlik sterkte toegewens vir wat voorlê. Daarna het Breytenbach na die beskuldigdebank gegaan waar hy die eed voor regter Boshoff afgelê en sy advokaat, Johann Kriegler, hom begin ondervra het. In die gehoor het mense soos Ampie Coetzee en John Miles gesit. Almal was bewus daarvan dat ‘n stuk geskiedenis besig was om te ontvou.

Daardie dag was die Afrikaanse poësie in solidariteit bymekaar.

Johann Lodewyk Marais. ‘n Leerskool vir skrywers

Tuesday, September 1st, 2009

I

Die digter W.H. Auden (1907–1973), wat as professor in poësie aan die Universiteit van Oxford die opdrag gehad het om opleiding in skeppende skryfwerk aan te bied, het by geleentheid ‘n leerplan voorgestel vir die aspirantdigters aan sy “Daydream College for Bards” (oftewel sy ideale Leerskool vir Digters): Die leerplan het iets oorgedra van die geskakeerdheid wat met opleiding in skeppende skryfwerk gepaard kan gaan:

1)         In addition to English, at least one ancient language, probably Greek or Hebrew, and two modern languages would be required.

2)         Thousands of lines of poetry in these languages would be learned by heart.

3)         The library would contain no books of literary criticism, and the only critical exercise required of students would be the writing of parodies.

4)         Courses in prosody, rhetoric and comparative philology would be required of all students, and every student would have to select three courses out of courses in mathematics, natural history, geology, meteorology, archaeology, mythology, liturgics, cooking.

5)         Every student would be required to look after a domestic animal and cultivate a garden plot.

Oor die sukses wat Auden met hierdie veeleisende kursus sou gehad het, kan baie bespiegel word. Die vraag bly egter: Kan ‘n skrywer opgelei word?

Hierdie vraag duik meermale op wanneer opleiding in skeppende skryfwerk ter sprake kom, en spruit waarskynlik uit ‘n onderliggende opvatting dat die vermoё om ‘n skrywer te word as ‘t ware geneties vasgelê moet wees en eintlik nie aangeleer kan word nie. Wat natuurlik enigsins vreemd is, is dat dieselfde vraag nie noodwendig gevra word oor die opleiding van skilders, beeldhouers, komponiste, musici en balletdansers nie.

Wat is dan nou so uniek aan ‘n skrywer? Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), wat op byna elke Afrikaanse skrywer se lessenaar lê (of behoort te lê!), verklaar die lemma “skrywer” soos volg:

1. Persoon wat skryf: ‘n Vinnige skrywer. 2. Persoon wat ‘n bepaalde stuk, brief geskryf het: Die skrywer van hierdie brief. 3. Persoon wat boeke, artikels, gedigte, ens. vir publikasie skryf; outeur: ‘n Veelsydige outeur. 9 …). 4. Werk van ‘n outeur: ‘n Skrywer bestudeer.

Hierdie lemma laat vermoed dat daar meer oor “skrywer” gesê kan word as die algemene siening wat in die verklaring vervat is. Die verklaring dui ook nie aan dat ‘n skrywer as uniek beskou word, of oor unieke talent moet beskik om te kan skryf nie. En tog het die opvatting dat ‘n skrywer nie “gemaak” kan word nie tot betreklik onlangs, toe skryfskole as ‘t ware soos paddastoele opgeskiet het, bestaan. Heelparty mense huldig steeds die opvatting dat skrywers se werke bestudeer kan word, maar dit word nie as gerade beskou om opleiding aan te bied oor hóé om te skryf nie.

Daar kan verskeie redes aangevoer word vir die feit dat daar so lank onvoldoende aandag aan die opleiding van skrywers bestee is. Een van die redes sou wees dat die besit van letterkundige werke vir ‘n groot deel van die breё publiek nie dieselfde prestigewaarde het as byvoorbeeld die besit van kunswerke, of die bywoning van musiek- of balletuitvoerings nie. Daarom word ‘n belegging in die letterkunde ook nie geredelik gemaak nie en kan ‘n mens met reg kla oor mense nie meer boeke koop en lees nie. My ervaring in ‘n heeltemal ander verband is dat mense se min toewyding aan lees direk aan die lae geletterdheidvlakke in die land en die swak kennis van tale toegeskryf moet word.

Nou is dit so dat baie mense die behoefte ervaar om te skryf, maar nie weet wat en hoe nie. By sulke mense is daar dikwels onsekerheid oor die mate waarin hulle “talent het”, “meriete toon” en hulle skryfwerk “publiseerbaar” kan wees. D.J. Opperman, baanbreker van opleiding in skeppende skryfwerk in sowel die Afrikaanse as die Suid-Afrikaanse letterkunde, onder meer vanweё die Letterkundige Laboratorium wat hy in 1960 aan die Universiteit van Stellenbosch begin het, het hierdie onsekerheid van sommige universiteitstudente soos volg verwoord:

“Wat word van die jong skeppende genie wat eensaam op die kampus ronddwaal en geen raad met sy talent weet nie? Hy vir wie dit hoofsaak in die lewe is: Is die jambe uitgedien? Sy gawe geniet geen akademiese erkenning of leiding nie, dit is geen studievak nie. Later, as hy eers gebundel het, word sy werk wel bestudeer. Daarop word punte en grade verwerf, maar hy …? Êrens is daar iets skeefs.”

By Opperman se “jong skeppende genie” moet ‘n mens ook voeg: die middeljarige man wat lank reeds net vir die laai skryf, die vrou wat half toevallig ontdek dat sy skryftalent het en die standerd 8-leerling op die platteland wat by ‘n bekende skrywer of uitgewer om raad aanklop. Geslagte aspirantskrywers het nie die geleentheid gehad om opleiding in skeppende skryfwerk in Afrikaans te ontvang nie en bly worstel met vrae oor hulle skeppende vermoёns. Suid-Afrikaanse universiteitstudente wat kursusse in Afrikaans of Afrikaans en Nederlands gevolg het, was tot betreklik onlangs toe nog deurgaans onbewus daarvan dat verskillende soorte opleiding in skeppende skryfwerk glad nie so ‘n rariteit in die skrywerswêreld is nie en veral in die Verenigde State van Amerika goed gevestig is.

Sedert die 1980’s het opleiding in skeppende skryfwerk egter ‘n betreklik algemene verskynsel in die Afrikaanse literêre wêreld geword. Verskeie universiteite bied tans skrywersopleiding aan, die ATKV is daarby betrokke en ander instansies bied van tyd tot tyd werkswinkels aan. Hierbenewens het hulpmiddels soos skrywershandleidings soos dié van Hennie Aucamp ook in Afrikaans beskikbaar geraak, hoewel die publikasie van skrywershandleidings nie as ‘n florerend beskou kan word nie.

Ongeag die soms ideosinkratiese uitsprake oor opleiding in skeppende skryfwerk, is skrywersopleiding outentieke literatuurbeoefening. Dit blyk uit die manier waarop die hele kommunikasiesituasie daarin ter sprake kom en uit die feit dat die doel van opleiding in skeppende skryfwerk immers is om ‘n teks tot stand te bring. Opleiding in skeppende skryfwerk is by uitnemendheid teksgerig!

Vir my, wat op verskillende maniere by die vestiging en evaluering van navorsing (by die RGN en vir my MA-verhandeling) oor en aanbieding van opleiding in skeppende skryfwerk vir volwassenes in Afrikaans betrokke was, is dit altyd ‘n uitdaging om uiteindelik by die skrywers en hulle werk self uit te kom om ander skrywers te help om hulle werk te slyp en vir moontlike publikasie voor te berei. Veral as redakteur van Ensovoort en van die eerste PoёsieNet op LitNet het ek baie blootstelling in hierdie verband gehad. Dit is ook belangrik om dit duidelik te stel dat dit heeltemal normaal en aanvaarbaar is om verskillede soorte hulp met jou manuskrip te kry. Agter in Loftus Marais se dubbelbekroonde Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) word ‘n hele aantal mense bedank vir hulle hulp met die bundel. Ten opsigte van die meeste skrywers is dit ‘n totale mite dat hulle sonder enige hulp hulle werk skryf en publiseer.

II

Ek gaan nou oorsigtelik en ter inleiding individuele skrywers se werk en die soort foute waarmee die redakteur of beoordelaar van skeppende skryfwerk heel dikwels te doen het, bespreek. Ek wil egter eers iets in die algemeen sê oor die verskillende vlakke van opleiding wat vir die aspirantskrywer beskikbaar is, naamlik formele, nieformele en informele opleiding.

Vroeёr was aspirantskrywers min of meer aangewese op sogenaamde “tradisionele” vorme van opleiding of hulp, soos raad van ‘n onderwyser of dosent, in enkele gevalle die opinie of voorstelle van ‘n meer ervare (en gewoonlik heelwat ouer) skrywer wat gewillig was om kommentaar op ‘n aspirantskrywer se werk te lewer, asook keurderverslae van tydskrifte en uitgewers. Ofskoon korrespondensiekolleges ook sedert die 1950’s kursusse in skeppende skryfwerk aanbied, word die spektrum van skrywersopleiding eers sedert omstreeks die helfte van die 1980’s aansienlik uitgebrei deur vorme van opleiding wat deur universiteite, uitgewers en kultuurverenigings ingestel is. In hierdie dekade het LitNet se hulp ook bygekom.

III

In byna al die hoedanighede waarin ek by opleiding in skeppende skryfwerk betrokke was, het daar voortdurend aspekte na vore gekom of het ek waarnemings gemaak wat dalk goed kan wees in ‘n gesprek oor nuwe skryfwerk. Vir hierdie gesprek het ek my tot enkele punte beperk, naamlik dinge waarop aspirantskrywers bedag moet wees en wat hulle in gedagte moet hou voordat hulle hulle skryfwerk vir publikasie voorlê:

1)           Talle gedigte (en prosawerke) word ontsier deur veralgemenings en abstraksies. Waarskynlik gee ‘n bepaalde siening oor die poёsie of selfs letterkunde tot sekere reaksies aanleiding. Die spesifieke dinge, die ding as sodanig, dit waarvoor jy ‘n naam kan gee en nuut en spesifiek kan beskryf/benoem, het veel groter kans om die leser te boei. Die gevaar bestaan weliswaar dat ons ‘n digter soos Opperman se poёtika kan verabsoluteer, maar in Afrikaanse gedigte het abstrakte selfstandige naamwoorde (die “-heid”-woorde) en woorde soos “liefde”, “siel” en “gees” min kans op sukses.

2)         Die emosies word in tekste gesê in plaas van getoon. Dit gebeur dikwels in gedigte, en een van die eerste lesse wat aspirantdigters moet leer, is om hierdie emosies oortuigend aan te bied en die waarde van suggestie te leer.

3)         Gebrekkige taaldissipline. In sowel gedigte as prosa sorg skrywers nie dat hulle werk tot in die vesels afgerond is nie. Heelwat manuskripte sal ‘n baie beter indruk maak indien moeite gedoen is om ten minste die spelling en grammatika te kontroleer. Enige keurder is skepties as daar basiese foute in ‘n manuskrip is. Die uitgewer gaan sekerlik help om jou foute reg te maak, maar daar is perke daaraan. Dieselfde geld vir die feitelike inhoud van jou werk. Goeie skrywers spandeer baie tyd daaraan, selfs jare en dekades!

4)         Min nadenke oor wat gesê word. Aspirantskrywers besin nie altyd genoeg oor wat hulle wil sê nie.

5)         Wantroue oor nuwerwetse neigings. Uitgewers kry dikwels te doen met (veral ouer?) skrywers wat nuwe neigings in die letterkunde wantrou en sterk standpunt daarteen inneem. Van die opmerkings is dat hulle nog soos A.G. Visser en Jan F.E. Celliers skryf, en rym nog soos die ouer digters gebruik. Skrywers hoef natuurlik nie alles wat nuut is vir soetkoek op te eet nie, maar naïwiteit oor nuwe tendense is gewoonlik nie ‘n goeie teken nie.

6)         Te veel gedigte of verhale. Aspirantdigters en aspirantkortverhaalskrywers is geneig om te veel gedigte of verhale voor te lê en sinspeel gewoonlik dat daar “nog is”. Keurders het nie dosyne tekste nodig om ‘n skrywer se werk te kan takseer nie.

7)         Plagiaat. Plagiaat is ‘n ernstige saak wat skrywers ten alle koste moet vermy. Ek het by drie geleenthede met plagiaat te doene gekry en weet hoe blootgestel sowel die skrywer as die uitgewer in hierdie verband is. My ervaring is dat skrywers wat hulle een keer hieraan skuldig gemaak het, geneig is om dit weer te doen. In ons tyd van literêre gesprekke tussen skrywers is dit nog steeds belangrik om te weet waar die grense is.

8)         “Special pleading”. Skrywers probeer dikwels simpatie werf vir hulle manuskripte deur te vertel van die moeilike omstandighede waaronder ‘n manuskrip tot stand gekom het of wat aanleiding tot die skryf van ‘n teks gegee het: ‘n pynlike egskeiding, die lyding of verlies van ‘n geliefde, bankrotskap. Dit is egter die gehalte van die teks wat die uitgewer moet oortuig.

Kan ‘n skrywer opgelei word? Dit is nog steeds nie maklik om hierdie vraag te beantwoord nie. Ek het wel gebaat by die hulp wat ek in my skrywersloopbaan by ‘n hele aantal mense gekry het. Daarbenewens is dit doodgewoon opwindend om oor en met skrywers en hulle werk te gesels. Daarsonder het ons nie meer ‘n lewenskragtige letterkunde nie.

Johann Lodewyk Marais. Van eenhorings gepraat

Sunday, August 30th, 2009

Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is. 

Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.

Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.

En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:

“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”

“Hoe bedoel u?” vra ek.

“Waar kan ek haar in die hande kry?”

“Hoekom?”

“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”

Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.

“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.

En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.

Toe ek ’n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”

Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.

Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.

Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.

Spieëlmaats

Monday, August 3rd, 2009
Die koningrooibekkie

Die koningrooibekkie

Aangesien ons hierdie naweek die derde maand van die webblad gevier het, is ‘n meer persoonlike Nuuswekker seker in orde … En wat ‘n wonderlike 3 maande was dit nie! So is daar die daaglikse besoekerstal wat lag-lag meer is as die gemiddelde oplaag van ‘n digbundel; die entoesiastiese terugvoer vanuit soveel verskillende oorde; die verbysterende gehalte van die bydraes wat ingestuur en/of geplaas word; die bloggers wat ‘n mens telkens stom laat voor die gehalte van hul blogs, ensovoorts. Maar natuurlik, soos dit maar dikwels die geval is, was daar teleurstellings ook. Soos ons onvermoë - tot dusver - om ‘n borg vir die webblad te kan bekom; of ondernemings wat gegee word en dan nie nagekom word nie. Sug. Mens bly maar mens, is dit nie?

En dit bring my by die storie waarmee ek jou vanoggend wil vermaak. Dit handel naamlik oor ‘n allerlieflikste koningrooibekkie wat die afgelope weke die boom reg voor my studeerkamervenster sy tuiste gemaak het. Telkens wanneer ek voor my rekenaar kom sit, sal hy reg voor my kom fladder en saggies teen die ruit pik-pik asof hy na binne wil kom. Andersins sal hy op die tak reg voor my venster sit en my stip dophou, hoe en waar ek ook al beweeg. Pietjan het ek hom gedoop en klaviermusiek is sy ding. Veral Chopin en Schumann. Ons het goeie vriende geword, uiteraard. Aangesien ek egter bekommerd begin raak het oor Pietjan se onnatuurlike fiksasie op my, asook sy beperkte spieruithouvermoë, het ek ‘n spieël in die ruit geplaas met ‘n voetstuk aan die buitekant sodat hy ure daar kan verwyl in ‘n intieme gesprek met sy spieëlbeeld. Ai, mense. Wat ‘n plesier … Maar nou ja, soos in my inleidende paragraaf reeds gesê: té veel vreugde is ook nie goed vir ‘n mens nie. So gebeur dit toe mos dat die mossies óók die spieël ontdek en dit volledig vir hulself toeëien, terwyl Pietjan (wat maar nog ‘n babatjie is) hom ietwat verleë verder agtertoe in die bos skuilhou. O, die teleurstelling.

Nietemin, na drie maande moet ons afskeid neem van een van ons gewaardeerde bloggers. Daniel Hugo het naamlik versoek om vervang te word, aangesien hy dit weens omstandighede moeilik vind om daarmee vol te hou. Ek moet ook erken dat Daniel se onderneming reg van die begin af was om ons net te help om die webblad se blogs van stapel te stuur. Vir sy insette kan ons net dankbaar wees. Dankie daarvoor, Daniel. En wees verseker: ons sal jou wel weer op ánder maniere (probeer) betrek.

Nou ja, so is dit dat ons tans oor ons eerste vakature vir ‘n blogger beskik. Laat weet gerus indien jy sou belangstel.

Maar kom ons eindig dié Nuuswekker op ‘n meer positiewe noot. Een van ons uitgespelde doelwitte met dié webblad is om die Afrikaanssprekende poësieliefhebber ook groter blootstelling aan Internasionale Poësie te bied. Hierin lewer Charl-Pierre Naudé uiteraard ‘n enorme bydrae en sy voorstel onlangs om van “gas-bloggers” gebruik te maak, is ‘n skitterende idee. Breyten Breytenbach se stuk “Klinkdink“, wat al geplaas is, is byvoorbeeld pure leesplesier. En dan laat weet Charl-Pierre dat Valzhyna Mort, oor wie ek in Vrydag se Nuuswekker berig het, se stuk reeds ontvang is en binnekort deur hom geplaas sal word. Sjoe, ‘n mens kan nie wag nie …

Ten slotte, aan almal wat tot die vestiging van hierdie baba-blad meegewerk het: baie, baie dankie. Veral diegene wat tot onderhoude toegestem het en/of artikels gestuur het. En natuurlik: ons bloggers. Ons kan maar net handeklap en juig. Júlle is immers die murg in hierdie gedoente se kuberpype. Om nie van ons geliefde webmeester te vergeet nie: dit is jý wat hierdie hele pypgedoente aan mekaar hou, Marlise. Dankie vir die ure en ure se harde werk.

Vanoggend, by wyse van oordaad, twéé verse. Die eerste deur ‘n meester; die ander ’n geleentheidsvers.

‘n Uiters aangename week word jou toegewens.

Mooi bly.

LE

 

Kontrak

 

U het die wêreld oopgeskiet

tot grot en grammadoela;

 

toe die blaar en riet,

U arbeiders, gestuur; wortels

wat nederig werk, die mier wat stokkies dra

en beitelpunt van die rivier.

 

U droom met dinamiet

en laat aan arbeiders

die besonderhede en verdriet.

 

© DJ Opperman (1945: Heilige beeste)

 

 

 

Spieëlmaats

 

Telkens die koningrooibekkie

se geflitter voor jou studeerkamerruit -

die elegante getjirp waarmee hy  

sy trae refleksie buitentoe roep. En jy

 

plaas ‘n spieël teen die glas vir hom,

met ‘n voetstuk van draad daarby

om knus-intiem in skerper fokus

by ‘n spieëlmaat die dae kop-in-mus

 

te verbly. Maar vanoggend is daar

net ‘n mossie se dom geboggel

by jou ruit: op en af, ure aaneen, op

en af, spring, spring, die waggelende

 

potsierlikheid. Om jou liefbekkie

waarskynlik elders heen

te verwilder.

 

© Louis Esterhuizen

Johann Lodewyk Marais. Leon Strydom wys na sy horlosie

Friday, July 10th, 2009

Dit was ’n koue aand op 24 Junie 1983 toe ons in een van die min restaurante in Bloemfontein se middestad gaan eet het. By die ete was daar letterkundiges wat die pas afgelope SAVAL-minikongres oor resepsie-estetika by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat bygewoon het.

 

Aan my regterkant was Leon Strydom, professor in Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit. Strydom het met die digbundel Geleentheidsverse (1973) gedebuteer en daarvoor is hy met sowel die Eugène Marais- as Ingrid Jonker-prys bekroon. Hy was ook destyds al bekend vir sy belangstelling in die beeldende kunste en had volgens gerugte ’n buitengewone versameling kunswerke. (Deesdae is hy die eienaar van die Strydom-galery op George.)

 

Ek wou graag weet wanneer Strydom weer ’n bundel gaan publiseer, want sy vernuftig gestruktureerde, woordgevoelige en dikwels eienaardig kriptiese verse met hul veelduidige betekenis het my geboei. Strydom het bloot na sy horlosie gewys. Dit wil sê, het hy beduie, daar is nie genoeg tyd daarvoor nie. In 1988 het sy tweede bundel, LS, wel verskyn, en dit het my nie teleurgestel nie.

 

Strydom is ook die skrywer van Oor die eenheid van die digbundel: ’n Tipologie van gedigtegroepe (1976), wat (aspirant)digters gerus kan lees, en Die Sonnevanger (1983) oor Frans Claerhout se beroemde groep van 29 skilderye met dieselfde titel. As student aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland en op reis saam met sy vrou in Europa het Strydom boonop fassinerende briewe aan sy Stellenbosse mentor D.J. Opperman geskryf, wat in die Dokumentesentrum in die J.S. Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch bewaar word.

 

Nou, 21 jaar ná Leon Strydom se laaste digbundel, wonder ek oor daardie wys na die horlosie, want hy is ’n hoogs vernuftige digter wie se bydrae gemis word. Dat ’n gebrek aan tyd ’n skrander mens darem so in die wiele kan ry!

Ilse van Staden.Te klip

Thursday, July 9th, 2009

Een van my geliefde gedigte is Opperman se “Te klip om te boom”, maar ek wonder nou weer of hy reg is om te beweer “klip teel swaar”. Hy het net nog nooit in my groentetuin gespit nie. Vier jaar nadat ek my lappie grond afgekamp en begin bewerk het, spit ek steeds met elke nuwe bedding ‘n emmer vol klippe uit. Die goed teel aan erger as konyne. Vir elke tien boontjiepitte wat ek saai, kom daar vyf klippe op. (As dit maar diamante was - nou die dag is ‘n blou diamant uit die Cullinan-myn vir 75 miljoen pond verkoop.) Dis asof die aarde die klippe aanhou opstoot iewers uit haar sidderende buik. Omdat dit haar aard is.

   En die digter? Miskien is die klippe gedigte wat sal opstoot, solank mens maar aanhou spit. Miskien is dit temas wat hulself weer en weer aanmeld, al voel mens jy het dit nou al leeg geskryf. Dalk dra mens maar vrugte na jou aard - bone, geelwortels, klippe, diamante - nieteenstaande die hoeveelheid kompos en kunsmis wat jy inwerk. En as gedigte klippe is, dan weet ek - die goed teel bitter swaar . Hier op my erf is hulle so skaars soos blou diamante.