Posts Tagged ‘donkerkamer’

Andries Bezuidenhout. Digbundel maak nuus in Namibië

Wednesday, November 2nd, 2011

Fourie Botha se digbundel Donkerkamer is hierdie week in die nuus in Namibië – in die dagblad The Namibian – oor foto’s deur John Liebenberg uit die koerant se argief wat deur die digter gebruik is in twee van sy gedigte. Lees die storie hier.

Digstring. Fourie Botha. My eerste Bybel.

Tuesday, August 30th, 2011

My eerste Bybel

Openbaring 5

 

Wie is waardig om dié boek oop te maak?

Die verse versigtig geasterisk,

God se beloftes dat Hy oor jou waak

netjies met pen onderstreep, aangestip.

 

Wie mag die sewe seëls breek?

Die briewe van jou skoolvriend lees?

Boekmerk by ‘n vergete preek:

Die Here sou jou herder wees.

 

Wie kan na die foto’s kyk

van jou dooie troetelhond

of weet hoe het jou ma gelyk

voor sy bril gedra het?

 

Ek is die een met sewe oë

die sywurmkruis ‘n swaard in my mond.

Slaan die boek óóp; slag my lyf.

Pa het voorin my naam geskryf.

 

Uit: Donkerkamer  (2011, Queillerie: p. 72)

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Fourie. Hoe het dit ontstaan?

Die eerste weergawe van die gedig staan in ‘n dagboek by 6 Februarie 2006. Die plan was om ‘n tipe himne te skryf. Ek het deur my bybel geblaai om na die vorm van hierdie soort gedig te kyk. Ek kon die Psalms nie naboots nie. Toe blaai ek deur Openbaring. (Ek onthou hoe bang dié boek my gemaak het toe ek klein was. Om oor die vrees te kom, het ek op laerskool die hele Openbaring deurgelees en vurig kantaantekinge in pen in die kantlyne ingeskryf.) Toe sien ek die gedeelte oor die name in die boek waarvan Openbaring 5 praat en onthou dat my eie name voorin my bybel staan – in my pa se handskrif en onderstreep met die datum 5 Junie 1988. Toe het ek die begin en die einde, die beeld en die toepassing as jy wil, van die gedig.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar is vier erg bekrapte weergawes op papier in die dagboekie voordat ek dit op die rekenaar verder afgewerk het. Die finale vorm het hom nie onmiddelik aangemeld nie – die dagboek wys hoe ek rymskemas oorweeg het en die lettergrepe getel het. Johann de Lange het my met die finale woordorde in die laaste reël gehelp

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Baie goed wat ek in die vers noem was reeds voor my: die onderstreepte bybelverse; my naam voorin die bybel; al die dinge wat ek tussen die bladsye opgegaar het toe ek klein was en vir jare daarna nie gesien het nie. Dan was daar ook Openbaring 5 om mee te werk. Al wat ek moes doen was om dit wat voor my was in ‘n vorm te kry en dit so te rangskik dat daar ‘n soort dramatiese verloop is.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die interteks het gehelp om goed te orden. Die klimaks lê in die slot, so ‘n mens weet waarheen jy op pad is en waar jy sterker beelde moet gebruik. Die eindryme wat ek gebruik het het ook rigting gegee.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek het die gedig aan Joan Hambidge en my klasmaats gewys toe ek kreatiewe skryfwerk aan UK gestudeer het. Ek wys my gedigte eerste vir haar.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Vyf jaar nadat ek die gedig geskryf het, is dit in 2011 in Donkerkamer gepubliseer.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die beskrywings is van my eie bybel. Die asterisk staan langs die negende vers:

Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

Ek het nou wel nie ‘n boekmerk wat ‘n sywurm gespin het nie, maar ek dink ek het sulke boekmerke al gesien. Die briefies en die foto’s bestaan.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit gaan vir my oor ‘n pa se toe-eiening van sy seun. Wat dit beteken as ‘n pa sy kind uitkies – dit is ‘n ingewikkelder ding as wat ‘n mens dink.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ek het ‘n ondersteunende, onkritiese, waarderende leser, iemand wat nooit oordeel nie, maak nie saak wat jy sê nie, in gedagte. ‘n Goeie vriend wat jy nie ken nie maar vir wie jy geheime dinge kan vertel. Dalk ook iemand met geheueverlies, sodat hy nie verveeld raak wanneer jy dieselfde storie oor en oor vertel totdat jy klaar is daarmee nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Nee, die gedig werk nou saam met die ander gedigte in die bundel.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, ek dink nie so nie. Die ingewikkelde verhouding tussen mense en die kerk en mense en hul pa’s kry ‘n mens oral, maar die manier waarop hierdie verhoudings uitgedruk word, is dalk Suid-Afrikaans. Hier is ook iets wat my herinner aan die Statebybel wat dikwels ‘n familie se stamboom voorin gee.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek het dit gelos toe die toonaard en die metrum vir my reg geklink het.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Iemand het vir my eenkeer gesê die gedig herinner hom aan ‘n kerkliedjie. So dalk het ek dit tog reggekry om ‘n tipe himne te skryf.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was ‘n liedjie wat ek op my blokfluit gespeel het – oor ‘n haas wat ‘n wortel by ‘n boer steel en versigtig moet wees om nie geskiet te word nie. Die arme haas wou groentesop kook – ek vermoed die versie sou minder bloeddorstig gewees het as kop nie met sop gerym het nie.

_______________________________________________________________________

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

Resensie. “Donkerkamer” (Fourie Botha)

Friday, August 12th, 2011

 

Resensent: Heilna du Plooy

Fourie Botha se debuut bevat volgens die nota op die laaste bladsy van die bundel heelwat gedigte wat geskryf is tydens sy M.A.-studie in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Die gedigte is dan ook inderdaad netjies afgerond en getuig van ʼn sorgsame skryfproses en deeglike besinning, sowel wat die tematiese as die poëtiese aspekte betref.

Die bundel bestaan uit drie afdelings met ʼn enkelgedig wat vooraf alleen staan. In dié gedig, “Foto van my pa se gesig” (p.7), word die gesig van die vader beskryf in terme van ʼn foto van ʼn plaastoneel sodat gelaatstrekke en gesigteksture as volstruisdop, doringdraad en sink beskryf word. Die hantering van die metaforiese versmelting van die gesig en die toneel op die foto is baie knap gedoen. Die vader is dan ook so stil soos ʼn foto, waardeur ʼn diep gebrek aan kommunikasie en begrip gesuggereer word.

Die drie afdelings in DONKERKAMER is getitel” Bedgebied”, “Skoot” en “Roberts Birds”. Die eerste afdeling bevat ʼn aantal eksplisiete homo-erotiese gedigte, terwyl daar in die tweede afdeling verskeie ekfrastiese gedigte opgeneem is. Die slotafdeling, wil dit vir my voorkom, gaan oor inleiding of inwyding soos wat Roberts se voëlboek ʼn gids en ʼn inleiding tot die studie van voëls is. Die gedigte het te make met ontvoogding, die “aflê van die gids”, die inslaan van ʼn eie roete.

Daar is egter ook temas en werkwyses wat in al die afdelings ontgin word. Ek wil hier spesifiek verwys na die beeldgedigte waarin daar telkens ʼn oorspronklike siening van die kunswerk gebied word of waar die kunsbelewenis met persoonlike belewenis versmelt. Daar is ook ‘n aantal foto’s in die bundel opgeneem, ongelukkig nie geplaas direk by die toepaslike gedigte nie, maar soos die leser deur die bundel lees, stuur die foto jou soms terug na ʼn gedig om te herlees terwyl die lesing van die gedig teenoor die foto onvermydelik deur die foto beïnvloed word.

Daar is in die bundel ʼn sterk visuele ingesteldheid. Dit kom na vore sowel in die beeldspraak as in die gedigte wat oor foto’s en skilderye en ander kunswerke handel. In “Die gordyn in die kamer” (p.22) word ʼn verhouding beëindig en die teken daarvoor is die beeld van “(d)ie lamppaal voor die ruit/ trek ʼn sperstreep deur die aand” om maar een voorbeeld te gee.

Die gedig ” Caravaggio se Bacchus” (p.11) handel oor Caravaggio se skildery van ʼn Bacchus in die gedaante van ʼn ligbesope of babelaas jong man, selfs miskien ʼn selfportret volgens sommige bronne. Die skildery is geskilder kort nadat Caravaggio in Rome aangekom het en deel geword het van die sirkel van sy eerste belangrike beskermheer naamlik die Kardinaal Del Monte. Del Monte was bekend vir die ephebofiele aard van sy vriendekring, d.w.s. die voorkeur en erotiese aangetrokkenheid tot aantreklike adolessente jong mense. Die gedig interpreteer die skildery deur ‘n konteks te verbeel maar stel ook die toonaard van die hele afdeling.

Dieselfde benadering tot ʼn visuele teks kom voor in die gedig oor Frida Kahlo se skildery “Die twee Fridas” (p. 37) – die digter konstrueer ʼn bespiegelende interpretasie van die kunswerk, soos ook in “Lunch II” (p.44) wat inspeel op Manet se skildery “Le déjeuner sur l’herbe”. Die digter kontrasteer die verskillende rolspelers in Manet se skildery, waar twee geklede mans met twee naakte vroue ʼn piekniekete geniet, en in die foto vir die Les Dieux du Stade-kalender, waarop  twee naakte mans en ʼn geklede vrou verskyn. Die digter dink in terme van representasies, vandaar sy gesprek met en oor en om Rodin, die foto’s van Owen Wilson en by Ombalantu en veral die grusame foto van die man wat slagoffer was in die xenofobiese aanvalle in 2008.

ʼn Baie vindingryke gedig (p.49) is die gesprek van Venus in die beroemde skildery van Velazquez, die sogenaamde “Rokeby Venus” (so genoem omdat dit in Rokeby in Engeland gehang het) met die Maria-figuur in Michelangelo se Piéta. Die skildery staan ook bekend as “Venus by haar toilette”, “Venus by die spieël” of “Venus en Kupido”. Hierdie skildery is in 1914 beskadig deur ʼn suffragette Mary Richardson uit ontsteltenis oor die inhegtenisneming van die een van die leidende figure in die suffragette-beweging, Emmeline Pankhurst. Die skade aan die skildery het bestaan uit 7 snye oor die rug van die Venusfiguur. In die gedig spreek Venus die Maria van Michelangelo se Piéta aan na aanleiding van hulle gedeelde lot as geskende vrouefigure in kunswerke aangesien ene Laszlo Toth in 1972 die Piéta met ʼn hamer aangeval en die Maria-figuur se arm afgekap het. Die digter se interpretasie is dat die twee gerepresenteerde vroue ook dit gemeen het dat hulle geskend word terwyl hulle manlike nageslag ongeskonde bly. Dit is natuurlik ʼn suiwer horisontale interpretasie van die Piéta wat aansluit by ander gedigte waarin religieuse opvatting ondermyn en herkodeer word (vgl. “My eerste Bybel”, p. 72).

Hierdie  bundel bevat interessante tematiese materiaal, maar wat poëties gesproke belangriker is, is dat die gedigte heg gestruktureer is en ook  goed vloei. Die versifikasie is knap, die ritmiese gang loop deurgaans goed, die metaforiek word goed hanteer  – kortom, die gedigte is goeie gedigte, geskryf met ʼn goeie poëtiese aanvoeling. Wat ek wel moet opmerk, is dat die soort interpretasie van die tematiese stof wel geneig is om eenselwig te raak. Dit was later asof ek ʼn bepaalde soort wending te wagte was. Dit is mode om primêr en volgehoue ondermynend na die wêreld te kyk, om gewone tradisionele dinge soos ouers en ander instellings van die gemeenskap te bevraagteken, te dekonstrueer en te herkodeer. Dit geld ook die sterk homo-erotiese siening wat die deurlopende ondertoon van die bundel is. Die kyk is anders as tradisioneel en dit is inderdaad een van die funksies van die kuns om steeds met nuwe oë na die werklikheid te kyk. Die probleem is net dat daar nou al soveel bundels (en boeke en openbare gesprekke en artikels) is wat presies dit doen, dat die leser dit te wagte is en ek my afvra wat as “nuut” en “ondermynend” beskou kan word as “nuut” en “ondermynend” die norm geword het. Dit gaan hier om tegnies knap gedigte en as die inhoudelike voorspelbaar raak, is dit jammer.

Botha is ʼn jong digter met baie potensiaal, hy skryf met energie en rond sy werk goed af as en in dié lig beskou, is DONKERKAMER ʼn goeie debuut.

 

Fourie Botha. 2011.  DONKERKAMER. Kaapstad: Quellerie.

ISBN 978-0-7958-0022-1