Posts Tagged ‘dood’

Marlies Taljard: Die poëtika van pyn

Thursday, September 15th, 2011

The Wounded Storyteller

The Wounded Storyteller

Die sosioloog Arthur W. Frank se bekende boek “The Wounded Storyteller: Body, Ilness, and Ethics” (1995) is een van die mees aangehaalde bronne wanneer dit kom by die verwoording van siekte, patologie en dood in die letterkunde. Sy raamwerk van restitusie-, chaos- en soektog- (quest-)narratiewe het al byna geykte status in die literêre teorie verwerf en word deur talle teoretici gebruik wanneer hulle oor verhale van siekte en dood skryf. Eenvoudig gestel, beskou Frank siekte as ‘n soort kolonisering van die liggaam. Dié siening gee daartoe aanleiding dat verhale van siekte dikwels deur middel van kolonialistiese en postkolonialistiese metafore beskryf word, byvoorbeeld die oorhandiging van die liggaam aan die mediese wetenskap of die herbesitname van die liggaam nadat die siekte “oorwin” is. Binne die raamwerk van die postmodernisme is die persoonlike narratief weer belangrik. Dit behels klemlegging op die “pasiënt” of spreker of verteller se reg om eienaarskap te neem van sy/haar eie verhaal en om as’t ware ‘n nuwe lewe te rekonstrueer aan die hand van die chaos wat deur ernstige siekte of besering ontstaan het. Dikwels is die konstruksie van so ‘n narratief natuurlik ook deel van wat bekend staan as “narratiewe terapie” en dus deel van ‘n bewuste (sielkundige) herstelproses deur die skrikwekkende onder woorde te probeer bring. Kristeva noem dit “speaking the abject”.

 

Wanneer daar poësie (of enige ander kuns) gemaak word waarin siekte of dood die ordenende beginsel is, val die klem uiteraard in besonder op die siek of beseerde liggaam. Frank onderskei vier dimensies van liggaamlikheid wat dikwels in siektenarratiewe figureer, naamlik beheer teenoor nie-beheer; verhouding met die self teenoor verhouding met die ander; assosiasie teenoor dissosiasie en begeerte teenoor gebrek aan begeerte. Aan die hand van hierdie topografie verdeel hy dan siektenarratiewe in drie kategorieë, naamlik restitusie- of herstelverhale, chaosverhale waarin die gebeure nie deur die spreker of verteller beheer kan word nie en soektogverhale (die Engelse “quest narrative”), wat meestal ook die elemente van ‘n spirituele reis bevat.

In 2004 verskyn Frank se boek “The Renewal of Generosity: Illness, Medicine, and How to Live” waarin hy die perspektief, deur inkorporasie van die insigte van bekende sosioloë en filosowe, laat val op die ervarings van mediese praktisyns én pasiënte, dus die gee en ontvang van mediese sorg. In 2010 verskyn “Letting Stories Breathe: A Socio-narratology” waarin hy sosio-wetenskaplike vrae vra oor die verskillende maniere waarop stories en verhale die lewe van mense beïnvloed.

Inner World of Medical Students

Inner World of Medical Students

Johanna Shapiro, direkteur van die Medical Humanities Program aan die Universiteit van Kalifornië neem veral Frank se boek, “The Wounded Storyteller”, maar ook sy ander twee boeke, as basis vir haar eie ondersoek na die poësie van mediese studente in haar boek “The Inner World of Medical Students: Listening to Their Voices in Poetry”. Shapiro beskou haarself as ‘n mediese pedagoog, maar sy is ook ‘n bekende skrywer en literêre kritikus. In die bogenoemde boek maak sy ‘n hermeneutiese en kwalitatiewe analise van 500 gedigte wat deur mediese studente geskryf is. Omdat sy gedigte as ‘n spesifieke soort kwalitatiewe data beskou, maak sy gebruik van tipiese empiriese  navorsingsmetodes soos onderhoude, fokusgroep onderhoude en teksanalise vir die ontleding van haar tekste. Hoewel sy hou by Frank se drie kategorieë waarin siektenarratiewe verdeel kan word, is dit vir haar duidelik dat dergelike verhale dikwels die grense van kategorieë oorskry. Sy lê in haar teksontledings klem op metafore van topologie wat dikwels die soektognarratiewe vergesel – met ander woorde die siekte word voorgestel as ‘n reis en die liggaam as ‘n vreemde landstreek. Sy kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat die narratologie en onderrigteorie binne mediese fakulteite groot ooreenkomste met mekaar vertoon deur honderde voorbeelde aan te haal waar dié twee teoretiese terreine deur studente in terme van mekaar beskryf word of ineengestrengel met mekaar voorkom. Die doel van haar ondersoek was nie in die eerste instansie om te fokus op die estetiese waarde van die studente se gedigte nie, maar om te probeer vasstel hoe mediese studente oor hulle studies voel. Sy kom dan tot die konklusie dat “what may be most noteworthy about the analysis of these poems is that, amidst their own difficulties and fears, time and again these students reported engaging deeply with their patients.”

 

Dit opvallend dat daar die afgelope twee of drie jaar ‘n hele paar digbundels in Afrikaans verskyn het waarin metafore van siekte, verwonding en dood ‘n belangrike rol speel. Waarskynlik die belangrikste in dié genre is Marlise Joubert se bundel “Splintervlerk” (2011). Die tema van die bundel is die stadige en pynlike herstelproses na ‘n rugoperasie. Die eerste afdeling van die bundel steun swaar op metafore van pyn en distorsie – in Frank se terme dus die chaos-motief wat gepaard gaan met dinge waaroor die sprekende ek geen beheer het nie, soos in die gedig “blomtong”:

agter pers vlinders bloei die trauma

van ‘n week, nee, twee of drie tevore

toe purpertange my rug vasgegryp het –

die kraakbeen voos soos ‘n neut laat bars,

weefsel soos saffraan kon kneus

en oranje meeldrade ‘n vlegsel

senuwees laat kraak.” (p.20)

 Ook herstel of restitusie is ‘n belangrike gegewe in die bundel en dui – gegewe die aanvanklike chaos – dus op ‘n proses of ‘n persoonlike verhaal. In “stil” skryf sy” “hoe geruisloos / val die herfs. // hoe stadig heel die wond”. Hier word tydsverloop gesuggereer en selfs die sikliese aard van pynverwerking deur aktivering van die seisoen-metafoor. Oorkoepelend gesien, is dit egter die soektognarratief wat dui op ‘n spirituele reis, wat in Joubert se bundel oorheers. Verwonding en die stadige herstelproses is maar net stasies op die reis na dieper insig wat na afloop van die trauma algaande deurskemer, soos in die gedig “oudergewoonte”:

vanaand het ek lief omdat daar wyn is om te drink

vanaand kan ek liefhê omdat ons steeds alles

vir mekaar kan skink en langsaam wis hoeveel sagter

die reën en son in verouderde glase is (p.92)

Nog ‘n bundel waarin die narratief van siekte, patologie en dood ‘n belangrike rol speel, is die debuutbundel van Martina Klopper, “Nadoodse ondersoek” (2010). Die bundel word gestruktureer in die vorm van ‘n nadoodse ondersoek onder die afdelings “Misdaadtoneel”, “Eksterne ondersoek”, “Interne ondersoek” en “Verslag”. Dit is hierdie soort teks waarmee Shapiro werk, ‘n teks waarin die digter-patoloog kommentaar lewer op sowel die digpraktyk as die afloop van ‘n outopsie en dié twee praktyke in terme van mekaar beskryf. Hierdie bundel illustreer tot ‘n groot mate die gevolgtrekking waartoe Shapiro kom, naamlik dat kategorieë ineenvloei. Mediese terme funksioneer in dié bundel as metafore binne die digpraktyk en eweneens is die poësie by uitnemendheid geskik om veral oor die persoonlike belewenis van die medikus/patoloog kommentaar te lewer.

Ook in Klopper se bundel speel die liggaam ‘n belangrike rol as metafoor. Dit is die liggaam se binne- en buitekant wat deur middel van die poëtiese praktyk ontleed en gedissekteer word:

(…)

Hier is my liggaam

op die praalbed van papier,

dis jóú taak om die oorsaak

van my dood te bepaal.

 

Vir die eksterne ondersoek:

tel alle wonde en sere,

meet elke tattoo –

dis letters en grepe

die merke van ‘n lewe

op my vel agtergelaat.

 

Gebruik die en masse-tegniek

vir interne disseksie:

weeg elke woord,

sny “hart” en “brein”

in dik stukke fillet,

vind metafore vir “moord”. (p.9)

Aan die einde van die gedig “Patologie” wat voor afdeling 1 staan, maak die digter haar werkwyse bekend:

Die digter is ‘n patoloog,

‘n gedig die lykskouingsverslag:

om te skryf is om te soek

na die oorsaak van ‘n woord. (p.10)

Aanhalings soos dié hierbo, sowel as die logiese, chronologiese ordening van die bundel, suggereer ‘n soektognarratief. As deel van dié soektog, wat eindig met die bevinding “digter ontbindend tot gedig”, is daar in die bundel talryke tekens van Frank se 4 dimensies van liggaamlikheid. Die gedig “Hartaanval” is byvoorbeeld ‘n skitterende illustrasie van chaos en gebrek aan beheer;

‘n Ribbekas sluit om my hart

soos die vingers van ‘n soldaat

om ‘n primed handgranaat –

ek ontplof in sy hand. (p.44)

‘n Verdere bundel waarin enkele gedigte met siekte, patologie en dood voorkom, is dié van Gilbert Gibson, “Oogensiklopedie” (2009). Klopper beskryf in haar bundel onder “Woordelys” die term “hipostase”, na aanleiding van ‘n subtitel in haar gedig “Nawoordse ondersoek” as “die ophoop van bloed in ‘n dooie liggaam op so ‘n manier dat ‘n rooierige vlek onder die vel vorm in die liggaamsdeel wat naaste aan die wond is, omdat swaartekrag die bloed na die laagste deel van die liggaam trek”. Op p. 49 van Gibson se bundel verskyn ook ‘n gedig met die titel “hipostase” waarin dié term simbool word vir dit wat na jare nog in die geheue ingegrif is. Die gedig eindig met die slotsom: “… na die droom / is die kneusing op my kussing soos die kleur van ploegskaar, alles / in the name of the lord”. Ook in ander gedigte soos “anatomieles” en “die buig van been” word die lewe in terme van die mediese praktyk en die mediese vakwoordeskat beskryf.

Ons vind dieselfde praktyk natuurlik ook dikwels by ander digters soos by Cas Vos, T.T. Cloete, om maar enkeles te noem. Baie navorsing is al gedoen oor die poëtika van pyn, siekte en dood, maar daar kom steeds nuwe insigte ten opsigte van dié interessante poëtiese praktyk in terme van die teorie van ander vakgebiede en deur interdissiplinêr te werk. Daarom bly ondersoek na hierdie spesifieke metafore steeds ‘n lonende en insiggewende onderneming, hetsy as deel van die literêre teorie of as deel van sosiologiese, sielkundige of ander navorsing.

 

Ilse van Staden. In memoriam Marcella

Thursday, August 27th, 2009

Joernalistieke protokol vereis seker dat ek na haar moet verwys as Marcella de Boom, maar te hel met protokol – sy was my ma! En nou is my moedertjie, my koelteboom, my Mamma Marcella skielik nie meer daar nie en “dit brand soos ’n pyl in my” soos Totius geweet het. Sy was nie net my ma nie, sy was my sielsgenoot.

   Die eerste boek wat ek raakvat op haar rak is ’n bloemlesing wat sy self in sierskrif geskryf het die Kersfees na my geboorte, as ’n geskenk vir haar eie ma – “omdat jy heel eerste gedigte vir my gelees het, hier is vir jou ’n bloemlesing van die gedigte wat vir my die heel mooiste is en wat ek die liefste het”. Sy het nog hieruit voorgelees op ons laaste Poetry Crawl. Blake se “The sick rose” en “Imitated from the Japanese” van Yeats. Die laaste gedig in die boekie is P.C. Boutens se “Goede Dood”:

 

Goede Dood wiens zuiver pijpen

    Door’t verstilde leven boort,

Die tot glimlach van begrijpen

   Alle jong en schoon bekoort,

 

Voor wien kinderen en wijzen

   Lachend laten boek en spel,

Voor wien maar verkleumde grijzen

   Huivren in hun kille cel, –

 

Mij is elk dag verloren,

   Die uw lokstem niet verneemt;

Want dit land van most en koren

   Is mij immer schoon en vreemd;

 

Want nooit beurde ik hier te drinken

   ‘t Water dat de ziel verjongt,

Of van dichtbij hief te klinken

   ‘t Verre wijsje dat gij zongt:

 

Alle schoon dat de aard kan geven

   Blijkt een pad dat tot u voert,

En alleen is leven leven

   Als het tot den dood ontroert.

 

   Sy ontroer my tot ver verby die dood. Sowat twee jaar gelede het sy begin met ’n reeks skilderye waarvan daar uiteindelik drie was – “Die dood is ’n mooi blou blom”. Dit was vir my so mooi, beide die titel en die skilderye. En ek het gedink ek is so slim om dit te kan ver-dig; ek dog ek weet. Nou lees ek weer die gedig (“mooi blou blom”) en nóú weet ek.

   In ’n versamelbundel van Van Wyk Louw wat ook eers aan my ouma behoort het en na haar dood na my gekom het, het my ma duidelik dikwels ook gelees. Dit is vol kantnotas en reëls wat in dik skewe potloodlyne onderstreep is (tipies die kunstenaar wat sy was en sekerlik met een van haar tekenpotlode!)of langs die kant met ’n duimnael gemerk. Onderaan die gedig “Nog in my laaste woorde” het sy geskryf “skryf dit asb eendag op my graf” en die laaste reël onderstreep:

 

mooi is die lewe en die dood is mooi.

 

   Op Poetry Crawls, soos op die meeste gesellighede, het sy dikwels vroeg al tot siens gesê, voordat sy kwansuis in ’n pampoen sou verander. Daarom dat ’n vriend nou opmerk dat hierdie dood in haar aard was, want “she always left the party early”.

   Ook mý eerste gedigte het ek van my ma gehoor en met die Kersfees na my graad een jaar het sy my ’n baie ambisieuse geskenk gegee – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers. Een van ons albei se geliefde gedigte was “Bome”, want

 

daar is geen soepel weerstand so volkome

soos die geduld en buigsaamheid van bome.

 

Dalk is dit omdat sy self ’n “boom” was.

   Vir Vrouedag het sy ’n uitstalling in haar galery gehang wat onder andere twaalf selfportrette ingesluit het, vanaf 1967 tot 2009. So ’n volmaakte getal, twaalf. Sy het dit genoem “one woman, one life” en dit met die hand op twee foliovelle uitgeskryf en teen die muur geplak. Hoe gepas. Toe ek vanoggend, drie dae na haar dood, weer daar kom, het die papier waarop daar “one woman” staan, op die grond gelê. Net nog “one life” was oor, soos ’n opstanding.

   Wanneer ek in die oggende soms te vroeg by haar aangekom het, het sy bo uit haar kamer geroep dat sy nog in die bed is “met God en Bach”.

   As sy self kon kies, is dit hoe sy sou wou gaan – skielik en maklik. Sy het Sondagmiddag soos haar gewoonte was ver in die koppie gaan stap met haar vier Africanis-honde, nadat sy tot naby gery het met haar bakkietjie. Dit was haar lewensbloed, die daaglikse stap in die veld, en sy het dit haar stiltetyd genoem. Met die terugkom het sy die honde weer ingelaai, die bakkie huiswaarts gekeer en seker twee honderd meter verder aan ’n hartaanval gesterf. Ek dink dit was van ekstase, asof haar ontmoeting met God dié keer te veel was vir ’n sterflike mens, soos Moses wat sy gesig moes wegkeer van die goddelike teenwoordigheid. Dié keer het sy nie weggedraai nie.

   Ek hoop sy verf die hemel rooi.