Posts Tagged ‘Doodmenslik WL van der Merwe’

Resensie: Doodmenslik (W.L. van der Merwe)

Monday, September 10th, 2018

Doodmenslik deur W.L. van der Merwe. Protea Boekhuis, 2018.

Resensie: Dewald Koen

 

Omslag

Die Engelse digter-dramaturg Oscar Wilde het gesê “wisdom comes with age […]”. Ek is geneig om heelhartig met laasgenoemde stelling saam te stem. Alhoewel daar talle voorbeelde van jong Afrikaanse digters is wat die letterkundige establishment se fondamente geskud het (hier dink ek aan resente digters soos Bibi Slippers, Ronelda Kamfer en Loftus Marais – om maar enkeles te noem), lewer die Afrikaanse letterkunde dan en wan ’n ouer debutant op wat bewys dat die wysheid en lewenservaring wat met die ouderdom gepaard gaan ongetwyfeld ’n positiewe bydrae tot sy/haar poësie lewer. Verskeie voorbeelde is hier ter sake. Die ontslape bekroonde digter en akademikus T.T. Cloete het as skolier gedigte begin skryf maar het eers op 56-jarige ouderdom met Angelliera (1980) gedebuteer. Meer onlangs het die dramaturg Pieter Fourie op 77-jarige ouderdom met sy bundel knapsekêrels (2017) die oudste debutant in die Afrikaanse poësie geword. Alhoewel gedigte van W.L. van der Merwe reeds in Woordreise (2004), Nuwe Stemme 3 (2005), Versindaba (2006) en Groot Verseboek Deel 3 (2008) verskyn het, het sy debuutbundel pas op 61-jarige leeftyd verskyn.

Strijdom van der Merwe se treffende kunswerk Rangskik groen takkies op verlepte blare, Terschelling, Nederland (2018) komplimenteer die bundeltitel Doodmenslik. Die kontras tussen verlepte blare en groen takkies sinspeel op twee van die temas naamlik lewe en dood wat in die bundel aan bod kom. Terselfdertyd onderskraag die beeld die dualisme tussen die skoonheid in die vorm van die groen takkies en die weerloosheid soos verbeeld in die verlepte blare. Reeds in die bundeltitel Doodmenslik word die leser gekonfronteer met die eenvoudige kwaliteite van die alledaagse mens. Dié nuutskepping deur die digter sinspeel op intensiewe vorme soos doodeenvoudig, doodgewoon en doodonskuldig wat dui op die oorbeklemtoning van die menslike weerloosheid en verganklikheid wat tematies sterk in die bundel figureer.

Die programgedig “voortaan” het reeds in 2004 in Woordreise verskyn en is deur Laurinda Hofmeyr getoonset en deur laasgenoemde sanger tesame met Laurika Rauch opgevoer.

voortaan sal ek winterskemers vleilangs loop

en droë takkies van geraamtestruike stroop

wilgers sal gekruisig aan die hemel hang

en ek sal doodmenslik na jou terugverlang

soos na die somerse rinkink van vinke in palmiet

en die onbeholpe liefde van wildeganse tussen riet

In dié treffende openingsvers word menslike verganklikheid en die verlies van ’n geliefde op besonders beeldryke wyse geïllustreer. Seisoene word as metafoor gebruik om die spreker se verlange na die afgestorwe geliefde op “doodmenslik[e]” wyse te verwoord. Die prag van die gedig is vasgevang en word beklemtoon in sy eenvoud. Die gedig tree ook in gesprek met die slotgedig “troos en hoop”. Alhoewel die spreker oor die gestorwe geliefde rou, bied die slotgedig “in lewe en in sterwe / [s]y laaste troos en hoop”.

I

Die bundel bestaan uit vyf afdelings waarin gedigte hoofsaaklik volgens temas saamgevoeg is. In “die laaste gedig” steek die spreker die draak met die Afrikaanse literêre establishment met volop galgehumor. Intertekstuele verwysings na D.J. Opperman se “Hooggeëerdes” en “Seremonie van die naelstring” uit Komas uit ’n bamboesstok (1979), Antjie Krog se “Ma” (1970) asook Roswitha Geggus se studie getiteld Die wit in die poësie (1961) kom in die gedig voor.

professore, doktore, kokkedore en ander koolore

die titel van my gedenklesing vanaand is:

“Die laaste gedig”

[…]

Konklusie: ’n gedig sonder taal, ’n gedig in wit

strepe op papier sonder verband of betekenis

net ’n leesteken hier en daar wat sinjaleer:

hier is die graal van stilte in git

Van besondere belang is die spreker se (letterlike) siening dat “die laaste gedig nog nie geskryf is [nie]”. Met die taaldebat en die onsekerheid rondom die toekoms van Afrikaans as akademiese taal wat gereeld opvlam, stel die spreker dit duidelik dat die ars poetica nog lank nie in Afrikaans uitgeskryf is nie. Verder beklemtoon die spreker ook die digter as kunstenaar se onvermoë om elke denkbare menslike emosie of ervaring te kan verwoord: “’n gedig sonder taal, ’n gedig in wit / strepe op papier sonder verband of betekenis / net ’n leesteken hier en daar wat sinjaleer / hier is die graal van stilte in git”. Die titel is dus dubbelsinnig en lei die leser doelbewus om die bos. Die gedig tree verder ook op metaforiese vlak in gesprek met die slotgedig “troos en hoop” wat letterlik die laaste gedig in die bundel Doodmenslik is. In teenstelling met die spreker se stelling dat “die laaste gedig sal lig werp op wat onsegbaar is / en dit daarby laat” om sodoende die siklus in die bundel te voltooi, laat die spreker tog ’n spreekwoordelike agterdeur oop met dit wat ongesê gebly het tussen die spreker en die geliefde.

In “beeldspraak” en “grafsteen” kom menslike verganklikheid aan bod terwyl “koning van my kasteel” ’n ryk filosofiese en mitologiese inslag het met verwysings na Hegel, Schlegel, Schopenhauer en Nietzsche – laasgenoemde met ’n sterk humoristiese inslag.

[…]

my slaapkamer word snags besoek

deur die uile van Minerva

wat grootoog sit en waak en skyt

op my versamelde werke van Hegel

Die skeppingsproses word op beeldryke wyse verwoord in “blik van ’n skilder”, “Umbrië” (ook verganklikheid) en “padwerker”. In “die digter” word die ars poetica soos volg verwoord:

die digter skryf nie meer gedigte nie

hy stoot die kruiwa in Valkenburg

onderstebo

ek vra hom, hoe dan so?

anders laai ek dit vol woorde

en die dokter sê

dit breek my rug

In “padwerker” word die skeppingsmoment soos volg verwoord: son skroei oor die aarde / my baas kyk in koelte / hoe ek die pik laat sing / en klip tap uit my bloed”.

In “naspel 2006” tree die digter intertekstueel met N.P. van Wyk Louw in gesprek. Die titel sluit aan by Louw se “Voorspel 1950” (Tristia, 1962). Van Vuuren (1989: 117) verwys in Tristia in perspektief na “Voorspel 1950” as die “verheerliking van die geestelike”. In teenstelling met Louw se “prys” en “rein” neem Van der Merwe die opponerende standpunt in met woorde soos “vloek” en “onrein” wat die spreker se geloofsontgogeling duidelik verwoord.

II

Die tweede afdeling open met “nagmusiek”. Die titel aktiveer ’n verwysing na die komponis Arnold van Wyk se klavierkomposisie met ’n voortsetting van die nostalgiese element.

iewers in die gitblou buite

speel kiewiet klarinet

en smee hobo van ’n uil

met treine se veraf fluite

en kriek se skril pipet

saam tot minuet

’n naggebed

Hierdie is ongetwyfeld een van my gunsteling gedigte in die bundel. Die metafoor is geslaagd en die beeld prikkel die sintuie. ’n Interessante aspek van die bundel is Van der Merwe se gebruik van meertaligheid in ’n hoofsaaklik Afrikaanse bundel. Die digter se wisselwerking met ander kulture, lande en tale tree duidelik na vore. Naas Afrikaans verskyn enkele Engelse gedigte (“Helpdesk, Vrije Universiteit Amsterdam”, “white river rafting as a way of suicide” en “running out of time”) asook ’n Nederlandse gedig “de kleur van grijs” in die bundel. Laasgenoemde gedig verskyn ook in Afrikaans. Een aspek wat ek problematies vind is die uitgewer se besluit om die twee gedigte nie naas mekaar op ’n dubbelblad in die bundel te publiseer nie. Dit sou die leser se leeservaring verryk het indien hy/sy die gedigte met mekaar kon vergelyk sonder om te moet omblaai. (Of is dit dalk doelbewus gedoen?) In Imperial Eyes: Travel Writing and Transculturation (1992) verwys Mary Louise Pratt na kontaksones as ruimtes waar verskillende kulture met mekaar in wisselwerking tree. Die kontaksones en die interaksie is duidelik sigbaar in Van der Merwe se gedigte waarin verwysings voorkom van die plekke wat hy tydens sy reise en verblyf in talle Europese lande besoek het. (Lees veral Joan Hambidge se talle reisverse, maar veral in Visums by verstek.) Verwysings na Nederland, Duitsland en Griekeland kom aan bod. In die gedigte “pirates of the Caribbean, Amsterdam” en “peepshow, Amsterdam” word die leser inderdaad getrakteer met die beste wat Amsterdam se De Walletjes die toeris kan bied.

soos kinders by ’n skoolkonsert

het ons gesit en staar na jong Alfons

op die verhogie van die seksdomein

dié bul was kennelik van Trinidad

(net tussen ons – sy piel was skokkend lank en swart)

musiek waai uit oor die Karibiese See

terwyl Alfonso oor sy peester streel

en ’n stywe moet probeer en wéér

’n keer probeer presteer

toe volg die dapper tafereel van seerowery:

teen ’n geverfde horison verskyn

van agter ’n fluweelbehang – ahoi! ahoi! –

die mooiste Nederlandse meide, ’n tweelingpaar

[…]

Die swart humor in die gedig laat die leser se tone krul van plesier. Dit is soos om iets uit die Teater van die Absurde te lees. In “peepshow, Amsterdam” word seks op ’n verleidelike dog sensuele wyse uitgebeeld: “in die nis van haar dye / ’n heuningkoek vir die bye van my oë / wat dié van haar ontmoet”. Van der Merwe se raak beskrywing van die bekende tonele in De Walletjes in Amsterdam is oortuigend en skreeusnaaks. Die digter beskik oor die vermoë om die seksuele op treffende wyse te verwoord.

Naas gedigte waarin die seksuele aan bod kom, is die gedig “winter” sekerlik een van die mooiste natuurbeskrywings wat ek in Afrikaans teëgekom het.

die wêreld word weer dynserig

selfs die son skyn newelig

en afgeskil soos ’n lemoen

deur gaas in dié seisoen

daar’s iets van mire in die middaglug

asof die aarde diep gebalsem is

en nou in linne lê; die bome sug,

bedien soos monnikke die mis

op die kerktoring skrop

’n weerhaan nes, vier winde is gesus,

die sterre een vir een geblus

aan die Dooiekus

trek God tevrede sy gordyne

dig, gaan slaap gerus

III

In die derde afdeling van die bundel word religieuse ontnugtering baie sterk deur die spreker verwoord. Vir die eerste keer in baie jare word daar weer oor die Grensoorlog (SWA / Angola) gedig. In “kaplyn, 1986” en “kapelaansdiens” lewer die spreker kommentaar op die ironie asook sinloosheid van geweld wat gereeld in oorlogsituasies te voorskyn kom.

kaplyn, 1986

bedags loop ons patrollie duskant

van die grens, maar snags steek ons die kaplyn

oor om tussen takkrale en sendingstasies

putte te vergiftig en landmyne te plant

op ’n kaart in Pretoria verplaas generaals

kopspelde suidwaarts op die breedtegraad:

nou sluip ons terug na Angolese grond

om putte te ontgiftig en myne te ontlont

Die rol van God in ’n oorlogsituasie word bevraagteken in “protesnota” waar die spreker sê dat “as ek god was / sou ek my aan alles goddelik vergryp: / die son soos ’n papawer pluk / en ter herdenking van die oorlog / in my knoopsgat druk”. (Die intertekstuele verwysing na Ingrid Jonker se “Toemaar die donker man” word op kreatiewe wyse by die vers geïnkorporeer.)

“Fuga in swart” is naas “en toe was daar God” een van die treffendse gedigte in Doodmenslik. In dié villanelle slaag Van der Merwe daarin om die kontras tussen liefde en haat/dood tot op die been oop te kloof.

swart melk drink ons elke dag

verstik in die beker van mond tot mond

grou die dooier van die maan elke nag

[…]

hoe lank moet ons nog wag?

het Hy vergeet van ons verbond?

swart melk drink ons elke dag

dood die dooier van die maan elke nag

Die Joodse volksmoord tydens die Nazi-bewind van 1933-1945 kom ook in die bundel voor. In “Fuga in swart” asook “reisadvies vir God” word die tragedie op kreatiewe wyse verwoord om die spreker se geloofsontgogeling deur middel van ’n  gesprek met God te beklemtoon: “Word dit nie ’n plesierige reis nie, / mein Gott?” Die spreker se geloofsontgogeling en innerlike stryd met God word verder aangevoer in “Toespraak vir die Konsilie van Trente” asook in “vier vrae”. Die gedig “vier vrae” sluit intertekstueel by Jules De Corte se Vlaamse lied “Ik zou wel eens willen weten” aan. Van der Merwe se interpretasie spreek die Here direk aan in kontras met De Corte se weergawe.

Ik zou wel eens willen weten, waarom zijn de bergen zo
Hoog
Misschien om de sneeuw te vergaren
Of het dal voor de kou bewaren
Of misschien als een veilige stut voor de hemelboog
Daarom zijn de bergen zo hoog
Ik zou wel eens willen weten, waarom zijn de zeeen zo
Diep
Misschien tot geluk van de vissen
Die het water zo slecht kunnen missen
Of tot meerdere glorie van God die de wereld schiep
Daarom zijn de zeeen zo diep
Ik zou wel eens willen weten, waarom zijn de wolken zo
Snel
Misschien dat ‘t een les aan de mens is
Die hem leert hoe fictief een grens is
Of misschien is het ook maar eenvoudig een engelenspel
Daarom zijn de wolken zo snel
Ik zou wel eens willen weten, waarom zijn de mensen zo
Moe
Misschien door hun jachten en jagen
Of misschien door hun tienduizend vragen
En ze zijn al zo lang onderweg naar de vrede toe
Daarom zijn de mensen zo moe

https://genius.com/Jules-de-corte-ik-zou-wel-eens-willen-weten-lyrics

Die spreker se filosofiese bevraagtekening van God se wil en dade laat die leser met gevoel van onvergenoegdheid oor die stand van sake in die wêreld waarin ons leef. Van der Merwe raak belangrike temas in sy gedigte aan wat die leser diep laat nadink oor die mens se rol in die kosmos.

IV

Geboorte, skepping, lewe, veroudering en die dood is die temas wat in die vierde afdeling figureer. Op gepaste wyse open die afdeling met “swangerskaptoets” gevolg deur “afwagting”. Een van die gedigte in hierdie afdeling wat my diep aangeraak het, is “miskraam I”.

die sonar het ’n naghemel – kompleet

met donkermaan en melkweg in die kleine –

in haar buik ontbloot

asof geprikkel deur die radioseine

verskyn tóé uit die niet – lewensgroot

en gloeiend! – die kop en stert van die komeet

maar skaars ’n volmaan later

sou ongesiens ’n ster verskiet

versprokkel in die vrugwater

tot geblusde meteoriet.

Hierdie gedig met die sterk metafoor skop die leser se wind uit. Kragtig, hartroerend en ’n vernuftige spel met die woord wat menigte digter jaloers sal maak. In teenstelling met geboorte word elke mens ook aan die dood onderwerp. Verganklikheid en veroudering word op empatiese wyse in “bejaarde ouers” en “onthou jy nog?” verwoord.

Nóg ’n besonderse gedig is “Tygerberg-hospitaal: uitvaart” wat gebaseer is op ’n skildery deur Adriaan van Zyl (Sien Marlene van Niekerk se Memorandum, bl. 21):

anders as Charon se pont

rol jou veerboot hier op wiele

oor linoleum na die ander siele

met ’n obool in die mond

Van der Merwe se beeldgedig komplimenteer Van Zyl se skildery. Die digter se gedigte oor die dood van sy ouers is eweneens aandoenlik soos in “die laaste flamenco”, “kremasie I & II” en “te perd”.

pas de deux

dood, jy is my dansmaat

jy flankeer met my, maar retireer

met elke passie wat ek gee

asof dit ek is wat die dans dikteer

ons tango tot die einde lei

voor ek my buiging maak

en jy die kalklig steel

V

Waar die voorafgaande afdelings hoofsaaklik uit gedigte oor morbiede onderwerpe soos die dood en die menslike verganklikheid bestaan het, word die bundel afgesluit met ’n gevoel van troos en hoop wat deur middel van die estetiese bereik kan word. In “kom in my tuin” tree Van der Merwe intertekstueel met AG Visser se “Rosa Rosarum” in gesprek:

kom in my tuin

waar donkerrooi rose

duister geheime vertrou aan die nag

kom met jou bene wat toevou om myne

perskes en pruime en ryp appelkose

proe ons vroeg in die dag

Die digter besing die liefde asook die geliefde in verskeie gedigte soos “ode”, “boheme op sestig” en “verbeeldingsvlug”. Die bundel word op gepaste wyse afgesluit met die gedig “troos en hoop”:

jou oë is so groenig-grys

soos dennebos en tortelduif

jou hare is so bruin-verby

soos koffieboon, barlinkadruif

jou hande so deurskynend-sag

soos spinnerak of nartjieskyf

jy’s woud en waterval

brood en hanepoot

maar bowenal

in lewe en in sterwe

my laaste troos en hoop

maar dan met plaasbotter

en stroop

W.L. van der Merwe se debuutbundel kan beskryf word as ’n meteoriet wat die Afrikaanse poësie met hellevaart gaan tref. Die digter is sonder twyfel ’n gesoute woordsmid wat elke woord, versreël en strofe met akkuraatheid tot ’n fyn genuanseerde bundel gebeitel het. Die bundel slaag as deurgekomponeerde geheel met ’n sterk bindende struktuur wat die goue drade van die lewe en die menslike ervarings telkens met mekaar verbind. Sy bundel bied inderdaad “troos en hoop” met die nodige “plaasbotter en stroop” aan elke poësieliefhebber. Dit gebeur nie aldag dat ’n bundel van hierdie hoë kaliber in Afrikaans gepubliseer word nie.

Onderhoud met WL van der Merwe (Doodmenslik)

Monday, September 3rd, 2018

WL van der Merwe gesels met René Bohnen

oor sy debuutbundel, Doodmenslik, (Protea Boekhuis, 2018).

 

Baie geluk met die verskyning van Doodmenslik, jou debuutbundel, Willie. Jy is geen nuweling op die gebied van publikasie nie, met verse reeds opgeneem in Nuwe Stemme, Groot Verseboek en ander bloemlesings. Gewis is jy hoegenaamd geen nuweling op poëtiese gebied nie – ek lees dat jy reeds jare gelede DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium¹ bygewoon het. Wat het jou dus laat wag om te debuteer en wat was die finale impetus wat jou hierdie stap laat neem het?

Baie dankie vir die gelukwensing en dankie vir die geleentheid om daaroor te gesels. Ja, ek was deel van Opperman se Letterkunde Laboratorium in 1978, saam met Marita van de Vyver en Rachelle Greef en andere wie vroeg al gedebuteer het. Ek wou altyd graag met ’n eie bundel debuteer, maar het net nooit gevoel dat ek genoeg goeie gedigte het nie, of liewer genoeg goeie gedigte het wat sáám genoeg samehang het om as ’n bundel gepubliseer te word nie. Die slypskool by Opperman was baie inspirerend, maar hy het dit by ons ingeskerp – of in ieder geval was ek onder die indruk daarvan  –  dat ’n bundel ’n deurgekomponeerde geheel moet wees en dit het my, miskien ten goede, weerhou daarvan om vroeër gereed te voel om ’n bundel voor te lê. Opperman het ook ’n vooroordeel gehad teen filosofie as dit by digkus kom: ek weet tot vandag toe nog nie of hy gelyk gehad het nie, maar dit het vir my toenemend moeilik geword om voort te gaan met my digkuns te midde van my studie en loopbaan in die filosofie. Daar was lang tye wat ek byna glad nie gedig het nie. Ironies genoeg, het ek dan weer tydens periodes van studieverlof die ruimte en vryheid gehad om te dig. Die meeste van die gedigte in die bundel het tydens sulke periodes, gewoonlik met ’n studieverblyf in die buiteland, tot stand gekom.  Tydens so ’n navorsingsperiode in Heidelberg, Duitsland, gedurende 2017, het ek die kans benut om te werk aan die manuskrip wat neerslag gevind het in hierdie bundel. My vrou Lettie, wie onverwags in Oktober 2017 in ʼn fratsongeluk oorlede is aan die einde van ons verblyf in Heidelberg, was die finale impetus om te werk aan die bundel. Sy het my deur die jare aangemoedig om te publiseer en veral tydens ons verblyf in Heidelberg, dit wil sê voor haar dood, gehelp om deur al my gedigte te werk en ’n manuskrip saam te stel. Gelukkig het ons voor haar ongeluk gehoor dat Protea die bundel gaan uitgee. Sy het ’n leeue-aandeel gehad in die totstandkoming van die gedigte en die bundel, sonder haar sou dit nooit moontlik gewees het nie. Dit is daarom om meerdere redes gepas dat die bundel aan haar opgedra is.

Woon jy permanent in Nederland?

Ja, sedert 2008, maar ek het nie geëmigreer nie. Ek beskou myself as ’n trekarbeider, maar gelukkig nie om den brode nie en met al die pyn en ontwrigting wat normaalweg met trekarbeid gepaardgaan nie. Ons het die keuse gemaak om te verhuis na Nederland omdat die geleentheid om ’n leerstoel in godsdiensfilosofie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam te beklee vir my baie aantreklik was. Dit was ’n geleentheid om my byna teenstrydige liefdes vir die filosofie enersyds en die teologie andersyds met mekaar te versoen op ’n wyse wat nie vir my op Stellenbosch moontlik was nie.

Hoe beïnvloed so ʼn buitelandse verblyf jou digterskap?

Dit is ’n bedrieglik moeilike vraag. Miskien speel dit ’n rol dat ’n mens ontwortel is, moet afstand doen van baie gehegthede en vertroudhede in die onmiddellike leefomgewing wat jy agterlaat, dat jy nie kan reken daarop dat mense jou ken en kan plaas in die kontekste wat jou gevorm het nie, dat jy in ’n sekere sin anoniem en eendimensioneel intree in ’n nuwe sosiale omgewing, dat jy jou pynlik bewus is daarvan dat jy nie die nuanses van ’n nuwe leefomgewing ken en kan herken nie, en omgekeerd dat diegene met wie jy daagliks omgaan nie ’n vae benul het van die gelaagdhede en meerdimensionaliteit van jou identiteit nie: dit is alles ’n teelaarde vir ’n ironiese lewenshouding, wat miskien dan weer indirek bydra tot ’n digterlike oog? Ek dink W.E.G. Louw het ’n groter vormende invloed gehad op my as jong aspirerende “digter” as wat Opperman gehad het, en by Louw (wat my vroeg reeds in persoonlike gesprekke bekend gestel het aan Rilke) het ek geleer hoe belangrik dit is om met ‘n “digterlike oog” na die wêreld te kyk, dat jy dit moet aankweek en oefen en maklik weer kan  verloor. Maar Opperman het dan miskien weer gelyk gehad in dié sin dat die oog van ’n filosoof anders is en kyk as dié van ’n digter. Nietemin, om jou vraag te beantwoord: ja, ’n buitelandse bestaan verander beslis die oog waarmee jy na die wêreld kyk.

Daar verskyn (byvoorbeeld) op bladsy 29 ʼn gedig ʼn Afrikaans en dan die Nederlands eweknie op bladsy 30. In die bundel vind ons ook gedigte in Engels. Is daar ʼn filosofiese rede hiervoor, vra ek effens tong in die kies. Is daar ʼn letterkundige rede? Hoe tree tale met mekaar in gesprek, dink jy? Hoe wil jy die leser in hierdie verband aanraak of die verwysingsveld verbreed?

Nee, daar is nie sover ek weet ’n diepsinnige filosofiese rede voor nie. Ek wou aanvanklik met die skuif na Nederland probeer om ook in Nederlands te dig of my eie gedigte na Nederlands te vertaal; selfs oorweeg om ’n bundel te maak met dieselfde gedigte in Afrikaans en Nederlands, maar dit was bo my vermoë en sou publikasie nog langer uitgestel het. Die twee gedigte wat in ’n Afrikaanse en Nederlandse variant opgeneem is in die bundel het sáám-sáam tot stand gekom: soms het ek aan die Nederlandse gedig gewerk en dit dan herskryf in Afrikaans en andersom. In hierdie geval het ek geoordeel dat die toon en stemming of “sfeer”, soos dit in Nederlands heet, so verskillend is dat ek albei variante moet opneem naas mekaar. Soms meld ’n gedig sigself aan in ’n taal, soos byvoorbeeld in Engels, en dan skryf mens dit in Engels. Die problematiek van vertaling is natuurlik filosofies buitengewoon interessant, maar ek ontgin dit nouliks in die bundel, of roep dit miskien net indirek op met verwysing na die onsegbare wat juis in die poësie nie gesê word nie maar as die onverwoordbare getoon word of verskyn. Dit is o.a. hierdie onsegbare, hierdie mistieke semantiek van die onverwoordbare, wat vertaling tegelyk moontlik en onmoontlik maak.

Wanneer ʼn digter ʼn spesialis is op ʼn onverwante of alternatiewe gebied, is daar ʼn redelike moontlikheid dat die spesifieke studieveld neerslag sal vind in die gedigte. So het ek dit ook gevind in hierdie bundel van jou. Jy is ʼn professor in Godsdiensfilosofie²  Hoe het dit a)Jou digterskap beïnvloed en b) Hoeveel kennis of navorsing benodig die leke leser (soos ek!) om die gedigte ten volle te kan waardeer? Ek wonder (steeds as leek) of dit slegs ʼn  digterlike keuse is om “Hegel” met “Schlegel” te laat rym, en watter filosofiese betekenis hier geaktiveer word waarvan ek moet kennis neem as ek die teorieë nie ken nie?

Ek dink my vakkundige kennis van die filosofie in die algemeen en meer spesifiek die taalfilosofie en godsdiensfilosofie speel ’n belangrike rol in sommige van die gedigte, maar sekerlik nie in almal nie. Sommige van die temas, soos die verband tussen skoonheid en verganklikheid, die alledaagse en die ultieme of goddelike, die relativerende werking van humor en ironie, die mag en onmag van die taal, ensomeer, is natuurlik ook deur en deur filosofiese temas. Die meeste gedigte veronderstel nie vooraf kennis van die filosofie nie en ek hoop dat die gedigte wat wel filosofiese verwysings oproep ook tot lesers sal spreek wat nie oor kennis van die filosofie beskik nie, maar dat dit die leeservaring sal verryk vir diegene wat wel die verwysings raaksien of die moeite wil doen om dit in de leeservaring te betrek. Om te reageer op jou voorbeeld van Hegel en Schlegel: ja, dit is ’n digterlike keuse, maar ’n doelbewuste een en die rym is ’n toevallige wins in hierdie geval. Ek gaan nie die aap uit die mou laat nie (daarom het ek juis die gedig geskryf!), maar daar is redes waarom Hegel, Schlegel, Schopenhauer in hierdie gedig die weg voorberei vir Nietzsche. Dit is in hierdie geval selfs die sleutel tot ’n ryker interpretasie van die gedig en die bundel in die algemeen, maar dit is nie ’n noodsaaklike voorwaarde dat ’n mens vertroud moet wees met dié denkers om die gedig te verstaan of die skarnierfunksie van die gedig binne die geheel van die bundel te snap nie. Of ten minste: dis wat ek hoop.

Vaste vorme verskaf aan die leser vastrapplek en veiligheid wanneer die “eksistensiële vakuum”³ betree word, is my mening. Jou vaste vorme en jou rym lees gemaklik en elegant., soos byvoorbeel begrafnis op bladsy 71. Het jy ʼn spesifieke siening oor vaste vorme? Gebeur hierdie patrone vir jou so moeiteloos soos dit voorkom? Hoe lank slyp jy en rond jy af aan jou verse? Dink jy ʼn gedig is ooit werklik voltooi?

Die poësie van die dertigers in Afrikaans en die tagtigers in Nederlands het vir my as ’n groot inspirasiebron en voorbeeld gedien toe ek as letterkundestudent ernstig begin dig het. Ek hou van vaste vorme en dit kom as’t ware natuurlik by my om te dink in en te soek na vaste vorme, óók omdat dit ’n sterk bindende struktuur bied, maar ek moes myself ook bewustelik probeer bevry van ’n oormatige voorkeur vir simmetrie en rym. Dit is vir my baie moeiliker om ’n vryer soort vers te skryf en miskien doen ek dan weer te veel moeite om die spanning en binding op ander maniere te bewerkstellig. Sommige gedigte in die bundel het met één inval, as’t ware in een sitting, kant en kaar gekom, maar oor die algemeen werk ek óór en óór aan ’n gedig, soms selfs oor ’n periode van jare. Meestal is ek nooit tevrede nie. Ek het iemand nodig om vir my te sê dat ek nou moet volstaan, dat ’n gedig goed genoeg is. In die geval van die gedigte in hierdie bundel, was dit meestal my vrou Lettie wat dit gedoen het, en later my redakteur Rentia Bartlett-Möhl, sonder wie ek nie die vrymoedigheid sou gehad het om die bundel te publiseer nie. My eindelose herskryf aan gedigte is sekerlik nog een van die redes waarom dit lank geneem het om uiteindelik ’n bundel af te rond en “vry te gee” vir publikasie. Nadat ek die bundel ’n paar dae gelede in my hand kon hou en begin deurblaai het, wou ek onmiddellik weer begin verander aan sommige gedigte.

Toe ek die bundel die eerste keer vinnig deurgelees het, het ek twee sleutelwoorde neergeskryf: “gebrokenheid en gevaar”. In die persverklaring lees ek later dat die donker bundel handel oor “religieuse ontnugtering” en ʼn “gebroke werklikheid”⁴  Suksesvolle, onmiddellike kommunikasie, sou ek sê! Ek het verskillende soorte liefde neergestip wat voorkom in die bundel (die erotiese, die broederliefde ensomeer) en twee dinge gewonder: i) Werk die digter in “Doodmenslik” met klassieke tipes en ii) Bestaan daar ook verskillende soorte dood? Gaan die digter bewustelik met hierdie temas om in die bundel, of kompliseer die leser die proses deur daarna te gaan soek?

Dit is nogal ’n onverwagse vraag, maar ja, soos I.D. du Plessis gedig het: “die liefde neem ’n duisend vorme aan” – of hoe? Ek weet nie of ek met “klassieke tipes” werk nie, maar erotiek, sowel die potsierlike as die  alledaagse en die sublieme speel seker ’n belangrike rol in die bundel en soos die filosowe al van die vroegste tye af uitgewys het, van Plato en Aristoteles tot Nietzsche en Bataille, is erotiek en die dood verwant aan mekaar. Ja, sekerlik is daar verskillende soorte dood, maar die duisend dode wat ons daagliks sterf is ’n voorwaarde om die skoonheid van die lewe te ervaar. Dit is die tragiese kondisie van ons menswees. Die titel (en die voorblad) gee reeds aan dat die bundel die verhoudinge en die spanninge tussen die (skoonheid van die) alledaagse en ons sterflikheid, die sublieme en die verganklike in die algemeen, tematiseer.

Willie, kan jy asseblief bietjie uitwei oor die treffende gedig “Fuga in swart”, met sy evokatiewe herhalings? Sekerlik van die grootste voorbeelde van liefde en haat word deur Paul Celan vervat in sy gedig Todesfuge. Ek plaas jou gedig hier, en in die verwysings ook ʼn Youtube skakel na Celan wat sy eie gedig voorlees⁵, asook ʼn Engelse vertaling van Celan se gedig – Death Fugue⁶.

.

Fuga in swart

na “Todesfuge”, Paul Celan

 

swart melk drink ons elke dag

verstik in die beker van mond tot mond

grou die dooier van die maan elke nag

 

soggens verskril die son tot ʼn klag

roet en as grys neer na die grond

swart melk drink ons elke dag

 

die dag skrikkel tot laat in die middag

ʼn brandsiek hond wat lek aan sy wond

grou die dooier van die maan elke nag

 

vergete die klank van kinders wat lag

die gestrikte haarlokke bruin en blond

swart melk drink ons elke dag

 

hoe lank moet ons nog wag?

het Hy vergeet van ons verbond?

swart melk drink ons elke dag

dood die dooier van die maan elke nag

 

Die eerste reëls van Celan se gedig: “Schwarze Milch der Frühe wir trinken sie abends wir trinken sie mittags und morgens wir trinken sie nachts wir trinken und trinken …” is van die kragtigste poëtiese reëls wat ek ken, die metafoor van “swart melk” ’n verskriklike mokerhou. My herskrywing van die gedig was ’n poging om ’n villanelle te skryf en te voldoen aan die ysere dissipline van dié versvorm. Vandaar die herhalings, die lengtes va die reëls en die rympatroon.

Die eerste gedig in “Doodmenslik” dra die titel die laaste gedig. Die gedig ondermyn onder andere konstrukte van belangrikheid, status en kennis. Dit dui ook aan hoe die laaste gedig lyk. Wanneer die leser egter die laaste gedig in die bundel lees, sien dit heeltemal anders daar uit. Is dit dan so dat die laaste gedig nog nie geskryf is nie, soos in reël 4 beweer word? Of verwys die eerste gedig dalk na ʼn metaforiese of selfs argetipiese laaste gedig? Is dit ironies dat die laaste gedig in hierdie “donker bundel” dan troos en hoop as titel dra? Is die toonaard van die (nog abstrakte) laaste gedig dalk nog onbepaal?

Ek plaas graag altwee die gedigte, ook as voorbeeld vir hoe sterk die teenstellings en dualiteite (of is dit dualisme?) in “Doodmenslik” is.

die laaste gedig

 

professore, doktore, kokkedore en ander koolore

die titel van my gedenklesing vanaand is:

“Die laaste gedig”

 

Ter inleiding: die laaste gedig is nog nie geskryf nie

Premis 1: die laaste gedig sal lig werp op wat onsegbaar is

en dit daarby laat

Premis 2: dit sal ʼn gedig wees sonder woorde en metafore,

beeldspraak, metrum of rym, sonder sintaksis

of lettergrepe

Konklusie: ʼn gedig sonder taal, ʼn gedig in wit

strepe op papier sonder verband of betekenis

net ʼn leesteken hier en daar wat sinjaleer:

hier is die graal van stilte in git

.

En dan, die laaste gedig in die bundel:

troos en hoop

 

jou oë is so groenig-grys

soos dennebos en tortelduif

 

jou hare is so bruin-verby

soos koffieboon, barlinkadruif

 

jou hande so deurskynend-sag

soos spinnerak of nartjieskyf

 

jy’s woud en waterval

brood en hanepoot

maar bowenal

in lewe en in sterwe

my laaste troos en hoop

 

maar dan met plaasbotter

en stroop

.

Daar is ’n soort verhulde opbou in die komposisie van die bundel: dit begin met´n selfbekendstelling en ars poetica, ’n soort genesis of skeppingsmoment en loop dan op na gedigte wat te make het met geloofsontgogeling en godsbegrip (die Psalms), gevolg deur gedigte  wat te make het met die begin en einde van die lewe, ons vergangklikheid en die dood wat eintlik al van meet af aan ingebak is in die lewe, die oënskynlike tevergeefsheid van alles (Prediker), en ontsluit of sluit af met liefdesgedigte, die crescendo, m.a.w. die evangelie ín hierdie tragiese ambivalensie van skoonheid en sterflikheid, ons enigste troos en hoop, maar dan nie in ’n hiernamaals nie, maar in die sublieme sintuiglikheid van plaasbotter en stroop. Dít is die laaste gedig, maar óók weer nie omdat dit ’n venster oopmaak na die onsegbare (wat altyd weer anders en opnuut ongesê bly), ek sou wou sê die onsegbare sin van ons liggaamlikheid en eindigheid.

Donker humor en ironie is sterk elemente in jou bundel, Willie. Ontluistering van aanvaarde idees en onverskrokke woordgebruik kom dikwels voor, sonder dat ʼn geaffekteerde skoktaktiek daaruit blyk. Dit is ʼn volwasse aanslag waarvoor hierdie leser sommer baie waardering het en toe ek uiteindelik na die voorblad gaan kyk het, asook die titel van die kunswerk daarop⁷, het ek gewonder of daar werklik troos en hoop in die wêreld is, of is ons almal maar net besig om groen takkies op verlepte blare te rangskik? Dankie vir ʼn ryk bundel wat tot diep nadenke lei. Sal jy asseblief ʼn gedig van jou keuse met die Versindaba lesers deel?

Die heel laaste gedig is vir my baie kosbaar, maar jy het dit nou reeds aangehaal. Dan sal ek sê die credo van die bundel en my lewe is die gebed:

Jesus min my

tel my op

maal my, deel my

tot ek klop

Verwysings:

  1. Doodmenslik bladsy 96
  2. Doodmenslik bladsy 96
  3. https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-doodmenslik/
  4. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/religieuse-ontnugtering-gedig-20180730
  5. https://www.youtube.com/watch?v=gVwLqEHDCQE
  6. https://www.poets.org/poetsorg/poem/death-fugue
  7. Doodmenslik bladsy 4