Posts Tagged ‘DPM Botes’

Onderhoud met D.P.M. Botes

Wednesday, August 15th, 2012

Foto: circa 1973

“Liefde is universeel en vorm die grondslag van die menslike bestaan.”

Johann Lodewyk Marais in gesprek

 met D.P.M. Botes

 

D.P.M. Botes is op 7 Julie 1935 in Witbank gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal. Daarna verwerf hy ‘n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Afrikaanse en Nederlandse Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en ‘n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan UNISA. Onder prof. Wilfried de Pauw voltooi hy aan UNISA ‘n MA-verhandeling, ‘n Ondersoek na verteenwoordigende literêre opvattinge van die Futurisme, Kubisme, Dadaïsme en Surrealisme (1963). In die winter van 1965-1966 doen hy onder prof. Jean Weisgerber aan die Université Libre de Bruxelles in België navorsing vir ‘n proefskrif oor die digter Gaston Burssens.

Botes debuteer met die bundel Wat is ‘n gewone man (1965), waarvoor hy die eerste Afrikaanse wenner van die Ingrid Jonker-prys was. Daarna publiseer hy nog twee bundels, naamlik Klein grys telegramme van die wêreld (1966) en Psalms van David (1973). Van sy gedigte verskyn ook saam met dié van P.A. de W. Venter en Menno Stenvert in Klawer (1966). Botes het in 1995 as hoof van skakeling en markbevordering by die Mielieraad afgetree.  

Van Botes het pas ‘n vierde bundel, Van ‘n skaap in wolfsklere, by Tormentoso verskyn. Dié uitgewery is veral bekend vir sy historiese publikasies.

*** 

Marais: David, ek is opgewonde oor die verskyning van jou nuwe bundel, Van ‘n skaap in wolfsklere. Waarom het daar byna veertig jaar verloop voordat jy weer ‘n bundel gepubliseer het?

Botes: Ek is bly jy is opgewonde. Kritiek maak my seer en ek dink dit is beter om nie te publiseer nie en wat jy skryf vir jouself te hou eerder as om seer te kry. My goeie vriende Cobus Ferreira en Schalk le Roux wou die boek uitgee en ek het geswig en ingewillig.

Marais: Is jy die skaap in wolfsklere in die bundel?

Botes: Miskien wel. Dalk is daar ander lesers wat soos ek voel en met die skaap vereenselwig.

Marais: Jou eerste drie digbundels is gekenmerk deur die rymlose, vrye vers waarin jy dikwels van herhalende patrone en beelding gebruik maak. In Van ‘n skaap in wolfsklere het jy voortgegaan om so te skryf, of hoe?

Botes: Ek skryf uitsluitlik in die vrye vers. Dit verg baie streng dissipline. Rymende verse kan so maklik tot rymelary lei, soos in D.J. Opperman se versdrama Periandros van Korinthe.

Marais: Beelding speel ‘n groot rol in jou werk. Is dit vir jou die waarmerk van goeie poësie of is daar ook plek vir die narratiewe vers wat deesdae as ‘t ware mode in Afrikaans geword het?

Botes: Ek skryf vrye verse en Uys Krige het my destyds daarmee gekomplimenteer. Beelde vorm die grondslag van my werk – iets wat ek by die Surrealiste, Dadaïste en Ekspressioniste geleer het. Die modeparade van sogenaamde narratiewe digters laat my so effe koud, want ek het ‘n afkeer in modes.

Marais: In jou bundel speel die liefde en eensaamheid ‘n groot rol. Is dit die dominante temas in jou werk en waarom?

Botes: Liefde is universeel en vorm die grondslag van die menslike bestaan – of jy wit, bruin, geel of swart is. Dit is iets wat ons in hierdie groot land moet leer: die land van droefheid, moorde, sy eensaamheid. Eensaamheid en alleenheid.

Marais: Is daar een of meer van die gedigte in Van ‘n skaap in wolfsklere wat jy graag wil uitsonder en/of aanhaal?

Botes: Gedigte soos “Besoek” en “Hoe jy is …” Laasgenoemde gedig het ek geskryf nadat ek een van Gertrude Stein se boeke gelees het – maar dit is nie plagiaat nie! Eintlik moet jy maar al die gedigte lees om ‘n idee van my wêreld en bestaan te vorm. Vergeet ook nie ek is ‘n groot liefhebber van die werk en politieke sienswyses van Pablo Neruda en Paul Éluard.

Marais: Jy was/is een van die prominente Sestigerdigters. Is jy nog ‘n Sestiger of het jou werk sedertdien wesentlik verander?

Botes: Die Sestigers wou iets vir die Afrikaanse letterkunde doen en hom bevry van wat Van Wyk Louw lokale realisme genoem het. Jammerlik is Afrikaans nou weer terug by lokale realisme en het Sestig eintlik gefaal na die werk van Etienne Leroux en André P. Brink se Lobola vir die lewe.

Ek bly getrou aan die sienings van destyds en skryf steeds in daardie trant. Ek kan nie soos ‘n verkleurmannetjie sommer van styl verander nie, maar wel ontwikkel.

Marais: Het jy oor die jare heen kontak met mede-Sestigers en/of ander skrywers en kunstenaars behou?

Botes: Ja, ek het kontak gehad met Wilhelm Knobel, Wessel Pretorius, Phil du Plessis, Casper Schmidt en Wopko Jensma. Louis Esterhuizen was enkele kere by ons aan huis en dan het ek kontak met jou.

Marais: In ons onderhoud in Spilpunt 1(2), 2004 het ek jou uitgevra oor die polemiek wat ontstaan het na aanleding van ‘n gedig in Wurm en twee in Klein grys telegramme van die wêreld wat jy van Hans Magnus Enzensberger, Tomas Tranströmer en Sandro Key-Åberg sou geplagieer het. Hoe het die polemiek jou en jou werk beïnvloed?

Botes: Plagiaat is ‘n hoogs omstrede begrip. Dan pleeg die predikers seker elke Sondag plagiaat soos hulle die Bybel en Koran gebruik. Ek onthou die bohaai en die artikel van Roswita Schutte in Standpunte en Rykie van Reenen wat dit destyds op ‘n koerant se voorblad uitbasuin het. Intussen staan Standpunte en Rykie van Reenen nie meer nie en lê begrawe maar die twee gedigte leef voort. Die Wurm-storie was van ene Peter Horn – self ‘n Enzensberger-epigoon. Wopko Jensma het hom beveel om nie meer sy neo-liberale “gedigte” aan Jensma (nou oorlede) te stuur nie – dis nou die pogings wat destyds in Ophir verskyn het. Enzensberger self het sy werk – een ganse bundel gebruikspoësie genoem – en waarom kan ek dit dan nie gebruik om ‘n ander gedig te maak nie? Is Opperman se gedigte op Eugène N. Marais en koerantberigte en dié van T.T. Cloete dan nie ook plagiaat nie? Wat is die verskil tussen parodie en plagiaat? ‘n Digter, Melanie Grobler, is ook van plagiaat van Anne Michaels beskuldig – tog was dit ‘n mooi Afrikaanse gedig. Nee, plagiaat is moeilik en omstrede. Wessel Pretorius het my destyds verdedig. En watter letterkundige kritici het iets betekenisvol gesê of geskryf? Van Roswita Schutte is niks weer gehoor nie – ook maar ‘n eendagsvlieg.

Marais: Jy het ‘n keer gesê dat jy elke dag gedigte skryf. Watter rol speel die poësie in jou lewe?

Botes: Ek skryf nie meer elke dag nie, bloot omdat ek te lui is, maar poësie vul elke dag ‘n sentrale plek in my lewe soos die liefde. Ek lees Petra Müller sê wanneer sy ‘n bevlieging kry, skryf sy ‘n gedig binne twintig minute, want poësie bestaan uit 99% inspirasie en 1% perspirasie – dis dus nie maakwerk en sielloos soos so baie hedendaagse Afrikaanse gedigte nie.

 

Ronel Nel. om te klip – gedigte in steen

Monday, October 19th, 2009

Sowat ‘n anderhalfjaar gelede het die kleine Maude Bekaert (met die grootste van harte) uit Brugge, België, my genader om haar te help om Afrikaanse digters se werke aan te stuur vir ‘n projek wat sy aan die gang gesit het: Om ons Afrikaanse, asook Vlaamse en Nederlandse gedigte-woorde in klip te verewig. Sy het self die keuses van gedigte gedoen – eintlik enkele lyne uit gedigte – en dit toe in steen ge’hak’. Kalligrafies ingekap.

Digters soos Hennie Aucamp, Toast Coetser, breyten breytenbach, DPM Botes, Charl-Pierre Naude en die uwe se werke is gebruik. Die imposante klipwerke is later tydens ‘n veiling in België verkoop en het derduisende rande (65 990 euro, om presies te wees) ingesamel vir ‘n Vigs-kindertehuis in Suid-Afrika. Die enigste ‘tema’ van die gedigtelyne was dat dit ‘die moed moet vertoon’. Lyne van hoop, met ander woorde.

Die wonderding is dat Maude en haar span nou na Suid-Afrika kom, en komende Saterdag is daar ‘n ope dag by die Kasteel waar plaaslike ‘klippehakkers’  – deur Maude opgelei – weer eens Afrikaanse diglyne op klip ten toon stel. ‘n Boek wat die werke bevat, Wor(l)ds, word ook dan vrygestel. Enigeen is welkom, die program vir die dag verloop so:

BOOK Launch WOR(L)DS
Launch of the book on the letter carving collaboration between Southern African and Belgian artists held in 2008. Of special interest to designers and architects, also poets and people who love the written word.
Meet the designers, carvers and teachers of this art and see samples of their work. Buy the book. Support Breadline Africa projects.
Date: Saturday 24th October 2009
Venues: Start your lovely spring afternoon visiting the studio of the Number One Letter Carvers at the Castle of Good Hope. Open studio from 1.45 to 2.45 pm.
Then Stroll up Waterkant Street to The Book Lounge (at 71 Roeland Street) for the launch of the book together with readings from some of the featured poets, starting at 3pm
RSVP: The Book Lounge: booklounge@gmail.com or 021 – 462 2425

 En kyk, so het een van ‘my’ klippe gelyk..

‘n Ander lieflike blokklip het as volg uitgekom:

Rachelle Greeff het net na die veiling in Rapport hierdie storie geskryf:

  “Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele.’’

Dis ‘n sonnige Sondagoggend, die laaste Sondag in September en honderde mense stroom na die stadshuis in Brugge, België.  Die geleentheid, elfuur die oggend, is die opveiling van 37 klipblokke met poësie-reëls daarin gekalligrafeer.  Die versmakers is bekende Belgiese digters en een Nederlandse digter, Stef Bos, wat nou in België woon.  Hierbenewens is daar die teks van N’kosi iSikelele iAfrika (Enoch Sontonga) – en dan ook ses Afrikaanse digters.

“Dit sê daar is ’n plek in die internasionale taleryk vir Afrikaans – ‘n jong, uiters moderne samekoms van verskeie reistale, hoofsaaklik Hollands, wat met voortdurende nuweskeppings die basistaal se sprekers raak en roer.

“Die oënskynlike eenvoud van die digsinne (wat die Vlaminge uitgekies het, terloops) klim uit daardie klippe uit en spreek tot die Belge se harte. Soos dit hoort.

“Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele,’’ sê een van die gekose digters, die Gautenger Ronel Nel.

Nel se klip met die woorde kom ons pluk die lug en melk die son het 3 400 euro gehaal.  Dis die tweede hoogste bod op die veilig, en die hoogste van die Afrikaanse digters.  Die algemene hoogste bod was vir die Vlaamse digter Huguette van Reamdonck met  Als het donkert komt de maan  vir 4 000 euro.

Buiten Nel is die ander Afrikaanse digters wat deur die Belge gekies is Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach, Toast Coetzer, Charl-Pierre Naudé en D.P.M. Botes.

Altesaam is 65 990 euro is gemaak en die organiseerders verwag ‘n verdere sowat 12 000 euro uit die verkope van katalogusse, brosjures en ander wetenswaardighede van die projek.  Die geld is bestem vir organisasies, Sprinkle en Breadline Africa, gemoeid met Afrika-kinders met Vigs.  Geen van die digters word vergoed nie.

Dié poësie-stene is drie maande lank deur die loop van die Europese somer op die fiets- en wandelpad tussen Brugge en Zeebrugge uitgestal.  Drie van die stene is deur die stad Brugge gekoop, vir sowat 5 000 euro, en sal voortaan blywend in die stad besigtig kan word. 

Die projek, Wor(l)ds,  is gereël deur Brugge Plus, ‘n kultuurorganisasie van Brugge, en is bekroon vir die mees vernuwende toeristies-kreatiewe projek van die provinsie.  Die projekleier, kalligraaf Maud Bekaert,  sê tot haar “verwondering het die die klippe met Afrikaanse tekste nog beter verkoop as die klippe met Nederlandse tekste’’.  Aanvanklik was sy “bietjie bang dit sou moeilik wees om Afrikaanse tekste te verkoop, maar iedereen wil ‘n Afrikaanse teks hê’’.  

Die volgende versreëls het in België onder die hamer gekom:

  • Om in ‘n trein te slaap is om ‘n rivier te wees
  • Die vuur moet van binne kom

Albei van Breyten Breytenbach.   

 

  • Die wind is ’n droë lied sonder die see, deur Toast Coetzer.      

 

         Tijd is enkelvoud/ of zelfs het veelvoud ervan/ zoals de liefde

  • In de wereld van negatieven/ Is alles omgekeerd.

Beide Charl-Pierre Naudé, vertaal deur Robert Dorsman.

  

·         Verlange onbegrens. / So is liefde sinvol/ nie ingekort tot mens, deur Hennie Aucamp*.        

 

  • Voor die dag is die nag
  • Die son kniel by die ewenaar
  • Kom ons pluk die lug en melk die son 

Al drie van Ronel Nel.

 

  • Ons moenie versigtig wees nie die liefde is roekeloos, deur D.P.M. Botes. 

 Kom Kasteel toe en kom klip saam!