Posts Tagged ‘Du Plessis Hans’

Marlies Taljard Nuwe Griekwapsalms: ou stof nuut aangebied

Wednesday, August 22nd, 2012

Op 15 Augustus is Hans du Plessis se nuwe bundel “Karos orie dyne” in Potchefstroom bekendgestel. Dit is ‘n derde bundel Griekwaverse wat meestal op die Bybel gebaseer is.

In ‘n vorige blog het ek geskryf oor herskrywing en transponering van antieke tekste. Hierdie bundel van du Plessis is ‘n pragtige illustrasie van bekende gegewens wat oorgesit of getransponeer word na ‘n nuwe tydvak en ‘n nuwe idioom. Wat die bundel besonders maak, is juis dat die bekende Bybelse inhoude nuut aangebied word in die tradisie van ‘n kultuur wat tot dusver meestal op die gesproke woord gesteun het. Vir sprekers van Standaardafrikaans lê daar ‘n besondere bekoring in die verse, onder andere vanweë die vreemdheid van die taal enersyds, maar die bekendheid van kulturele besonderhede andersyds. Ek haal enkele voorbeelde aan.

In die gedig “Die dominee ennie syper”, wat gebaseer is op Lukas 18:9-13, word vertel van die selfingenome dominee wat op die preekstoel staan en bid, maar dan kom die suiper wat nie waag om die kerk binne te gaan nie. Hy het “oppie grond gekyk, toe skop hy die gras: / “Jirre, wees my, armlike sondaar, genadag.’

Nog ‘n voorbeeld van so ‘n transponering, is die verwerking van Psalm 22, waarin die spreker oor homself sê:

Ek is ytgemors sos water,

smaak my geraamte sit los,

my hart lê sos warm vet

in my ribbekas opgesmelt.

“Tissenie koring”, ‘n verwerking van Mattheus 13:24-30, haal ek in sy geheel aan omdat dit besonder goed illustreer hoe die digter Jesus se gelykenis wat 2000 jaar gelede in die Midde-Ooste vertel is, pasmaak vir Suid-Afrikaanse omstandighede:

En eendag was da ‘n man gewas

wat skoon koring oppie land saai,

ma toet hy nou innie nag loop lê,

toe kom saai hy se vyande

oliebome tissenie koring in.

Toetie koring nou aar maak,

toe kommie oliebome ok op.

Toe sêrie manne virrie boer:

“Het jy dan vyl saad gesaai,

wa val hierie oliebome yt?”

“Dissie vyand se werk,” sêrie boer.

“Nou lat onsie gemors loop uittrek!”

“Nee,” sêrie boer, “lat dit ryp worre.

En oestyd sal ek virrie oesters sê,

maak eersie oliebome bymekaar,

pak hopiese wat ons kan verbrand,

ennie koring moet skier toe kom!”

Die (Suid-Afrikaanse) leser van hierdie verse kan hom-/haarself vereenselwig met die metafore wat uit die Suid-Afrikaanse ruimte geneem is – soos dat die suiper teen ‘n polletjie gras sou skop, dat die bang hart gesmelt is soos warm vet, dat die onkruid wat opkom in die land oliebome is …

Maar terselfdertyd werk sowel die vreemde dialek as die nuwe metafore ook vervreemdend in op die leser. Die term “vervreemding” gebruik ek soos Sjklovski dit gebruik het, naamlik dat in literêre kunswerke woorde en sinne (en begrippe) vreemd gemaak word deur dit buite hulle bekende, alledaagse betekenisse te gebruik (in hierdie geval meestal die bekende taal en metafore van die Bybel). Sodoende word die leser gedwing om nuut te dink oor ou begrippe – en in hierdie geval oorbekende teksgedeeltes.

Vervreemding kan streng gesproke ook deel wees van intertekstualiteit (die praktyk om ou tekste in die kreatiewe proses te gebruik). Hoewel die Bybelse interteks die mees opvallende is, maak du Plessis egter ook van ander intertekste gebruik. Die gedig “Josef” is byvoorbeeld duidelik geskoei op die bekende gedig “Maria” van Elisabeth Eybers. Du Plessis se gedig werk vervreemdend op die leser juis omdat dit een van die bekendste gedigte van Eybers binne ‘n ander konteks plaas. Die frase Maria, nooi uit Nasaret word in die nuwe gedig Josef, klong yt Nasaret.

Du Plessis se gedig sluit aan by Eybers se strofe:

Maar toe Josef van jou wou skei

en bure-agterdog jou pla,

het jy kon dink, eenmaal sou hý

die hele wêreldskande dra?

Hy skryf:

Toe jy stilletjies beslyt

om hierielike vrou te los,

het jy altemit begryp

wat hóm dood kan kos?

Die nuwe gedig wat byna ‘n herdigting van die oorspronklike Eybers-gedig is, verskil egter van die oorspronklike teks deurdat die manlike perspektief weergee word, terwyl Eybers op die vrou, Maria, fokus. In ‘n tyd waarin dit mode geword het om op die vroulike belewenis te fokus, kan du Plessis se gedig gelees word as die inskryf van die manlike kode – dalk selfs as ‘n soort manlike korrektief op dieoorspronklike verhale  wat sterk op die moederfiguur fokus.

Wat ek hiermee wil sê, is dat reeds bestaande stof as intertekstuele materiaal, of by wyse van herskrywing of transponering, ‘n belangrike funksie in die poësie vervul deurdat dit nuwe betekenis kan genereer, addisionele betekenislae aan ‘n werk kan toevoeg, maar ook deurdat dit die leser met nuwe oë na oorbekende stof laat kyk wat mettertyd sy trefkrag en betekenis (as deel van spirituele praktyke) verloor het. Dit kan dikwels die inherente krag wat in mistieke en argetipiese verhale opgesluit lê, ontsluit of her-aktiveer en dié verhale se helende, inspirerende of bemagtigende funksie herstel.