Posts Tagged ‘Dylan Lewis’

Marlise Joubert. Refleksies

Sunday, October 13th, 2019

refleksies

[dylan lewis. beeldetuin]

 

omhels dan hierdie dam soos ʼn gedig

want dis maklik om ʼn dam te word

met die oog spieëlblink

soos die pupil van ʼn waterlelie

om alles, alles raak te ken

 

omhels wydlopig die voetpaaie

met ruwe wenkbroue gras en klip

die kronkelare, met aan die lid

van die dam ʼn klein traanklier

om uit te loop op vleiwater

 

soos ʼn sinapse ontvou die beelde

met fantasmagoriese transgedaantes

in afgepaarde dier, voël of mens

torso’s van man of vrou met soms

ʼn enkele engelvlerk eroties

in lig en skadu gespan: organies

en gefragmenteerd –

 

in die kop van hierdie gedig

word jy droom, word jy dam

en is jou ganse oerlandskap

minimalisties uitgewring

 

berge beur handstil omhoog

bitterblou staan die buffels daar

en kyk die luiperd jou hondmak

in die hart

 

in los eilande van wildernis

sweef makette en sjamane

waar soms  ʼn vreemde dans

jou verras met die enkelritme

van ʼn been, arm of skouervlerk

totdat jy later nie meer weet

wat jy omhels het nie

 

was dit dam of dier, die berg

of lig: miskien net jou eie

fynboskurwe

met hierdie gedig –

 

 

[© marlise joubert. okt. 2019]