Posts Tagged ‘een hart’

Digstring: Johannes Prins. man diesel

Tuesday, July 20th, 2010

Digstring

 

 Man diesel  

Hoe kom ‘n vers

na jou toe

vra jy op vrouedag in hendrik potgieter

ek skud my kop

en sê nee ek weet werklik nie

want dis soms vreemd

die hele ding

ons sou byvoorbeeld

op pad makro toe

wees om te gaan wyn koop

en dan klim daar

sommerso

‘n vers by ‘n man diesel

se deur uit

en tuur ver in sy blou overallbroek

na die metrocop wat hom pas

afgetrek het

en verstel onder sy maag

aan sy belt se kopergespe

vee met swart naels

en ‘n hand so groot

soos my oupa s’n

oor sy sweterige

voorkop

 

en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe

en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself

 

 

(c) Johannes Prins (Uit: een hart, 2009: Lapa Uitgewers)

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jo? Hoe het dit ontstaan?

Seker so ses maande voor die publikasie van een hart.Ek ry gereeld in Hendrik Potgieterrylaan aan die Wes-Rand Makro se kant toe om te gaan wyn koop. Wyn koop is vir my effe van ‘n ritueel – ek kan ‘n uur of langer daar tussen die rakke staan en niks koop nie. Óf ‘n kis of twee – afhangend van die finansies & die behoefte…

Dit was op pad terug van só ‘n ekskursie (op Vrouedag) dat ek die grote Man Diesel-trok langs die pad sien staan het – daar waar dit deur die metropolisie afgetrek is. Op my eie – maar die gesprek in my kop was dié van ‘n vroeëre vraag wat my vrou my eenkeer gevra het: “Hoe kom ‘n vers na jou toe?”

En, soos dit in die vers uitkom, weet ek dikwels nie hóé dinge inmekaar val nie. Maar die ryery – soos bestuur met my maak – stem my dikwels tot skryf. En skielik het ek dié groot ou met die boeppens by die trok sien uitklim, en daar staan my oorle oupa voor my. ‘n Groot man van Adelaide in die Oos-Kaap wat ek dink beter Xhosa as Afrikaans kon praat.

In ‘n oogwink staan ek daar langs my oupa op die rooi stoep in Millstraat 1, Adelaide. Die ou groot huis agter ons met die silwer sinkdak wat neerbuig op wit pilare terwyl sonbesies die stofstrate se hitte besing.

En my oupa wat met sy geliefde sakmes ‘n appel sit en skil & dan die skil so langs my op hou om te wys “dis langer as jy!”.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die laaste twee reëls het aanvanklik heeltemal anders gelyk (in vorm). Maar die res het redelik vinnig gekom.

Dit was vir my baie belangrik om daai twee reëls “reg” te kry, want dis die laaste woorde in dié gedig wat die sluiting van die hele bundel moes bewerkstellig.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Al’s is gegee – gelukkig. Maar die laaste twee reëls – soos hierbo gesê – het bietjie tob & ‘n glas of wat Thelema Shiraz geneem…

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Geen ordeningsbeginsel nie, nee. Toe die laaste twee reëls se wending vir my werk, toe werk hy.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Gewys ja, maar nie bespreek nie. My vrou sien meeste van my gedigte & ek hang nuwe verse gewoonlik teen die muur langs my rekenaar by die werk. Dan daag daar soms mense op & sê iets daaroor.

Van die verse in een hart is vir vriende in Kaapstad & Pretoria gestuur. Maar meer as reaksie op ‘n e-pos eerder as ‘n “kan ons die vers bespreek”. Natuurlik is die gevolg kommentaar op die vers waaraan ek my gewoonlik steur.

In een só ‘n e-pos het ek die slot van die inka-vers “melkweg” by Joan gekry.

Verskeie vroue figureer in die bundel – meeste van hulle is geken in die saak. Ek dink net een nie… dalk twee.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Spesiaal vir een hart geskep – hoewel ek dit nie toe geweet het nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gesprek in my kop in die vers is heeltemal fiktief – dit het nooit gebeur nie.

Die herinneringe aan die stoep en my oupa-hulle en Adelaide is heeltemal gesien deur die filter van my jeug. Fiksie voorop!

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Metapoësie; kommunikasie; kreatiwiteit; vertaling van ‘n realiteit; transportasie; herinneringe – dis wat by my opkom.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nope.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Beslis ja. Dikwels spreek ek iemand spesifiek aan oor wie die gedig gaan of wat by die ontstaan daarvan betrokke is. Ander kere is dit ‘n meer algemene leser ingedagte om insae te gee waarheen ek met die bundel gaan.

By een voorlesing by die Stoep in Nelspruit so maand of wat gelede, het ek agtergekom dat brugspelers (natuurlik!) dié bundel meer toeganklik vind. Hulle verstaan die taal – hulle kliek net.

Deesdae wanneer ek voorlees begin ek met: “Wie van julle speel brug?” By die Stoep was die gesprek tussen my en die gehoor soos ‘n brughand self.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Net twee verse in die bundel is “poësiebeskoulik” soos Bernard (Odendaal) daarna verwys het: die eerste een & die laaste een.

Hier wou ek sluiting bewerkstellig wat aansluit by baie verse (wat tussen hakkies is) & die hart én selfs die “a” van die hart op die voorblad. Om uit die hart te praat en om úít te praat (uit ‘n spesifieke konteks) & om dit verstaanbaar & op ‘n kreatiewe manier aan te bied.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Dalk die knipmes en die appelskil, maar ek verstaan oupa’s elders (in Argentinië byvoorbeeld 😉 doen ook sulke goed.

Dis waarskynlik eerder ‘n landelike verwysing as tipies Suid-Afrikaans.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Nee, ek dink die vers werk.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Baie ja. Meeste mense het daarvan gehou.

Minstens twee resensente se reaksie was vir my baie interessant.

Met verwysing na “verse” (die eerste gedig in die bundel) en dié een, het Bernard gesê:

“Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.”

Wat Bernard ook tereg sê is dat ongewone beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie – want my poësie vermoed ek sluit aan by Fado (wat met die alledaagse werk, die werking van dit wat is).

In Beeld (7 Desember 2009) skryf Marius Crous weer (oor die genoemde twee verse):

“En terwyl hierdie gedig (‘verse’) geslaag is, vind ek die slotgedig ‘man diesel’, minder geslaag en effe geforseer.”

Uiteenlopende reaksie dus.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Op dees aarde – nee glad nie.

 

Johannes Prins

Johannes Prins

Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA  in Afrikaans en Nederlands.

    Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar.

     In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook  by tot As die son kom oogknip,  die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji.

     In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante.

     Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

een hart

Tuesday, December 22nd, 2009

Een hart. Deur Johannes Prins. Lapa Uitgewers. ISBN 978-0-7993-4509-4.

 

een hart

een hart

Johannes Prins, kwekeling van Stellenbosch en bekroonde joernalis by die Johannesburgse dagblad Beeld,  het in 2001 as digter op die voorgrond getree met ‘n elftal gedigte in Tafelberg-uitgewers se Nuwe stemme 2. Met een hart is hy die sewende van die debutante in daardie bloemlesing wat met ‘n solobundel vorendag kom.

Dit bevat skaars 40 gedigte, maar lewer ‘n boeiende en meermaals ontroerende leeservaring op.

Die bundeltitel is ewe bedrieglik in sy bondige eenvoud. In die eerste plek roep dit die belangrike liefdesgegewe in die bundel op.

‘n Hele paar liefdesgedigte is gemik op die verhouding met ‘n vriendin en latere huweliksmaat, soos dit gekenmerk word deur hartstogte én (aanvanklike) onsekerhede en spanninge. Vergelyk:

 

 

pas

 

‘n begrafnisdiens van ‘n vriend van ‘n vriend

van jou in worcester lok ons uit die paarl

 

met dreunende sonbesies pak ons die tog deur

du toitskloof aan – hitte walm van die teer op

en jy sit en sweet in jou swart rok

 

wil jy ons ook nou dood hê vra jy soos ek die draaie

van die pas sny – agter skuif jou vriend met ‘n blink gesig rond

 

in die kerk kraak houtbanke terwyl die sin van ‘n motorongeluk

oorweeg word – die skielike-heengaan-trooswoorde

van ‘n jong dominee hang in die lug

 

deur loodwerkvensters vermeng die son kleure op die vloer,

‘n druppel loop agter jou oor in jou nek af

 

tussen die laaste gesang en die amen herinner ek my dat dit

‘n sekslose somerdag sal wees – een waar jy die aand stil sal rook

en later na ‘n glas wyn jou onderlyf teen my kom vasdruk[.]

 

Later, wanneer die nuus van ‘n eerste swangerskap vreugdevol ontvang is, verdwyn die spanninge en verloop ‘n motorrit byvoorbeeld op liefderik-speelse wyse:

 

    soveel tale

           

            “yo veo un letrero” sê jy op die langpad

            agter die spaanse les in die cd-speler aan

 

            “ja ek sien ook ‘n padteken en ek weet ons

            moet seker hier afdraai of hoe?”

 

            “sí señor,” sê jy met ‘n breë glimlag en pomp

            my in die ribbes – ons draai af na paternoster

 

            “ek verstaan nie die geslag-ding in dié taal nie,” sê ek.

            hoekom is ‘n motor manlik en vragmotor vroulik?

 

            “miskien omdat ‘n mens meer in ‘n vragmotor kan laai

            en motors gewoonlik groter ego’s onder die enjinkap het?”

 

            “en in chinees” dink ek hardop oor die drumpel by ons huis,

            “is die karakter vir vrede ‘n kombinasie van ‘dak’ en ‘vrou'”[.]

 

Liefdevolheid, hoewel nie ongekompliseerd nie, kleur ook die spreker se verhouding met die Boland en die Karoo. Die treffende “juwelier” suggereer die deernis waarmee die spreker sowel die gesinslewe as die Karoo betrag:

wanneer die aandvoël

nes maak

en die plaaslyne

in kode

            die komende

onweer verklap,

sug die huis ‘n warm sug

 

die gang verlang

na karookinders met amandeloë

wat vroeër die dag

luidkeels stille nag op

blokfluite geblaas het

en nou droom

van jakkalsvoëls

en reën

 

en wanneer twee

polisiemanne uit die bloute

opdaag om jou

goudregister na te gaan – een

druk selfs sy hande

in die suur – sê jy:

“elke ons is hier meneer,

elke kind is hier.”

‘n “Bolandse” gedig soos die volgende roep bekende terugkeer-na-die-vader-toe-verse van W.E.G. Louw en Breyten Breytenbach in herinnering:

 

Ek sal doodgaan

 

ek sal doodgaan

inkonk

so met die hand

op my bors

ek sal nie wellington

toe gaan nie –

ken niemand daar

met ‘n bordienghuis nie

 

ek sal een oggend

my arm oplig

om te skeer

en in die spieël sien

die oog

is verby

 

die bloed sal in my slape klop

die hart sal skuurloop

soos ‘n huurder –

‘n laataand-lister

voor die nag

se nag

 

ek sal doodgaan

stellenbosch toe

in dorpstraat óp dros

jonkershoek in

waar sneeubedekte pieke

met kranse die blou

uit die hemel hengel[.]

 

Hiermee word ‘n volgende belangrike tematiese veld aangeraak wat ook al deur die bundeltitel geaktiveer word: siekte en sterflikheid. Blykens gedigte soos “hart”, “basiskamp” en “diefstal” is die digter se familie aan vaderskant hartsiektelyers, terwyl sy moeder weens kanker gesterf het. Hy vrees dat ‘n soortgelyke lot hom sal tref, wat gevoelens van selftwyfel en weerloosheid aanwakker (“trapmeultoets”,”toewens”, “basiskamp”, “malaria”, ensovoorts).

Die ouderdom 33 word meer as een maal te berde gebring (“nasedit”, “drie-en-dertig”), telkens in verband met dood of doodsvrese. Christus se sterfouderdom word sodoende gekonnoteer.

Kaartspel blyk volgens die gedig “brugrubriek” egter die primêre vindplek van die bundeltitelkeuse te wees.

soos ek kan onthou was dit ‘n baie helder,

nugter oggend – geen voorbodes

of swanger afwagtings

 

met my by-die-deur-uitstap het hy

dié dag se roepery begin – dit was duidelik

en ondubbelsinnig: een hart

[…]

Assosiasies van waagspel, onsekerheid, onbeslistheid, huiwering, teenstrydigheid, tussenstandigheid en kwesbaarheid word derhalwe óók deur die bundeltitel geaktiveer – en sodanige lewensgevoel word, tot naby die einde van die bundel toe wanneer die geluk van die eie gesinsverband oorheers, die dominante in die bundel. Die digter se nering as joernalis hou met hierdie lewensgevoel verband. Daardeur word hy genoop tot ‘onpartydigheid’ en groter ‘objektiwiteit’, selfs tot ‘n sekere onthegtheid. Daar is ‘n diepe besef van die voorlopigheid en relatiwiteit van oortuigings en stande van sake , juis ook in die lig van die misdadighede en geweld wat die Suid-Afrikaanse aktualiteit deurspek.

‘n [N]uusredakteur

bid nie

want god is net nog

‘n storie[;]

 

en:

‘n nuusredakteur

bid nie

want god is net nog

‘n leser

– só begin en eindig die gedig “nuusredakteur”, ietwat sinies opgedra aan die fundamenteel Christelik-religieuse digter T.T. Cloete.

En die twee buitenste strofes van “glo” lui:

soms

maar net soms

wens ek

[…]

ek kan glo

dat alles nie tot niks

kom  nie[.]

Die woord “nomade” word meer as een keer in die bundel gebruik in verband met die spreker en sy geliefde, terwyl half-gepakte en -uitgepakte kartondose herhaaldelik vermeld word om hulle tussenstandige posisies te beklemtoon. Enkele verwysings na die Boeddha-figuur bring ‘ontheemdheid’ as bestaanservaring – voordat uiteindelike ‘verligting’ en rus gevind word –  verder ter sprake.

Myns insiens moet die hoofsaaklike vryer versvormgewing in die bundel met sodanige belewing van onbeslistheid en voorlopigheid in verband gesien word. Dit wissel van (oënskynlik) minimale digterlike ordening (met die kroegtoneeltekening in “koedoe-steaks in nieu-bethesda”, wat funksioneel in dié verband uitstaan) tot wel tog sterker graderings van tipografiese reëlmatigheid (soos uit van die hierbo aangehaalde verse behoort te blyk).

Relativering en onvoldongenheid word in ‘n sekere sin ook vooropgestel deur die opvallende benutting van omvangryke parenteses in ‘n aantal gedigte (“jy”, “malaria (ii)”, “glo” en “melkweg”). Ek het reeds die begin- en slotstrofes van “jy” aangehaal. Die drie binnestrofes daarvan lui:

(dat ek só

soos jy

skoorsoekend en kwaad

en verward kan bid

en verwyt

en vra

hoekom dit

en hoekom dat

 

om deur daai boek

te blaai   

en ‘n vers te soek

vir krag

en verstaan

en hoop –

it softens the blow

nogal weet jy

 

om hande te vat

en die seën te vra

en te weet

dit kom van elders

van bo

dankbaar te wees

want iewers hou iemand

‘n oog)[.]

Laastens wil ek die titel een hart ook sien as indikasie dat al bovermelde, uiteenlopende ervarings en sienings in één gemoed setel.

Vandaar die bundelordening sónder bundelafdelings (maar waarin ‘n min of meer chronologiese lewensverloop merkbaar is). Reekse gedigte oor bepaalde temas volg mekaar ongeskei op; trouens, soms oorvleuel ‘reekse’ kennelik in bepaalde gedigte. Ter versterking van die vervlegtheidsindruk van die verwoorde belewings duik motiewe soos die liefde, lewensdreiging en onbepaaldheid telkens op verskillende plekke in die bundel op.

Die Taoïstiese jinjang-simbool aan die begin van die bundel is ‘n teken dat dit om die harmoniëring van polêre manifestasies gaan.

Voorts: Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.

Die slotgedig, met sy treffende ironieë en sterk sentrale beeld, lui:

 

man diesel

 

hoe kom ‘n vers

na jou toe

vra jy op vrouedag in hendrik potgieter

ek skud my kop

en sê nee ek weet werklik nie

want dis soms vreemd

die hele ding

ons sou byvoorbeeld

op pad makro toe

wees om te gaan wyn koop

en dan klim daar

sommerso

‘n vers by ‘n man diesel

se deur uit

en tuur ver in sy blou overallbroek

na die metrocop wat hom pas

afgetrek het

en verstel onder sy maag

aan sy belt se kopergespe

vee met swart naels

en ‘n hand so groot

soos my oupa s’n

oor sy sweterige

voorkop

 

en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe

en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself[.]

 

Juis die treffendheid van die man-in-blou-overallbroek-beeld in dié slotgedig laat ‘n mens besef dat ongewone of vindingryke beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie (waar dit byvoorbeeld die hartklop van die poëtiese effekte in Danie Marais se twee bundels uit onlangse jare is). Trouens, in gedigte soos “brugrubriek” en “Jasus klim uit die water (i) & (ii)”, waar daar hard gewerk word in die rigting van uitgebreide simbolisering of allegorisering, voel ek ‘n mate van onnoodwendigheid en geforseerdheid aan.

Maar in die geheel gesien, hoef Prins nie die kritiese toets te vrees waarop hy in die openingsgedig, “verse”, skimp nie:

 […]

dit rym

nie sê die man,

skryf jy nou maar

net wat jy wil

meneer

 

my verse is uitgelewer[.]  

[E]en hart is ‘n sterk debuut. Dat ek ryklik daaruit in hierdie resensie aangehaal het, behoort my plesier by die lees daarvan te bewys.

Dit verdien ook ‘n pluimpie vir Lapa, wat maar eers in onlangse jare tot die uitgee van poësie oorgegaan het. Met bundels soos dié, ook met byvoorbeeld Ilse van Staden se Fluisterklip en Johan Myburg se aangrypende Kamermusiek in die afgelope jaar of twee, bewys Lapa sy ernstige intensies op klinkklare wyse.

 

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

“De Taal” as driepootpot

Monday, September 21st, 2009
Driepoottaalbeleid

Driepoottaalbeleid

Dit wil voorkom asof die taaldebat in die Nederlandse taalgebied weer momentum verkry. Nie net het Jan Pollet in De Contrabas se tweeweeklikse Nuusbrief ‘n paar treffende opmerkings hieroor te make gehad nie, maar ook die volgende artikel wat in De Standaard verskyn het, handel direk daaroor. Onder die opskrif Ammehoela, een vluchtmisdrijf” word naamlik berig dat Belgies Nederlands nou die status bereik het om as volmondige taalvariant naas Nederlands Nederlands en Surinaams Nederlands.

So het Prisma, die grootste uitgewer van woordeboeke in Nederland, pas 1,800 Belgies Nederlandse woorde in hul nuwe sakgrootte woordeboek opgeneem. “Tot nu toe gingen Nederlandse vertaalwoordenboeken vooral uit van de variant zoals die in Nederland algemeen gebruikt wordt. Daardoor waren zij niet altijd toereikend voor de Vlaamse gebruiker,” het ‘n woordvoerder van Prisma aan De Standaard se verslaggewer gesê. Later vanjaar word daar ook nog ‘n verklarende handwoordeboek in die vooruitsig gestel.

Prisma se keuse van woorde wat opgeneem word, is gebaseer op ‘n lys van ongeveer 4.000 Belgies Nederlandse woorde wat onder leiding van twee Vlaminge, prof. dr. Willy Martin (VU Amsterdam) en prof. dr. Willy Smedts (KU Leuven), saamgestel is. Prof. Martin se kommentaar was soos volg: “Het is natuurlijk niet de eerste keer dat verklarende of vertaalwoordenboeken Belgisch Nederlandse woorden opnemen en labelen. Het grote verschil is dat Prisma het nu op systematische wijze doet … Het Belgisch Nederlands heeft het stadium van volwassen variant van het Nederlands bereik”, het hy gesê, en bygevoeg: “Het natiolect staat naast het Nederlands Nederlands en het Surinaams Nederlands. Men accepteert stilaan dat die evenwaardig zijn. Onze taal is een driepoot.” Ruud Hendrickx, hoofdredakteur by Van Dale, het dié siening beaam en gesê dat hy inderdaad van mening is dat Nederlandssprekendes tans ryp is om ook die variante op ‘n gelykwaardige manier te beskryf en te erken. Volgens hom sal die volgende uitgawe Van Dale beslis ook die voorbeeld van Prisma-woordeboeke volg. (Gaan kyk gerus by die skakels hier en hier indien dié onderwerp jou interesseer.)

Wat egter vir my sardoniese oog besonder interessant was, was van die kommentare onder aan die De Standaard-berig: Belgisch Nederlands’ is natuurlijk een monstervormpje. Het moet ‘Nederlands in Vlaanderen’ of ‘Vlaams Nederlands’ zijn,” het ene Marcel van Cleemput byvoorbeeld opgemerk.

Mmm, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde, lyk dit my. Of wat praat ek alles?

***

Dan is ons verheug dat nog ‘n debuutdigbundel einde verlede week in die boekwinkels gearriveer het, naamlik Johannes Prins se bundel Een hart (Lapa Uitgewers). Lees gerus die onderhoud wat met Johannes gevoer is, en ook die inligtingstuk wat van die uitgewer af ontvang is. Nog heerlike leesstof wat gister op die webblad geplaas is, is die essay Eg(g)olalie van Breyten Breytenbach, asook ‘n onderhoud wat Andries Visagie met Ester Naomi Perquin gevoer het. (Indien jy nog nie prof. Louise Viljoen se toespraak tydens die bekendstelling van Breyten Breytenbach se nuwe bundel, Oorblyfsel/Voice over gelees het nie, moet jy gerus so maak; dit is ‘n absoluut skitterende werk.) En nog is het de einde niet – nie minder nie as drie bloggers het nuwe stukke geplaas gedurende die naweek nie, te wete: Andries Bezuidenhout, Philip de Vos en Desmond Painter

Sjoe, wat ‘n bedrywige naweek! Lekker lees aan alles. Vir jou eetplesier hierdie week plaas ons in navolging van die “driepoot-tema” die volgende resep vir ‘n beesstertpotjie; spesiaal geneem vanaf “Weg!” se webblad. Begin hom maar solank voorberei, want teen die tempo wat die tyd verbysnel, is dit weer naweek voor jy dit besef …

‘n Smaaklike week word jou toegewens en lees darem ook so nou en dan ietsie, hoor …

Mooi bly.

LE

BEESSTERTPOT

Ryk, vleiserig en lymerig. Dit neem lekker lank om te berei en gee jou die ideale geleentheid om agter te kom waaroor potjiekos eintlik gaan.

3 e kookolie
1 beesstert, in litte gesny
1 gekapte ui
2 fyngekapte knoffelhuisies
500 ml droë rooi wyn (onthou, as dit nie goed genoeg is om te drink nie, kook jy nie daarmee nie)
2 lourierblare
2 teelepels sout
1 e gedroogde roosmaryn
1 e gedroogde pietersielie
‘n paar draaie van die swart peperpot
6 middelslag-wortels, geskil
4 selderystingels met blare, in stukke gesny
3 bakhande vol vars of bevrore ertjies

Onderhoud: Johannes Prins

Sunday, September 20th, 2009

Om hartens te roep

Johannes Prins in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Johannes Prins

Johannes Prins

Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA  in Afrikaans en Nederlands. Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar. In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook  by tot As die son kom oogknip,  die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji. In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante. Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.

 

 

Johannes, jy is tans ‘n nuusredakteur by die Johannesburgse dagblad Beeld. Maar vertel ons ietsie omtrent jou agtergrond? Waar het jy byvoorbeeld grootgeword, geswot, ensovoorts.

 

My pa was destyds nóú betrokke by die Universiteit van Pretoria se tandheelkunde fakulteit. Hy was ook huisvader van die manskoshuis Taaibos. Dis in Taaibos waar ek “gemaak” is, maar kort daarna het my pa Dekaan by die Universiteit Stellenbosch se tandheelkunde fakulteit by Tygerberg geword. Ons het vir ‘n paar jaar in Boston, Bellville gebly. In ‘n ou groot rietdakhuis in Joostestraat – naby die Laerskool Vredelust. Dié huis – het my kleinneef my onlangs laat weet – het intussen ‘n bordeel geword. My ma draai in haar graf om!

As kind het ek vir jare gedink my pa is eintlik “Dingaan”. As iemand my gevra het wat my pa doen, was dít my antwoord. Een van my mees vivid herinneringe aan Tygerberg is ek en Pieter de Waal (die kleinneef waarvan ek hierbo praat) wat in ‘n vertrek in die mediese fakulteit ronddwaal (waar ons ingesneak het) tussen rakke vol vreemde goeters in groot bottels formalien: babas met twee koppe; ‘n voet wat afgesny is; ‘n man se maag wat oopbars & derms wat uitpeul; ens. Elke keer wanneer ek & Pieter saam met my pa werk toe gegaan het, het ons skelm dié vertrek besoek. Ons was vrek bang, maar dit was telkens aangrypend en ons kon nie daar uit bly nie! Dit het ‘n vreemde effek op ons gehad – om die minste te sê.

Mid-laerskool het my ouers Stellenbosch toe verhuis. Eintlik nie Stellenbosch-propper nie – eerder Lynedoch (daar in die omgewing van die ou Drie Gewels-hotel). My pa het sy erfdeel van ‘n plaas gaan opeis. Dit was ‘n interessante opset. My pa – terloops so ook my ma – was een van ‘n tweeling. Ná ‘n verwikkeling het my oom die plaasgrond geërf en my pa die ou plaashuis – dis in dié plaashuis waar ek behoorlik plaaskind geword het. En dié klein plasie het in baie opsigte my lewe gered. Druiweplaas natuurlik. Skool toe & terug plaas toe was soggens & smiddae met die bus of die trein. Ons plaaskinders het ons nie veel aan die dorpskinders se issues gesteur nie. Daar was te veel om ons mee besig te hou.

Ná skool aan die Paul Roos Gimnasium volg ‘n grootliks onstuimige twee jaar diensplig. Daarna rondswerf vir ‘n paar jaar en toe uiteindelik swot by Stellenbosch. Het vir vyf, ses jaar in Wilgenhof gebly wat vir my ‘n huis geword het (omdat beide my ouers intussen oorlede is). Swot was goed vir my. Nooit ‘n great student nie, maar het meestal als deurgekom. Mis dit verskriklik om te swot & dreig al die afgelope paar jaar om ‘n D (in Afrikaans & Nederlands) aan te pak.

 

Jy het reeds in 2001 in Nuwe Stemme 2 gedebuteer. Vanwaar hierdie vroeë passie vir die digkuns?

 

Waarskynlik grootliks aan my ma te danke. Sy het self geskryf en my as kind blootgestel aan poësie. Ek het laat in my lewe ‘n “leser” geword, want my vrye tyd is meestal deur gimnastiek opgeneem.

Ná twee jaar in Londen het ek glad nie meer Afrikaans gelees nie – maar ek het Afrikaanse gedigte geskryf. Dié verse het my geanker aan my Moedertaal en ek het ook besef: daar is net een taal van jou hart.

 

“Jasus klim uit die water” is ‘n gedig wat sowel in Nuwe Stemme 2 as een hart opgeneem is, maar nou met ‘n spieëlvers, “Utopia”. Het dié vers dieselfde tyd as deel (i) ontstaan of is dit ‘n geruime tyd daarna geskryf? Vertel sommer wat jy met dié twee spieëlverse probeer sê?

 

Jip, (ii) is dieselfde tyd as (i) geskryf. As ek reg onthou is dit aangebied vir Nuwe Stemme 2, maar die samestellers het net vir die eerste een gegaan.

Ek wil nie te veel uitbrei oor wat ek met dié verse probeer sê nie, want ek glo die vers/e soos hy daar staan moet vir homself praat, maar ek gee graag agtergrond oor hoe die verse ontstaan het.

In die jaar toe my pa dood is (1990) was hy nie meer op die plaas nie. Hy’t ‘n huis in Mostertsdrift op die dorp gehuur. Dit was in Rowanstraat (as ek reg onthou) om die draai van Thibaultstraat 3 – waar die Oppermans gebly het. Wanneer ek soms oor naweke daar gekuier het, het ek dikwels gaan draf. En wanneer ek in Thibaultstraat opgedraf het bergpad se kant toe, het ek altyd gedink: dis die huis van die Koeblai Khan… Ek het tannie Marie ‘n paar keer ontmoet en Komas (uit ‘n Bamboesstok) weer en weer gelees. Van al die verse het “Gaukus Klim uit die Water” ‘n besondere inslag gevind.

Bg. is die eerste “merker” vir verse wat ‘n hele paar jaar later sou volg.

‘n Tweede is:

Om kreef te duik was jaarliks ‘n baie belangrike ritueel in die Prins-huishouding. Met die eerste volmaan in die nuwe kreefseisoen sou my pa seker maak ek en my twee broers is ‘n uur voor laagwater in die water – in die ysige water van Donkergat aan die weskus. En al die eerstes was belangrik. Die eerste kreef uit die water is na my pa toe gegooi daar waar hy op die rotse met sy leerhandskoen gesit het. Hy’t elke seun se eerste kreef in ‘n pot gedruk waarin ‘n lekseltjie seewater aan’t kook was op ‘n Cadac-gasstofie. Die krewe moes gaar stoom – nie kook nie. Kom jy uit die water uit is jou lyf tot die been toe koud van daai water, dan peul my pa jou uit jou duikpak. En dan kry jy ‘n yskoue skoot wyn en ‘n vuurwarm kreef.

Dan het ons elkeen stil-stil ‘n kreef of twee geëet. Oor die see getuur. En amper woordeloos die pad huis toe aangepak.

My pa, die wetenskaplike, het ons baie van die wêreld van krewe geleer. Wat presies is ‘n sagtedop-kreef? Wat beteken dit – wat se veranderings ondervind die kreef? Hoe migreer krewe? Is hulle sosiaal? Hoe verskil wyfies presies van mannetjies?

En só het Jasus Lalandii en Gaukus mekaar gaandeweg ontmoet…

 

Uit jou antwoord hierbo kan ‘n mens aflei dat jy in ‘n baie hegte gesins-eenheid grootgeword het. Daarom dat dit dan ook geen verrassing is dat twee van die mees aangrypende verse in jou bundel “bloedwerk” en “eerste sonar” is nie. Vertel ons ietsie oor hoe jy die geboorte van jul eersteling ervaar het.

 

Dit was ‘n ongelooflike high. Alles daarvan. En die feit dat daar ‘n klein storietjie op Beeld se voorblad was die volgende dag het hiertoe bygedra. En dink daar was in Die Burger ook ‘n klein ietsie.

Ek het die een oomblik nog by my vrou se kop gestaan – gereed met my kameras (ek skiet altyd digitaal én met film). Was nog rustig besig om als af te neem en het nét gesien hoe klein Manon se koppie uit mamma se buik kom, toe gaan die krag af! Die teater was gitswart-donker en ál lig wat in daardie oomblikke beskikbaar was, was my kamera se flits. Die ginekoloog se koel en kalm woorde aan my was bloot: hou aan met foto’s neem.

Ek het honderde foto’s (‘n hele 1 Gig-geheue-kaart vol) van hoe die naelstring geknip word; van hoe sy deur verskillende hande stewig na die pediater oorgedra word; ens. Ek het selfs foto’s van die vloer want ek moes flits daar gooi dat ek kon sien waar om te loop. Met die Apgar-telling neem het ek in die een hand ‘n klein flitsie vir die dokter vasgehou & in die ander hand die kamera. Én die ginekoloog moes onder flitslig my vrou daarna toewerk! Van noodkrag was daar nie in die teater sprake nie (al het die hospitaal-woordvoerder hóé probeer om die ding te spin…).

Toe die adrenalien gaan lê het, het ‘n emosionele golf my daarna geslaan. Ná ek omtrent vir 20 jaar nie ‘n ouerhuis gehad het nie & met meeste van my familie in die buiteland, het ek skielik my eie gesin en my eie mitologie om te skep (gaan ek die kreef-ritueel laat voortbestaan?).

Jou wêreld verander oornag.

Soos ‘n kollega ge-sms het: ouerskap verander en verouder ‘n mens op die beste manier.

 

Heelwat van jou verse kan eintlik op verskillende maniere gelees word. Een só ‘n vers is “brugrubriek” waaruit die titel van jou bundel geneem is. Die slotreëls “later die dag / het ek die uitslag per telefoon gekry: / hy het een hart te veel geroep en dit het bly staan” verwys enersyds letterlik na ‘n hartstilstand, maar andersyds ook na ‘n (aan)bod wat bly staan. Lees ek dié vers reg? Wat beteken dit vir jou?

 

Ja, jy lees dit reg.

Die vers het (uiteraard) ‘n baie persoonlike betekenis – weereens (soos die kreef-ritueel) ‘n baie intieme gesins-ritueel.

Een van die kodes waarin ons gesin met mekaar gepraat het, was in brug-taal. Die spel brug (kontrakbrug in elk geval) het ‘n hele taal wat jy moet leer as jy dit uiteindelik behoorlik wil speel – as jy al die nuanses reg wil interpreteer en die regte boodskap aan jou “partner” wil oordra.

Die idee is dat jy binne dié kodes van die taal met jou maat kommunikeer dat julle op ‘n kontrak kan ooreenkom om ‘n sekere aantal pakkies te speel en te maak. Die idee is om nie die potensiaal van jou hand te onder- of te oorskat nie. Dat jy presies maak (die pakkies) wat jy geroep het.

Dikwels ‘n tall order…

Die brug-taal het toevallig goed gewerk. Wanneer ‘n roep “staan” is daar op ‘n kontrak ooreengekom. En die “een hart” en die “staan”…ek hoop nie dit is té net vir ingewydes nie.

Dit bly maar moeilik om “uit te praat” – om uit ‘n bestaande kode / taal te praat.

 

Johannes, die een ding van jou verse wat my opgeval het, is die reikwydte daarvan: sowel stilisties as tematies. Verse met ‘n bykans ongenaakbare kyk na sosiale euwels word vernuftig afgewissel met meer persoonlike temas; soms met deernis en empatie en soms weer met ‘n gestroopte aanbod. Is hierdie gevarieerde aanslag iets wat jy bewustelik nastreef?

 

Die gevarieerde aanslag is opsigself gevarieerd. Dikwels is dit in my kop wanneer ek kom sit om te skryf en dikwels nie.

Ek vind die verse neem ‘n eie lewe aan – dis interessant om te sien waarheen hulle my neem.

 

Iets wat ‘n mens opval wanneer jy na die inhoudsopgawe van jou bundel kyk, is dat daar geen onderafdelings is nie. Tog maak die bundel ‘n goed georganiseerde indruk en vloei die lees gemaklik van een vers na die volgende. Hoe het jy jou bundel saamgestel en watter temas het rondom die groepering van die verse vir jou voorop gestaan?

 

Dit was vir my belangrik om die bundel te begin en te eindig met ‘n besinnende gedig oor die skryf van poësie & dan binne dié sogenaamde sikliese sluiting op ‘n min of meer chronologiese uitbou van die bundeltitel voort te gaan.

Die motto-vers / aanhaling is ‘n belangrike sleutel én die Yin-Yang wat op sy/haar eie bladsy staan is iets wat buite taal staan en op ‘n veelheid maniere geïnterpreteer kan word – dis ook goed so want dis ‘n verdere sinjaal vir die verse wat volg.

Temas wat voorop gestaan het?

Benewens die variasies van die hart, sou ek sê: die Boeddha; die self; die Ander; die joernalistiek; die natuur; Karoo-mense; verlies; liefde; jou eie sterflikheid; geloof; op reis…

Daar is nog, maar ek dink die temas moet self inslag in lesers vind.

 

Hoe gaan jy te werk wanneer jy skryf, Johannes? Werk jy volgens ‘n vaste roetine, byvoorbeeld? Of kom die verse maar soos hulle kom; werk jy lank aan ‘n vers of handel jy hom relatief vinnig af?

 

Ek werk net volgens ‘n vaste roetine wanneer ek tyd het. My lewe as joernalis maak dat ek in die nuus van die dag “ingeprop” moet wees – tyd (vir my eie denke en die uitbou daarvan) is dus ‘n luukse.

In Johannesburg is poësie vir my altyd ‘n “tussenin” – iets wat ek moet doen om van een ding na ‘n volgende te beweeg. Dis waarskynlik ook hoekom ek van dié mynersdorp hou – dinge is edgy en vinnig.

Maar wanneer ek tyd het werk ek graag stadig en lank aan iets. Ek neem byvoorbeeld ‘n week of wat en gaan bly alleen in ‘n goeie vriendin se huis in Ladismith in die Klein Karoo. Kry baie berglug in die longe (in die berge is ek op my gelukkigste); eet veels te veel knoffel & gemmer; maak vreemde disse; drink heelwat rooiwyn; en skryf. Dit neem my omtrent gewoonlik ‘n week om van die stad af te skakel, en dan is die kop soos ‘n leë doek.

‘n Vers is vir my nooit werklik klaar nie. Hulle is soos voëls wat vir ‘n sekere tyd van die jaar na beter en warmer plekke vlieg, en met hul terugkeer is hulle soms (en dikwels) vreemde skepsels.

Ek plak gewoonlik ‘n vers teen ‘n muur (by die huis of die werk naby my rekenaar) vas dat my oë dit so elke nou en dan vang – dat ek dit weer en weer kan lees. Soms is die vers in ‘n oogwink klaar – ander kere verander ek elke keer daaraan en gooi dit later weg.

So elke nou en dan skryf ek iets wat ek dink “klaar” is…

 

Baie dankie vir dié geleentheid tot gesprek. Ons wens jou alle voorspoed toe met jou loopbaan as digter. Sal jy dalk so vriendelik wees om as toegif vir ons lesers een van jou persoonlike gunstelingverse hieronder oor te tik?

 

Baie dankie ook vir die onderhoud, Louis.

En ja, natuurlik tik ek graag my gunstelingvers vir julle oor: die een van ons klein Prinsie.

 

eerste sonar

 

‘n besoeker

van ‘n ander planeet

kyk na my

met haar hart

wat sien jy vra my vrou

‘n luislang wat ‘n olifant

ingesluk het?

nee sê ek, ‘n klein skapie –

en dié jakkals

eet al klaar

uit haar hand